Читать книгу Emma en die Creepy Komplot - Marianna Brandt - Страница 9
5
ОглавлениеDonderdagmiddag, terwyl Emma besig is met harewas, kom Janine by die badkamer ingewaai.
“Hier is jy. Ek het jou oral gesoek.”
Emma draai die handdoek om haar lang donkerbruin hare. “Hoekom?”
“Ek weet ek het jou gevra om saam met my plaas toe te gaan hierdie naweek, maar my ma het nou-net gebel. Hulle moet dringend stad toe gaan en my pa kan ons nie Vrydag kom haal nie. My ma het voorgestel ons gaan bly vir die naweek in die hotel. Sy het klaar met Sarel gereël.”
“Great. Ek gee nie om nie,” sê Emma.
“Sarel is ook weg en gaan eers Sondagmiddag terug wees. Tandi gaan glo die hotel oppas.”
Op pad eetsaal toe vir aandete loop hulle vir Hendrik en Zoltan raak.
“Hi, Em. Zoltan gaan saam met my huis toe vir die naweek. Kom jy?”
Emma loer na Janine. “Nee, ek en Janine gaan vir die naweek in die hotel bly.”
“In die hotel! Ek het gedink jy kom plaas toe.”
“Ek sou na Janine-hulle toe gegaan het vir die naweek. Haar ouers moes skielik stad toe. Haar ma het gereël dat ons in die hotel bly.”
“Ja,” sê Janine opgewonde. “Ons is al so nuuskierig om te sien wat Sarel alles verander het.”
Zoltan glimlag in Emma se rigting. “Julle moet ons kom vertel.”
“Ons sal,” sê Emma. Sy is nou spyt sy gaan nie ook huis toe nie.
Vrydagmiddag stap Emma en Janine na die Berg Hotel. Nie ver van die hotel af nie ry juffrou Hasendal by hulle verby en waai. Hulle waai terug.
“Sy gee seker vandag klas by die hotel,” sê Emma.
“Ja, dis mos waar die musiekinstrumente is,” sê Janine.
Emma is verbaas om so baie motors voor die hotel te sien.
“Hier is baie mense,” sê Emma. “Dit lyk of hier al klaar iets aan die gang is. En die eienaar is nie eens hier nie.”
“Blykbaar kan Tandi dit hanteer,” sê Janine toe hulle met die trappe opstap na die ingang.
Hulle kry vir Tandi agter die toonbank besig om ’n gas te help. Toe die man wegstap met sy kamersleutel, sien Tandi hulle en frons.
“Ons is hier vir die naweek,” sê Janine. “Saam in ’n kamer.”
“O,” sê sy. “Meneer Sameuls het my niks gesê nie.”
“Hy’t seker vergeet,” sê Janine.
Tandi kyk in die besprekingsboek en haal dan kamer agtien se sleutel van die rak af.
“Dankie, waar is dit?” vra Janine.
“Op met die trappe en dan links,” sê Tandi.
“Hoe laat is aandete?” vra Emma.
“Julle kan so sewe-uur kom. Die eetsaal is langs die teater.”
Die kamer is nie so weelderig soos Kosterkloofkoshuis s’n nie en Emma is eintlik verbaas.
“Ek het altyd gedink die koshuis is soos ’n hotel, maar nou sien ek dis eintlik beter,” sê sy en stap na die venster toe.
Emma kyk uit oor die agterplaas van die hotel en Janine kom staan langs haar.
“Net jammer die venster kyk nie ook oor die dorp uit nie,” sê sy.
“Ja, dit is jammer. Dalk is al die ander kamers bespreek. Sy sou seker vir ons ’n beter een gegee het as sy kon,” sê Emma en maak haar tas oop.
“Kom ons gaan kyk hoe lyk die teater en musiekkamer,” stel Janine voor nadat hulle uitgepak het.
“Oukei, kom ons gaan kyk wat meneer Plottenboer se geld hier vermag het,” sê Emma met ’n grinnik.
Hulle monde val oop toe hulle die teater, met die nuwe verhoog en pragtige fluweel gordyne, sien.
“Hier’s ’n nuwe mat ook,” sê Janine.
“En die tafels en stoele. Dis seker spesiaal van die Kaap af bestel,” sê Emma. “Dit moes ’n fortuin gekos het. Hier kan maklik honderd mense sit.”
Dan gaan die deur oop en juffrou Hasendal en Joori Appelgryn verskyn. Hulle lyk verbaas om Emma en Janine daar te sien.
“Juffrou, dis fantasties,” sê Janine.
“Dit is,” sê Janetta Hasendal en flikker haar wimpers vir Joori Appelgryn. “Ek het julle nog nie in die drama- of musiekkamer gesien nie. Wil julle nie by die dansgroep aansluit nie? Meneer Plottenboer het belowe om die mooiste rokke vir die groep te laat maak vir die Kultuurfees.”
