Читать книгу Katryn van die klipdassies - Maretha Maartens - Страница 5
3
ОглавлениеDie oggend wat die begin van die einde was, was ’n tipiese Müllerhof-oggend.
Justice, die sekuriteitswag, op sy pos by die toegangshek, die stoet van byna dertig bustaxi’s wat een na die ander by die ingang na die landgoed stilhou, werkers wat in varsgestrykte oranjegeel uniforms uitklim, hulle veegkaarte aan Justice oorhandig, toegang tot die terrein verkry en dan twee-twee, drie-drie op die breë, geplaveide pad aanstap na die verpakkingskompleks. Die breë weg na die smalle lyf, het ’n rubriekskrywer in die Sondagkoerant dit tong in die kies genoem. Dit is opvallend, het dieselfde rubriekskrywer opgemerk, dat 95% van die werkers in vleuel C so skraal is. Sou die doepa in die tienduisende verslankingspille wat hulle elke week so keurig verpak, so sterk wees dat die reuk daarvan selfs die pakkers se eetlus demp?
Ouma Grové het haar honde vroeg buitentoe gebring; sy was nog in haar pienk japon, haar hare in ’n sneeuwit nagvlegsel. Die jong reun het dreigend vir die werkers geblaf, die tefie het stertswaaiend en opgewonde tussen die struike in die tuin rondgesnuffel. Ouma het vriendelik vir ons werksmense gewaai. Hulle het in Sesotho, Afrikaans en Engels gegroet en glimlaggend teruggewuif.
Vir fotograwe, weet ek lankal, is die ou plaashuis in die vroegoggendlig suiwer fotomateriaal. Soggens vroeg gooi die een wat eerste in die eetkamer aankom, al die houtraamvensters oop. Ons het so grootgeword. Vandat ek kan onthou, adem ek soggens Müllerhof se eie, onbottelbare parfuum in. Die Müllerhof-parfuum – die geur van ou rose in die oggendwind – het al male sonder tal daartoe bygedra dat Müllerhof se plaashuis voorblaaie en middelblaaie gehaal het. Die kameramense se knockout, noem Eunice, die kok, dié geur uit die tuin.
Die oggend ná die nag van die etikette staan Eunice soos elke ander oggend met neergeslane oë agter die groot bedieningstafel terwyl Brian vir hom spek, wors, tamatieskywe met kruie en gebakte eiers inskep. Brian het nie op hom laat wag nie: hy het haar net so doelbewus geïgnoreer. Hulle was nie net in die proses om ’n siek patroon te skep nie; hulle was lankal hulle eie beste slagoffers.
Eendag op ’n reëndag, het ek nog gedink, gaan ek Bert opsteek om ’n string klappers in die bomskuiling hier onder die eetkamer te laat ontplof. Hy is impulsief genoeg; hy sal dit doen. Die knalle moet presies saamval met die oomblik wanneer Brian vir hom eiers inskep. Dalk praat Eunice en Brian dan weer met mekaar. Hulle is ewe koppig, ewe onversetlik en in daardie opsig ’n ewe groot pyn in die nek.
Eunice weier naamlik om die feit dat Brian by my ingetrek het te aanvaar. Sy het dit reeds in Februarie, toe sy agtergekom het dat hy nie meer snags huis toe gaan nie, in soveel woorde vir my gesê. “Hierdie soort ding is vir my ’n teistering, Katryn. Dis teen die leer van my kerk, teen die leer van –”
“Kerke verskil, Eunice,” het ek haar in die rede geval.
Sy het haar nie van stryk laat bring nie. “As julle dan so erg oor mekaar is, hoekom trou julle nie? Julle sal nie gelukkig wees nie, só sonder die huweliksgelofte.”
“Ag nee, tog, Eunice!” het ek geprotesteer. “Ons is rasend gelukkig! Ek was nog nooit in my hele lewe so gelukkig nie!”
“Die ware gelukkigheid,” het sy gesê en haar groot werkershande aan ’n ewe groot vadoek afgedroog, “kom mos altyd saam met eerbied vir die Here.”
“Ek het eerbied vir die Here!” het ek met warm wange gesê.
