Читать книгу Met die oog op liefde - Malene Breytenbach - Страница 6

3

Оглавление

Toe hulle klaar geëet het, sê Anthony: “Dokter Harker en dokter Malan, kom asseblief saam met my na die oogwa.”

Op pad soontoe wys Anthony hulle die kantore. Daar is twee kleintjies elk met ’n lessenaar, twee stoele en ’n bed, en een grote met verskeie lessenaars en tafels. In al die kantore is rekenaars. “Ek en Lily het elkeen ’n kantoor op die trein, maar julle ander deel ’n kantoor,” sê Anthony. “Die grote is die algemene een.”

Daarna sien hulle die ontvangslokaal met ’n groot toonbank, twee stoele en twee rekenaars, die apteek met rakke vol medikasie en die oogtoetssentrum waar brille gehou word.

“Ons behandel mense wat nie toegang tot programme vir die behandeling van katarakte, pterigium en afwykings in die okulêre refraksie het nie.” Hy wys vir hulle twee klein, dog goed ingerigte en silwerskoon operasieteaters wat nie vir Naomi lyk asof dit by dié in ’n stedelike hospitaal sal afsteek nie.

Hy staan langs haar. Kyk af na haar. Sy wil amper tru deins, so oorweldigend is sy nabyheid.

“Dokter Harker, jy weet natuurlik van die nuwe metode van katarakte verwyder, die fako-emulsifisering waar ons ’n baie klein snytjie maak en die katarak uitsuig nadat die ultraklank die katarak opgebreek het. Dis te duur vir die mense wat ons gaan behandel. Dit kos ongeveer ’n miljoen rand. Net die weggooibare instrumente vir elke operasie kos twee- tot drieduisend rand. Jy sal nog sien hoe baie mense kom met katarakte na ons toe. Ons volg dus die goedkoper opsie, die ECCE of ekstrakapsulêre katarakekstraksie, wat sonder masjiene gedoen word. Die sny in die oog is groter en ons druk die hele katarak uit. Die pasiënt betaal dan net ’n klein bedraggie. Jy het dié soort operasie seker dikwels op Elim gesien?”

“Ja, ek het dikwels gekyk hoe opereer die ander dokters. Soms het ek geassisteer. Dit was regtig hartverblydend om te sien hoe dankbaar die mense is om weer te kan sien.”

“Ek is bly jy weet reeds iets van die prosesse wat ons toepas. Ek en dokter Malan doen die operasies, en jy assisteer. Dit beteken jy gaan meer kyk as iets anders.”

Die oë wat haar soos blaasvlamme skroei, kyk weer weg. “Ons skrop- en vloersusters sluit in Johannesburg by ons aan, saam met dokter Lotter.”

Naomi ruik ’n vae aangename geur van seep gemeng met deodorant, en iets anders. Hy beduie met sy hande en sy kyk gefassineer daarna. Om te dink dat daardie hande die delikate operasies doen wat mense se sig verbeter. Sy het opgelet hoe delikaat hy sy eetgerei hanteer. Hy vat raak, sekuur. Hoe sal dit voel as hy met daardie hande liefkosend aan jou vat …

Moenie aan so iets dink nie, vermaan sy haarself. Maar o tog, dit is klein ruimtes waarin hulle ’n hele ruk lank baie naby of teenaan mekaar sal moet werk. Sy gaan heeltyd te naby aan hom wees. Sy mág nie toelaat dat dit haar ontsenu nie.

“En daardie frons? Wat is die probleem?” ruk sy stem haar uit haar mymering. Sy kyk op. Hy kyk stip, streng, na haar asof hy in haar hart en emosies kan delf.

Sy glimlag gedwonge. “Geen probleem nie. Ek dink maar net dat ek nog so min weet. Ek het soveel om onder jou … julle supervisie te leer.”

Roelf is besig om haar spottend aan te kyk. Sien hy dat sy nie onbetrokke naby Anthony Baxter kan wees nie? Hy was altyd gans te oplettend en jaloers.

“Wat kyk jy my so?” vra sy vies.

“Ek het altyd gewonder of daardie tenger lyfie genoeg stamina vir die mediese beroep het,” gryns hy. “Ons sal moet sien of jy die druk kan hanteer.”

