Читать книгу Katryn van die klipdassies - Maretha Maartens - Страница 4
2
ОглавлениеEk het op die kant van die dubbelbed gesit en ek kon my kop op ’n blok sit dat selfs my nagklere na vars hoodia ruik: effens bitter, effens komkommeragtig. En na ’n duisternis ander kruie wat op die niere inwerk. Die LeanRLeanest-kapsules se kenmerkende reuk was die hele kamer vol.
Ek het tam opgestaan en die venstertjie aan die westekant van die woonstel ook gaan oopmaak. In die badkamer het Brian met mening gestort en ek het geweet hoekom.
Miskien was ek net baie moeg, of dalk het iets wat met moegheid niks te make gehad het nie, daardie aand in my uitmekaargeval.
“Ek gaan nou slaap!” het ek geroep en met ’n trampolienwip plat op my rug op die bed neergebons.
Die gedruis van die water uit die stortkrane het verstil. Brian het my deur die badkamerdeur en die gedruis gehoor.
“Ek stort dan!” het hy verwytend geroep.
“Stort so lank jy wil,” het ek teruggeroep. “Lekker slaap!”
Die badkamerdeur het oopgevlieg; Brian het met die groot wit badhanddoek om sy lyf in die deur gestaan, muurspieël, wasbakkrane en alles agter hom in ’n stoomwolk gehul.
“Wat is dit nou, Katryn?” het hy gevra.
“Jy bedoel: hoe laat is dit nou, Katryn?” het ek gesê. “Toe ek laas gekyk het, was dit drie minute oor twee in die oggend.”
Hy het ’n paar oomblikke lank stilgebly, asof hy sy volgende vraag formuleer. Asemwegslaan oorspronklik was dit toe nie. “Ek vra: wat is dit nou, Katryn?”
“Jy bedoel: hoe vóél jy nou, Katryn?” het ek moedswillig gebly. “As dit is wat jy as sensitiewe man bedoel het: ek voel geskud, dankie. Gerattle. Ek vermoed dis maar soos die meeste jong mense voel wanneer hulle sien hoe alles wat hulle ouers opgebou het, tot niet gaan.”
Hy het langs my op die bed kom sit en geurig van seep en warm water oor my geleun. “Vergeet nou ’n bietjie van al die probleme hier op Müllerhof,” het hy sag gesê. “Dís wat my pla: alles wat hier aangaan, verander jou ook.”
Ek het sy klam lyf weggestoot en hy het die gebaar as ons ou speletjie gelees.
“Dis beter!” het hy geglimlag. “Ons is jonk, Katryn. Ek weet dis erg, ek kan sien wat aangaan, maar jy kan ook net sóveel dra. Ons – ek en jy – moet aangaan met ons lewe.” Hy het na die handdoek om sy lyf gevat-vat en my half orent getrek. “Gaan borsel gou jou tande, toe?”
Ek het my teruggegooi op die bed en omgewip, weg van hom af. “Ek speel nie, Brian. Ek het op die oomblik twee dinge nodig en ek weet self nie watter een ek die nodigste het nie. Ek moet slaap en ek moet dink.”
Hy het doodstil agter my op die rand van die bed gesit, waarskynlik taamlik versteen. Toe begin hy met sy vingerpunte op die matras tik en word hy die woordelose Brian vir wie ek soms bang is.
Trommel-trommel, tik-tik.
Trommel-tik-tik-trommel.
Tik-tik trommeltrommel.
Tik tik tik tik trommel.
Brian, weet ek lankal, is besonder musikaal. Hy komponeer woede-, ongedulds- en dreigwysies met die vingerpunte van een hand.
“Moenie vir my kwaad wees nie,” het ek senuagtig op sy vingergetrommel gereageer. “Ek is net so áf, Brian. So verskriklik depressief.”
“Sê dit maar,” het hy sag gesê. “Ek sou ook so gevoel het.”
Hy het byna gewigloos oor my gerol, in my oë gekyk en my in sy arms geneem. “Ek is so lief vir jou, Katryn. Glo dit tog.”
