Читать книгу Hanna - Maretha Maartens - Страница 9

HOOFSTUK 6

Оглавление

Hoe min jy ook al verstaan, hoe intens jy ook al daarna smag om te verstaan, sekere dinge weet jy voordat jy hulle verstaan, het Hanna dikwels in haar enigheid gedink. Jy weet veral dat sekere dinge nie vanself of deur jou toedoen gebeur nie.

Grond spoel vanself weg wanneer dit die jaar te veel reën. Ná die stortreën wat druisende bruisende water­val­le­tjies in die rante veroorsaak, staan jy sonder ge­we­tens­wroe­ging of siels­nood na die slote in die lappies saai­grond en kyk. Ja, jong plante en saad is saam met die water­strome berg­af, vlaktes toe. Skade gebeur. Vloed­waters kom en gaan. Jy gaan bekyk die slote, steek jou hande uit die mou, kry die saai­grond weer gelyk en sit nuwe saad in die grond. Die Here het gegee, die Here het geneem – prys sy hei­lige Naam.

Kruike val op die vloer en breek aan skerwe omdat iemand gewoon lomp of onverskillig was. Dan klap jy jou tong of stel die een wat die voorwerp laat val het, gerus: “Dit is wêreldsgoed. Moenie dat dit jou dag bederf nie.”

As dit jy was wat lomp was, neem jy jou voor om volgende keer versigtiger te wees. Weer en weer gebeur dit dat jy nie kyk wat jy doen nie, maar nooit lê jy snags en tob oor die oomblik toe jy die kruik hoor val het nie.

Sy het geweet dat haar familie se wegtrek uit die Ef­raims­berge anders as vloedwaterslote en die breek van ’n kruik was. Dit het nie vanself gebeur dat haar twee oudste broers ’n jaar of twee ná haar en Elkana se troue grond gaan koop het naby Gibea, vlakby die grens van Efraim en enkele klipgooie van die grondgebied van Benjamin af nie. Dit was ’n beskikking of ’n besluit van die Here. Dat haar broers haar pa toe oorreed het om hom ook daar te kom vestig, het die lewe vir haar makliker gemaak. En moeiliker, onrustiger.

Sy het snags daaroor rondgerol en Elkana uit sy slaap geïrriteer.

“Wat pla, Hanna?”

“Die muskiete,” sou sy sê. En dit was waar. Dit was asof daar ná elke reënbui groter en meer geslepe muskiet­swerms op hulle toegeslaan het. Hulle het in die donkerste hoeke van die huis geskuil waar geen wind kom nie. As sy soggens die deur oopmaak, wolk hulle by die huis in. Soos bokke wat storm om by die water te kom, het die insekte by die huis ingestorm om by die bloed van die huisbewoners uit te kom.

Soms wanneer hy dit nie meer met haar kon uithou nie, het Elkana vaakdronk opgestaan om die flessie met die oliemengsel van tiemie5 en kaneel wat hy as muskiet­weerder aangemaak het, van die rak te gaan haal.

“Smeer aan, Hanna.” Geduldig wag hy met sy hare wild en sy skouers moeg. Halfpad terug rak toe, steek hy vas: “Of wil jy die smeergoed by jou hou? Partykeer help dit om te weet daar is ten minste iets byderhand.”

Die mengsel het haar nie laat slaap nie, maar die reuk van kruie en speserye aan haar lyf was soos ’n waarsku­wing vir die res van die nag: “Lê tog net stil!”

Moes sy El Yisra’el vir haar pa en broers se wegtrek loof en dank, of was dié skuif waardeur haar ma vir alle praktiese doeleindes uit haar lewe geruk is, ’n verswaring van die straf wat Hy haar opgelê het?

As sy maar net op Elkana se wysheid en insigte kon terugval … Maar sy kon nie. Sy durf nie. Teenoor hóm het sy maar net die regte geluide oor die wending in haar familielewe en die voor die hand liggende verliese in haar eie bestaan gemaak.

“Ek sal my ma mis,” het sy vir Elkana gesê. “Sy sal my ook mis. Ons is na aan mekaar met dié dat ek haar enigste dogter is.”

Bolangs het sy oor die wending gepraat, maar net bo­langs. In die derde nagwaak, wanneer enige reg­denk­ende vrou haar man met rus laat om sy krag vir die vol­gende dag se geswoeg en gesweet te herwin, het alles waarmee sy nie vir Elkana kon belas nie, onkeerbaar na die oppervlak­te gekom.

