Читать книгу Brigadier en die raaiselponie - Marga Jonker - Страница 5

2

Оглавление

Oom Jimmy

Die groot perd volg Zahn rustig tot in die dubbele perdesleepwa.

“Gits, Zahn, ek het skoon vergeet,” sê oom Jimmy. “Carla het vanoggend jou saalkleedjie geleen. Hare was om een of ander rede sopnat.”

Oom Jimmy wys na waar Zahn se vriendin se pienk saalkleedjie hang om droog te word. “Ek is nie seker wat gebeur het nie. Dalk weer Kareltjie wat poetse gebak het. Maar hier, jy kan my beste een leen.” Oom Jimmy gee vir haar ’n geweefde rooi saalkleedjie aan. Dit pas eintlik by die cowboy-saals wat oom Jimmy altyd gebruik.

Wat nóú nog!, wonder Zahn met ’n sug.

“Dis reg so, oom Jimmy. Sê net vir Kareltjie hy skuld my!” Hulle laai haar saal, toom, rystewels en rypet alles netjies aan die oop linkerkant van die wa. Zahn hou van haar goed netjies gepak.

“Wat van kos, Zahn? Moet ons vir hom kos laai?” vra oom Jimmy. “Of is daar kos by die stalle waar die Brigadier gaan staan?”

Ben haal sy skouers op.

“Nee, ek weet self nie. Dit is ’n gasteplaas. Daar is ’n gastehuis en mens kan daar kom vakansie hou met jou perde en jou honde, maar ek weet nie van die kos nie. Ons moet ons eie kos maak, dit is selfsorg. Dalk geld dieselfde reëls vir die perde.”

“Ja wat, hier is mos genoeg plek vir kos, oom Jimmy. Ek wil nie kanse waag nie, netnou sit ek met ’n honger perd,” stel Zahn voor.

Zahn en oom Jimmy dra bale lusern en ’n houer met Briggs se spesiale hawervoermengsel uit die voerkamer. Ben help hulle om dit ook in die sleepwa te laai.

“Joehoe, wat dink julle van my outfit?” Alexandra loer met ’n breë glimlag om die kant van die sleepwa. Sy het haar netjiese jeans verruil vir swart spankouse met ontwerpersgate in en ’n styfpassende mini-denimrompie met ’n uitgerafelde soom. Haar tekkies het plek gemaak vir lang swart leerstewels met silwerblink chroompunte.

“Maar daai bootse van jou sal darem ’n lekker gat in ’n deur kan skop, Alexi,” sê oom Jimmy.

“Dis Aldo-stewels, oom Jimmy,” lag Alexandra dat jy net kuiltjies sien, “maar hulle kan nogal skop!” Die gif­tige ongeduld van vroeër is nêrens te bespeur nie.

“Ek het mos ’n swak vir enige soort stewels. Ek hou net van hulle, ek sal nou net nie weet van Alda se stewels nie.”

“Aldo, oom Jimmy. Ten minste het Oom darem goeie smaak. Dis meer as wat ek van my ma kan sê. Sy is mos flippen suinig. Sy noem klere met labels ‘ekonomiese kommoditeite’. Sy verstaan niks van modes af nie. Sy is soos die Franse sê ’n ware mode-faux pas.”

“Ja, jou ma was nog altyd baie goed met geld, dis mos haar werk,” sê Ben.

“Maar dis seker nie nodig om jou kinders soos bankkliënte te behandel nie,” sê Alexandra suur. “Ek moes maande spaar om hierdie stewels te kon bekostig.” Sy draai trots op haar hakke in die rondte. Haar dramaklub-skooltop lê in ’n bondel op die Land Rover se dak. Die kort helderpers T-hemp met die Guns N’ Roses-logo wat sy aanhet, strek net tot by haar naeltjie.

“Legend top. Axl Rose, Appetite for destruction, 1987?” vra Ben.

“Awê, bro. Maar Chinese democracy 2001 is my favour­ite,” antwoord Alexandra, beïndruk met die feit dat Ben die punkrockgroep se albums ken.

“Wag, ek kry my kamera,” sê Ben.

“Sien, ek het jou gesê hy gaan nie verkramp wees oor modes en musiek nie. Hy is, dankie flippen tog, glad nie soos Ma nie,” sê Alexandra. “Hy weet glad wie Axl Rose is!”

“Jy moet maar net sorg dat Ma nie dié foto’s sien nie,” fluister Zahn.

Ben kom terug met sy kamera met ’n lang zoemlens op.

“Sjoe, wat ’n groot kamera! Lyk my jy ken van foto’s neem?” vra oom Jimmy terwyl Ben foto’s van Zahn en oom Jimmy ook neem.

“Hy is ’n fotograaf. Hy het al oral in die wêreld foto’s geneem. Hy’t die laaste tien jaar in Engeland gewerk, maar hy woon nou weer in Suid-Afrika,” verduidelik Alex­andra terwyl sy met ’n skewe kop en haar hande op haar heupe vir die kamera glimlag.

“Jy is na Axl Rose vernoem,” merk Ben op.

“Ek glo dit nie!”

“Ja, maar gelukkig was dit ook die naam van een of ander Russiese prinses, so ek en jou ma het nie daaroor gestry nie.”

“Wow, ek het dit nooit geweet nie. Het julle oor Zahn se naam gestry?” vra Alexandra.

“Zahn het julle ma se ma, julle ouma Susannie, se naam.”

Dit is vir Zahn nuus dat Alexandra na Axl Rose vernoem is, maar sy weet sy is na haar ouma Susannie vernoem. Sy het net nie gedink Ben ken ook hulle stories nie.

Brigadier en die raaiselponie

Подняться наверх