Читать книгу Katryn van die klipdassies - Maretha Maartens - Страница 3
1
Оглавление“Ek wil nie naby wees as iemand hierdie sakke oopmaak nie,” het my broer Bert daardie nag gesê, sy MP4-speler se oorfone steeds in sy ore. “Ek sê nog: julle vat ’n vet kans met hierdie etikette. Julle moet liewer kompos daarvan maak. Ma kan mos gate laat grawe.”
Julle. My broer het eintlik gesê: “Hierdie gemors is julle probleem.”
Die verpakkingsproses in trurat, het ek dof gedink. In die plek van die indrukwekkende span kapsule- en pillepakkers wat al soveel jare lank onder die geklank van barokmusiek hulle werk in die pakskuur doen, het ons ’n moeë dekonstruksielyn geword: Brian, Bert, Ma, ek.
’n Omvangryke werkskeppingsprojek onder die goue sambreel van hoë silwereikbome in volle blom, het die senior joernalis van die toonaangewende tydskrif KOP die werksaamhede op Müllerhof ’n jaar tevore beskryf.
Een van die eerste dinge wat die besoeker opval, is dat almal op die terrein steeds na die nuwe, argitekontwerpte gebouekompleks as “die pakskuur” verwys, asof die swaarkry, die saamwerk en die winterkaggelvure in die gesellige ou pakskuur van die vestigingsjare nog vlak in die geheue lê.
Ek het daardie dag saam met die middeljarige verslaggewer – ’n man met ’n aansienlike gimnasiumlyf – deur die aanleg gestap en spoedig geweet hy is ’n uitgeslape rokjagter. Maar sy oë was darem na alle kante toe oop, byna soos ’n vlieg s’n.
In vleuel A van die LeanRLeanest-verpakkingsaanleg op Müllerhof, het hy ná heelwat kom-nader-kykies ge-skryf, word al die produkte wat in die Müllers se Stadspa’s verkoop word – van ontwerpersleotards tot dieetaanvullers – verpak en van etikette voorsien. Vleuel B is altyd ’n miernes van bedrywigheid, want hier word die firma se geskenkprodukte sonder uitsondering elke jaar in nuwe baadjies geklee. Vir ’n LeanRLeanest-werknemer is ’n oorplasing na vleuel B dan ook ’n groot loopbaanmylpaal. “Vleuel B,” verduidelik Eggert, “is die prestigevleuel. Dis die plek vir personeellede wat hulleself as lojaal, kreatief en verantwoordelik bewys. In vleuel B werk die personeel die hele jaar aan konsepte en idees – hulle is die kreatiewe span wat bepaal hoe ons geskenkprodukte die volgende jaar op die winkelrakke moet lyk. Gebeur dit dat hulle skeppende idees soos met verlede jaar se Kersseisoen op ’n wegholsukses uitloop, ontvang elke personeellid wat by die produk betrokke was, een van die belonings op die maatskappy se kieslys: koepons vir kruideniersware-aankope, meestal vir ’n jaar; gesinsnaweke by ’n nabygeleë vakansieoord; tien dae betaalde verlof; die geleentheid om op die maatskappy se koste vir ’n kursus van die werknemer se keuse in te skryf; borgskap vir ’n kind wat op ’n skooltoer moet gaan; aandele; dié soort van ding.”
Die meeste rokjagters met wie ek al paaie gekruis het, is linkshandig. Hulle gebruik hulle regterhande vir aanraak, boudklap, broekgordel-verwante bewegings, hand-op-die-skoonheid-van-die-oomblik-se-pols, dié klas van ding. KOP se verslaggewer het aantekeninge bly maak en ek het gesien hy is linkshandig. Hy het ook oor die uitsonderlike vermoë beskik om twee mense gelyktydig vol in die oë te kyk. Pa het gevoel hy word vas in die oë gekyk, met respek, en ek het gevoel ék word stip en sonder respek in die oë gekyk, maar nie om die beurt nie. Heeltyd.