Niks is erger as om wakker te wees terwyl die derde nagwaak6 verbysleep en jou liggaam kragteloos pleit om te kan rus nie.

Bedags het Elkana, slegs bolangs bewus, haar verseker hy kry haar jammer. “Ai, die oorstap na jou ma het jou nog altyd so goed gedoen.” En soms het hy bygevoeg: “Maar moenie dink dit is net jy en jou ma wat mekaar gaan mis nie. Jou broers se kinders is gek na jou, Hanna.”

“En ek na hulle, die wilde goed.”

“Pasop wat jy sê,” het Elkana dan skielik gegrinnik. “Wan­neer ons ons eie wilde wesentjies het, gaan jou broers se kinders vir jou soos mak skape lyk.”

“Ek sal hulle nie kan vergelyk nie. My broers se kinders is uit ons lewe. Ek dink nie my broers gaan ooit terugkom nie. Hul grond is dan verkoop.”

Snags wanneer Elkana slaap en bedags by die wasklippe was dit asof twee strydende faksies in haar baklei. Wat is belangriker? Die grootste moontlike afstand tussen jou pa en jou man, of om jou ma naby jou te hê? Om met die voetpad langs na haar te kan stap, om weer en weer by haar te sit wanneer die bloedvloeiing jou platslaan en jou hoop vernietig, Hanna?

Wat is beter? Dat die eer van jou vader en jou broers nie in die gedrang sal kom nie of om keer op keer deur jou ma vertroos te word met gedroogte vye en dadels, met rosyne, huiswyn en saambid? Om diep in die winter met ’n kommetjie stomende lensiesop in jou ma se warmte en begrip te kan sit? Om elke keer by haar te kan hoor El Yisra’el is betroubaar en dat sy gedagtes nie die mens se gedagtes is nie? Om haar vir jou te hoor bid met haar stem so rou soos jou eie hart?

Wat doen die Here regtig? Verskuif Hy my pa en my broers sodat die behoefte in my om alles vir Elkana te vertel, kan weggaan? Sodat my man met agting van sy skoonpa kan bly praat? Sodat Elkana nie soos ek sal word nie – ’n Israeliet wie se lamp sekerlik in die pikdonker sal doodgaan. Of het dit reeds doodgegaan?

Het die Here dié wegtrek tot my beswil laat gebeur? Maak Hy my dae helderder sonder my pa? Of is Hy besig om my lewe en my ure donkerder te maak deur die af­stand tussen my en my ma so te vergroot? Was my ouma se dood nie genoeg nie?

’n Paar maande voordat haar ouers weggetrek het, het die tyding een oggend vroeg gekom: Jou ouma Seruja het vannag in haar slaap gesterf.

Sy het haar ma die ou liggaam help was en onrein ge­word. Later het haar ma hulle albei rein geskrop in rei­nig­ings­water met die as van ’n rooi koei daarin. Sy was geskok oor wat die ouderdom aan mense doen. Hoe los haar ouma se vel en weefsel geword het. Hoe elke been onder die los vlees uitkenbaar en voelbaar word. Hoe min daar van ’n mens oorbly, maar hoe swaar ’n lyk ten spyte hiervan is. Hoe klipkoud die oë en die kyk van dooies is – ook dié van jou ouma met haar beenwit hare, haar skewe heup, haar wysheid en haar erns, haar kommer en haar diep geloof. Hoe stof tot stof terugkeer. Of nie …

Henog, het ouma Seruja ’n paar keer gesê, het baie na aan Elohim geleef, asof Elohim sy vriend was. En toe hy sy lewensdae op hierdie aarde geleef het, het die mense na hom gesoek, maar hy was daar nie meer nie. Sy plek was leeg, sy kinders en sy hele nageslag het vergeefs na hom gesoek. Daar was geen bloedspoor en geen voetspore nie. Hy is nie deur roofdiere verskeur of deur mense na ’n ander plek geneem nie. Elohim het hom weggeneem na waar Hy is.

Elohim is in die hemel, het ouma Seruja gesê. En soos Henog gaan dié wat Hom eer en aanbid, wat sy wil doen en op Hom alleen vertrou, ook daarheen.

