Читать книгу Hanna - Maretha Maartens - Страница 4

HOOFSTUK 1

Оглавление

Peninna kyk op en haar gesigsuitdrukking verander. Sy sit langbeen voor Elkana se tak-en-bokvelskuiling, ge­sins­besit by die Ramatajim-dorsvloer. Dit is háár plek ook. Haar jongste se kaal voetjies steek by die opening uit. Hy slaap rustig en beskut.

Skielik is dit vir Hanna soos wanneer die reën oor die Efraimsberge wegbly. Dan raak die lug stofdik en droog soos perkament. Omdat jy nie ’n ander keuse het nie, gaan jy maar aan. Maar jou siel is steeks in jou.

’n Mens kan helder oordag ’n gevoel van versmoring onder die oop hemel kry, dink Hanna. En dit het niks te doen met die geelwit wolk van kaf en poeier bo die beeste in hul juk wat die koring op die dorsvloer met hul hoewe uit die are lostrap nie. Al om die paal in die middel van die dorsvloer jaag twee opgeskote seuns die diere, om en om.

Moet dit weer ék wees wat verskoning vra vir nog een van daardie skermutselinge waarin niemand met ’n mes na sy teëstander kap nie, maar waarin ek en Peninna albei dieper wonde en groter kneusplekke opdoen as die mans in hul gevegte met vuiste en dolke?

Selfverheffing sorg vir twis, het Elkana al dikwels gesê. Selfverheffing is die kraak in die karakter van die Efrai­mie­te. Jy kan maar nagaan. Waar daar ’n vuisgeveg is waar­in twee Efraimiete mekaar in die dorp of in die veld op­foe­ter, het die een die ander op een of ander manier ge­min­ag en verkleineer.

Peninna sal nie die saak tussen my en haar kom regstel nie. Die lug tussen ons sal versmorend bly totdat ek mý selfverheffing prysgee en haar om verskoning gaan vra. Waarvoor? Omdat ek ná Migal se kuier vir haar gesê het dat haar hoogmoed stink en dat háár selfverheffing boos is? En dat sy moet weet – boosheid is soos vrot salf. Soos wat dooie vlieë salf laat gis en vrot, laat dié bose ding alles tussen my en haar opvrot. Hoe voorspelbaar was dit alles nie weer nie.

“Wat het ek nóú weer gedoen om jou in dié bui te kry, Hanna?”

“Ek is nie in ’n bui nie, Peninna. Ek het jou en Migal oor my hoor praat.”

“As jy kom staan en afluister terwyl ek en my vriendin kuier, het jy verkeerd gehoor. Ek het brood geknie. Sy het haar kinders se klere by my gesit en stop. Jy het nie eens nodig gehad om agter die muur te luister nie. Ons het oor haar swangerskap gepraat en oor die kind wat nou al twee keer wou afkom. Hoekom het jy nie daar by ons kom sit sodat jy elke woord duidelik kon hoor nie?”

“Jy het buite die huis, by Migal se vertrek, oor my ge­kla, Peninna.”

“Jy verstom my,” het Peninna koud gesê. “Ek het nie krag vir jou … jou kafstories nie.”

Kafstories! Asof sy, Hanna, gek drome droom. Hulle het met versluierde gesigte buitentoe gegaan en Migal het reg onder die vensteropening gepraat: “Hoe gaan dit met julle? Met jou en haar? Is jy oor jul groot botsing?”

“Hoe minder ek oor botsings sê, hoe beter.”

Peninna het sag met haar vertrekkende vriendin ge­praat, maar nie sag genoeg nie. Was dit maar sagter. Het die wind haar woorde maar weggewaai. En toe kom dit soos ’n klip wat jou uit die bloute teen die kop tref.

“Die botsing waarvan jy weet, is ’n kalfie teen gister s’n. Dit gaan nooit verander nie, Migal. HaShem straf haar oor iets en sy haat my oor haar straf.”

HaShem, het Peninna die Here genoem. Die Naam straf Hanna oor iets.

Migal het geklink asof sy uit die veld geslaan is: “Dit is tog belaglik, Peninna.”

“Dit is nie. Sy weet sy kan haar opstandigheid teen haar straf nie op HaShem uithaal nie. Sy kon nie ’n kind vir Elkana gee nie, want sy is gestraf met kinderloosheid. Ek wens ek kon weet waaroor sy gestraf word. Maar een ding weet ek, Migal – daardie vroumens, Hanna, gaan my solank ek leef soos ’n mal volstruis bly skop en trap.”

