Читать книгу Met die oog op liefde - Malene Breytenbach - Страница 4
1
ОглавлениеNaomi ry deur die nywerheidsgebied en luister na die aanwysings van die GPS. “Draai links by Baxterstraat. Jy sal jou bestemming aan die linkerkant sien.”
Sy hou voor die hek stil. Baxter Pharmaceuticals was tog maklik om te kry al ken sy dié gebied glad nie. Binne ’n hoë heining staan verskeie voertuie. Mense kom en gaan. Die gebou is modern en indrukwekkend, met baie glas, en vertoon wit en skoon. Die veiligheidsbeampte kom met sy knyperbord en pen nader. Sy draai haar ruit af.
“Goeiemôre, dame,” groet hy vriendelik.
“Goeiemôre, ek het ’n afspraak met die hoof- uitvoerende beampte.”
“Goed, dame.” Hy gee vir haar die knyperbord met ’n lys. “Vul asseblief u naam, telefoonnommer en tyd van aankoms in.” Daarna maak hy die hek oop, en ry sy in na ’n parkeerterrein vir besoekers.
Voordat sy vir die onderhoud gekom het, het sy dié maatskappy gegoogle om soveel moontlik daarvan te wete te kom. Dit spesialiseer in oftalmiese produkte en behoort aan die Baxter-familie. Groot filantrope, wat adverteer dat hulle nou vir die tweede jaar ’n trein borg wat deur die Suid-Afrikaanse platteland ry om oogheelkundige dienste te lewer aan hulpbehoewende mense wat nie aan mediese skemas behoort en veral oogoperasies nie kan bekostig nie.
Dit is presies die soort plek waar sy die beste praktiese ondervinding kan opdoen.
Sy parkeer en kyk in die truspieël of sy darem netjies lyk. Sy voel of haar goudbruin hare nog mooi in die kam sit. Dit lyk altyd meer professioneel as dit opgekam is. Sy het ook lig gegrimeer al sê haar vriendinne sy het dit nie nodig nie, want haar groen oë is opvallend genoeg. Vandag dra sy wit om professioneel en koel te lyk. Eintlik is sy nogal senuagtig, maar sy sal dit agter ’n fasade van selfvertroue moet wegsteek. Hoeveel mense, behalwe die hoof- uitvoerende beampte, gaan dié onderhoud met haar voer? Sy hoop dit is nie intimiderend nie. Dalk moet sy voor ’n falanks van kritiese mense verskyn wat haar in diepte gaan ondervra. Sy sal haar man moet staan. Weier hulle om haar aansoek te aanvaar sal dit ’n geweldige teleurstelling wees. Sy hoop en bid hulle keur haar goed. Sy moet heelwat opoffer om dit te kan doen. Sy is ’n junior vennoot in haar pa se praktyk en sal moet verlof neem. Hy moedig haar egter aan, want as sy dié praktiese ondervinding opdoen, staan sy ’n veel beter kans om deur die universiteit vir die spesialisrigting van oftalmologie gekeur te word. Enige toepaslike ondervinding sal in haar guns tel, sê haar pa.
Sy loop by groot glasdeure in. Haar hakke klik-klak op die blink portaalvloer. Sy sien ’n toonbank waar ’n man en vrou by rekenaars en telefone sit en loop reguit soontoe. Die vrou staan op.
“Goeiemôre, dame.”
“Goeiemôre. Ek is dokter Naomi Harker. Ek kom vir ’n onderhoud.”
Die vrou kyk af na ’n lys. “A, dokter Harker. Tienuur. Ek vra om verskoning dat u ’n rukkie sal moet wag, die onderhoude het ’n bietjie agter geraak. U kan in ons wagkamer gaan sit. Gaan in by daardie deur regs. Binne is koffie en tee. Help uself gerus. Ek sal u kom roep sodra u aan die beurt kom.”
In die wagkamer tref Naomi twee ander jong vroue en ’n man aan. Die vroue kyk haar nuuskierig aan. Die man, wat hom met ’n iPad besig gehou het, kyk op. Sy skrik haar yskoud, voel behoorlik naaldeprikke onder haar hare. Is hy wie sy dink hy is? Net maerder en met korter hare?
