Читать книгу Emma en die geheime gang - Marianna Brandt - Страница 6
3
ОглавлениеDie volgende oggend, toe Emma gereed is om eetsaal toe te gaan, sukkel Anja en Willa nog met hulle skoolrokke.
“Help ’n bietjie hier,” sê Anja. “Ek kan dit nie verstaan nie. Voor die vakansie het my rok nog gepas.”
“Myne ook,” sug Willa. “Ons sal hulle ná skool naaldwerkkamer toe moet vat sodat tannie Rien dit wyer kan maak, as daar nog nate is om uit te laat.”
“Trek jou maag in en haal diep asem,” sê Emma. Sy trek die ritssluiter van Anja se skoolrok met moeite op. Toe Anja weer ontspan, lyk dit of die rits enige oomblik gaan oopbars.
“Ek weet nie of dit gaan hou nie. Jy beter vandag niks eet nie,” waarsku Emma.
“Wil jy hê ek moet doodgaan van die honger!”
“Ons moet maar net versigtig sit,” sê Willa en lag dat haar oë eintlik agter haar wange verdwyn.
Die klok lui vir ontbyt. Emma stap saam met haar kamermaats eetsaal toe. Die geur van gebraaide spek en wors tref hulle toe Willa die eetkamerdeur oopstoot.
“Ek het nogal verlang na die koshuis se ontbyt,” sê Anja en stap na die tafel waar hulle altyd sit. “By die kinderhuis kry ons net ’n bord pap, roosterbrood en ’n gebakte eier. Dis al.”
Op die lang tafels sien Emma borde met stapels geroosterde brood, alle soorte konfyt, kaassmere, bakke met gerasperde kaas, verskillende soorte koue vleis, ontbytpappe en vrugtesappe.
“Dis nie al nie. Ons kry nog wors, spek en eiers, omelette en sampioene, botterbroodjies en nog baie ander lekker goed,” sê Anja.
“Ek eet net roosterbrood met kaas en koue vleis en ’n glasie vrugtesap vir ontbyt,” sê Emma terwyl haar oë oor die magdom kos op die tafels dwaal.
Mevrou Snopke kom van agter in die eetsaal deurgestap. Sy is soos altyd uitgevat in ’n netjiese rok en duur juwele. ’n Stilte sak oor die eetsaal neer toe sy die mikrofoon nader-trek.
“Welkom aan al die nuwelinge by Kosterkloof. Ons hoop julle sal baie gelukkig hier wees.” Haar oë flits vinnig na die bladsy in haar hand. Sy glimlag haar skewe dunlip-glimlag. “Eerstens wil ek egter dié van julle wie se skoolklere te klein geword het, nooi om my by die kantoor te kom sien vir nuwes.”
Anja en Willa sug verlig.
“Die nuwelinge moet die volgende onthou,” teem mevrou Snopke voort. “In Kosterkloof is daar oorgenoeg kos. Daar is geen rede om honger te ly nie. Ons skool presteer as gevolg van die feit dat ons die brein genoegsaam voed.
“Kosterkloof Hoërskool het verlede jaar die beste in die provinsie gevaar. Ons streef daarna om dit so te hou. Julle sal saamstem dat ’n koshuis ’n plek is waar kinders nie altyd goeie kos kry nie, ook nie ordentlike beddens om op te slaap nie. Daarom dra dit wat ons hier het by tot die buitengewone resultate wat ons skool behaal. Dus, eet en presteer. Dit is ons koshuis se leuse.”
Almal klap hande.
Mevrou Snopke glimlag weer haar skewe dunlip-glimlag. “Dankie, kinders,” sê sy en gaan voort. “Vir die nuwelinge wil ek ook net sê, as julle skoolklere ná ’n paar maande begin styf sit, kom sien my en ons laat maak dit wyer of kry vir julle ander.
“ ’n Mens word soms siek en daarvoor gaan julle na die siekeboeg om goed te rus en gesond te word. Ons het ’n dokter aan diens en verpleegsters wat julle so gemaklik moontlik sal maak.”
Mevrou Snopke tuur oor die eetsaal. “Ons het ’n groot melkery op die perseel wat die dorp en die koshuis van melk voorsien. Julle kry elkeen ’n glas melk voor ontbyt, middag- en aandete. Melk is baie goed vir julle. Almal moet melk drink. Goed so?”
