Читать книгу Sondag van die silwersee - Maretha Maartens - Страница 6
4
ОглавлениеDis nag, weet ek. Nie net buite die gordynlose vensters van my vissermanshuis nie, maar ook op my selfoon se skermpie. Dalk het ek ’n berekeningsfout op die ingeboude sakrekenaartjie gemaak. Spandeer ek tweehonderd drie en negentig sent, is ek onderdeur, in die rooi, kniediep in ’n krisis.
Ek is rééds kniediep in ’n krisis, maar ek wil dit nie op ’n skermpie in die palm van my hand sien nie.
Die toegeplakte bokse staan om my. Die vensterbanke is vol stof. ’n Kokkerot hardloop oor die vloer, maar ek sit waar ek sit: op een van die twee stoele in die kombuis.
Ek maak somme asof ek nog op skool is en eksamen skryf. Moenie sommer jou antwoordstel ingee nie, het Pa voor elke wiskunde-eksamen gesê. Maak dubbel seker. Jou mamma het ’n wiskunde-kop gehad, maar met wiskunde-kop en al het sy nooit op haar louere gerus nie.
Ek maak dus dubbel seker. Die somtotaal van my basiese finansiële verpligtinge lyk soos ’n gekkedaggrap op die selfoonskerm, maar dis die einde van Januarie. Ek het ’n huis gekoop. Dis nie ’n gekkedaggrap nie; dis die verpligtinge van ’n huiseienaar wat ’n paar maande gelede nog ’n onbesorgde student was.
Huispaaiement. Brandstof. Water, elektrisiteit, munisipale dienste. Eiendomsbelasting. Selfoonkontrak, selfoonoproepe. Kos. Klererekening (verlede winter se klere). Vervoerkontrakteursrekening.
Mediese fonds (Pa het daarop aangedring). Assuransie (Pa het gesê hulle kan hulle tjappe maak dat die bedrading in orde is, maar hy sal dit eers glo wanneer hy self in die plafon van hierdie ou huis rondgekruip het). Begrafnispolis (wie gaan dood as jy 22 jaar oud is, maar Pa het sy voet neergesit).
Besoek aan Pa, 1 500 kilometer ver, 3 000 kilometer retoer (want wie sou ooit kon dink dat die Doodsengel so knaend op Pa se spoor sou bly?).
O, die goeie, oue tyd.
Die voordeurklokkie: klaerig en op sy laaste bene, maar nietemin.
Dis Andrew, weet ek met die opstaan van die deurmekaar kombuistafel af. Ek hoef sy silhoeët nie eens deur die stowwerige glaspaneel in die voordeur met die nuk in die slot te sien nie.
Ek maak die deur oop en hy staan daar asof ’n profesie so pas in vervulling gegaan het.
Hy glimlag kopskuddend, ai, Farah, ai, ai. Hy het voorspel dat ek my fout sou agterkom, dat ek wel sou ontdek dat ons twee vir mekaar bestem is. Hier het dit nou gebeur, al probeer ek dit steeds ontken.
“Jy’s nie oukei nie,” sê hy. “Is dit die ding van die skool? Die vark.”
“Hoe weet jý van die skool?” trap ek die wip af.
“Ek werk by ’n koerant, het jy vergeet? Twee minute nadat die nuus ingekom het, weet almal dit.”
Hy gee my die gesigkyk. “Die ouers?” omskep hy die stelling in ’n vraag, soos hy gereeld doen wanneer hy oorskakel na Andrews.
Ek kan die stellingvraag sonder hulp in Afrikaans vertaal: Dink jy die ouers sal stilbly? Hulle het die koerant geskakel. Kon jy dit nie self uitgepluis het nie, my liewe klein Farah?
“Maar jý,” sê Andrew en stoot my voordeur agter hom toe. “Hoe raak dit jou?”
“Ek het jou nie ingenooi nie,” sê ek.
“Ek weet,” sê hy. “Ek aanvaar jou verskoning.”
