Читать книгу Roep van die woestynwind - Malene Breytenbach - Страница 4
2
Оглавление“Ek beplan ’n besoek aan Petra,” sê professor Julie Maastricht toe sy een oggend by Denise se kantoor instap. “Wil jy nie saamkom nie? Arend Smalberger, ons studente-assistent, kom saam, want hy doen navorsing met die oog op ’n proefskrif oor die Nabateërs. Hy wil Dale gaan help soek na ’n graf en hy is van plan om daar agter te bly en te help met die opgrawings. Ek wil die plek net weer ’n slag behoorlik gaan bekyk. Jy was nog nie daar nie en ek is seker jy sal dit fassinerend vind. Min plekke is so aangrypend soos Petra.”
Denise is onkant gevang en huiwerig. Sy het twee briewe van Dale ontvang wat skaars as minnebriewe geklassifiseer kan word, maar sy dink nog heeltyd aan hom. En sy verlang teen haar beterwete na hom. Hoe kan sy egter nou na hom toe gaan asof sy agter hom aanloop? Haar trots laat dit nie toe nie.
“Jong, ek weet nie, al klink dit aanloklik …”
Julie is nie een wat maklik nee vir ’n antwoord neem nie, en sy sit haar voet neer. “Kom saam. Jy sal vir my lekker geselskap wees. Ons twee moet gaan kyk wat Dale soek – of vind.”
“Jy stel my in die versoeking, Julie. Ek smag daarna om die fabelagtige Petra te sien, maar jy weet ek en Dale is … e … taamlik kil uitmekaar. Wat sal hy dink as ek skielik daar opdaag?”
Julie frons en sê kwaai: “Jy gaan nie soontoe bloot oor hom nie, maar oor die plek wat elke historikus wat sy of haar sout werd is, behoort te sien. En om mý geselskap te hou. Hy hoef nie te dink jy gaan agter hóm aan nie. Die man is in elk geval gans te gewoond daaraan dat al die vroumense se knieë voor hom knak. Wys hom jy is nie een van hulle nie. Ek is oortuig jy kan hom en sy opgrawings gaan sien sonder om soos ’n roomys in die son te smelt.”
Denise dink eers met haar vinger op haar lippe. Toe kyk sy op en knik. “Nou goed dan, ek sal saamgaan. Dankie, Julie.” Ten spyte van haar voorbehoude voel sy begeester deur die vooruitsig.
“Uitstekend. Ons vertrek oor twee weke as die universiteit sluit en ek reël alles – vliegkaartjies en visums ensovoorts. Ek het goeie kontakte daar en hier. Dale ook. Hy het glad kontakte in die koningshuis. Kry jy net jou eie sakies in orde.”
Nadat die vliegtuig van Egyptair by Kaapstad Internasionale Lughawe opgestyg het, vra Denise Julie uit oor die verborge grafte in die Petra-vallei. Sy, Julie en Arend Smalberger sit in dieselfde ry.
“Hulle sê mos daar is nog negentig persent van die grafte om op te grawe, nè, Julie?”
Die ouer vrou knik. “Ja, daar moet wees. Jy weet, toe die skilder David Roberts in ongeveer 1839 na Petra gegaan het en sy wonderlike skilderye van die besienswaardighede gemaak het, was Al Khazneh – die Tesourie – nog half toe onder die sand. Daar waai die sand mos alles toe. Daar is so baie wadi’s of skeurvalleitjies, en die berge is so vol holtes en grotte, dat ek my kan indink dat daar allerhande onontdekte grafte in daardie plek moet wees.”
“Wat weet jy van die graf van die Egiptiese prinses Sosostris?”
“Ek weet dat sy met koning Aretas van die Nabateërs moes trou en dat sy vroeg dood is. Sy is dalk vermoor, en sy moet daar iewers begrawe wees. Dale en ek het nogal saam oor haar navorsing gedoen – ons is mos albei Egipte-verskrik. Die verband tussen die Ptolemeïese dinastie van Egipte en die Nabateërs fassineer ons albei. Jy het meer in Romeinse en Siriese geskiedenis gespesialiseer, dus het ons aanvaar dit sal nie jou belangstelling so gaande maak soos ons s’n nie.”