Vleuel C, het die rokjagter-verslaggewer nogtans geskryf, is die plek van die maerwordprodukte. Soos in vleuels A en B, werk LeanRLeanest se kapsule-, poeierdrankie- en pillepakkers in oranjegeel uniforms. Ook hier is Frieda – en deesdae ook haar dogter Katryn – se stempel duidelik sigbaar. Soos in die rusareas van die ander vleuels, is die koffiemasjien en sagte matte, leunstoele, koerante, hoofpynpille, vrugte in seisoen en groot blikke tuisgebakte karringmelkbeskuit standaard-toerusting. “Deesdae,” vertel Frieda, “is almal mos gesondheidsbewus. Ons werkers het tydens een van ons personeelvergaderings gevra vir semelkarringmelkbeskuit en ons het die versoek aan die kok oorgedra. Met die nagereg wat ons in die eetsaal beskikbaar stel, is dit dieselfde. Vroeër was Vrystaatpoeding of malvapoeding ons werkers se nommer-een-keuse. Nou is dit waatlemoen, jogurt, spanspekskywe of vars vrugteslaai.”
Die Müllers, het die artikel verder gelui, vertrou hulle werkers. Elke werknemer bepaal self wanneer hy of sy ’n blaaskans nodig het. Wegkomkafees, noem die Müllers die gesellige asemskep-areas. Hier tref jy gereeld ’n pakker of twee aan wat bene uitgestrek met ’n beker skuimkoffie in die hand na die bedrywigheid van die vinke in die groot palmboom voor die venster sit en kyk, voordat daar teruggekeer word na die werkstasies. “Hier beraad die personeel mekaar soms selfs buite die gebou onder die waaksame oë van die klipdassies,” vertel Frieda Müller. In haar woorde: “Skep ’n omgeeruimte in die werkplek, en jou werkers begin ook vir mekaar omgee.”
“Klipdassies?” het die KOP-joernalis seker gemaak dat hy reg gehoor het. “O ja, natuurlik. Daar sien ek een, nee, drie! Ek het nie geweet daar is so baie van hulle in hierdie gebied nie?”
Ma het kommentaar gelewer, maar hy was in werklikheid weer besig om sy merkwaardige kyk te kyk: een oog op die klipdassies, een oog op sy aantekeninge en albei oë óú-kalant-wellustig op my.
Gee aan ander en dit gaan goed, sou ek enkele maande later vir hom kon sê. Skryf dit, meneer die joernalis. Ons werknemers is mense, en mense hou daarvan om te ontvang. Maar laat die swaarkry begin, dan draai die wiel. Dan spartel jy alleen en alles word swart.
Die aand toe ons etikette moes afskuur, het Ma swart kringe onder haar oë gehad, en Brian was nog in sy swart drafbroekie en agterstevoor swart pet. Ek en Bert het albei swart T-hemde aangehad. Die feit dat myne met ’n Eat Pork or Die-slagspreuk en Bert s’n diep onder die kreukels en tussen die rafels en gate met ’n ontwerperslogo gespog het, het niks aan die saak verander nie. Van vrolike oranjegeel was daar in óns dekonstruksielyn geen teken nie.
Alles in trurat, het ek met etiketgom onder my vingernaels en in my nek gedink. Of nee, ek het dit sommer net geweet; ek het nie gedink nie. Ek kón nie dink nie. As jy so kniediep in die sop is, sweet jy eerder. Jy word dom en lomp. Jy boemel, soos in ploeter, soos in sleep, soos in jouself voortsleep deur honderde liters gom en ’n ton papierpulp.
Jy kerf met die lem van ’n skerp mes of met ’n skêrpunt deur die plastiese seëlingsomslag tussen die bottelnek en die prop. Jy draai die peuterbestande prop af, gooi die groen kapsules in die vullissak voor jou op die toonbank en dompel elke leë donkerbruin botteltjie by ’n stuk of tweehonderd ander in die wasbak, of in ’n emmer vol water. Die meeste sluk borrels, nes die firma.