Nog steeds teem sy verder: “Die studeerkamer met rekenaars is op die tweede vloer bokant die eetsaal. Ons het ADSL en julle kan enige tyd daar gaan navorsing doen. Vir dié van julle wat naweke in die koshuis bly, is daar video’s om te kyk en ons het die biblioteek gedurende die vakansie opgeknap met die nuutste boeke op die rakke.”
Emma glimlag. Nou kan sy op Facebook gaan. Haar stadsmaats sal haar nie glo as sy hulle van dié koshuis vertel nie.
Toe mevrou Snopke by die eetsaal uitstap, swaai die kombuisdeure tussen die eetkamer en kombuis oop en kelnerinne verskyn met glase pienk melkskommels op skinkborde.
Die kelnerin kyk met ’n frons na Emma toe sy weer nie ’n melkskommel vat nie.
Dan kom sit ander kelnerinne skinkborde vol bakke gebraaide wors, spek, niertjies, tamatie, eiers en mieliepoffertjies op die tafels neer.
“Dis hotelkos!” sê Emma. “Ek het laas so geëet toe ons vir ’n naweek Sun City toe was.”
“Verstaan jy nou hoekom ons so vet is en hoekom al die kinders soos ons lyk?” vra Anja en lag.
Toe die kelnerinne by hulle kom, vra Anja en Willa vir drie gebakte eiers elk. Emma se oë rek. Al wat sy wil hê, is een gebakte eier op ’n sny roosterbrood.
Anja en Willa se borde is tot oorlopens toe vol nadat hulle opgeskep het.
Emma sien hoe die hope roosterbrood op die tafel na die borde toe vlieg. Dis asof die kinders die brood nie gou genoeg kan smeer om te eet nie. Asof hulle bang is die een langs hulle kry meer.
Ná die groot ontbyt is daar koffie, tee of ’n sjokoladedrankie. Emma drink net water.
Toe hulle later by die eetsaal uitstap, staan daar ’n kelnerin by ’n tafel vol plastiekhouers.
“Ek het dít so gemis,” sê Anja. Sy gee vir Willa en Emma elkeen ’n plastiekhouer aan en vat een vir haarself. “Dis ons kosblik. Jy moet sien wat ons skool toe kry.” Sy rek haar oë en glimlag. “Ek kan nie wag vir pouse nie.”
Kosterkloof Hoërskool is net oorkant die straat. Dis ’n pragtige gebou met ’n boomryke tuin, nes die koshuis s’n. Emma is verbaas dat daar nêrens sportvelde of tennisbane is nie. Daar is wel ’n swembad. Swem hierdie kinders?
“Is daar nie sport by hierdie skool nie?” vra Emma.
“Nee, meneer Snopke sê kinders met verstand doen nie sport nie,” sê Anja laggend. “Hy is reg. Die kinders in ons skool is almal baie slim. Ons sal simpel lyk as ons agter balle moet aanhol.”
“O …” Emma wonder of Hendrik, wat so lief is vir rugby, hiervan weet. Dit lyk vir haar hierdie skool se enigste sport is eet.
In die ingangsportaal is daar ’n groot portret met ’n vergulde raam. En onderaan staan:
Meneer Skieter Snopke
Duur leermeubels, oorspronklike skilderye en ’n Persiese mat vul die vertrek, asook talle geraamde uitknipsels van goeie dade wat Skieter Snopke in die gemeenskap gedoen het. Hy het die dorp se ouetehuis laat oprig, verkeersligte laat aanbring en die dorp se strate op sy onkoste laat teer, lees Emma.
Dan lui die klok.
“Kom!” roep Anja. “Ons mag nie laat wees nie.”
“Hoeveel graadnegeklasse is daar?” vra Emma, want sy wonder of Hendrik in dieselfde klas as sy is.
“Vyf. Ons is net vyf-en-twintig in ’n klas,” sê Willa. “Die onderwysers gee baie aandag aan elkeen van ons. Daar het nog nooit ’n kind van Kosterkloof Hoërskool gedruip nie. Ek het op die lys gesien ons drie is in dieselfde klas.”
“Regtig!” sê Emma. Sy is nogal bly daaroor. Ten minste ken sy iemand, dink sy terwyl hulle na hulle rye toe stap.
“En Hendrik, my broer?”
“Nee, ek het nie sy naam gesien nie,” sê Willa.