Sy herken die bekende, spottende grinnik. Wens sy kan vlug, maar sy gaan staan vas en kyk reguit na hom.
“Hallo, Naomi. Dis sowaar ’n verrassing om jou weer te sien. Wil jy tog nie ook op die oogtrein kom werk nie?” Soos altyd kry hy dit reg om verkleinerend te klink.
“Hallo, Roelf. Ja, dis presies hoekom ek hier is.” As hy sarkasties kan wees, kan sy ook.
Hy staan nie op nie, maar bekyk haar van kop tot tone. “Ek sien jy het nog niks verander nie.”
“Jy ook nie.” Sy kan die bitsigheid nie uit haar stem hou nie. Hy kon nog altyd haar angel ontlok.
Opsetlik draai sy weg, glimlag vir die vroue en gaan na die koffiemasjien waar sy luiters vir haar ’n cappuccino maak, wat sy stadig drink. Die koffie sal help om haar senuwees te kalmeer. Sy kyk nie weer in Roelf se rigting nie. Sy hoop hy kry die boodskap dat dit nie vir haar lekker is om hom weer te sien nie. Gelukkig praat hy nie weer met haar nie.
Die een meisie, wat nogal blond en mooi is, vra: “Is jy ’n brilmaker?”
“Nee, ek is ’n algemene praktisyn en ek wil in oftalmologie spesialiseer.”
“O.” Die meisie se wenkbroue lig. Sy kyk weg.
Nie juis vriendelik nie, dink Naomi. “Is jý ’n brilmaker?”
Die meisie kyk weer na haar. “Ja.” Kortaf.
Naomi tel ’n brosjure oor die Baxter Eye Train van die tafel af op en begin lees. Daar is foto’s van ’n geel trein met trokke en ’n enjin. Op die kant van die trein is twee groot oë en die Baxter-logo aangebring. In die brosjure is foto’s van permanente en tydelike personeel, en van ’n afdak op ’n stasieperron langs die trein waar baie mense op stoele sit en wag om ondersoek te word.
Sy lees: “Die Baxter Eye Train bestaan sedert 2013. Dit het reeds een reis na die Oos-Kaap onderneem en sal na verskillende provinsies reis. Hierdie oogkliniek op wiele is ’n gesamentlik projek van Transnet en Baxter Pharmaceuticals (Edms.) Bpk. Die trein bestaan uit ’n dryfwa met ’n kragopwekker vir die trein, ’n wassery- en stoorwa, kombuiswa, eetwa, drie akkommodasiewaens, een oogkliniekwa met operasiegeriewe, een wa vir ontvangs, ’n apteek, ’n algemene kantoor en ’n oogtoetssentrum waar brille ook verskaf word.
“Benewens die permanente personeel, is daar mediese personeel in opleiding, en by elke stilhouplek help plaaslike werkers. Die trein bereik mense wat nie toegang tot programme vir die behandeling van katarakte, pterigium, refraktiewe afwykings en gloukoom het nie. In Suid-Afrika het driekwart van die bevolking nie toegang tot oogsorg nie en word baie mense blind weens voorkombare oorsake.
“Die personeel van die oogtrein speel ’n belangrike rol in gemeenskapuitreiking. Studente van verskillende universiteite baat by die geleentheid om in ’n besige kliniese omgewing praktiese ervaring op te doen.”
Sy het min of meer dieselfde inligting gegoogle. Geglimlag toe sy lees van die vakuumtoiletstelsel wat water bespaar en sorg dat ontlasting nie uitspoel onder die trein nie. Die wasgeriewe en lugreëling word ook breedvoerig beskryf “om die verspreiding van kieme te voorkom”. Dit lyk asof hulle fasiliteite allesbehalwe primitief is.
Sy kom agter die blonde meisie hou haar dop, en kyk na haar. “Die oogtrein lyk vir my nogal luuks.”
“Dit is glo vreeslik goed ingerig. Ek het gedink dit sal lekker wees om op die trein te werk, saam met die dokters.”
