Читать книгу Emma en die Creepy Komplot - Marianna Brandt - Страница 5
1
ОглавлениеEmma kyk na haar kamermaat voor die spieël.
“Tannie Mouna sal die rok weer moet invat aan die kante.” Willa glimlag vir haarself. “Ek het nooit gedink ek sal weer so lyk nie.”
“Jy gaan nog baie gewig verloor,” sê Emma. “Dis maar net drie maande vandat die Plottenboere oorgeneem het met hulle nuwe spyskaarte.”
“Hm, en alles te danke aan jou en Janine.” Anja kyk vlugtig na haarself in die spieël en swaai haar heupe. “Modeling, dis wat ek gaan doen wanneer ek eers hierdie vet afgeskud het.”
Emma gryp na haar selfoon toe dit skielik lui.
“Hi, ek’s hier.”
“Janine!”
“Ek het nuus vir jou.”
“Sien jou.” Emma spring van die bed af op, sit haar selfoon in haar jean se sak en waai by die deur uit. Sy draf die trappe af na die ingangsportaal van die koshuis.
“Ma, daar’s Emma!” hoor Emma Janine sê en waai vir Emma. Janine groet haar ma vinnig en tel haar naweektas op.
“Hoe was jou naweek?” Emma vat ’n koekblik by Janine.
“Baie lekker en baie interessant,” sê Janine en rol haar oë. “Jy sal nie glo nie.”
“Wat?”
“My ma se neef, Sarel Sameuls, het die Berg Hotel gekoop.”
Emma snak na asem. “Sarel Sameuls! Is hy jou ma se neef!”
“Ja, en hy het fantastiese planne vir Kosterkloof!” sê Janine toe hulle die trappe opstap.
“Watse planne? Hy is ’n bekende akteur, kunstenaar, skrywer en wat nog? Hier gaan niks aan op Kosterkloof nie. Wat wil hy hier kom maak?”
Janine frons. “Dis wat ek en my ma ook wil weet.” Sy stoot haar kamerdeur oop. “Hy was die naweek by ons op die plaas en is nog net so weird soos altyd: poniestert, geblomde hemde en gekleurde baadjies en studs in die ore.”
“Hy klink na ’n baie interessante ou. Wat dink jy gaan hy met die Berg Hotel doen?”
“Hy het ’n restaurant in die stad gehad en dit was uit die boeke.” Janine gooi haar tas op die bed. “Dalk wil hy die hotel ook so verander. Ek kan net nie verstaan hoekom hy sy fantastiese restaurant verkoop en die ou Berg Hotel kom koop het nie. Hy sal baie geld nodig hê om dit tot sy volle glorie te restoureur.”
Hm, iets ruik nie lekker nie, dink Emma, maar sy sal dit nie hardop sê nie.
’n Heerlike geur van groentesop hang in die eetsaal. Op elke tafel is ’n groot sopkom en ’n bord met roosterbrood. Willa trek ’n stoel langs Emma uit en gaan sit.
“Onthou jy nog die dae toe ons ’n melkskommel voor elke ete gekry het en mevrou Snopke ons behoorlik gedwing het om dit te drink? Jy en Janine het nie. Ek weet nou nog nie hoe julle daarmee weggekom het nie.”
“Julle kon skaars loop so vet was julle,” sê Emma. “Dis een goeie ding wat die Plottenboere reggekry het. Die kinders raak weer normaal. Ons het ’n rugbyspan en die meisies speel netbal en swem.”
Emma kyk na die tafel waar haar broer Hendrik en sy vriend Zoltan sit. Sy wonder of die ander meisies nou ook skielik vir Zoltan raaksien. Vandat hy so baie gewig verloor het, is hy ’n regte hunk.
Janine stamp aan haar. “Gee vir my die roosterbrood aan, asseblief.”
Mevrou Plottenboer kom die vertrek binne met haar Pikenese, Hannibal, op haar hakke. Haar hare is in krullers en sy het kort sokkies en tekkies by ’n wye romp aan. Ook maar goed sy’s nie ’n onderwyseres nie, dink Emma toe sy by hulle tafel kom staan. Sy sou haar dood geskaam het vir ou Mouna Plottenboer se part.
Mevrou Plottenboer tel die brakkie op – ’n ewebeeld van die nuwe skoolhoof, Gyt Plottenboer met sy uitstaande onderkaak.
“Dis julle tannie Mouna se groentesopresep en baie lekker,” sê sy en vee met haar hand oor die brakkie se kop. “As julle nog honger is kan julle vrugte kry. Daar is appels en piesangs.”
“Nee dankie, Tannie. Die sop is genoeg,” sê Willa en begin inskep.
“Dié van julle wat skoolrokke het wat nouer gemaak moet word, kan dit na ete by die naaldwerkkamer ingee. Ek sal vir ’n uur lank daar wees.” Sy sit haar brakkie vinnig op die grond neer.
“Sies, Hannibal,” sê sy toe die stink walm hulle neuse tref.
“Ga!” sê Emma.
Mouna Plottenboer kyk verontwaardig na haar. “Hy’t maar net ’n windjie gelaat,” sê sy en stap weg.
“’n Windjie gelaat?” lag Willa. “Dit was ’n yslike poep!”
Na ete kry Emma vir Hendrik en Zoltan voor die kennisgewingbord in die voorportaal van die koshuis.
“Wat kyk julle?”
“Zoltan soek ’n tennisraket. As jy weet van iemand wat van een wil ontslae raak, sê ons asseblief, Em.”
