Читать книгу Tot die dood ons skei - Malene Breytenbach - Страница 5
3
ОглавлениеKira stap net by die voordeur in toe Liana haar voorkeer. “Ek het vir Reinhard genooi om vanaand by ons te kom eet. Geert kom ook. Gee jy om?”
Kira skrik eers, maar toe skud sy haar kop. “Nee, ons moet seker ons Christelike plig doen. Ek het Reinhard nog skaars gesien sedert die dag van die moord, maar ek het Riki Smit se motor al ’n keer of wat voor sy huis opgemerk. Lyk my sy probeer hom versorg.”
Liana trek ’n gesig. “Sy was nog altyd gaande oor haar baas. Nou gaan sy haar voet in die deur probeer kry. Nie dat ek dink Riki sal ooit in sy smaak val nie. Hy skiet hoër as dit.”
“O ja. Hy het nog altyd hoog geskiet.” Kira probeer dit droog hou, maar Liana lyk skielik spyt en verleë.
“Ekskuus, sus, maar jy weet mos wat ek bedoel. Riki is so ’n ligte poppie, en hy is ’n swaargewig.”
“Ek moet my seker gaan reinig en regkry vir ete. Die dag was dol,” sê Kira net.
Heeltyd dink sy aan Reinhard. Dit moet vir hom ’n hartseer en spanningsvolle tyd wees. Vanaand kom hy vir die eerste keer as enkeling kuier sedert hy daardie skrikwekkende aand byna vyf jaar vantevore by haar kom kuier het. Met die doel om haar te vertel dat hy ’n vrou ontmoet het wat sy voete skoon onder hom uitgeslaan het en dat hy daarom vir Kira wil vra dat hulle hul verlowing verbreek.
Hoe sy dit oorleef het, weet sy nou nog nie.
Sy duur ring wat so ooglopend aan haar vinger geskitter het en wat almal raakgesien het, die ring wat die bewys was dat sy die gelukkige vrou was wat die gesogte Reinhard Brand ingepalm het, moes sy daardie aand afhaal. Hy wou dit nie terughê nie, maar sy het aangedring. Dit het vir haar geen waarde meer ingehou nie en om weer daarna te kyk, sou die mes in haar reeds verbryselde hart net onhoudbaar draai.
Toe sy die eerste keer vir Monique met haar lang blonde hare, groen oë en wilgerlatlyf sien, en hoor sy het nog ryk geërf ook, kon sy insien waarom Reinhard haar vir dié vrou gelos het.
Die verskriklike seer het vervaag, maar nooit verdwyn nie. Nou moet sy haar onbetrokke voordoen, asof hy haar nooit oor die afgrond na ellende gestamp het nie.
Sy besef sy doen moeite met haar voorkoms, maar vertel haarself dis om hom te wys dat sy nog sterk staan. Dat sy nog selfwaarde het. Ander mans stel in haar belang en Deon Schoeman, haar kollega wat privaatreg doseer, stel deesdae ongetwyfeld belang. Maar sy kon nog nie weer die soort gevoel vir enigeen kry wat Reinhard in haar wakker gemaak het nie. Teen hom is ander mans blote skimme.
Toe sy in die sitkamer kom, is Geert en Liana reeds daar. Kira hou van dié Hollander wat hom in Suid-Afrika kom vestig het en beenaf geraak het op haar suster.
“Halloo, meisje,” groet hy vriendelik.
“Hallo, Geert. Gaan dit goed?”
“Leuk, dankie. Liana het gedink ek moet julle kom ondersteun, want die hoofverdagte kom kuier.”
Liana swaai vir hom ’n betigtigende vinger. “Geert! Hoe kan jy dit sommer beweer?”
