Читать книгу Eksklusief uit Eden - Marida Fitzpatrick - Страница 6

3

Оглавление

Patrick Beling is langer as wat hy op die foon geklink het, dink Malan. Snaaks hoe mense oor die foon lank of kort kan klink. Hulle gaan sit en Beling bestel vir hulle elkeen ’n whiskey.

Nadat Malan gisteroggend douvoordag die nuus van die ontploffing op Sky News in die Virgin Active in Cresta gesien het, het hy die internetfunksie op sy selfoon gebruik om die selnommer van McMillans se skakelbeampte op te spoor. Nog voor seweuur het hy Patrick Beling se nommer in die hande gekry. Teen agtuur het hy ’n eksklusiewe onderhoud met Beling gereël gehad, of minstens eksklusief in Suid-Afrika.

Malan se grootste bekommernis was Beeld en Nuusweek, die twee ander groot Afrikaanse nuuspublikasies. En dan natuurlik ook die Engelse pers, hoofsaaklik The Star en The Sunday Times. Hoewel hy toe nog nie geweet het Mia gaan die storie vir Nuusweek doen nie, het hy Beling spesifiek gevra om nie met Nuusweek of Beeld te praat nie. Nou is hy baie dankbaar hy het so vroeg gespring.

“Hier was nou-nou ’n meisie van Nuusweek by my,” sê Patrick asof hy sy gedagtes kan lees.

“Ja, ek weet, ek het haar hier buite raakgeloop. Ek dog jy praat eksklusief met my.”

Malan weet Beling het nie met Mia gepraat nie, maar hy hou hom dom net om seker te maak Beling verstaan wat “eksklusief” beteken.

“Ek het geen inligting vir haar gegee nie. Ek het bloot uit hoflikheid ingestem om haar te sien, sodat ek vir haar kon verduidelik dat ek haar nie kan help nie.”

“Jy moet pasop. Die joernaliste van Nuusweek weet wat hulle doen. As hulle eers saam met jou aan ’n tafel sit, kry hulle jou aan die praat.”

Hy lag. “Ja, sy was knaend. Ek moes later blatant onbeskof wees om van haar ontslae te raak.”

Hul whiskeys daag op. Die ys klingel toe Malan sy hand om die gladde koue vou.

“Ek kry dus steeds die eksklusiewe onderhoud?” vra hy en vat ’n sluk.

“Ja, dit was mos ons ooreenkoms. Onthou net jou deel: jy sal die berig voor publikasie vir my stuur sodat ek dit vir feitelike korrektheid kan nagaan.”

“Natuurlik. Soos ek vir jou gesê het, is dit in ons albei se belang om die regte feite by die publiek te kry.” Hy het al baiemaal dié oorredingstegniek gebruik om eksklusiewe onderhoude te reël. Mense is heeltemal bereid om eksklusief met jou te praat as jy hulle die versekering en gemoedsrus gee dat hul boodskap korrek aan die lesers oorgedra sal word.

“Ek moet toegee dat ek die meisie jammer kry. Sy is so jonk en alleen hier in die Midde-Ooste.”

Gevaarligte flikker in Malan se kop. Dis presies hoekom joernaliste soos Mia dodelike kompetisie uitmaak. Hulle lyk so skadeloos, maar met hul onskuldige gesiggies en bokkie-oë oorreed hulle mense maklik om te praat. En Mia is nou eenmaal ’n mooi meisie. Selfs hý sal sy fokus kan verloor as hy lank genoeg in haar geselskap is.

Nee, hy kan nie bekostig dat iemand soos Mia sy storie kry nie. Dit kan sy kanse om nuusredakteur te word heeltemal in die wiele ry.

Die hoofredakteur het hom juis voor sy vertrek ingeroep. “Alle oë is nou op jou, Malan,” het hy gesê. “Onthou, die nuusredakteurspos gaan middel vanjaar oop. Jy moet met hierdie Bahrein-storie regtig wys wat in jou steek.”

