Читать книгу Katryn van die klipdassies - Maretha Maartens - Страница 6
4
Оглавление“Is jy hier?” wou Brian twee maande later presies op die verkeerde oomblik fluisterend en met vraende oë van my weet.
Hy en Bert het langs mekaar in die besoekersafdeling van die hof gesit, albei met gejelde hare, albei in sportbaadjies en oopslaanhemde – voëls van eenderse vere, een keer in hulle lewe byna soos broers. Brian se toerygskoene het opvallend geblink. Ek het dit vroeër die oggend op die trappe buite die hof reeds opgemerk.
Bert se seilskoene het ’n klankie gehad. Buite die hofgebou kom jy dit nie agter nie; in die hofsaal tref dit jou soos ’n formalienlek in ’n hospitaal. Bert was aangesê om vir hom ’n ordentlike langbroek, hemp en baadjie te gaan koop, maar hy het bly uitstel. Die klere aan sy lyf het hy toe uiteindelik by Brian geleen. Omdat sy voete soveel groter as Brian s’n is, het die metamorfose egter by sy kouslose enkels geëindig. Bert glo nie aan kouse nie.
As die aanleidende faktor nie ’n morsige hofsaak was nie, sou die verbasende voorkoms van my broer in geleende vere my veel meer geamuseer het. Op Müllerhof dra Bert alles wat niemand verwag nie: groen kniebroeke met groot geel sonneblommotiewe, Madibahemde, jeans wat met skeure en stopsels van die fabriek af kom, oorgroot plakkies wat hy slip-slops noem, leerarmbande en truie met motgate daarin.
Brian het my nie te veel dinktyd gegun nie. Hy het sy duim en middelvinger vinnig en met ’n syagtige klank teen mekaar geskuur, asof hy my met fluistervingers uit ’n doolhof wou terugroep. Hierso, Katryn, hierso. Ek soek jou hiér.
Hier. Wat Brian eintlik wou weet, was waarom niks in my na hom uitgereik het nie. Waarom ek juis op die dag waarop Pa deur die staatsaanklaer onder kruisverhoor geneem sou word, emosioneel so ver van hom af was.
As iemand ’n paar weke tevore vir my gesê het dat ek met soveel verwondering in ’n vol hofsaal na Pa se agterkop sou sit en staar, sou ek gesê het dis onmoontlik. “Verwondering” was nie die soort woord wat ek gebruik het om enige faset van my en Pa se verhouding te beskryf nie. “Radeloosheid” sou tot kort tevore ’n meer beskrywende woord gewees het.
Ek en Pa was min of meer lewenslank radeloos met mekaar gewees. Jare lank het ek ’n flentertjie verlange om as pa kontak met my te maak by hom gesoek, die vermoë om vibes aan te voel. Hy kon nie. Ek het soms op die sakekanaal ingeskakel wanneer hy op televisie verskyn het en dan na hom en die onderhoudvoerder gesit en staar asof ek twee vreemdelinge se gesprek probeer volg. Selfs sy naam het vir my onbekend geklink: “By ons in die ateljee het ons vir Eggert Müller, Sakeman van die Jaar, internasionaal bekend en ’n baanbreker op vele terreine. Sy en sy sakevennoot-eggenote se filosofie ten opsigte van belegging in die milieu waarin hulle personeel werk en ontspan, maak nou al etlike jare opslae in die sakewêreld …”
Eggert, het ek soms gedink terwyl ek so na my pa se lewendige gesigsuitdrukking en energieke handgebare op die televisieskerm sit en staar. Ander mense, buitemense, ken hom, ek nie. Tog is hy my pa. Eggert Müller, my suksesvolle, onbereikbare baanbrekerpa.
Pa was sekerlik ook maar radeloos met my. Toe ek jonger was, wou ek hê hy moes die eerste sprokiesprins in my lewe wees. Slaag hy nie daarin nie, het ek hom woedend daaroor verwyt. Toe ek uiteindelik die onmoontlike eis laat vaar het en net ’n pa wou gehad het met wie ek so een keer in twee weke miskien ’n kwartier lank sonder onderbrekings kon praat, het hy sy rug op ons gedraai om sy eie geheime speletjies met LeanRLeanest se soetlief van ’n skakelbeampte te gaan speel.
“Katryn?” Weer die vingergeskuur, weer die wrywingsklank van vel teen vel.
Ek het my vererg. Kyk daar, het ek vir Brian beduie. Daar lê my pa die eed af: die waarheid, die volle waarheid en niks anders as die waarheid nie, so help my God. Kyk hoe lyk hy vandag: van die image wat hy soos klere aangetrek het vir openbare optredes is daar niks oor nie. Jy weet hoe dit die afgelope paar weke met hom gaan; jy weet wat tans agter toe deure op Müllerhof aangaan.
