Читать книгу Sonpad na Zanzibar - Madeleine Malherbe - Страница 4

~ 2 ~

Оглавление

Isabelle sluit die voordeur van die praktyk agter hulle toe. Louise sal agter uitgaan en sommer die alarm stel.

Voor die deur staan ’n baie klein, baie plat sportmotortjie langs die hek geparkeer.

“Waar’s jou motor?” Sy kyk om die hoek straataf.

“Dis hy hierdie,” sê Ernst en maak die passasiersdeur oop.

“Jy kan nie eens alleen hier inpas nie,” protesteer sy. “Wat nog te sê twee van ons?”

“Ja, ek sien jy het ook lang bene.” Hy bekyk haar op en af. “Maar jy sal verbaas wees oor hoe ruim dit binne is.”

Hy hou vir haar die deur oop en sy laat sak haarself in die weelde van die pragtigste motor wat sy nog van binne gesien het.

“Sjoe, dis pragtig,” erken sy.

“Ja, jy pas regtig mooi in.” Hy gee haar ’n veelseggende kyk.

Hy stap om die motor en vou sy lyf dubbel om in te klim. “Sy’s groter as wat sy lyk, en sy ry soos ’n droom.”

Die motortjie is inderdaad ’n onwerklike ervaring van byna onhoorbare enjingedreun, luukse leer en pragtige lyne – ’n kunswerkie op wiele.

“Waar wil jy gaan koffie drink? Ek dink nie ’n drankie sal nou raadsaam wees so op ’n nugter maag nie. Netnou ry ek weer in iemand vas.” Hy lag weer sy aansteeklike, dawerende lag. “Tensy jy genoeg tyd het om rustig iewers iets te drink en dan sommer daarna te gaan eet?”

“Liewers nie, dankie.”

Sy is sommer weer bot as sy aan haar omstandighede dink, en hoe onvanpas ’n kuieraandjie saam met hierdie droom van ’n man sal wees. Hy dra nie ’n ring nie, maar vir al wat sy weet, is hy nog getroud ook, dink sy skielik bekommerd. Sy moet darem erken die man was tot nou toe onberispelik in sy gedrag en optrede. Bygesê, as jy die onwettige selfoonpratery buite rekening laat.

“Ek dink hier sal dit lekker wees.” Hy beduie na ’n gesellige koffiekroeg in ’n kleinerige winkelsentrum.

Sy loer gou in die spieëltjie en sien moeë blou oë wat na haar terugkyk. Haar hare in die poniestert moet ook maar net so bly. Dis makliker om met mense te werk as haar lang hare uit die pad is. En teen hierdie tyd van die dag is los hare by haar net lang blonde slierte sonder krul of beweging. Sy bind liewers soggens vas en kam saans uit.

“Kom sit, dan ontspan jy. ’n Mens is moeg hierdie tyd van die dag,” sê hy asof hy haar gedagtes lees en stuur haar gemaklik by die gesellige plekkie in.

“Iets om te eet?” vra hy. “Hier is biltongblokkies en lekker quiche op die spyskaart.”

Hy bestel vir hulle ’n pot stomende koffie en happies om te eet. Sy peusel net hier en daar, gedagtig aan die aandete wat vir haar wag.

“Hoe lank is jy al ’n fisioterapeut?” vra hy uit.

“So ses jaar lank. Eers vier jaar in Boston, en van toe af hier by Louw en Viljoen.”

“My tyd! In die VSA, nogal. Wonderlik dat jy uit Boston teruggekom het,” knik hy ernstig, “en nie permanent die groener weivelde opgesoek het nie.”

Sy noem nie die redes vir haar haastige terugkoms nie. Hy kan maar dink wat hy wil, besluit sy.

“En jy, wat werk jy?” vra sy. “Iets in ’n kantoor – definitief nie ’n ingenieur of ’n landmeter nie.”

Hy lag weer sy dawerende lag.

“En as ek nou vir jou sê ek is ’n ingenieur wat vandag spesiaal ’n pak aangetrek het om oor ’n nuwe kontrak te gaan onderhandel?” terg hy.

“Dan het ek dit nie geglo nie,” glimlag sy terug. “Selfs ’n ingenieur se kispak lyk nie só nie.”

“Jy klink of jy weet van ingenieurs en die buitelugberoepe,” hou hy haar nog aan ’n lyntjie.

“En jy is dus … ?”

