Читать книгу Met die oog op liefde - Malene Breytenbach - Страница 7

4

Оглавление

Naomi word wakker en kyk by die venster uit. Sy voel uitgerus en honger. Dit is al helder dag en hulle is in Gauteng, wat vir haar maar redelik vaal lyk. Sy kan die myndorpe en mynhope en die aaneenlopende nywerheidsgebiede helder en duidelik sien. Dit is lelik en neerdrukkend vir iemand wat aan berge en vrugbare, wingerdoortrekte valleie gewoond is.

Sy trek vinnig aan, want daar is net genoeg tyd om ontbyt te gaan eet voordat hulle by die Johannesburgse stasie instoom.

Tony en Lily sit reeds en eet toe sy in die eetwa aankom. Sy ruik die heerlike geure van spek en eiers, gebraaide tamatie en uie. Sien daar is roosterbrood, twee soorte konfyt en heuning.

“Dit lyk lekker,” sê sy vir die kelner. “Ek sal dieselfde kry.”

“As ek vir jou goeie raad kan gee, eet genoeg by maaltye om jou kragte op te bou,” sê Tony. “Ons kan so besig raak dat daar nie tyd is vir tussenin peusel nie.”

“Ek is nie ’n peuselaar nie,” verseker sy hom. “Ek is gewoond aan lang ure. Dikwels vergeet ek om te eet, dan kom ek naderhand eers agter ek is honger.”

Hy sny sy spek en sit dit in sy mond, digte wimpers afgeslaan. Sy kyk hoe hy kou. Hoe hy een lekkie oor sy welgevormde lippe gee. O, daardie mond! Om te dink dat dít nou so sexy kan wees. Hoe netjies hanteer daardie skoon chirurghande nie die mes en vurk nie.

Die vorige aand het hy sulke klein skeppies van sy roomys geëet. Hy is nie ’n gulsige eter nie. Selfs die manier waarop hy sy mooi mond met die servet afvee, so versigtig en deeglik, is vir haar sexy. Hy gooi die servet nie sommer neer soos wat Roelf doen nie. Nee, hy vou dit netjies op en plaas dit mooi langs sy bord.

Alles omtrent hom staan haar aan en dwing bewondering af. Tot dusver. Hy kan tog nie volmaak wees nie. Een of ander tyd gaan sy geite ook geopenbaar word.

Sy het al amper klaar geëet teen die tyd dat Roelf tafel toe kom. “Het jy lekker geslaap?” vra sy ordentlikheidshalwe, al sien sy hy lyk dikmond.

“So-so. Dis maar moeilik vir ’n groot ou soos ek om gerieflik op ’n piepklein treinbedjie te slaap. En jy?”

“Soos ’n baba wat sy melkies inhet.”

Lily en Tony lag, maar Roelf nie. Hy kyk haar spottend aan. “Die kompartemente is nogal vir dwergies soos jy ontwerp.”

“Ek is allesbehalwe ’n dwergie,” protesteer sy ergerlik. “Vergelykenderwyse is ek nogal lank.”

“Maar veel kleiner as ek.” Hy wink die kelner nader en bestel ook die volle Engelse ontbyt. “Twee gebakte eiers, asseblief. Sunny side up en nie drooggebak nie.”

Naomi kan haar ergernis skaars wegsteek. Die kos is regtig uitstekend en al wat hy doen, is kla en eise stel.

“Ek dink die spyseniering is uitstekend,” sê sy aspris hard. “My ontbyt was baie lekker en presies soos ek dit wou gehad het.”

“Dankie,” sê Lily. “Ek dink ook dis besonder lekker. Ek kan tot dusver glad nie kla nie.” Sy kyk afkeurend na Roelf. “Ons het spyseniers met ’n uitstekende reputasie gekies en hulle lei mense op wat gesog is in die beroep.”

Eers tien minute voor die einde van die etensuur kom Monique eet. Sy is uitgerus en opgesmuk, haar oë taamlik swaar gegrimeer.

“Ek is reg vir enigiets. Bright-eyed and bushy-tailed.”

Tony se wenkbroue lig. “Jy is seker nie honger nie.”

“Haai nee, ek is honger genoeg om ’n bees te eet.”

