Читать книгу Om met vuur te speel - Lucille du Toit - Страница 6

4

Оглавление

Voor die spieël in haar donker badkamer pers Sasha haar lippe weer op mekaar. Die lipglans wat sy bo-oor haar lipstiffie aanhet, laat haar robynrooi lippe klam en blink lyk. Sy vee versigtig die paar swart spikkels oogskadu wat op haar wangbeen te lande gekom het met ’n sponsie weg.

Die rokerige grimering laat haar oë nog groter lyk, weet sy goed. Haar wimpers kort dalk nog een laag maskara. Swaar grimering, is Melin se raad. Nadat sy haar wangbene met ’n brons blosser beklemtoon het, kyk sy weer in die spieël. Sy lyk asof sy aan ’n skoonheidskompetisie gaan deelneem.

Met ’n krultang draai sy enkele, lang, spiraalvormige lokke.

Terwyl sy kop onderstebo staan, spuit sy amper die hele blik haarsproei op haar hare uit. Sy waai met haar hand voor haar gesig om van die dampe ontslae te raak. Dan maak sy eerder die klein venstertjie in die badkamer oop. Sy begin van die donker hare hou, amper meer as van haar vorige blonde lokke.

Die eerste ding wat sy gedoen het toe sy hier aankom, was om haar blonde hare sjokoladebruin te kleur. Ingeval iemand haar eien.

Terwyl sy gou haar Jimmy Choo-skoene aantrek, vang haar oog die tyd op haar horlosie. Agt minute voor ses. In ’n rugsak pak sy twee uitrustings vir vanaand. Haar swart korset wat met kristalle geborduur is saam met die satyn-sjoebroekie wat daarby pas en nog ’n pienk-en-swart nommertjie.

Toe sy vandag vir Melin die foto’s daarvan gestuur het, kon hulle nie besluit watter een die beste sal werk vir haar dans vanaand nie. Op die ou end het hulle saam besluit dat sy vir een van die meisies daar raad sal vra. Darem nie almal van hulle het gister mislik gelyk nie. Sy is seker iemand sal haar kan raadgee.

By Skillie se deur moet Sasha eers weer met die handvatsel sukkel. Die ding haak effens vas en mens moet dit ’n paar maal trek voordat die deur oopgaan.

Toe sy die sleutel draai en agteruit ry, begin die kar ruk. ’n Gorrel en nog twee rukke voordat die kewer tot stilstand skud. Met ’n skietgebed trap sy die koppelaar in en draai die sleutel weer, maar die enjin is morsdood.

Dan sien sy die brandstofnaald lê onder die rooi. Kan dit wees?

Sy kyk op haar horlosie. As sy nou nog eers na ’n vulstasie moet stap, petrol koop en kom ingooi, sal sy nooit betyds by die werk wees nie.

En Ricky lyk nie na die tipe baas wat laatkommery sal duld nie. Buitendien is daar seker baie meisies wat nes sy desperaat vir werk is. Niemand is onvervangbaar nie, dít het haar pa altyd gesê. Toe die besef dat sy dalk nie onmiddellik genoeg geld gaan hê vir brandstof nie deurskemer, maak sy haar beursie traag oop.

Léég? Sy grynslag by die gedagte dat sý, Sasha-Lee Hugo, ’n damsel in distress is. Wie sou dit ooit kon gedink het?

Daar was dan nog gister geld in haar beursie. Sasha byt haar lip terwyl sy na die plek kyk waar sy gedink het nog ’n paar honderdrande sal wees. Of was dit eergister? Het sy die pizza gistermiddag toe met van haar laaste geld betaal? Vervlaks, sy moes die ou nie eens getip het nie.

Haar sexy buurman glip weer ongenooid by haar gedagtegang in. Dalk kan sy hom om hulp vra.

Dit sal die dag wees.

“Argh!” Sy gee die stuurwiel ’n hou. Die Volla kan seker stof in enige nuwerwetse petrolvraat se oë skop. Dalk verdamp die ding se petrol soos goeie brandewyn uit ’n oeroue balie.