“Nee, jy’s reg. Ek was nie goed genoeg vir wiskunde op universiteitsvlak nie. Maar geldsommetjies kan ek maak: ek is ’n ouditeur wat ontaard het in ’n sakeman. Ons doen eiendomsontwikkelings – meestal hotelle deesdae.”

“Dit klink interessant. Vertel meer.”

Sy moet hom aan die praat hou. Sy vind dat sy deesdae in haar gesprekke óf aanmekaar praat óf niks. Blaker alles uit of bly doodstil. En “alles” is ’n baie lang storie. Dus sal sy maar hou by die gemeenplasies en hóm uitvra om sodoende die gesprek aan die loop te hou. Eintlik moet sy ook nie lank sit nie. Hierdie veertig minute of wat in sy geselskap sal lank genoeg wees.

Sy kyk vraend dat hy moet vertel van sy werk.

“Eers het ons konsortium ’n hele paar privaat hospitale help bou, of aangekoop om te verbeter. Vir ’n mediese groep. Dit het toe oorgegaan in ’n hotelontwikkeling, wat gelukkig ook goed afgeloop het. Ons is nou met verdere onderhandelinge besig met die hotelgroep. Een hotel vir hulle hier in Johannesburg, een in die Kaap en reeds iets in die buiteland. Alles in verskillende stadiums van ontwikkeling.”

“Is dit ’n baie riskante beroep? Almal wat ek ken, het meer definitiewe werke. Dokters, Wimpy-bestuurders, bouers – ’n werk waar jy presies weet wat jy doen.”

“Dit is nogal, ja.” Hy kyk deurdringend na haar. “Dis skerp van jou om dit so in te sien. Ek het al my stel of twee afgetrap, maar meestal doen ons span goeie navorsing en kom ons darem solvent anderkant uit. Daar is ’n paar goed waaraan ek in hierdie ekonomiese omstandighede nie met ’n tang sal raak nie – ouetehuise, aftree-oorde.”

“O, en hoekom nogal nie? Dit lyk my die aftree-oorde vaar dan so goed. My ouma se plek is pragtig, en die mense kan daar nie wag vir een oumens om dood te gaan sodat ’n volgende een ’n aftreehuisie kan koop nie. En goedkoop is die plekkies glad nie.”

“Dis waarom: dit was ’n wenresep vir ’n hele paar jaar. Maar die mark is nou min of meer versadig. Toe was dit meenthuise en gholflandgoedere. Tot die huiseiendomsmark begin versadig raak het. Nou moet ons maar op ander dinge konsentreer. Ons moet baie goed kyk waar en wat ons ontwikkel.”

“Dis ’n fyn kuns, neem ek aan.”

“Baie dinge in die lewe is ’n fyn kuns,” lag hy en raak vlugtig aan haar wang, sodat sy met ’n skok opkyk na hom. Daar is ’n skielike vonk in die lug, asof iets amper vlamgevat het. Sy soek na sy oë, maar hy is klaar besig om die rekening by die kelnerin te neem en sy beursie uit te haal.

“Sal ons maar gaan?” vra hy saaklik. “Jy moet my asseblief net gou by my kantoor aflaai. Dis nie ver nie.”

“Is die motor wat ek leen by jou kantoor?” vra sy skielik dom. Sy begin verstaan dat hierdie duur klein sportmotortjie die voertuig is wat hy vir haar wil leen.

“Nee, dis sy hierdie,” wys hy ongeërg en maak vir haar die bestuurder se deur oop. “Bestuur sommer hierdie entjie, dan kan jy solank aan haar gewoond raak.”

“O nee, ek leen nie hierdie splinternuwe, duur motor by jou nie. Ek soek ’n skedonkie waarin iemand wat op ’n selfoon praat maar kan vasry.”

Hy lag haar uit, ’n borrelende lag van onder uit sy maag. “Jy het nou jou ongeluk gehad. Van hier af is dit eenstryk vorentoe.”

“Dis waar jy die fout maak,” sê sy skielik opstandig. “Ongelukke en ellendes daag sommer ongevraag op. Jy dink nog alles gaan goed, dan gebeur dit, en wéér en wéér. Sommer ’n paar na mekaar.”

“Glo my, jou deel is verby. Dit sal nou net beter gaan.” Hy klink sterk en seker.

