Читать книгу Eksklusief uit Eden - Marida Fitzpatrick - Страница 4
1
ОглавлениеDalk moet sy ’n Cinnabon eet. Net vir inspirasie.
Mia Bindeman staar na haar rekenaarskerm waar die strepie boaan die wit bladsy flikker. Wreedwit, dink sy. Dít moet die oortreffende trap vir wit wees. Sy moet nou hierdie hele wit bladsy vol maak met pittige opsomminkies van TV-sepies. Ag tog!
Emma kry ’n onaangename verrassing uit haar verlede. Candy is nog steeds kwaad vir Joe, tik sy en val dan met ’n sug terug. Ag nee, dit klink nes gister s’n. Sy druk die backspace-knoppie tot daar weer net ’n wit bladsy is.
Vandag gaan die tunaslaaitjie in haar kosblik haar nie red nie. Sy het vanoggend ’n volle twintig minute geneem om al die rissies, tamatie en komkommer op te sny om met die tuna en die Weigh-Less Low Oil Salad Dressing te meng vir die eerste dag van haar hoëproteïendieet.
Dis nou eers twaalf minute oor elf en sy is klaar honger. Nie vir eierwit nie. Nie vir tuna nie. Nie vir enige proteïen nie. Vir stysel. Al wat haar deur hierdie oneindige wit bladsy gaan dra, is stysel. Verfynde stysel. Met verfynde suiker. En kaneel. Dus: ’n Cinnabon.
In die Cinnabon-winkeltjie hier naby in Sandton City bak hulle seker elke uur dié hemelse skeppings. Dis amper soos ’n Chelsea bun, maar dit het nie rosyntjies in nie (dus is dit seker ongesonder) en is deurtrek van die heerlikste loperige, versiersuikerige mengsel vol kaneel. Daar kon pleks van Cinnabon eerder Made in Hell of Product of Satan op die boksie gestaan het – met ’n waarskuwing dat jy in ruil vir die minute lange hemel, maande lank in hoëproteïendieet-hel sal moet deurbring.
Maar sy sal dit vanaand gaan afoefen. Twintig minute op die trapmasjien op vlak ses verbrand 280 kilokalorieë. ’n Cinnabon bevat seker 280 000 kilokalorieë, maar sy sal daarna ook die Power Plus-klas doen.
Miskien moet sy gou uitglip en een gaan koop. Sy sal nie eens tien minute weg wees nie. En dalk, terwyl sy weg is, vorder die tegnologie só dat hierdie wit bladsy homself met sepie-opsomminkies vol maak.
Sy sê vir Portia, die persoonlike assistent van hul redakteur, Grethe Vivier, sy gaan gou uit. Grethe sal nog steeds in die telefoonkonferensie met die Kaapse kantoor wees teen die tyd dat sy terugkom. Sy sal nooit eens weet Mia het gou uitgeglip nie.
Die Sandton City-winkelsentrum is binne loopafstand van hul tydskrif Nuusweek se kantore. Dis baie lekker; sy gaan baiemaal soontoe vir middagete. Eers het sy nie baie tuis gevoel in hierdie glas-en-glanspaleis nie. Net Sandton-kugels met reguit gestrykte hare, driekwart jeans en spykerhak-slangvelstewels waar jy kyk. Dis asof jy die geld kan hoor en ruik so ver jy stap. Maar as ’n mens genoeg tyd iewers deurbring, kan jy aan enige plek gewoond raak. Nou paradeer sy daar rond met die selfvertroue van ’n vrou met ’n Louis Vuitton-handsak oor haar skouer.
Toe sy in die sentrum is en Checkers voor haar sien, onthou sy sy moet nog Toilet Duck en vullissakke koop. Hoe aaklig! Sy haat haat háát dit om hierdie huishoudelike, skoonmakerige, vullisrige, toiletagtige goed te koop. Sy stel dit altyd uit totdat ’n noodtoestand in haar huis dreig. Nou is seker maar die beste tyd om dit te doen. Die naweek was sy nie lus nie en volgende naweek gaan sy nog minder lus wees.
Ná ’n in-diepte-studie van elke pers en groen bottel met laggende vroue en pienk irisse kry sy uiteindelik Toilet Duck en toe vullissakke. Sy sug toe sy die lang toue sien. Gelukkig is Grethe nog in die telefoonkonferensie.
In die tou bekyk sy die tydskrifvoorblaaie. Elke liewe Afrikaanse vrouetydskrif, Christelik of nie-Christelik, het ’n ster van 7de Laan of Egoli op die voorblad. Nico en Christie: ’n sprokie, staan op rooi rose se voorblad. Mandi – lus vir die lewe op Vrouekeur.