As jy gelukkig is, trek jy die etikette ná tien minute af. Die hardnekkige gom word sonder seremonie met draadskuurders afgeskuur en die skoon botteltjies onderstebo op die droograk geplaas sodat hulle kan drupdroog. Telkens wanneer die wasbakke soos sopkomme begin lyk, hark jy die pap etikette en die slymerige papierpulp waaruit sowel die maerwordbeloftes as die fynskrif gewas is, uit die water, pers die vloeistof daaruit en stort die pulp in die naaste vullissak. Dit alles doen jy sonder handskoene. Die lewe reik geen handskoene uit as ’n gesin sy moses teëkom nie.
Die gewraakte goud-en-asuurblou LeanRLeanest-etiket het nog op die bykans seweduisend botteltjies gepryk wat die aand ná nege uit die stoorkamers gebring is. In die bokse wat in normale omstandighede binne ’n dag of twee op Josué se trok onderweg sou wees na apteke en gesondheidswinkels van die Kaap tot in Messina, van O.R. Tambo-lughawe na maerwordplekke in Hollywood en Amsterdam, het daar ten minste twintigduisend botteltjies met dié etikette op ons gewag.
Ek het opgekyk, my wang per ongeluk met gom bestryk en die groot drietalige LeanRLeanest-credobord teen die oorkantste muur asof vir die eerste keer in maande raakgesien:
Ek is trots op myself, my firma en my werk.
Ek verwelkom roterende leierskap.
Ek is sowel ’n leier as ’n spanlid.
Ek respekteer my kollega as leier en spanlid.
Ek is aanspreeklik.
Ek beplan, ek bestuur, ek besin, ek blameer nie.
Wanneer dit my beurt is om marknavorsing te doen,
kom ek terug met die volle waarheid.
Ek word bemagtig, waardeer en aan die brand gehou.
Ek haak nie vas nie.
Ek kry wat ek verdien.
Alles tevergeefs, alles in sy maai in.
Pa wou ’n klomp werklose Zimbabwiërs as kontrakwerkers in diens neem om die ou etikette te verwyder en die nuwes met die gedokterde bewoording aan te bring. Die vorige week het hy telkens gesê: “Vandag ry ek en Josué met die trok townships toe. Hulle sê dit wemel daar van Zimbabwiërs wat onwettig in die land is. Vir hulle sal dit net werk wees: geen vrae oor waarom ons die etikette afgehaal wil hê nie. Ons kan hulle selfs snags in een van die motorhuise laat slaap. Ek is bereid om die kans te waag. Ons kan die afleweringslorrie saans onder die afdak parkeer. As ons die motorhuis as ’n slaapsaal inrig, kan hulle tot laatnag werk sonder dat ons hulle in die middel van die nag moet terugneem townships toe.”
Pa het toe nie werklose Zimbabwiërs in die townships langs die Dewetsdorppad gaan haal nie. Hy het siek geword – keelseer, ontydige griep, koorsblare, die lot. Psigosomaties, het Ma gesê. Pure senuwees, die óú storie.
So het ’n hele week verbygegaan. Uiteindelik moes ons noodgedwonge self inspring, want die bloedhonde was op LeanRLeanest se spoor. Ons moes die datumgestempelde etikette wat as verswarende getuienis teen Pa-hulle kon dien, onverwyld van die LeanRLeanest-botteltjies afkry.
Ek het baie omtrent myself en elke lid van die gesin geleer in daardie tyd, tipies Katryn.
Ek wil dit nie weet nie, maar dalk is ek nogal baie soos Pa. Dalk word ’n swart aantekeningboekie soos dié wat Hemingway, Matisse en Picasso oral met hulle saamgepiekel het, ook een of ander tyd deel van mý mondering. Dis deel van Pa se mondering, seker sewe of agt jaar lank al. Ek veg nog daarteen, want ek wil ék bly. Maar ek weet die swart aantekeningboekie met die oliekleedomslag is onafwendbaar: Pa gaan in die nabye toekoms vir my so ’n aantekeningboekie gee, of ek gaan een vir myself aanskaf.
Een geluk in die stryd om my eie mens te bly: Pa kom regtig humorloos en oer-Duits oor in sý swart boekie, en ek het die Grovés se sin vir humor in my gene. Ma is ’n draer: sy behoort tot die ongelukkige generasie wat die dominante stres-geen geërf het. Ek het die wroeg-geen vrygespring. In my swart boekie sal ek my dus daarop toespits om soos ’n Grové te skryf, nie soos ’n Müller nie.