Maar teen drie-uur daardie oggend, toe hy lankal arms onder die kop langs my slaap, het ek dof gedink: Is dít hoe liefde werk? Is dit al?
En vir ’n paar oomblikke het ek om besonder selfsugtige redes gewens ek was ’n Christen soos Ouma wat in ’n nag soos dié op die voorskrifte van die Bybel kon terugval. Soos my vriendin Charlotte wat al van ons vroegste hoërskooljare af presies geweet het waar om die streep te trek.
“Julle moes interessante kinderjare gehad het,” het die gesoute joernalis van KOP tydens die 2007-onderhoud ’n paar nuwe wetenswaardighede uit my en Bert probeer trek. Ons het onder die wisteria-prieel links van die swembad gesit, elkeen met ’n lang glas vrugtesap met ys. In haar sonnige kamer aan die noordekant van die huis het Ouma na Radiokansel geluister; deur die dik mure kon ek die naam “Jesus” telkens hoor opklink.
Oorkant ons, aan die ander kant van die swembad, het Josué, ons Portugese koerier-cum-swaarvoertuigbestuurder en Elias, die tuinman, Ma se wit Iceberg-rose teen plantluise loop en spuit. Ma het vierhonderd en twintig roosbome aan daardie kant van die swembad. Rose is haar passie: sy sorg dat daar altyd in die see van rose gewerk word, sodat sy elke jaar maande lank groot vase vol rose oral in die huis kan hê. Soms neem sy selfs rose pakaanleg toe, waar sy hulle dan op strategiese plekke tussen die sirkelvormige pakstasies in die groot emmers plaas waarin die pille en kapsules van China af by ons aankom.
“Het ons interessante kinderjare gehad, Katryn?” het Bert gevra. Op daardie oomblik het hy nie slim gelyk nie. En die mondering waarin hy hom vir die onderhoud geklee het, het niks positiefs vir sy beeld gedoen nie.
Ek het gelag omdat die joernalis ons dopgehou het en omdat dit die regte ding is om tydens so ’n onderhoud te doen. Maar heimlik het ek gehoop dat Bert ten spyte van die agterstevoor pet op sy ongekamde hare iets besonders uit ons kinderjare sou onthou.
“Ons was bevoorreg,” het ek versigtig geantwoord. “Om in hierdie historiese ou huis groot te word … Volgens die mense van die omgewing het Christiaan de Wet tydens die Anglo-Boereoorlog een nag hier in die bomskuiling weggekruip. En tydens die Rebellie van 1914 was hier glo byna elke nag jong manne in die bomskuiling; dan was die valdeur toe. Daar moet waarheid in steek, want daar is baie handtekeninge teen die mure van die bomskuiling.”
“Die nagte was seker maar lank vir hulle,” het Bert geknik.
“Julle ouers moes baie besig gewees het toe julle klein was?” het die verslaggewer gesê-vra, sy oë voel-voel oor my.
“Ons ouers … ons ouers het spesiale ervarings vir ons gereël. Hulle het ons byvoorbeeld Disney World toe geneem en –”
“Dít was nou vir jou cool,” het Bert onmiddellik intelligent beaam.
Wat ek eintlik wou sê, was: En ons het op ’n manier grootgekom. Partykeer weet ek self nie hóé nie.
Ja, ons was Disney World toe toe ek elf en Bert sewe was. Bert het sy hart op die mensgemaakte oerwoud verloor. Ek, weer, het tydens ’n opvoering van Skoonlief en die Ondier in die park se amfiteater aan die huil geraak.
“Hoekom huil jy?” wou Pa weet. “Dis tog net speel-speel! En jy is al elf!”
“Skoonlief sê dit so mooi,” het ek gesnik.
“Wat?” het Pa gevra. “Wat sê sy so mooi?”
“B-b-beast,” het ek gestamel. “Skoonlief sê: ‘Beast, oh, Beast, don’t die!’ Ek weet nie hoekom dit vir my so hartseer en so mooi is nie.”
