Читать книгу Brigadier en die raaiselponie - Marga Jonker - Страница 6

3

Оглавление

Papgeld

Die gekletter van die Land Rover se dieselenjin het ’n kalmerende effek op Zahn. Die N2 strek voor hulle uit in die rigting van die Tuinroete. Sy sit met haar oorfone op en haar iPod in haar hand, haar rug skuins teen die linkeragterdeur van die Land Rover. Só kan sy maklik loer of alles reg is by Briggs in die sleepwa.

Die son blink op die diamantjie wat Alexandra op haar neus geplak het terwyl sy met haar selfoon besig is. Sy werk nog aan ’n plan om ’n regte neusring en neusringgaatjie te kry. Die dik swart oogpotloodstrepe laat haar blou oë groter en ouer lyk.

Zahn draai haar vingers deur haar lang bruin ponie­stert. Sy knip haar oë moeg en tuur vir ’n lang tyd net stip na die perdesleepwa. Sy was baie gespanne oor die ontmoeting met Ben vanoggend en het laasnag amper niks geslaap nie. Hy was vir haar nog altyd nes Kersva­der – onwerklik en meesal beperk tot foto’s en poskaarte. Kersgeskenke en mooi kaartjies was goed genoeg vir haar. Hy het tien jaar gelede ’n geleentheid gekry om in Londen te gaan werk, pas nadat die skeisaak afgehandel was. Hy het Suid-Afrika net een keer ’n jaar besoek en dan het hulle by die Spur gaan uiteet.

Briggs staan rustig in die sleepwa en spits net af en toe sy ore. Zahn sug diep en wonder of Alexandra nou tevrede is. Sy lyk darem gelukkiger as vanoggend.

“Sy het hom gelos oor hy nie netjies genoeg was nie,” het Alexandra een aand vir Zahn in haar kamer kom vertel. Zahn was besig om na haar eie musiek te luister, verdiep in ’n dik boek oor die Amerikaanse Mustangs. Eintlik maar om weg te kom van haar ma en Alexandra, wat weer eens in ’n woedende woordewisseling gewikkel was oor Alexandra se deurmekaar kamer.

“Kan jy glo, jy los jou man oor hy nie netjies genoeg is nie!” Alexandra het op die mat langs Zahn se musieksentrum neergesak, haar gesig vertrek asof sy met ’n skerp voorwerp gemartel word. Sy het haar hande dramaties teen haar bors gedruk, kompleet asof sy ’n asma-aanval kry. Alexandra het twee jaar agtereenvolgens erekleure vir drama verwerf.

“Wat sou sy in die skeihof gesê het?” Alexandra het haar hande smekend voor haar uitgestrek. “Edelagbare, hierdie man se klere lê gedurig op die vloer.” Haar stem het liggies gebewe van ingehoue emosie. “Kan jy glo, Edelagbare, hy was nie die bad uit nie, hy los sy handdoeke op die vloer. Ja, Edelagbare, ja, dis ’n skande! Net daar op die vloer waar hy dit gebruik het, en soms . . . ja soms selfs oor die oop kasdeure gegooi.” Sy het die vertoning met ’n rou snik en ’n swanger stilte afgesluit.

Zahn het net haar skouers opgehaal en verder probeer konsentreer op die Amerikaanse Mustangs. Sy was al moeg vir haar suster se gedurige dramagooiery.

“Ek wens sy wil my ook los – soos in skei,” het Alexandra voortgetier. “Ek het al ’n fliek gesien van kinders wat hulle ouers geskei het. Ek is so moeg vir Ma, sy is só verkramp!” Na ’n dramatiese pouse het sy voortgegaan. “ ‘My kind, streetpunk-klere is só onvroulik.’ En: ‘Jy trek aandag by die verkeerde soort ouens.’ O, en dan natuurlik: ‘Jinx is darem so ánders. Neem hy ooit aan ’n sportsoort deel?’ ”

“Dalk glo Ma jy het ’n rolmodel nodig. Marius is perfek. Sy werk dalk aan ’n plan om hom te kry om permanent hier te kom woon. Dalk moet jy tog . . .” Zahn het nie kans gekry om haar sin te voltooi nie.

“Flippen eff, Zahn! As daai fossiel hiér intrek, sny ek my polse! Nee, my hoop is op ons bio-pappie. Ek moet na hóm aard.”

Alexandra het Zahn se boek uit haar hand gegryp en toegeklap, en haar rockmusiek harder gedraai. Met ’n bewende onderlip en haar hande op haar hart gedruk het sy skor gefluister: “Ek wéét net ek aard na Ben. Hy is tog ons eie pa. Ek weet hoe bevry hy destyds moes gevoel het om te kon wegkom van hierdie regime van netjieswees. Hy moes gevoel het soos ’n alien wat ontsnap het van ’n planeet waar die netheidspolisie hom elke dag gemartel het. Ek is ook ’n alien in hierdie huis én ek word soos ’n alien behandel!”

Die pyntrek op Alexandra se gesig het gewys dat sy heilig oortuig was van haar saak. “En ons . . .” het sy voortgegaan en haar vermoë gedemonstreer om selfs met ’n fluisterstem nes ’n weermaggeneraal te klink. “Ons gaan dié vakansie saam met hom vakansie hou. Jy gaan saam, en jy gaan vir Ma sê jy wil saamgaan!”

“Wat? Nee! Hoekom? Ek gaan nêrens sonder Briggs nie!” het Zahn geprotesteer.

“Ja, man, sjuut net! Ek wéét jy gaan nêrens sonder Brig­gs nie, maar ek is jou een voor.” Alexandra se blou oë het soos diskoteekligte geflikker. “Ben wil jou beter leer ken. Hy wil nie meer net een keer ’n jaar ’n Spur-burger saam met ons gaan eet nie. Hy gaan vir ons én vir Briggs kom haal vir die Aprilvakansie. Hy is besig om alles met Ma te reël.”

“Ma sal nóóit ja sê nie,” het Zahn probeer walgooi.

“Sy kan nie nee sê nie, sy kan nie weier nie. Ben is ons eie bio-pappie. Volgens die egskeidingsbevel het hy toegang tot sy kinders,” het Alexandra met ’n selftevrede glimlag gesê. “En wat meer is, hy betaal nog al die jare stiptelik ons papgeld.”

“Papgeld? Alex, waarvan praat jy?”

“Die onderhoud wat hy aan Ma moet betaal as ons pa. Dink jy Ma sou op haar eie vir perdry en drama betaal het?”

Brigadier en die raaiselponie

Подняться наверх