Читать книгу Sonpad na Zanzibar - Madeleine Malherbe - Страница 3
~ 1 ~
ОглавлениеIsabelle sien eerste sy oë toe hy op haar afstorm. En dat hy ’n selfoon teen sy oor hou. Maar dis veral die oë wat sy sien. Diep, donker oë wat al wyer oopsper totdat hy skaars twee meter weg is. Dan kom die impak: die harde slag, die geskeur van metaal, die breek van glas, ’n oomblik van afgryse. Die ongeluk gebeur in ’n oogwink.
Skielik is alles verby. Sy bly bevrore sit in haar ingestampte motortjie, die stuurwiel geklem in haar hande. En nog steeds hou die geskokte oë van die vreemdeling in die ander motor haar blik gevange. Sy dwing haarself om weg te kyk. Sy voel gedisoriënteer: ’n oomblik gelede was sy nog rustig op pad werk toe. En nou het alles in ’n japtrap verander.
Sy leef, sy voel geen pyn nie, maar sy moet hier uitkom, besef sy. Die motor kan aan die brand slaan, dink sy skielik paniekerig. In flieks begin motors altyd brand ná ’n ongeluk en sy wil tog nie vasgekeer bly sit nie. Haar deur wil nie oop nie. Sy kyk verskrik om haar rond. Anderkant uit, beplan sy vinnig.
Die man het intussen uit sy motor geklim – ’n groot Duitse motor wat eintlik net geringe skade opgedoen het. Hy beëindig die gesprek op sy selfoon en steek die foontjie in die bosak van sy deftige pak. Hy probeer haar deur vir haar oopmaak, maar die skade is te groot. Net toe sy oor die rathefboom skuif om anderkant uit te klim, sien sy hom omstap na die ander kant van haar motor.
Toe sy die deur oopruk en lomp uitval, hou hy haar met ’n stewige arm regop.
“Jou idioot!” gil sy op die man. “Jy het op jou selfoon gepraat!”
“Het jy seergekry, juffrou? Is jy orraait?” vra hy kalm.
“Kyk net wat het jy gedoen!” tier sy verder en wys na haar verwronge motortjie. “En die motor kan brand!”
Sy kyk weer, dié keer om die skade in te neem, na die ingeduikte regtervoorkant van haar liewe Mossie, skaars twee maande in haar trotse besit.
“Ek dink nie die petrolpyp het gebars nie, juffrou. Die motortjie behoort nie te brand nie.”
“Kyk net die skade!” Sy wys woedend na die motor. “En dit lyk miskien vir jou na ’n klein motortjie, maar dis my enigste wiele. En splinternuut ook!”
“Ek is verskriklik jammer, juffrou. Ek sal jou dadelik hospitaal toe neem vir plate. Dan kan ons vasstel of jy iets oorgekom het.”
Isabelle wonder of sy ’n besering opgedoen het en strek haar arms, trap heen en weer op haar bene. Sy draai haar nek alkante toe. Sy voel gelukkig geen pyn nie.
“Jy hoef nie bekommerd te wees dat ek jou later sal dagvaar vir pyne en skete wat ek nie opgedoen het nie. Ek is nie oneerlik nie,” snip sy.
“Ek het dit nie lelik bedoel nie. Ek het regtig maar net aan jou welstand gedink.” Hy klink in sy eer gekrenk. “ ’n Nekbesering? Sweepslag of so iets? Dis beter om te gaan plate neem.” Hy kyk haar bekommerd aan.
“Ek makeer niks,” grom sy. Hy lyk so bekaf dat sy hom amper jammer kry.
Sy stap om die motor en bekyk opnuut die skade. Dan klim sy weer van die passasierskant af in en skakel die motor aan. Sy ry met die aaklige geskuur van metaal nader aan die sypaadjie.
Dan kyk sy die man woedend aan. “Hoor net!” sê sy beskuldigend.
“Ek hoor. Ek is jammer!”
Sy klim weer oor die rathefboom anderkant uit, haar lang bene tot onder haar ken opgetrek. Sy haal haar selfoon uit haar handsak en kies haar neef se nommer. Die man wys met sy hand dat sy moet stop.
“Laat ek jou versekering bel – ek sien jy het ’n plakker vir ’n insleepdiens,” bied hy aan. Maar sy draai net haar rug effens na hom en ignoreer die aanbod.
“Pietman, kan jy my kom help, asseblief? Iemand het in my vasgery en ek staan in Proteastraat. Ja, vlak by die Dros. Ek is orraait, maar my kar kan nie ry nie.”
