Читать книгу Karoo-Kantate - Marié Heese - Страница 6
Hoofstuk 2
ОглавлениеHIERDIE KIND IS GELIEF
Die koms van die kind was vir Nols ’n verrassing. Nie alte aangenaam nie. Nero het hulle eerste gewaar. Hy lig skielik sy groot kop op en blaf. Dan staan hy op en draf stertswaaiend voordeur se kant toe.
Nols is nog volledig opgeneem in die musiek. Hy konsentreer op die uitvoering van Saint-Saëns se Orrelsimfonie wat hom teen ’n dawerende volume uit sy versigtig geplaaste luidsprekers omsingel. Viole, altviole en tjello’s het so pas die nuwe, vreedsamer tema ná die herhaling van die somber aanvangsmotief ingelei.
Hy verlustig hom in die ryk onderbou van orrelakkoorde. Alhoewel die orrelis – wie nou weer? – neig om die orkes plek-plek te wil oordonder. Dis verdomp nie ’n solo-instrument nie, nie in hierdie werk nie. “Sagter, my magtag, sagter!” skree Nols asof hy voor die orkes staan en ’n oefensessie lei. A, daar verbeter die balans, so ja, só moet dit wees. Die dirigent moes dit al eerder onder beheer gekry het.
Nols staan regop en beduie met ’n denkbeeldige dirigeerstok vir die orkes wat hy asof in lewende lywe voor hom sien. Maar dis nie lewende lywe hier voor jou nie, nè, ou pel? sê die smalende stem wat nog sy lewe lank in sy kop woon, hom deurentyd kritiseer, koggel, verkleineer en uitlag. Op hoërskool, toe hulle die gedigte van Eugène Marais behandel het, het Nols dadelik aanklank gevind by die gedig oor Skoppensboer. Ja, hy het verstaan dit gaan eintlik om die wete van sterflikheid, maar die beeld van daardie een wat als beloer en laaste lag – dit was ’n presiese beskrywing van die stem wat hom so gepla en gedryf het. Stilkry is min, maar deur uit te blink, deur sukses te behaal, kon hy darem die smalende innerlike kommentaar laat bedaar.
Sien nie meer kans vir lewende lywe nie, nè? Banggat. Staan nou soos ’n fool en swaai jou arms rond in jou sitkamer. Ag foei tog. Hoe zijn de helden gevallen.
Ek luister nie meer vir jou nie. Jy’s nie meer my baas nie. Ek’s afgetree, ek kan maak soos ek wil. Nols hou wrewelig vol met die magistrale gebare waarmee hy die denkbeeldige orkes voor hom lei.
Nero blaf weer.
“Is die mense hier? Ek het niks gehoor nie.”
Traag skakel Nols die musiek af. Hy het nie lus vir hierdie besoek van ’n vreemde kind nie. Wat het Stien tog nou weer besiel? Hy is lief vir dié susterskind van hom, maar sy het ’n manier om te wil inmeng in sake wat haar nie aangaan nie. Nou ja, Stien en ma Kate moet maar opsnork met die kind. Hy gaan nie kinderoppasser speel nie.
Hy maak die voordeur oop.
“Stien!”
“Nols!”
Sy het hom nog nooit as oom aangespreek nie. Sy gee hom ’n liefdevolle druk en hy ruik haar kenmerkende parfuum, iets met jasmyn in, en rose.
“En dis Jannie,” stel Stien die kind voor, wat oogknippend half agter haar skuil.
Nols kyk met groot verbasing na die koddige figuur: ’n maer bruin seuntjie met een bloupers toegeslane oog en ’n koperrooi borselkop in ’n blou sweetpakbaadjie en vaalgewaste jeans. Jene tog, maar Stien kan darem die vreemdste mense optower.
“Naand,” sê hy kortaf.
“Naand, meneer.”
“Moenie vir die hond bang wees nie,” sê Stien. “Dis ’n Ierse wolfhond, hulle is groot, maar hulle’s eintlik baie mensliewend.”
“Lyk meer na ’n jong perd,” sê die kind.
Stien beveel: “Nero! Sit! Gee poot!”
Nero gehoorsaam. Sittend is sy kop amper so hoog soos Jannie s’n. Hy steek ’n poot uit. Jannie lag klokhelder, en skud dan ewe beleef blad met die hond.
