Читать книгу Hanna - Maretha Maartens - Страница 8

HOOFSTUK 5

Оглавление

Hoe volmaak was die negende jaar van haar en Elkana se huwelik nie! Dit was die jaar voor sy besluit.

Wanneer die son saans sak, het Elkana die vordering wat hy dié dag gemaak het, stil en hande-agter-die-rug ge­staan en betrag. Uiteindelik was ’n klip-en-kleihuis op ’n vaste fon­da­ment van ongekapte klippe besig om vorm aan te neem. Die mure was dik en die vensterbanke breed ge­noeg vir kruike en lampe. Akkedisse en skerpioene het voor­tydig, terwyl Elkana nog aan die bou was, by die ruitlose ven­ster­openinge ingekom, die vertrek van hoek tot kant be­sigtig en hulle spoedig in dié beskutte ruimte tuisgemaak.

Elkana het die huis volgens sy plan gebou. Daar was twee ewe groot reghoekige vertrekke. Die een was vir sy pa, die ander een vir hom en haar. Albei vertrekke het vier vensteropeninge sonder traliewerk naby die dak gekry en elke vertrek sy eie deur, wat op houtpenne in die gate in die latei en drumpel skarnier.

“Die vyeboom by Pa se deur is vir Pa,” het Elkana die digte skaduwee aan Jerogam, sy pa, toegeken. “Dit is vir Pa en Pa se kuiergaste.”

Hy het aan die blinde man se skouer gevat en sagter gepraat: “Binnekort sit Pa dalk hier met Pa se kleinseun op Pa se skoot.”

Amen, het sy gedink, want sy het hom gehoor. Alles vind nou sy regte plek, selfs die skaduwee van die vyeboom.

Haar skoonpa was nie maklik oortuigbaar nie. Hy het hom vir maande teen die idee bly verset om in die kamer onder hulle in te trek. Wat is verkeerd met sy tent? Lyk hy vir hulle soos iemand wat langs ’n ander se tafel moet aanlê of soos ’n hulpbehoewende?

Elkana het ál sy dae met sy pa gehad en elke argu­ment aangevoor.

Die enigste een wat gewerk het, het soos weerlig deur Hanna gegaan. “Kinders het oupas nodig, Pa. Pa moet by ons intrek, want …”

“Elkana! Wat vertel jy my? Is Hanna al in haar sesde maand? Jy kon dit vir my gesê het! Ek is jou pa.”

O, die teleurstelling op haar skoonpa se gesig toe El­kana vir hom sê dat hy besig was om die plek vir sy pa in die geloof gereed te kry.

“Hoe bedoel jy – in die geloof?”

“Pa weet mos wat dit beteken. Met vertroue op die Here.”

“Jy sê dus sy is nog nie …”

Elkana het sy kop byna nie beweeg nie. “Maar dit sal gebeur, Pa. Trek by ons in. Pa glo dit tog ook.”

Haar skoonpa het ingetrek.

“My liewe Hanna, hoekom doen jy alles self?” wou El­kana weet toe sy later, nadat die mure al gestaan het, die mis-en-kleivloere van die twee groot vertrekke self begin smeer het.

“Oor die patrone wat ek in die vloere wil hê,” het sy geglimlag. Dit was vir haar heerlik om die granaatmosaïek in die middel van die vloer met gladde klippies in te lê.

“Mooi,” het Elkana verwonderd gesê. “Kom die klip­per­tjies uit die spruit? En hoe kry jy dit reg dat klippe soos vrugte en blomme begin lyk? Ek kan nie eens ’n palm­boom se stam uitpak dat dit soos ’n palmboomstam lyk nie.”

Hoe koel in die hoogsomer en droog in die reënsei­soen was haar voltooide huis ná die nege jaar in tente! Hoe pri­vaat was dit! Hoe salig privaat was sy en Elkana nou. Fa­milie­lede van Elkana – tantes en kinders, sy neefs en ander stamgenote – kon nie langer ’n blote groet van buite af gee en die tentflap dan sonder waarskuwing oplig nie. In die tyd toe Elkana se oom sy harem se tente vlak agter hulle s’n opgeslaan gehad het en haar skoonpa se groot balke-en-bokvelhuis skaars ses el van haar en Elkana se tentopening af was, het selfs die wind haar moedeloos gemaak. Die wind het die tentflap gereeld brutaal en ontydig oopgeruk.