“Bly net daar. Ek’s nou daar,” hoor sy.
Sy groet en klap dankbaar die foontjie toe. Sy het gehoop dat hy al in die laboratorium by die universiteit sou wees, al is dit nog so vroeg. Dis gelukkig nie ver hiervandaan nie. Sy weet hy sal kom so gou hy kan.
Isabelle is skielik gedaan. Sy gaan sit sommer op die sypaadjie langs haar motortjie, haar kop op haar opgetrekte knieë, terwyl die vreemdeling oor haar troon. Tot haar intense verleentheid voel sy hoe die trane oor haar wange begin rol. Nou is sy al klaar nie meer die sterk vrou wat sy graag wil voorhou nie. Sy soek vergeefs na ’n snesie in haar baadjiesak.
“Hierso,” sê hy en hou ’n spierwit, varsgestrykte sakdoek na haar uit. “Is jy seker dat jy nie seergekry het nie?” Hy hurk bekommerd langs haar. Sy voel ’n stewige arm om haar skouers, maar sy durf nie opkyk nie.
Sy kan nie praat nie; haar keel is skielik krapperig. En die trane lóóp. Ag, en moet dit nou gebeur op die dag dat sy toevallig ’n bietjie grimering aangesit het, dink sy ergerlik en klad versigtig om haar oë. Sy sluk en sluk om die trane agter in haar keel weg te sluk. Dis van skrik, weet sy, dat sy nou so grens.
“Hier is my besonderhede, juffrou.” Die man hou ’n besigheidskaartjie na haar uit. “Ek sal my motorregistrasienommer en my privaat telefoonnommers agterop neerskryf. Ons moet albei binne vier en twintig uur die ongeluk by die polisie aanmeld. Ek sal natuurlik skuld erken, hoewel die versekering deesdae nie meer te veel gepla is met wie wat gedoen het nie. Hulle skik die saak onderling.”
Hy skryf met ’n mooi silwer balpuntpen. Sy gluur hom woordeloos aan. Neem toe die kaartjie en steek dit in haar handsak. Hy hurk nog ’n rukkie langs haar en staan dan op.
Wil natuurlik nie sy netjiese pak ruïneer met ’n sypaadjiesittery nie, dink sy wrewelrig.
Hy glimlag onverwags ondeund. “Ek sal natuurlik nie vir die versekeraars noem dat ek op my selfoon gepraat het nie.”
Sy vererg haar van voor af, sodat die trane sommer opdroog. “Jy kon een of albei van ons vir die res van ons lewe vermink het!” skel sy. “Wat was nou so belangrik dat jy in die ry moes praat?”
“Ek weet. Ek het vandag ’n les geleer,” erken hy stil. “Dit was regtig onverantwoordelik van my.”
“En tog doen almal dit,” verwyt sy stroef. Sy behandel daagliks mense wat die slagoffers was van verwoestende ongelukke.
“Ek weet. Ek is regtig jammer,” beklemtoon hy weer.
Hy staan ongemaklik langs haar, so lank en stewig, terwyl sy op ’n bondeltjie bly sit. Sy probeer nie gesels nie en sy pratery het ook opgedroog. Hulle wag in stilte.
“Hier is nou iemand.” Hy wys na Pietman wat met sy motor agter hare intrek en haastig uitklim. Haar neef gee haar ’n vinnige kyk en stap dan om die twee motors.
“Dis nou ’n smêsh.” Hy kyk vinnig rond. “Is jy orraait, Isabelle?”
Hy hurk langs haar en sit sy arm om haar skouers. Toe sy tranerig knik, trek hy haar regop en trek haar vir ’n oomblik vertroostend nader. “Het jy seergekry? Die kar is niks, dis wêreldsgoed en ons sal dit gou opfieks,” sê hy doelgerig.
Hy steek sy regterhand na die ander man uit. “Piet Groenewald.” Daar is geen verwyt in sy stem nie.
“Ernst Joubert, aangenaam. Ek vrees ek het hier groot moles gemaak. Ek wens ek kon vergoed vir alles: die skade, die ongerief.”
“Dit gebeur,” antwoord Pietman filosofies. “Dit kom net altyd op ’n slegte tyd – ongelukke en siekte. Ek neem aan jy het versekering? As Isabelle jou besonderhede het en jy hare, sal ek nou hier oorneem.”