“Julle is seker honger, ma Kate het kos reggesit,” sê Nols. “Maar ons kan eers klaar aflaai en julle goed in die kamers kry. Stien, jy kry jou ou kamer en Jannie kry die kleintjie langsaan. Kom, ek help met julle tasse.”
“O! O, so waar as wragtie, hier’s ’n baby grand!”
Jannie laat die sportsak met klere kaplaks op die vloer val en hardloop na die klavier wat swart en glimmend in die hoek staan. Dan steek sy vas, tree stadig nader. Streel met ’n versigtige hand oor die gepoleerde hout.
Nols moet hom inhou om die kind nie onmiddellik af te jak nie. Dit lyk darem of Jannie weet om die instrument met respek te behandel.
“Kan ek speel, meneer, kan ek speel?”
Nols frons.
“Nie nou nie, Jannie,” maan Stien. “Môre is nog ’n dag. Nou eers iets eet.”
Jannie neem verlangend afskeid van die klavier en volg hulle kombuis toe. Ná ’n bord sop en etlike snye tuisgebakte brood is die kind duidelik morsdood van die vaak.
“Jy moet in die bed klim,” sê Stien. “Kom, ek wys jou waar jou kamer en die badkamer is.”
“Goed. Nag, dan … meneer.”
Groot gaap. Sleepvoetend dra die kind die sportsak by die trap op.
Stien loop agterna. “Onthou nou, ek is Stien. En sê tog vir my oom net Nols.”
Nols bly sit met sy grimmige gedagtes alleen voor die vuur. Dít het hy nie gesoek nie. En dis al weer een van Stien se afvlerk voëltjies waaroor sy haar so dikwels ontferm. Laat die kind tog net nie ’n tikverslaafde of so iets wees nie. Die moontlikhede vir moeilikheid is legio. Hy kap met ’n grafie ’n halfgebrande stomp middeldeur en krap die brandende stukke op ’n hoop. Vonke spat en die vlamme spring hoër.
Na ’n rukkie draf Stien by die breë houttrap af en gaan sit langs haar oom op een van die twee groot, sagte leerbanke vol kussings wat teenoor mekaar staan.
“Die kind is heel tuis, pak self uit.” Op die olienhoutkoffietafel wag haar glas whisky, wat sy dankbaar optel. “So ja!” sug sy. “Dit was ’n lang dag.”
“Christina Terblanche!” spreek Nols haar aan. “Wat het jy aangevang? Vir wat moes jy ’n vreemde seunskind hiernatoe bring? En dit nogal so ’n snaakse …”
“Dis erger as wat jy dink,” sê Stien. “Dis nie eers ’n seun nie, dis ’n meisiekind.” Sy loer skuins na hom.
Nols pers sy lippe opmekaar. “O,” sê hy.
“Man, ek is jammer, maar dit was ’n fout. Ek wou nog sê ’n seun, maar die kind lyk toe nes ’n seun en met die naam Jannie, en sy was so bly toe sy hoor sy’s genooi en …”
“En nou moet ek dit maar verdra?”
“Moenie met my raas nie, Nols. Ek is broos. Uitgemaak met Riaan. Jy sal seker bly wees, jy’t nooit van hom gehou nie, ek weet.”
“Doodreg, ek het nie. Kon sommer sien hy’s die soort wat homself in elke winkelvenster spieël. Maar jy sien altyd net die goeie kant van mense. Dan’s jy diep bedroef as hulle jou teleurstel.”
“Ek is seker maar naïef,” sug Stien. “En goedgelowig. Maar dis nou alles oor, glo my!”
Nols weet dit sal in elk geval nie help om te sê sy moes nie die meisiekind gebring het nie. Jannie is nou hier, hy moet maar net uithou. Dis gelukkig nie ’n lang vakansie nie.
Hy merk dat daar trane onder Stien se ooglede uitgly en dit vermurwe sy hart.
Hy leun agteroor. “Nou ja, vertel vir jou oom.”
In die kamer langs Stien s’n lê Jannie nog wakker, gespanne in die vreemde omgewing. Bo-oor die beddegoed het sy die lappieskombers oopgegooi wat sy saamgebring het. Sy lê opgekrul in die driekwartbed, arms styf om ’n warmsak met ’n gehekelde oortreksel wat iemand in die bed gedruk het. Die sak is nie meer regtig warm nie, maar dis goed om iets te hê om aan vas te hou.