Innerlik sug Naomi. Ja, dit hét lekker gelyk, maar dat Roelf Malan nou sowaar ook op die trein wil kom werk, maak haar lam. Hulle het laas taamlik lelik van mekaar afskeid geneem.
Die ontvangsdame kom ingestap. “Dokter Harker, kom saam met my, asseblief.”
Naomi is verlig om weg te kom en volg haar na ’n hyser. Hulle gaan op na die vyfde verdieping. “Heel bo is die sogenaamde penthouse waar net die Baxters en hulle huishoudelike personeel kom,” sê die ontvangsdame. “Op die eerste vloer is ons ander se kafeteria. U en die ander aansoekers kan vandag gratis daar gaan eet. Ek kan dit aanbeveel.”
“Mag ek vra wie sit in die keurkomitee?”
“Dokter Ray Baxter, wat die hoof- uitvoerende beampte is, en dokter Anthony Baxter, wat ’n oftalmoloog is, en meneer Max Baxter, die grootbaas. Hulle praat net met die dokters. Die ander aansoekers gaan vir hulle eerste keuring na die hoof van menslike hulpbronne en sy span. Dan doen dokter Ray en meneer Max die finale keuring vir die trein.”
Op die vyfde vloer gaan hulle na ’n eetkamer waar drie mans by ’n tafel sit. Dit val Naomi op dat die omgewing klinies en tog luuks voorkom. Dit val haar ook op dat die bejaarde man in die rolstoel blind is. Hy dra ’n donkerbril en hou sy kop roerloos.
“Hier is dokter Harker,” kondig die ontvangsdame aan en laat Naomi agter by die drie mans.
Sy staan voor hulle soos ’n aktrise onder die kollig. Een wat nie haar woorde mag vergeet nie. Die twee jonger mans staan op. Hulle lyk baie na mekaar. Sy skat die een in sy middeldertigs en die ander een in sy vroeë veertigs. Albei is lank, donker van haar, soel van vel en aantreklik, maar die jonger een slaan omtrent haar asem weg. Hy het hemelsblou oë in ’n bruingebrande, hoekige gesig, en breë skouers onder sy wit jas. Sy lyf lyk lank en lenig.
Die mans groet en die ouer een van die twee jonger mans stel hulle voor. “Ek is Ray Baxter, en dit is ons pa, Max Baxter. En dit is my jonger broer, Anthony, wat pas terug is van Engeland. Hy is ’n oftalmoloog en ek is ’n optometris.”
“Aangename kennis,” sê Naomi. “Dankie dat ek vir die onderhoud kan kom.” Sy vermoed daar was heelwat aansoekers.
Ray Baxter beduie na ’n stoel en sy gaan sit.
“Ek kan hoor u is ’n jong vrou met ’n mooi stem,” sê die man in die rolstoel. “Dit is altyd goed as ’n dokter ’n sagte, simpatieke stem het. Ek het my sig in ’n motorongeluk verloor, maar my gehoor het verskerp om daarvoor te kompenseer. U wonder miskien wat ’n blinde man hier doen. Omdat ek weet hoe erg dit is om blind te wees nadat ek jare lank kon sien, het ek besluit om my toe te spits op die behandeling en voorkoming van geneeslike blindheid. Ek het my seuns aangemoedig om oogdokters te wees. Ons hoop om ’n verskil te maak. Daar is so baie swaksiende en blinde mense wat ons hulp nodig het.”
“Ek dink u doen wonderlike werk,” sê Naomi, en sien hy knik goedkeurend.
Met al haar navorsing en soek van inligting het sy dié belangrike feit omtrent Max Baxter nie uitgevind nie. Sy doen haar koel en kalm voor, maar haar hart klop nou teen snelgang.
“Dokter Harker, volgens u aansoek beoog u om in oftalmologie te gaan spesialiseer en wil u daarom op die oogtrein werk,” sê Ray Baxter. “Vertel ons asseblief hoe en waar u van die trein te wete gekom het.”