Die hoofredakteur hou van hom. Malan weet hy wil hom graag in die nuusredakteurstoel sien, maar die besluit hang af van die hele hoofredaksie. En dis hulle almal wie se oë nou op hom is. Hy kan nie dat Mia dit vir hom beduiwel nie.

“Ja, ek voel ook jammer vir haar,” sê Malan. Hy moet nou versigtig trap. “Maar sy sal wel iemand kry om haar te help. Moet jou nie oor haar bekommer nie.”

“Kan ek nie net vir haar die breë trekke gee nie?”

“Nee,” sê Malan ferm. Hy sit sy whiskeyglas hard neer. “Asseblief, dit kan nie. Dit sal my sake baie bemoeilik. Joune ook. Jy weet nie wat Nuusweek met ’n storie kan doen nie.”

“Goed, goed.” Beling lig al twee sy hande asof hy oorgee. “Dis reg so. Ek verkies dit buitendien om met net een publikasie per land te praat. Die hele wêreld se pers is hier. Ek kan nie heeldag in personderhoude sit nie.”

Malan sug verlig. Dit was amper. “Is hier enige ander Suid-Afrikaanse media?”

“Ja, ek hoor The Sunday Times is ook hier. Maar hulle het my nog nie gekontak nie.”

Die dagblaaie het seker besluit om die storie telefonies te doen of dit by die internasionale nuusdienste soos Sapa of Reuters te kry, dink Malan. Dit beteken hy hoef nie nog met hulle ook te kompeteer nie.

“Goed, ek is bly om te hoor ons ooreenkoms staan nog,” sê hy en skud Beling se hand. “Dan sien ek jou môreoggend tienuur.”

“Selfde plek?”

Hy knik. “En nie ’n woord vir Nuusweek nie?” Hy maak net dubbeld seker. Wie weet met watter planne Mia vorendag kan kom?

Beling maak ’n ritsbeweging oor sy lippe. “Nie ’n woord nie.”

Palmbome staan in rye tussen die hoofpaaie geplant, sien Mia uit die taxi op pad na haar hotel. Die regering voer dit in, plant dit en ry dan water aan om dit in die woestyn aan die lewe te hou, verduidelik die Arabiese taxibestuurder.

Die palmbome gooi lang, groen esse in die andersins vaal, kleurlose landskap. Soos ’n slang, dink sy. Soos ’n kleurvolle tropiese slang wat uit sy habitat ontsnap het en nou selfbewus en te opsigtelik deur ’n vreemde plek kronkel. Die slang in die Tuin van Eden, dink sy.

Hulle kom by haar hotel aan en sy betaal die taxibestuurder drie dinar – sowat vyftig rand. Die Bahreinse dinar is ’n baie sterk geldeenheid, selfs sterker as die Amerikaanse dollar en die Britse pond. Die land is só ryk dat sy inwoners nie belasting hoef te betaal nie. Danksy die pêrels wat vroeër jare hier uitgeduik is en die olie wat meer onlangs ontdek is, het die regering genoeg skatte.

Bahrein het die snelgroeiendste en vryste ekonomie in die Arabiese wêreld. Dis hoekom uitlanders na die eilandjie stroom: om hier te kom geld maak. Oral waar jy kom, sien jy mense van alle kleure en geure. Mia het vroeër gelees net sowat twee derdes van Bahrein se bevolking bestaan uit Arabiere. Die res is hoofsaaklik van Iranese afkoms en immigrante uit Suid- en Suid-Oos-Asië. Hier is ook baie Indiërs, Turke en Persiërs.

Toe sy uitklim, voel sy opnuut die kontras tussen die verkoelde taxi en die oond buite. Dis al amper aand en die hitte tref jou nog steeds soos ’n muur. Sy voel hoe sweet in die holte van haar rug begin afloop.

Die Gulf Hotel toring bo haar uit. Net soos die Sheraton is dit ’n hoë, blink paleis van ’n plek. Maar ten minste het dit baie Arabiese flair – op die dak staan Gulf aan die een kant in die Westerse alfabet en aan die ander kant in Arabiese skrif. Die letters is sag en vloeiend met hul krulle, punte en draaie. Daarteen lyk die Westerse letters hard en rigied en ongenaakbaar, dink Mia. Sy wens sy kon Arabies skryf en praat.