Denise is eintlik gebelg dat sy nie vroeër in hulle vertroue geneem is nie, maar sy steek dit weg. “Ek stel in alles oor die antieke belang, en alles waar argeologie betrokke is. Miskien moet jy my meer vertel van daardie prinses, sodat ek die volle prentjie kan kry voordat ek Dale sien.”
Julie frons. “Jy moet dit baie vertroulik hou, maar ek weet jy is betroubaar. Dis net ek, Dale, jy en Arend wat daarvan weet. Dale se naaste helpers sal natuurlik ook daarvan moet weet, maar hy sal hulle verplig om dit voorlopig dig te hou. Natuurlik werk hy ook met Jordanië se Departement van Oudhede saam. Jy weet hoe dit is: lap mens enigiets uit aan die kundiges, sak ander argeoloë soos aasvoëls op jou ontdekking toe.”
“My mond is gesnoer,” verseker Denise haar effens kil.
“Nou ja, laat ek jou een en ander vertel. Koning Aretas III van Nabatea, wat homself Philhellene – liefhebber van Griekse kultuur – genoem het, het getrou met prinses Sosostris, die dogter van Ptolemeus XII. Dié was, soos jy weet, ’n Hellenistiese heerser van Egipte van Masedoniese, dit wil sê Griekse, afkoms. Hierdie Ptolemeus was bekend as Auletes, wat fluitspeler beteken. Hy was ’n hopelose regeerder en altyd vrot van die skuld, ’n dronkaard en musiekliefhebber. Ptolemeus I, sy beroemde voorsaat, het saam met Alexander die Grote op sy veroweringstog gegaan. Ná Alexander se dood, toe sy ryk verdeel is, het dié generaal Egipte gekry en sy linie daar gevestig.
“Ptolemeus Auletes het twee vroue gehad. Die eerste een het vir hom die dogters Cleopatra VI, Berenice IV en die beroemdste Cleopatra van almal, die sewende, gegee. Laasgenoemde het mos die verhoudings met Julius Caesar en Markus Antonius gehad en by albei kinders gehad. Ptolemeus Auletes se tweede vrou, wie se naam onbekend is, het vir hom Arsinoe IV, Ptolemeus XIII en Ptolemeus XIV gegee, en laastens Sosostris I. Dis moontlik dat hy dié laaste dogter aan die Nabatese koning gegee het om die vrede tussen hulle lande te bewaar, want die Nabateërs het op daardie stadium al meer grondgebied verower en het ’n bedreiging vir hulle bure geword.
“’n Rebellie het Ptolemeus Auletes se heerskappy onderbreek. Hy het na Rome gevlug saam met sy dogter Cleopatra VII – dié Cleo – en het drie jaar lank daar gebly. Daarna sou hy weer vier jaar lank in Egipte regeer, maar tydens sy ballingskap het sy dogter Berenice IV by sy eerste vrou saam met Cleopatra Triphaena regeer.”
“Al die Cleopatras is nogal verwarrend.”
“Ja, almal in die dinastie se name is herhaal en weer herhaal – mens moet jou kop mooi bymekaarhou om hulle te onderskei. In elk geval, ’n jaar ná sy verbanning is die Cleo wat saam met Berenice moes heers, vergiftig. Berenice het alleen regeer totdat haar pa teruggekeer het. Sy was maar twintig toe sy die alleenheerser geword het en had ook ’n swak karakter. Sy het van die uitspattige lewe gehou, soos haar pa. Sy wou niks met die fellaheen – die Egiptiese laer klasse en kleinboere – te doen hê nie en kon ook nie Egipties praat nie.
“Sy was glo baie mooi, maar vreeslik onderduims en sy het sonder meer van haar medeheersers en vyande ontslae geraak. Van ’n vroulike heerser is verwag om ’n manlike gemaal te hê en sy is verplig om te trou, maar sy het haar man laat verwurg. Die mense het begin vrees dat die regering sou val weens dié vrou se misdade. Die Romeine het besluit dat haar pa die minder skadelike een van die twee is en het hom heraangestel. Die Romeinse generaal Aulus Gabinius het Berenice laat onthoof en het haar kop vir haar pa op ’n skinkbord gebring. Ons bekende Cleo VII het dit glo alles aanskou.”