Skielik is sy spyt oor die kos wat sy gisteraand gekoop het, maar sy wou feesvier na die goeie nuus dat sy die werk gekry het. En waar sy vandaan kom, is snoekpatee, vye en briekaas nou nie juis danig luuks nie. Maar dis wat sy kon bekostig het … of altans gedink het sy kon bekostig het.

Weereens mis sy die gerief van haar pa se geld. Nee, sy durf nie so dink nie. Sy is om ’n baie goeie rede weg. Sy sal net moet begin besef dat om haar bankkaart te swaai nie meer ’n opsie is nie. Hopelik maak sy vanaand genoeg geld om deur die volgende week te kom en as alles goed gaan, kan sy geld vir haar droom begin wegsit.

Eers moet sy by die werk kom. Dalk kan sy hier buite op die straathoek staan en van haar duur skoene of ’n handsak of twee verkoop? Maar hoe sal dit nou lyk?

Sy bel vir Melin. Wat gaan haar vriendin sê omdat sy al weer ’n guns vra?

“Hallo.” Melin fluister toe sy die oproep beantwoord.

“Hoekom fluister jy so?” Onwillekeurig fluister Sasha ook.

“Het jy nie my boodskap gekry nie? Ek en Alex is in die fliek.”

“O. Nee. Jammer. Ek het dit seker nie gesien nie.” Sasha byt haar lip vas. Het sy nie al genoeg van Melin gevra nie?

“Is iets fout?” vra Melin bekommerd.

“Hmm, nee, dis sommer niks … geniet julle aand.” Nadat sy die oproep beëindig het, kyk sy na haar boodskappe.

Strongs vir vanaand. Ek bel jou môre en wil als weet! Ek en Lovey het date night. Eers ’n movie en dan uiteet.

’n Goeie vriendin sou lankal die boodskap gesien en beantwoord het, maar haar eie krisis is so intens dat sy haar vriendskap met Melin verwaarloos. Nee, vanaand kan sy nie weer op Melin staatmaak nie.

Dalk duimgooi? Hoe weet mens deesdae saam met wie jy in ’n kar kan klim?

Haar horlosie bevestig dat sy nog net ’n uur het voordat sy by Aantrekkingskrag moet wees.

Sal sy haar trots in haar sak steek en by haar sexy buurman gaan aanklop? O, hemel nee.

Wat anders?

Papnat met ’n handdoek wat laag op sy heupe hang, maak meneer Matt Marais sy voordeur vir haar oop.

Sasha trek haar asem skerp in. So met waterdruppels op sy kaal brons borskas lyk sy oë vanaand blouer as gisteroggend. Seker omdat die beneuktheid weg is. Sy lippe ruk geamuseerd voordat hy breed vir haar glimlag. Asof hy presies weet watter uitwerking hy op haar het.

“Sasha … wat ’n verrassing. As jy hier is vir jou luidsprekers – ”

“Mag ek inkom?” val sy hom in die rede. Sy hoor die aarseling in haar stem.

“Sure,” sê hy en staan weg sodat sy verby hom kan stap. Groot fout! Haar hande klou bewerig aan haar sak vas asof dit ’n reddingsboei is wat haar bo moet hou. Die skoon reuk van seep en skeerroom laat vlamme teen haar nek uitslaan.

Sy haat dit om so buite beheer te voel. Dit is dan juis die rede waarom sy hier in Mbombela is – sodat sý vir ’n verandering aan die stuur van haar eie lewe kan wees. Maar op die oomblik voel dit of sy nooit daarby sal uitkom nie.

Matt gryp ’n T-hemp wat oor die bank se rugleuning lê en trek dit gou oor sy kop.

Sasha kan sien hoe sy maagspiere golwe onder sy vel maak.

Vies dat sy dit oplet, kyk sy eerder weg.

Matt se meenthuis is nie juis wat sy interessant sal noem nie. Daar is bruin leerbanke in ’n L-vorm met ’n koffietafel in die middel. ’n Allemintige plasma-televisieskerm hang teen die oorkantste muur. Tipies man. En natuurlik wys daar op die oomblik sport. ’n Leë wegneemete-houer staan op die koffietafel langs ’n blikkie Coke.