Dit laat haar onthou om haar ID- en registrasienommer vir die Joubert-man op haar besigheidskaartjie te skryf. Maar geen huisnommers of adres nie, dink sy bitter toe sy dit vir hom gee. Net ’n werksadres. Hy het niks met haar lewe uit te waai nie. Net sy sal weet hoe ongemaklik en ontydig hierdie nuwe fiasko haar getref het.
“ ’n Fisio – dis interessant,” sê Ernst Joubert en bekyk haar besigheidskaartjie.
“Net jammer ek sien elke dag die skade wat motorongelukke maak,” vryf sy dit bitsig in.
“Ja, dit wil ek glo.”
Hy kyk ongemaklik na haar, na die kaartjie in sy hand, na Piet, na haar motor, na sy eie motor. Dit lyk of hy onseker is oor wat om verder te doen of te sê.
“As jy seker is ek kan nou met niks help nie, gaan ek maar. Ek sal weer kontak maak.”
Die man draai om en stap na sy motor. Die skade aan sy voertuig is nie naastenby so erg soos aan hare nie. ’n Bietjie buig aan die buffer en die vervanging van ’n koplig en die Duitse wa sal so goed soos nuut daar uitry, dink sy by haarself.
Sy draai na Pietman en bars sommer van voor af in trane uit.
“Dit ook nog! My mooi nuwe motor,” huil sy.
“Ek weet, ek weet,” troos hy vinnig. “Daar is op die oomblik baie slegte dinge in jou lewe. Maar toemaar, ons sal jou help. Ek vat jou net gou eers werk toe en dan sal ek terugkom en die Yaris laat insleep. Bel my vanmiddag net na werk, sodra jy klaar is, dan kom haal ek jou. Dan kan ons ’n plan maak vir ander wiele tot jou kar weer reg is. Ek het nie my motor nou so nodig nie – jy weet ek staan dag en nag in die lab. Miskien kan ons my wiele deel vir ’n tydjie.”
“Ek sal jou dit nie aandoen nie. Wat van Yvonne? Jy sal naweke na haar toe wil gaan. Dan maar liewer ’n motor huur. Miskien betaal die versekering dit? Ek het deesdae drie pasiënte by wie ek huisbesoeke moet doen. Maar kom, laat ons ry. Ek is nou klaar laat.”
“Bel my om te sê hoe laat vanmiddag, dan kom kry ek jou. Ek sal van halfvyf af regstaan om dadelik te kom,” beklemtoon hy toe hy voor haar werkplek stilhou.
“Ag, dankie, Pietman. Ek weet nie wat ek sonder jou sou gemaak het nie.” Sy blaas ’n soentjie in sy rigting en klim uit.
Toe sy by die praktyk indraf, maak Louise vir haar grootoë, nie gewoond daaraan dat Isabelle ’n laatkommer is nie. Maxie, die hoofvennoot, kom soms laat as sy en haar man ’n laat nag gehad het. Yvette, wat andersins ’n koel en bedaarde mens is, kom altyd op die allerlaaste nippertjie ingeskarrel nadat sy die kleintjies kos gegee en by die bewaarskool afgelaai het. Maar Isabelle, beroepsvrou in murg en been, is elke oggend mooi betyds by die werk.
Vandag sit haar eerste pasiënt reeds tien minute en wag. Gelukkig is sy nie vies en ongeduldig nie, maar verdiep in ’n sensasionele Huisgenoot-storie.
“Ekskuus, mevrou Cronjé, dat ek laat is. Kom deur en trek solank jou skoene uit. Hoe gaan dit met die voet?” vra Isabelle.
Sy beweeg die vrou se tone op en af om die mate van beweeglikheid vas te stel. “Dit lyk al beter. En kyk hoe mooi begin die letsel nou wegraak. Amper geen merk meer nie. Een van die dae speel jy weer ’n barshou tennis. Jy moet net nie jou oefeninge afskeep nie.”
Later kom sy en Louise mekaar in die gang teë. “Motorprobleme?” vra Louise.
“Nee, erger. ’n Sot het op sy selfoon gesit en praat en nie gekyk waar hy ry nie. My motor is skuins van voor ingestamp: die enjin, die een wiel, my deur. Dis groot skade.”
“Ag, nee, dít ook nog!” skrik Louise. “Eers jou verloofde, toe jou ouers se gedoentes en nou jou splinternuwe motor. Het jy nie al genoeg ellendes gehad die afgelope tyd nie?”
“Dis erg, nè? Maar gelukkig makeer ek niks.”
