Читать книгу Tot die dood ons skei - Malene Breytenbach - Страница 4

2

Оглавление

Kira is nog heeltyd op hete kole en toe die voordeurklokkie lui, spring sy amper uit haar vel waar sy sit en voorberei vir die volgende dag se klasse.

Die polisie of Reinhard is hier, dink sy onmiddellik en vlieg op om die deur te gaan antwoord. Souf het haar voorgespring, want sy hoor die bekende diep, melodieuse stem wat nog steeds, ná al die jare en deur alles, ’n snaar in haar roer wat vibrasies dwarsdeur haar lyf stuur. Reinhard … Sy staal haar vir die ontmoeting.

Toe sy in die portaal kom, staan hy daar, sy donker hare deurmekaar en sy grys oë treurig. Dit maak haar heeltemal week.

“Hallo, Reinhard. Ek is só jammer oor jou verlies,” simpatiseer sy en steek haar hande na hom uit.

Hy neem albei in sy groot hande. Die kontak met sy vel is – nes lank gelede – so elektries dat sy ruk. Al probeer sy beheers voorkom, voel dit of haar ingewande begin bewe.

“Dankie, Kira. Dis ’n geweldige skok. Ek kan dit self nie glo nie. Die polisie en speurders het die plek behoorlik gefynkam en my ondervra. Dankie dat julle julle oor Riaan ontferm het.”

Meteens skiet haar oë vol trane, so jammer kry sy hom. Sy moet dit met mening wegknipper. Haar stem is effens hees toe sy sê: “Ons sou na hom gekyk het, maar Riki Smit het hom kom haal.”

Sy kyk op in die aantreklike, sterk gesig en sien dat hy sy lippe opmekaar pers, asof hy dit nie goedkeur nie. Hy los haar hande.

“Ek het by die kaptein gehoor hy is daar en het hom gaan haal. Hy is nou by sy ouma.”

“Weet hy al … Moes jy hom vertel?”

Hy kreun en vryf oor sy voorkop. “Ja. Dis beter om nie ’n kind om die bos te lei nie. Hy weet iets is vreeslik verkeerd en hy vra heeltyd. Ek wou nie vir hom jok nie, maar ek het probeer om dit so sag moontlik oor te dra.”

“Kom ons gaan na die sitkamer. Ons kan nie hier staan en gesels nie.”

Hy huiwer. “Nee, ek moet teruggaan huis toe. Ek wou net kom dankie sê. Arme Soekie is skoon in die war. Sy het op Monique afgekom.”

Hy skraap sy keel. “Dit kon nie ’n mooi toneel gewees het nie. Sy het op die agterste grasperk gelê … Die honde het blykbaar nie alarm gemaak nie, wat baie verdag is, hoewel ek nooit gedink het dat poedels die beste waghonde uitmaak nie. Niemand het haar ook hoor gil nie.”

“Wie op aarde sou so iets wou doen?” vra sy.

Hy haal sy skouers op, sy gesig moedeloos. “Dis die groot raaisel. Riaan het gelukkig niks gehoor nie, want hy het vas geslaap. Niks is gesteel nie, dus kon dit nie rowers gewees het nie, tensy hulle geskrik en op die vlug geslaan het. Dis alles baie vreemd.”

Hy staar stip na haar. Verontrustend. Wat gaan in daardie mooi kop van hom aan? wonder Kira.

“Ek skat ons is almal verdagtes,” gooi hy ’n klip in die bos.

Sy is geskok en verontwaardig. “Maar jy was weg, en Liana en ek was saam tuis! Hoe kan ons verdagtes wees?”

“Omtrent almal wat iets met Monique te doen gehad het, sal verdagtes wees.” Hy kry ’n bitter trek om sy mond. “Die swaard hang punt na onder bo my kop.”

Ek het gaan draf waarskynlik op die tyd dat Monique vermoor is, dink Kira. Hulle gaan my daaroor uitvra. Sê nou hulle verdink my as iemand wat ’n motief gehad het om mooi, ryk Monique Brand te vermoor? Lank gelede was ek haar mededinger om Reinhard se liefde. Toe wen sy en ek dra ’n wrok wat met die jare nooit gewyk het nie, dalk net al groter geword het. Ek hét op die oog af ’n motief …

Sy ril toe sy aan die moontlikheid van vervolging dink.

“As jy enigiets nodig het en ons kan help, moenie huiwer om te vra nie,” sê sy egter net, en haar hart trek met ’n punt na hom.

“Dankie, ek waardeer dit. Totsiens, Kira.”

“Totsiens, Reinhard.”

Sy kyk hom agterna toe hy vinnig wegloop, sy skouers fier en kop omhoog, asof hy hom nie sal laat onderkry nie. Eers toe hy buite sig is, maak sy saggies die deur toe en leun met ’n kreun daarteen.