Afgesien daarvan is die plek eintlik perfeksionisties skoon vir ’n man. Há! Hy bly natuurlik nie alleen hier nie. Tog, g’n teken van ’n vrou se hand nie. Teen sy mure is wit-en-grys foto’s van vliegtuie en helikopters. Die woonstel is pure man.

“Waarmee help ek?” Hy vryf oor sy kort hare. Waterdruppels spat op sy kaal voete. “Wag net ’n oomblik.” Hy draf na sy kamer en skuif die deur effens toe.

Sy probeer om hom nie agterna te staar nie, maar die oomblik toe die handdoek vloer toe val, sien sy deur die skreef hoe hy met sy kaal agterstewe in ’n denim inspring.

Flippit.

Haar pols versnel en sy moet diep asemhaal. Dit is die laaste ding wat sy nou wou gesien het.

’n Skoonheidskoningin-glimlag is nou nie wat Matt verwag het toe hy die deur oopgemaak het nie. Terug in die sitkamer vou hy sy arms voor sy bors, onseker of dit is omdat hy vies is dat die beeldskone meisiekind in sy huis is of omdat hy bang is sy sien hoe sy hart in sy borskas sucker punch nie. Die verraaier.

Vanaand het sy donker grimering aan en heelwat meer klere as vanoggend, maar die manier waarop die denimbroek en T-hemp aan haar perfekte figuur kleef, laat niks aan sy verbeelding oor nie. Haar bruin hare vou in sagte golwe om haar skouers.

Matt kug effens. Hy hou niks van die manier hoe sy hom laat voel nie.

“Soos ek sê, ek is nie hier oor die luidsprekers nie. Ek het gedink ons kan oorbegin … vanoggend was onnodig. Ons is immers bure.”

Matt staan verstar na haar mond en kyk. Met elke woord wat sy sê, kry sy hele lyf lewe.

“En … ek wil jou ’n groot guns vra,” begin sy toe Matt niks verder sê nie.

Matt kan voel hoe sy wenkbroue vanself lig. Sy wil hom ’n guns vra?

“Skillie wil vanaand niks weet van ry nie, en ek moet by die werk kom.”

Matt loer deur die venster na waar haar karretjie geparkeer staan.

“Sal jy my dalk net gou by my werk kan gaan aflaai? Ek sal jou môre vir petrol kan vergoed, want ek het nie nou kontant by my nie. Asseblief.”

Matt moet keer of sy gaan hoor hoe hy op sy tande kners. Nie omdat hy haar moet help nie. Ook nie omdat hy die wedstryd waarna hy gekyk het, gaan misloop nie, maar omdat hy presies weet hoe sy vanaand die kontant gaan maak om hom te vergoed.

“As jy my help, sal ek die hele diefstal-episode vergeet. Jy kan die speakers selfs hou.” Sasha se uitdrukking is pleitend.

Matt sluk ’n glimlag wat aan sy mondhoeke pluk. Sy lyk so oulik terwyl sy soebat. Hy vryf oor sy ken, onseker of hy die vroumens moet help. Wil hy by haar betrokke raak?

Sy hele wese skree hy moet van haar af wegbly, maar daai mooi lippe van haar blink vanaand soos glas … en demmit, daardie glimlag. En hy is nou maar ’n sucker vir meisies in ’n gemors; daarvan kan Lexi getuig. Hy het homself belowe hy sal nie dat enige vroumens hom ooit weer misbruik nie.

Matt skud sy kop asof hy die herinneringe aan Lexi van sy lyf sal kan afskud, maar dit is nie so maklik nie. “Kom ek kyk gou of ek iets fout sien in die enjin.”

Toe hy omdraai om sy gereedskapkis te kry, praat sy weer: “Dit sal nie nodig wees nie. Asseblief. Ek is reeds laat. Sal jy my asseblief eerder net kan aflaai?”

Matt knik. Net solank sy nie ’n gewoonte daarvan maak nie, sal dit seker nie skade doen om haar een keer te help nie. Miskien voel hy dan ook minder simpel omdat hy gister haar luidsprekers gevat het … en omdat sy steeds dink dat hy ’n polisieman is. Hy was nog van plan om hulle vandag vir haar terug te gee, maar kon nie besluit wat hy vir haar sou sê wanneer sy die deur oopmaak nie. En nou staan sy hier en sy lyk so aanloklik.