Naomi moet ’n senuagtige heesheid uit haar keel skraap. “Ek het geweet van die Phelophepa-trein wat eers ’n oogtrein was, en dat dit later alle mediese dienste ingesluit het sodat ’n tweede trein nodig geword het. Toe lees ek in die Sondagkoerant dat Baxter Pharmaceuticals ’n soortgelyke trein ingerig het. Ek het besef dit sal ’n uitstekende geleentheid bied om praktiese ondervinding op te doen. Ek het julle gekontak en gehoor dat julle juis nou besig is om nuwe personeellede en studente te werf vir ’n reis na Limpopo.”
“Ek het eers laat gisteraand uit Engeland geland en daarom kon ek nie u aansoek lees nie,” sê die aantreklike Anthony Baxter en glimlag om spierwit, foutlose tande te wys. “Kan u my asseblief kortliks oor u agtergrond inlig?”
Naomi vind hom te oorbluffend om direk na hom te kyk. Wees tog om vadersnaam koel en professioneel, Naomi, vermaan sy haarself. Hy is net nog ’n man met gebreke. Sy dwing haar om in die helderblou oë te kyk.
“Ek het MBChB aan Universiteit Stellenbosch gestudeer. Ek het my gemeenskapsdiensjaar op Alice in die Oos-Kaap gedoen, waar daar baie mense met oogprobleme was. My twee-jaar-internskap het ek by die Elim-hospitaal in Limpopo, naby Louis Trichardt, gedoen.”
“U ken dus daardie omgewing?”
“Ja, redelik goed. Op Elim het ek veral goeie ondervinding opgedoen, want dit is ’n Switserse sendinghospitaal met ’n oogeenheid onder bestuur van ’n Poolse dokter en sy vrou. Ek het heelwat met hulle saamgewerk.”
Anthony Baxter kyk haar met ’n skewe glimlag aan. “En het u daar ’n Damaskus-ervaring gehad wat u laat besluit het om oftalmologie te studeer?”
Waarom klink dit asof hy met haar spot, dink Naomi vies. “Dit is ’n groot voorreg om iemand se sig onmiddellik te verbeter. Dit het vir my gevoel soos ’n wonderwerk. In ander gevalle in hospitale kan die pasiënt lank siek bly en die prognose is dikwels swak. By oogheelkunde is die resultate onmiddellik, en die dankbaarheid van die pasiënte is lekker om te sien.”
Die ou man lag. “Dit klink na ’n goeie rede om in oftalmologie te wil spesialiseer. Ek hou van die dame se stem. ’n Gerusstellende stem wat by ’n dokter pas. Ek beoordeel mense op grond van hulle stemme en manier van praat, dokter Harker.”
Dit laat Naomi sommer moed skep. Sy glimlag in sy rigting al weet sy hy kan haar nie sien nie.
“U het in u aansoek genoem dat u beoog om nagraadse studies in oogheelkunde aan die Universiteit van Kaapstad te doen,” sê Ray Baxter. “Nou wil u eers kyk hoe die dinge by ons werk?”
“Hierdie ondervinding sal my ’n beter kans op keuring gee, dokter Baxter. Hulle kry glo baie aansoeke en die keuring is dus streng. Ek sien nie kans om nou oorsee te gaan om ondervinding op te doen nie, want tans werk ek in my pa se praktyk op Stellenbosch. Die wedywering vir keuring en kliniese assistentposte is kwaai en ek wil alles doen om my CV te verbeter.”
Anthony Baxter leun terug in sy stoel en speel met ’n pen. Hou haar noukeurig dop. “Ek het ook aan UCT gestudeer en ek gaan in die nuwe jaar deeltyds daar klasgee. Die werk op die trein is vir my belangrik. ’n Mens leer mos heeltyd.”
Die blinde man praat weer. “Dit is vir ons ’n voorreg om ons minder bevoorregte naaste te kan help. Ons Baxters beplan al jare lank so ’n trein, maar dit is so duur dat ons dit nou eers kan bekostig.”