Migal het byna senuweeagtig gelag. “As sy jou nóú moes hoor, sou sy jou seker bewusteloos skop. Maar ek moet darem sê – Hanna lyk nie soos iemand wat ’n ander mens sal wil trap en vernietig nie.”

“Moet haar nie beoordeel volgens wat sy jou laat sien nie, Migal. Jy woon nie saam met haar onder dieselfde dak nie. Jy deel jou man nie met haar nie.”

Migal het ’n rukkie stilgebly. “Abel sou 20 seuns wou hê met daardie berggrond van hom. Maar as ek oor een ding dankbaar is, is dit dat hy nie kans sien vir nog ’n vrou nie. Ek kan my nie indink hoe jou lewe moet wees nie, Peninna. Hoe jy dit nou al vir soveel jare uithou nie. Ek sou die ander vrou vergiftig het.”

“Sý … sy gaan baiekeer soos ’n mal volstruis aan,” het Peninna weer hoorbaar gefluister. “Wag net totdat jý onder haar skoppe deurloop.”

Hulle het Hanna ’n mal volstruis genoem wat met oop­gespalkte vlerke bly skop en haar slagoffer teen die grond vastrap, haar snawel hard soos klip. ’n Vroumens wat haar dinge verbeel en in ’n bui raak oor skinderstories wat nooit plaasgevind het nie. ’n Genadelose vertrapper van ander.

Sy het gekies om reguit te praat: “Ek kan presies vir jou sê wat jy en Migal van my gesê het, Peninna.”

“Ek hoef nie na jou kafstories te luister nie.” Peninna het omgedraai en haar rug met veragting op Hanna gekeer.

Sy, Hanna, het haar selfbeheersing verloor: “As jy so maklik vir my lieg, watter leuens vertel jy nie oor my by jou familie nie? By Elkana, by …”

Sy wou skree, sy wou huil, en sy het.

“Die Here sien alles, Peninna. Hy haat oë soos joune, want jou oë brand van hoogmoed. Hy haat ’n tong wat lieg, en oor joune rol die leuens. Hy haat gedagtes vol skemas en komplotte, en jy is vandat jy hier gekom het, besig om te dink en te beplan hoe jy my kan uitoorlê. Hy haat getuies wat lieg, en jy lieg by my man oor hoe ek is – hoe gemeen en baasspelerig en wreed. Die Here weet alles, Peninna. En Hy straf elkeen wat volhard in enigiets wat Hy haat.”

Peninna se gesig het donker van woede geword. “Wie het jóú as regter in hierdie huis aangestel? Elkana? Jou man en myne ook? Of het jy jouself aangestel, Hanna, omdat jy my nog altyd verag het? Omdat jy my nie voor jou oë kan verdra nie?”

“Ek speel nie regter …”

“Nié? Beskou jy jouself dus as Hanna die verdraag­same en Hanna die goedgesinde? Hanna, die Israelitiese vrou so na God se hart? Sê my – watter een van ons twee is die een wat Elkana so moedeloos maak dat hy kan sterf? Hy weet nie wátter kant toe met jou nie. Hy kruip voor jou, hy …”

“Dit is nie waar nie. Dit is ’n leuen, Peninna! As jy moet weet hoe ek voor die Here …”

Peninna het omgeswaai, ’n fles olyfolie van die rak af gegryp en haar arm hoog gelig. Maar sy het haar besin en die houer nie deur die lug geslinger nie.

“Jy ken jouself nie,” het sy afgemete gesê. “Jou ellen­deling. Jou witgepleisterde graf. As jy jouself maar kon sien soos wat ék jou sien!”

Sy het die olyfoliefles met soveel aggressie op die rak teruggesit dat dit gekraak het.

“Jy, Hanna, is die betekenis van jou naam nie waardig nie,” het sy die woorde uitgesis. “Jou naam moes Eifa ge­wees het, donkerte, of Lilit1, mens van die nag.”

Toe steek sy met die skerpste mes. “Elkana vlug tot in my arms en my bed, Hanna. En dit is jou verdiende loon!”

Nee, die gevoel van versmoring het niks met die poeier­agtige kafwolk bo die dorsvloer te doen nie. Dit is immers, soos haar ouma jare tevore opgemerk het, beloftestof.


Wanneer jou man se jonger vrou, die een by wie hy die eerste, tweede, derde en sesde nag van die week vóór die dorstyd deurgebring het, jou met smeulende woede oor die vorige aand se rusie aankyk, is dit asof daar ’n brand anderkant die berg woed. Dis asof daar hitte-opgeefsels in plaas van kafstof in die lug is.

