Читать книгу Roep van die woestynwind - Malene Breytenbach - Страница 5

3

Оглавление

Hulle ry deur die dorp Wadi Musa en Denise let op dat daar enorme internasionale hotelle is.

“Hier is nie ’n tekort aan akkommodasie nie,” merk sy op.

Dale kyk na haar in die truspieël. “Al die grotes is hier, want hulle moet die duisende toeriste akkommodeer. Petra is mos die vernaamste besienswaardigheid in die land. Ons ry deur die dorp en dan draai ons af na Petra, en ry in – ’n mens kan dit doen as die toeristeseisoen verby is. Ons ry dwarsdeur Petra na ons hotelletjie, dus sal julle mooi kan sien hoe groot dit is en watter wonders dit bevat.”

Denise kyk verstom na die veelkleurige rotsformasies en trek haar asem op toe hulle by die eerste graftombe kom wat uit die rots gesny is.

“Dis die obelisk-graf,” sê Dale en hou stil sodat sy ’n foto kan neem.

Hulle ry deur ’n enorme rotsskeur en om draaie waar slegs ’n paar mense loop, en Bedoeïene in lang gewade en hooftooisels met donkies en kamele met veelkleurige saals verbykom.

“Aan die einde van die Siq waardeur ons nou ry, is die grootste verrassing van almal,” sê Dale. “Die Al Khazneh, oftewel die Tesourie.”

Sy kan ’n uitroep van verbasing nie keer nie toe daar meteens ’n enorme Grieks-Romeinse graftombe voor hulle opdoem. Dit staan maklik vyf verdiepings hoog, sodat hulle en hulle voertuig skoon verdwerg word. Sy voel asof sy in tyd teruggegaan het na ’n mistieke en geheimsinnige ou wêreld. Sy verwag amper om swaar gewapende krygers hulle tegemoet te sien ry op kamele en Arabierperde.

“Dis … ongelooflik,” sug sy. “Ek moet hiervan foto’s neem. Hou asseblief stil, Dale.”

Hy parkeer ’n entjie weg en hulle klim uit. Denise neem verskeie foto’s en vra Dale dan om voor die Tesourie te poseer.

“Is jy seker jy wil my op die foto hê?” vra hy.

“Ja, want jy lyk amper soos ’n Arabier,” spot sy. “Ongelukkig het jy nie die regte klere aan nie. Jy moes eintlik ’n gewaad en ’n kopdoek gedra het en nie kakieklere nie.”

Hy lag. “Ek probeer soos Indiana Jones lyk.”

“As jy Petra een keer gesien het, wil jy altyd weer terugkom,” glimlag Julie en beduie om haar. “Dis iewers in hierdie klowe waar Dale se prinses versteek lê.”

“Ja, sy wag daar vir my om haar soos Doringrosie uit die ewige slaap te kom verlos,” terg hy. “Kom, Denise, daar is nog baie om te sien en te fotografeer.”

Hulle ry verder, deur ’n vallei, verby nog tombes in die rots, met ’n straat langs met gevalle suile, tot by ’n baie groot uitgrawing aan die linkerkant waar verskeie mense werk. Dis so besig soos ’n miernes.

Dale hou stil. “Hier is die Groot Tempel waar ons nog vandeesweek sal werk, maar dan gaan ons vort,” vertel hy. “Môre kan julle dit behoorlik bekyk. Nou wil julle seker hotel toe gaan en stort. En ’n bietjie rus. Later kan ons iets gaan eet, so teen seweuur. Die kos hier is heerlik, baie gekrui en smaaklik, met baie rys. Julle sal genoeg water en versnaperinge in julle kamers hê om tot dan deur te kom. Ek het gesorg daarvoor. Hier moet jy baie gebottelde water drink, anders droog jy uit. Die plaaslike Moslems drink en bedien nie alkohol nie, maar ek kan vir julle lekker plaaslike bier met die naam Philadelphia bedien. Wyn is hier skaars en duur.”

Dale ry weer verder en dan stop hulle voor ’n eenvoudige gebou naby ’n museum. “Hier is ons hotel. Maak julle tuis.”

Denise sit vars gebad en aangetrek, met skoon, blink hare, op die stoep in die kring van lig. Langs haar sit Dale, en sy moet haar met wilskrag daarvan weerhou om heeltyd na hom te kyk. Hy is vir haar net so oorweldigend soos die Siq en Al Khazneh, spot sy met haarself.

