Читать книгу Iemand vir 'n scoop? - Marida Fitzpatrick - Страница 5

Оглавление

1

Sy jaag amper in die lamppaal vas. Andi Niemand pluk die stuurwiel terug om haar Golfie weer op koers te kry. Sy kan nie glo wat sy so pas gesien het nie. Blou op wit op ’n Beeld-plakkaat.

Dan sien sy dit weer. Op ’n ander lamppaal: Jack Greeff verloof. En weer en weer. Lamppaal ná lamppaal spel die letters haar mislukking uit: Jack Greeff verloof, Jack Greeff verloof.

Skok klop in haar ore. Angs loop haar borskas vol. Nie weer nie. Asseblief, asseblief nie weer nie. Nog ’n groot storie in een week. Andi Niemand weer blind gescoop.

Dalk móét sy in een van die lamppale vasjaag. Haarself en ’n Beeld-plakkaat uithaal. Twee minder bewysstukke van haar hopelose bestaan. Hier lê Niemand, sal haar grafsteen lees; moeder van niemand, eggenote van niemand, geliefde van niemand.

Die hele pad werk toe, van Empireweg, oor die Nelson Mandela-brug, deur die oggend-geroesemoes van die middestad, hoor of sien Andi niks nie. Nie die taxi’s wat toet of die gemaal van voetgangers of die smouse wat hangers en swartsakke teen haar motorvenster druk nie. Net wit en blou, wit en blou, die kleur van katastrofe.

Teen die tyd dat sy in die kelder van hul vervalle kantoorgebou in Pritchardstraat stilhou, het sy seker ses honderd van daardie plakkate gesien.

“Magtag Andi, jy’s ons vermaakverslaggewer!” bulder Paul toe sy tien minute later in sy kantoor staan. Paul Meintjies is haar nuusredakteur hier by Pers, ’n Afrikaanse poniekoerant wat hoofsaaklik fokus op die drie grootste Afrikanervraagstukke: misdaad, kerkeenheid en celebs.

“Ek’s jammer,” sê sy beteuterd en kyk af, sodat hy nie die naakte vrees in haar oë sien nie. Paul is oud en vreesaanjaend. As hy sê spring, channel sy Hestrie Cloete.

Hy kyk haar met afgryse aan. “Is dit al wat jy te sê het, Andi? Beeld het ons van ons voete af gescoop. Twee keer in een week! Eers die Jurie Els-storie en nou dít. Weet jy soos watter idioot het ek voor die hoofredaksie gelyk?”

Met “hoofredaksie” bedoel Paul die hoofredakteur en dié se PA. Arme Paul leef nog in die illusie van sy glorieryke dae as politieke redakteur by Beeld, waar hulle actually ’n hoofredaksie het. Hy kon nog nie aanvaar dat hy nou by Pers is nie, byna die enigste Afrikaanse koerant wat nié aan die magtige Naspers behoort nie en ’n sukkelbestaan in die klein Pressco-stal voer.

“Ek is jammer, Paul, ek ... ek het nie geweet ...”

“Weet jy ooit wie Jack Greeff is?”

“Ja.” Natuurlik weet sy wie’s Jack Greeff. Hy’s die grootste Afrikaanse celeb in menseheugenis. Maar dis nie nou die tyd om haar vir Paul te vererg of hom daaraan te herinner dat dit algemene kennis is nie. Andi luister maar net gedwee toe hy geïrriteerd vir haar ’n lesing oor die man gee, asof sy ’n Marsman is wat pas in die Afrikanerdom geland het.

“Jack Greeff is vir Afrikaanse musiek wat Bill Gates vir rekenaars is. Hy het die meeste plate in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse musiek verkoop en besit vandag feitlik al die platemaatskappye.” Paul sis. Elke woord ’n beskuldiging.

“En nou’s hy verloof,” voeg sy by, in ’n mislukte poging om nie soos ’n totale analfabeet te klink nie.

“Aan ’n jong 7de Laan-ster,” sê Paul, “twintig jaar ná sy vrou se dood.” Hy trek-trek aan sy grys baard en stap heen en weer agter sy lessenaar, asof hy die Amerikaanse president is net nadat hy uitgevind het van 9/11. “Hemel Andi, jy moet mos hierdie goed weet.”

“Don’t cha wish your girlfriend was hot like me, don’t cha wish your girlfriend was ...” O hel, dis haar selfoon wat begin lui het, besef Andi eers hier teen die tweede reël van die ringtone. Flip, sy moet dit verander. Dis haar vriendin Wendy wat die ding op haar foon gelaai het.