Voor die hotelingang sien sy vyf swart sterre teen ’n goue bord. Grethe het besluit sy moet in ’n vyfsterhotel bly, want sy het gehoor die meeste driester-hotelle in die Midde-Ooste is bordele. Sy wou nie ’n kans vat met ’n vierster nie en Nuusweek dok dus op dat Mia ordentlik kan bly – bevry van sedelose prostitute terwyl sy die scoop der scoops jag.

In die hotel is dit heerlik koel en die interieur skreeu Midde-Oosterse oordadigheid. Mia ry met ’n roltrap op tot in die ontvangsarea, waar ’n duiselingwekkende kandelaar met drie vlakke van triljoene klein liggies uit die dak hang. Dit lyk soos ’n ontsaglike onderstebo drielaagtroukoek.

Spore van verskillende soorte sterk parfuums hang die lug vol. Saam met die klanke van vreemde tale skep dit die gevoel van heerlike, uitlokkende uitheemsheid. Alles om haar is skitterblink. Van die vloere en die lang marmertoonbank tot die mure en selfs die hotelpersoneel. Goud, vuilpienk en swart vorm verskillende patrone in graniet, marmer, hout en ander natblink teksture.

Teen een muur hang ’n manjifieke Persiese mat. Dis die grootste mat wat sy nog ooit gesien het. Sy laat gly haar hand oor die sysagtheid daarvan. Dis so fyn soos die draad van sywurms geweef, in die rykste kleure en patrone.

Die meisies wat in die hotel werk, lyk of hulle hoofsaaklik van Asiatiese afkoms is. Seker van Suid-Oos-Asië. Hulle is almal pragtig en fyn met plankdun lyfies, soel velle en uniforms van ryk materiale. Op hul koppe dra hulle klein, ronde hoedjies waaraan daar aan die een kant ’n stuk chiffon vasgemaak is wat in ’n los, vloeiende lus met die baadjies van hul uniforms verbind is.

Pienk matte met helderkleurige patrone suig Mia se voete in die hysbak in. Sy sug toe sy haar weerkaatsing in die spieël sien: sy lyk iets verskrikliks. Die hysbak beweeg glad, vinnig en geruisloos tot op die tiende vloer. Toe sy uitklim en haar kamernommer begin soek, ruik sy dadelik weer daardie heerlike, skoon hotelreuk. Dit ruik soos belofte. Soos vakansie en oorvloed. Soos rus en vrede.

Maar toe sy in haar groot, luukse kamer die deur agter haar toetrek, verdwyn haar grootoog-verwondering van al die prag en praal en neem moedeloosheid besit van haar. Sy kry niks uitgerig nie. Nuusweek bestee derduisende rande om haar hier te kry en sy misluk in haar taak.

Sy los haar bagasie net daar waar die portier dit geparkeer het en gooi haar op die enorme wit bed neer. Die bed is breër as wat haar bed by die huis lank is. Sy lê oor die breedte, maar haar voete hang nie oor die kant nie. Die hotelvars lakens voel salig koel teen haar vel. Sy gryp een van die kussings en druk haar kop daarin. ’n Kloppende hoofpyn het intussen aan haar slape begin hamer.

Die kussing beloof ’n nag van wonderlike slaap, maar sy kan nie nou slaap nie. Sy verdien nie om te slaap nie. Nie voor sy iets reggekry het nie. Dis omdat dit 3 Mei is dat die ellende haar so aankleef! Sy moes geweet het haar missie sal soos ’n mislukte vuurpyl in die grond vasduik. Nou het drie sy finale tol geëis: haar laaste kans op loopbaansukses.

Die veragtelike Malan Retief het natuurlik ook ’n aandeel gehad. Sy sal nie verbaas wees as hy op 3 Maart 1983 gebore is nie. Nee wag, hy is nie jonk genoeg vir 1983 nie. Nogtans, net soos die getal drie is die rede vir sy bestaan blykbaar om hare hel te maak.

