Читать книгу Brigadier en die raaiselponie - Marga Jonker - Страница 7

4

Оглавление

Lola

“Zahn!”

Zahn wip uit haar dagdroom.

“Zahnie, jy moet vir Dad sê waar ons moet stop sodat jy kan kyk of Briggs oukei is.”

Zahn merk op dat “Bio-pappie” intussen “Dad” geword het. Vandat hulle uit die Kaap weg is tot sy in haar droomwêreld verval het, was Alexandra eenstrykdeur besig op haar selfoon. Nou lê die foon vir ’n oomblik op haar skoot en sy sit regop.

“Waar is ons?” vra sy.

“Nog steeds op die N2. Ons is nou net verby Swellendam. Die afdraai na Buffeljagsrivier is hier voor,” sê Ben. “Druk hier só op die GPS, dan kan jy in- en uitzoem.”

“Kyk, Zahn, dit lyk of Briggs sy kop op en af skud. Dalk is hy honger of iets? Hier is mos ’n groot garage hier voor. Dalk moet ons ’n bietjie aftrek.” Alexandra hang soos ’n vink oor die sitplek se rugleuning en bestudeer die perd aandagtig.

Zahn kan niks fout sien met Briggs nie. Sy loer agterdogtig na Alexandra. “Briggs makeer niks nie, Alex.”

“Kom ons stop en rek ons bene, dan maak ons liewer seker Mr Briggs is nog oukei,” sê Ben.

Die Land Rover beweeg oor na die regterbaan om by die vulstasie af te draai. Hulle hou onder groot koeltebome stil. Die vulstasie is druk besig. Viertrekvoertuie, gesinsmotors en motors vol jongmense staan en wag vir ’n beurt om petrol in te gooi. Dit is vakansie in die Kaap; baie mense is op pad kus toe.

“Goed, ek sal kyk of Briggs wil water drink.” Zahn maak die voorste deur van die perdesleepwa oop en haal die wateremmer uit.

“Ek gaan solank ’n draai loop.” Ben rek hom uit en stap in die rigting van die badkamers.

Die petroljoggie help Zahn om die emmer halfvol water te maak. Sy beur skeefgetrek met die emmer terug na Briggs toe, haar oë op die grond voor haar. Sy steek vas toe sy die paar swart ontwerperstekkies met die pers kopbeenpatrone sien.

Sy hoef nie eens op te kyk nie. Alexandra se swart chroompunt-leerstewels staan tussen die twee geruite tekkies, haar suster se spankouse met ontwerpersgate styf teen die swart seunsjeans gedruk. Bio-pappie se grense gaan nou getoets word.

Zahn se maag trek op ’n knop. Hierdie dag kan nie nóg moeiliker raak nie.

Sy gluur na Alexandra waar sy en Jinx ineengestrengel teen die sykant van die perdesleepwa staan. “O, so dís hoe­kom jy skielik so bekommerd was oor Briggs!”

“Ag, Zahnie, cool dit nou net!” Alexandra het haar net los genoeg gewikkel uit Jinx se omhelsing om haar suster in die oë te kan kyk.

“Awê, Zahn, ek hoor jy soek ’n stable groom vir die vakansie.” Jinx glimlag vir haar en druk weer sy wang teen Alexandra se hare. “Puff-girl, jy is my engel,” fluister hy in haar oor en druk haar styf teen hom vas.

Jinx steek sy vuis, toegevou in ’n vingerlose leerhand­skoen, uit en gee Zahn ’n vuisgroet. Hy glimlag sameswe­rend vir haar. Sy hou van Jinx. Al die meisies in die skool hou van hom, dit is net haar ma en ’n hele paar onderwysers wat nié van hom hou nie.

“Weet Ben?” vra Zahn.

“Weet hy wat?” vra Alexandra uitdagend.

“H’m-h’m!” maak Ben keelskoon langs Zahn. “Weet Ben wat?”

“Dad, dis Jinx. My BF,” sê Alexandra met ’n soet stem.

Jinx steek sy gehandskoende hand uit en skud blad met Ben. “Aangename kennis, Oom.” Zahn kan aan Jinx se stem hoor dat hy ’n bietjie senuweeagtig is. “Ek is saam met my broer en sy vriende oppad Jeffreysbaai toe,” verduidelik Jinx en beduie na ’n rooi Volkswagen CitiGolf. Vier ouens met lang hare en stoppelbaarde hang by die Golf se vensters uit en waai vir Jinx.

“My ouers het ’n vakansiehuis daar. Hulle kom volgende week ook soontoe, maar ek mag vir die week saam met my broer en sy pelle kuier.”

Ben sê niks. Jinx trap ongemaklik rond en swaai sy blonde boy band-kuif uit sy oë. “Maar dit is baie oorvol in my broer se motor en ek moet vir Lola op my skoot hou.” Sy oë bedel om morele bystand by Alexandra.

“As sy haar perd kan saamneem, kan ek mos vir Jinx saamneem,” sê Alexandra, op die aanval.

“Wel, laat ek sien, Alexandra,” sê Ben peinsend. “Vra jy of jou vriend saam met jou met vakansie kan gaan, of is jy kwaad omdat jou suster se perd saamgaan?”