Bert is die Fremdkörper van die gesin. Hy en Pa kom nie klaar nie, en hy en Ma stamp van die oggend tot die aand kop, al bederf sy hom tot in die afgrond. Hoe ouer hy word, hoe meer buit hy haar verknogtheid aan hom uit. Hy mag dislekties wees, maar hy lees haar soos ’n woordeboek. Hy tel elke vibe tussen hulle twee op en dan kapitaliseer hy daarop.
Die enigste een wat hom op sy plek gesit kry, is Ouma Grové. Op die nag van die etikette kon Bert sy Harrods-speelgoed dawerend en met mening uit sy bababed gooi, want Ma het Ouma se aanbod om ons te kom help ferm van die hand gewys. Sy het Ouma vroeër as gewoonlik met die nuwe Cosmopolitan en ’n ou Time in die bed laat klim.
Haar plan het nie so waffers uitgewerk nie, want toe ek vir Ouma gaan nagsê het, het sy met die Bybel oor haar gesig op haar rug gelê en slaap. Ek het die Bybel en haar bril afgehaal en op die bedkassie neergesit. Ouma het met waterige ogies opgekyk en half deurmekaar geprewel: “Onthou, Ouma bid vir julle, kindjie. Veral vir jou pa. Veral vir jou.”
Dit was vir my opvallend dat Ouma dié een keer in haar lewe nie juis bekommerd oor Bert geklink het nie. In die lewe volgens Bert klap ’n dude sy vingers een keer, dan verskyn die oplossing in die vorm van ’n personeellid wat hom in opdrag van Ma tegemoetsnel, ’n sielkundige, iemand anders om te blameer of ’n kredietkaart. Só, weet my broer, word ongerief en obstruksies uit die weg geruim. Dat ons daardie nag eiehandig soveel duisende etikette van soveel duisende botteltjies moes afhaal en die taaiste gom wat nog ooit in die Ooste vervaardig is, eiehandig van die botteltjies moes afskuur, moes vir hom ’n kultuurskok gewees het.
Ma, het ek uit ondervinding geweet, was omgekrap oor Pa se psigosomatiese aandoening. Of nee, “omgekrap” is ’n mediawoord, soos wat sy in die onderhoud met KOP sou gebruik het. Die waarheid is: my ma was die duiwel in. Só die duiwel in was sy dat sy die nag van die etikette soos ’n staalveer uit haar selfbejammering gespring het.
“Gate grawe?” het sy op Bert se tantrum oor die etikette gereageer. “Vars grondhope is die eerste ding wat aandag trek. Jy kyk genoeg televisie om dit te weet.”
Nare prik met ’n inspuitingnaald, boetie, het ek gedink.
Ma se nekvelle hang, was my volgende gedagte. Dit was asof sy weefsel op al die verkeerde plekke verloor het.
Bert het sy oorfone afgehaal en sy ore oopgekry vir die groot baklei – wat hy tereg voel aankom het. Ons het albei voor die ouderdom van ses jaar operasies aan ons oorskulpe ondergaan vir ons voorkoms. Bert se operasie was meer suksesvol as myne: hy het perfekte ore – aan die buitekant, altans. Myne is oukei, maar nie veel vir die oog nie.
Die mens bly ’n tradisiedier. As jy met iets grootword, as jou ouers se firma so deel van jou menswees soos jou eie hare en ore is, is dit vir jou ondenkbaar dat enigiets in dié welvaartsryk permanent kan verander.
Plaas ’n skuur vol pakkers, kruieblare, kruiegeure, sakke vol meelagtige mengsels, emmers vol gom en berge goud-en-blou etikette in ’n kind se leefwêreld, lê ’n geplaveide pad van die toegangshek na die nuwe kompleks, en jy graveer ’n aanleg en ’n geplaveide pad in jou kind se kop. Leer ’n kind om drie, vier keer per week koffie, tee en karringmelkbeskuit vir besoekers van oor die hele land én oorsee aan te dra, en die kind begin glo dat dit altyd so sal wees. Dat dié wêreld-in-’n-wêreld op pilare sonder krake in die middel van die heelal staan.