Reinhard staal hom teen die nuuskierige en veroordelende kyke wat hy op kampus en in die dorp te wagte is. Teen dié tyd het die nuus soos ’n veldbrand versprei en was dit reeds op TV, die radionuus en in die koerante. Monique se beeld het oral gepryk. Ook syne, Riaan s’n, Soekie s’n en selfs die honde wat “oor hulle ounooi treur”, soos een koerant dit gestel het.

Die koppe by die berigte was ontstellend. Beeldskone vrou van bekende Matie-professor koelbloedig vermoor; Raaiselagtige dood van Matie-professor se vrou; Verdagtes ondervra ná wrede moord op professor se vrou.

Al genade in die hele bedenklike besigheid is dat Riaan nog nie kan lees nie en dus nie die bespiegelings en sensasie oor sy ma se dood kan sien nie. Kinders herstel makliker, want hulle is aanpasbaar en hulle aandag word maklik afgelei, maar volwassenes se rou gaan nie gou oor nie. Dankie tog Riaan het ’n liefdevolle ouma wat kan help om hom te troos.

Dit was erg genoeg om aan Riaan te probeer verduidelik dat sy mamma in die hemel by die engele is, en waarom sy nie eens vir hom totsiens gesê het nie. Nie dat Monique so ’n liefdevolle ma was nie. Riaan het haar dikwels geïrriteer en dan was sy kortaf met hom. Sy was nie juis die moederlike tipe nie en gans te selfbehep, soos hy tot sy skade agtergekom het.

Riki het aangebied om na die huis te kom om hom met die begrafnisreëlings en die normalisering van sy huishouding te help – asof normalisering ooit weer moontlik sal wees – maar hy het geweier. Hy verkies om kantoor toe te gaan om sy sake in orde te kry en sy verpligtinge aan kollegas oor te dra voordat hy menslikheidsverlof neem. Die huishouding kan Soekie maklik beheer.

So ver soos hy gaan – vandat hy voor die ingenieurswesefakulteit uit sy opvallende viertrek geklim het, totdat hy met die trappe op en in die gang af tot by sy kantoor gevorder het – simpatiseer mense met hom en vra hom uit. Natuurlik dink van hulle dat hy dalk die moordenaar is.

Hy is verlig toe hy by die kantoor aankom en Riki daar is om hom met ’n simpatieke, liefdevolle gesig te verwelkom. Sy omhels hom skaamteloos, maar vandag is hy te kwesbaar om haar op ’n afstand te hou.

Hy weet sy verafgod hom, want sy het dit al by meer as een geleentheid byna reguit vir hom gesê. Juis daarom behoort hy ’n ander sekretaresse te kry, maar sy is doeltreffend, ywerig en toegewyd. Ander mense het al gesê hulle beny hom sy sekretaresse. Hy het in ’n gemaksone met haar verval en al wat hom pla, is haar openlike toegeneentheid teenoor hom.

Sy bring vir hom koffie en maak so ’n ophef dat hy sy irritasie skaars kan verberg.

“Hoe cope jy, arme prof?” vra sy met groot, ronde, swaar gegrimeerde blou oë. “Is die polisie lastig?”

“Lastig is ’n eufemisme,” grom hy. “Was dit die Middeleeue, het hulle my klaar opgehang.”

“O, dis vreeslik! Daardie nare kaptein Wiid het my kom ondervra. Sy wou als van jou en my weet – áls. Hoe ons verhouding is …” Sy kug asof verleë. “Sy wou weet hoe lank ek vir jou werk, wanneer ek geskei is, en alles wat in prof se dagboek staan. Wanneer en waarheen jy weggegaan het, als. Ek het natuurlik probeer keer, want daar is darem iets soos privaatheid, maar sy laat haar nie afsit nie. Is dit nie absoluut vreeslik nie?”

“Ja. Probeer asseblief die wolwe van my deur af hou dat ek my sake kan reël, Riki. En maak die deur agter jou toe. Dankie.”

Sy vang die skimp en laat hom gelukkig in vrede. So, daardie kaptein wonder of daar iets tussen hom en Riki is? Het sy maar geweet hoe irriterend hy Riki se oordadigheid vind. Hy waardeer egter haar lojaliteit en ondersteuning, al raak dit soms te veel. Mense wat Monique geken het, sou nooit kon dink hy kan in ander vroue belangstel nie. Sy was maklik een van die mooiste vroue wat hy al ooit ontmoet het, en toe is sy ’n ryk erfgenaam daarby.

Arme Monique, verlede tyd. Sy het ’n strop om sy nek gegooi, maar nou is hy vry.

Dit voel eienaardig. Asof ’n gewig van hom afgerol het. As iemand dit moes weet, sou hulle oortuig wees hy het haar uit die weg geruim.

