Читать книгу Emma en die geheime gang - Marianna Brandt - Страница 5
2
ОглавлениеDie eetsaal se stoele is nes die beddens, ekstra groot, asof die koshuis spesiaal ingerig is vir al die vet kinders.
Die tafels is keurig gedek met bakke en bakke groente met ryk souse, borde met gebraaide hoender, skaapboud en vark. Daar is ook hoenderpastei en souttert. Emma let op daar is nie slaai nie.
Niks nie.
Sy gaan sit tussen haar kamermaats by ’n tafel vir ses. Drie ander meisies kom sit by hulle en Anja en Willa stel die kinderhuismeisies aan Emma voor.
Haar oë dwaal oor die bakke kos op die tafel. Hier moet sy oppas, of sy word net so vet soos haar kamermaats. Nou kan sy verstaan hoekom hulle so lyk.
“Die kos lyk baie lekker,” sê Emma.
“Ons sê jou mos. Wie kan nee sê daarvoor,” antwoord Anja en lag.
“Ons het nie vanmiddag by die kinderhuis geëet nie. Mevrou het gesê ons sal genoeg hier kry vanaand,” sê Willa en kyk oor die tafel. “Waar is die milkshakes?”
Emma kyk haar verbaas aan.
“Ja, ons kry altyd ’n milkshake voor ete. Die melk kom van die koshuis se eie koeie,” verduidelik Willa.
“O,” sê Emma en gril. Sy het nog nooit van melk gehou nie. Ook nie van melkskommels nie. Sy kan in elk geval nie melk drink nie. Sy is allergies daarvoor. So dit pla haar nie.
Dan swaai die kombuisdeure oop en vier kelnerinne kom in met skinkborde vol sjokolade-melkskommels.
Emma sien vir Hendrik ’n entjie van hulle af sit. Sy weet hy hou baie van melkskommels, en as hy moet weet dis ’n instelling hier, sal hy in sy element wees.
Die kelnerin sit ’n melkskommel by elke bord neer.
Emma gee dit terug. “Nee dankie, ek drink nie melk nie.”
“O …” sê die kelnerin met ’n frons en vat die glas. “Almal moet. Dis goed vir julle gesondheid.”
“Nie vir myne nie,” sê Emma. “Melk maak my siek.”
“Siek?” vra Willa en frons. Sy tel haar melkskommel op en slaan dit met ’n paar teue weg.
“Ja, ek het op sojamelk grootgeword.”
Emma sien hoe die kinders hulle melkskommels wegsluk en wonder hoe ’n mens ’n vol bord kos kan eet nadat jy so iets gedrink het.
Haar oog vang weer vir Hendrik en sy sien hoe hy en die seuns by sy tafel lag en gesels. By elke bord staan ’n leë glas.
“Nou kan ons begin inskep,” sê Anja en lek haar lippe af toe sy die groot bak met gebraaide hoender nadertrek.
Emma kyk vlugtig na Anja se oorvol bord.
“Dis my voorgereg,” sê Anja en glimlag. “Toe, skep vir jou, anders ly jy honger.”
“Dankie.” Emma skep ’n normale bord kos in.
Anja en Willa smul asof hulle vir die eerste keer in maande iets te ete kry. Hulle eet al hoe vinniger en dit lyk of hulle die kos heel insluk.
Die saal is doodstil, behalwe vir die geskraap van messe en vurke op die porseleinborde.
Emma se oë rek toe Anja en Willa ’n tweede bord kos inskep. Soos die vleisgeregte en groente op die tafel opraak, sit die kelnerinne nog skottels neer.
Nadat Anja en Willa elk drie borde kos verorber het, kom die kelnerinne met allerhande soorte poeding om van te kies.
Anja is skoon histeries toe sy dit sien. “My gunsteling! Sjokoladepoeding met roomys. Kan ek sommer dadelik twee bakkies kry, asseblief?” vra sy vir die kelnerin.
Emma se mond val oop. Sy sal nie eens één so ’n bakkie kan opeet nie.
Die kelnerin sit twee bakkies warm sjokoladepoeding met roomys voor Anja en Willa neer en vra vir Emma: “Waarvan wil jy hê?”