Hy haal sy skouers op. “Skatje, daardie kaptein van die polisie het my kom ondervra en ek het tussen die reëls gelees dat sy hom en ander verdink, maar hoofsaaklik vir hom. Ék vermoed dis ’n passiemisdaad, want Jaco Peens se groot motor het mos al ’n paar keer hier by die rivier geparkeer gestaan en Monique het mos graag gaan stap. Dalk het Reinhard dit geweet …”
“Liewe hemel, Geert, jy skinder soos ’n ou vrou!” raas Kira, maar dit skok haar eintlik. Sou Monique agter Reinhard se rug iets aangeknoop het met ’n man wat geensins by hom kan kers vashou nie?
Geert snuif minagtend. “Ek sien wat ek sien en dink wat ek dink. Daardie Monique was g’n engeltjie nie. Ons regsgeleerdes is mos maar ’n agterdogtige klomp wat oorsaak en gevolg in aanmerking neem. Jaco Peens en sy vrou is ook albei verdagtes.”
Kira sit nadenkend terwyl hy vir haar wyn inskink en dit aangee.
“Dit stem jou tot nadenke, nè?” merk hy op.
Voordat sy kan reageer, weerklink die harde geskril van die voordeurklokkie.
Liana spring op. “Ek sal gaan oopmaak.”
Kira sit gespanne en wag. Sy hoor Reinhard se diep stem al nader kom. Liana stap binne met ’n bos blomme, wat hy natuurlik gebring het. Toe is hy skielik voor haar, ’n bottel wyn in die hand. Hy lyk asof hy ’n moeilike tyd agter die rug het, maar hy glimlag vir haar.
“Hallo, Kira. Hallo, Geert. Dankie dat julle julle oor my ontferm.”
Hy oorhandig die bottel aan Geert. “ ’n Spesiale shiraz vir die geleentheid, wat jy kan oopmaak en laat asemhaal voor ons eet.”
Kira merk dadelik op dat dit Verkeerdevlei se etiket dra – die landgoed van die Peense. Natuurlik is dit uitvoerwyn en gee of verkoop Jaco net daarvan aan sy beste vriende. Wyn soos bloed …
Nee, sy moenie daaraan dink nie. Dis te grillerig.
“Kom sit, Reinhard,” nooi sy. “Vertel ons hoe dit met jou gaan.”
Hy neem plaas in ’n leunstoel naby haar en oorheers dadelik die vertrek. Sy is oorbewus van hom. Waarom het hy nog steeds die effek op haar dat sy skoon die kluts kwytraak in sy teenwoordigheid? wonder sy wrewelig.
“Ek hou kop bo water, dankie,” verseker hy haar en sy blik gaan oor haar, van kop tot tone.
Sien sy waardering in sy oë, of verbeel sy haar net? Die man rou. Hy het die mooiste vrou in die ganse Stellenbosch gehad. Teen Monique was alle ander vroue vaal. Dit was vir Kira verpletterend om aan haarself te moet erken dat sy heeltemal oorskadu word.
“En Riaan? Is hy oukei?”
“Ja, dankie. Beter as wat ek verwag het.”
“Ek is bly om dit te hoor.”
Geert staan op. “Wat drink jy, Reinhard?”
“Net wat julle drink – ek sien julle het ’n cabernet oop. Dankie, Geert.”
“Ek gaan gou dié pragtige blomme in water sit,” sê Liana. “Geert, jy kan my glas ook weer vol maak, dankie.”
Kira kyk hoe Reinhard die wyn in die glas skommel, daarna kyk, ruik en proe. Hy het dit altyd gedoen en is ’n kenner. Wat kan hy nie doen nie en waarin is hy nie goed nie? Dit was destyds vir haar verbluffend om te sien met hoeveel talente hy bedeel is. Maar sy wil nie die bekende ou steek weer in haar hart voel en hom dit laat agterkom nie, daarom hou sy haar gesig met wilskrag uitdrukkingloos.
“Uitstekende wyn,” komplimenteer hy.