Hy kan net hoop dat hy sy oë op die pad gehou kry. “Goed. Ek kry gou my sleutels.”

In Matt se bakkie voel die spasie skielik vir Sasha vreeslik klein. Die man se nabyheid is vir haar heeltemal verstikkend. Sy lekker skoon seep- en mentgeur omring haar en laat haar hart paaldans van plesier. Maar, keer sy haarself, sy kan nie enigsins by hom betrokke raak nie … by enige man betrokke raak nie.

Vir al wat sy weet, is sy nog verloof.

Skielik draai hy en leun oor haar, en voel dit asof al die lug uit haar longe ontsnap. Wat maak die man?

Dan vat hy die veiligheidsgordel en maak dit om haar skraal lyf vas. Vir ’n oomblik bly hy roerloos naby. Sy gesig is so naby sy kan elke detail van sy sexy mond sien.

“Jy ry nie saam my sonder om jou vas te maak nie,” sê hy amper kwaai.

As haar hart net nie so boosaardig wou klop nie! Sy waag ’n vinnige blik na sy kant toe terwyl sy haar handsak senuweeagtig op haar skoot vasklou. Selfs sy profiel is dié van ’n Adonis. Of nee, hy lyk eerder of hy net ’n kitaar en cowboyhoed kort. En natuurlik ’n koringhalm wat hy in sy kies hou en af en toe aan kou.

“Dankie.” Gespanne gooi sy haar hare oor haar skouer en draai haar kop weg. Sy wil eerder by die venster uitkyk as om weer ’n blik in sy rigting te waag. Sasha moet haarself herinner dat hy gister soos ’n idioot opgetree het en nie enigsins van plan lyk om haar luidsprekers terug te gee nie.

“Waarnatoe?” vra Matt toe hy by die kompleks se hek uitry.

Sasha sluk hard. As sy nou nie vrek laat was nie, sou sy dat hy haar twee blokke van Aantrekkingskrag af aflaai, maar daarvoor is daar nie tyd nie. Hy het buitendien gisteroggend die paal in haar sitkamer gesien. Hy is nie dom nie. Sy kon sien hy weet presies waarna hy kyk.

“Andersonstraat,” sê sy huiwerig. “Jy kan my buite Aantrekkingskrag aflaai … asseblief.”

Matt kug. Die spier in sy wang spring. Sy kneukels vou wit om die rathefboom. “Aantrekkingskrag?” Hy trap die petrol dieper in.

“Ja.”

Haar blik ontvlug eerder na buite. Sy weet nie of sy bly of bang moet wees dat Matt juis nou kies om sy bakkie se vermoë te toets nie. Hy ry al vinniger en daardie spier in sy wang spring amper saam met die ritme van die musiek wat sag speel.

Toe hy nie buite die klub stilhou nie, raak Sasha verward. Sy moet nou uit die kar kom! “Jy kan my sommer net hier aflaai.”

Matt ry net weer deur die stampvol parkeerarea.

“Regtig … ek waardeer jou moeite, maar ek is klaar laat en … ” Sy wil vir hom sê dit is haar eerste aand, sy kan nie laat wees nie, maar sy los dit. Hoe minder haar buurman van haar weet, hoe beter.

Uiteindelik parkeer hy die groot stuk blik met gemak op ’n piepklein parkeerplek. Dankie tog.

Toe die bakkie tot stilstand kom, leun Matt oor haar. Hy sit sy hand op die handvatsel.

“Is jy seker jy wil uitklim?” vra hy bekommerd.

Sy kan die frons op haar voorkop voel. Nee. Sy is nie seker nie, wil sy skree, maar los dit ook.

“Natuurlik. ’n Meisie moet eet, of hoe?” Sasha glimlag, maar sy kan voel dit bereik nie haar starre oë nie.

Matt kyk deursoekend na haar asof hy die leuen op haar gesig kan sien.

Voordat sy van plan verander, pluk sy gou haar deur oop en spring uit. “Weereens dankie!”

Hy knik net.

Sy blik gee haar so ’n effense pyn oor haar hart. Sy is nie seker of dit bejammering of woede is nie.