“Net sjokoladepoeding. Nie roomys nie, dankie.” Emma is definitief nie van plan om soos hulle te stoel nie.
“Ek sal in die kombuis moet gaan haal. Die poeding het reeds die roomys by,” sê die kelnerin.
Daarna eet Anja en Willa nog twee porsies elk. Emma kan nie glo wat sy sien nie. Waar kom hulle eetlus vandaan? Hoe hou hulle mae dit?
Ná die poeding kom die kelnerinne met trollies vol verskillende soorte koek. Sjokoladekoek, Swartwoudkoek, gemmertert, yskastert, wortelkoek, lemoenkoek, konfytrolkoek en piesangkoek.
“Toe, sê vir hulle jy hou van appeliefietert, Emma. Nou is jou kans,” por Willa aan.
“Ek sal,” antwoord Emma, maar op die oomblik het sy meer as genoeg gehad om nog koek ook te wil eet.
Anja en Willa eet elkeen drie stukke koek en draai nog ’n stuk in ’n servet toe om kamer toe te vat.
“Jy weet nie wat jy mis nie, Emma. Die koek is heerlik, beter as enige tuisnywerheid s’n. Ons koshuis het ’n sjef, een van die bestes in Suid-Afrika. Hy het al trofees en medaljes en bekers gewen. Dis hoekom ons sulke lekker kos kry. Die man weet van kook en bak,” sê Anja en druk die laaste stuk koek in haar mond.
Toe hulle later by die eetsaal uitstap, is Emma skoon moeg geëet vir Anja en Willa se part. Oral op pad na hulle kamer toe is daar klein tafeltjies met bakke grondboontjies, rosyntjies, tjips en kaaskrulle.
Anja stap vinnig vooruit. “Ek het my blik in die kamer vergeet. Ek gaan dit gou haal.”
“ ’n Mens raak nogal honger later in die aand,” sê Willa en maak haar blik wat sy saamgeneem het eetsaal toe vol met eetgoed van ’n tafeltjie af. “Ek sit ekstra in, vir jou ook. Jy moet vir jou ’n blik aanskaf.”
“Ja … ek sal,” sê Emma. Sy het so baie geëet, sy kan nie dink sy sal later die aand enigiets wil hê nie.
Anja kom by die trap af met ’n groot ronde koekblik en maak dit vol eetgoed. Voor sy loop, vat sy ’n hand vol grondboontjies en gooi dit in haar mond.
“Ek wil vroeg in die bed kruip. Môre is skool en meneer Snopke duld nie laatkommers nie. Hy is ’n baie streng skoolhoof,” sê sy en stap met die trap op kamer toe.
Emma en Willa volg op haar hakke.
“Meneer Snopke? Is hy mevrou Snopke se man?” vra Emma.
“Ja. Die koshuis behoort aan hulle. Die grond was eers deel van die Snopkes se familieplaas. ’n Deel daarvan word nog steeds vir melkboerdery gebruik,” vertel Willa. “Hulle is ryk mense, maar hulle doen hulle deel vir die gemeenskap. Meneer Snopke het ’n oop hand. Hy gee vir baie mense op die dorp werk.
“Die bakkery bak al die brood en koek wat ons hier en by die skool kry. Die groente kom van ’n groot plaas wat meneer Snopke huur. Daar werk baie mense van die dorp op die plaas.
“Dan gee hy ook nog vir die ouetehuis en pre-primêre skool verniet melk. O ja, en natuurlik ook vir die kinderhuise, amper vergeet ek. Die kinderhuiskinders gaan almal verniet hier skool,” vertel Willa.
“Ek het nie geweet nie,” sê Emma. “Dan moet hy baie ryk wees. Waarmee maak hy sy geld? Of het hy ryk geërf?
“Meneer Snopke is ook die dorp se burgemeester,” gaan Willa aan. “Jy moet die ketting sien wat hy om sy nek dra vir foto’s. Hy is gereeld in die koerant oor goed wat hy vir die dorp en sy mense doen.”