“Lyk my die nagte is koud hier, Pa,” gesels sy in haar kop met haar pa soos haar gewoonte is. Sy onthou hom van die foto wat altyd op haar ma se bedkassie gestaan het, saam met die vet ronde wekker en die rooi naellak en die botteltjie Vicks wat vir alles help. Nou ja, amper alles.
’n Lang man gewees, haar pa, met ’n bos rooi hare, maar donkerder as Jannie s’n, en groen oë. Op die foto staan hy agter haar ma, hou haar vas, sy arms om haar skouers, sy ken op haar kop. So of hy haar wil oppas, vir altyd wil vashou en beskerm. Nie of hy sou geloop het en nooit weer teruggekom het nie.
“Pa kon maar gelat weet het,” kla Jannie opnuut. “Kon maar koebaai gesê het. Minstens. Dan het ’n mens geweet. Dis sleg om nie te weet nie, Pa.”
Sy trek die lappieskombers op om haar ore. “Toe Matrone my vanmiddag laat roep het, toe dink ek eers dis dalk Señora wat my kom haal het. Señora self, of Roberto. Toe nie. Maar hierie mense is orraait, dink ek. Hulle hou van musiek. Die Nols-man lyk maar kwaai, maar Stien is vriendelik met ’n mens. Sy’t mooi bruin oë en blonde hare met strepies highlights, cool.”
Jannie se koue voete begin nou warm word. “Maar dis maar deksels stil hierso, Pa. Horlosie tik … daar’s ’n uil innie tuin …”
Met ma Ellie praat Jannie nooit so in haar kop nie, ook nie met ouma Nonnie nie. Om met die pa te gesels wat maar altyd ’n skim was, is een ding, maar dis ’n ander ding om aan haar ma of ouma te dink. Dis ’n seer ding, jy voel dit aan jou lyf. Knyp hier om jou bors soos die klampe wat Roberto vir sy houtwerk gebruik om planke teen mekaar te druk terwyl die houtgom droog word. Druk hulle solat die gom uitpeul. Om oor daai seer te vryf, help niks.
Jannie wonder hoe ’n soort mens is dié ma Kate wat die sop gekook het en wat seker die warmsak in die bed gesit het. Bietjie soos ma Ellie, miskien? Nie baie ma’s wat so is nie, nee. Nie so mooi nie, om mee te begin. Die mooiste bruin krulhare en die mooiste donker oë en ’n klein ou middeltjie. Sy’t mooi aangetrek ook, altyd met ten minste ’n oulap se rooi. Partykeers vir ’n partytjie ’n heeltemal rooi rok en daarby die goue oorbelle wat Jannie se pa vir haar gegee het voor hy weggeraak het.
En dans kon sy dans en sing kon sy sing. Bo-op die tafel in antie Fienie se boardinghuis een Oujaarsaand, onthou Jannie. Antie Fienie was die duiwel in, sy’t gesê dis ’n onsindelike en ’n onsedelike spul en die eerste was die ergste. Maar sy’t ook nie te veel gekla nie, want sy’t ’n oop kroeg gehad daai aand (te hel met ’n licence, sy lewer mos ’n diens) ennie manne het saamgedrom. En toe sing ma Ellie op die middernag se klok “Ave Maria” lat die hele ou spul snot en trane huil. Dronkverdriet, het antie Fienie met ’n snork gesê, maar sy het darem self met ’n hand oor haar wange gevee toe sy dag niemand sien haar nie. En antie Fienie drink nooit.
Beste nog was as ma Ellie kwaad geword het – maar vir iemand anders, liewer nie vir Jannie nie. Soos die keer met die val, sy was toe vyf jaar oud. Die kinders van die buurt het graag op die swings en ander goed gaan ry in die speelpark voor die helderpienk gemeenskapsaal in Woodstock. Jannie was nog te klein om alleen soontoe te gaan, maar sy kon saamstert met antie Fienie se twee opgeskote seunskinders as hulle geblo het om ’n ogie oor die kleintjie te hou.
“Ek wil op die slaaid ry, Ronnie, man! Samblief, man,” neul Jannie. Sy mag eintlik net op die swing of die merry-go-round ry omdat die kinders rof raak op die ander klimgoed, maar sy wil bitter graag met die hoë glyplank so woerts-warts tot op die grond blits.