“Ja, dit moet ’n duur onderneming wees,” sê Naomi. “Ek het op die internet en in julle brosjure gesien hoe goed toegerus die trein is en hoeveel personeellede daarop werk.”
Ray Baxter kyk met skrefiesoë na haar. “Heelwat aansoekers verbeel hulle dis ’n lekker treinreis, die ene avontuur. Dis nie ’n vakansie op die Bloutrein nie, dis harde werk. Sien u kans om in beknopte en moeilike omstandighede te reis en baie pasiënte elke dag te sien? Dis nie vir almal maklik nie, hoor. Die werklading is swaar en die ure lank.”
Sy broer kyk haar stip aan. “Glo my, dit kan nogal uitputtend raak. Ons soek mense wat onder druk kan werk en wat nie opvlieënd of ongeduldig is nie. Mense trap op mekaar se tone op so ’n trein. Daarom is ons keuring uiters streng.”
“Ek is gewoond aan lang ure en ’n swaar werklading, dokter Baxter,” verseker Naomi hom. “En ek kom gewoonlik goed met allerhande uiteenlopende mense oor die weg. Ek is nie lui nie en ek soek nie gerief nie. Toe ek oor hierdie trein lees, het ek geweet: ek móét eenvoudig dié ondervinding opdoen.”
Die ou man lag en die ander twee glimlag. Naomi skep weer moed.
“So, u pa is ’n algemene praktisyn op Stellenbosch,” sê Ray Baxter. “En u is reeds verseker van ’n plek in die praktyk. U moet taamlik sterk voel oor oftalmologie om dit prys te gee.”
“My pa moedig my aan om te spesialiseer. Hy weet ek wil nie ’n algemene praktisyn wees nie. Ek wil konsentreer op ’n spesifieke veld waar ek omvattende en diepgaande kennis kan opdoen. Oogheelkunde is die perfekte rigting vir my. Ek wil niks anders doen nie.”
Ray Baxter kyk na ’n lêer wat voor hom lê. “Ek sal my broer inlig oor u agtergrond, dokter Harker. Verskoon asseblief dat hy nog nie kans gehad het om u aansoek te bestudeer nie. Dankie dat u vir die onderhoud gekom het. U is ongelukkig nie die enigste aansoeker nie en ons trein is nie so groot nie. Ons kan net ’n beperkte getal mense neem.”
Naomi voel meteens soos ’n ballon wat geprik word. Die onderhoud was eintlik kort. Hulle het haar nie met kliniese vrae gepeper nie. Sy hét darem breedvoerige inligting saam met haar aansoek ingedien.
“Kom asseblief hier, dokter,” sê die ou man.
Sy staan op en gaan groet hom met die hand. Hy skep die indruk dat hy haar probeer aanvoel. Sy kop kantel en die vleuels van sy skerp neus tril effens. Hy los haar hand. “Totsiens, dokter.”
“Totsiens, meneer Baxter.”
Sy groet Ray Baxter met die hand en daarna die onmoontlik aantreklike broer. Sy aanraking skok haar eintlik. Sy hand is groot en sag, die are prominent, die naels kort en silwerskoon. Daar is geen trouring nie, maar sy wonder of hy nie tog getroud is nie. Sy naskeermiddel ruik subtiel. Sy oë is effens bloedbelope. Hy het seker min geslaap as hy ure lank gevlieg en eers die vorige nag op die lughawe aangekom het. Hy is ’n entjie langer as sy en sy moet opkyk. Sy blik is priemend, opsommend, krities. Dit lyk asof daardie oë soos blou glas dwarsdeur haar kyk. Sy moet haar ongemak probeer wegsteek.
Hy dink sy is ’n liggewig, veronderstel sy. Hy gaan haar nie goedkeur nie.
Ray Baxter kyk op sy horlosie. “Dit is etenstyd. U kan gerus in ons personeelkafeteria gaan middagete geniet.” Hy is saaklik vriendelik en loop saam met haar na die hyser.
“Dankie, ek dink ek sal so maak.” Sy groet hom weer met die hand voordat sy inklim.
