Читать книгу Eksklusief uit Eden - Marida Fitzpatrick - Страница 3

Proloog

Оглавление

Sy hartklop suis in sy ore. Asof van ver hoor hy hoe sy tekkies die band tref. Reëlmatig. Egalig. In presiese reëlmaat met sy asemhaling, sy hartklop, die lig en val van sy arms, die span en strek van sy bene. Alles in ’n volmaakte ritme.

Dit is hoekom hy elke oggend draf. Om vir ’n tyd lank te voel hoe alles in plek val. Gedissiplineerd. Georden. Elke geluid, elke beweging waar dit moet wees. Soos ’n simfonie.

Die skermpie voor hom wys hy het so pas die ses-kilometermerk verbygesteek. Nog vier. Terwyl hy draf, hou hy sy blik op die TV, wat op Sky News ingestel is. Die beeld verander van dié van die blonde aanbieder na amateurbeeldmateriaal. ’n Mens sien nie veel nie, want dis nag, maar dit wys swart rook wat op die horison van ’n see uitborrel.

Seker weer ’n bomontploffing in die Midde-Ooste, dink hy. Sy blik sak na die nuushooftrekke wat onderaan die skerm verbyflits: Bahrain bomb death toll: 153. Bahrein. Baie Suid-Afrikaners werk daar. Hy weet, want hy het nou die dag ’n artikel gedoen oor lande waar Suid-Afrikaners baie geld verdien. Bahrein is een, omdat inkomste daar belastingvry is.

Sy hand reik na die rooi stopknop op die masjien. Dis belangrik dat hy so gou moontlik uitvind of daar Suid-Afrikaanse slagoffers is. Toe die band tot stilstand kom, gryp hy sy sweethanddoek en waterbottel en drafstap tot voor die TV, wat hoog teen die muur sit. Hy strek om die volumeknoppie by te kom en stel dit harder.

Van die gimnasiumlede kla toe die nuusleser se stem begin bulder, maar hy ignoreer hulle. Met sy asem en hartklop wat nog van die drawwery jaag, kyk hy kop agteroor aandagtig na die TV. Hy vryf die sweet van sy voorkop af en vat ’n paar slukke uit sy waterbottel. Terwyl die water in sy droë keel afgly, hoor hy dit: “Agt en veertig van die slagoffers is Suid-Afrikaners.”

Sy hart, wat intussen bedaar het, klop weer in versnelling. Dis ’n groot storie. Yslik.

Hy knip sy selfoon van sy sweetpakbroek af. Sy selfoon is altyd by hom, selfs wanneer hy oefen. ’n Mens weet nooit wanneer so iets gebeur nie. Dis nou sesuur, sien hy op die selfoonskerm. Dirk sal nog slaap. Maar hy moet hom nou maar wakker bel.

“Wat is dit?” antwoord Dirk deur die slaap.

“Sit jou TV aan. Sky News.”

“Wat het gebeur?”

“Bom in Bahrein. Agt en veertig Suid-Afrikaners dood.”

“O bliksem.” Dirk is nou wawyd wakker. “Wanneer het dit gebeur?”

“Lyk my laat gisteraand.”

“Kry jouself op die eerste vlug. Ons moet sorg dat ons voor enige ander media daar is. Veral Nuusweek. Jy weet wat gebeur as hulle ’n storie eerste kry. Daar bly niks vir enige ander joernalis oor nie.”

“Maak so. Ek bel jou van daar af.”

Toe hy sy selfoon toeklap, is sy lyf so vol adrenalien dat hy maklik nog tien kilometer sou kon draf. Maar hy hardloop kleedkamer toe. Hy moet so gou moontlik by die huis kom om te pak.

Hierdie storie gaan hom maak. Hy wéét dit. Hercules de Lange kan maar gaan slaap. Met sy naam by dié storie is sy weg na die nuusredakteurstoel gebaan. Hy sien klaar sy gunstelingwoorde op die koerant se voorblad: Eksklusief deur Malan Retief.

Eksklusief uit Eden

Подняться наверх