“Hulle was maar ’n wrede lot,” merk Denise op.
“Ja, maar Berenice was maklik een van die wreedste. Ons is nie regtig seker of dit Sosostris se pa of haar halfsuster Berenice was wat haar na Nabatea gestuur het nie. Die arme meisie, dit moes vir haar so vreemd gewees het. Berenice wou dalk nie ’n beeldskone jonger sussie as kompetisie gehad het nie. Ons bronne sê dat Sosostris een van die mooiste vroue aan die Egiptiese hof was. Skoonheid is soms ’n vloek in plaas van ’n seën, nè?
“Nou ja, wat die Nabatese bruidegom betref. Aretas III het verskeie vroue en baie kinders gehad – glo by die vyfhonderd kinders. Hy was ’n sterk heerser wat selfs so ver as Damaskus grondgebied verower het. Hy het munte laat maak in die Griekse styl, met sy naam daarop in Grieks in plaas van Nabatese Arabies. Natuurlik wou hy graag ’n mooi vrou van Griekse afkoms hê, en Sosostris was ideaal.
“Maar toe kom daar ’n kewer in die konfyt. Sy pa, Obodas I, het die Hasmonese heerser Alexander Jannaeus in ’n oorlog verslaan. Nadat Alexander en sy vrou Alexandra dood is, is Alexandra se oudste seun, Hyrcanus II, wat die troonopvolger was, deur sy broer Aristobolus verdryf. Hyrcanus het by die Nabatese koning, wat toe reeds Aretas was, asiel gaan vra. Behalwe dat dit die Nabatese in konflik gebring het met die opkomende Romeinse ryk wat Aristobolus gesteun het, het Hyrcanus ongelukkig dolverlief geraak op die skone Sosostris.
“Aretas was natuurlik woedend toe die twee in ’n owerspelige verhouding betrap is. Daar word beweer dat Sosostris óf gedwing is om gif te drink óf selfmoord gepleeg het. Sy is toe daar in die rotse van Petra begrawe waar die ander koninklikes hulle graftombes gehad het. Hyrcanus het waarskynlik gevlug, want sy spoor loop dood.
“Ons weet nie of Sosostris met prag en praal begrawe is nie, want sy het mos skande gemaak. In Egipte is die farao’s en ander koninklikes altyd met skatte vir die hiernamaals begrawe, maar Sosostris was in Nabatea en haar lyk is nie na Egipte teruggestuur nie. Ons weet ook nie of sy gemummifiseer is nie, maar dis heel moontlik die geval. Dalk wou die koning sy vrou se skandes wegsteek vir die volk en het hy haar koninklik laat begrawe. Of anders het hy haar stilletjies weggebêre. Sy was nog vreeslik jonk, die arme ding. Dalk was hy ’n aaklige man, vir al wat ons weet, en Hyrcanus jonk en aantreklik. Al het Aretas baie ander vroue en bywywe gehad, sou hy die een wat oortree het, moes straf, anders sou sy waardigheid en prestige aangetas wees. As die koning se vrou hom bedrieg het, was sy skuldig aan hoogverraad. As ’n koninklike sou Sosostris darem nie soos die gewone vroue gestenig word omdat sy owerspel gepleeg het nie – die Arabiere beskou vroue mos as besittings. Daar het jy nou die volle verhaal en agtergrond. Oftewel, dis wat ek weet. Dale weet meer as ek.”
“’n Fassinerende verhaal,” sê Denise ingedagte. Die liefde kan mense se lewens lelik omvergooi, veral as dit onbeantwoord is, dink sy.
Dale weet sy kom saam met die ander twee na Petra, maar verwelkom hy dit? Dalk loop sy haar teen ’n muur van onverskilligheid vas. Sy onderdruk ’n sug.
Die lugwaardin kom met die dranktrollie aan, en sy bestel sommer ’n jenewer en tonikum vir haar senuwees. Maak sy nie dalk ’n vreeslike fout met haar liefde vir Dale nie, net soos die arme Sosostris van lank gelede?
