Читать книгу Roep van die woestynwind - Malene Breytenbach - Страница 3

1

Оглавление

Denise sit in die gehoor en kyk op na die podium waar Dale Peters sy voordrag gaan lewer oor die antieke stad Petra in die Hasjemiete-koninkryk van Jordanië. Hy is nie net haar kollega nie, maar ook die man met wie sy al die afgelope ses maande ’n stormagtige verhouding het.

Sedert hy twee jaar gelede uit Amerika gekom het om in die departement Ou Nabye Oosterse Studie aan die Universiteit Stellenbosch te werk, het sy gans te geheg geraak aan dié lang man met sy donker hare en priemende donkerbruin oë. Met sy hoekige, bruingebrande gesig kan hy amper deurgaan vir ’n baie aantreklike Arabiese sjeik, dink sy.

Hulle verhouding het nou by ’n kruispad gekom. Sy is verward en omgekrap … en bang dat sy hom reeds verloor het.

By Dale op die verhoog is professor Julie Maastricht, wat hom aan die gehoor gaan voorstel. Soos hy is sy ook ’n kenner van die Midde-Ooste. Denise is self ’n kenner van die Midde-Ooste, maar haar spesialisrigting is eerder Sirië, waar sy ’n klompie jare gelede by die antieke stad Palmyra opgrawings gaan doen het.

Julie Maastricht is middeljarig en ongetroud. Sy is ’n gerespekteerde akademikus en bekend vir haar heerlike sin vir humor. Sy staan op en stap na die podium.

“Goeienaand, dames en here. Dankie dat u almal vanaand hier is, al reën dit katte en honde buite. Ons saal is vol, sien ek, maar dit verbaas my nie, want my kollega, professor Dale Peters, is wêreldwyd bekend vir sy navorsing. En natuurlik ook vir sy publikasies oor veral die Ptolemeïese dinastie van Egipte, die Nabateërs van Jordanië en die antieke handelsroetes wat deur die Midde-Ooste geloop het. Hy is nie slegs professor in Midde-Oosterse geskiedenis nie, maar hy is ook Arabies magtig – en u weet seker dat daardie krullerige taal moeilik is om aan te leer.

“Binnekort is hy juis op pad om weer aan die argeologiese opgrawings van die Groot Tempel van Petra te gaan deelneem saam met ’n groep Amerikaanse kundiges. Hy is natuurlik self ’n Amerikaner, wat ons gelukkig genoeg was om af te rokkel by sy vorige universiteit in die VSA. Hy werk nou saam met die American Center of Oriental Research oftewel ACOR, wat in Amman gesetel is, asook die Departement van Oudhede in Jordanië.”

Denise vries van skok. Hoe gou is binnekort? Hy het dan beweer dat hy eers beplan om volgende jaar weer te gaan! Waarom het hy haar nie van hierdie nuwe planne vertel nie? Wil hy dalk van haar af wegkom? Haar afskud? Beplan hy nie dalk om daarna na die VSA terug te keer nie? Dis iets wat sy nog heeltyd vrees.

Sy voel werklik seergemaak en gebelg. Wil hy afstand van haar kry, met die hoop dat dit die einde van hulle verhouding sal beteken? ’n Verhouding wat dán warm en dán koud is, terwyl sy nooit mooi weet waar sy met die man staan nie. Hy verbind hom tot niks. Dalk wíl hy hom nie aan ’n Suid-Afrikaner verbind nie. Of dalk wil hy terugkeer na sy ou liefde in Washington van wie hy haar eenkeer vertel het.

Hulle twee stry baie, want sy is nie ’n onderdanige, gedienstige soort vrou nie en sy kom in opstand as dit lyk asof hy haar wil domineer. Sy het ook ’n sterk mening oor dinge. Sy is tog net so geleerd – of byna – soos hy. Sy leer ook Arabies, maar sy is nog nie so vlot soos hy nie.

Professor Maastricht praat voort oor sy prestasies en sy publikasies, maar weens haar ontsteltenis neem Denise maar min in. Sy kom weer tot verhaal toe Dale voor die mikrofoon gaan staan en sy luister na sy diep stem.

“My kollega en vriendin, doktor Denise Barry van die Departement Ou Nabye Oosterse Studie, het vir my die gedig ‘Petra’ deur John William Burgon gegee. Ek lees graag vir julle ’n uittreksel voor.”