Pa het rondgekyk, maar Ma was nêrens te sien nie. Bert het haar saamgesleep oerwoud toe. Hy en Ma het vir die derde keer in drie dae tussen die krysende papegaaie en die gillende ape rondgevaar. Pa moes dus vir die eerste keer in jare met my en my verdrietige gesnik cope.
“Voel jy … nie dalk ’n bietjie verkoue nie, Katryn?” het hy agter die kap van die byl probeer kom. “Is jou keel seer?”
“Ek sê mos dis oor dit mooi is!” het ek huilend gesê.
“Dis tog net … woorde,” het Pa gefrons. “Dis nie die regte lewe nie.”
Ek was kwaad vir myself, want ek het opgehou huil toe ek drie of vier jaar oud was. Ek was kwaad vir hom, want ek wou iets anders van hom gehad het.
“Ék hou nog van sprokies,” het ek uitdagend gesê. “En ek dink jy is … jy is ’n vaal mens as jy nie daarvan hou nie.”
“Ek is nie ’n vaal mens nie!” Pa het hom vererg.
“O ja, jy is! As daar nie sprokies in jou lewe is nie, wat ís daar dan?”
Hy het my aangestaar. Om ons het mense hulle goed bymekaargemaak om die opelugteater te verlaat. Ons het bly sit, ek met ’n sak vol Disney-karakters van plastiek op my skoot en my pa met sy neusvelle aan die opdop van te veel onbeskermde blootstelling aan die son.
“In my lewe,” het Pa gesê, “is daar doelwitte … ideale … die firma. Doelwitte maak sprokies moontlik, Katryn. As die firma reg bestuur word, is daar ’n toekoms vir jou en Bert. Jy gaan nog eendag my en jou ma se vennoot in die firma word.”
“En Bert?” het ek gevra. Die teater het leeggeloop. Ons het alleen daar gesit. Onder ons op die verhoog was die teatermense besig om die dekor uitmekaar te haal en weg te dra.
Ek het ’n tweede vlaag verdriet in my voel opstoot. Min vooruitsigte het op daardie oomblik vir my so troosteloos gelyk soos om elke dag van my lewe handel te dryf in verslankingspille en om die rondte by ’n klomp spa’s te bly doen. Dit was nie vir my nuus dat ek en Bert later LeanRLeanest sou moes oorneem nie. Ons het dit van kleins af min of meer daagliks saam met ons muesli en jogurt ingekry. Om dié toekomsprofesie uit Pa se mond in Disney World te hoor, was egter ’n bietjie te dik vir ’n daalder. Daardie dag het dit vir die eerste keer vir my gevoel asof Pa die verhoog van my lewe betree en begin het om dekor wat vir my spesiaal was, stuk vir stuk uitmekaar te haal en weg te dra.
Toe ek hoërskool toe is, het Charlotte Fourie die vriendin geword wat deur dik en dun by my sou staan. Op dertien het sy reeds geweet wat sy met haar lewe wou maak: sy wou eers ’n jaar lank as instrukteur by ’n skubaduik-en-snorkeloord aan die Rooisee werk voordat sy haar as argeoloog bekwaam.
Sy wou elke land in die wêreld sien voordat sy doodgaan, ten minste vier tale vlot praat en met ’n Christenman trou. Maar nie te gou nie, want jonk trou is gou berou, het haar ma glo gesê. “En ek het besluit om met seks te wag tot op my troudag,” het Charlotte my reeds in graad 8 ingelig.
In my graad 8-jaar sou ek met Pa en Ma oor die lewe kon praat. Ek wóú. Charlotte met haar helder oë, haar egtheid en haar onweerstaanbare selfvertroue het die begeerte daartoe in my wakker gemaak. Maar toe raak Pa met Zelda Larson deurmekaar en die Sondagkoerante raak met ons deurmekaar en alles in ons huis en lewe raak so deurmekaar dat Ma ses weke lank in ’n kliniek in Kaapstad behandeling moes kry.
In my graad 8-jaar het mense dus oor óns gepraat, oor Pa en Ma. Vir die ontdekking dat bitterheid, onvergewensgesindheid en woede normale kommunikasie kan doodmaak, was ek eintlik nog heeltemal te jonk, maar as jou pa jou ma met ’n ander vrou verkul, maak die kinders se ouderdom vir niemand saak nie.