Hulle land laatoggend by die Koningin Alia-lughawe buite Amman, die hoofstad van die Hasjemiete Koninkryk van Jordanië. Nadat hulle op Kaïro-lughawe ’n aansluitingsvlug moes kry en die vlugte vol en die toue by doeane lank was, voel Denise taamlik vlugvoos. Sy weet sy lyk moeg en geensins op haar beste nie. Maar nou ja, sy gaan nie moeite doen vir Dale Peters nie. Hy moet haar vat soos sy is, ook op haar moegste en lelikste.
Toe hulle deur die doeane is en in die ontvangsaal uitloop, staan hy en ’n seningrige jong Arabier met ’n bril op hulle en inwag. Denise se hart draai onwillekeurig om toe sy Dale se lang, donker gestalte herken. Hy is nog meer bruingebrand as voorheen en sy onbetwisbare manlikheid vang haar opnuut onkant.
Hy staan en glimlag en wuif. Is hy bly om my ook te sien? wonder sy.
“Hallo! Het julle voorspoedig gereis?” vra hy toe hulle by hom kom. Sy blik gly oor Denise en dan kyk hy na Julie.
“Vlieg is ontbering en my enkels is geswel, maar ons is veilig,” skerts Julie. “Hallo, meneer die vermaarde argeoloog. Ek kan sien die buitelug-opgrawings akkordeer met jou. Lenig en gesond en bruin soos ’n Arabier. Jy lyk vir my alte veel soos ’n woestynsjeik.”
“Hallo, professor. Ek is vuur en vlam vir die opgrawings en my enkels makeer niks,” skerts Arend. “Ek voel baie bevoorreg om hier te wees.”
“Ek gaan jou goed in die werk steek,” lag Dale. “Julle is almal welkome toevoegings tot ons werkspan.”
Hy skud Arend se hand, soen Julie op die wang en draai dan na Denise, wie se hart tot haar ergernis gevaarlik bons.
“Hallo, Denise.”
“Hallo, Dale.”
Wat gaan hy nou doen? wonder sy. Haar op die wang pik, soos vir Julie? Maar nee, hy plaas sy hande op haar skouers, trek haar nader en soen haar vol en heerlik op die mond. Glad nie ’n piksoen nie. Sy is omgeboul en haar wange word warm. Dié verwelkoming is amper soos in die ou dae, toe hulle verhouding nog vars was.
“Laat ek julle voorstel aan my assistent, Ahmed Al-Hossein, kleinneef van die huidige koning Abdullah. Hy maak vir ons allerhande deure in Jordanië oop.”
“Bloubloed, ons is geëerd,” lag Julie. “Aangename kennis, meneer Al-Hossein.”
“Ahmed, hierdie mense is my kollegas: doktor Denise Barry, professor Julie Maastricht en meneer Arend Smalberger,” stel Dale hulle voor. “Hulle is almal formidabele navorsers, en jy sal vind dat hierdie Suid-Afrikaanse vroue glad nie swakkelinge is nie, hoor. Hulle skrik gewoonlik vir niks.”
Ahmed Al-Hossein skud hulle hande glimlaggend. “Dis vir my ’n eer om u ook te ontmoet.”
Sy blik bly vir ’n lang oomblik verbaas en gefassineer op Denise. “U het goue hare soos ons voormalige koningin Noor.”
Denise glimlag verleë, want sy weet blonde vroue, veral dié met blou oë, staan nogal uit in die Midde-Ooste, waar byna almal donker is. Mense staar hier na haar en dit maak haar selfbewus.
Julie lag. “Sy lyk nie eens of die vliegrit haar moeg gemaak het nie. Hoe moet ék nou voel?”
“Haai, nee, ek voel en lyk toiingrig,” protesteer Denise.
Dale glimlag geamuseerd. “Julle het mos ekonomiese klas gevlieg, dan arriveer ’n mens maar in ’n toiingrige toestand. Kom, ons sal julle vroumense se bagasie neem. Die Land Rover staan hier buite geparkeer by die BBP’s se plek, want Ahmed het weer eens rang getrek. Hy is ’n juweel.”
Ahmed sit voor langs Dale, wat bestuur toe hulle van die lughawe wegry. Denise sit agter hom en kan sy oë in die truspieël sien. Sy voel werklik vuil en slierterig, en kort-kort merk sy op dat hy haar vlugtig beskou.