Hy lyk so gesond, geesdriftig en bruingebrand. En sy lyftaal teenoor haar is allesbehalwe afsydig. Hy tree op soos in die verlede: raak aan haar, kyk na haar met ’n sekere lig in sy oë, asof hulle nooit so kil uitmekaar is nie. Wat moet sy daarvan aflei?

Sy teug aan haar bier en luister hoe hy en een van die Amerikaanse argeoloë, John Nesbitt, aan hulle as nuwe aankomelinge die uitgrawings beskryf wat reeds dié seisoen gedoen is. Dit lyk asof die twee goeie vriende is. Denise verbeel haar dat John Nesbitt haar met nuuskierige belangstelling dophou. Sou Dale enigsins van haar gepraat het?

“Kom ek verduidelik hoe ons dag hier verloop,” sê Dale, en hy kyk na haar. Sy is verplig om terug te kyk en hulle blikke sluit. “Ons sit beslis nie rond en rus nie. Ons daaglikse roetine is nie soos dié van Indiana Jones nie. Terloops, Indiana Jones and the Last Crusade is hier in Petra verfilm. Hier werk mense van allerhande nasies: Arabiere, Amerikaners, Europeërs, Suid-Afrikaners en selfs Japannese. Almal help om die antieke Nabatea weer te laat leef. Dís wat my so fassineer van argeologie: ons kan vergange mense se lewenswyse en kultuur weer opdiep.

“Ek en my span staan reeds om halfvyf in die oggend op en dan eet ons eers ontbyt. Pap is gewoonlik op die spyskaart, want dis vullend. Julle besoekers hoef natuurlik nie so vroeg uit die vere te klim nie. Julle kan later by ons aansluit en kyk wat ons doen. Ek sal môre werk, want dis Donderdag. Die spanne en laboratoriumassistente begin om sesuur werk. Studente help hier en daar sodat hulle aan alles kan deelneem, en dis wat jy gaan doen, Arend. Julle kan ook na die opgrawings kom. Julle weet ons moet elke ding noukeurig aanteken, en die burokrasie vereis gedetailleerde verslae. Hulle is bang ons beroof die land van sy skatte.

“Ons neem ’n pouse in die middel van die oggend vir tee en toebroodjies, dan werk ons tot ongeveer halfeen, wanneer ons middagete neem. Daarna is dit te warm, dan siësta ons ’n bietjie, swem in ’n poel by Wadi Siyagh, of ons gaan na Wadi Musa om by een van die vyfsterhotelle te swem en te kuier. Om sesuur, wanneer die skaduwees hier in die klowe lank raak en dit koeler word, bekyk ons die artefakte wat gedurende die dag gevind is, sodat dit gekatalogiseer kan word. Aandete is om seweuur. Om agtuur vergader die spanne wat opgegrawe het hier by die hoofkwartier en bespreek die resultate. Die laboratorium is dan besig om die vondse te was, te sorteer en aan te teken. Ons werk vyf dae per week só tydens die opgrawingseisoen. Vrydae is hier soos Sondae, want dan wil die Moslems af hê. Ons ander ry rond en vermaak onsself. Gelukkig het julle op ’n Woensdag gearriveer, dus kan ek julle oor twee dae ’n bietjie rondneem.”

Hy glimlag vir Denise. “Hoe klink dit?”

“Uitstekend, dankie. Julle klink nie asof julle julle regtig uitmergel nie.”

Hy grinnik vir haar, die ou ondeunde grinnik wat haar hart altyd vinniger laat klop het. “Toe maar, op Saterdae werk ons weer – ons ondersoek die erdewerk wat ons gevind het. Maar daarna speel ons kaart, luister na musiek en kuier. Almal ken mekaar hier. Die hoofman oor my span Bedoul, Mamdi Al-Haloul, en sy vrou Amlyah het ons genooi na ’n ete waar hulle bokvleis en tradisionele geregte sal bedien. Dis vir Maandagaand. Op Sondae werk die Moslems weer, maar ek sal julle vermaak. Dalk kan ons na een van die kastele hier naby gaan kyk.”

“Dit sal fassinerend wees,” meen Denise. Sy is dankbaar dat hy spesiaal tyd aan hulle afstaan, want die samesyn sal nie lank wees nie.