“O, wil jy tennis ook speel?” vra Emma en voel hoe haar hart bokspring. Sy voel skielik warm in haar gesig toe Zoltan na haar kyk.
“Ja, ek is mal oor tennis,” erken hy. “Rugby ook, maar ek dink tennis kom eerste vir my. Ek het ’n raket, maar sy snare is pap.”
“Ek sal vir jou uitvind.”
“Dankie, Emma,” sê hy met ’n skewe glimlag wat die skoenlappers op haar maag paniekerig laat fladder. Hy is darem ’n oulike ou, dink sy toe hy en haar broer wegstap.
Emma is halfpad op met die trappe toe sy ’n soet stem in die portaal hoor. Wie is dit?
Dan hoor sy meneer Plottenboer se stem. Sy steek vas en stap stadig die trappe af.
“Juffrou Hasendal,” hoor sy meneer Plottenboer sê. “Welkom, welkom! Ons het onderwyseresse nodig wat ons dogters kan inspireer.”
“O, Meneer, ek voel so geëerd om ’n pos in so ’n pragtige koshuis en skool te kan hê. Baie dankie.”
Sy is seker in die kamer waarin juffrou du Toiten was, dink Emma en besluit om die nuwe juffrou met haar bagasie te gaan help.
Sy draf die trappe af na onder. Haar mond val oop toe sy juffrou Hasendal by drie groot tasse sien staan. Sy lyk soos een van die modelle uit ’n ou vrouetydskrif wat sy eenkeer by haar ouma deurgeblaai het. Aangeplakte swart wimpers, ’n bos stywe, blonde krulhare en bloedrooi lippe.
Emma kan nie help om na haar te staar nie. Sy het ’n pienk roomyskleur jean aan met swart en wit hoëhakskoene en ’n nagemaakte tierveljas. Mevrou Snopke sal beslis jaloers wees op haar, gaan dit deur Emma se gedagtes terwyl sy staan en luister na die gesprek tussen meneer Plottenboer en juffrou Hasendal.
Dan sien meneer Plottenboer haar. “Emma, jy kan vir juffrou Hasendal haar kamer gaan wys. Ek gaan haal net gou die sleutel,” sê hy en verdwyn met die gang af.
“Juffrou, ek is Emma Odendal,” sê Emma. “Welkom hier by ons.”
“Emma, dankie.” Juffrou Hasendal kyk om haar in die portaal. “Dis ’n pragtige plek. Ek het nog nooit ’n koshuis soos dié gesien nie.”
“Ja, dit is, Juffrou.” As sy maar weet waar die geld vandaan gekom het om die plek in stand te hou, dink Emma en gee vir juffrou Hasendal ’n groot glimlag.
“Is hier nie iemand wat die tasse vir my na my kamer toe kan neem nie?”
“Ek sal. Juffrou is op my vloer. Ek gaan gou vir Janine roep om my te help.” Sy wil nie hê juffrou Hasendal moet haar dun bene op daardie hoëhakke breek as sy die swaar tasse opdra kamer toe nie.
“Is hier nie ’n portier nie?” vra sy.
“Nee, Juffrou. Wag net hier dan gaan haal ek gou vir Janine en Willa.” Emma los haar in die portaal en draf vinnig met die trappe op na die eerste vloer.
Sy kry vir Janine, Willa en Anja in die gang.
“Wie kom help my gou om juffrou Hasendal se tasse op te dra?”
“Wie?” vra Willa.
“Die nuwe juffrou,” sê Emma. “Sy het drie groot tasse en julle moet haar sien! Sy is nie van hier nie.”
Die drie meisies draai net daar om en volg Emma met die trappe af.
Intussen het meneer Plottenboer teruggekom met die kamersleutel en kan sy oë nie van juffrou Hasendal af hou nie. Emma is net betyds om te sien hoe hy die juffrou se hand langer vashou as wat nodig is toe hy vir haar die sleutel gee.
“As daar enigiets anders is, vra maar net,” sê hy. “Waar is Emma … kom ek gaan wys …” en dan sien hy vir Emma en die drie meisies. “E … hier is sy nou. Sal julle vir Juffrou haar kamer gaan wys?”
“Dankie, Meneer,” koer juffrou Hasendal en volg die meisies met die trappe op.
By die landing lui juffrou Hasendal se selfoon. Sy gaan staan en haal die foon uit haar skouersak en druk dit teen haar oor.
“Sarel! Ja, ek is sak en pak hier,” giggel sy en volg Emma-hulle na kamer nommer 11. “Sien jou dan. Toedeldoe.”
Hulle sit die swaar tasse voor juffrou Hasendal se kamer neer en wag dat sy oopsluit. Toe die deur oopgaan, sien hulle die dubbelbed met die satyn deken. Juffrou Hasendal se mond val oop.
“Dis soos ’n hotel!” roep sy met oop arms uit. Sy skop haar hoëhakke uit en plof op die bed neer.
Hulle dra haar tasse in.
“Dankie, meisies,” sê sy. “Vanaand gaan ek soos ’n prinses slaap.”
Toe Emma en Janine by hulle kamers kom, kan Emma haar nuuskierigheid nie meer hou nie.
“Wat is daardie oom van jou se naam nou weer? Die een wat die Berg Hotel gekoop het?”
Janine trek ’n gesig. “Sarel … hoekom?”
“Wonder maar net,” sê Emma.
“Sover ek weet was hy nog nooit getroud nie en het hy nog nooit ’n meisie gehad nie.”
“O …”