Ek neem voor hom stelling in en span my arms oor die breedte van die gang.
“Ek het jou nie hier nodig nie. Ons is nie meer saam nie. Dit werk nie; ons kan nie verander nie – nie ék nie, nie jý nie.”
Ek gaan in trane uitbars.
“Ek wil jou nie verander nie, Farah.”
Hy buk onder my arm deur, in my sitkamer in. Hy gaan op die mat sit, want die enkele sitkamerbank is toe van die wintersklere wat ek vanoggend uit een van die bokse gepluk het. Hy trek sy knieë op en klap met sy plathand op die mat, soos vir ’n meestal gehoorsame troeteldier.
“Kom sit hier,” sê hy. “Jou situasie is te benard vir speletjies. Ek is hier om jou te help. En omdat ek lief is vir jou, verdomp. Ek wil hoor wat gebeur het, van begin tot einde.”
“Jy kan niks aan my situasie doen nie,” sê ek en begin huil.
Ek gaan naby hom op die mat sit. Om te stáán en huil terwyl jou gewese trouman op die mat met sy rug teen jou beklotterde rusbank sit, is vernederend. Daar is nie ’n sakdoek of sneesdoekie in sig nie; ek bewerk my lopende neus met die agterkant van my hand.
Andrew gee vir my ’n flambojante rooi sakdoek aan. Ek het dit vir hom in Barcelona gekoop. LE AMO, sein die sakdoek die liefdesverklaring wat ek in gelukkiger tye gedoen het vir my terug.
Ek snuit my neus in die sakdoek. No le amo – kry dit in jou kop, renoster! En ek huil voort, verward en bang. Le amo, le amo, maar hoekom voel dit dan asof ek die enigste vrou op aarde is wat so gereeld onder die duikkloppershamer moet deurloop?
Die merkwaardige Andrew Scott is ’n duikklopper wat te dikwels Andrews met my praat. Maar gestel ek is te liggeraak, gestel ek . . .
Die merkwaardige Andrew Scott trek my nader en vou my in sy arms toe.
“Ek staan by jou,” sê hy. “Jy gaan ander werk kry; ek sal jou help. Ons gaan hierdie bokse uitpak; dit gaan húis word. Gee my tien minute – ek gaan vir ons kos koop. Soos wat ek jou ken, het jy vandag nog nie nat of droog oor jou lippe gehad nie.”
Nee, wil ek sê. Dis mý lewe; jy het joune, elders.
Maar hy het reeds opgespring, my lenige, topfiks eks.
“Hoender, vis, hamburger, tjips?” vra hy. “You say, I do.”
Ek besef hoe honger ek is. “Hamburger met kaas,” verkrummel my weerstand. “Maar jy moenie –”
“Ek’s nou terug,” sê hy. “Gaan was jou gesig. Nóú gaan ons hierdie ding fight.”
Hy verdwyn by die voordeur uit. Ek gaan was my gesig en ek weet: vanaand het ek twee groot probleme. En ek het hulle oor myself gebring.
Ek skakel die hospitaal en vra hoe dit met Pa gaan.
“Sy toestand is onveranderd,” sê die stem aan die ander kant. “Serious, but stable.” En soos ’n nagedagte: “Are you Ria? He asks for someone called Ria.”
“Ek verstaan jou nie,” sê Andrew.
“Dis die probleem,” sê ek, maar ek eet nogtans hongerig aan my kaasburger. Tussen die happe deur sluk ek lemoensap soos wat die man van die papierlose omgewing water uit sy waterbottel gedrink het.
“Farah,” sê Andrew, “as jy kinderagtig wil optree, gaan ons nêrens kom nie.”
Ek lek my vingers af en drink die laaste bietjie lemoensap.
“Dan moet ek ophou met my kinderagtigheid,” sê ek. Ek voel weer méns; ek het geëet. “Ons moet by die voordeur kom.”
“By die voordeur?”
Ek mag nie ingee nie. “Sodat jy kan uitgaan.”