Wat sou Louise hom alles vertel het? wonder Isabelle ongemaklik. Sy besluit sy sal nie nou verder stry nie.

Sy skakel dus die motor aan en ry met toenemende selfvertroue die paar blokke na sy kantoor toe.

“Draai hier voor regs, dan is ons daar.” Hy beduie na ’n groot kantoorgebou oorkant die straat.

“Die ratte en goed is soos my pa se motor s’n. En die flikkerliggies: dieselfde kant as syne,” sê Isabelle. Sy parkeer behendig waar hy vir haar wys om te stop.

Hy klim uit en kom troon hier by haar venster. “Geniet haar! Bel my as jy enige probleme het. Sy het nog ’n dienskontrak, maar niks behoort in elk geval nou al te lol nie. Sien jou weer.”

En voor sy ’n verdere woord kan uitkry, draai hy om en verdwyn in die gebou. Die laaste wat sy van hom sien, is ’n hand wat vinnig waai toe die groot glasdeur agter hom toeswaai.

Sy ken hom minder as ’n dag, besef sy. Sy ken hom eintlik glad nie. Sy weet nou waar hy werk en min of meer wat hy doen. Maar dis ook al. En tog voel dit vir haar of sy hom al jare lank ken.

Hy ook ken haar glad nie. Net die plek waar sy werk, en haar telefoonnommer. En nou leen hy vir haar sy pragtige motor, met ’n tenk propvol duur petrol.

Is dit sy tweede motor? wonder sy. Vanoggend se motor mag dalk sy werksvoertuig wees, sodat hierdie sy enigste eie motor is. Maar dit help nie om te bespiegel nie. Sy is ’n motor aangebied waarvoor sy op die ou end maar te dankbaar is. Dit verminder die ontwrigting wat die ongeluk veroorsaak het.

Nou na Rigardt toe, dink sy effens moedeloos. Rigardt met wie sy van plan was om te trou. Haar ridder op die wit perd, haar vriend, haar trouman – destyds toe Rigardt nog Rigardt was. Voor hy in ’n passiewe, stil, meganiese mens verander het. Die Rigardt van kort voor die ongeluk.

Sy haal haar verloofring uit haar handsak en glip dit aan haar vinger. Sy dra die ring al minder. Eers net nie by die werk nie, want dis in die pad as sy masserings doen; nou al minder ook buite die werk.

Sy kyk vir ’n oomblik na die mooi ring – die ring wat sy twee jaar gelede al vir Rigardt wou teruggee. Omstandighede het gemaak dat sy dit steeds dra.

Sy kry haar aanstaande skoonma in die sitkamer, waar sy blykbaar pas ’n koppie tee gedrink het. ’n Skuldgevoel prik deur Isabelle. Sy is gewoonlik heelwat vroeër ná werk hier, en dan drink almal saam tee of ’n glasie sjerrie voor hulle begin kosmaak.

“Hallo, Isabelle, hartjie. Hoe gaan dit?” Katarina draai ’n sagte wang om gesoen te word en pik self in Isabelle se rigting, versigtig om nie lipstif af te smeer nie.

“Goed, dankie, tannie Katarina,” antwoord Isabelle werktuiglik. “Jammer ek kom nou eers hier aan.”

“Dis in die haak. Ek wil nie hê jy moet verplig voel om elke dag te kom nie. Ek wil juis met jou daaroor praat.” Die ouer vrou beduie dat Isabelle moet sit.

“Waar is Rigardt?” vra sy nietemin.

“Sy pa stap met hom om die blok.” Katarina vee moeg oor haar oë, versigtig om nie haar maskara te smeer nie. “Kom sit hier by my. Koffie? ’n Glasie wyn?”

“Nie nou nie, dankie. Ek het pas koffie gedrink.”

“Ek het gewonder waar jy bly.”

Katarina klink nie verwytend nie, maar Isabelle kom agter dat daar tog ’n vraag in haar opmerking skuil.

“Iemand wat vanoggend in my vasgery het, leen vir my ’n motor,” verduidelik sy bondig. Sy verswyg die omvang van die skade, en Katarina vra gelukkig nie verder uit nie. Sy lyk afgetrokke en speel aanhoudend met haar swaar silwerarmband.

“Ek sal nie doekies omdraai nie, Isabelle. Ek en oom Walter het gepraat. Ons wil hê jy moet weet dat ons nie sal omgee as jy die verlowing verbreek nie. Om die waarheid te sê: ons dring daarop aan dat jy dit doen.”