Sy vererg haar, maar reageer kil. “ ’n Dokter hoef nie groot en fris te wees om stamina te hê nie. Jy ken my al lank. Jy weet ek bly altyd fiks.”

Anthony se wenkbroue skiet die hoogte in. “Het julle mekaar dan voorheen geken?”

Naomi kreun innerlik. Roelf moet nou net nie te kenne gee dat hulle ’n ernstige verhouding gehad het nie.

“Ons het albei medies geswot by Stellenbosch,” sê sy vinnig en opsetlik kortaf. “Roelf was ’n senior toe ek ’n junior was.”

Verbeel sy haar of is daar agterdog in die blou oë al bly Anthony Baxter se gesig uitdrukkingloos?

Roelf grinnik insinuerend. “Ons wás darem goeie vriende. Báie goeie vriende.”

Naomi kan hom klap. Sy weet wat in sy kop aangaan. Hy sien dat Anthony Baxter ’n besonder aantreklike man is en dat sy van hom hou. Hy sal ’n wig tussen hulle probeer indryf soos hy gemaak het met haar en ’n medestudent van wie sy ook gehou het. Deur haar te gaan beskinder, het hy die ander man afgeskrik. Eers veel later het sy agtergekom waarom Steven die aftog geblaas het, nadat hy om verskoning gevra het dat hy Roelf se leuens geglo het. Hy wou die vriendskap hervat, maar dit was te laat. In ’n man wat so maklik dinge van ’n meisie glo, stel sy nie belang nie.

Dit het haar dubbeld versigtig gemaak vir Roelf. Sy het probeer om hom uit haar lewe te weer. Maar hier is hy wragtig weer. Die opperste moeilikheidmaker.

Sy kyk skouerophalend na Roelf en hoop Anthony interpreteer dit as iets in haar verlede wat nie vir haar so belangrik was soos Roelf te kenne probeer gee nie.

Anthony draai weg. “Kom kyk asseblief hier.”

Hy wys hulle die spleetlampe en mikroskope. “Naomi, jy moet hieraan gewoond raak. Jy toggle met die voet, fokus en zoem. Maar ek glo jy weet hoe. Jy gebruik die tweede mikroskoop. Nadat jy op Alice en op Elim gewerk het, weet jy seker dat swart mense se oë sterker as ons s’n is. Hulle kry nie die degenerasie wat ons kry nie. Wit mense kry maklik retinale loslating. Swart mense kry dit net weens ernstige besering.”

“Hoeveel katarakoperasies het jy al gedoen?” wil sy weet.

Hy frons met sy vinger teen sy ken. Sy kan die aantreklike kuiltjie nie miskyk nie.

“Seker al so tweeduisend. Geen operasie is maklik nie en elke katarak is anders. Daar is klein verskilletjies waarna mens moet oplet. Ek moet net sê, ons gaan nie ernstige oogtrauma behandel nie. Dit word na hospitale verwys. Ons het met die laaste treinreis heelwat pterigiums verwyder. Jy weet, die vliese wat oor die kornea groei. Hier sal ek en dokter Malan tot twintig operasies op ’n dag moet doen wanneer dit eers regtig druk gaan.”

Naomi kyk na Roelf wat haar soos ’n valk dophou. Sy moet seker met hom ook praat. “Wat is die ergste wat jy al teëgekom het?”

“Beserings, meesal. Ek het al gewerk met oë wat gebrand is deur die kalk op rugbyvelde. Die ouens duik daarin. Ook met arc eyes, of fotokeratitis, wanneer iemand sonder ’n bril gesweis het. Die epiteel in die oog breek af. Maar hier doen ons seker net die eenvoudige dinge.”

“Ja, die eenvoudige dinge,” merk Anthony droogweg op, en tot Naomi se verbasing knipoog hy vir haar. “Jy sal gou leer. Sodra jy sekere stappe bemeester het, kan jy naderhand die maklikste en eenvoudigste prosesse onder toesig doen. Jy sal meesal onder my werk.”

Amper sê sy hardop “dankie tog”.

“Maar jy sal ook moet kyk hoe dokter Malan werk.”

“Ek sou so dink,” sê Roelf.

Anthony wys noukeurig vir haar alles waarmee hulle gaan werk. Soms skuur hy liggies teen haar in die beperkte ruimte, of sy hande raak vlugtig aan haar. Sy ervaar dit intens. Te intens. Hy versteur werklik haar emosionele ewewig, en hulle het nog nie eens saam begin werk nie.