Hier tussen die baie tente van my skoonpa, Jerogam, se neefs, veral sy brutale neef Sagaria se kwetterende harem, het sy dikwels half in trane gedink, sal ek bly opspring uit Elkana se omhelsing. Hier bied selfs die nagdonker geen privaatheid nie. Sagaria se vroue, dogters en dié se kinders is soos geitjies in die dag en skerpioene in die nag. Probeer jy hulle met woorde van jou tent af wegkry, weet jy by voorbaat jy mors jou asem.

Toe die kliphuis ingewy was en hulle saam met haar skoonpa ingetrek het, het sy elke dag soos ’n jong bruid na Elkana se tuiskoms uitgesien. Hy het die deur agter hulle toegemaak en dié wat nou oor verlore bokke, slange, voor­valle by die waterput, miet in die meel, die onbehoorlike gedrag van die priesterseuns, Hofni en Pinehas, of oor die geel blaas van ’n spinnekopbyt wou kom praat, moes klop en wag totdat sy of Elkana oopmaak.

Die buitetrappe aan die noordekant en die plat dak bo was haar en Elkana s’n. Sy het spoedig ontdek dat daar gras-, gars-, koring-, duwweltjie-, veldblom- en drabok­saad op die dak ontkiem elke keer nadat dit gereën het. Wanneer dit snags te warm in hul vertrek was, het sy en hy soms diep in die nag in die lig van die maan en die sterre teen die buitetrap opgegaan en op die kliphuisie se dak onder die sterrehemel gaan slaap. Daar het hy sy mantel en onder­kleed saam met haar eie vir haar oopgesprei en ge­meen­skap met haar gehad. Nege, ja, byna tien jaar ná hul troue was dit nog met dieselfde oorgawe en teerheid as die nag toe hul huwelik amptelik voltrek is en die bruilofs­gaste buite musiek gemaak en feesgevier het.

Elkana het die binnemure van die kliphuis later afgekalk. ’n Tiende van die bovertrekmure was van klip. Die res is steen vir steen opgebou met die gebakte modderstene wat sy hom gehelp maak het.

“Buite moet ons huis die kleur van die rotse hê,” het hy gesê. “Ons vyande moet dit nie van ver af kan raaksien nie. Maar binne moet jy elke ding wat op die mure loop, dadelik kan sien – perdebye, skerpioene en spinnekoppe. G’n spinnekop gaan ons kinders byt nie.”

“Hulle het nie ’n kans nie,” het sy geknik. Die binne­mure was witter as wit. Hulle was beenwit.

Sy het ’n gewoonte daarvan gemaak om saans ná sy werksdag vir hom wyn of dikmelk dak toe te neem. Daar het hulle dan alleen in die aandkoelte gesit en gesels met die familietente laer af teen die helling en kinders soos mossies en spreeus net waar jy kyk. Die geur van die tent­dorp se aandkos – brood, sop, bokvleis- of groente­bredie – was in die aandwind en die gejil van jong kinders in die lug.

Sy en Elkana het oor alles gepraat. Plundertogte in die nag deur plunderaars wat deur die woude ingesluk word, leeus en luiperds en jakkalse, die droogte, dié en daardie een se begrafnis of troue, sy waterputte, die drabokplaag of hoeveel dae voor elke fees hy en sy Silo toe sou gaan.

Aand vir aand het sy hom van haar dag vertel. Van die ooi wat onverwags op pad na die drinkplek gelam het en die vierde slang in drie dae tussen die tente van Sagaria se harem. Dan sou hulle saam lag oor sy pa, Jerogam, wat kierie omhoog reg voor die aggressiewe kobra beland en bo die gegil uit vir die vroue aanhou vra het: “Waar moet ek slaan? Regs, links?”

Partykeer het sy hul aandete dak toe gebring. Dan het Elkana die Here met die breek van die brood in die lig van die ondergaande son of onder die eerste sterre vir sy goedheid gedank. El Shaddai, sou hy Hom dan noem. Almagtige God.

En dan, onvermydelik, het hulle half fluisterend oor ’n nageslag begin praat. Oor dié vir wie se veiligheid hy die binnemure gekalk het. Male sonder tal het hy hul klere in die maanlig op die dak oopgesprei om haar te bemin en ’n kind in haar te verwek.

Laat dit gebeur, Here ons God. Vergewe ons dat ons nog nooit ophou vra het nie, El Shaddai.