“Hoe kom ons daar, Ouma?”

“Ek weet nie, Hanna, maar die Here weet. Niks is vir Hom onmoontlik nie.”

Sy, Hanna, het soms gedroom van ’n Hand groter as die hele land wat uitgesteek word om haar op te neem na waar Elohim woon. Die Hand was skitterblink en deursigtig soos oggendmis wanneer die son opkom.

Hoe bly was sy dan! So bly dat sy soms met lofwoorde op haar lippe wakkergeskrik het. Ek wil nie meer hier wees nie, het sy in die eerste oomblikke ná die wakkerword gedink. Maar sy was terug, soos lank tevore wanneer sy ná ’n groot rusie tussen haar pa en ma wakker word, met Nemuel wat haar voetsole met ’n tarentaalveer kielie, of met die gedempte geluid van haar ma se snikke.

Haar ma het haar ouma se oë al snikkend toegedruk en die koue kyk was weg. Dit het gelyk asof ouma Seruja slaap. Maar só slaap niemand nie, het sy, Hanna, gedink. Só huil diegene wat aan ’n slapende mens se wang of boarm raak, ook nie. Só ’n brandpyn het jy nooit in jou keel en bors wanneer jy by ’n slapende, lewende mens staan nie. Uit dit wat die doodslaap genoem word, sal geen rams­horing die slaper ooit kan wakkermaak nie. As die almagtige God dit nie doen nie, sal die dooies nooit weer wakker word en opstaan nie.

Dit was byna ’n verligting om haar ouma in die linne­kleed toe te draai. Om haar willose lyf egter dié kant toe en daardie kant toe te draai, om haar kop tussen jou hande te vat en op te lig om haar ken vas te bind en haar in haar doodskleed te kry, was verskriklik. Om só te moet om­gaan met die een wat jou altyd onder kruisverhoor geneem het oor hoe jy nog lewe! Om een van diegene te wees wat die naaktheid van ’n oumens bedek! Maar die linne­kleed het haar weer met ’n waardigheid beklee. Sy was goed be­dek en eerbaar in skoon linne, soos wat sy haar hele lewe lank was.

Met Elkana kon sy maar net oor die dubbele verlies praat. Ouma wat die dag van haar dood in die veld be­grawe is met die grafsteen afgewit sodat niemand ooit in die donker op haar graf sou trap nie. Die voetpaadjie na haar ma toe wat sou toegroei, want wie was daar nou na wie sy wat Hanna is, sou wou loop? Die res was haar eie las om te dra, haar bagasie, haar straf. As hy moes weet … Die rede vir haar onvrugbaarheid sou oop en bloot voor hom wees.

O, Adonai, help my tog! In sy regskapenheid en sy on­geveinste egtheid het Elkana, die nasaat van Suf en een van die klein oorblyfsel in Israel wat die knie nie voor vreem­de gode buig nie, my met sy eie hand en hart as vrou ge­kies. Daar was geen tussenganger, geen voor­brand­maker en onderhandelaar nie. Elkana het alleen met my pa kom praat. Hy het gebid vir die regte vrou, het hy vir my pa gesê. ’n Mens van vlees en bloed kan immers op so baie maniere op ’n dwaalweg beland. En watter seën kan enig­iemand verwag as hy buite die wil van die Here is? Hoe kan ’n mens se nageslag eerbied vir die Here hê as die vrou wat hulle vir jou in die wêreld bring en hulle saam met jou moet opvoed, nie in nederige gehoorsaam­heid aan die Here leef nie?

“Ek het die Here gevra om die regte vrou vir my uit te wys, my vader,” het Elkana daardie dag gesê. “Hy het dit gedoen. Daarom is ek hier om u te vra of ek Hanna vir my as vrou mag neem. U weet ek is nie ’n jong man nie. Soos ons voorvader Isak het ek vir baie jare maar net gehoop, net van ver af verlang om in die weelde van ’n eie gesin te kan leef en ’n vrou te hê wat die Here dien.”

Wat het haar pa daardie dag gedink? Daar was Elkana, sy oë so sonder valsheid soos sy siel. En daar was haar pa, onpeilbaar en onvoorspelbaar. Seun van verwoes­ten­de woede, het haar ouma Seruja hom eenkeer genoem, Boanerges7. Die dreuende donderweer het seuns op hier­die aarde – manne van die donder. Wanneer ’n man kwaad is, weet jy wie se seun hy is.