Mia kry sommer ’n pyn. Jy sou sweer Nico en Christie hoef nooit Toilet Duck te koop nie. En Vrouekeur maak asof Mandi nooit opstaan en soos ’n dik bus voel, maak nie saak wat sy aantrek nie.
Hierdie hele sepie-glansartikel-perfekte-mense-kultuur irriteer Mia verskriklik. En die ergste is, sy’s deel daarvan. Die eer val haar nou wel nie te beurt om self die onderhoude met die sterre te voer en te hoor hoe lus hulle vir die lewe is omdat hul lewe een groot sprokie is nie, maar sy moet nog steeds die sepie-opsommings skryf. Sy sê elke dag vir haarself dis ’n trappie na groter dinge. Maar sy’s nou moeg vir daardie trappie. Sy wil oor régte goed skryf. Dinge wat saak maak. Dinge wat die wêreld verander. Dís hoekom sy joernalistiek gaan studeer het.
Met haar huishoudelike aankope ritselend in ’n plastieksak stap sy vinnig na die Cinnabon-winkeltjie. Ná die beproewing in Checkers verdien sy dit. Sy gaan nie eens skuldig voel nie.
Die ryk kaneelreuk tref haar toe sy voor die toonbank gaan staan. “Twee, asseblief,” sê sy vir die man agter die toonbank. Een vir padkos. Een vir die wit bladsy.
Nadat sy betaal het, gryp sy die boks en drafstap terug kantoor toe. Grethe kan nou enige oomblik klaarmaak met die konferensie. En as sy vir Mia roep en sy’s nie daar nie, is daar moeilikheid.
Sommerso in die loop lig sy die deksel van die boks. Die soet stoom brand haar neus en sy asem die klam kaneel in. Haar oë gaan vanself toe van genot. Dan vlieg hulle wyd oop toe sy besef wat sy so pas gesien het: drie Cinnabons. Die man het haar verkeerd gehoor en drie pleks van twee ingesit. Dis ’n ramp! ’n Verskriklike ramp. Eintlik behoort sy terug te gaan en hom aan te sê om een uit te haal.
Maar dis nou te laat. Die vloek van drie is klaar gespreek. Nou sal sy haar maar moet staal vir die teëspoed. Sy het ’n obsessiewe vrees vir die syfer drie of syfers waarvan die kombinasies drie maak.
Drie is nou eenmaal nie haar getal nie. Simon, haar universiteitskêrel, het haar op die derde dag van die derde maand in haar derde jaar op universiteit afgesê. Sy glo nog steeds Simon Erlanck is haar grootste verlies ooit. Hy is nou ’n baie suksesvolle geoktrooieerde rekenmeester by KPMG. Sedert hy haar gelos het, het sy nog nie weer ’n ernstige kêrel gehad nie.
Op 3 Desember 2003 het ’n taxi van agter in haar Fiat Uno vasgejaag. (Desember is die twaalfde maand en een plus twee is drie).
En op haar derde verjaardag, so vertel haar ma, het sy haar ken oopgeval toe sy saam met Elsabé, haar ouer, mooier suster, gaan swaai het. Die besering was so erg dat sy steke in haar ken moes kry. Hoeveel? Drie. Die merk sit nou nog in ’n fyn wit strepie onder haar ken.
Elsabé moes na haar kyk, maar sy het só lekker met die bure se seuntjie gespeel dat sy nie agtergekom het Mia is besig om uit die swaai te gly nie. Niks het intussen verander nie. Elsabé flankeer nog steeds haar lewe om, terwyl sy wat Mia is die wêreld moet verander.
Haar ma, Henriëtte Bindeman, sê haar obsessiewe vrees vir die getal drie is ’n lawwe bygeloof en haar pa, professor Neels Bindeman, het eenkeer bygevoeg dat bygelowe van die duiwel is. Maar sy weet wat sy weet. ’n Mens leer tog uit patrone.
Dalk sal dit help as sy so gou moontlik een van die Cinnabons opeet. So in die loop breek sy ’n stuk sagte, taai deeg af en druk dit in haar mond.
Portia se oë rek wyd toe Mia met haar taai mond en hande by die kantoor instap. En dadelik kom Terry-Lee Clark op haar spykerhakskoentjies aangetrippel. Histeries. “Mia,” sê sy met haar hoë, nasale kugelaksent, “we’ve been looking for you all over!”