Denise is verbaas. Dít het sy nie verwag nie. Hy noem haar sy vriendin … Dis seker al wat sy is, want sy is geensins seker of hy haar werklik liefhet nie.

“But from the rock as if by magic grown,

eternal, silent, beautiful, alone!

But rose-red as if the blush of dawn,

that first beheld them were not yet withdrawn;

The hues of youth upon a brow of woe,

which Man deemed old two thousand years ago,

match me such marvel save in Eastern clime,

a rose-red city half as old as time.”

Dale glimlag vir die gehoor.

“Pragtig, nè? Dié antieke stad is beslis iets wat die asem wegslaan as mens dit die eerste keer besoek. As jy deur die sogenaamde Siq, ’n rotsskeur wat as poort tot die stad gedien het, ingaan, sien jy dat die rotse veelkleurig is, maar hoofsaaklik rooi. As die sonlig speel op die eerste graftombe, die Al Khazneh, in die Grieks-Romeinse styl en uit die rots gebeitel, slaan dit jou asem skoon weg.

“Petra is ongeveer drie tot vyf uur per voertuig geleë vanaf die moderne Amman, hoofstad van Jordanië. Dit lê in die bergagtige woestyn van Wadi Araba en is strategies geleë in die Sjara-berge. Dié berge het antieke Arabië en Sirië van Palestina en Egipte geskei en het die stad teen invallers beskerm. Daar sien ’n mens die roeskleurige sandsteen soos in die gedig beskryf. Dis in hierdie sandsteen dat die Nabateërs, wat ontwikkelde en kunstige mense was, hulle tempels en graftombes uitgekerf het. Die argitektuur toon Grieks-Romeinse en Egiptiese invloede. Die kleur van die rots wissel eintlik van geel en wit tot ryk rooie en donkerbruin. Die strepe en strata vorm golwe in die rots en die Nabateërs het hulle argitektuur daarvolgens aangepas.

“Maar laat ek vir u iets van die geskiedenis van die stad vertel. Petra is gestig in die sesde eeu voor Christus deur die Nabatese Arabiere, ’n volk wat aanvanklik nomade was, maar wat hier ’n handelsryk tot stand gebring het. Die stad het tot 100 na Christus in Nabatese hande gebly, totdat die Romeine onder keiser Trajanus hulle finaal onderwerp het. Petra en Nabataea het deel van die Romeinse provinsie Arabia Petraea geword, met Petra as die hoofstad. Die stad het tydens die Romeinse tydperk gefloreer, en baie klassieke geboue is opgerig of uit die rots gekap. Daar was ’n tyd toe die stad dertigduisend inwoners gehad het.

“Volgens Arabiese tradisie is Petra die plek waar Moses die rots met sy staf geslaan het sodat water kon uitstroom. Die Wadi Musa of ‘Skeur van Moses’ is die Arabiese naam vir Petra se vallei en die dorp net buite Petra.

“Onder die Nabateërs het Petra die middelpunt geword van onder meer die speseryhandelkaravane wat van Arabië na Aqaba geloop het, voort na Gaza aan die Mediterreense kus, of na die noorde deur Amman na Bostra, Damaskus, Palmyra en die Siriese woestyn. In daardie antieke tye het die handelkaravane bestaan uit kamele wat swaar gelaai deur die woestyn moes loop. Hulle het van oase en watergat na oase en watergat gereis, en dit het twaalf weke geneem om van Oman af na Petra te gaan. Jemen was vol rowers wat hulle kon aanval om die waardevolle ware te steel, en dit moes ’n geweldige verligting gewees het om die veiligheid van Petra te bereik. Die woestyn van Wes-Arabië is ’n barre, klipperige gebied en Petra was soos ’n winkende paradys. Benewens die veiligheid daarvan, was daar ook baie water. Die Nabateërs het kanale gebou om water na die stad te gelei en oral langs dié blink, lewegewende water was daar altare om Doesjara, die vernaamste Nabatese god, vir hierdie seën te bedank.

“Karavane het ware soos wierook uit Oman, sy uit die Ooste en goue juwele uit Aleppo na Jemen vervoer. Oral is luukshede na die souks oftewel markte van die verskillende lande vervoer. Kan u u die romantiek van hierdie kameelkaravane voorstel? Die sagte geplof van die kamele se groot pote op die sand, die Bedoeïene, ook genoem die Bedoul, se gesing terwyl hulle reis?