“Jy het net …” Hy kyk op sy horlosie. “Nege minute om daardie bees te eet, dan ruim die mense op. Hulle wag nie vir laatkommers nie.”

Sy pruil. “Miskien moet julle ’n klok lui om ons te roep.”

“Miskien moet ons,” merk Lily op. “Lyk my dis vir party mense nodig.”

Monique roep die kelner, bestel roosterbrood en konfyt en “lekker swart koffie wat nie kitskoffie is nie”.

“Vertel ons meer omtrent die optometris wat ons in Johannesburg gaan oplaai,” sê Roelf. “Hy gaan tog nie probeer opereer nie, gaan hy?”

Irritasie vliet oor Tony se gesig. “Nee, natuurlik gaan hy nie opereer nie. Net ek en jy gaan. Ons oortree geen reëls op dié trein nie. Hy sluit by ons aan om minder ernstige oogbeserings en siektes soos gloukoom te behandel, en goed soos diabetiese retinopatie. Hy het ’n jaar gelede gespesialiseer en was ’n protégé van my broer, Ray, wat ook as optometris gekwalifiseer het. Hy het akademies uitgeblink en toe kry hy ’n pos by die universiteit.”

“Die Universiteit van Johannesburg?”

“Ja.”

“Wil jy weet hoe hy lyk en of hy aantreklik is of nie?” spot Monique, en skraap ’n dun lagie aarbeikonfyt oor haar roosterbrood. “Dalk hou die vroumense meer van hom as van jou.”

Weer sien Naomi vlietende irritasie op Tony se gesig.

“Mense, gedra julle tog professioneel,” sê hy. “Ons maatskappy stel bekwame mense aan. Mooi of minder mooi is nie belangrik nie.”

Monique kyk hom koketterig aan en vat ’n hap van haar roosterbrood. Kou-kou sê sy: “Looks is nogal belangrik wanneer dit by dokters kom, sou ek sê.”

“Nee, kennis en empatie, en die vermoë om toe te pas wat jy geleer het, is die dinge wat belangrik is.”

Naomi hou hulle dop. Wil Monique vir Tony vlei deur op sy aantreklike voorkoms te skimp? Hy lyk nie gevlei nie. Hy is verbasend onydel. ’n Ander mooi man, wat gesteld is op voorkoms, sou nie so afwysend gereageer het nie. Sy kry sommer meer respek vir hom.

“Julle sal van Braam Lotter hou,” sê hy. “Hy is bekwaam en hy het ’n lekker sin vir humor.”

Monique vee ’n stukkie konfyt met haar vinger van haar mondhoek af. “Ag, hy kan tog so verspot raak, dit gee my ’n kramp.”

“O, ken jy hom dan?” vra Roelf.

“Ja, hy is mos Tony se tjommie.”

Tony kyk afkeurend na Monique. “Moenie die fout maak om te dink dat Braam bloot ’n grapjas is nie. Hy hou daarvan om mense te laat lag en hy maak kwinkslae, maar oppervlakkig en verspot is hy beslis nie. Jy kan in enige situasie op hom staatmaak. Hy het ’n goeie hart.”

*

Die Johannesburgse stasie is ’n miernes van bedrywigheid soos mense heen en weer haas om treine te haal of van hulle af te klim. Tony het vooraf gevra dat die oogtrein se mense nie afklim nie en dat hulle almal weer in die eetwa moet vergader sodra die nuwe mense opgeklim het. Dan vertrek die trein.

Naomi sit by haar venster en kyk na die beurende massas. Uiteindelik sien sy ’n skraal blonde man wat deur die mensemassa beur. Lily staan net buite hulle wa op die perron en wuif vir hom. Hy wuif terug, sleep ’n tas agter hom aan. Uiteindelik bereik hy vir Lily. Naomi probeer sien hoe hy lyk, maar vroue met tasse versper haar uitsig. Sy vermoed dit is die teatersusters wat ook aanmeld. Almal praat eers met Lily voordat hulle op die trein klim.

Na ’n rukkie hoor Naomi stemme in die gang. ’n Man lag vrolik.

“Jis, ek moes jaag dat die stof so staan. Hallo, Tony, ou pellie. Lekker om jou te sien. Goed om weer hier onder die engele te wees.”