“Ek was nie so lank weg nie. Wat is dit?”
“Grethe wants to talk to the two of us desperately urgently.”
Terry-Lee is baie lief vir die uitdrukking “desperately urgently”. En Grethe is baie lief vir Terry-Lee. Sy is die über-joernalis – Nuusweek en hul Engelse sustertydskrif se klein sterretjie. Sy kry altyd al die grootste stories.
Mia sug innerlik. Hoekom sal Grethe hulle twee saam wil sien? Het Terry-Lee ’n rol in Egoli gekry? Of dalk is dit net die begin van die vloek. Dalk het dit nie gehelp dat sy die derde Cinnabon in minder as drie minute verorber het nie.
Terwyl Terry-Lee uitasem om haar trippel, sit sy gou haar Cinnabons en skoonmaakgoed op haar lessenaar neer. En voordat hulle by Grethe se kantoor instap, trek sy haar bloes reg en vryf oor haar hare. “Gaan kam net jou hare. Jy weet ek kan ’n lelike kind nie verdra nie,” sê Grethe altyd vir haar as sy verwaaid by die kantoor aankom.
“Uiteindelik!” bulder Grethe toe hulle saam by die kantoor instap. Sy gooi haar lang, slanke arms in die lug.
Terry-Lee gaan staan met haar spykerhakke oor mekaar gekruis in ’n Paris Hilton-pose voor Grethe se lessenaar. Mia staan regop en stoot haar ken uit. Sy moet selfversekerd en bekwaam lyk. Grethe het nie tyd vir swakhede nie – uiterlik of innerlik.
“Waar was jy, Bindeman? Ons het al begin dink dis die wegraping.”
“Nee … uh, ek het net gou … uhm,” stotter Mia.
“Los dit net!” bulder Grethe.
“Sit,” sê sy met ’n elegante swaaibeweging van haar hand. Sy hou ’n pen soos ’n sigaret in haar regterhand. “Julle het seker gehoor van die bomontploffing in Bahrein gisteraand.”
Mia se hart skop paniekerig. Sy weet niks van ’n bomontploffing nie en sy het nie ’n benul waar Bahrein is nie. Terry-Lee, daarenteen, glimlag alwetend. “Ek hoor agt en veertig Suid-Afrikaners is dood,” sê sy.
“Dis reg,” sê Grethe. “Ons het besluit ons sal iemand moet stuur om die storie van daar af te doen.” Sy kyk vir Terry-Lee en glimlag. “Ná jou skitterende artikel oor die opkoms van Indië is jy ons vanselfsprekende keuse.”
Haar glimlag verdwyn toe sy na Mia kyk. “Bindeman, ons wil hê jy moet Terry-Lee se kontak hier in Suid-Afrika wees. Sy moet jou enige tyd van die dag of nag kan bel om vir haar inligting of telefoonnommers of wat ook al te kry.”
Ek moes dit geweet het, dink Mia. Ek’s ook net goed genoeg vir die vuilwerk. Terry-Lee bars nou seker van belangrikheid.
“Grethe, ek kan nie gaan nie,” sê Terry-Lee asmaties. Sy kyk bedremmeld af. “My paspoort het verval.”
Grethe se lippe word dun. “Wát?” sê sy sag.
“Ek hét aansoek gedoen vir ’n nuwe een, twee maande gelede al. Dit moes al reg gewees het, maar die departement van binnelandse sake se paspoortboekies is op.”
Grethe byt die agterkant van haar pen tussen haar eweredige, witgebleikte tande vas. “Ja, ek het in die koerant gelees van die boekieprobleem. Wat van ’n tydelike paspoort?”
“Ek het nie aansoek gedoen vir een nie,” sê Terry-Lee nog meer bedremmeld. “Ek het mos nie geweet hulle boekies gaan opraak nie.”
Grethe laat sak haar kop in haar hande. Haar lang rooi naels maak blertse in haar spierwit hare. “Ag tog. Ons moet vandag nog iemand stuur en ek hét niemand anders nie. Helen is Durban toe vir die gesinsmoord, Susan doen die hele week voorblad-fotosessies, Engela is met verlof, Barend het nog waterpokkies en Terry-Lee se paspoort het verval. Die Vader alleen weet hoe ek elke week ’n tydskrif uitbring!”
Die sommetjie maak homself in Mia se kop. Sy sien ’n gordyn wat ooptrek, ’n kollig wat op haar skyn en hoor ’n diep Verimark-stem sê: “Mia, dis jou kans.”