Sasha trek haar skouers reguit. Sy kan nie nou aan meneer Matt Marais se veroordelende blik dink nie. Nog minder aan hoe skuldig dit haar laat voel oor iets wat sy nog nie eens gedoen het nie, al is sy seker dat sy vanaand ’n streep in haar lewe gaan oorsteek waaroor sy nooit weer sal kan terugtree nie.

Vanaand is sy iemand anders. Vervlaks! Sy het skoon vergeet om vir haarself ’n nuwe naam uit te dink.

Toe Sasha wegstap, wil sy omkyk na hom, maar keer haarself. Sy moet fokus. Op haar vertoning. Hopelik sal al die jare se model- en balletklasse vanaand in haar guns tel.

Miskien sal sy eendag vir hom vertel wie sy regtig is en hoekom sy doen wat sy doen, maar nie gou nie.

Voordat sy die deur oopmaak waar al die personeellede moet ingaan, onthou sy haar ma wat haar as dogtertjie altyd in liefde en sprokies laat glo het. Sal haar ma nog dink mens kan liefde enige plek kry as sy weet waar haar dogter vanaand is? Nee. Haar ma glo lankal self nie meer in sprokies en ware liefde nie. Anders sou sy nie toegelaat het dat haar pa vir haar, wat Sasha-Lee is, ’n man van sý keuse uitsoek nie.

Die klub se ligte is gedemp toe sy binnestap. Rook borrel uit rookmasjiene en rol oor die verhoog.

“Jy’s laat, skat.” Dis Ricky wat met haar arms gevou teen die kroeg staan, wat praat: “Tientalle meisies het vir die werk tougestaan. Moenie dat ek spyt kry dat ek vir Alex ’n guns doen nie.”

Ricky se streng blik dring haar siel binne. Sasha stap nader. “Hi. Jammer dat ek laat is. Dit sal nie weer gebeur nie, ek belowe.”

Ricky knik: “’n Paar reëls. Geen snaakse besigheid nie. Jy laat nie toe dat mans aan jou vat nie. Hulle mag net kyk. Verstaan jy my?”

Sasha knik dankbaar.

“Jy het te alle tye iets aan jou bas en oor jou borste aan. Die plek het klas, hier laat ons iets aan die verbeelding oor.”

“Oukei,” sê Sasha.

“Ek is nie klaar nie.” Ricky kyk kwaai na haar. “Jy is te alle tye goed versorg. Jou hare en naels en jou lyf. Sorg dat jy elke dag gaan gym of een of ander soort oefening kry. Ek laat nie sellulietbelaaide dye op my verhoog toe nie. Daar agter om is die kleedkamers. Gee weer jou musiek vir Mike,” sê sy. “Toe-toe, moet nie net hier staan nie. Roer jou!”

Ricky se stem laat Sasha ruk van die skrik. Sy is nie gewoond daaraan dat mense so met haar praat nie, en nog minder dat sy vir ’n baas moet werk.

“Het jy al aan ’n naam gedink?” roep Ricky agterna.

Sasha draai om: “Nee,” sê sy verleë. Hoe kon sy daarvan vergeet het!

Ricky skud haar kop ontevrede.

Sasha skarrel eerder in die rigting waarin Ricky beduie het. Agter ’n robynrooi fluweelgordyn sien sy klomp meisies wat aantrek. Sy sal dit nou nie juis ’n kleedkamer noem nie, maar dit lyk vir haar sy is ten minste op die regte plek.

Hier is rakke met verskillende uitrustings en rye spieëls teen die een muur. Grimering lê op die werkblad besaai met kunswimpers, watte, kunsnaels en gefrommelde sneesdoekies oral. Visnetkouse hang oor die stoele se ruglenings.

Nes sy nog altyd gedink het dit dalk agter die skerms van ’n Victoria’s Secret-vertoning lyk.

“Hallo. Is jy die nuwe girl?” vra ’n vrou met ’n kort blonde bob.

Sasha knik.

“Ek is Tammy. Welkom. Jy onthou seker vir Vee.” Tammy beduie na die maer rooikopvrou wat haar dans verfilm het.

Vee knik net.

“En daar is Angie, Bekka, Colleen, Vera en Geraldine.”