Sy weet sommer hy het daardie blinkstefaans Patrick Beling in sy sak gehad nog voordat hy in Bahrein aangekom het. Die afstootlike Amerikaner het natuurlik vir sy slimpraatjies geval en allerhande eksklusiewe onthullings aan hom belowe. Sy moet maar solank vir Mondi laat weet om nog ’n goue beeldjie vir Malan Retief te begin poets.

Ag tog, Patrick Beling was haar enigste hoop. Noudat hy haar nie wil help nie, weet sy nie waar om te begin om ’n storie te kry nie. Al die Suid-Afrikaners wat op daardie boot was, het iets met McMillans te doen gehad. Daar’s geen manier dat sy sonder hul samewerking met enige van die oorlewendes of familie van die oorledenes kontak kan maak nie. En dis die enigste invalshoek waarin Grethe belangstel.

Dalk moet sy weer na meneer Beling se hotel gaan en hom opnuut probeer ompraat om haar te help. Dalk moet sy Malan bevriend en sy simpatie wen. Nee, nou skraap sy dieper as die bodem. Skrap die laaste opsie.

Daar móét ’n ander uitweg wees. Sy sal môre na die polisiestasie toe gaan. Dalk kan die polisie vir haar name en nommers van oorlewendes gee. Dit help nie sy breek nou haar kop daaroor nie, dis al sesuur. Sy sal vroeg gaan slaap. En môre sal sy nuwe moed hê.

Die turkoois water van die Persiese Golf klots rustig teen die rompe van die tientalle bote wat vasgemeer in die hawe lê. Dit ruik na sout en see. Mia stap al langs die dobberende bote na die Marina-hawe. Die plan om die hawe haar volgende bestemming te maak, het haar vanoggend in die bad te binne geskiet.

Dit was maklik om uit te vind waar die hawe is waarvandaan die veerboot vertrek het. Toe neem sy ’n taxi en hier stap sy nou in die hawe van Manama, Bahrein se hoofstad. Dis weer ’n swoel dag en die son glinster op die water. Sulke helder turkoois water het sy nog nooit gesien nie. Sy voel sommer soos ’n nuwe mens. Die blote feit dat dit 4 Mei is, gee haar hoop.

“Ek wil graag met iemand praat oor die bomontploffing op die boot,” sê sy vir die ontvangsdame, wat onbelangstellend na haar kyk en dan verveeld iemand op Arabies roep. Sy verstaan blykbaar nie Engels nie.

’n Man kom te voorskyn wat min of meer elke derde woord verstaan wat Mia sê. Sy verduidelik deur haar hande in die lug te gooi en ontploffingsgeluide soos boem! te maak. Hy verstaan blykbaar, want dis asof ’n gordyn voor sy gesig lig. Hy skarrel weg.

Vader van genade, as sy elke keer haar versoeke in gebaretaal moet verduidelik, gaan sy nooit regkom nie. Hoe verduidelik sy sy soek Suid-Afrikaanse oorlewendes en familie van die oorledenes?

Sy plof op ’n stoel in die ingangsportaal neer. Met haar kop in haar hande probeer sy aan ’n Plan C dink. Plan A was meneer Beling – Malan het daai ballonnetjie laat bars. Die Marina-hawe is Plan B, en dit gaan duidelik ook nie werk nie.

“Can I help you?” vra ’n stem digby haar met ’n Britse aksent. Naas die geluid van ’n pak Woolies-kolwyntjies waarvan sy die verpakking afskeur, is dit die mooiste ding wat sy al ooit gehoor het. Hulp in ’n taal wat sy kan verstaan.

Toe sy haar kop oplig, sien sy vir engel Gabriël. Dit lyk of sy hele gestalte in Clinique Light Reflecting Serum gedompel is – dis asof hy skyn. Sy sonblonde hare val in los, sagte krulle om sy skraal gesig. Waar sy oë moet wees, is twee blou damme van verlange.

“I’m Eric Peterson.” Engel Gabriël steek sy hand na haar toe uit.