“Sodra reisigers Petra se vesting binnegegaan het, het die sogenaamde Tesourie, Al Khazneh, om ’n draai groots voor hulle opgedoem. Dit was eintlik ’n graftombe, nie ’n plek waar skatte bewaar is nie. Aankomelinge moes hulle elke keer opnuut verstom het aan die reusegebou wat gesny is uit roosrooi rots, voordat hulle na die besige markplein aanbeweeg het.

“Tydens die eerste Kruistog in die twaalfde eeu het Boudewyn I van die Koninkryk van Jerusalem naby Petra ’n kasteel opgerig en dit Karak genoem. Die Franke, oftewel Kruisvaarders, was tot 1189 daar. Met die opkoms van Islam het Petra agteruitgegaan. Die karavaanroetes is reeds deur die Romeine verander, sodat Palmyra in Sirië Petra as handelstad oortref het. Twee aardbewings het Petra byna heeltemal vernietig. Dit het in vergetelheid versink, totdat die Switserse ontdekkingsreisiger Johann Ludwig Burckhardt dit in die negentiende eeu herontdek het.

“Heelwat argeologiese uitgrawings is reeds deur die Jordaniese Departement van Oudhede in samewerking met oorsese argeoloë onderneem. Daar is nog net ’n minuskule persentasie opgegrawe van die stad waarvan die antieke naam Rekem is. Die Groot Tempel – wat indrukwekkend groot is – is eers vanaf 1993 opgegrawe. Ek gaan aanstons help met verdere uitgrawings van die Tempel, wat nog lank nie voltooi is nie.”

Dit klink asof jy lank gaan wegbly, dink Denise vervaard. Sy luister verder hoe hy die uitleg van die antieke stad beskryf. Sy wou al self soontoe gegaan het, maar sy het nog nie die geleentheid gehad nie.

“Daar is ’n groot aantal tempels, grafte, teaters en ander geboue wat uit die rooi sandsteen gekerf is. Dié dramatiese, monumentale geboue strek oor vierhonderd vierkante kilometer en word deur karavaanpaaie verbind. Tans werk ongeveer vier-en-twintig argeologiese spanne in dié gebied.

“Petra is in 1985 tot ’n Unesco Wêrelderfenisgebied verklaar. Die Bedoeïene wat steeds daar tussen die monumente en in grotte gewoon het, is verskuif na ’n dorp genaamd Um Sayhun, waar daar skole, elektrisiteit en gesondheidsdienste is. Hulle werk steeds vir die argeoloë en verkoop hulle ware aan toeriste. Hulle dra daartoe by om die omgewing kleurryk te maak vir die duisende toeriste wat Petra deesdae besoek. Dis hulle wat mense met kamele en perdekarre vervoer as hulle nie kans sien om na die vele besienswaardighede te stap nie, want die afstande is nogal groot.

“Ek gaan nou ’n film vertoon en ek sal kommentaar lewer soos ons aangaan.”

Denise kyk na die beelde van okergeel en rooskleurige rots, geboue met suile, Bedoeïene op donkies en kamele. Sy wens sy kon saam met Dale gaan, maar om te vra of sy kan, sou die opperste dwaasheid wees. Dit sou buitendien vernederend wees. Net as Dale sou aandui dat hy haar daar wil hê, sal sy gaan.

Hy sluit sy lesing af deur te sê: “Die woestynwind roep my, dames en here, en ek moet weer na die roosrooi stad ouer as tyd gaan.”

Die applous is oorverdowend. Denise klap meganies saam.

“Wanneer is jy van plan om te gaan?” vra sy die volgende oggend in Dale se kantoor.

Hy is besig om kaarte op te rol en te bêre, en hy kyk nie na haar nie.

“Oor ’n week.”

Denise staan botstil. Sy gaan nie “So gou?” vra nie. Haar trots verhoed dat sy hom wys hoe verpletter sy voel. Hy moet hierdie reis lankal begin reël het, maar hy het dit geheim gehou.

Dale kan blykbaar haar ontsteltenis aanvoel. Hy los die kaarte en kom staan voor haar. Sy ruk effens toe hy sy hande op haar skouers sit en sy verplig is om op te kyk in sy diep, donker oë, wat haar met onverwagte teerheid aankyk. Hy kry my jammer, dink sy opstandig.