Die woorde skok deur Isabelle. Dis nie heeltemal onverwags nie, maar noudat dit gesê is, voel sy tog skuldig. Sy het gehoop dit sal eendag gesê word, maar sy kan net dink wat dit vir Katarina gekos het om dit te moet sê. Net sy wat Isabelle is, weet dat sy twee jaar gelede al die verlowing wou verbreek – onder ander, vroeër omstandighede.

Maar vandag weet sy dat dit hierdie keer nie langer uitgestel mag word nie. Sy voel oud en moeg, baie moeg. Die afgelope jare het aan haar gevat. Dit het haar vreugde gesteel, haar lewenslus geblus. Sy het werklik langer aangehou as wat enigiemand van haar kon verwag.

“Soos Rigardt nou is, kan hy jou niks bied nie. Hy kan nie ’n werk doen wat julle sal onderhou nie. Hy kan nie vir jou vrolike, opgewekte geselskap wees nie. Hy kan jou nie op uitstappies neem en lekker vakansies bied nie. Hy is nie meer die man aan wie jy verloof geraak het nie. Dis ’n ander mens wat hier sit. As hy binnekort begin werk by sy pa se fabriek, sal hy onder iemand se toesig ’n outomatiese werkie moet doen. Dit sal hom iets gee om besig te bly, mense en gesigte om te sien. Ons is natuurlik baie bly oor die geweldige verbetering wat daar die afgelope tyd was, maar dit kan nog jare duur voordat hy weer die mens is soos wat ons hom geken het. Indien ooit.”

Isabelle bly kop onderstebo sit. Sy weet nie wat om vir hierdie trotse, deftige vrou te sê nie. Sy weet dat die laaste twee jaar ook vir Katarina geknak het. Geen ma kon haar seun soveel sien deurmaak en onaangeraak bly nie. Sy het, net soos Isabelle, gejuig oor elke klein vordering wat daar intussen te bespeur was. Aanvanklik elke klein beweging raakgesien, elke oomblik van waarheid beleef en bespreek. Vir almal wat belanggestel het, alles vertel.

“Ek sal daaroor dink, tannie,” stel Isabelle die oomblik uit. Maar sy weet sy het klaar besluit. Wat sy nou gevra word om te doen, is net die vooraf uitgemaakte slot van ’n baie lang, baie treurige verhaal.

“Daar is nie ’n ander antwoord nie.”

Katarina vat haar hand en druk dit innig – vir haar ’n ongewone gebaar. Isabelle het haar leer ken as iemand wat nie maklik emosie wys of haar waardigheid prysgee nie. Oom Walter is die een wat maklik trane afvee, wat groot omhelsings maak en stywe drukkies uitdeel.

“Wat jy vir ons seun gedoen het, sal ons nooit vergeet nie. Ons weet jy het jare opgeoffer, dae ingesit, baie ure aanhoudend probeer en weer probeer. Nou moet ons jou vrystel sodat jy kan aanbeweeg, ’n nuwe lewe begin. Miskien weer ’n man ontmoet. Hou die ringetjie en laat verander dit in iets moois – ’n hangertjie, of iets om sommer nou en dan as ’n stukkie juweliersware te dra. Kom kuier nou en dan. Maar ontmoet iemand anders, en kom stel hom eendag aan ons voor.”

Isabelle sit doodstil, haar blik op die mooi vrou met die moeë oë. Wat moes dit haar nie gekos het om te sê wat sy nou gesê het nie …

Met hierdie woorde het Katarina erken dat sy die handdoek ingooi. Dat sy haar ambisieuse drome vir haar seun begrawe het en leer aanvaar het wat die lewe hom toegedeel het.

Van haar wat Isabelle is, sal sy ma nooit die volle waarheid oor Rigardt hoor nie. Dis ’n geheim wat saam met haar eendag graf toe sal gaan, het Isabelle lankal besluit.

Die voordeur gaan oop en Rigardt en oom Walter kom in. Toe Isabelle die vreugde op Rigardt se gesig sien toe hy haar gewaar, wil haar hart breek. Amper begewe haar moed haar.

Sy knik net effens met haar kop in Katarina se rigting, sien dat die ouer vrou dit raaksien. Hulle verstaan mekaar se verwarring, mekaar se leed.

Sonpad na Zanzibar

Подняться наверх