Wat sou hy dink? Dat sy nogal dikvellig is om hierheen te kom nadat hy met haar uitgemaak het? Wel, sy sal haar afstand hou en hom wys sy is bloot hier uit akademiese belangstelling.
“Ahmed studeer aan die Universiteit van Jordanië en is besig met sy doktorsgraad in Nabatees-Egiptiese verhoudings,” vertel Dale. “Hy fokus veral op die Ptolemeïese tydperk van Egipte en hy sal Arend ook kan help. Ons werk onder die beskerming van die Departement van Oudhede in Amman, en veral saam met die direkteur, doktor Abdul Falawi. Ook saam met doktor Hamoudi Manawi van ACOR, en natuurlik saam met die direkteur van die onafhanklike Petra National Trust, Insar Bedawi, wat ’n vrou is. Ons sal julle later aan hulle voorstel.”
Denise se vroulike instink tel dadelik die laaste naam op. Is dié Insar Bedawi middeljarig, vaal en getroud, of is sy ’n mooi, ongetroude, jong vrou?
Nee, dis verspot dat sy jaloers reageer op enige vrou met wie Dale saamwerk, betig sy haarself streng. Veral noudat hulle nie meer ’n paartjie is nie.
“Wil julle eers iets in Amman gaan eet en rondkyk?” vra Dale.
“Nee, ons het op die vliegtuig geëet en dis beter dat ons by ons bestemming kom,” sê Julie. “Het ons konsensus?”
Die ander stem in. Denise is in elk geval te vlugvoos om nog in die stad rond te stap. Sy het die vorige nag op die vliegtuig niks geslaap nie, want daar was ’n baie spraaksame en lawaaierige toergroep saam met hulle.
“Goed, ons ry deur die bergagtige woestyn van die Wadi Araba en dit sal ons net so oor die twee uur neem,” sê Dale.
Hy kyk na Denise, wat voel soos ’n mot voor ’n vlam. Sy is vies dat hy al weer so ’n effek op haar kan hê.
“Hierdie heuwels is vol kalksteen, wat boumateriaal vir die land verskaf,” vertel Dale. “Dis natuurlik barre woestyn hier, maar die Jordaanvallei waar die rivier vloei, is die ware Kanaän. In antieke tye het die Nabateërs skoon water met pype van Ein Musa na hulle stad gelei. Daar is nog waterbronne by Petra waarheen die Bedoul steeds hulle bokke, kamele en donkies neem om te suip. Julle behoort dié Bedoul fassinerend te vind. Hulle hou nog vas aan die ou weë en tradisies, teel kamele en perde, en ry op donkies. Orals sien mens hulle tente staan.”
Denise kyk by die venster uit en maak of sy haar verwonder aan die barheid van die woestynlandskap.
“Denise, jy sal sien dat Petra se rotse op plekke lyk asof dit deur ’n skilder ingekleur is. Mense wat dit die eerste keer sien, is gewoonlik verstom oor dié natuurverskynsel.”
Sy is verplig om terug te draai na die donker oë wat haar weer uit die spieël bekyk. Sy kan maar net hoop haar emosionele toestand is nie te opsigtelik nie. “Baie interessant.”
“Daar is tans min toeriste, want dis buite seisoen en dit word nogal koud in die nag. Binne seisoen jaag die perdekarretjies deur die Siq, wat die ingang na Petra is. Die Bedoul bied ook donkie- en kameelritte aan. Die plek kan nogal besig raak, maar toerisme is vir Jordanië ’n belangrike bron van inkomste en van alles is Petra die mees gesogte besienswaardigheid. Daar is natuurlik die gewone stalletjies wat boeke, juwele en aandenkings verkoop – daaraan kan jy nie ontsnap nie. Die foto’s van Petra wys mos nie die menigte toeriste en smouse nie.”
“Waar gaan ons tuis?” wil Julie weet.
Dale glimlag vir haar. “In die oorspronklike ou hotelletjie naby die museum en die Wadi Siyagh. Maar as ons van opgrawingsterrein verskuif om die prinses se graf te gaan soek, sal ons ons eie kamp opslaan.”