Isabelle neem haar voor om nie weer te huil nie. Jy kan net sóveel huil en die mense by die werk ontstel, en dan nie meer nie. Die werk is beslis nie die plek vir ’n tranedal nie.
Dis nie regverdig teenoor haar kollegas óf haar pasiënte om hulle op te saal met haar probleme nie. Hulle knieë en rûe en heupe se pyn is al erg genoeg, sonder dat hulle nog haar laste ook moet bykry. Fisieke pyn is net so erg, of erger, as smart in die hart, dink sy soms. As iets aan jou lyf pyn, kan jy nie ook nog ander probleme en slegte ondervindings hanteer nie.
Sy werk meganies: heeldag, aanhoudend, met net die kortste onderbreking vir ’n vinnige tunaslaaitjie vir middagete. Sy masseer, sy stut, sy demonstreer oefeninge, takseer vordering, moedig aan.
“Hier was ’n man,” kondig Louise teen middagteetyd aan, haar neus in die afsprakeboek. “ ’n Beeld van ’n man. ’n Skatryk ou, as ek die storie so bekyk: duur klere, pragtige beursie, die allerbeste donkerbril, alles net van die heel beste. Hy wou nie hê ek moet jou pla nie. Het ook nie ’n afspraak kom maak nie. Het net vir jou hierdie briefie gelos. Ek het vir hom gesê ek hoop nie dis moeilikheid nie, jy het genoeg moeilikheid gehad die afgelope tyd.”
“Louise, Louise, jy praat te veel.”
Isabelle voel verleë dat sy deur almal bespreek word, maar sy kan ook nie vir Louise kwaad wees nie. Sy is ’n babbelbek gemaak en so laat staan. Sy sal inmeng in ander se sake tot sy die dag te oud is om te praat. Daar is geen salf hoegenaamd aan haar pratery te smeer nie.
Isabelle kan om die dood nie dink watter pasiënt dit kan wees nie. Die enigste skatryk, pragtige man wat sy ken, is die arme Dolf Dreyer. Dié is geskiet in ’n rooftog en sal miskien nooit weer heeltemal sonder hulp kan loop nie.
As dit maar hý was wat hier by Louise kon kom staan en briewe aflewer! Dan sou sy nie omgegee het wát Louise met hom staan en ginnegaap nie. Sy sou maar te bly gewees het dat die man op die been is. Sy sou gegil en gejuig het van vreugde. Maar Dolf het nog ’n lang pad om te gaan. Sy een heup en knie begin regkom, maar sy linkerbeen wil nog nie saamwerk nie. En hy het pyn, ondenkbare pyn.
Die gedagte aan wat Dolf deurmaak, laat haar gestampte motor in elk geval nou na ’n nietigheidjie lyk. Sy neem haar voor om nie eens oor haar motor met hom te praat as sy hom later in die week tuis gaan behandel nie. Positief bly en hom opbeur, neem sy haar voor. Die pyn maak die arme Dolf deesdae moedeloos.
Sy vou ingedagte die briefie oop.
Beste mej. Van der Walt
Hiermee net weer eens my innige spyt oor die skok en ongerief wat die ongeluk jou aangedoen het. Ek sou wat wou gee om alles ongedaan te maak. Laat my asseblief toe om ’n klein bietjie te vergoed. Ek het ’n motortjie wat jy kan gebruik tot tyd en wyl jou motor reggemaak is.
Ek sal vanmiddag vyfuur die motor vir jou bring, as jy my dalk daarna net eers sal gaan aflaai. Indien die reëling jou nie pas nie, bel maar, dan spreek ons ’n ander tyd af.
Vriendelike groete en sterkte vir die dag.
Ernst Joubert
Isabelle lees die telefoonnommer onderaan en vryf ingedagte oor die mooi wit papier. Dan was dit die Joubert-man wat so ’n indruk op Louise gemaak het …
Sy staan lank met die briefie in haar hand. Dit klink ewe ordentlik: hulpvaardig en vriendelik en gepas spyt oor sy dade. Dit sal haar ook nie help om die man vir altyd kwalik te neem en te verwyt nie. Sy moet maar vrede maak met wat gebeur het. En desnoods gebruik maak van die man se aanbod om vir haar ’n motor te leen. Hopelik sal hy nooit weer op sy selfoon praat as hy motor bestuur nie.
Dan maar vir Pietman laat weet sy het reggekom met ’n geleentheid vanmiddag, besluit sy. En selfs beter: dat sy ’n motor aangebied is om solank te gebruik.