“ ’Skies, Paul,” sê sy, “ek moet gou antwoord, netnou is dit Jack Greeff se agent.”

“Andi, hallo,” antwoord sy en draai om.

“Andriette,” sê die stem aan die ander kant in ’n saaklike toon.

“Hallo, Ma.” Sy sê dit so sag moontlik, maar sy weet Paul moes dit gehoor het. Ugh! Wanneer haar ma bel, wys dit altyd net as unknown op die skermpie. “Andriette, is jy daar?” sê haar ma kwaai.

“Ja, Ma,” sê sy gedemp, “maar ek’s by die werk, ek kan nie nou praat nie”. Sy stap uit Paul se kantoor.

“Jy moet die naweek kom kuier. Jacques gaan sy meisie aan ons kom voorstel.”

“Um ...” Sy probeer vervaard ’n verskoning uitdink. “Dit gaan ’n bietjie moeilik ...”

“Andriette, jy weet hoe moeilik is dit vir Jacques. Hy spoed al die hele week. Hy’s nie soos jy wat elke naweek afhet nie.”

Haar ma hou daarvan om dokterslingo soos “spoed” te gebruik wanneer sy oor haar broer praat. Andi vermoed dit laat haar self soos ’n dokter voel. En Elsabé Niemand gebruik elke moontlike geleentheid wat sy kan om Andi daaraan te herinner dat Jacques ’n dokter is. Dit was haar ma se lewensdroom dat een van haar kinders, verkieslik al twee, dokters word. Haar broer het, sy het nie, en sy sal dit die res van haar lewe moet aanhoor.

“Ma ...”

“Dan sien ons jou Saterdag!” roep Elsabé vrolik uit. “Kom so 11:00. En bring ’n avokadovorm saam.” Nog voor Andi kan protesteer of tot siens sê, sit Elsabé neer.

“Ek is jammer, Paul,” sê sy toe sy terug is in sy kantoor. Hy het intussen weer gaan sit en begin werk terwyl sy hul familiereünie vir die naweek beplan het.

“Dis nou die derde keer dat jy jammer sê en dit help nie, so hou asseblief op,” sê hy. “Werklik Andi, ek weet jy’s nog redelik nuut in die ding, maar na ses maande moes jy al jou voete gevind het.”

“Ek sal dadelik uitvind van Jack Greeff se verlowing.”

“Jy beter vir ons ’n storie en ’n foto van hom en die girl kry voor die naweek. Vandag is Donderdag. Dit beteken jy het net môre. Die Sondagkoerante gaan hierdie ding hard slaan.”

“Goed, Paul.” Sy seil soos ’n slak by sy kantoor uit. Sy kan nie gló sy het hierdie storie gemis nie. Die grootste Afrikaanse celeb raak verloof en sy, celeb-joernalis vir Pers, weet dit nie. Sy het tog kontakte in die vermaakbedryf. Hoekom het niemand haar laat weet nie?

Op pad terug na haar lessenaar is sy so blind van die mislukking en vernedering dat sy Luan Verster nie om die hoek sien aankom nie. Hulle tref mekaar met ’n allerverskriklike slag. Nie die skramse of liggiese soort vasloop waar mens net skaam kan lag, ekskuus sê en aanloop nie; die kop-aan-kop-botsing soort waar jy ná die tyd moet kyk of iemand beseer of dood is. Andi steier verdwaas terug. Haar arms en maag brand. Dis koffie, besef sy toe sy die bruin vlekke op haar bloes en druppels op haar arms sien. Luan het ’n koppie kantienkoffie in sy hand gehad toe hulle mekaar getref het. Koffie wat nou oor haar en hom en Pressco se mat uitgegooi is. Die papierbekertjie lê ver eenkant, asof hy homself van die voorval wil distansieer.

“Jy oukei?” vra Luan toe hulle tot verhaal kom. Hy tel die bekertjie op.

“Um, ja,” mompel sy.

Hy vat aan haar arm. “Brand dit? Moet ek vir jou ys kry?”

“Nee dankie,” sê sy en vou haar arms, “nee dankie, ek’s fine.”

Luan gee vir haar sy sakdoek en glimlag. “Ek hoop nie jou top is geruïneer nie.”

Sy vee ’n paar keer oor haar bloes en arms en gee dan die sakdoek vir hom terug. “Nee, dis net koffie, dit sal uitwas.”