“One time, nè? En jy neulie vir noggie,” maan Ronnie, en hou haar hygasemglip dop tot sy veilig op die grond is. Nou moet sy terug merry-go-round toe.
Ronnie en sy broertjie doen hulle eie ding en gou is die merry-go-round vir Jannie darem té vervelig. Daar’s g’n groot kinders by om die ding ordentlik te lat tol nie. Kort voor lank spring sy af en loop weer na die glyplank toe. Dis mos nie moeilik om met die leertjie op te klim nie. Ok nie moeilik om te stop nie, dink Jannie, mens slaat mos net jou voete vas innie sand, enigeen kan dit mos regkry. Veral iemand met tekkies aan soos haar bloues.
So klouter sy weer teen die trap op, gaan sit en laat los om af te seil soos die wind. Maar reg agter haar klim ’n groot seunskind met diksooltekkies op, van daai wat dink dis ’n groot grap om vinnig agter ’n kleintjie af te gly en met sy twee pote teen haar rug te skop sodat jy net sien hoe sy hik en platval in die sand. Maar hy spring bitter vinnig om en laat spat toe sy erger as tien maer varkies skree.
Dit was nie net ’n af arm nie, maar ook ’n skouer uit lit uit. Vir Jannie het dit gevoel soos ’n donker tonnel van pyn waaruit sy nie kon loskom nie. Sy kan nie veel onthou van wat toe gebeur het nie: hoe Ronnie vir ma Ellie laat roep het, hoe hulle by Rooi Kruis se emergency ward aangekom het, wat die dokters daar als met haar gedoen het. Maar sy onthou ma Ellie se woede. Dit onthou sy goed.
Toe sy bykom en haar ma herken, staan dié vuiste in die sye, neus teen neus met die jong vrou met die wit jas aan.
Ma Ellie vra: “Wat de hel bedoel jy, dokter? Watse … watse kak staan jy en praat?”
Die vrou lyk net so woedend, ligblou oë soos blokkies ys en wange rooi van kwaadgeit.
“Dit help nie om te vloek nie, mevrou. Ek sê wat ek sien. En wat ek sien, lyk vir my na kindermishandeling.”
“Kindermishandeling!” Ma Ellie se stem, wat kan dra bo ’n saal vol mense wat gesels of Stefaans se hele blaasorkes op Nuwejaar, weergalm teen die mure van die lang saal vol kinderbedjies. “Dis ’n … dis ’n … dit lieg jy! Jannie het geval in die speelpark! Kinders kom dit aldag oor! Verdomde wit vrou, sien ’n bruin kind wat seergekry het en jy dink sommer dis kindermishandeling!”
“Nie sommer nie, mevrou! Wat ek agter op hierdie kind se hempie gesien het, is twee groot, vet voetspore. Mansvoete. Rooi kolle op die ou ruggie wat gaan potblou word. Hierdie kind is vertrap – en gegooi, sê ek vir jou. ’n Kind val nie sommerso ’n skouer uit lit nie. Seker maar die kêrel wat nie sy hande kan tuishou nie. En jy knyp maar oë toe, jy wat die ma is. Jy behoort jou te skaam.”
Ma Ellie word moorkwaad. Dan praat sy sagter, maar elke woord is steeds duidelik hoorbaar. “Wie is jy om te kom skuld uitdeel as jy minder as niks weet nie? Oë toemaak, sê jy vir my. Wat weet jy van kind oppas? Wat weet jy van kind alleen grootmaak, van worrie en wakker lê, van kots opvee en koors afbring drieuur in die nag? Wat weet jy van sit in die stort se stoom met die kind sodat die kroep kan bedaar? Tot jyself nie kan asem kry nie en jou arms wil afval? Hierdie kind … hierdie kind, sê ek jou nou, die Here is my getuie, hierdie kind is gelief!” Sy buk vooroor na Jannie toe, lê haar kop langs haar op die trolliebed neer. “Hierdie kind is geliéf!” huil sy.
Dit het ’n lang man, ook in ’n wit jas, gekos om vir ma Ellie te kalmeer, en hý het geglo dit was ’n val van die slaaid af.
“Hierdie kind is gelief,” herhaal Jannie die woorde wat al baie kere gehelp het as niks anders wou help nie. Dit help ook nou vir die eensaamheid en die vreemdgeit.
Toe Stien later kom inloer, is sy vas aan die slaap.