Zahn wag met opgehoue asem. Nou gaan die poppe dans.

“Ek vra of Jinx vir ’n paar dae saam met ons kan vakansie hou. Sy broer sal nie omgee nie en sy ma-hulle ook nie,” sê Alexandra, nou meer bedaard.

“Ek is baie handig, Oom. Ek kan skottelgoed was, met ’n rekenaar werk, kitaar speel en koffie maak,” sê Jinx met ’n gladde tong.

“Niemand onder agtien raak aan my whiskey of my bier nie,” sê Ben.

“Nee, nooit nie, Oom, hoe ken Oom my? Ek drink ­nie . . . eintlik nie, Oom.”

“Dit is juis die ding: ek ken jou nie,” sê Ben. “En wat van rook?”

Jinx skud weer sy gestileerde kuif en kyk ongemaklik na Alexandra. “Wel, ek puff so nou en dan ’n . . . Marlboro.”

“Rook jý ook?” vra Ben vir Alexandra.

“Ek puff by hom.”

“Sy is my Puff-girl,” sê Jinx en sit weer sy arm om haar middel.

“Wel, Val hou nie van rook in die huis nie. Jy sal op die stoep moet rook.” Ben lyk meer bekommerd oor ’n rokery in die huis as oor die rokery self.

“Wie is Val?” vra Alexandra.

“Valeria, my vriendin.”

“Jy het ’n girlfriend?” vra Alexandra ontsteld.

“Ja. Val. Sy gaan saam met ons vakansie hou. Dis sy wat vir ons die gastehuis met die stalle bespreek het,” sê Ben onverstoord.

“Wel, wel, Valeria! Dis nou mooi! ’n Potensiële stiefmammie! Wanneer het jy nogal beplan om ons te vertel van ons hele nuwe extendend family?” Alexandra is woedend.

Ben trek sy hande deur sy lang krulhare, maar sê niks. ’n Tipiese hippie uit die sestigs, dink Zahn: enige iets is aanvaarbaar, behalwe konflik.

“Wat sê jy, Zahn?” Ben se vraag vang haar onkant.

“Ek rook nie,” antwoord sy.

“Nee, nie oor die rook nie, oor Alexandra se BF. Hy kan saamkom as jy sê hy kan.”

Zahn kyk verbaas na Ben. Hy klink sowaar ernstig, asof hy werklik vir Jinx gaan saamneem of los op grond van wat sy dink. Op ’n manier laat dit haar belangrik en deel van die gesprek voel, maar aan die anderkant voel sy vies. Weet hy dalk regtig nie wat hy moet doen nie en dink hy sy sal ’n beter besluit kan neem as hy?

“Kan ons hom saamneem?” vra Ben weer.

“As Alexandra netjieser kan lewe en nie alles vir my los om op te ruim nie, gee ek nie om of sy ’n singende tarantula saambring nie.”

“Thanks, Zahn! ’n Singende tarantula? Jy leer mooi by jou ma.” Jinx trek ’n gesig.

Alexandra knik gretig. “Ek sal met alles help.”

“Nou goed, dan het ons ’n ooreenkoms. ’n Perd vir Zahn en ’n BF vir Alexandra, enige iets om my meisies saam met my op vakansie te kan neem. Kom ons kry rigting sodat ons voor donker op Plett kan wees,” sê Ben.

“’n Stiefma om te leer ken. Ek hoop net sy is cooler as my ma se boyfriend,” sê Alexandra.

“Wel, Val is . . . sy is baie jonger as Marius.” Ben trek sy groen oë op skrefies en lyk vir ’n oomblik of hy iets verder wil sê, maar bly dan stil.

“Ek sal hoop sy is jonger. Marius is so oud, hy is al op die waglys van Huis Stoepsit-aftreeoord,” sê Alexandra.

“Onthou net, meisies, en jy ook, Mister Boyfriend: as dit uitkom, as iemand my vra,” – Ben kyk stip na Alexandra – “byvoorbeeld julle strenge moeder, dan gaan ek nie jok nie. Ek gaan net sê julle het saam besluit om ’n skoolpel van julle by ’n garage op te laai.”

“Cool dit, Dad,” sê Alexandra. “Ma en Marius speel lekker ouetehuis-ouetehuis in Melkbos. Wat hulle nie van weet nie, kan hulle nie pla nie.”

“Jinx, is jy nou uitgesorteer vir ’n lift?” roep Jinx se broer van die CitiGolf af.

Jinx wys vir die motor vol studente met sy duim na bo. Sy broer en sy pelle hang by die Golfie se venster uit en gee lang wolffluite vir Jinx en Alexandra toe hulle verbyry.

“Check julle later in Jeffreys!” skree Jinx agterna.

Ben pak Jinx se rugsak by die bagasie agter in die Land Rover. Dan neem hy Jinx se kitaar en soek ’n plek daarvoor.

“Oppas net vir Lola,” sê Jinx.

“Lola?” vra Ben.

“Ja, Oom, my kitaar. Haar naam is Lola.”

Brigadier en die raaiselponie

Подняться наверх