“Hoeveel?” het sy gevra.
“Hoeveel wat?”
“Hoeveel eerbied vir die Here?”
“Dis nie iets wat meetbaar is nie,” het ek gesê.
“Maar dis wéétbaar,” het sy gesê.
“Wéétbaar?”
“ ’n Mens weet of jy dié eerbied in jou het. Elke mens weet dit van homself, Miss Katryn. Ons weet mos elkeen wat ons in onsself het: ’n lekker gevoelte, sooibrand, dronkigheid in die kop, hartseer, haat, hoeveel eerbied en respekte en liefde vir die Here.”
Brian moes nie ingemeng het nie, maar hy het. Hy het dele van die gesprek gehoor, van die tafel by die groot venster opgestaan en vir Eunice gesê hy wil buite die eetkamer met haar praat. Ek wou nog vure doodslaan, maar hy het hom nie laat keer nie.
“Ek ken jou nie regtig nie,” het Brian vir Eunice gesê, “maar ek hou nie van wat ek pas gehoor het nie. En ek vind jou inmenging in ons privaat sake besonder vreemd. Ek en Katryn is twee grootmense; ons keuses is ons keuses. En vir jou inligting, Eunice: ek het vir Katryn se ouers gevra of dit vir hulle oukei is dat ek hier intrek in plaas daarvan dat Katryn by my in my woonstel in die stad intrek. Hulle het geen probleme daarmee nie. Dis die mees logiese reëling.”
“Nè?” het Eunice gesê. “Hoe kom jy daarby uit?”
“Katryn is besig om toenemend by die firma in te skakel,” het hy voortgegaan. “Dis onnodig vir haar om elke oggend uit die stad Müllerhof toe te moet ry.”
“Ag, jinne,” het Eunice byna saaklik gesê. “Dink jy nou regtig dit gaan vir my oor ’n ryery en oor die kammakastige verskriklike traffic in Bloemfontein en oor sulke gewone sake? Dit gaan oor die dieper saak, meneer Brian. Oor wat die huwelik is.”
“Huwelik?” het Brian ontplof. “Ons is nog by liefde, Eunice! By doodgewone lief wees vir mekaar! By planne maak en drome droom!”
“Vertel dit vir die hadidas,” het Eunice gesê. “En hoor hoe hulle ha-ha-ha lag. Jy en Miss Katryn is op honeymoon sonder die vows, en as jy moeg raak vir Miss Katryn, vat jy jou goed en gee jy pad en los jy haar met iets van jóú in haar lyf. En as sy haar regte man kry, sit hý met iets van jou in sy vrou se lyf en sy wonder of hý ook iets van ’n ander vrou in hom het, en julle almal se huwelike is vol issues wat nie daar moes gewees het nie.”
Die spiertjies in Brian se wange het begin spring. Hy het sy kop gedraai en my in die oë gekyk, so onverwags dat ek daarvan kon steier.
“Is dit hoe jy ook voel, Katryn?”
“Natuurlik nie!” het ek dadelik geantwoord. Maar ek was geskok. Eunice se vertolking van ons besluit het my meer geskok as wat ek ooit sou wou erken.
“Daar het jy dit nou, Eunice,” het Brian gesê. “En wat leer jy daaruit? Bepaal jou aandag by jou eie sake.”
“Nogal nie so maklik nie,” het sy gesê. “Ek maak brekfis vir almal hier op Müllerhof. Ek kyk teen julle vas en ek weet wat die prys van eiesinnigheid is.”
“Jy weet,” het Brian gesê, “ek is nie iemand wat daarvan hou dat mense teen my vaskyk nie. Om mee te begin, gaan ek eenvoudig nie meer oogkontak met jou maak nie.”
“Moenie kinderagtig wees nie, Brian!” het ek probeer keer.
“Ek sal jou beslis ook nie verder pla nie, meneer Brian,” het Eunice ewe koelkomkommer gesê. “As ek sien jy ignore my, sal ek my oë neerslaan, sodat jy darem die brekfiskos goed kan bekyk. Dis moeilik om kos te skep en vrugtesap te skink terwyl ’n mens ook nog daarop moet concentrate om iemand naby die kos te ignore.”