Wanneer sy dan ’n week of twee later vir hom sê dat die bloedvloeiing gekom het, was daar magteloosheid in sy oë en het hy net stil geword. Hy kon nie sy arms om haar slaan nie; hy kon haar nie teen sy bors druk nie, want sy was onrein. Stiller en stiller het hy geword. En sy het gedink dat dit net om een rede was. Teleurstelling.

Die dor seisoen van daardie jaar het verbygesleep. Die vroeë en die laat reëns het gekom en gegaan. In die droë seisoen het die wind bruin stof op die klippe van die binnemuur kom smyt. Waar die reën later ingekom het, het daar vaalbruin vlekke op die gekalkte mure vorm aangeneem.

Ag, nee. Moddervlekke op die wit muur, het sy onrustig gedink. En soms, onontwykbaar: Skryf die Here die rede vir my kinderloosheid in modder teen die gekalkte muur sodat ek sal weet dat Hy sonde nie ongestraf laat bly nie?

Moses het die hele Israel voor die intog op Gerisimberg en Ebalberg3 laat staan. Daar rus ’n vloek op elkeen wat sy pa of ma minag, het die Leviete aangekondig.

“Amen!” het die hele volk geantwoord.

Wys die Here die vlekke van my ongeregtigheid só met moddervlekke vir my uit? Is dit die rede waarom Hy my met kinderloosheid straf?


Weke lank het sy vrou-alleen in die huis met die smal vensteropeninge waardeur die sonlig soos geelwit hout­balke ingeskuif kom om teen die oorkantste muur vas te slaan, die moddervlekke bekyk en haar oor hulle ontstel. Op ’n dag het dit tot haar deurgedring dat sy die vlekke kon afskrop.

Sy het water en ’n stuk seep van sederhout­olie, hisop en loog gaan haal, ’n growwe stoflap gevat en die vlekke afgeskrop. Die vlekke het afgekom, maar so ook die kalk agter hulle almal. By Elkana se tuiskoms het sy hom gevra om die dieper vlekke wat sy teen die muur gemaak het, weer toe te kalk.

“Die volgende wat jy afskrop, is die vel van jou hande,” het hy gesê en sy kop geskud. “My dierbare vrou, die mod­der­vlekke het my nie eens gepla nie.”

“Maar sal jy die kolle weer toekalk? Of kan ek dit maar doen?”

Hy het belowe om dit te doen. Later. Sy muurkalk was op. Hy moes kalk-oond toe gaan om sy voorraad aan te vul en dié was byna ’n dagreis ver op ’n uitdraaipad uit die hoofpad na Gibea. Die vlekke het maande lank teen die muur bly sit. Wanneer die balke sonlig dan deur die vensteropeninge val en twee vingers, vier vingers, een palm en later een span afskuif om soos fakkellig op die rou vlekke te skyn, was dit asof sy haarself tot op die been ge­sien het.

Dit was ondraaglik.

“El Roï,” het sy dit gewaag om die Here aan te spreek, “o, Lewende Een wat my sien, U het Hagar gesien toe nie­mand anders daar vir haar was nie. U het afgekom in ’n wolk toe Moses begeer het dat U Uself aan hom moes open­baar. U het vir Moses gesê: ‘Ek, die Here, is die barm­har­tige en genadige God, eindeloos geduldig, vol liefde en trou. Ek gee my liefde aan die een geslag ná die ander. Ek ver­gewe. Ek spreek mense vry van alles wat hulle verkeerd ge­doen het. Ek skryf hul oortredings en sonde af.’4

“Sien my raak, o God wat sien! Hoor my noodkrete, soos wat U Hagar se noodkrete gehoor het. Spreek my vry van die onvergeeflike ding wat ek gedoen het op die dag toe Nemuel gesterf het. Skryf dit af, Here. Skryf dit af, al het ek nie opgehou om die onvergeeflike ding te doen nie. Al het ek dit keer op keer weer in my gedagtes gedoen. Ek kon nie daarmee ophou nie, Here …”

Nemuel is soos ’n sagte wurmpie in ’n web van wit linne­bande, het sy nog voor die onvergeeflike ding ge­dink. Nee, nie in ’n web nie, in ’n kokon. Daar is spinne­kop­pe wat hul prooi heeltemal toespin sodat hy kan bly waar hy is. Die vroue wat Nemuel skoon was en hom in linne­bande toedraai, lyk soos spinnekoppe. Daar is tien, twaalf be­we­gende pote, al het ’n spinnekop maar agt. Die vroue moet seker maar met hul hande klaarkom om Nemuel toe­gespin te kry, want hulle kan dit mos nie soos regte spin­ne­koppe doen nie.