Sy vleg haar hande agter haar rug sodat Grethe nie moet sien hoe hulle bewe nie en sê: “Ek kan help.”
“En hoe wil jy help, Bindeman?” vra Grethe en kliek haar pen in en uit. “Vir ons ’n sepie daaroor maak en ’n opsomminkie skryf?”
“Nee … uhm, ek bedoel ek het ’n geldige paspoort,” sê Mia. Dis nie nou die tyd om sarkasme met sarkasme te bestry nie.
“En jy dink jy kan hierdie storie doen?”
“Wel, ja. Ek –”
“Dis ’n belangrike nuusstorie, Bindeman. Nie ’n sepie nie.”
“Ek weet, Grethe, maar –”
“Wil jy vir my sê ek moet ’n TV-gidsskrywer stuur om ons hóófartikel te gaan doen?” Grethe trek haar oë op skrefies en balanseer die pen tussen die punte van haar dun wysvingers.
“Wel, jy hét gesê jy het niemand anders nie.”
“Ja,” sug sy. Stilte. Dan val sy terug in haar leerstoel en kyk Mia skerp aan. “Weet jy ooit waar is Bahrein, Bindeman?”
Hoekom, hoekom het sy nie Aardrykskunde as matriekvak gevat nie? “Uhm, ek het ’n idee. Dis mos daar naby … uhm … waar daar oorlog is?”
“Vader, jy’t klaar die kat aan die gat beet! Luister jy nie nuus nie?”
“Ek het nie ’n radio in my –”
“Spaar my jou materiële probleme.” Grethe lig haar gemanikuurde hand in ’n stopgebaar voordat sy dit weer slap laat val.
Dan stuur sy Terry-Lee uit die kantoor met ’n enkele, gesaghebbende handgebaar. Sy leun vorentoe oor haar lessenaar. “Bahrein is ’n eiland in die Midde-Ooste. ’n Bom het gisteraand daar op ’n veerboot ontplof. Honderd drie en vyftig mense is dood, agt en veertig van hulle Suid-Afrikaners. Dit lyk soos die werk van Islamitiese Shia-fundamentaliste. ”
“Stuur my, asseblief.” Dis uit voor Mia kon keer.
Grethe kyk haar lank en peinsend aan. “En as jy droogmaak, Bindeman?”
“Dan dank jy my af.”
Sy kan nie glo sy het dit so pas gesê nie. Vir ’n oomblik hoop sy Grethe beveel haar om op te hou nonsens praat en na haar lessenaar terug te keer. Maar hoop en opgewondenheid steek haar borskas aan die brand toe sy sien dat Grethe sowaar haar voorstel oorweeg. Heen en weer, heen en weer swaai sy in haar kantoorstoel.
Dit voel soos ’n ewigheid, maar dan kom die woord soos ’n geskenk toegedraai met ’n goue strik: “Goed.”
“Is dit ’n ja? Beteken dit jy stuur my?”
“Ja,” antwoord Grethe sag. Moedeloos. En roep dan dramaties uit terwyl sy haar hande in die lug gooi: “Ja! Die Vader alleen weet hoekom. Ek is seker aan die kens raak.”
“Dankie, Grethe, dankie! Jy sal nie spyt wees nie.”
Net toe sy wil uitstap, roep Grethe haar terug. “Gaan lees net in vadersnaam eers oor Bahrein op die internet op. En onthou, jy moet ’n eksklusiewe storie kry. ’n Scoop. Weet jy wat dit beteken, Bindeman? Ek wil nie iets hê wat klaar in die Sondagkoerante was nie. Veral nie Verslag nie. Hulle is ons grootste kompetisie.”
“Natuurlik.”
“Dit gaan nie so maklik wees nie. Ek hoor Verslag stuur vir Malan Retief. Pasop vir hom, hy’s vlymskerp. Jy moet sorg dat jy iets kry wat hy nié het nie. Moenie dat ek Sondag óns scoop in Verslag lees nie.”
O hel. Malan Retief is ’n joernalistieke god met ’n ontwerperstoppelbaard. Hy ryg die pryse en toekennings die een na die ander in. Maar sy laat blyk nie haar paniek nie, sê net: “Ek weet van Malan. Ek het hom al ’n paar keer by Persklubfunksies raakgeloop.”
“Jy het één kans, Bindeman,” sê Grethe nadruklik. “As jy droogmaak, kom jy terug en skryf vir die res van jou lewe TV-gidse. Dis te sê ás jy nog werk het. Jy kan gaan; sorg dat jy die reisreëlings by Portia kry.”