Sy kan skielik aan ’n paar geleenthede dink waar hulle wyn geproe het en wil net sê: Onthou jy nog …?, toe sluk sy haar woorde. Herinneringe oprakel van lank gelede, pre-Monique, is beslis nie nou die aangewese ding om te doen nie. Sy moet glad nie klink asof sy terughunker na iets wat was – en wat waarskynlik nooit weer kan herleef nie.
Liana kom weer ingestap. “Souf het vir ons van haar lamsbredie gemaak en besonder baie moeite gedoen met die kos. Julle moet elke kriesel opeet om haar te komplimenteer. Daar is selfs gebakte poeding.”
Reinhard glimlag. “Ek onthou hoe lekker sy kan kook. Ons sal reg laat geskied aan haar kookkuns.”
Hy onthou, dink Kira meewarig. Goeie herinneringe. Sy hou hom dop terwyl hy gesels. Sou dié man jaloers genoeg kon raak om sy vrou te vermoor? Sy kyk na sy groot, welgevormde hande met die kort, netjiese naels. Hy het nie meer sy trouring aan nie. Sou so iemand nie eerder sy vrou verwurg van woede nie? Hy sou haar tog seker nie met ’n skerp voorwerp steek en dan daarvan ontslae raak nie? Sy ril innerlik.
Hy was nie hier nie. Hy is onskuldig, vertel sy haarself. Hy sou eerder met die man afreken wat by sy vrou aanlê as om háár geweld aan te doen. Dis hoe hy is: reguit, macho en eerlik. Brutaal eerlik, selfs. En nie die soort wat sy vrou sou slaan nie. Daarvoor is hy gans te ordentlik grootgemaak.
Sy hoor Souf se etensklokkie lui en staan op. “Lyk my die ete is gereed. Kom ons gaan sit aan.”
Sy moet soos van ouds langs Reinhard sit. Hy oorheers al weer die tafel, en nie net deur sy grootte nie. Hy is so onbetwisbaar manlik dat dit haar die bewerasie gee.
Soos sy en Liana vooraf afgespreek het, vermy hulle die onderwerp van Monique en die moord en praat oor politiek, boeke, flieks, enigiets anders. Maar sy, en vermoedelik al die ander, het dit in die agterkop. Waar die hart van vol is, mag die mond nie vanaand van oorloop nie, vermaan sy haarself.
Reinhard se hart moet vol wees van weemoed en pyn. Hy is wel ernstig en lag glad nie, maar hy lyk ook nie verpletter nie. Sy veronderstel dis oor hy baie sterk is en hom nie laat onderkry nie.
Nadat hulle die nagereg geniet het, praat hý egter oor die moordsaak.
“Ons tuinier, Abel, is steeds soek – kaptein Wiid het my ingelig dat sy vrou hom by die polisiekantoor as vermis aangemeld het. Dit wil dus vir ons lyk asof hy die skuldige kan wees, want hy is dalk aan die vlug. Die honde het hom geken en sou nie vir hom geblaf het nie. Dis net snaaks dat Monique vir hom die deur oopgemaak het terwyl sy nog in haar nagklere was. Ek kan nie verstaan waarom hy dit sou gedoen het nie. Watse wrok sou hy dan dra? Ek het gedink ons is goed vir hom.”
’n Gelade stilte daal.
“Ek moet sê, hy klink skuldig,” merk Geert op. “Hulle soek hom nou seker wyd en syd?”
Reinhard knik. “Ja, hulle soek hom. Ek sal hom graag self wil konfronteer om uit te vind wat hom genoop het om so ’n verskriklike daad te pleeg.”
“Gelukkig haal dit die druk van jou af,” merk Kira sag op.
Hy kyk na haar, sy blik intens. “Dit voel op die oomblik so, en ek kan net sê ek is wraggies verlig. Mense wil mos graag die ergste glo en hulle is so sensasiebelus. Die tydjie sedert Monique se dood was vir my ’n openbaring. Dis sulke tye, as dit werklik beroerd met jou gaan, dat jy agterkom wie jou ware vriende is.”