“Dankie, en hi, julle.” Sasha sluk hard toe sy sien hoe van die meisies aangetrek is. Haar hart klop soos iemand wat aan ’n toe deur hamer. Asof die ding haar wil laat wakker skrik en sê: Dít is nie vir jou nie. Sy haal ’n paar maal diep asem.

Sy moet dit net doen.

Op enige ander plek sal iemand haar dalk herken, maar hier kan sy wegraak. En as sy genoeg geld bymekaar gemaak het, gaan sy haar eie uitgewery oopmaak – sonder haar pa se hulp of sy geld.

Die ironie van wat sy vanaand doen, gaan nie ongesiens verby nie. Sy is eintlik ’n boekwurm wat daarvan hou om veilig, deur die karakters in boeke, wilde avonture te hê.

Na vanaand sal sy seker self ’n boek kan skryf.

“Kyk op die rails, kry vir jou iets om aan te trek as jy nie jou eie outfit gebring het nie. En gee vir my jou musiek. Ek sal dit gou vir Mike vat. Ricky is skoon beneuk vanaand. Twee meisies is siek. So jy sal dalk meer as een keer moet dans.”

“Maar … ” Sasha wil nog vir Tammy verduidelik dat sy net een dans geoefen het, maar sy is klaar weg. Hoe op aarde sal sy sommer nog ’n dans uit haar duim kan suig?

“Fake it till you make it,” kom haar ma se simpel woorde by haar op.

As haar ma darem moet weet waarvoor sy vanaand dié brokkie goue raad gaan gebruik.

Woede borrel na die oppervlak toe Matt sy bakkie voor sy meenthuis parkeer. Hy stap na Sasha se groen Volla. Hy sluk moeilik aan die feit dat sy oulike buurvrou haar klere voor klouerige mans afpluk om ’n bestaan te maak. Waar is haar familie? Waardeur moet jy gaan om by so ’n plek op te eindig? Is daar nie mense wat vir haar omgee nie en wat kan voorkom dat sy doen wat sy doen om aan die lewe te bly?

As hy net dink dat Emarie so iets moet doen om kos op die tafel te sit, raak hy naar van ontsteltenis. Hy wou eers by die vervlakste klub uitklim en self gaan kyk wat daarbinne aangaan, maar het besluit om dit te los.

Sasha is sy buurvrou, nie sy meisie of sy sus … of Lexi wat gered moet word nie. En sy is groot genoeg om haar eie besluite te neem. Dit is net die vervlakste beklemmende gevoel, asof ’n luislang stadig besig is om om sy lyf vas te trek, waarvan hy niks hou nie.

Hoe gaan sy boonop vanaand by die huis kom? Voor hy homself kan keer, voel hy aan die deure van die kar. Die ding is nie eens gesluit nie. Dit het hy amper verwag. Hy kan hom net so wel besig hou, want anders gaan hy heelaand aan haar dink en aan wat sy nou doen.

“Sjoe, dit was goed!” sê Sasha toe sy uit die pad staan vir die klomp wat van die verhoog af gedraf kom. Die vertoning word geopen deur ’n paar van die meisies wat ’n gesamentlike nommer doen. Sasha is nie seker hoekom sy so verbaas klink, asof sy gedink het die meisies kan nie goed dans nie, maar elke beweging was op tyd en perfek.

“As jy goed genoeg is, kan jy ook een van die dae saamdans,” belowe Tammy uitasem.

Sasha antwoord haar nie. Hierdie werk is net tydelik en hopelik sal sy dit nie so lank hoef te doen voor sy op die been is nie.

Tammy begin uittrek terwyl sy praat: “Na Vee is dit jy. Is jy reg?”

Sasha sluk hard. Sy haal die twee uitrustings uit haar sak en hou dit teen haar lyf. “Watter een dink jy?” vra sy.

“Beslis die swarte,” antwoord Tammy glimlaggend.

Vee loer oor Tammy se skouer en beaam die besluit voor sy verhoog toe draai: “Definitief die swart. Mans vrek oor swart satyn.”

Sasha stel haarself ’n klomp kwylende, grillerige mans voor.

“Moenie so bekommerd lyk nie. Dit is nie een van dáái plekke nie. Ons toegangsgeld is genoeg om enige ouens met slegte intensies hier uit te hou.”