Hy tel sy foon op en begin skakel om mense die nuus te laat weet.

Riki sit diep ingedagte tussen die foonoproepe wat sy beantwoord en vriendelik dog beslis weier dat enigiemand die professor steur.

Tessa, haar vriendin en die sekretaresse van Reinhard se kollega, staan meteens in die deur. Sy beduie na die toe deur en vra woordeloos: Is hy in?

Riki roep haar met ’n krom vinger nader. “Haai, Tess. Ja, hy’s hier, arme liefie. Bleek en in ’n toes, maar dapper,” fluister sy teatraal.

Tessa maak haar op die stoel tuis. “Ek kan nie lank bly nie, nou-nou soek die baas my. Die hele plek gons oor die moord. Ek kan nie sê ek het ooit van daardie vrou gehou nie, die bietjie wat ek haar gesien het. Baie mooi maar baie opstêrs.”

“Mooi van buite maar nie van binne nie,” snuif Riki. “Selfsugtig soos die hel en duur om te onderhou. Mind you, sy was ryk. Sexy en ryk. Watter man kan daardie kombinasie weerstaan? En sy wou hom hê. Nie dat hy weggehol het toe sy haar kloue in hom wou slaan nie. Arme ou Kira Trollip is sommer by die agterdeur uit toe daardie Monique by die voordeur inkom. Ek het nog gedink hy en Kira gaan trou, toe’s dit neusie verby. Al genade vir haar was om ’n akademiese reus te word. Nou is sy weer te slim en te geleerd vir die meeste mans. Hulle hou mos nie van daardie soort vrou nie. Te blerrie beterweterig.”

Tessa trek haar wenkbroue op. “Sy is darem ook baie mooi, en sjym, ek kry haar jammer. Sy sit seker nou al vier jaar op die rak en treur oor sy hom verloor het. Sy is in elk geval nie so opstêrs soos Monique Brand nie, al was haar pa dekaan van Regte. Ons was saam op skool and she had everything going for her, maar soms kan die lewe mense opkou en uitspoeg.”

Riki snuif minagtend. “Sy is net ’n bietjie beter as Monique.”

“Dink jy hy sal teruggaan na Kira noudat sy vrou dood is?”

Riki vererg haar. “Moet ’n mens dit nou sommer veronderstel? Hy het haar dalk afgesterf.”

“Wel … mens weet nooit.”

Riki haal net haar skouers ergerlik op. “Weet jy dat Monique op my neergesien het en dit duidelik gewys het? Sy het hier ingeloop soos ’n blerrie koningin en my soos drek behandel. Ek kon haar nie verdra nie.”

Tessa grinnik. “Jy kon haar nie vergewe dat sy die verruklike professor ingepalm het nie, ou dier.”

Riki word rooi tot agter haar ore. “Ag, loop jy! Ek het hom in elk geval elke dag, ure lank. Hy maak so op my staat dat ek selfs hulle testamente getik het. Hulle is die soort wat glo jy moenie intestaat sterf nie, anders vat die regering al jou geld. Ryk mense is ook maar versigtig.”

Tessa trek haar asem hoorbaar in. “Jislaaik, vrou! Jy mag seker nie sê wat daarin staan nie?”

“Natuurlik nie,” sê Riki verontwaardig. “Dis ’n staatsgeheim. Hy vertrou my. Al wat ek jou kan sê, is dat hy vir seker nie flenterbas is nie, want hy konsulteer nog al die jare vir ingenieursfirmas. Dis nie of hy nodig gehad het om Monique se skatte te erf nie. Saam was hulle eintlik vrek ryk. Ek dink hierdie oorwerkte, onderbetaalde kollegas van hom beny hom vreeslik.”

Tessa wip verskrik op toe Reinhard se deur oopgaan. In ’n oogwink is sy by die deur uit.

“Riki, tik net asseblief vir my hierdie. Die begrafnisreëlings sal moet wag, want die polisie doen ’n nadoodse ondersoek.”

“Julle het ook nie eintlik genade nie, nè?” sê Reinhard toe hy by die huis aankom en kaptein Wiid en ’n polisieman al weer daar aantref.

“Ons doen net ons job, professor,” sê sy verskonend, maar haar blik deurpriem hom.

Daar is ander mense ook en ergernis stu in hom op toe hy verneem dis verslaggewers.

“Het julle nog nie genoeg oor ons geskryf nie?” vra hy die astrante vroulike verslaggewer van Die Burger. “Me. Erlank, ek hét al met julle gepraat en foto’s ook verskaf. Daar is niks verder wat ek op dié stadium kan sê nie.”

Hy ontduik haar vrae en loop by die huis in, gevolg deur die kaptein. Dankie tog Riaan is nie hier nie, dink hy, want sy seun sou net ontstel word deur die mense wat hulle huis se drumpel so deurtrap.