*

Na die besigtiging van al die fasiliteite en gesprekke met dokter Lily Mpephu en die ander personeel, is Naomi goed op hoogte van hoe dinge op die trein gaan werk. Sy gaan terug na haar kompartement en kyk hoe snel die landskap buite die venster by haar verby. Daar is ’n rukkie om te rus voor die aandete wat elke aand van sewe- tot agtuur sal wees. Maar sy is nou so aangevuur, op so ’n high, dat sy nie na rus voel nie. Daarvoor het Anthony Baxter se nabyheid gesorg.

Sy het agtergekom dat Monique Retief se kompartement die laaste een in die gang langs die badkamers is. Langs Monique is Roelf en langs hom sal die optometris Braam Lotter intrek. Langs hom is Anthony, dan sy, dan Lily Mpephu. Die ander personeel is in die volgende waens.

Sy kyk na die verbysnellende landskap toe harde stemme in die gang haar aandag trek. Sy is so nuuskierig dat sy die deur op ’n skrefie oopmaak en uitloer.

“Waarom moet ek in die ander wa wees as die dokters in dié wa is? Waarom is die apteker hier? Ek is darem die brilmaker. Dis ’n belangrike pos op dié trein,” hoor Naomi hoe Welma Botma luidkeels kla. “Dis nie regverdig nie.”

Anthony se rustige, paaiende stem antwoord haar. “Welma, die feit dat jy in die wa by die verpleegsters en ander personeellede is, maak jou nie onbelangrik nie.”

“Julle diskrimineer. Ek hoor hier is nog een leë kompartement in dié wa.”

Anthony se stem is meteens nie meer besadig nie. Dit is meer soos ’n sweepslag. “Ons reserveer daardie kompartement vir dokter Lotter. Dokter Mpephu het vir Monique Retief hier in dié wa geplaas omdat daar nog een kompartement beskikbaar was. Almal se werk en bydraes is belangrik, van die bestuurder tot die portier tot die laaste veiligheidsbeampte. As jy ontevrede is met ons reëlings, moet jy by dokter Mpephu gaan kla en nie by my nie. Gaan spreek haar sommer nou.”

Naomi hoor met afgryse dat die meisie in trane uitbars. O, hier is werklik drama. Sy loer weer uit. Anthony het die meisie se hand gevat en hy fluister vir haar. Naomi kan nie hoor wat hy sê nie.

Meteens gaan ’n deur oop en Monique se stem klink in die gang af. “Watse lawaai is dit tog? Ek wou bietjie slaap, en nou maak julle my wakker.”

“Welma voel nie lekker nie.” begin Anthony taktvol.

“Ek het haar gekla gehoor. Jimmel, klim in Johannesburg af as jy dink ons diskrimineer teen jou, Welma.”

Anthony klink streng. “Nee, ons sal nie weer maklik ’n goeie brilmaker kry nie, en jy is goed, Welma, anders het ons jou nie gekeur nie.”

“Wat is die probleem?” kom Lily Mpephu se stem.

“Lily, praat asseblief met Welma en verduidelik …” hoor Naomi, maar Lily is amper voor haar deur en sy maak dit vinnig en saggies toe. Op hierdie trein gaan daar beslis onderstrominge en drama wees, daaraan twyfel sy nie.

*

Naomi gaan om vyf voor sewe na die eetwa, waar daar al verskeie mense gesels en kos bestel. Sy ruik die heerlike geure uit die kombuis en dit laat haar honger maag kla. Sy gaan sit by die tafel waar sy middagete geëet het. Lily Mpephu sluit by haar aan.

Naomi glimlag vir haar. “Is alles onder beheer?”

Lily slaan haar oë boontoe. “Jy het seker die relletjie in die gang gehoor.”

“Ek kon nie anders as om dit te hoor nie.”

“Ek moes mooi met Welma praat. Sy was die duiwel in, sy wou glo by die dokters bly. Kan jy dit nou glo?”

Sy kyk verby Naomi en glimlag. “Hier kom ons mooi baas. Hy kan enige ding ontlont. Daar is niks verkeerd met sy bedside manner nie. ’n Paar mense op dié trein kan by hom leer. Hallo, Tony.”