Sasha knik, maar is steeds nie seker of dit haar heeltemal gerusstel nie. Waar sy vandaan kom, is dit juis die grillerige ou mans wat baie geld het. Sy trek haar asem diep in en begin uittrek.

Nadat sy aangetrek het, bekyk Tammy haar met ’n vinger op die ken. Met ’n pluk trek Tammy Sasha se broekie nog laer op haar heupe af sodat haar naeltjie uitsteek.

“Daarso,” sê sy. “Dis beter.”

Bo-oor die broekie trek Sasha ’n swart romp aan. Sy vryf oor die lae swart tafsy. Dit hang tot op haar voete. Sy voel eerder soos ’n ballerina as ’n burleskdanseres.

Maar ook net totdat sy die romp voor al die mans in die skare gaan uittrek.

“Ontspan. Jy lyk stunning. Die plek is tjok-en-blok vol.”

Asof dit haar beter moet laat voel, maar wat het sy op ’n Vrydagaand verwag?

“Hier is vanaand ’n paar hunks. Ek het hulle gesien. Baie van hulle is skatryk. Wie weet dalk ontmoet jy nog jou prins in dié plek.” Tammy glimlag toe sy dit sê.

“Nee wat.” Sasha waai die lawwe konsep soos ’n lastige muskiet weg. “Prinse bestaan net in storieboeke.” Sy weet mos. ’n Man met geld is nie noodwendig altyd ’n ridder op ’n wit perd nie.

“Komaan, asof elke girl nie na ’n fairytale smag nie.”

Sasha skud haar kop. Sy hoop Tammy kry die prins wat haar uit die plek kan red, maar sý het nie een nodig nie. Vroue kan hulleself immers red.

Toe Vee se musiek begin speel, loer Sasha van agter die gordyn na die verhoog. Vee stap na die silwerkleurige paal en gly daarom asof sy hiervoor gebore is. Die mans in die gehoor is gaande oor haar. Vee lyk asof sy dit self ook geniet. Daar is geen bevreesde uitdrukking op haar gesig soos wat Sasha seker is nou op hare is nie. Vee eindig haar roetine deur te split.

Luide applous klink op.

En nou moet sy wat Sasha is, dans! Sy vee haar klam hande aan haar romp af.

Toe Vee uitasem van die verhoog af kom, steek daar hope note by haar broekie uit. Sy pluk hulle uit en hou hulle uit na ’n ou wat Sasha vir die eerste maal vanaand raaksien. Die man is heeltemal in swart geklee en staan hier soos ’n wag by Buckingham Paleis. Hy is so groot soos Springbokslot.

’n Bouncer? Die feit dat hy hier staan en oor die meisies waghou, laat die knop op haar maag effens skietgee.

“Ek kry dit nou,” sê Vee vir hom en haal diep asem voordat sy weer uithardloop verhoog toe om seker nog ’n paar mans vinnig van hul geld te beroof.

Sasha se hart klop in haar keel. Vanaand voel alles vir haar wildvreemd, al was sy al op die verhoog toe sy haar oudisie gedoen het. Haar maag is reeds aan die dans, en daar is net een rede.

Sy is bang.

“Klap lekker hande vir ons vars gesiggie hier by Aantrekkingskrag – Baby Angel!” Sy herken die stem wat haar aankondig dadelik – Ricky. So Ricky het sommer self vir haar ’n naam gegee. Vanaand voel sy allesbehalwe soos ’n engel.

Haar voete is swaar asof sy op die plek gevries staan. Wie sou ooit kon geraai het dis waar sy in dié stadium van haar lewe sou wees? Sy knyp haar oë styf toe.

Diep teue, Sasha. Verbeel jou dit is maar net een van jou vele balletuitvoerings.

By dié een dans jy alleen. Dit is al.

Eers toe Tammy haar effens in die verhoog se rigting stoot, kry haar voete weer lewe. “Dit help as mens op een persoon fokus. Kies ’n hunk … daar gaan jy! Break a leg,” por Tammy.

Voordat sy kan sê dat dit presies is waarvoor sy bang is, is sy op die verhoog.

Om met vuur te speel

Подняться наверх