Ten spyte van die feit dat die firma in groot moeilikheid was, ten spyte van die feit dat my ouers se empire gesteier het onder hofbevele en skadevergoedingseise, ten spyte van die feit dat ek Ouma Grové so dikwels op haar knieë in haar kamer gesien het, het ek daardie nag gedink: Ma se nekvelle kan nog ’n spyker in LeanRLeanest se doodskis wees. Ma moet weer ’n slag ernstig raak oor haar kollageen-inspuitings, volgende nekontrimpeling en botoksprogram. Los nekvelle werk nie in die verslankingsbedryf nie.
Bert het nie ’n saak met Ma se voorkoms gehad nie. Hy het immers nie ’n saak met sy eie voorkoms nie. In die magspel tussen hom en Ma moes hy egter tot elke prys as wenner uit die stryd tree.
“Hoe de duiwel moet ons maak om nié aandag te trek nie, Ma?” het hy gevra.
“Dank die Vader dat Müllerhof in die munisipale gebied val,” het Ma eers haar voetwerk in die hoek van die kryt gedoen. Toe vlieg sy vorentoe: “Ons weet mos almal dat die vullislorries van die munisipaliteit wat hier verbykom, toegerus is met verpulpingsmasjiene. Alles is klaar verpulp voordat die lorrie by die stortingsterrein aankom.”
“Ma, Ma, Ma,” het Bert gesê. “Ons weet mos almal hoeveel vullistrollies met vullissakke elke week vir elke perseel toegelaat word. Ma het mos self by die Glaspaleis gaan praat oor hoeveel trollies ons hier by Müllerhof mag uitstoot. Het Ma vergeet hoe die snobbe wat hier om ons bly oor alles gemoan het?”
Snobbe. Nogal ’n beskrywende woord, al weet Bert nie eens dat dié meervoudsvorm nie bestaan nie.
“Ek weet,” het Ma gesê. “Maar hierdie een keer sal –”
“Ma,” het Bert haar in die rede geval, “kry dit nou in Ma se kop: dis nie ’n fabrieksgebied waar Ma sommer enigiets mag dump nie. Dis ’n … dis ’n plotgebied.”
“Residensiële area,” het ek ingegryp, want Ma haat die woord “plot”.
“Dis mos wat ek sê,” het Bert hom opgeruk.
“Bert is reg,” het ek kant gekies sonder om te weet vir wie. “Dis ’n residensiële area waar mense met hulle honde loop en die kinders op die paaie perdry en verbykom skool toe. Dis hoekom die munisipaliteit verlede week geweier het om ekstra vullistrollies aan ons te voorsien.”
“Ons het in al die jare nog nie ’n voet verkeerd gesit nie,” het Ma volhard. “Ek dink nie dit kan van baie firmas gesê word wat internasionaal handel dryf nie. Daar staan die stoorkamers vol verpakkingsmateriaal en geskenkprodukte en oefenklere en kruie en kapsules: oop en bloot vir enigeen om te kom besigtig. Kyk hoe lyk die terrein, die blomme, die grasperke. Dit tel alles in ons guns.”
“Nou toe nou,” het Bert sarkasties gesê. “Hoekom sal blomme en grasperke in ons guns tel?”
“Niemand soek tampans in ’n silwerskoon hoenderhok nie,” het Ma gesê.
Bert se mond het oopgeval. “Tampans? Jissie, Ma, nou raak Ma rof!”
“Hoenderluise,” het Ma vinnig gesê. “Ek praat van tampans, hoenderluise.”
Bert het geproeslag en Ma het gemaak asof sy hom nie hoor nie. “Vlooie op ’n goed versorgde Persiese kat, kopluise op ’n netjiese kind se kop, onkruid in ’n perfekte tuin,” het sy bo-oor sy lawwe geproes gepraat.
“Ons praat mos nie van onkruid nie, Ma?” het hy nogtans teruggekap.