Pietman klink huiwerig toe hy van Ernst Joubert se aanbod hoor, maar laat haar toe om na eie goeddunke te besluit.
“Bel my enige tyd as die storie nie uitwerk nie. En jy laat nie dat die man jou huurgeld vra vir sy motor nie,” dring hy aan. “En vra of die motor verseker is.”
Isabelle sê gou totsiens sodat Pietman verder kan werk. Hy is altyd haastig terug na sy proefbuise en sentrifuges toe.
Toe sy ná vyfuur klaarmaak en haar laaste pasiënt groet met allerlei vermanings oor die oefeninge wat hy moet aanhou doen, hoor sy Louise al weer land en sand voor by die ontvangstoonbank gesels.
“Ek vertel nou net vir meneer Joubert watter traumas jy onlangs gehad het,” borrel sy toe Isabelle verskyn. “En dat ek vir hom baie kwaad is oor hy vir jou nog meer ellende veroorsaak het.”
Isabelle skud afkeurend haar kop vir Louise. Het sy dan geen takt nie?
Voor die toonbank, steeds geklee in sy onberispelike pak klere, staan die oorsaak van haar nuutste frustrasie: Ernst Joubert. Hy troon oor die klein pokkel van ’n Louise, wat hom met verliefderige oë staan en aankyk.
En aangesien Louise dit vroeër genoem het, sien Isabelle dat hy werklik ’n merkwaardig aantreklike man is. Lank en goed gebou, sover sy kan aflei. Die pak sit aan hom asof dit stekie vir stekie om sy liggaam vervaardig is.
Die bruingebrande hande en gesig dui op aktiwiteit in die son. Sy sien ’n sterk kakebeen, donker oë, ’n netjiese haarsnit. Al wat effens uit plek is, is die kuif wat intussen oor sy voorkop afgesak het en aan hom ’n jeugdige en effens ondeunde voorkoms gee.
“Louise!” raas Isabelle kwaad. Dis nie nodig dat die vrou al haar persoonlike sake vir almal uitblaker nie. Sy voel weerloos genoeg oor haar ouers se egskeiding, oor Rigardt se toestand – al die dramas wat haar getref het die afgelope tyd. Sy is moeg van almal se bejammering en pogings om goed te wees vir haar. Sy wil eintlik net êrens in ’n stil hoekie gaan lê en haar wonde lek soos ’n diertjie wat seergekry het.
Sy wil vir niemand meer vertel hoe dit nou met Rigardt gaan en hoe min herstel en vordering daar is nie. Sy wil nie vertel van haar pa en ma en hulle dramas nie. Sy wil net ’n normale agt en twintigjarige vrou in die stad wees wat as fisioterapeut by ’n goeie praktyk werk en ’n verloofde en trouplanne het. Vooruitsigte op ’n klein huisie van hulle eie in ’n nuwe woonbuurt.
Sy wil net ’n normale mens wees sonder ’n honderd krisisse wat een vir een ongevraag opduik en niks met mekaar te make het nie. Is dit dan te veel gevra?
Sy kyk Ernst dus so stuurs moontlik aan. As Louise reeds alles uitgeblaker het, sal sy konsentreer op die transaksie om ’n motor by die man te leen.
“Dankie vir die aanbod,” sê sy bondig. “Wie se motor is dit?”
“Middag! Ek hoop jou dag was nie te stresvol ná die ongeluk nie.” Hy glimlag wyd en vriendelik, sodat sy nog suurder frons.
“Ek is steeds ongelooflik jammer oor die botsing,” sê hy. “Soos ek gesê het, ek het vir jou ’n motortjie. Dis myne: ek ry net so nou en dan oor naweke met haar … met hom? Wat ’n kar se geslag ook al is.”
Isabelle kry skaam dat sy hom nie eens gegroet het nie. Dis nou te laat om te groet, dus druk sy maar deur met die gesprek oor die motor.
“Wat van versekering? Netnou ry iemand met ’n selfoon weer in my vas.” Sy probeer kwaai klink, maar moet onwillekeurig glimlag toe hy skielik dawerend begin lag.
“Kom ons gaan drink koffie,” nooi hy. “Of is jy haastig huis toe? Wag Piet vir jou? Is hy jou man of is julle familie?”
Sy bly hom ’n antwoord skuldig. Hy hoef werklik nie te weet dat Pietman familie is nie.
Sy tel haar handsak op. “Ons kan miskien maar gou gaan praat.”