“Sit tog, kaptein en konstabel,” nooi hy moedeloos. “Wat kan ek julle vandag vertel?”

Soekie kom in met ’n skinkbord met koffie en beskuit en lyk vir hom taamlik verbouereerd. Hy kry haar jammer. Ná die skok van die ontdekking van Monique se liggaam het sy ook geen rus vir haar siel gehad nie. Die foon lui sonder ophou en mense kom klop aan die deur.

“Help julleself,” nooi hy.

Die kaptein neem koffie, gooi baie melk in en vier teelepels suiker. “Ek het maar ’n soet tand,” grap sy, maar hy lag nie.

Die konstabel, wat nie ’n woord uiter nie, is ook nie skaam met die suiker nie.

Die honde kom ook nog ingehardloop, ruik aan die mense en val aan Reinhard se voete neer. Hy het nie die hart om hulle te verwilder nie.

“Wat is hulle name?” vra die kaptein.

“Fifi en Fred, name wat my vrou vir hulle uitgedink het.”

Hy streel oor Fred se kop en kry ’n waarderende lek.

“Hulle lyk darem lief vir u, professor,” merk die kaptein op.

Vies kyk hy na haar. “Dis nie die soort honde wat ek wou gehad het nie, maar ek het tog vir hulle lief geword. Hulle is hoogs intelligent. My vrou was dol oor hulle. Die tipe honde wat gedurig geskeer en gepamperlang moet word, maar liefdevol.”

Die kaptein tik met haar pen teen haar voortande. “Ek wonder net waarom hulle nie die buurt aan die brand geblaf het toe hulle ounooi aangeval word nie. Niemand het iets gehoor nie.”

Die woorde hang soos ’n beskuldiging in die lug, maar hy reageer nie. Neem net koffie en gooi suiker in. Tydsaam roer hy.

Sy skraap haar keel. “Ek wou net kom hoor watter soort vriende mevrou Brand … julle … gehad het. Mevrou Smit, u sekretaresse, het my een en ander vertel, maar ek wil by ú hoor. Sy het genoem dat julle bevriend was met Jaco Peens, die bekende wynboer en ontwikkelaar en sy vrou, Lettie. Dat hulle blykbaar baie na aan julle was … is.”

Reinhard drink eers ’n sluk koffie voor hy antwoord. Snaaks dat die vrou juis oor hulle wil weet: die aantreklike Jaco met ’n oog vir vroue, en veral vir Monique, en gedienstige Lettie, wat ten spyte daarvan so graag met Monique vriende wou wees.

“Ek ken Jaco Peens al van skooldae af. Ons was saam in Paul Roos Gimnasium en is sedertdien vriende. Sy vrou is van die Vrystaat af, soos my oorlede vrou, en ons het huisvriende geword.”

“Julle was almal bloot vriende,” mymer die kaptein en Reinhard kyk agterdogtig na haar.

Jaco Peens het natuurlik ’n reputasie wat vroue betref, dink Lucille Wiid. Dié mense weet nie hoeveel sy te wete kom van die dorpenaars deur na mense se skinderstories te luister nie.

“Ons het ’n wye vriendekring, kaptein. Moet ek nou verduidelik wie almal is en wat hulle doen?” Reinhard weet hy klink ergerlik, maar hy kan hom nie beheer nie. Insinuasies krap hom regtig om.

Sy kyk hom half verskonend aan. “Ek het verneem dat u oorlede vrou nie juis baie vriendinne gehad het nie. Is dit waar?”

“By wie het u dié inligting bekom? Tog nie my sekretaresse nie? Sy en my vrou kon mekaar nie veel nie.”

“Ek het bronne en dis nie net een persoon nie, professor.”

Hy het dit nie ontken nie, dink Lucille. Baie mooi vroue is dikwels ongewild by hulle eie geslag. Haar ervaring is dat hulle een of twee gedweë aanhangers het, maar dat die meeste vroue hulle wantrou omdat hulle dalk hulle mans kan afvry. Riki Smit se smalende verwysing na Jaco Peens se aantreklikheid is iets waarvan sy kennis geneem het. Die vrou wou iets suggereer en dis nie moeilik om te raai wat nie.

Wie sê mevrou Brand was nie dalk verveeld en wou afleiding hê nie?

Maar hoe enige vrou enigiemand anders kan begeer as sy so ’n beeld van ’n man soos dié professor het, kan sy ook nie dink nie. Feit is, albei die Brands was net te mooi, net te bedeeld met alles wat ander mense begeer en beny. Iewers moes iets verkeerd loop, want in dié lewe is volmaaktheid altyd onder druk.

Tot die dood ons skei

Подняться наверх