Читать книгу Jenna en die leesperd - Marga Jonker - Страница 8
5
ОглавлениеOuma Stirrie
Dit is halfagt die oggend toe Jenna se ouma die Speelgoedmuseum oopsluit. Die dubbele swaaideure kraak oop. Die geluid nooi haar binne. Die museum ruik na iets wat Jenna oortuig is die reuk van vlermuise is.
“Dit ruik na ou papier,” sê haar ma altyd.
“Dit ruik na spoke,” terg haar pa graag.
“Ek dink ook dit ruik na vlermuise,” meen Jakkie. Hy en Ouma Stirrie is vlermuisliefhebbers.
“Dit ruik na goeie ou herinneringe wat soos onsigbare jassies om die speelgoed hang,” is haar ouma se mening.
Jenna is seker sy en Jakkie is reg: die museum rúik na vlermuise. Bo in die solder se dak woon daar al vir baie jare ’n kolonie vlermuise. Volgens haar ouma is dié donsige inseketende vlermuise onontbeerlik vir die voortbestaan van haar museum. Hulle sorg dat daar nie vismotte uitbroei in die kaste nie. Die vlermuise eet glo die motte op lank voordat hulle kan eiers lê.
Dit is nie al nie. Dié nagfladderaars red glo hulle hele plot van swerms muskiete en vlieë. Jenna wil haar hare uit haar kop uit gril vir hulle. Hulle hou hulle gelukkig skaars in die dag. Saans, wanneer hulle geluidloos oor hulle erf flap en flits, verbeel sy haar dat hulle swaeltjies is. Nou en dan, as van die kleintjies dalk op die grond beland, versorg Ouma en Jakkie hulle tot hulle vrygelaat kan word – darem in boksies en voëlkoutjies.
“Geen vlermuise vandag hier nie, jy gaan lekker kuier by my in die museum,” sê Ouma Stirrie.
Ouma Stirrie is deesdae gelys op die webwerf: Who to call when you find a bat? Stirrie Steenkamp: Bat-friendly/bat-safe house.
Voorheen het Jenna baie gehelp met die oorvol Speelgoedmuseum se uitstallings, ten spyte van die vlermuise op die ontvangstoonbank. Sy het die afgelope twee jaar, vandat sy begin perdry het, nie meer baie tyd gehad vir Ouma Stirrie se museum nie.
“Ek het ’n klomp boeke ingekry. As jy dit kan sorteer, sal ek bly wees.”
Ouma Stirrie wys na twee groot bokse. Jenna is bly dat haar ouma haar genooi het om te kom help in die museum. Saterdae het vir haar ’n probleem geword.
Jenna maak die bokse oop. Haar ouma het ’n spesiale boekehoek waar sy tweedehandse inkleurboeke, blokraaiselboeke en Sudoku-boeke te koop uitstal.
Die museum bestaan uit ’n groot vertrek met glaskaste en rakke. Voor in die museum is die teddiebeer-, die pop- en die modelkarretjieversameling. Die modelkarretjie-rak is haar pa en Jakkie se groot liefde. Hulle herbeplan en verander gereeld die uitstalling. Haar pa sal baie ver ry om ’n modelkarretjie iewers te gaan koop. Jakkie versamel graag swart motortjies, wat hy sy Batmobile-versameling noem.
“Jy kan hulle maar direk op die rakke pak, ek het klaar ’n katalogus gemaak van die boeke. Moet net nie die bokse skuif nie ter wille van daardie rug van jou,” sê haar ouma.
Ouma Stirrie is ’n lang vrou wat vreemd aantrek – nogal ’n bietjie boheems, met lang, helderkleurige rokke en vreemde hoede. Haar wilde bos grys hare hang tot op haar skouers. Sy is baie lief om truie te brei, maar Jenna dink nie haar ouma kan regtig brei nie. Alle truie wat sy nog ooit gebrei het, is te groot en hang skeef. Nie dat dít haar keer om haar eie handgebreide truie te dra nie. Vandag dra sy ’n pers-en-pienk rok met een van haar wollerige seegroen truie.
Die museum het begin as ’n stokperdjie van haar ouma en oupa. Haar oupa het ’n miniatuurlandskap uit polistireen gebou vir sy treinversameling. Haar ouma het dit geverf en verder gemodelleer sodat dit soos die Breedekloof-dorpie tussen die berge lyk. Baie mense wou dit sien en hulle stokperdjie het mettertyd ’n gewilde toeriste-attraksie geword. So het die treinstel in haar oupa se stoor tot ’n speelgoedmuseum gegroei. Na Oupa Jacobus se dood het Ouma die museum gehou, en nou is dit bekend as spesiale besienswaardigheid in hulle dorp.
Die treinstel op sy minispoortjies wat deur die miniatuurlandskap van die dorp loop, is ’n lewendige kunswerk, want Ouma voeg gereeld nuwe toneeltjies by om dit realisties te maak.
Die treintjies laat haar altyd na haar oupa verlang. Teen die kant van die model sit die rooi knoppie wat geen kind kan weerstaan nie. Druk my, staan op die bordjie by die knop geskryf. Dit skakel die treine aan.
Voordat sy die boeke in die boekehoekie uitpak, druk sy eers die knoppie dat die treintjies kan loop.
Sy kyk hoe die oudste treintjie uit die stasie wegtrek en op sy spoor begin spoed optel. Vanoggend laat dit haar meer hartseer as vrolik voel. Die trein ruis saggies verby ’n plaastoneel wat haar ouma spesiaal vir haar in die landskap ingebou het: ’n modelweergawe van Meg se plaas met Ruby Storm se naam op ’n modelperdjie met ’n perdekombersie aan.