Sy het buite teen die huismuur gaan huil. Niemand het haar kom troos nie. Almal het oor Nemuel gehuil. Sy het omgedraai en haar gruwelik gaan gedra, onvergeeflik. Sy was nege jaar oud.

Hoe het sy nie in die maande toe daar nie muurkalk was om die vlekke weggekalk te kry, met El Yisra’el ge­wor­stel nie!

“Here, my keel trek toe van dankbaarheid wanneer El­kana u woorde aan Moses staan en wiegsing. Sy hele se­ning­rige lyf sing saam. En wanneer hy op sy knieë neersak om U, gesig teen die grond, te aanbid vir wie U is, dan aan­bid die ry knoppe van sy rugstring U saam met sy mond. Dan aanbid sy voetsole U. Dan aanbid ek U ook, want U vergewe en my man lê daar voor U asof in u heilige Lig, as­of vasgepen in die mag van u Shekinah. Wanneer my goeie man so vol aanbidding daar in u Lig is, weet ek: Die boos­heid wat uit my gekom het toe ek so kwaad was, is nie soos die rou vlekke teen die muur nie.

“U is nie ’n mens nie. U is die Here en ek is tussen mense van die Here. Hul name vertel van U. Hul dade en keuses getuig van hul verbondenheid met U. My God is die Here, beteken die naam van Elkana se oupa Elihu. God is die Here, getuig my man se rugstringknoppe wanneer hy op sy gesig voor U lê.

“Hier, tussen Leviete wat U nog dien, my godvresende man, sy pa en sy oupa, is dit weer soos by ouma Seruja en my ma. Hier ruk U my uit die duisternis rondom my pa. U is hier en dit is lig hier. U verlaat my nie.

“My man se naam beteken God het geskep. Nie met hande, soos wat mense skep nie, maar deur net te spreek. Sê net ’n woord, Here, soos aan die begin. Dan sal daar iewers vorentoe een maand sonder teleurstelling, sonder bloedvloeiing en sonder onreinheid wees.”

Terwyl Elkana die Here aanbid en sy sy stem hoor, het sy geglo. Maar wanneer hy ver van die huis af grond teen die hang van ’n ver geleë heuwel ontbos, klipkrale bou of afgedwaalde bokke soek, het die twyfel teruggkom soos wat leeus terugkom wanneer hulle bloed geruik het.

“Toe U, Adonai, Moses in ’n rotsskeur laat staan, sy gesig met u hand bedek en in u heerlikheid by hom verby­gegaan het, het U ook gesê: ‘Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.’

“God van Hagar en God van Moses, ek vra nie dat U my sonder meer sal vryspreek nie. Ek sal enigiets doen, enigiets, sodat U my straf sal herroep. Wys my wat U van my verwag. Wys my wat ek moet doen, en ek sal dit doen. Ek was net nege jaar oud, en ek was so verskriklik kwaad vir my pa. Ek was buite myself van magteloosheid. Wat ek al huilend vir hom geskree het, is onvergeeflik.

“Maar, Here, is selfverwyt nie die swaarste straf van alle strawwe wat U die mens kan oplê nie? Wat maak enige mens met ’n sonde waarvoor hy – of sy – nooit ’n lam as skuldoffer sal kan aanbied nie? Wat maak ’n mens met jou eie sondevlekke, rouer en dieper as enige rou kolle teen die witgekalkte muur van jou slaapkamer? Wat maak ’n mens met ’n gruwel waarmee jy jouself uit u ewige verbond met Israel verwyder het? Ek was net nege jaar oud, Here. Ek het nie geweet wat ek doen nie. Nie heeltemal nie.”

God het geswyg – vir jare. Wag sy op ’n gedagte wat dalk van Hom sou kon kom, hoor sy niks anders as leë stilte nie. Prys sy Hom oor ’n reënboog wat van heuweltop tot heuweltop span, tref Hy ’n rots vlakby haar met ’n weerligstraal.

Toe sy Hom oplaas vra om haar straf te herroep, het Hy haar ’n swaarder vonnis opgelê. Daardie nag in die kliphuis toe Elkana sy besluit in ’n fluisterstem aan haar meedeel, kon sy die jakkalse naby die bokke se kraal hoor blaf.

Hanna

Подняться наверх