Beskou jy ons nou as jou ware vriende? wonder sy, maar sy sê dit nie hardop nie.
“Kom ons gaan drink koffie in die sitkamer,” stel Liana voor. “Geert kan vir ons lekker konjak skink.”
Reinhard kuier nie lank oor die koffie en konjak nie. “Gee julle om as ek padgee? Dit was baie lekker en ek waardeer dit regtig, maar ek is nogal uitgemergel. ’n Goeie nagrus sou wonderlik wees, want tot dusver het ek skaars ’n oog toegemaak.”
Kira sê amper oudergewoonte: “Ek sal jou afsien,” maar sy bedink haar. Gretig wil sy beslis nie nou lyk nie. Hy moenie dink sy smag daarna om haar ou weë sommer te hervat nie, al kry sy hom jammer. Sy kyk aanmoedigend na Geert, wat die skimp vang.
“Ek loop saam na die deur,” bied hy aan, en Kira gee subtiel haar dankbaarheid aan hom te kenne.
Kira lê in haar bed met ’n boek toe daar ’n ligte kloppie aan haar deur is. Liana kom in.
“Haai, sus, ek wil net vir ’n paar minuutjies gesels.”
“Ja, kom in.” Kira skuif eenkant toe sodat Liana op die bed kan sit.
Liana kug liggies. “Ek hoop nie vanaand was vir jou te veel van ’n beproewing nie.”
Kira sit haar boek op die bedkassie neer, trek haar knieë op en slaan haar arms om haar bene. “Dit was, maar ook nie – as jy verstaan wat ek bedoel.”
“Wil jy vir my sê jy is so heeltemal oor Reinhard dat jy hom kan sien sonder om iets te voel?” vra Liana skepties.
“Wel, ek vertel myself die ou vonk is nie meer daar nie, maar hy het tog ’n effek op my. Die ding is net … Hy het my destyds so ontsettend seergemaak en verneder dat dit my vreeslik lank gevat het om weer die lig te sien.”
“Arme sus. Dit was ’n swaar tyd in jou lewe. Ons was oortuig hy koop die huis langsaan en herbou dit vir ’n lewe saam met jou …”
“Toe trek hy met Monique daar in.” Kira glimlag wrang. “Op ons drumpel, ons voorstoep, sodat ek dit dag vir dag moes aanskou. Dít was vir my te swaar om te vergewe.”
Vergewe het sy naderhand, want sy kon nie met die bitterheid saamlewe en in ’n ou heks verander nie, maar vergeet kon sy nimmer as te nooit. Hy en Monique was verlief. So naby en opvallend. So in haar gesig.
“Toe nooi hy ons boonop na die swierige troue,” sug Liana. “Asof ons sou gaan.”
“Maar omtrent die hele Stellenbosch het gegaan. Daarom dat ek holderstebolder oorsee gegaan het en maande lank weggebly het. Dankie tog ek het sabbatsverlof gehad en kon na Leuven gaan. Daarna kon ek nog nie terugkom nie, toe swerf ek eers ’n stukkie. Ek moes net myself probeer regruk en nie soos ’n gees terugkeer nie.”
“En toe jy terugkom, was Monique al verwagtend.”
Kira skud haar lyf asof sy iets swaars van haar skouers probeer afkry. “Ja, dit was gou. Dit was seker lelik van my om haar te vermy en nie na haar ooievaarstee te gaan nie, maar ek kon net nie. Ek het haar gehaat – jy weet ek het. Dis lelik en onchristelik, maar daar was dae dat ek gedink het ek kan haar gaan vermoor. Ek het net nie die moed gehad nie.”
Liana druk haar arm. “Ja, jy is nou nie ’n Lady Macbeth nie. Ek moes toekyk hoe jy ly en kon jou eintlik nie help nie, behalwe om my ou skouer vir jou aan te bied.”
