Читать книгу Jenna en die leesperd - Marga Jonker - Страница 6

3

Оглавление

Dash Roux

Dit is die eerste week van die tweede kwartaal. Anders as voorheen stap Jenna nie meer ná skool huis toe nie. Haar pa kom haar nou elke middag oplaai, want sy mag nie meer huis toe stap met ’n swaar tas nie, al is die skool naby hulle huis.

Haar pa laai haar vanmiddag voor die fisioterapeut se praktyk af vir haar gereelde Woensdagmiddag-terapiesessie.

Sy lui die klokkie.

“Hallo, Jenna-kind,” sê die ontvangsdame.

“Hallo, tannie Ragie.”

“Jou ma is nog nie hier nie, maar sy sal hier wees voor jy klaar is.”

Breedekloof Gesinsorg is gevestig in ’n huis oor­kant die hospitaal waar haar ma werk. Die Breedekloof Ge­sinsorg bied arbeids-, fisio- en spraakterapie. Jenna hou van haar fisio, Juliana, maar die oefeninge maak haar rug moeg.

Sy is dankbaar dat die wagkamer so gesellig ingerig is. Dit is veral goed ingerig vir kleiner kinders wat vir die arbeidsterapeut wag. Jenna hou graag die kindertjies dop wat op die mat in die speelhoekie speel. Dit beur haar ’n bietjie op en laat haar minder bedruk en moeg voel.

Vandag lê daar kinderboeke, boublokkies en ’n deurmekaar speelgoedmandjie met plastiekdiertjies uitgepak. ’n Dogtertjie wat lyk of sy uit ’n wasgoedmandjie geklim het, sit daarmee en speel. Haar poniestert sit skeef op haar kop en stringe hare hang los om haar ore. Daar is ’n sjokoladestreep om haar bolip. Sy is kaalvoet en haar voete is vuil.

Jenna kyk hoe sy al die plaasdiere in ’n ry uitpak. Sy bou vir hulle ’n kraal en voer hulle kamstig kos. Langs haar onder ’n kombers is ’n hokkie wat lyk soos ’n troe­teldier se vervoerkissie, dalk vir ’n kat of ’n klein hondjie. Nou en dan loer die dogtertjie onder die kombersie in en praat met wat ook al daar in die kissie is.

Die spreekkamer se deurklokkie lui en tannie Ragie laat iemand met skoolklere binne. Die meisietjie kyk nie op nie. Sy gaan met groot konsentrasie aan om die plastiekperd kos te gee.

“Nienke! Haai, Nienke!” roep ’n seunstem deur die spreekkamer.

Jenna se hart bons toe sy sien wie in die deur staan en roep: Daniel Dash Roux. Sy aandag is by die kind in haar skoolsweetpak op die mat, maar sy antwoord hom nie.

Dash buk by haar. Sy gaan net aan om die plaasdiere in die blokkieskraal te pak. Dash kyk op.

“Haai, jy is mos Jenna, die een met die rug?”

“Hmm, ja wel, shame, is jy iemand sónder ’n rug?” vra Jenna. Haar woorde kom kil uit haar keel en klink hard in die stil spreekkamer. Sy voel ’n woede in haar opstoot. Haar wange gloei en haar hare wip soos ’n vlag om haar kop. Onbeskofte vent! En dan het sy nogal by geleentheid gedroom hoe sy met hom gesels oor hulle perde.

“Sorry, ek meen maar …” sê Dash.

“Ja, en ’n sterretjie vir jou slim waarneming,” val ­Jenna hom in die rede. “Ek hét ’n rug, maar ek het ­darem ook ander dele, soos ’n kop, oë en ’n mond.”

Sy is nie in dieselfde graad as Dash nie, maar hulle het al baie by mekaar verbygestap by die skool. Hy moet tog goed weet dat sy suster haar plek in Meg se skouspringspan gekry het. Sy is nie sommer net Jenna-met-’n-rug nie. Hoe verwaand en ongevoelig!

“Jammer, jammer, ek bedoel dit nie so nie,” sê Dash.

“Hmm … whatever.”

“Wag, gee my ’n kans. Kom ek groet jou weer,” sê Dash. “Ek het bedoel om te sê … Hallo, Jenna, dit is mos jy wat jou rug beseer het? Elzé, my suster, het jou plek in Meg Kingsley se span gekry,” sê Dash. Hy ­glimlag mooi en sy groenbruin oë lyk soos ’n babahondjie s’n.

Jenna weet nie wat om te sê nie. Sy het nie verwag dat hy so verskonend en vriendelik sal reageer nie.

“Ek is Daniel, Elzé se broer. Almal noem my ‘Dash’.”

“Hallo, ek weet darem wie jy is. Wat maak jy hier? Het jy ook ’n sportbesering?” vra Jenna.

“Nee, ek het net hierdie poplap-sussie kom haal, sy kry ­arbeidsterapie hier,” sê Dash.

“Nienke, kom ons vra of Jenna na die perde sal kyk – Ma wag vir ons in die motor. Jenna, jy sal mos na Nienke se plaas kyk?” Dash se oë bedel begrip by haar vir sy sussie.

“Ja, goed,” sê Jenna.

Die dogtertjie kyk vir haar en wys na die geboude plasie sonder om ’n woord te sê. Jenna knik instemmend. Nienke se mond trek in ’n baie skraal glimlaggie. Sy tel die kissie met die kombersie op asof dit haar baba is en stap na die deur.

“Wow, jy is gelukkig, Jenna. Nienke glimlag nie sommer vir iemand nie,” sê Dash.

Hy volg sy sussie haastig en stap saam met haar by die spreekkamer uit.

“Die arme ou dogtertjie,” sê tannie Ragie. Tannie Ragie was eers ’n verpleegsuster wat saam met Jenna se ma gewerk het, maar sy is nou Juliana se sekretaresse.

“Wat is fout met haar, tannie Ragie?” vra Jenna.

“Sy het leerprobleme. Mevrou Roux, haar ma, is raad­op. Die oudste twee kinders is mos vreeslik slim, maar dié tinktinkie is so skaam en skugter, hulle kry haar met moeite by die skool. Sy sukkel met haar skooltake en probeer altyd een van haar troeteldiere saamdra.”

Tannie Ragie sit vinnig haar hand voor haar mond. “Sjuut, ek het niks gesê nie. Juliana kry die piep as sy hoor ek praat oor die pasiënte, maar ai, die ou kindjie is vir my so dierbaar. Gek na die vreemdste troeteldiere. Jy moet sien wat sy soms in daardie mandjie ronddra. Mevrou Roux wil nie meer die diere wat so saam­karwei word duld nie, maar Nienke sukkel om sonder hulle klaar te kom.”

Juliana se spreekkamerdeur gaan oop en ’n versorger stoot ’n oom in ’n rolstoel uit. Tannie Ragie wys vir Jenna met haar vinger voor die mond sy mag niks sê nie.

“Hallo, oom Kokkie, het oom darem die behandeling oorleef?” vra tannie Ragie.

“Jenna, jy kan nou maar kom, ek is reg vir jou,” roep Juliana.

Jenna en die leesperd

Подняться наверх