Ma mors haar asem, het ek gedink. Metafore werk nie met Bert nie. Soms práát hy selfs dislekties.
“Nee, ons praat nie van onkruid nie,” het Ma die stryd gewonne gegee. “Ons praat van LeanRLeanest se reputasie, Bert. Ons het ’n goeie naam. Ons het nog nooit die sypaadjie vol swart vullissakke gepak nie. Al wat ooit hier weggery word, is gewone huishoudelike afval. En die munisipale inspekteurs lol nie met huishoudelike afval nie. Het jy al gesien hoe vinnig dit gaan wanneer die vullisverwyderingslorrie verbykom? Hier in die hoewegebied werk die munisipale vullisverwyderingspanne teen tyd.”
“Oh, yeah,” het Bert gesê. “Maar môre is dit bye-bye, good times, Ma. As iets môremiddag skeefloop … Daardie nat pulp is swaar. Die kans dat daar van die sakke kan skeur, is min of meer honderd persent. Iemand kan net besluit om die polisie te ontbied. Die land is vrot van die drugs.”
“Jy kyk te veel televisie,” het Ma gesê.
Bert het sy skouers opgehaal en sy neus sowaar met die soom van sy verkreukelde swart T-hemp afgevee. “Jy weet, Katryn, ek wens ons kon alles in die Rusfonteindam gaan dump,” het hy ondersteuning by my gesoek. “Oukei, ek weet ons kan nie. Maar hoekom stuur ons nie vir Josué met die afleweringslorrie na ’n ou mynskag of sinkgat nie? Of wat sê jy, sus?”
Ons dink nie meer logies nie, het ek gedink. Ons is almal ewe desperaat.
“Ek het ’n beter plan,” het ek half bitter gesê. “Ons stuur vir Josué met die lorrie na die einde van die aarde, dan gooi hy al ons probleme daar af.”
Ma het rooi wange gekry, altyd ’n slegte teken. “Al wat nou in daardie sakke is,” het sy gesê, “is kapsules vol …”
“… kruie,” het Bert moedswillig gebly. “En wie gaan nou tronk toe oor droë blare?”
Ek was so moeg dat ek skaars op my voete kon bly en het voorgestel dat ons almal gaan slaap.
Ma het ’n dweil gegryp en die nat en vuilgetrapte teëlvloer obsessief begin skoonmaak. Sy was sommer ook besig om ’n resente sakebeginsel uit my pa, Eggert Müller, se vet leeromslagboekie te verontagsaam. Pa versamel sy eie gedagtes oor sukses in die sakewêreld, sodat hy tydens elke media-onderhoud iets nuuts uit sy mou kan trek, veral op Summit TV.
Hoe hoër op in die korporatiewe hiërargie, haal hy homself dan soms gedurende so ’n onderhoud uit sy Moleskine Shanghai City Notebook aan, hoe minder emosiegedrewe.
“Ek sal die vloer was, Ma,” het ek aangebied.
“Los,” het my ma kortaf gesê. Sy was één bondel emosie en haar lyftaal het haar verklap.
“Ma kan regtig maar …”
“Lós, Katryn!” het Ma geblaf. “Ek oefen vir die tronk.”
Toe het ek ook genoeg gehad. “Ma is nou regtig belaglik,” het ek haar toegesnou. “Bert gebruik sy verstand. Dit help nie om Ma op te ruk oor …”
Haar kyk het my die res van my sin laat insluk. Skrik, hik, verstik, terug in die blik, soos altyd. Op drie en twintig is ek eintlik nog maar net so bang vir Ma se ware emosies soos toe ek dertien jaar oud was en Pa sy Sondagkoerantvoorblad-verhouding met Zelda Larson, die destydse skakelbeampte van die maatskappy, gehad het.
“If looks could kill,” het Bert ongeërg gesê. “Ons het genoeg om mee te cope, Ma. Wat daarvan as Ma probeer om Ma se pity party tot later uit te stel?”
Ma het hom één kyk gegee, maar eintlik was dit alles bluf. Ma was ’n bol oop senuwees.