Kira kyk na haar suster en sien dat haar oë vol trane is. Dit laat haar eie oë vol trane word. Sy neem Liana se hand en druk dit tussen al twee hare.
“Die Vader alleen weet hoe ek daardeur sou gekom het sonder jou ondersteuning, Li-li,” sê sy skor. “Daar was dae dat selfmoord nie vir my so onmoontlik gelyk het nie. Maar as ek gedink het hoe ek jou treurend sou agterlaat, het ek besin.”
Liana huil nou openlik. Sy vee haar neus en oë af met ’n snesie wat sy uit die boks op Kira se bedkassie trek. “Was dit só erg?”
“Dit was. Ek het gesweer ek wil my nooit weer aan ’n man verbind nie. Reinhard het ’n letsel op my hart gelaat.”
Kira moet ook oë en neus afvee. “Al het ek Monique verafsku, sou ek haar darem nie regtig met iets in die hart kon steek nie.”
Liana sug sidderend. “Nee. Iemand anders het jou die guns bewys. Ekskuus! Dit was lelik en het net uitgeglip. Jy wil seker nie meer vir Reinhard hê nie.”
“Nee, veral nie nou nie.”
“Die hele buurt se vroue is vreesbevange,” verander Liana die onderwerp. “Rina van Niekerk is ’n senuweewrak, want sy sê die moord het amper in hulle agterplaas plaasgevind. Sy verbeel haar die moordenaar sal ons nou een vir een kom uithaal. Almal installeer net alarms, diefwering en trellidoors. My kontensie is dat die tuinier iets teen Monique gehad het. Dalk het sy hom te na gekom sonder dat Reinhard daarvan weet. Sy is in elk geval nie seksueel gemolesteer nie – thank God for small mercies. Dit sou vir Reinhard darem baie moeilik gewees het om te verteer.”
“Ja, dit sou. Ek sidder as ek daaraan dink. Ek kry nagmerries daarvan. As ek in die tuin loop, kyk ek omtrent oor my skouer asof iets in die bosse vir my loer.”
“Ek moet erken, ek kry ook die horries. Dit sal ’n verligting wees as die saak opgelos word. Daardie kaptein Lucille Wiid het die reputasie dat sy baie doeltreffend is. Sy maak opgang in haar beroep en is glo pas bevorder. ’n Regte leeuwyfie, noem haar kollegas haar – sy wil gedurig die mans wys van watter stoffasie sy gemaak is. As iemand die moord gaan oplos, sal dit sy wees, al kom daar hoër offisiere ook na die saak kyk.”
Liana druk Kira se hand. “Ek gaan inkruip. Môre moet ek weer ’n streep diewe verhoor. Soms wonder ek of ek nie verder moet swot en ook ’n dosent moet probeer word nie. Studente sal my hopelik nie so hatig aangluur soos misdadigers alte dikwels doen nie. Dit gee my die creeps, hoor. Nag, sus, lekker slaap.”
“Dankie, jy ook, Li-li. En … dankie sommer vir als. Ek is bly ek het ’n suster soos jy.”
Toe Liana uit is, sit Kira lank en herkou aan hulle gesprek. Reinhard se lewe is ook onderstebo gekeer deur die moord. Hy is ’n gesiene man, gerespekteer, selfs beny vir sy sukses, en om sy vrou vermoor te hê, moet hom laat voel asof hy alle aansien verloor het. Dit sal altyd aan hom bly kleef, al gaan hy waar en doen hy wat. Mense sal na hom verwys as die vermoorde skoonheid se man. Hulle sal nie maklik vergeet nie.
Sou Monique se gees rusteloos wees, uit die wêreld van die lewendes geruk? Sy kon haar nie op die dood voorberei nie, nie vrede maak nie. Sou sy gewonder het of Kira haar nie doodwens nie?
Sidderend trek sy die duvet tot by haar keel, voordat sy die lig afskakel.