Sy neem dit soos Nagmaal. “I’m Mia,” hoor sy haarself sê. Sy handdruk is ferm maar teer. Dis omdat hy vlerke het, dink sy.

“Kan ek jou help?” vra hy weer op die mooiste Engels. Sy ís in die Tuin van Eden, en hier is die volmaakte Adam uit wie se ribbebeen sy geskape is.

Deur die genade kom sy tot verhaal en staan op. Sonder die byklanke en dramatiese gebare van vroeër verduidelik sy dat sy ’n joernalis van Suid-Afrika is wat oor die bomontploffing kom berig het.

“Kom ons gaan gesels buite. Dis so ’n mooi dag,” sê hy. Fyn spreek hy sy woorde uit, asof dit kosbare draad is wat kan breek as hy dit te rof behandel.

Toe hulle uitstap, staan hy terug om haar eerste by die deur te laat uitgaan. Sy hand rus vlugtig in die holte van haar rug. Dis so vinnig en so lig dat dit in ’n ander tyd, op ’n ander plek, ongemerk verby sou gaan. Maar vanoggend, hier by die Marina-hawe, laat sak dit iets deur Mia se lyf.

Toe sy na hom draai en sien hoe sy blik haar opsom, is sy bitter spyt oor wat sy vanoggend aangetrek het. Sy het net ’n wye, kuitlengte romp en top uit haar tas gepluk en is sonder ’n greintjie grimering by haar kamer uit. Ook haar hare het sy net so laat droog word.

Hulle gaan staan teenaan ’n reling met die water klotsend by hul voete, die bote dobberend voor hulle. Dit ruik en klink soos Sondae toe sy ’n kind was en hulle met die motorboot uitgegaan het dam toe om te gaan ski.

Hy vou sy arms oor die reling en draai sy kop skeef sodat hy na haar kan kyk. “Hoekom wil jy oor die bomontploffing skryf? Dis so negatief. Hier is tog talle pragtige artikels in Bahrein wat wag om geskryf te word.”

“Ongelukkig kan ek nie my opdragte kies nie.”

“ ’n Mens het altyd ’n keuse,” sê hy en kyk haar indringend aan.

Sy besluit om sy laaste opmerking te ignoreer en tot die punt te kom. “Weet jy enigiets van die voorval af?”

“Ek het dit gesien gebeur.”

Dankbaarheid en hoop vul al die plekke waar moedeloosheid die afgelope twee dae gate in haar gevreet het. Dit syg deur haar soos room deur ’n warm gerysde poeding. “Hoe?” vra sy.

“Ek was hier, by die hawe. Die boot het skaars ’n kilometer en ’n half buite die hawe ontplof. Daar.” Hy strek sy voorarm uit om vir haar te wys in watter rigting die rampboot was toe dit ontplof het.

“Wag,” sê Mia, skoon uitasem van opwinding. “Ek wil net gou my notaboek uit my handsak kry.”

Hy lig sy hand op om haar te keer. “Nee.”

Fronsend kyk sy op na hom. Daar het ’n skadu oor sy gesig gesak.

“Maar ek wil dit neerskryf sodat jy nie weer hoef te verduidelik nie.”

“Jy kan my nie aanhaal nie.”

Nee, nee, nee! skreeu dit in haar. Plan B kan nie ook grond toe duik nie. Maar sy kry die vraag doodkalm uit: “Hoekom nie?”

Hy draai weg, vou sy arms en kyk af na die water. “Ek wil glad nie betrokke raak nie.”

“Ons hoef nie jou naam te gebruik nie. Ek kan net sê ’n ooggetuie.”

“Almal sal weet dis ek wat met jou gepraat het.”

“Waarvoor is jy bang?”

“Ek is nie bang nie.”

“Nou wat dan, Eric?” Sy naam lê gemaklik in haar mond, asof sy dit al oor en oor gesê, geskreeu, gefluister het.

Hy draai weer na haar en sy oë is bewolk toe hy sê: “Dis gekompliseerd. Ek kan dit nie vir jou verduidelik nie.”

“Probeer. Dalk kan ek aan ’n oplossing dink.”