“Dis kwart voor een in die nag, Bert,” het ek sag gesê. “Wat daarvan as jý probeer om Ma ’n bietjie minder te ontstel? Ma is moeg; ons is almal moeg.”
Hy het skielik arms gevou met sy rug na Ma gestaan. Hy het hom nie verwerdig om om te draai nie; ek het teen sy agterkop vasgekyk.
Dit was toe sommer ook die oomblik van Brian se toetrede tot die toneel. As ek nie geweet het dat hy die hele tyd saam met ons daar tussen die pille was nie, sou ek gedink het hy kom van agter die verhooggordyne of vanuit een van die ander twee vleuels van die kompleks te voorskyn. Sy oë was rooi; my blonde heart-throb is nie iemand wat dié tyd van die nag optimaal op ’n werksvlak funksioneer nie. Tussen middernag en drie-uur in die môre, sê Brian altyd, sorteer ons niks met ons koppe uit nie. Dié ure van die nag is daar vir nie-intellektuele genietinge.
Só stap Brian toe ook van iewers op die verhoog reg op Bert af. “Hi. Lights still on, duh?” het hy gevra en my broer ’n klap teen die boarm gegee. “Om ’n bietjie nice met jou ma te wees, kan nie kwaad doen nie, swaer. Op die oomblik wil die noodlot nie juis hê dat jou ma-hulle op cloud nine moet wees nie. Die bottom line is: your parents are fighting a hard battle. Hulle het niks verdere battering van jou kant nodig nie, oukei?”
Bert het omgeswaai, ’n emmer vol kapsules in ’n sak omgekeer en die pille aggressief, asof hy ’n gewigtige stelling wou maak, onder sy plakkies platgetrap. Die doppies het hoorbaar geklap en by gebrek aan ’n swart boekie het ek ’n aantekening in my kop gemaak: Die bottels sluk borrels in die water en die kapsules se doppies klap in die vullissak.
Nes die firma. Nes ons almal.
Ma het haar kop stadig gedraai en die trap-en-verpulpingsaksie op die marmerteëls met haar moeë oë gevolg. Haar mond het geroer asof sy regmaak om iets te sê, maar uiteindelik het sy Brian net verstorwe aangekyk.
Pa maak nie reg nie, het ek gedink. Hy moes hier gewees het. Hy kan mos nie van die boot afspring wat hy op die rotse laat loop het nie.
Ek het geweet: Pa slaap, want as Pa groot probleme het, slaap hy groot. Die tyd wat Pa weens sy psigosomatiese siektes in die bed deurbring, staan altyd in direkte verhouding tot die omvang van die probleme op Müllerhof, by die spa’s of in LeanRLeanest se laboratorium en pakskuur.
Ma, weer, begin so lyk soos wat sy lyk. Ma word eers vir ’n onbepaalde tyd stil. Sy smeul soos ’n vulkaan. Dan bars sy uit.
Vir ses maande – vandat die eerste berigte oor Rhoda Swanepoel se lewervergiftiging en -versaking in die Sondagkoerante verskyn het – het Ma gesmeul. Toe die Medisynebeheerraad toeslaan en LeanRLeanest Laboratories elke dag verdere dagvaardings ontvang van die regsverteenwoordigers van verslankers met lewervergiftiging, leweratrofie, nierversaking of dreigende nierversaking, het dit nog erger geword. Soms het die gedagte deur my kop gegaan: Wie is dié vreemdeling? Dan skrik ek my boeglam: die vreemdeling was my ma.
Wat sy in daardie tyd in haar en Pa se vleuel van die huis kwytgeraak het, het nie een van ons geweet nie. Kleiner uitbarstings het sekerlik reeds daar aan die noordekant van die huis voorgekom. Soggens, wanneer die veiligheidsdeur tussen die hoofslaapkamer en die res van die huis oopgaan, het Ma gelyk asof sy self reeds maande lank verslank met New LeanRLeanest Hoodia – met sy tot dusver sorgvuldig versweë toevoeging van nitrosofenfluramien, sibutramien en fenfluramien.