Hy skuif langs Naomi in. Sy ril letterlik en ruik sy naskeermiddel. Hy lyk ook altyd vars.

“Hallo, Lily, hallo, Naomi. Mag ek jou al so noem?” Hy is so naby dat sy kan sien hoe dig sy swart wimpers is.

“Natuurlik. Wat noem ek jou?”

“Tony. Ons kan mos maar informeel wees so onder mekaar. Stem jy saam?”

“E … ja. Tony, dan.” Sy kyk tersluiks na hom en hy grinnik.

Monique en Roelf kom saam aangestap. Hy skuif langs Tony in en Monique moet aan die oorkant van die tafel langs Lily inskuif. Naomi sien met ’n skok dat Monique giftig na haar kyk. Seker oor sy langs Tony sit. Dis tog kinderagtig om so te reageer. Sy maak asof sy dit nie agterkom nie.

Die eetwa is gou vol geselsende mense. Kelners draf heen en weer om die kos te bedien. Naomi geniet dit vreeslik om langs Tony te sit. Sy verbeel haar hy gee vleiend baie aandag aan haar.

“Weet jy iets van die geskiedenis van oftalmologie?” vra hy terwyl hy ’n broodjie uit ’n mandjie neem en dit breek.

“Ja, nogal, hier en daar.”

“Dis vreeslik interessant. Die eerste katarakchirurg was die Indiër Sushruta wat in 800 v.C. gelewe het. Aristoteles het weer diere se oë gedissekteer en agtergekom dat die oog uit drie lae bestaan.”

“Ek weet dalk iets wat jy nie weet nie. Die man wat die taal Esperanto uitgewerk het, was ook ’n oogarts. Ek vergeet sy naam.”

Tony lag. “Nee, jy lyk verniet so ingenome met jouself, ek weet wel van hom. Ek onthou ook nie sy naam nie, maar hy was ’n Pool.”

“Kyk hoe loop hulle te koop met hulle kennis,” spot Roelf.

Naomi ignoreer vir Roelf en konsentreer op Tony. “Wat weet jy nog wat ek nie weet nie?”

“Weet jy dat die president van Sirië, Bashar al-Assad, sy kliniese opleiding in oftalmologie in ’n Londense hospitaal gedoen het?”

“Nee, sowaar?”

Roelf spot weer luidkeels: “Dis waarom hy nie ’n land kan regeer nie. Hy moes liewer by oogsiektes gehou het. Nou brand sy land en haat die hele wêreld hom.”

Naomi kyk nie eens na hom nie. “Jy kom pas van Engeland af, Tony. Wat het jy alles daar gedoen?”

“Ek was by die Royal College of Ophthalmologists waar ek die MRCOphth-eksamen afgelê het. ”

Naomi kan haar verwondering en bewondering nie wegsteek nie. “Dis indrukwekkend. Die keuring is seker baie streng?”

Hy haal sy skouers glimlaggend op asof dit niks is nie. Maar sy weet net die uitblinkers kry dié geleentheid.

“Waarmee werk jy die graagste?”

“Retinale oftalmologie, laserbehandeling en chirurgie van die retina. Ek verwyder graag katarakte en werk met die kornea, die okulêre oppervlak en oogsiektes, gloukoom …”

Monique gaap openlik. Naomi is verbaas dat sy haar verveeldheid sommerso wys. Tony het dit opgemerk en frons vlugtig. Naomi trek weer sy aandag.

“Wie is volgens jou die heel beste oftalmoloog?”

“O, ek bewonder meer as een, maar ek sonder graag vir dokter Albrecht Hennig van Duitsland uit. Hy het die vishoektegniek uitgevind. Hy en sy span het in 2004 meer as agt-en-veertigduisend suksesvolle katarakoperasies in Nepal gedoen.”

“Sjoe, dis baie!”

“Ja, in vergelyking daarmee werk ons maar op ’n klein skaal. Hy is genomineer as Eye Health Hero by die jaarvergadering van die International Agency for the Prevention of Blindness in September 2012. Ek was so gelukkig om daar te wees.”

“Dit moet lekker wees om sulke erkenning vir jou werk te kry.”