As Pa se sogenaamde bekering eg is, as sulke bekerings nie by die mens nie maar by God begin, het die God by wie Pa nou tuisgekom het dit nie juis makliker vir Pa gemaak nie. Ma is onoortuigbaar; sy draai haar rug op Pa wanneer hy iets uit die Bybel vir haar wil voorlees. Elke joernalis by elke koerant in die land moet ’n fanatieke agnostikus of ateïs wees. Hulle penne is almal in gif gedoop.
Kyk hoe alleen staan my pa daar, Brian. As jy issues het, laat ons hulle vanaand in die woonstel op Müllerhof uitsorteer.
Ouma het haar kop in ons rigting gedraai. As daar iets soos ’n toekenning vir die bes geklede vrou in die hof bestaan, is Ouma die eerste aanspraakmaker op die titel, het ek gedink. Beenwit hare in ’n perfekte bollatjie met ’n elegante haarnetjie daarom vasgetrek; stringetjie pêrels om die nek; pienk tweestuk met wye moue en klein knopies; perlemoenkleurige skoene met strikkies; handsak en handskoene. Die koningin van Engeland sou haar ’n lady genoem het.
Die staatsaanklaer wou by Pa weet of hy bewus was van die feit dat Nuwe LeanRLeanest met Hoodia, die vlagskipproduk van die maatskappy, die stowwe nitrosofenfluramien, sibutramien en fenfluramien bevat.
“Ja, ek was bewus daarvan,” het Pa geantwoord.
“Was u bewus van die toksiese newe-effekte van nitrosofenfluramien, sibutramien en fenfluramien?” het die staatsaanklaer gevra.
“Ja, ek was bewus daarvan,” het Pa geantwoord.
’n Ruising het deur die hof gegaan.
“Kan u aan die hof verklaar hoe dit gebeur het dat nitrosofenfluramien, sibutramien en fenfluramien sedert 2007 in die nuwe LeanRLeanest-kapsules voorkom wat deur u maatskappy aan die handel gelewer is, meneer Müller?”
“Ek het daartoe opdrag gegee,” het Pa geantwoord.
Daar het ’n donker gedreun deur die hofgebou met sy bruin lig gegaan. Dis mense wat so dreun, het ek vaagweg gedink, maar ek was net so geskok soos Willem Botha, Pa se advokaat, wat dié antwoord hoegenaamd nie verwag het nie.
Nagte en nagte se werk, het ek onsamehangend gedink. Ons het etikette verwyder en pulp en sakke vol pille laat wegry. In ’n laaste wanhoopspoging het ons selfs pille in gate so diep soos grafte in Müllerhof se grond begrawe. Alles tevergeefs, alles verniet.
Alles wat ons met die hand afgehaal en waarvan ons in die vroeë oggendure ontslae geraak het, is terug. Pa het dit weer gaan uitgrawe. Pa het dit tot in die hofsaal gebring. Nou staan dit bekend as die waarheid, die volle waarheid en niks anders as die waarheid nie.
Vyf woorde kan ’n mens se hele lewe verander, het ek ’n maand of twee later geweet. Vyf onverwagte woorde kan ’n slim advokaat met ’n reputasie wat vir niks skrik nie só ontwrig dat hy soos ’n mens in ’n koma bly sit. Vyf woorde kan ’n hofsaal skud.
Vyf onverwagte woorde kan later, ná baie vrae deur ’n staatsaanklaer wat sy eie opgewondenheid oor die verloop van sake beswaarlik kan onderdruk, gereduseer word tot net een woord. Die finale woord is dan ook die woord wat ’n gesin, ’n maatskappy en sommer die hele verslankingsbedryf oopstel vir ’n tsoenami.
“Erken u dus aanspreeklikheid en skuld, meneer Müller?”
“Ja,” het Pa hard en duidelik geantwoord. En asof hy alle misverstande uit die weg wou ruim: “Ek erken aanspreeklikheid en skuld.”
Opskudding. Chaos.
Ma het haar gesig in haar hande verberg, Ouma het haar klein handwaaier uit haar handsak gehaal en haar natgeswete gesig daarmee begin koel waai. Bert het om die beurt vir my en Brian gekyk en die hofreëls verontagsaam deur duidelik en hoorbaar “Koebaai, koebaai, koebaai …” te sê. Dalk was dit hoe hy die vorige bedeling in ons lewe in ’n profetiese oomblik vaarwel toegeroep het. Of dalk het hy daarmee te kenne gegee dat hy hom van Pa distansieer.
Ons het elkeen op ons eie manier deur die skare mense, die verslaggewers en die fotograwe buite die hofgebou gekom. Pa was iewers soos ’n bokser in die hoek van ’n bokskryt; hy en sy wasbleek advokaat het weggeraak tussen ander mense se koppe en woelende arms. Ma is van alle kante bestorm. Sy kon haar nie draai nie; sy was tussen die stemme van joernaliste, kameraflitse en die kyke van nuuskieriges vasgekeer.