Ek was dertien toe ek uitgevind het dat Ma, die supervrou, ’n binnekant het en dat dit vir ons almal baie veiliger was om aan die buitekant van haar binnekant te bly. Ek het twee keer saam met Ouma afgevlieg Kaap toe om haar in die kliniek te gaan besoek. Ma het my so half op ’n louwarm manier uitgevra oor my skoolwerk. Ek het vertel hoe goed dit met wiskunde gaan, want Ma het ’n ding oor wiskunde.
Ek kon my asem gespaar het: Ma het haar belangstelling in my wiskunde verloor. Met Ouma wou sy beslis praat. Ouma moes in die fynste besonderhede vir haar vertel hoe Pa sy dae deurbring, hoe sy gemoedstoestand was, of hy berou toon, of hy en Zelda Larson nog met mekaar in aanraking was.
“Ek het klaar besluit, Ma,” het my ma gesê. “Ek gaan stappe neem.”
Ek kon raai watter stappe Ma sou neem. Nee, nee, het iets in my gekreun en gekerm – dalk my siel. Maar ek het nie ’n geluid gemaak nie; ek het gesit soos wat kinders sit as hulle ouers droogmaak.
Ek kon Tafelberg deur die venster van die privaat kamer sien, met die kabelkarretjies wat soos spinnekopwyfies aan hul spinnedrade in teenoorgestelde rigtings by mekaar verbygaan. Ek het aan spinnekopbytplekke gedink: aan die vars, jeukende bytplek wat later ’n klipharde knop met ’n lewe van sy eie word. Ek het onwillekeurig aan my bene en agter my skouerblaaie begin jeuk en krap en Ouma het my gesteurd aangekyk. “Jou stoel kraak darem verskriklik, Katryn! Sit ’n bietjie stil!”
Daar was pasiënte in die tuin. Hulle het almal eenders geloop, so asof iets skuur: skoensole op die grond, been teen been, binnearm teen die lyf.
“Moenie,” het Ouma dringend gesê. Sy en Ma was nog aan die praat oor die AWOL-gedagte in Ma se kop: oor die stappe wat sy van plan was om te neem. “Bid dit eers deur, Frieda.”
“Bid dit deur, Ma?” My ma het ’n vreemde laggie gegee – waaroor, het ek nie geweet nie. “En gestel die Here besluit ek moet liewer by my owerspelige man bly? Ek het ook die reg op geluk. Waarvoor leef ek? Om vernedering te moet sluk?”
“Eggert het berou,” het Ouma gesê.
“Berou raak my nie,” het Ma gesê. “Ek is immuun daarteen. Ek wil hom nie meer hê nie.”
Ma het saam met ons na die uitgang geloop, haar skouers skuur-skuur teen die gangmuur. Toe ek en Ouma buite op die koms van die taxi staan en wag het, het ek die gevoel gekry dat ek ook vol skaafmerke was, asof ek teen iets baie grof geskuur het.
Daardie aand op die vliegtuig het ek geweet waar-teen dit was: ek het teen die flenterkant van ’n supervrou geskuur. En dit sou nie ’n eenmalige gebeurtenis wees nie. Dit sou jare lank duur. Toe sy uit die kliniek ontslaan is en teruggekom het Müllerhof toe om die uitmekaargerukte drade van haar lewe weer te probeer optel, het my ma haar flenterkant saamgebring.
Ons was weer ’n gesin, soort van. In komkommertyd, wanneer die koerante en tydskrifte nuus soek, het daar selfs foto’s van ons in die koerant verskyn. Ma was weer gegrimeer, Pa het weer met oë vol integriteit in die kameralens ingekyk, Bert het elke jaar ’n entjie hoër bo hulle uitgetoring en ek het nie meer so kinderagtig geglimlag nie.
Ek en Bert het dus inderdaad grootgekom, so op ’n manier.
En ja, ons hét interessante kinderjare gehad.