“Ek weet nie of ek nagereg moet eet nie,” onderbreek Monique hulle gesprek. Sy glimlag guitig vir Tony. “Dit maak vet en jy het gesê jy kan vet mense nie verdra nie.”

Naomi sien hoe sy gesig verstrak. “Wanneer het ek dit gesê?”

“Ag, eendag toe ek jou vertel het ek is op dieet.”

“Ek het seker net ’n grap gemaak. Ek sou dit nie ernstig bedoel het nie.”

Lily Mpephu, wat rond van lyf is, frons.

*

Na ete drink hulle koffie. Toe gaan almal na hulle kompartemente. ’n Vroeë aand sal haar goed doen, dink Naomi. Môre gaan weer ’n opwindende dag wees. Eers sal sy gaan stort daar op die verste punt van die wa. Sy neem haar sweetpak, handdoek, toiletsakkie en sjampoe saam.

Net toe sy verby Tony se kompartement stap, kom hy ook uit met ’n handdoek, toiletsak en skoon klere oor sy arm. Haar simpele hart begin sommer rumoer.

Hy glimlag vir haar. “Hallo, ons het dieselfde idee. Daar is vier storte. Ons spring die ander voor. Netnou gaan dit besig raak.”

Sy beland in die stort langs syne. Die wete dat dié man net agter ’n dun afskorting nakend gaan stort, laat haar bloeddruk sommer styg. Sy kan voorstel hoe hy lyk: lenige lyf met six-pack en borshare, breë skouers bokant lang, gespierde arms met biseps wat jy onder die vel kan sien beweeg, netjiese geronde agterstewe en lang bene met kuite wat van draf en oefening getuig. Aan sy intieme attribute mag sy nie dink nie, anders gloei sy netnou soos ’n kooltjie van kop tot tone.

Sy kan water oor daardie lyf hoor loop terwyl sy self onder die water staan. Sy is so onhandig dat die sjampoe uit haar hande glip. Twee keer laat sy die bottel val. Sy seep haar hele lyf en terwyl sy dit afspoel, dink sy dat hy langsaan dieselfde doen. Oor en onder, tussen die bene. Hou tog op, Naomi. Sy gaan behoorlik aan die kook. Hoor sy hom neurie? Ja, sowaar. Hy is een van daardie mense wat graag in die stort sing.

Sy lag saggies.

Terwyl sy haar droogvryf, hoor sy hom steeds. Vinnig trek sy klere oor ’n klam lyf aan, want sy hoor sy deur oopgaan. Sy gryp haar goed en maak die deur oop, net betyds om hom te sien verbyloop, sy donker hare nat. Sy ruik die soet geur van skoon lyf en hare, en steek vas met ’n hart wat dawer en ’n kop wat duisel.

Hy kyk oor sy skouer en lag. “Die storte is so klein, ’n mens kan nie ’n kat daarin rondswaai nie. Dis amper te klein vir my.”

“Nee …” Waar het haar asem heen gegaan?

Sy loop byna in Roelf vas.

“Ek sal maar stort waar julle nie reeds die vloer natgemors het nie,” sê hy stuurs. “Hoe kom dit dan dat jy en Tony saam stort? Het julle afgespreek?”

Sy gluur hom minagtend ag. “Ag, puh-lease. Word tog groot, Roelf. Hoe sou ons so iets afgespreek het? Dit het bloot toevallig gebeur.”

Liewe hemel, gaan sy nou heeltyd met Roelf se verspotte katterigheid opgeskeep sit? Is hy regtig nog jaloers op haar? Daar is mos lankal nie meer iets tussen hulle nie.

Naomi haas haar na haar kompartement. Sy het haar hare nie behoorlik drooggevryf nie. Die water drup uit die slierte en deurweek haar kraag.

Toe sy haar deur oopmaak, kyk Tony by syne uit. Sy verstar. Het hy Roelf se simpele aantygings gehoor?

“Ek hoop die gebrek aan ruimte pla jou nie te veel nie.”

“O, nee wat. Ek kan cope. Dankie.”

“Waaroor het Roelf gekla?”

“Ag, niks belangriks nie.”

Hy kyk skepties na haar. “Goed, as jy so sê.”

Hy maak sy deur weer toe. Sjoe, haar hele lyf gloei nou. Maar terselfdertyd is sy sommer die hel in vir Roelf.

Met die oog op liefde

Подняться наверх