“Ons twee se verhouding werk nie uit nie, Denise. Jy is ’n pragtige vrou, en boonop intelligent en interessant, maar ons is gedurig haaks. Twee klippe wat mekaar fynmaal. Jy verdien iemand wat beter by jou pas as ek. Iemand wat jou op die hande sal dra en behoorlik sal waardeer. Ek het gedink dis beter as ek my uit jou lewe verwyder, in elk geval vir ’n ruk. Sodat ons die verhouding tussen ons objektief kan beskou.”

Sy draai onder sy hande uit, al smag sy daarna om haar teen sy bors aan te druk. “As dit is hoe jy voel, dan moet dit so wees, Dale. Ek hou jou nie vas nie en ek plaas geen druk op jou nie. Ek hoop jou opgrawings sal baie suksesvol wees.”

Hy lyk byna bedroef. “Dankie. Ek het verwag dat jy toegeeflik sal wees al krenk ek jou, want jy is nie een wat sommer wys jy kry seer nie.”

Hy draai weg, maar kyk oor sy skouer na haar. “Daar is ’n geheim wat ek jou wil vertel. Ek het in my navorsing op iets afgekom wat ek wil gaan ondersoek.”

Sy kyk verbaas en agterdogtig na hom. “Watse geheimenis is dit?”

“Ek vermoed daar is iewers in Petra – ek vermoed diep in die Wadi Siyagh – die graftombe van ’n Egiptiese prinses uit die tyd van die Ptolemeïese dinastie. Haar naam is Sosostris en sy het met die Nabatese koning Aretas III getrou. Sy is ’n halfsuster van die beroemde Cleopatra VII en ’n dogter van Ptolemeus XII Auletes by sy onbekende tweede vrou. Die tombe is nog nooit ontdek nie en ek wil daarna gaan soek. Die meeste Nabatese graftombes is lankal beroof en gestroop, maar moontlik het hare behoue gebly. Haar graf is nie naby die ander koninklike grafte nie. Dalk is dit bo-op ’n hoogte soos die Deir – die klooster. Dalk wou die koning dit juis iewers wegsteek.”

In normale omstandighede sou Denise dadelik van opwinding gevlam het, maar nou kyk sy Dale net kalm aan.

“O, nóú vertel jy my. Wel, ek hoop jy kry jou Sosostris met al haar skatte ongeskaad. Ek wens jou alles van die beste toe.”

Sy draai om en loop. Agter haar hoor sy nog hoe Dale na haar roep, maar sy ignoreer dit. Sy maak dat sy wegkom sodat hy nie die trane moet sien in die oë van die vrou wat nie maklik huil nie. Hy wou nie eens dié opwindende ontdekking vroeër met haar deel nie.

Dale kyk haar agterna en swets onderlangs. Hy slaan met sy een hand in sy ander handpalm. Dit was swaar. Aaklig!

Denise was baie seergemaak. Haar gesig was bleek en in haar helderblou oë, haar mooiste gelaatstrek, het die pyn vlak gelê. Hy het amper ingegee, maar hy is bly hy het nie. Hulle verhouding is net nie van so ’n aard dat hy dink dit lei iewers heen nie.

Vandat hy haar die eerste keer gesien het met haar slanke lyf, goudblonde krulle en hemelsblou oë tussen lang, donker wimpers, was hy fisiek tot haar aangetrokke. Hy wou haar egter eers deurgrond en goed uitkyk – hierdie uitsonderlike Suid-Afrikaanse vrou. Sy is duidelik ’n komplekse mens.

Hy het voorheen ’n verskriklike fout begaan toe hy op blote fisieke aantrekking staatgemaak het en met ’n vrou deurmekaar geraak het. Dit was vir hom rampspoedig verkeerd en sy het hom amper voor die kansel gehad. Teen die tyd dat hy sy fout agtergekom het, was dit byna te laat en moes hy haar brutaal en genadeloos afsê. Sy gewete pla hom nou nog daaroor.

Denise is geen swakkeling nie – dit het hy gou besef. Sy sal nie met haar laat speel nie, en hy weet ander mans stel ook in haar belang. Maar hy sou hom moes verbind en dan was daar geen omdraaikans nie. Al is sy hóé aantreklik en intelligent, as hulle persoonlikhede aanhou bots, lê daar net swarigheid voor.

Nee, dis beter dat hy gaan en dinge in sy gemoed uitsorteer. Hy kan in elk geval nie wag om na die graf van die geheimsinnige Egiptiese prinses te gaan soek nie.

Roep van die woestynwind

Подняться наверх