Janine rol haar oë na Emma. “Ek het twee linkerbene, Juffrou,” sê sy en lag.
“Dis nie vir my nie,” sê Emma en skud haar kop. Sy was nog nooit lief vir rokke nie. Die skoolrok is erg genoeg, dink sy.
“Wat van sing?” vra juffrou Hasendal.
Emma en Janine giggel. “Nee, Juffrou,” sê Emma.
“Elke mens het ’n talent,” sê Joori Appelgryn. “Kom nou, meisies.”
Juffrou Hasendal trippel rond. “Kom kyk hoe lyk die musiekkamer,” sê sy en gryp vir Joori Appelgryn aan die arm. “Julle moet dit sien.”
Hulle gaan by ’n groot vertrek in met lang vensters wat uitkyk oor Kosterkloof. Emma sien die gepoleerde swart vleuelklavier en streel met haar vingers oor die gladde oppervlak. “Sjoe, dis mooi.”
“Dis fantasties!” roep Janine uit en druk op ’n ivoorsleutel. “Ek het nog nooit so ’n klavier van naby gesien nie.”
Juffrou Hasendal vat haar aan die arm.
“Dis nie al nie. Kom kyk hier.” Sy stap na ’n groot muurkas wat spesiaal vir die musiekkamer gebou is. Sy maak die deure oop.
“Hier is ons orkes se instrumente.”
Emma kyk oopmond na die vioole, ghitare, simbale, trompette en musiekinstrumente waarvan sy nog nooit gehoor het of gesien het nie.
“Gee Juffrou klas in ál die instrumente?” vra sy verbaas.
“Ek leer die kinders musiek lees en die basiese van klavier, ghitaar, viool en trompet.” Sy loer na Joori Appelgryn. “En Meneer leer die kinders tromme en perkussie speel.”
“Dis ongelooflik,” sê Janine. “Die kamer is baie groot. Gaan Juffrou die musiekkonserte hier hou?”
“Ja, maar as ons groot belangstelling kry, skuif ons na die teater. En nou hoor ek meneer Plottenboer dink daaraan om ’n reusetent te kry vir toneel. Ons gaan groot akteurs hierheen lok.”
Emma frons. “Maar Juffrou, sal mense so ver ry vir ’n Kultuurfees op Kosterkloof?”
“O ja, hulle sal. Met al die planne wat meneer Plottenboer en meneer Appelgryn in gedagte het, sal mense hierheen vlieg,” sê sy en lag.
Na aandete en ’n warm stort besluit Emma en Janine om in te kruip. Janine haal haar boek uit haar rugsak en klim in die bed.
“Gee jy om as ek lees?” vra sy met die boek in haar hand.
“Nee, ek facebook op my sel,” sê Emma met oorfone in haar ore. “En ek luister musiek.”
“Oukei,” sê Janine en maak haarself gemaklik tussen die kussings. “Jy weet, die musiekkamer moes ’n fortuin gekos het. Net daardie klavier alleen. Wat dink jy?”
“Hm … iewers maak die Plottenboere baie geld,” sê Emma en fokus dan weer op haar selfoon.
Twee uur later haal Emma die oorfone uit en sit haar selfoon op die bedkassie langs die bedlampie neer.
“Nag, Janine, ek gaan nou slaap.”
“Hierdie boek is fantasties. Ek sal deurnag kan lees,” sê Janine.
“Dis oukei, die lig pla my nie,” sê Emma.
“Nee, dan is ek môre vaak. Ek gaan ook maar slaap.” Janine maak die boek toe en sit haar lig af.
Iewers in die nag skrik Emma wakker van geluide in die agterplaas van die hotel. In die bed langsaan slaap Janine soos ’n baba.
Emma staan stilletjies op en loop na die venster toe. Deur ’n skrefie in die gordyn kyk sy af na die werf waar ’n flou lig brand. Sy sien ’n kombi en hoor stemme.
Dan sien sy ’n man die sydeur van die kombi oopstoot en twee sakke inlaai.
In die flou lig lyk dit vir haar soos blou koelsakke. Toe hy die kombi se deur toetrek, sien sy vir Tandi. Sy en die man praat.
Emma kan vaagweg hoor, maar kan nie verstaan wat hulle sê nie. Is dit die man saam met wie Tandi in die Spur was? Dan sien sy hom in die kombi klim en Tandi na die hek toe stap om dit oop te maak. Sy wag dat hy deurry en maak weer die hek toe.
Terug in die bed kyk Emma op haar selfoon. Dis net na twee. Wat gaan hier aan? Moet sy vir Sarel Sameuls vertel? Hy vertrou vir Tandi met alles hier by die hotel. Is sy dalk besig om hom te besteel?