Sy mond vertrek in ’n bitter glimlag. Hy draai weer weg. Een van die blonde krulle val oor sy voorkop. “Nee, ek’s jammer, ek kan jou nie help nie.”

“Maar Eric, ek –”

“Ek wil nie betrokke raak nie. En jy behoort ook nie. Los dit nou.”

Toe sy wegstap, staan hy nog daar, half gebukkend met sy arms oor die reling. Daar is ’n sorgeloosheid in sy lang, lenige lyf. Iets ligs. Asof hy kan opstyg. Maar ook ’n donkerte. ’n Swaar somberheid wat hom só aftrek dat selfs sy vlerke hom nie kan oplig nie.

Haar engel kan homself nie red nie. Hoe moet hy háár red?

Misdaad is seker net ’n gerug in Bahrein. By Manama se polisiestasie is dit so stil soos in ’n kerkgalery tweeuur op ’n Dinsdagmiddag. By iets soos ’n waghuisie buite by die ingang draai drie mans lui in die laatoggendson rond. Hulle het wit klede aan en rooi-en-wit geruite kopdoeke op, wat met dik swart bande op hul koppe gehou word.

Die kopdoeke lyk nes vadoeke, dink Mia. Toe sy klein was, wou sy vreeslik graag lang hare hê. Sy het altyd vadoeke oor haar kop gegooi en dit met ’n pet vasgedruk, dan het haar ma haar Jasser Arafat genoem. Selfs in matriek het sy nog dié bynaam gehad.

Nou verlang sy sommer huis toe. Sy’s nog nie eens ’n volle drie dae hier nie en dit voel klaar soos ’n ander tydsdimensie dat sy laas in Johannesburg was. Om nie eens te praat van Potchefstroom nie. Potchefstroom? Op watter planeet is dit? Daar waar mans broeke dra en vroue hul gesigte mag wys, maar nie hul harte nie?

“Ek wil met iemand praat oor die bomontploffing,” sê sy vir een van die mans.

Hy staar haar uitdrukkingloos aan. As sy haar ’n emosie op sy gesig kan verbeel, is dit afkeuring. Met uitpeuloë staar hy na haar kaal arms. Bahreinse mans is nie gewoond aan die ontblote vel van ’n vreemde vrou nie.

Sy herhaal die sin met die nodige byklanke en handgebare. Hemel tog, hoeveel keer gaan sy nog die gordyntjies moet ooptrek om hierdie konsert op te voer? Op ’n manier kry hulle mekaar verstaan. Die man verduidelik sy moet met die kaptein praat.

Dit verg ’n hele uitasem toer van die polisiestasie, trappe op en trappe af, om vas te stel die kaptein is met ete. Sy kan seker ’n uur of wat wag, besluit sy. Buitendien is ’n halfuur klaar om. Hy behoort dus seker enige tyd hier in te stap.

Maar sy ken nog nie die Midde-Oosterse manier van doen nie. Met dié dat dit in die somer helwarm word, is dit praktyk om nie oor die warmste middagure te werk nie, selfs al is dit nog nie somer nie.

Drie uur later wag sy nog steeds op die kaptein. Haar romp en bloes is deurweek en kleef aan haar lyf soos ’n tweede vel. Sy is seker sy gaan nou enige tyd begin hallusineer van hitte-uitputting, maar wag sal sy wag. Plan C moet minstens volbring word voordat daardie vuurpyl ook in vlamme opgaan.

Uiteindelik daag die kaptein op, ’n nors man met ’n welige swart snor. Ook in ’n wit kleed en vadoek op die kop. Maar sit hom in ’n Suid-Afrikaanse polisie-uniform en hy kon net sowel ’n bombastiese Pretoriase speurder gewees het, dink Mia.

“What you want?” blaf hy toe hulle in sy warm, stowwerige kantoor gaan sit.