Sy is vaal van die honger, kom sy agter. Die spanning van die onderhoud wat voorlê, het veroorsaak dat sy nie ’n behoorlike ontbyt geëet het nie. Op pad ondertoe voel Naomi nogal afgehaal. Die onderhoud was so kort. So sonder enige uitkoms of belofte, al het die ou man mooi goed oor haar stem gesê. As sy gekeur word, sal dit ’n wonderwerk wees. Sy wil so graag weer na Louis Trichardt, die Soutpansberge en Elim gaan. Na daardie magiese noorde met wolkberge, woude en mere waar die Vhavenda pragtige kuns beoefen, en wat ’n kleurryke geskiedenis en verhale het. Dit was deel van die aantrekkingskrag van die oogtrein dat dit juis na daardie deel van die land reis.
Die kafeteria is vol mense. Sy neem ’n skinkbord en gaan val by ’n tou in. Die verskeidenheid kos wat uitgestal is, lyk baie lekker. Daar is alles van toebroodjies, pasteie, koeke, terte en quiches tot stukke gebraaide hoender, kerrie en rys, en verskeie slaaie. Sy kies quiche en slaai, en ’n bakkie roomys met sjokoladesous.
“Ek is een van die aansoekers vir werk op die trein,” verduidelik sy by die betaalpunt.
Die vrou knik, maar kyk verbaas na die kos op die skinkbord. “O ja, julle eet gratis. Maar wil jy nie nog iets hê nie? As die kos verniet is, neem mense nie gewoonlik so min nie.”
Naomi lag. “Nee, dis genoeg vir my, dankie.” Sy vergryp haar beslis nooit aan gratis kos nie.
Sy gaan sit eenkant by ’n tafeltjie. Terwyl sy eet, wonder sy oor Anthony Baxter. Al wat ’n vroumens is, gaan oor hom swymel. ’n Gevaarlike soort man om in die nabyheid te hê al gedra hy hom goed. Sy kan nie onthou wanneer laas ’n man so ’n ontwrigtende effek op haar gehad het nie. Sy proe die quiche skaars. Al was die ou man so gaaf, gaan sy die pos waarskynlik nie kry nie. Dan sien sy daardie hunk tog nie weer nie.
Sy dink weer aan Roelf Malan. Hy wil sowaar ook op die trein werk. Dalk is hy nou daar bo by die Baxters vir ’n onderhoud. Teen dié tyd is hy reeds ’n gekwalifiseerde oftalmoloog. Haar herinneringe aan hom is nie goed nie. Hy was een van die arrogante senior studente wat gespot het oor die “nuwe vleis” wat na die mediese skool kom.
Toe val sy oog op haar, die junior mediese student. Hy moes haar eenvoudig date, maar dit was ’n kort en stormagtig verhouding. Natuurlik wou hy meer hê as wat sy bereid was om te gee. Hy kon kwansuis nie glo dat sy weier om by hom te slaap nie. Daarna het hy haar twee jaar lank letterlik geteister. Uiteindelik moes dit tot hom deurdring dat sy regtig nie in hom belangstel nie. Hy het haar verwyt dat sy sy tyd gemors het, terwyl sy hom verwyt het dat hy hom blind en doof gehou het vir haar duidelike boodskap dat dinge nie tussen hulle kan werk nie.
Nou loop sy sowaar hier in hom vas. As die Baxters haar ooit aanvaar, bid sy net dat hulle hom nie ook aanvaar nie. Vir Roelf sien sy sowaar nie weer kans nie. Sy sidder eintlik wanneer sy dink hoe hy kan klou. Soos ’n vetkol in lap, het een van haar vriendinne nog gespot. Al is hy aantreklik, staan sy persoonlikheid haar nie aan nie. Sy ware kleure is nie mooi nie.
Naomi sit haar mes en vurk netjies bymekaar op die leë bord. Die ontvangsdame loop by die kafeteria in. Dit lyk asof sy iemand soek. Sy sien Naomi, wuif en kom aangestap.
“Dokter Harker, dokter Baxter-hulle vra dat u asseblief weer boontoe sal kom as u nie omgee nie.”