Dan is dit asof jy willens en wetens by bergbrand­rook instap.

Peninna het ’n doek voor haar oopgesprei waar sy saam met ’n paar van die ander vroue en die klomp kleintjies voor Elkana se skuiling sit en wag. Hanna kan die roosterkoeke, gedroogte vye, rosyne en die velsak wat sy op die grof ge­weefde lap voor haar uitgepak het, van die hoogte af sien.

“Tannie Hanna!”

Mirjampie van Peninna het die roepe, die stewige been­tjies en die raaksien-oë van ’n kôrei. Sy klink soos ’n patry­sie wanneer sy roep en sy hardloop soos een. Wanneer Penin­na haar hele span kinders bymekaar wil kry, stuur sy vir Mirjam om hulle te gaan roep. Soos wat die patryshaan die jong patryse saans van die graanlande af met sy geroep by die nes terugkry, so kry Mirjampie haar broers en susters vir Peninna bymekaar.

“Daar’s tannie Hanna!”

Peninna se twee oudstes, Heman en Gesron, wat Elkana van vroegdag af help gars sny en die gerwe telkens met sy kleinneef se pakdonkies al met die kronkelpad langs dorsvloer toe bring, staan by haar. Hulle is ywerig besig om die vye en rosyne in die voue van hul gordels te druk. Albei se kakebene beweeg. Hulle kou soos net groeiende seuns tydens ’n blaaskans kan kou.

Kort voor die oestyd het Elkana dié twee sy kaal­vreter­sprinkane begin noem. Die ooreenkoms is on­betwis­baar tussen Heman-hulle en die vlerklose klein voet­ganger­sprin­kane wat ’n gars- en koringland, prei-, boontjieplante en elke ander spriet of blaar in die weke voordat hul vlerke uitkom, tot teen die grond afvreet.

Hanna het gedink Peninna sou haar oor dié benaming vererg. Raak met ’n woord of ’n kyk aan haar kinders, en jy raak aan haar. Sy het Elkana se woord egter nou deel van haar woordeskat gemaak. Deesdae, wanneer sy die seuns vermaan om hul kos ten minste net behoorlik te kou, praat sy Elkana agterna: “Watse kaalvretergedrag is dit nou dié? Komaan, ek wil niemand vir die tweede keer by die kospotte sien voordat Mirjam-hulle ook kos op hul borde het nie.”

Heman en Gesron kyk op, grinnik met wit tande en waai vir haar. Gesron praat-beduie sommer ook vir haar. Sy hoor genoeg om ook te kan weet wat aangaan.

“Pappa is op die land aan die agterkant van die Steen­bok­rotse. Hy kom nie boontoe nie. As sy werksmense daar klaar is, gaan hulle met die koring aan die ander kant van die heuwel begin.”

Soos gewoonlik lyk die twee min gepla met wat ook al tussen haar en Peninna aangaan of gebeur het. Met sy boodskap oorgedra, fluit Gesron die donkie nader en be­duie met die kop terwyl hy roep: “Lande toe!”

Hulle is vlytige seuns, dink Hanna. Dit kan nie anders wees nie. Elkana is ’n streng pa. Hy is ’n Leviet wat geen ongehoorsaamheid en rebelsheid duld nie, maar wat nooit sonder een of meer van Penina se kinders op sy hakke is nie. Peninna se klomp sterk kinders met hul oplet­tende oë streep net eenvoudig al kwetterend agter hom aan. In die jurke met vertikale lyne wat Peninna op die groot weef­raam vir hulle weef, is hulle ’n toonbeeld van lewens­lus en goeie sorg.

Soos jong olyfboomplante wat sonder belemmering groei, so is die kinders van my man en die leerlooier se dogter, dink Hanna.

Sy stap teen die helling af. Haar lyf is moeg soos wan­neer haar maandelikse bloedvloeiing vir drie, vier maande weg­gebly het en eindelik terugkom om dan net vir twee weke of soms langer aan te hou. So stap sy, want soos elke ander jaar moet en sal sy saam met Peninna graan sif.

Ons kan tog nie in koue stilswye op dieselfde dorsvloer wees nie, dink sy by haarself. Só leef die goddelose. So iets duld die Here nie. Ek sal die minste moet wees. Ek sal na Peninna moet uitreik en haar vanaand, wanneer die vroue huis toe gaan, met haar goed en haar kinders moet help. Ek sal die saak tussen ons moet regstel. Elkana slaap vannag weer langs die dorsvloer. Hy kom nie vanaand huis toe nie.

Hanna

Подняться наверх