“Wat van dié wat nie uit kinderhuise kom nie? Ek weet nie wat my pa vir my en my broer hier betaal nie, maar dit moet seker vreeslik baie wees. Ek het nog nooit so ’n koshuis gesien nie.” Emma se kop werk oortyd van al die vrae. As burgemeester van die dorp kry die man seker ’n groot salaris. Mevrou Snopke lyk ook nie na ’n vrou wat aan min gewoond is nie.
“Daar’s nie so baie privaatkinders hier nie,” sê Willa. “Nè, Anja?”
“Nee, daar is nie. Ons is bevoorreg.”
“Nou hoe het julle in die kinderhuis beland?” vra Emma en besef skielik dis dalk ’n teer saak vir hulle, en dat hulle miskien nie daaroor wil praat nie. Maar dis te laat.
Willa gooi haar nagrok oor haar kop en gaan sit met ’n sug op die bed. “Wil jy regtig weet?” vra sy.
“As jy nie daaroor wil praat nie, is dit oukei.”
“Jy sal dit in elk geval nie glo nie. Wanneer ek vir mense vertel, dink hulle ek het dit uit my duim gesuig.” sê Willa en staan van die bed af op. Sy trek ’n pienk kamerjas en pantoffels aan. “My ma het my in ’n klein bruin skoolkoffertjie voor die klooster se deur gelos, die klok gelui en weggehardloop. Ek was net in ’n kombersie toegedraai. Pasgebore. Hulle het my ma nooit gekry nie.”
Emma se mond val oop. “Regtig! Ek is jammer …”
“Ek is baie beter af sonder my ma. Sy sou my nooit in so ’n wonderlike skool en koshuis kon sit nie.” Willa glimlag. “Daaroor is ek glad nie jammer nie. Ek mis dit net om broers en susters te hê.”
“Nou wil jy seker my storie ook hoor?” sê Anja en kom sit langs Willa op die bed.
“Jy hoef nie as jy nie wil nie,” sê Emma.
“Ek is nie skaam oor my verlede nie. Ek kan niks daaraan doen nie. Dit het gebeur en hier is ek.” Anja vee ’n blonde stringetjie hare van haar voorkop af weg.
“My ma en pa was al twee enigste kinders, met familie oorsee met wie hulle nooit kontak gehad het nie. Ons was met vakansie op pad see toe, toe is daar ’n groot ongeluk. My ma en pa is op slag dood. Ek was vyf jaar oud en is reguit kinderhuis toe. Wanneer ek een-en-twintig word, sal daar vir my geld wees waarmee ek kan gaan studeer.”
Emma sluk die knop in haar keel weg. Hoe bevoorreg is sy en Hendrik nie, dink sy. Sy het nog nooit eens daaraan gedink hoe dit moet voel om sonder ouers groot te word nie.
“Dit moes erg gewees het, Anja.”
Anja haal haar skouers op. “ ’n Mens kom oor alles,” sê sy en glimlag. “Vandag het ek goeie vriende en ’n lekker skool en koshuis. Die kinderhuis is ook glad nie so sleg nie.”
“Ek is bly. Ten minste is julle gelukkig. Daar is ook aaklige kinderhuise,” sê Emma en dink aan die stories wat sy al van sulke plekke gehoor het.
“Wat van jou? Hoekom is jy hier in Kosterkloof?” vra Anja.
“My storie is maar vaal teen julle s’n. Ons was in die stad op skool, ek en my broer, Hendrik. My arme pa moes ons elke Vrydag gaan haal en weer Sondae terugvat. Later was dit te erg vir hom. Toe verkoop hy die plaas en koop een naby Kosterkloof nadat hy gehoor het van die goeie skool en koshuis op die dorp. Dis maar my storie. Niks besonders nie,” sê Emma en kruip onder die duvet in.
“Nou moet julle my verskoon, ek is nogal moeg. Nag, julle.” Emma sit haar bedliggie af.
Laat daardie aand skrik Emma wakker van ’n gefluister en gevroetel. Sy besluit om nie haar lig aan te sit nie. Toe haar oë die donker gewoond is, sien sy dit is Anja en Willa wat besig is om uit hulle koekblikke te eet.
“Is jy wakker?” hoor sy Willa fluister toe sy op haar ander sy draai.
Emma antwoord nie. Sy sien nie nou kans vir ’n middernagfees nie.