Naomi se hart begin dadelik bokspring van opgewondenheid. Beteken dit dat sy wel ’n kans staan om aanvaar te word? Hulle het darem baie gou besluit.
Haar hart klop steeds woes terwyl hulle in die hyser ry. Hierdie keer weet sy dat Anthony Baxter haar met sy hemelse oë gaan beoordeel, en dat hy haar baas en senior op die trein sal wees. Mits sy natuurlik so gelukkig is om aanvaar te word.
Die drie mans sit net soos voorheen, maar op die tafel is botteltjies water en ’n groot bord toebroodjies. Hulle middagete is verbasend beskeie.
“Kom sit asseblief weer, dokter Harker,” nooi Ray Baxter.
Sy gaan sit. Probeer om nie na Anthony Baxter te kyk nie, maar sy is hiperbewus van sy oë op haar.
“Ons het u bespreek en my broer het na u aansoek gekyk,” sê Ray Baxter.
Naomi hou asem op.
“Ons het al drie besluit dat u ’n goeie toevoeging tot ons trein sal wees.”
Naomi kan die blye glimlag nie van haar gesig afhou nie.
“U ken reeds die omgewing waar ons meesal gaan werk, en dit tel in u guns,” sê Max Baxter.
Sy wil huppel van vreugde.
Ray Baxter haal ’n dokument uit ’n lêer en kyk daarna. “Hier is ons reisplan. Ons gaan van Kaapstad af reguit noorde toe. Ons stop baie kort in Johannesburg waar ons dokter Lotter, die optometris van die Universiteit van Johannesburg, en verpleegkundiges sal optel. Van daar gaan ons na Limpopo. By Polokwane bly ons ’n dag lank. Daar tel ons studente van die Universiteit van Limpopo op. Ons trein bly nie lank in die groot stede nie, want daar is voldoende mediese dienste. Ons gaan na die platteland. Daarna is ons twee dae lank op Tzaneen, dan gaan staan ons by Louis Trichardt waar ons langer sal vertoef. Studente van die Universiteit van Venda in Thohoyandou sluit daar by ons aan.”
“Ek kom van daardie wêreld af,” sê Max Baxter. “My broer en sy seun boer op groot skaal tussen Louis Trichardt en Thohoyandou met vrugte en neute. Op dié plaas is ’n kliniek wat ’n groot omgewing bedien. Mense kom van heinde en ver soontoe om behandel te word. Ons het daardie kliniek goed ingerig, ook met die modernste operasiefasiliteite. Die oogdokters sal ook daar gaan werk. Die trein bly by die stasie op Louis Trichardt, want die spoor loop nie tot by die plaas nie. My broer-hulle sal julle by die stasie kom haal.”
Dit klink vir Naomi ál lekkerder.“Gaan die trein ná Louis Trichardt op na Musina en Beitbrug?”
“Nee, daardie stuk spoorlyn is te besig,” sê Ray Baxter. “Ons moet hou by stil plekke met syhaltes waar ons kan parkeer en waar die pasiënte na ons toe kan kom. Sien u kans om so lank van u praktyk verlof te neem?”
“Dit sal nie ’n probleem wees nie.”
“Nou goed dan. Ons sekretaresse is Magda Venter en sy is by ontvangs. Sy sal vir u ’n lys gee van alles wat u moet saamneem, en die tye en aanmelding met u bevestig. Enigiets wat u wil weet, kan u net vir haar vra. Moet asseblief nie te veel bagasie saamneem nie. Die trein vertrek oor ’n maand op 1 Junie. Ons gaan in die winter wanneer dit nie so warm is daar bo nie. As u op Elim gewerk het, ken u daardie klimaat. In die winter is dit eintlik lekker, maar die nagte kan koud raak.”
Naomi sweef op wolke daar uit. Sy bel haar pa dadelik op sy selfoon. “Pappa sal maar ’n rukkie sonder my hulp moet klaarkom. Ek gaan trein ry.”
Hy lag. “Ek het geen oomblik getwyfel dat jy gaan trein ry nie, dokter Harker junior.”