Читать книгу Emma en die Creepy Komplot - Marianna Brandt - Страница 10
6
ОглавлениеToe Janine die volgende oggend wakker word, is Emma lankal op.
“Ek het darem lekker geslaap.” Janine gaap. “En jy?”
“Tot halftwee en toe weer van halfdrie se kant af,” sê Emma en loer na haar selfoon. Daar’s ’n sms van Zoltan.
“Hoekom?” vra Janine.
“Wag ’n bietjie, sal jou nou sê.” Emma tik gou ’n boodskap vir Zoltan wat wil weet hoe dit in die hotel is.
Janine sit en wag. “Toe, vertel.”
Emma sit haar selfoon neer. “Halftwee laas nag het ek wakker geword van stemme. Toe gaan kyk ek deur die venster en sien vir Tandi en ’n man. Die man laai toe twee blou koelsakke in sy kombi en ry weg. Wat sê dit vir jou?”
Janine se oë rek. “Blou koelsakke? Daardie tyd van die oggend? Dit klink vir my of sy koeldrank of drank smokkel. Wat dink jy? As dit nie so was nie sou sy dit in helder daglig gedoen het.”
“Dink jy ons moet vir Sarel sê?” vra Emma.
“Ek dink ons moet, maar sal hy ons glo? Hy vertrou vir Tandi met die kombuis, die kroeg en die geld van die hotel. Dalk is ons verkeerd. Ek dink ons moet dit eers los en seker maak van ons saak. Wat dink jy?”
“Oukei,” sê Emma en haal haar skouers op. Sy wil nie die een wees wat die bobbejaan agter die bult gaan haal nie, dink Emma.
“Was dit dieselfde man wat vir haar geld in die Spur gegee het?”
“Ja, ek dink so, maar ek kon nie mooi sien nie.”
Toe hulle later in die eetsaal sit en koffie drink terwyl hulle wag vir ontbyt, kom Tandi na hulle toe.
“Goeiemôre, het julle lekker geslaap?” vra sy.
“Ja … e …” sê Emma en kyk na Janine. “Ek het wakker geword deur die nag. So halftwee se kant.”
“Vreemde bed. Ek slaap ook nie goed in ’n vreemde bed nie,” sê Tandi.
“E … nee, dit was nie dit nie. Ek het wakker geword van mense wat buite gepraat het.”
“Hier was heelwat mense gisteraand in die hotel. Mense boek enige tyd van die dag of nag in. Ook baie reps. Ek is jammer dat jy wakker geword het van die lawaai.”
Emma kyk na Janine. “Dis niks nie.”
“Wat kan ek vir julle bring vir ontbyt?” vra Tandi en wys na die spyskaart.
“Ek wil die Boere-ontbyt hê, asseblief,” sê Emma, en Janine stem saam.
Toe Tandi wegstap, stamp Emma aan Janine se arm. “Hier gaan iets aan. Ek voel dit aan my geraamte.” Sy gooi melk in haar koffie. “Daardie tyd van die oggend slaap mense. En ek het nog nooit van reps gehoor wat twee-uur in die oggend inboek nie. Sy praat nonsens.”
“Miskien moet ons tog maar met Sarel gaan praat. Hy moet weet hiervan,” sê Janine.
“Nee, wag eers. Ons het geen bewyse nie. Dalk is dit niks. Dalk is Tandi reg en dan maak ons net verniet moeilikheid.”
Saterdagmiddag is die hotel stil behalwe vir die paar mense wat in die kroeg sit en rugby kyk. Uit die musiekkamer kom die suiwer klanke van ’n pragtige stem.
“Hoor daar! Ek wonder wie dit is,” sê Janine. “Juffrou Hasendal gee blykbaar nie om om op ’n Saterdag te werk nie. Sy is regtig vas van plan om van die musiekkamer ’n sukses te maak. Kom ons gaan kyk!”
Die musiekkamer se deur is toe. Emma klop toe die laaste note wegsterf.
“Binne!” hoor hulle.
Janine stoot die deur oop en is verbaas om Tandi langs die klavier te sien staan. “Tandi! Is dit jy wat so mooi sing?”
Emma is net so verbaas, maar sê niks.
“Sy het ’n pragtige stem. Ek gaan haar wêreldberoemd maak,” sê Janetta Hasendal en glimlag vir Tandi. “Dis net harde oefening. Dis al.”
Tandi glimlag skaam. “As Juffrou so sê. Ek sal oefen en oefen. Ek wil baie graag voor mense sing. Voor baie mense en op TV.”