Ek het Ouma aan die arm beetgehad en in die eerste fase van ons aftog daarin geslaag om vir ons ’n pad met my elmboë oopgestamp te kry.
“Loof die Heer,” het Ouma bly prewel.
Ek het aanvaar dat sy half deurmekaar van skok was.
Ek is nie regtig ’n elmboogvegter nie. Soos Ma-hulle het ek en Ouma ons in ’n muur van mense – fotograwe, verslaggewers, nuuskieriges, kliënte, verteenwoordigers van maatskappye en sakeondernemings, vriende en vyande – vasgeloop.
Brian het Ma probeer beskerm deur sy baadjie soos ’n donkerblou tent oor haar te hou, maar ’n vermetele televisieverslaggewer het dit doodluiters weggeruk. As Brian nie vir Bert gekeer het nie, het Bert die vent net daar te lyf gegaan.
Gelukkig was Bert nog in sy ongemaklike geleende vere. Was dit nie vir die baadjie en die dasstrop om sy nek nie, was die naaste verslaggewer sy voortande kwyt. Agterna het ek tóg gewonder of Brian Bert nie maar moes laat begaan het nie, want uiteindelik het die verslaggewer sowel sy tande as sy bloederige halfgaar poniekoerant-nuusbrokkie gehad.
Die media wou die antwoorde uit Ma se eie mond hê om in hulle hoofopskrifte en op hulle advertensieplakkate te gebruik. Woordeliks, en verkieslik so sensasioneel as moontlik. Wat sê sy nou? Hoe voel sy oor die wending wat die hofsaak geneem het? Het sy vooraf geweet dat Müller van plan was om sy getuienis te verander? Wat het daartoe aanleiding gegee dat hy uiteindelik in sy getuienis teenoor sy eie advokaat, Willem Botha, te staan gekom het?
“Ons hoef nie hier vas te haak nie, Ouma,” het ek bo die lawaai en gemaal uit gesê. “Kom. Moet Ouma nie aan die mense steur nie. Dit gaan maar so by ’n hof.”
Ek en sy het omgedraai en asof in trurat uit die vanghok ontsnap.
“Jammer vir die ompad,” het ek gesê. “Maar Ouma weet hoe mense is.”
Mense is soos roofvoëls, wou ek eintlik sê. As bekendes seerkry, vlieg hulle in groot swerms nader. En hulle draai nie slegs naby dié wat seergekry het rond nie. Hulle pak die beseerdes toe; hulle krap en pik en verskeur.
“Wanneer kom die uitspraak?” wou Ouma weet.
“Môre of oormôre,” het ek geantwoord. En ek het gedink: Wat vang ons aan as Pa tronk toe gaan? Wat word van ons noudat hy die bloed aan sy hande vir die hof, vir die pers, vir vriend en vyand gewys het?
Dis verby met ons. Dis verby met die LeanRLeanest-ryk. Ook mý toekoms in Pa-hulle se bedryf is na die maan. Ek gaan nie meer ’n vennoot in die besigheid word nie. Alles wat ek sou wees en sou word, is pas asof in ’n storm weggeblaas.
“Loof die Heer!” het Ouma weer langs my geprewel. Sy het met die versigtigheid van die ouderdom langs my oor die onbekende terrein geloop, bysiende en broos. Maar haar gesig was vol lig.
Ek het gedink sy yl ’n bietjie van al die stres, gelukkig tog dat dit ’n goeie soort yl was. Mag die waarheid nooit regtig tot haar deurdring nie. Vir oumense is dit soms beter om in ’n gekkeparadys te leef.
Maar Ouma het skielik gaan staan. Ek het gedink dit was ons sigsagtog op ’n gruispaadjie tussen laventelbeddings en standbeelde deur wat haar moeg gemaak het. Maar ek was verkeerd.
“Katryn,” het Ouma hygend gesê, “vandag het daar redding vir hierdie huis gekom.”
Ek kon nie langer met Ouma saampraat nie. Ons was op pad huis toe, Ma-hulle ook. Ellende en euforie is nie huismaats nie. Met ons ellende en Ouma se euforie onder dieselfde dak …
Dit kón nie.
“Ouma,” het ek gesê, “my pa het dinge gesê wat hy nie moes gesê het nie. Hy kon net sowel nie ’n advokaat gehad het om hom te verdedig nie.”
“Hy het die waarheid gepraat, nie waar nie?” het Ouma gesê.
“Alles,” het ek gesê. “Alles, Ouma.”
“Maar dan hét die redding vir hierdie huis mos aangebreek,” het Ouma gesê. “En vir baie ander onskuldige mense ook.”