Die opregtheid in Elkana was soos die kleur van sy hare. Sy hare het hy nog nooit gehenna soos wat Sebadja, sy familielid Sagaria se swaer, tot die verbasing van die vroue in die geheim gedoen het nie. So kastaiingbruin soos sy hare was toe sy hom die heel eerste keer sonder sy kopdoek gesien het, so het Elkana se dik bos hare al die jare gebly. Die diep rooibruin sou uiteindelik in sy ouder­dom vanself versilwer. Die kroon van die ouder­dom, het sy geweet, sou hom pas.

Elkana het valsheid nog altyd ’n lae soort boosheid ge­noem. In die tyd toe hy haar huis gebou het, het hy twee van Sagaria se kleinseuns reguit daaroor aangespreek. Dié twee het hom in daardie tyd nie altyd in die oë gekyk nie. Terwyl hulle hul pa se vee oppas, het hulle Elkana se bok­ke met klippe gegooi. Elkana het hulle op heterdaad be­trap waar hulle hul niggies en eie oudste susters afloer terwyl die meisies hul reinigingsbad neem. Die oudste van die twee het dit ontken dat die spoeg spat, soos ook die aan­tyging dat hy in die jaar toe hy 15 was by die beelde naby Gilgal met ’n prostituut omgang gehad het.

As Elkana dié twee dan iewers sou teëkom, was dit sha­lom! en shalom! uit albei monde. En: “Hoe lyk die wolke vir Oom? Is daar reën aan die kom?”

Elkana se uitgangspunt was nog altyd dat valsheid en boosheid soos dorings en distels aangepak en uitgeroei moet word. Daarom het hy die twee een middag nader geroep. “Kom hierso. Daar is iets wat ek vir julle wil sê – of eerder móét sê.”

Daar was onderlangse blikke en nekhare wat jy onder albei se ma’aforet kon sien rys. Hulle het egter nader­ge­staan, hardgebak soos gebakte stene. Die een het gesê: “Ons kan nie eintlik lank bly nie. Ons gaan vannag bokke oppas. Daar is wolwe in die rante. Maar Oom wou iets sê?”

Elkana hom hom nie van stryk laat bring nie. “Valsheid is ’n skuilplek wat nie lank skuiling bied nie, my seuns. Dit is soos ’n gat in die sand. Jy dink nog jy het ’n weg­kruipplek, dan begin die sand by die gat inloop. Jy raak daarin vasgeval.”

Hulle het eers na mekaar en toe verby Elkana gekyk. “Is daar fout dat Oom so met ons praat?”

“Julle weet goed dat ek julle gesien het toe julle die bokke met klippe bestook en jul susters afgeloer het.”

Hulle het ongemaklik rondgetrap. Uitgevang. “Hý het daarmee begin,” het die oudste die jongste beskuldig.

“Dit lieg jy,” het die jongste teruggekap. Hulle het gesis en na mekaar gepik soos slange doen wat in die holtes geskuil het van ’n kraalmuur van gestapelde klip as jy die muur afbreek.

Elkana het sy arms gekruis en gewag. “Ek dink ek moet later vanaand oorstap na jul pa toe.”

Hulle het geskrik. Hul pa, Sagaria se jongste seun, was ’n man wat maklik met die vuis geslaan het.

“Ek is jammer, Oom,” het die oudste onmiddellik gesê.

“Ons luister na Oom,” het die jongste ook ingeval. “Oom doen wat Moses gesê het, en ons luister.”

Elkana het sy linkerwenkbrou gelig en die oudste het so byna-byna gesoebat. “Oom skerp die gebooie by ons in. Oom praat met ons daaroor – beter as wat my pa dit kan doen, Oom. Oom weet van sy beeldjies. My pa praat nie meer so met ons soos Oom nie.”

Die jongste het ook nog iets van die voorskrifte van die Here geweet: “Oom graveer die waarheid op ons voor­koppe in. Oom bring nog daardie merk op ons voorkoppe aan, Oom.”

Na dié gesprek het Elkana lank met ’n diep frons tussen die oë geloop. Dae lank was hy stil – ’n Leviet in rou oor die afvalligheid en leegheid van sy volk.

Hanna

Подняться наверх