Hy word nie kwaad nie. “Jy’s ’n stunning girl,” sê hy. “Van binne en van buite.”
“Maar?” Die stunning girl skrik vir die bitterheid in haar eie stem.
“Maar jy kan nie opbouende kritiek vat nie. Ons het almal foute, Farah. Ek het foute, jy het foute –”
“Land Rovers het foute, Jeeps het foute, foksterriërs het foute . . .”
“Jy kan probeer, maar jy gaan my nie kwaad maak nie,” sê hy.
Ek frommel die waspapiersakkie op en bly daarmee in my hand sit. Elke vertrek in die huis moet nog sy snippermandjie kry.
“Jy dink ek probeer jou kwaad maak,” sê ek vir hom. “Jy misgis jou.”
Hy bestudeer die tekstuur van die vleiskoekie in sy hamburger, sy energiedrankie nog onaangeraak.
“Jy,” sê hy oplaas, “is kwaad omdat jy één enkele ding nie verstaan nie. In ’n verhouding slyp mense aan mekaar. Elkeen van die twee partye het die reg om vir die ander party te sê hoe hy of sy voel. Dis ál wat ek gedoen het, Farah. Wanneer ek voel daar’s nie vibes nie, sê ek dit vir jou.”
“Vibes in die Wasvrou-arkade, vibes in die mall, vibes in die môre, vibes om middernag.”
Sy lippe word styf. “Wanneer ek voel die fokus verskuif, vestig ek jou aandag daarop. Dis wat ’n verhouding laat werk: vibes, commitment, prioriteite.”
“Prioriteit nommer een: Andrew. Prioriteit nommer twee: Andrew. Prioriteit nommer –”
“Nou bly jy stil,” ontplof hy skielik.
“Sjuut! Die bure hoor jou!”
“Hulle het al erger dinge gehoor.”
Hy kyk in my oë. “Ek wil nie tweede viool speel nie, Farah. Ek wil nie die gevoel kry dat alles vir jou belangriker is as ek nie – jóú foto’s, nooit myne nie. Wat sal die mense sê, vorms, mail, jou tante se probleme, jou pelle . . . ’n bleddie roomys wat in die son smelt! Jy vlug vir die liefde, en ek weet nie waarom nie. Ek is lief vir jou. Maar nes ek dit begin wys, het jy een van jou verskonings of kies jy die hasepad.”
Hy sal my die roomys-episode in Barcelona nooit vergewe nie.
“Andrew,” sê ek, “kom ons doen twee dinge. Jy gaan huis toe, want vanaand gaan ons net rusie maak. Ek –”
“Wat is nommer twee?”
“Dat ek ’n belofte aan jou maak. Ons sal weer praat.”
“Waaroor?”
“Oor ons. Maar vanaand het ek alleentyd nodig. Vanaand moet ek probeer uitpluis wat ek omtrent my geldsake . . . omtrent wérk gaan doen. Dis die verkeerde aand vir –”
“Die man in jou lewe. Vanaand is géld prioriteit nommer een vir jou. Kom ons raai wat nommer twee is: dalk jou werk? Prioriteit nommer tagtig: ons verhouding.”
Ons het nie meer ’n verhouding nie! wil ek dit uitskree. Maar ek het bure, ek het genoeg gehad, en ek het net een begeerte: om alleen te wees.
“Jammer as ek jou pas in die gesig gevat het,” sê ek dus. “Maar nou moet jy my regtig verskoon.”
Hy eet sy hamburger eers klaar. Daar is aggressie in elke hap. Hy frommel die waspapiersakkie op, soek na ’n vullisdrommetjie en gooi dit uiteindelik in ’n oop boks.
Ons sluit die voordeur oop; hy loop die winderige nag styweskouer-styweskouer in, geriefsbottel met die energiedrankie in sy hand vasgeklem. Ek druk my probleemdeur van binne af weer op knip voordat ek die ganglig afskakel.