Die aandete is gesellig en hulle ontmoet verskeie ander mense, maar hulle gaan kruip vroeg in om die volgende dag weer vars te kan wees.

Denise word wakker en besef dat die son helder skyn. Sowaar, sy het laat geslaap en niemand het haar kom wakker maak nie. Dis al agtuur, sien sy op haar horlosie.

Sy haas haar na die badkamer met seep en handdoek. Sy sien niemand nie, maar sy hoor mense in die verte praat. Sy stort vinnig en trek skoon kakieklere en stapskoene aan.

In die eetsaal tref sy Julie aan, besig om ontbyt te eet.

“Hei, jou laatslaper! Kom eet. Ek moet erken ek was ook nie te vroeg op nie. Ons het mos nie geslaap op die vliegtuig nie. Dale-hulle is lankal weg. Ons kan netnou gaan kyk waarmee hulle besig is. Hoe kry jy dit reg om so vars en mooi te lyk? Ek sweer ek het sakke onder my oë.”

Denise glimlag en gaan sit. “Nee wat, jy lyk oukei.”

’n Arabier kom onmiddellik in en sit ’n bord pap voor haar neer.

“Die diens is uitstekend hier,” skerts sy. “Ek het nog nie eens na die spyskaart gekyk nie.”

“Nee, dit lyk my hier moet jy eet wat jy kry en dankbaar wees. Ons is natuurlik laat, maar Dale het seker met hulle gereël om vir ons kos te maak. ’n Mens sou sweer ons is BBP’s. Ek is nuuskierig om te sien wat Dale-hulle onlangs gevind het. Onder die sand is so baie skatte wat nog opgegrawe moet word, maar kom die Khamsien-wind, waai alles weer toe.”

Ná ’n stewige ontbyt loop hulle af na waar die uitgrawings aan die gang is. Hulle moet taamlik diep by die Tempel ingaan en baie trappe klim voordat hulle by die gedeelte kom waar Dale, Arend en ’n span Bedoeïene-helpers besig is om gebukkend in ’n afgekampte gebied te werk.

Soos gewoonlik kan Denise Dale nie met kalmte nader nie, en sy moet haar bedaard voordoen. Om hom weer so te sien, fris en oorweldigend, versteur haar heeltemal.

Hy staan op toe hy hulle sien. “Hallo, julle twee. Kom nader. Ons het hierdie stuk nou so goed deursoek as wat ons kan, vir oulaas.”

Hy beduie en wink ’n Bedoeïen nader. “Laat ek julle voorstel aan my voorman, Mamdi Al-Haloul. Hy is, soos ek reeds gesê het, van die Bedoul-stam.”

Dale praat Arabies met die man, wat verstom en beïndruk lyk toe die twee vroue hom op Arabies groet.

“Dié vrou het hare soos die son,” sê hy en kyk verbaas na Denise.

“Ja, en oë soos die hemel,” skerts Dale, wat Denise laat bloos. “Sy lyk soos een van die Franke wat eeue gelede met die Kruistogte hierheen gekom het.”

Die Bedoeïen het ’n wit gewaad, swart baadjie en sandale aan. Op sy kop dra hy die rooi-en-wit koffia wat met ’n swart band om die kop stewig gehou word. Sy gesig is soos dié van ’n roofvoël, die neus snawelagtig. Daar is ’n swart baardjie aan sy ken. Hy lyk kwaai, maar sy oë glimlag vriendelik. Denise sien dat hy na haar kakiebroek kyk, en sy vermoed hy dink dis nie die soort ding wat ’n vrou behoort te dra nie.

Dale raak saaklik en begin verduidelik waarmee hulle by die uitgrawings besig is. Denise en Julie bekyk alles en hanteer die antieke potskerwe wat eenkant neergesit is versigtig. Hulle is so besig om hulle aan alles te vergaap dat Denise verras is toe Dale aankondig dat dit die tienuur-teetyd is.

“Ek wil iemand aan julle voorstel,” sê hy. “Dis die direkteur van die onafhanklike Petra National Trust, Insar Bedawi.”

Denise is dadelik op haar hoede, asof sy ’n voorgevoel oor die vrou het. Hulle loop terug en toe hulle by die hotel aankom, staan daar ’n viertrek voor die gebou geparkeer. Op die deur staan Petra National Trust in Engels en Arabies. ’n Vrou sit op die stoep en wag.