Sy wil hierdie wit sand in hulle almal se gesigte skop en skreeu totdat haar stem weg is. Sy wil vir Malan Retief in die turkoois water van die Marina-hawe verdrink. Sy wil in Eric se arms gaan opkrul en huil totdat haar trane in die blou wolke van sy oë verdamp. Sy wil ’n hele pak Woolies-kolwyntjies verorber. Dís wat sy wil hê, wil sy vir die kaptein skreeu. Maar natuurlik doen sy dit nie.

Van ver, uit ’n ander sterrestelsel, hoor sy haar stem en die geoefende rympie: “Ek sal dit waardeer as u my in kontak kan plaas met van die oorlewendes of familie van die oorledenes van die bootramp, meneer.” Op haar mooiste Engels. Haar soetste stemtoon. Soos Oliver Twist wat vir die onmenslike man vra: “Please, sir, I want some more.”

Hy grawe in sy laai tussen papiere rond.

Snaaks hoe staatsgeboue oral in die wêreld dieselfde neerdrukkende vergeelde-papier-sukkelende-waaier-stowwerige-laai-gevoel het, dink Mia. Sy kon nou net sowel in die Potchefstroomse landdroshof gesit en staar het na grys kolle teen die muur waar ou, taai Prestik stukke pleister afgetrek het.

Sy harige hand kom met ’n wit papier uit die laai te voorskyn, asof dit ’n drenkeling is wat hy met ’n noodhelikopter uit die see gaan oppik het. Die manier waarop hy daarna kyk, sê vir haar dis belangrik.

“Hier is die lys met al die nommers.”

Die vuurpyl styg op. Al die omstanders juig. Ruimtereis word ’n moontlikheid.

Sy’s lus en pluk die vadoek af en soen hom op die voorkop. “Fantasties. O, ek is u innig dankbaar.”

“Jy verstaan nie. Ek kan dit nie vir jou gee nie.”

Die vuurpyl maak ’n U-draai grond toe.

“Hoekom nie?” vra sy.

“Dis in kode rooi gemerk. Dit beteken dis inligting wat net binne die polisie mag bly.”

Hoe gou kan sy ’n polisielid word? wil sy vir hom vra. Wanneer kan sy die polisiekollege se eksamen aflê? Waar kan sy ’n mediumgrootte wit kleed en ’n rooi-en-wit vadoek kry?

“Daar is tog seker ’n manier om –”

“Nee, daar is nie.”

“U is immers die kaptein,” probeer sy die universele taktiek van vleitaal. Vergeet van een hand wat ’n ander hand was. As die hand aan ’n man behoort, sê net vir hom hy en sy hand is mooi en sterk.

Hy grinnik. En dis nie op ’n mooi manier nie. “Dalk beteken kaptein iets waar jy vandaan kom. Hier beteken dit nie veel nie. Daar’s geen manier dat ek hierdie rooi stempel in ’n groene kan verander nie.”

Die vuurpyl stort neer.

Dit het blykbaar op haar waardigheid geval, want sy begin nou skaamteloos smeek.

“Asseblief, kaptein, ek sal vir niemand sê waar ek die inligting gekry het nie. ’n Joernalis onthul mos nooit sy bronne nie.”

“Jy vra my om iets te doen waaroor ek my werk kan verloor.” Hy bêre die papier in die laai. Dis nie ’n goeie teken nie.

“Ek weet dis veel gevra, maar –”

“Maar jou werk is belangriker as myne? Dis nodiger vir jou om jou baas te beïndruk as wat dit vir my is om nie afgedank te word nie?”

Die man is slim. Hy het seker al Bahrein High se redenaarskompetisies gewen. Sy kyk af. As haar selftrots ’n stuk muurpleister was, het hy dit so pas met Prestik afgeruk.

“Wil u dus vir my sê daar is geen manier nie?”

“Dis wat ek al vier sinne terug vir jou gesê het.”

Die omstanders hardloop na die vuurpylwrak. Al die insittendes is verkool.

Om presies agt minute voor ses daardie aand, in kamer 1045 in die Gulf Hotel, breek Mia Bindeman se keerwalle. Dit begin met een traan wat op ’n leë bladsy van haar notaboek op haar skoot val. Die volmaakte druppel spat in skerwe oor die blou lyntjies en wit spasies.