Andrew Scott, ses voet twee sonder skoene, universiteitskoorstem, Midmar-swemmer, lenige lyf en boonop geseën met rookgrys oë onder interessante swart wimpers, is – of was – die derde man op wie ek my hart verloor het.
Koot het ’n hart van goud gehad. Hy was opmerklik goed vir my, aanvoelbaar goed. Koot se tweede naam was Meneer Behulpsaam. Koot was ’n luisteraar, ’n vaal engel. ’n Liewe, beskadigde blondine wat van vaal engele hou, het ingezoem op sy bereidwilligheid om na afvlerkmense te luister. Ek het Koot verloor.
Barry, die tweede man in my lewe, was intelligent en musikaal: hy was die marimbaspeler in die universiteit se slagorkes. Hy het dikwels marimbamusiek vir my gemaak: wonderlike, vreemde Afrikamusiek.
Maar sy maag het my gepla, van die eerste dag af. Ek het myself keer op keer streng vermaan: die uiterlike maak nie saak nie; goeie mans kom in elke vorm en fatsoen. Jy kry langes en breës, jy kry ligte beenstrukture, swaar beenstrukture, plattes en bonkiges, robuuste mans en dié met sensitiewe gesigte en seningrige lywe. Jy kry die Napoleons en die Churchills, die Franse Hugenoot-tipe, die Jan van Riebeecks met hulle lokke en poniesterte.
My en Barry se verhouding het net ’n semester lank gehou – die langste semester van my lewe. Barry se maag het soos dié van ’n moedertjie op haar laaste by ons verbygesteek wanneer ons gaan stap. Op die kampus het die studente nie van ons as paartjie kennis geneem nie. Barry se maag het meer aandag as ons twee saam getrek.
Pa was ook nie juis simpatiek nie.
“Nee, aardetjie, my kind,” het hy ná die eerste ontmoeting gesê. “Is die man siek? Nié? Dan is daardie pens van hom ’n balie vol slegte nuus, musikaal ofte not. ’n Man met so ’n maag eet sy ma én sy vrou uit die huis uit. Daardie soort man huur tuindienste vir hulle tuine: hulle kan en wil nie buk nie. Hy sal nooit vir jou ’n gloeilamp teen die plafon kan vervang nie. Julle sal ekstra vir vliegtuigsitplekke moet betaal, want hy gaan nie inpas nie. As hy nie siek is nie, moet hy iets aan sy lyf doen.”
“Pa, die uiterlike is –”
“Die uiterlike vertel hard en duidelik hoe dit binnekant gaan,” het Pa gesê.
Vier maande nadat ek ’n huilende man – met ’n maag wat saamween – die trekpas gegee het, pluk Andrew Scott my uit die pad van ’n aankomende taxi.
Ek weet presies wat ek kop onderstebo loop en dink het pas voordat ek die remme – en die stemme – hoor skree het. Jy kon hom bygestaan het, Farah, het ek gedink. Jy kon saam met hom op ’n koolsopdieet gegaan het. Jy kon vir jou ’n tweeplaatstofie aangeskaf en vir hom koolsop in jou koshuiskamer gekook het. Jy en Barry kon saans saam koolsop geëet het. Jy kon hom geïnspireer het; nou het jy sy lewe verwoes.
Toe skree die remme en die stemme en ’n hand so groot soos ’n skopgraaf ruk my terug sypaadjie toe. Ek kyk op in twee rookgrys oë met pikswart pupille.
“Jý,” sê die man met die skopgraafhande, “was nou pas amper dood.”
Die taxi cruise verby en die oe . . . en aaa oor die man met die groot hande en die swart pupille blý. Ek wou langer in sy oë gekyk het, maande lank tyd gehad het om hom te leer ken en verstaan.