“Ek’s jammer, Andi. Ek moet kyk waar ek loop.”

“Dit was ek,” sê sy, “ek het so vinnig op jou afgepyl ...”

Hy lag. “Lyk my ons sal al twee ongevalleversekering moet uitneem.”

Sy glimlag onbeholpe en kies koers na die badkamer om die koffie te gaan afwas.

Met Luan in die omtrek kan sy nooit ’n intelligente sin uitkry nie. Hy maak alles in Andi se lyf lam. Hy is slim, aantreklik en sjarmant. En altyd so witty. Laat almal altyd lag. Hy’s die soort man wat Andi bewonder, beny, begeer. Maar sy kry dit nooit reg om ’n gesprek met hom te hê nie. Van dag een af versteen sy in sy teenwoordigheid; verdwyn haar vermoë om te flirt of te lag of hoegenaamd samehangend te gesels.

Luan werk nie vir Pers nie. Hy is ’n senior ondersoekende verslaggewer vir Die Landstem, Pressco se ander Afrikaanse koerant, wat uit dieselfde kantoor as Pers werk. So ligsinnig en oppervlakkig as wat Pers is, so ernstig en professioneel is Die Landstem. Waar Pers oor celebs en skandes skryf, berig Die Landstem oor politieke onthullings en hoë-profiel onderduimshede. Maar Pressco gaan deur soveel geldelike moeilikheid dat Pers en Die Landstem ’n kantoorspasie moet deel.

Luan het ’n maand of wat terug hier in Johannesburg by Die Landstem begin werk. Van dag een af het Andi ’n crush op hom. Sy slimheid en selfvertroue, sy valkoë en skewe smile maak haar heeltemal duiselig. Hy’s so presies soos ’n man moet wees.

Sy gaan verby sy kantoor stap op pad terug na haar lessenaar, besef sy. Hy sit links agter haar. Net baie senior en belangrike joernaliste soos Luan kry hul eie kantore – glaskaste waarin hul briljantheid uitgestal word.

Dalk moet sy by sy kantoor inloer en vra of hy oukei is ná hul ongeluk, dink sy op pad terug. Dalk moet sy net in die verbygaan mooi vir hom glimlag. Dalk moet sy ...

“Luan!” roep Kara vrolik uit, swiep voor Andi verby, en hop by sy kantoor in. Andi vergeet van al haar planne en stap kop onderstebo by die kantoor verby. Uit die hoek van haar oog sien sy deur die glas hoe Kara in haar skinny jeans op Luan se lessenaar gaan sit, asof dit die normaalste ding is om in ’n kantooromgewing te doen.

Die jaloesie brand erger as die koffie. Andi wens sy was meer soos Kara. So mooi en spontaan en selfversekerd. Nooit stil of skaam nie. Nooit verskimmeld nie. Blonde, blouoog Kara Bekker is ’n Cameron Diaz-kloon en sy flirt met almal op kantoor, selfs met die vroue. Haar hare is ’n dik glansgordyn. Andi sweer ’n mens kan dit hóór blink wanneer jy verby haar stap. En dit swiep-swiep so oor haar smal rug as Kara heupswaaiend deur die kantoorgange beweeg.

Andi kan maar van Luan vergeet, dink sy toe sy verby sy kantoor is en sy hoor hoe Kara vir een van sy grappies lag. Met iemand soos Kara in die omgewing staan niemand anders ’n kans met ’n ou soos Luan nie. Veral nie ’n skaam brunet wat nie in nommer-tien skinny jeans pas nie ...

Terug by haar lessenaar begin sy haar soektog na ’n nommer vir Jack Greeff of sy agent. Sy beter hierdie storie kry. En vinnig. Paul se geduld met haar is op.

Eers maak sy haar telefoonlys oop en druk die ...

“Pieng” onderbreek haar rekenaar haar met die hoë, genotvolle geluidjie van ’n e-pos wat aankom. Andi is elke keer op totaal irrasionele wyse verheug as sy daardie geluidjie hoor, al weet sy die kans is goed dat dit bloot ’n boodskap oor ’n kragonderbreking is. Maak nie saak waarmee sy besig is nie, sy sal dit summier los wanneer daar ’n klein geel koevertjie regsonder op haar rekenaarskerm verskyn. Sy kliek gretig op haar inboks. Dis van Luan! In vet, swart letters staan sy naam bo in haar inboks. Niks in die onderwerpveld nie. No subject. Sy dubbelkliek op die boodskap. Dit vou soos ’n geskenk voor haar oop.