“Hallo, Insar!” roep Dale hartlik toe hulle by die trappies oploop. “Bly jy het tyd ingeruim om hier te kom kuier. Ek weet jy is baie besig.”

Al Denise se vrese word bewaarheid. Dis ’n baie mooi vrou in haar vroeë dertigs, met lang swart hare, wat uit haar stoel opstaan en hulle inwag. Hierdie is beslis nie een van die konserwatiewe vroue wat sy oral met kopdoeke en lang gewade sien nie, dink Denise. Insar is modern aangetrek in ’n vleiende bloes en romp. Sy dra ook grimering.

Denise se eerste emosie is agterdog – en jaloesie. Moenie sommer aanvaar dat daar iets tussen Dale en dié vrou is nie, probeer sy haarself betig, maar tevergeefs. Sy moet toekyk hoe Dale die vrou nadertrek en op albei wange soen, en hoe bly sy lyk om hom te sien.

“Vir jou het ek altyd tyd, my vriend,” antwoord sy met ’n mooi, heserige stem en glimlag stralend op na hom. Sy is maklik ’n kop korter as hy en net-net korter as Denise.

“My kollegas van die Universiteit Stellenbosch,” sê hy en stel almal aan mekaar voor.

Insar Bedawi groet oënskynlik vriendelik, maar in haar blinkswart oë sien Denise ’n kilheid, byna ’n vyandigheid, terwyl sy haar onderlangs takseer.

Dié vrou beskou haar as kompetisie, besef Denise. Dus is hulle in dieselfde bootjie. Sy hou haar egter ongeërg en skud Insar Bedawi se hand met ’n gedwonge glimlag.

Julie is besig om van Insar na haar te kyk en Denise weet sommer dat sy hulle houding teenoor mekaar raakgesien het. Dale lyk egter asof hy niks agterkom nie.

Mans kan tog so stiksienig wees, dink Denise ergerlik. Vir wat het hy vandag dié vrou genooi? Net om haar wat Denise is se ewewig te versteur. En sy voel juis emosioneel so broos.

Hulle drink swart tee met suiker en kruie, wat baie verfrissend is, en Insar Bedawi gesels land en sand met Dale. Sy praat net nou en dan met Julie, en glad nie met Denise nie.

“Insar is vir ons ’n groot hulp,” verduidelik Dale. “Sy is baie kundig oor die Nabateërs.”

“Ek gaan nou vir Denise op ’n toer van die grafte neem,” sê Julie. “Insar, wil jy saamkom?”

“Nee dankie, ek wil eers met Dale praat. En dan moet ek weer vertrek.”

“Goed, as sy nie haar kennis met ons wil deel nie, gaan ons twee maar,” praat Julie Afrikaans.

Denise is verplig om te groet en saam met haar te loop, elkeen met ’n waterbottel in die hand. Hulle is al ’n hele ent weg toe sy terugkyk en sien dat Dale en Insar steeds op die stoep sit en gesels. Sy kyk nie weer om nie, maar volg Julie en luister na haar vertellinge oor die Nabateërs.

Hulle keer terug vir middagete en tref Dale en Arend reeds by die hotel aan. Die plek is vol mense wat van die uitgrawings af gekom het en die geur van kos laat Denise besef sy is baie honger. Sy eet met goeie aptyt en luister na Dale se gesprek met hulle kollegas.

“Ons het vanoggend ’n heel pot gevind, tot Mamdi Al-Haloul se vreugde. Wel, dit was eintlik sý vonds. Gewoonlik kry ons net skerwe. Ons is van plan om ons deel van die Tempel af te sluit, en volgende week gaan ons ons nuwe kamp in Wadi Siyagh opslaan. Julle kom saam met ons na die nuwe kamp.”

Hy hap ’n mond vol kos, sluk en kyk na Denise. “Jy kan later wéér terugkom na Petra en kyk wat ons hier doen. Ek sal jou intussen laat weet hoe ons vorder.”

Nooi hy haar sowaar om weer na Petra te kom? dink sy verbaas. Dis omtrent ’n ommekeer in sy houding.

“Ná ete wil ek en Denise die berg opklim om El Deir, die sogenaamde klooster, te gaan sien,” sê Julie.

Dale skud sy kop. “Nee, dis gans te warm so vroeg in die middag. Kom ek neem julle na die Moevenpick Hotel in Wadi Musa, wat ’n lekker swembad het. Daar kan ons bier drink en afkoel. Miskien kan ons almal later teen die berg opgaan en na die klooster gaan kyk.”