Brian het een oggend, toe sy besonder sleg gelyk het, gesê sy steier asof ’n persoonlike afrigter wat nie weet sy is dié Frieda Müller nie, haar twee uur lank in een van haar eie Stadspa’s se stoomkamers toegesluit het.
Ma wás waarskynlik onbewus van die feit dat Pa toestemming aan meneer Lin Yu gegee het om die geregistreerde formule te verander. Ma reis nie altyd saam wanneer Pa formules met die hoof van LeanRLeanest se laboratorium in Shanghai gaan uitsorteer nie. Pa is nie ’n man vir argumente nie, en Ma is ’n uiters versigtige vrou. Sy sou dié riskante plan om die verslankingsmark ná LeanRLeanest se groot insinking in 2007 te herower, met al die angstigheid in haar teëgestaan het. Sy sou die groot sakebeginsel aangaande emosionele beheer verbreek het – eintlik maar die ou beginsel wat in elk geval met verloop van jare tot die nommer-een-reël in my ouers se toenemend disfunksionele huwelik opgegradeer is.
In die middel van Brian se toesprakie het my ma se selfoon gelui, uitdagend, natuurlik. Voor die aanvang van die drama rondom LeanRLeanest se verslankingsprodukte, moes haar persoonlike assistent gereeld vir haar interessante luitone van die internet aflaai. Queen se “I want it all” is ’n nalatenskap uit daardie tyd. Ma het haar persoonlike assistent verloor, maar die luitoon behou.
Dit was eintlik so tragies om te sien: Ma het bang geword vir haar eie selfoon. Dis asof sy dag en nag oproepe van oor die hele wêreld verwag, almal dreigemente of kennisgewings van dagvaardings.
“Dié tyd van die nag?” het Ma gefrons. Sy het die Freddie Mercury-klingel met ’n beweging van haar beringde vinger stilgemaak en die plat foontjie teen haar oor gedruk. “Eggert?”
Ek het haar hoor sug.
Arme Ma. Brian het sy kop meewarig agter haar rug geskud en sy oë gerol. Senuweewrak, het hy lyftaal gepraat.
“Ons is nog in vleuel C,” het Ma vir Pa gesê. “Ons dra net die sakke uit, dan sluit ek toe. Hoekom skink jy nie vir jou ’n tot whisky nie?”
Pa het iets gesê, want sy het skielik erg gefrons. “Wát?”
Sy het in die rigting van die buitedeur geloop en sag gepraat: “Dis die hele voorraad van die vyf en twintigste en die nege en twintigste, Eggert. Jy weet dit het nog nie geskuif nie. En oor ’n paar uur is die ondersoek-beampte hier en –”
Pa moes haar in die rede geval het met iets wat sy nie verwag het nie, want sy het haar kop skeef gedraai en met ’n diep keep tussen haar oë op een plek bly staan.
“Wát?” het sy weer gesê. “Kyk, Eggert, moenie vannag met daardie storie by my kom nie. Ek is moeg, doodmoeg. Jy is maar net oorspanne.”
Pa het bly terugpraat.
“Ek sal kom luister as ek toegesluit het,” het Ma gesê en haar selfoon toegeklap. Dit was duidelik dat sy die gesprek summier beëindig het.
“Wat is dit met Pa?” het Bert gevra.
“Hy voel nie lekker nie,” het Ma kortaf gesê.
“Wie van ons voel lekker?” het Bert gesê. Hy het die vullissak met platgetrapte kapsules toegeknoop en dit op die hoop sakke teen die binnemuur by die deur gegooi. “Maar nou ja, by LeanRLeanest is –”
“Kom ons kry die sakke in die trollies en kom almal in die bed,” het Brian ’n volgende botsing probeer afweer. “Gee hier, Katryn. Jy cope nie.”
“Ek gaan maar op na Pa toe,” het Ma dof gesê. “Sluit die veiligheidsdeur en skakel die ligte almal af.”
Ek weet nie waarom nie, maar ek het skielik geweet Pa het nie om dowe neute gebel nie. Ek het Ma agternagekyk en intuïtief geweet daar lê ’n slapelose nag vir haar voor. Nóg een.