Kishou. As Brian nie so opgesuur was nie, sou ek hard uitgebars het van die lag. Eunice was nog nooit ’n katjie om sonder handskoene aan te vat nie.
So skep ons dan vir ons ontbytkos, Eunice staan rustig met haar neergeslane blik, Brian draai hardekoejawel van die kostafel af weg, twee pakkers sing “Amazing Grace” tweestemmig in die verte en Eunice neurie saam.
Ek het die telefoon in die kantoor hoor lui, maar dit was skaars sewe-uur en ek het my nie verwerdig om kantoor toe te draf nie. Ek was dus taamlik uit die veld geslaan toe Cecile, LeanRLeanest se skakelbeampte wat elke oggend tussen sewe en agt berge versit terwyl dit stil is in die sentrale administrasiekantoor, in die eetkamerdeur verskyn.
“Telefoon, Katryn! Dis Mevrou.”
Mevrou? Mevrou is my ma. Ek het klap-klap na die bekende bult van my selfoon gesoek en besef dat ek dit in die kamer op die bedkassie vergeet het.
Ma bel nie sommer nie. Dalk was Pa gisternag regtig siek. Die hartkrampe waarvan hy soms gekla het …
Ek het kantoor toe gehardloop en die gehoorstuk van die glimmende swart lessenaarblad af opgeraap. “Ma?”
“Hoekom antwoord jy nie jou selfoon nie?” het Ma gevra. “Hoekom moet ek kantoor toe bel om jou in die hande te kry?” Ek kon haar ontsteld hoor hyg; iets vreemds was aan die ander kant van die telefoonlyn aan die gang.
“Wat is verkeerd?” het ek dringend gevra. Die gekste gedagtes het deur my kop gegaan: indringers, rowers, Pa is ernstig siek, ’n rusie wat handuit geruk het.
“Ek kry nie vir Pa stil nie.”
Ek het oopmond gestaan. “Ma kry nie vir Pa stil nie? Wat sê hy dan?”
“Hy huil en lag, Katryn. Hy … hy is heeltemal emosioneel, hy …”
“Waaroor?”
“Dis ’n godsdienstige ding. Hy is totaal oorstuur. Jy moet met hom kom praat.”
As Ma vir my gesê het Pa ry al sedert dagbreek op die rug van ’n kameel in die roosbeddings rond of hy vernis al die muurlyste van die honderd en twintig jaar oue huis eiehandig, sou ek dit eerder geglo het. Die agtergrondgeluide het my laat verstar.
“Hoekom huil Pa?”
“Hy sê Jesus Christus het hom by die naam geroep. Hy sê sy ou lewe is verby, dis sy laaste kans op die aarde, hy … Dis omdat hy besig is om te sink. Hulle kom almal tot bekering as hulle so diep in die sop is.”
“Ma,” het ek gestamel, “bly net daar. Ek roep vir Brian; ons is nou-nou daar.”
“Ek kan dit nie meer vát nie, Katryn.” Ma het ’n huilklank in haar stem gehad.
“Wat kan Ma nie meer vat nie?”
“Sy onstabiliteit. As dit nie die een ding is nie, is dit iets anders.”
“Ma … Pa is nie doof nie! Ma staan dan daar by hom – hoor hy nie wat Ma alles kwytraak nie?”
“Hy hoor niks nie, Katryn. Niks nie. Ek sê mos …” Sy het skielik aan ons reputasie gedink. “Moenie dat die personeel iets agterkom nie.”
Maar die personeel in die omgewing het lankal iets agtergekom. Cecile het my oor haar swartraambril aangekyk en een wenkbrou net effens gelig.
“Natuurlik nie, Ma,” het ek paaiend gesê. “Ek kom maak vir Pa ’n lekker koppie tee.” Ek het afgelui en in Cecile se rigting geknik: “Dankie!”
“Is Meneer siek, Katryn?” het haar stem my agtervolg.
“Dis net iets kleins,” het ek oor my skouer geroep. “Niks wat ons nie kan hanteer nie.”
As ek geweet het wat ek sê, het ek eerder my mond gehou.