So jammer oor die koffie. Hoe kan ek daarvoor opmaak?

Vir ’n paar sekondes hou al haar liggaamsfunksies op met werk. Luan Verster, Luan Seksgod Verster wil opmaak vir die koffie. Wat kan sy vir hom terugskryf? Dat sy onder koffie sal stort net om een van sy Hugh Grant-smiles te sien? Dat sy vir die res van haar lewe met koffiebevlekte klere sal rondloop net om nog een keer aan hom te raak?

Seker jy sal aan iets dink, skryf sy terug.

Nee, dit klink te erg. Delete. Sy moet dit eerder eenvoudig hou. Geen dubbelsinnighede nie. Geen innuendo’s nie.

Als reg :-)Was my skuld.

Ja, short and sweet. Sy druk Send.

Dadelik weer ’n geel koevertjie:

Dan moet jy opmaak daarvoor ...

Andi kan dit nie glo nie. Luan Verster flirt met haar. Sy draai in haar stoel om en probeer ongemerk kyk of dit regtig hy is wat in sy kantoor sit. Dalk is dit verveelde IT-outjies wat by sy rekenaar ingehack het en met haar gekskeer.

Maar daar sit hy, sien sy, net so aantreklik soos altyd. Kara en haar skinny jeans is deur die genade terug by haar lessenaar. Niks verraai dat Luan eintlik besig is om met ander redaksielede te flankeer pleks van om oplossings vir een of ander Afrika-oorlog te bedink nie. Hy lyk doodernstig – ’n effense frons tussen sy groen valkoë.

Andi draai terug na haar lessenaar. Wat kan sy vir hom terugskryf? Dat sy elke dag vir hom tien koppies koffie sal koop? Dat sy die ma van sy kinders sal wees?

Maar sy stuur net :-) terug. ’n Smiletjie.

Nou moet sy van Luan vergeet en vir Jack Greeff bel. Op haar telefoonlys kry sy ’n ou nommer van ’n voormalige agent en sleutel dit op die telefoon in. “The number you have dialed is not available at present,” antwoord die rekenaarstem. Ag tog.

Dalk moet sy eers ’n roomys gaan koop en dan weer probeer as sy terugkom. Die kafeteria het nou die dag ’n soft serve-masjien gekry. Andi het nie geweet of sy moet lag of huil nie; of sy die heelal moet bedank of vervloek nie. Roomys is haar groot swakheid. Alle soorte. Soft serve, scoops in suikerhorinkies, bakkies, selfs die geyste koeldranksoort. In enige roomys lê ’n stuk troos opgesluit wat alle moeilikhede makliker maak en alle oorwinnings heugliker.

Toe sy opstaan om kafeteria toe te stap, sien sy Luan is nie meer in sy kantoor nie. Net toe sy by die drukkers verbygaan, kom hy om die hoek gedrafstap. Hy sê niks nie, maar glimlag vir haar op ’n duiwelse manier. Haar hart dawer. Waar sy gister net verlief was, is sy nou heeltemal versot.

“Andi!” Dis Paul wat haar uit sy kantoor roep.

Sy stop in haar spore en gaan dadelik na hom toe. “Waantoe is jy op pad?”

“Ek gaan net gou ...”

“Nee, ek wil liewer nie weet nie. As jy nie op pad is om ’n eksklusiewe onderhoud met Jack Greeff te kry nie, wil ek eerder nie weet nie.”

Sy bly stil.

“Ek hoop nie jy’t hom gebel nie,” sê Paul.

“Wel, hy’t nie ...” probeer sy.

“Het ek jou niks geleer nie? Met so ’n groot storie bel jy nie. Jy ry eenvoudig na die man toe.” Paul Meintjies is van daardie ou-skool-verslaggewers wat telefoonjoernalistiek háát.

“Jy’s reg, Paul, ek sal soontoe gaan.”

Hy sug. “Waantoe, Andi? Waantoe? Weet jy ooit waar die man woon?”

“Nee, maar ek sal uitvind. Ek het darem ’n goeie paar kontakte en ...”

“Andi, regtig,” sê Paul, wenkbroue omhoog, “jy beter jou sokkies optrek. Jy weet die koerant gaan deur diep waters. Die direksie maak geluide oor personeelvermindering.”

Iemand vir 'n scoop?

Подняться наверх