Die stem vervaag, maar sy hoor twee mans lag. Braam Lotter en Tony is beslis groot vriende. Sy is nou baie nuuskierig om hom te ontmoet en kyk op haar horlosie.

Nou-nou vertrek die trein.

*

Almal sit al in die eetwa op hulle gewone plekke toe Braam Lotter en die nuwe verpleegkundiges laggend en geselsend inkom. Hy wuif al van ver af. Tony en Lily staan op om hulle te verwelkom en nou kan Naomi hulle goed bekyk. Braam Lotter is korter as Tony en skraal gebou. Sy kortgeknipte hare en sy wenkbroue is vlasblond, sy vel bloedrooi gebrand asof hy onlangs baie in die son was. Sy oë is ook blou. Hy glimlag onophoudelik met mooi tande waarvan die twee voorstes effens skeef is. Naomi voel klaar sy sal van hom hou.

Lily maak die mense stil. “Dít, mense, is dokter Braam Lotter, ons optometris, en ons teatersusters, Grace Apane en Joan Smit. Baie welkom, almal.”

Sy neem die drie na die verskillende tafels en stel die ander mense aan hulle voor. Laaste kom sy na Naomi-hulle se tafel. Een-een stel sy hulle voor. Toe Naomi aan die beurt kom, steek Braam Lotter sy hand na haar uit en druk hare ferm.

“Dit is dokter Naomi Harker, wat in oftalmologie wil spesialiseer,” sê Lily.

Die blou oë is nie spottend nie, maar vrolik en vol bewondering. “Wragtág! Vreeslik aangename kennis.”

Naomi se wange word warm van verleentheid, maar Braam draai weg na Roelf en groet hom met die hand.

Tony kyk geamuseerd na haar, wat haar gesig nog meer laat gloei. “Ek het Braam vertel van die GP wat op Elim gewerk het en saamkom. Ek en jy sal hierna jou pligte moet bespreek. Ons werk begin môre, wanneer ons by Polokwane aankom. Dan moet almal weet wat om te doen.”

“Nou gaan ons eers lekker tee drink om almal finaal te verwelkom,” sê Lily.

Naomi is verbaas om te sien dat die chef se personeel ’n verskeidenheid terte, koeke en kolwyntjies wat watertandlekker lyk by die tee voorsit.

Braam Lotter skuif langs Naomi in. “Lyk my dis die Mad Hatter’s Tea Party. Maar ek is die enigste malle. Julle ander lyk almal normaal, net sommige is veel mooier as ander. ”

“Nog altyd so mal soos ’n haas,” terg Tony laggend.

Braam lag en begin aan sy stuk suurlemoentert eet. “As die innerlike nou al so versterk word, sien ek uit na die res.”

Nadat hy die stuk lekkerny vinnig opgeëet het, draai hy na Naomi. “Vertel my alles omtrent jouself, mooi dokter.”

“Noem my asseblief Naomi. Dis nie nou die tyd en plek vir my CV nie, Braam.”

Hy trek ’n gepynigde gesig. “Later, dan. Ek moet mos my kollegas goed leer ken. Ons gaan tog nou saamwerk. Ek sal jou moet nooi vir ’n tête-à-tête, as Tony dit sal toelaat. Hy en dok Lily swaai die septers hier.”

Hy slaag werklik daarin om die hele geselskap op te vrolik, dink Naomi goedkeurend. Almal om hom lag en gesels. Hy roep selfs oor die gang na Welma Botma.

“Haai, ek hoor jy is allesbehalwe ’n dom blondine. Ons gaan lekker saamwerk. Ek skryf die brille voor, jy maak hulle, ons vra dubbel die voorgeskrewe prys. Ons betaal vir die Baxters wat hulle toekom en pocket die res. Na die toer is ek en jy dik in die geld.”

Welma lag. Sy reageer so vrolik dat Naomi verbaas is. Braam kry dit tot reg om haar belangrik te laat voel.

Hy draai na Tony. “Jy kan seker nie wag om die blindes weer te laat sien nie.”

Tony grinnik. “Ek ís nogal haastig om aan die werk te kom.”

Met die oog op liefde

Подняться наверх