“Met bier in ons lyf?” vra Julie ongelowig.

Dale lag. “Ons sal dit baie gou uitsweet, glo my.”

“Swem klink vir my lekker,” meen Denise.

“En bier vir my,” lag Arend.

By die hotel aangekom, met hulle swemklere in sakke, verstom Denise haar vir die vyfster-opulensie. Die swembad waarnaas hulle op sonbeddens gaan lê, is enorm. Sy gaan sit op die sonbed langs Dale s’n en probeer om nie na sy gespierde, lenige lyf te kyk nie.

Hy kyk egter openlik na haar toe sy die sarong om haar lyf afhaal en in haar bikini daar staan. Sy probeer haar selfbewustheid wegsteek en gaan duik dadelik in die helderskoon water.

Julie is fris tot vet, maar sonder enige selfbewustheid loop sy met haar eenstuk-baaibroek na die swembad en duik ook in die water.

Denise skrik toe iemand haar aan die enkel beetkry en trek. Dale kom proesend langs haar na die oppervlak.

“Lekker, nè? Ná jou oggend se geloop. Julie is nie een wat wandel nie, sy lóóp met mening.”

“Heerlik.”

Denise vee die nat hare uit haar gesig en kyk na hom deur wimpers wat gekoek is van die water. Hy is so naby dat hy amper aan haar raak. Haar ongemak maak dat sy wegswem, na die kant toe, en uitklim.

Hy volg haar. Sy kyk af na waar hy aan die kant vashou en vir haar grinnik, asof hy weet sy vlug vir hom. Sy draai om en loop na die sonbed, waar sy haar met die hotel se geel handdoek afdroog en haar donkerbril opsit, sodat sy die weerloosheid in haar oë kan wegsteek.

’n Hele paar mense wat in Petra met die opgrawings help, is ook daar. Dale gesels hier en daar, voordat hy terugkeer na waar Denise in die son lê en bak.

“Kan ek vir jou sonbrandroom aansmeer?” vra hy.

Sy huiwer. Om sy hande oor haar te voel streel, sal haar ongemak net vererger, maar hy het reeds die buisie in sy hand en druk die sonbrandroom op sy handpalm uit. Sy draai op haar maag en laat hom begaan, maar sy is bewus van elke beweging, elke aanraking van sy sterk hande oor haar rug, haar bene.

Dis onmoontlik om niks vir hom te voel nie, dink sy moedeloos. Sy het net na Jordanië gekom om haar kalmte totaal versteur te kry. Om die hoop weer te laat opvlam dat daar tóg iets tussen hulle kan wees.

“Dankie,” prewel sy toe hy regop kom en die buisie toeskroef. Sy maak haar oë toe.

“Hoe gaan dit deesdae met jou?” klink sy warm, besorgde stem langs haar op en sy voel dat hy baie naby aan haar sit.

Sy maak haar oë oop en sê kastig lui: “Goed, dankie. Ek beplan ’n besoek aan Palmyra tydens die volgende semester.”

“Dis goed. Wat is deesdae nuus by die universiteit?”

Sy gesels oor haar skouer oor die universiteit en wat in die departement aangaan. Hy sit haar en dophou, vooroor geleun, sy blik stip op haar.

“Bier!” verbreek iemand die intimiteit. Arend kom nader, saam met ’n kelner wat vier biere op ’n skinkbord dra.

Denise kom orent en haar been skuur per ongeluk teen Dale s’n. Dis of ’n skok deur haar trek en sy beweeg haastig eenkant toe.

Julie het uit die water gekom en sy staan druppend voor hulle. “Ek is mos heeltyd dors,” sê sy en neem een van die biere. “Hierdie sal soos nektar van die gode afgaan. Cheers!”

Dale bly sit langs Denise. Sy hou haar bene uit sy pad en luister na Arend se opgewonde gebabbel. Dis sy eerste besoek aan die Midde-Ooste en hy verwonder hom skynbaar aan alles.

Julie haal haar polshorlosie uit haar sak. “Dis nou halfdrie. Kan ons so teen drie-uur teruggaan, asseblief? Dit sal ons genoeg daglig gee om die berg te klim.”

“Ons kan net ná hierdie bier gaan,” belowe Dale.

Roep van die woestynwind

Подняться наверх