Jenna begin die boekehoek regpak terwyl die treintjie ritmies op sy spoortjie bly hardloop. ’n Helderkleurige mat met kussings nooi besoekers na die rakke vol ou boeke. Boeke wat haar ouma as skenkings ontvang, word hier gebêre. Besoekers mag dit in die museum gebruik of hulle mag dit uitruil. ’n Aanplakbord vertel van die nuusgebeure in die dorp. Daar pryk ’n berig van haar en Ruby Storm wat in die Breede Gazette verskyn het. Trotse Ouma, staan op ’n heldergeel pyl wat na haar en Ruby se foto wys. Jenna raak saggies aan Ruby se foto.
Saterdae sonder Meg se Kingsley-plaasprogram is die heel moeilikste deel vir haar van saamleef met haar rugprobleem. Saterdae sonder Ruby Storm, sonder die ander spanmaats, sonder Meg se afrigting en kompetisies voel vir haar soos ’n dag sonder sonlig.
Sy begin lusteloos die boeke sorteer.
Sy voel soos die heldin in die fliek wat sy gisteraand saam met haar pa gekyk het. Dit het in die ruimte afgespeel en die een karakter het dramaties gesê dat die lig van ’n dooie ster oor haar skyn. Jenna voel asof daar ook ’n koue kol in háár hart is.
Sy word steeds elke Saterdagoggend vyfuur wakker. Daar lui ’n wekker in haar kop asof sy nog steeds kan gaan perdry. Haar spiere, haar neus, haar oë en haar gedagtes wil steeds na die stalle toe gaan om op Ruby te gaan ry. Hoekom moes ’n paar simpel werwels in haar rug om geen goeie rede begin krom groei het? Haar hart en siel het nog nie aanvaar dat sy nie meer perdry nie.
Sy wens sy kan die knoppie in haar brein kry wat sy kan druk sodat sy kan aanvaar dat sy nou nie meer deel van die Kingsley-span se aktiwiteite is nie. Soms voel dit vir haar of daar ’n fliek in haar kop begin draai, dan kan sy elke hoekie en draaitjie van Ruby se stal onthou. Sy kan Ruby voor haar sien staan, so lewensgetrou dat sy aan haar wil vat. Sy hoor Meg se perde se sagte gerunnik en die geritsel van hooi. Al is sy kilometers weg, kan sy die stalle in die donker van die vroeë Saterdagoggend ruik.
Woensdagmiddae help die fisioterapie haar en fokus sy op haar nuwe oefenprogram. Vrydagmiddae kuier sy saam met Gwenda, Sydney en Yasmin, maar Saterdae kan sy nie meer haar verlange na die stalle troef nie. Dan speel haar verbeelding en haar verlange seermaakspeletjies met haar hart.
Sy voel verlore en afgesny. Moeg en lusteloos. Saterdae speel Gwenda en Sydney netbalwedstryde. Yasmin werk by haar ma se bakkery en Jakkie speel rugby, en haar ma en pa is elke wedstryd langs die veld.
Verlede Saterdag het sy probeer vooruit werk aan haar skoolwerk, maar sy het niks reggekry nie. Sy het later op die vloer voor die TV gelê en lusteloos die afstandbeheerder se knoppies gedruk, oor en oor.
“Hier is sy, Kim!” Jenna wip soos sy skrik toe haar ouma skielik langs haar praat. “Jenna, hier is iemand wat jou soek.” Ouma Stirrie se ogies blink agter haar bril. Haar skewe groen trui flap om haar lyf. Langs haar staan ’n vrou met ’n rybroek en stewels aan. Sy is atleties gebou en laat Jenna aan Meg dink. Die vrou se hare is vasgebind en sy lyk of sy op pad is om te gaan perdry. Sy lyk jonk, soos ’n juffrou wat pas begin skoolgee het.
“Hallo, Jenna, ek is Kim. Ek is van SARDA en die eienaar van Equusterapie,” sê Kim.
“Aangename kennis, hm … mevrou … tannie,” sê Jenna.
“Ag nee, noem my sommer Kim.”
Jenna knik. Sy het geen idee wie of wat SARDA of Equusterapie is nie.
“Jenna, ek is ’n vriendin en buurvrou van Meg Kingsley,” sê Kim. “Sy het aan my genoem dat jy ’n besonderse hand met perde het. Dit is blykbaar jy wat van Ruby Storm die perd gemaak het wat sy is.”
“Ja, maar ek kan vir die volgende jaar of twee nie perdry nie,” sê Jenna.
“Ja, ek verstaan so, maar Meg dink dat jy my sal kan help.”
“Waarmee?” vra Jenna.
“SARDA is ’n organisasie – South African Riding for the Disabled …”
“Ek glo nie ek mag eens sulke tipe perdry doen nie, nie eens soos vir gestremde mense nie, dit sal glad nie vir my werk nie. My dokter en fisio wil eers hê ek moet ’n oefenprogram van ’n paar maande voltooi voor ek dalk weer stadig mag begin ry,” verduidelik Jenna.
“Nee, nee, Jenna, Kim wil nie hê jy moet haar perde ry nie.” Ouma Stirrie se krulle wip soos sy haar kop skud. “Sy het jou nodig vir iets anders.”
“Ja, ek werk met baie spesiale perde – terapieperde. Ek wil weet of jy een van my nuwe terapieperde kan help aanpas by die ander.”
Jenna voel hoe haar hart ruk. Haar gesig word warm. Kan ’n mens se lewe so vinnig verander, van belowende ruiter tot stalhulp vir terapieperde? Wat ís terapieperde in elk geval? Miniatuurperdjies wat ouetehuise besoek?