’n Leë notaboek. Drie dae in Bahrein op die grootste, belangrikste storie van haar lewe en sy sit met ’n leë notaboek. Hoekom? Hoekom? Hoekom? Hoekom moet die noodlot haar so bloots ry?

Haar lewe lank volg sy elke denkbare reël getrou, klim sy in vuurhoutjiedosies om te konformeer, kleur sy netjies tussen die lyne in, volg sy die smal weg. En wat is haar beloning? Mislukking. Klaaglike, verpletterende mislukking.

Sy wil haar by die venster uitgooi. Maar sy gooi haar maar eerder teen die sagte bed en druk haar gesig in ’n kussing.

Sy kán nie met leë hande teruggaan nie, sy kán nie. Grethe sal haar sowaar afdank. En selfs al doen sy dit nie, lê ’n lewenslange vonnis van TV-gids-skrywery soos ’n uitgestrekte woestyn voor haar. Om nie eens te praat van die teleurstelling op haar ouers se gesigte nie.

Haar ma sal seker lyk soos die keer in graad elf toe Mia 63 persent vir fisika gekry het. “Dis net nie jy nie, Mia,” het sy gesê. As middelste kind, wat nooit so mooi soos haar ouer suster of so slim en suksesvol soos haar jonger broer was nie, moes Mia altyd harder probeer. Middelste Mia. Middelmatige Mia.

Die holtetjie wat sy dus van die begin af tussen haar merkwaardige suster en broer vir haarself uitgestoei het, was dié van konsensieuse, gedissiplineerde, hardwerkende dogter. Waar haar suster gerebelleer het, het sy gehoorsaam. Waar haar broer ingewikkeld was, was sy inskiklik.

Wat sal haar pa sê? Haar slim professorpa, hoof van die Puk se regsfakulteit, wie se dogter nie eens ’n Nuusweek-storie kan kry nie. En dít terwyl Jaco, haar jonger broer, op die brose ouderdom van twee en twintig die balie-leer na advokaat met sy pinstripe suit uitklim.

Sy kan baie dinge vat, maar nie die uitdrukking van teleurstelling op haar ouers se gesigte nie. Dalk sal hulle weer vir haar die “Waar het ons verkeerd gegaan?”-toesprakie afsteek soos die keer in graad nege toe sy en ’n groep vriende uitgevang is dat hulle skool gebunk en met die een meisie se ma se kar gaan fliek het.

Nee, sy kan dit nie toelaat nie. Pull yourself towards yourself and get a grip, hoor sy die woorde van haar Engelse kollega.

Sy vee haar neus en oë aan die kussing af en skuif regop met haar rug teen die kopstuk. Dit help nie sy val nou uitmekaar nie. Sy moet vinnig ’n plan bedink. Plan D.

Stap 1 sal wees om vir Grethe ’n SMS te stuur om te sê sy is goed op dreef met die storie. Grethe behoort so besig te wees met die finale saktyd voor Nuusweek Vrydag verskyn dat sy dit sonder vrae sal aanvaar. En die spertyd vir Mia se artikel is immers eers Dinsdagmiddag.

Terug na Bahrein. Meneer Beling wil haar nie help nie, Eric wil haar nie help nie en die polisie wil haar ook nie help nie. Wat bly oor? ’n Wit, verskroeide woestyn.

Terug na planne A tot C. Van al drie was Eric beslis die vriendelikste en hulpvaardigste. En hy sit ook met die beste materiaal vir ’n lekker scoop. Ja, besluit sy, hy’s haar enigste uitweg. Sy móét net ’n manier vind om hom te oorreed. Hulle het tog dadelik aanklank gevind by mekaar. Daar is darem iets waarmee sy kan werk.

Sy staan op, gaan badkamer toe, was haar gesig en gaan sit op die rand van die bed met haar selfoon in die hand. Menu … Phonebook … Eric Peterson, gaan sy deur die stappe. Haar hart slaan om toe haar duim die groen knoppie druk en die nommer begin skakel.

Eksklusief uit Eden

Подняться наверх