“Jy sal, Tandi. Jy sing fantasties,” sê Janine. “Kan ons maar ’n bietjie luister?”
Toe hulle daardie aand eetkamer toe stap sien hulle vir Joori Appelgryn by Ontvangs. Emma gryp Janine se arm en trek haar agter ’n pilaar in.
“Wat maak hy hier?” fluister Emma en sien hoe Tandi vir hom ’n koevert gee.
Joori Appelgryn kyk vinnig om hom rond en steek die koevert in sy sak. “Dankie, Tandi. Wanneer kom meneer Sameuls terug?”
“Hy het nou-net gebel. Hy is al môre-oggend terug,” sê Tandi. “Kan ek vir Meneer iets gaan maak om te drink?”
“Nee dankie, ek bring môre die koelsakke,” hoor Emma hom sê.
“Ek sal solank vir die koeldrank reël,” sê Tandi.
“Dankie,” sê Joori Appelgryn en stap dan vinnig na die voordeur.
Emma en Janine gaan sit by ’n tafel in die eetkamer en kyk na die spyskaart. Dan sit Emma hare neer.
“Sy smokkel. Die hotel kry ’n groot afslag vir drank van die groothandelaars. Sy verkoop die drank skelm en maak ’n wins vir haar eie sak.”
Janine laat sak die spyskaart. “Ja, en meneer Appelgryn kry die koeldrank vir die sportspanne teen kosprys. Hy’t seker ’n reëling met Sarel.”
“Dit verstaan ek,” sê Emma en loer weer na die spyskaart. “Die skool en die hotel werk saam om sport en kultuur na die dorp te bring. Maar ek is nie so seker jou ma se neef weet wat sy liewe Tandi doen wanneer hy nie hier is nie.”
Sondagoggend toe Emma en Janine met die trappe afstap na die eetsaal hoor hulle die opgewekte stem van Sarel Sameuls by die toonbank.
“Hoe was die naweek?” hoor hulle hom vra.
En dan Tandi se stem. “Ons was besig, Meneer. Die kamers was almal vol en ek het les gehad by juffrou Hasendal.”
“Wat sê sy? Gaan sy van jou ’n uitvoer-ster maak?”
Tandi lag. “Sy sê so, Meneer.”
“Ek het vir jou iets gebring.”
“Haai, Meneer, dis nie nodig nie,” sê Tandi.
Hulle hoor hoe sy iets oopskeur en na haar asem snak. Hulle huiwer op die trappe.
“Dis mooi, Meneer!” sê Tandi onder haar asem.
“Ek is bly jy hou daarvan. Kom ek sit dit om jou nek.”
Met ’n frons kyk Janine na Emma. “Verjaar sy dalk?” fluister sy.
Dan hoor hulle: “Meneer, dis pragtig!”
“Jy is baie meer as dit vir my werd, Tandi,” sê Sarel. “Jy weet dit.”
Emma kyk na Janine en fluister. “Sy werk maar net vir hom,” sê Emma geskok. “As hy moet weet wat hier aangaan.”
Toe hulle in die portaal kom, kry hulle vir Tandi agter die toonbank besig om na die goue hangertjie, met die groot robyn, in die spieël teen die muur te kyk.
“Dis mooi,” sê Janine. “Verjaar jy vandag, Tandi?”
“Nee. Meneer het dit sommer net vir my gekoop,” sê sy skaam.
“Sommer net?” vra Emma. “Jy is darem gelukkig. Ek wens mense wil vir my sommer net sulke duur geskenke gee.”
Tandi lag. “Ja, Meneer is goed vir my.”
Hulle is amper by die voordeur uit op pad koshuis toe, toe Sarel Sameuls verskyn.
“Meisies!” sê hy. “Ek hoop julle het die naweek hier by ons geniet.”
“Ons het,” sê Janine en loer na Emma. “Die plek lyk fantasties. Ons kan nie wag vir die eerste show nie.”
“Nie meer lank nie. Ons gaan ’n oefenlopie hê en die mense van Kosterkloof en die ouetehuis nooi om te kom kyk,” sê hy. “En dan is ons reg om ons eerste Kultuurfees te adverteer.”
“Dit klink opwindend,” sê Emma.
Sarel Sameuls loer na Tandi. “En dié meisie gaan vir ons sing.”
Tandi glimlag skaam en voel-voel aan die robyn om haar nek.
“Ons sal kom luister, Tandi,” sê Janine.