Dis belangrik om ’n man eers uit te kyk, het Pa vir my gesê toe ek nog met Koot die Onskuldige uitgegaan het. Jou ma is dood, ek is nie goed met al die prate wat ek met jou behoort te praat nie, maar ek weet een ding: ’n meisie moenie soos ’n mot in ’n kersvlam invlieg nie. Dis waar die vlerkies brand. Leer die man eers ken. Vind uit hoe sy kop werk. Kyk hoe hy sy ma behandel. Hou sy oë dop. ’n Mens sien driekwart van wat jy wil weet in ’n ander mens se oë.
Koot gee my kans om te praat, Pa, wou ek vir hom sê. Hy luister, hy’s ’n stille luisteraar. En hy sit meestal vreeslik stil.
Nadat die blondine met haar lewensverhaal van sewehonderd luisterure Koot van my afgerokkel het, het dit tot my deurgedring dat die vibes tussen my en Koot eerder klank- as chemiese golwe was.
Barry se marimbas het die hele lug vol vibes gemaak. Net jammer van sy maag en sy weersin in enigiets wat met die letters G, Y en M gespel word.
Toe ruk Andrew my uit die pad van die taxi en teen sy wonderlike lyf vas.
Chemiese vibes is anders as klankgolwe, het ek uitgevind. Met die bietjie gesonde verstand wat daar in die aanslag van chemiese vibes in my oorgebly het, het ek geweet: Ek moet Andrew se kop en hart darem seker ook op ’n manier leer ken. Die Lyf het ’n binnekant. Die Siel sit hier iewers onder die six-pack.
Wat wou ek eintlik van Andrew weet?
Ek wou weet of hy voor by die manne gesit het tydens die Granada-Dakar-uithouwedren. Ek wou veral weet waaroor hy en sy pa in Spanje gesels het. Sy ouers is immers kort daarna geskei.
Pa het vir my gevra of Andrew ooit sy pa en ma se egskeiding met my bespreek het. Sy ouers se huwelikskrisis het die koerante gehaal – Gyro Scott was nog altyd ’n nuusmaker.
’n Paar lelike stories het die rondte gedoen. Gyro het haar misbruik, het Tina Scott beweer. Aan die begin van hulle getroude lewe het sy gedink sy misgis haar, maar later het sy besef hoe senuweeagtig sy geword het, hoe min sy in haarself glo. Die eise wat hy aan haar gestel het, was hoog. Sy moes hulle voertuigonderdele-onderneming bestuur en dit gereeld vrou-alleen doen, want Gyro was dikwels van die huis af weg.
Sy het die gevoel begin kry dat Gyro Scott haar net gebruik. Hy het sy affairs gehad; almal het dit geweet. Sy was eensaam en verward, en ’n vriendin se man het haar vertroueling geword. Hy het haar soos ’n vrou laat voel, het sy vir ’n joernalis gesê. Sy het haar vriendin se huwelik op die rotse laat beland.
“Daar was ’n diep kraak in daardie huis,” het Pa een aand laat oor koffie en beskuit vir my gesê. “Moenie oorhaastig wees nie, my kind. Dis maar ’n uitsorteerdery voordat ’n mens die regte een kry. Dié Andrew-kêrel is heelwat aansienliker as die arme Barry. Maar nou moet jy by die oortuiging hou wat jy so duidelik vir jou pa uitgespel het: dit gaan nie oor die uiterlike nie.”
Ek was dikmond. My en Pa se lewensoriënteringsessies het maar altyd sy dikbekfases gehad. Verliefdheid as besprekingstema was bo sy vuurmaakplek. En ek was verlief en koppig.
“Hierdie man,” het ek vir Pa gesê, “is anders as al die ander.”
“Hy is Gyro Scott se seun,” het Pa my saaklik op my plek gesit. “Doen jouself ’n guns: vind uit hoe Andrew oor sy ma voel. Dit gaan ’n invloed op julle twee se verhouding hê. Soms wil-wil dit vir my voel asof ek al iets van dié invloed by julle ruik.”
“Nonsens,” het ek gesê, die n’e soos ’n gekners van tande. “Assebliéf! Pa is net weer paranoïes.”