Читать книгу Iemand vir 'n scoop? - Marida Fitzpatrick - Страница 6
Оглавление2
“Ek gaan troooouuuuuu!” gil Rentia toe sy haar woonsteldeur oopmaak en druk haar verloofring in Andi se gesig. Vandat Rentia drie maande terug verloof geraak het, is dit al waaroor sy kan praat. Andi lag maar net en noem dit bruidswaansin. Vandat sy kan onthou, wou Rentia Blaauw trou. Toe Derek haar uiteindelik die jawoord gevra het, was almal verheug.
“Ja, ja, skone bruid. Kan jy asseblief net jou verblindende diamant uit my gesig haal? Ek gaan katarakte kry.”
Andi gooi die pakkie pienk, wit en bruin kolwyntjies van Woolworths op Rentia se kombuistoonbank van kunsmarmer.
“Jy is die satan self,” sê Rentia. “Ek trou Desember en kyk hoe dik is ek.”
“Jy’s g’n dik nie,” sê Andi. “En ses maande is baie tyd om maer te word. Onthou, ek moet ook in my strooimeisierok pas.”
“Ons moet nog materiaal gaan soek.”
“O ja, ek kan nie wag nie!” Naas Luan en roomys is materiaal Andi se groot liefde. Hoewel sy glad nie naaldwerk kan doen nie, vind sy materiaalwinkels onweerstaanbaar. Sy kan ure lank daarin rondstap en die reuke en teksture van die verskillende soorte lap indrink.
“Het jy nou al besluit waarvan my trourok gemaak moet word?” vra Rentia.
“Jip. Rou sy,” sê Andi. “Met antieke kant en brokaat.”
“Klink vir my baie duur.”
“Nie as ons na die regte plek toe gaan nie. Ek sal bietjie my navorsing doen en dan gaan kyk ons.”
’n Oomblik later sit hulle elkeen met ’n beker koffie en ’n kolwyntjie in die hand onder ’n kombers op Rentia se voos bank in haar klein sitkamertjie. Dis die middel van Junie en dis vriesend in die aande.
“So wat’s nuus?” vra Rentia met ’n mond vol pienk versiersuiker.
“Jy sal dit nie glo nie.”
“Wat?”
“Luan Verster het vandag met my geflirt.”
“Nee.”
“Ek sweer.”
“Daai mooi man by jou werk?”
“Einste.”
“Baie goeie werk. Hoe het jy dit bewerkstellig?” Rentia haal ’n sjokolade-kolwyntjie uit die pakkie.
Andi vertel haar van die e-posse. “Gelukkig was dit in ’n e-pos. In lewende lywe sou ek seker soos ’n idioot gereageer het.”
Rentia lag. “Oe, ek sien ’n kantoorromanse kom.”
“Ag, ek wens. Maar ek dink nie so nie. Ek’s nie in sy liga nie. Hy’t seker net vrygewig gevoel vandag en besluit hy maak ’n muurblommetjie se dag.”
“Moenie vir jou simpel hou nie,” sê Rentia. “Jy’s als behalwe ’n muurblommetjie. Jy’s die funkyste mens wat ek ken. Jy dra die coolste klere en jou hare lyk elke dag anders.”
“Maar ek is so stil en verskimmeld dat hy dit nooit sal raaksien nie.”
“Jy’s nie verskimmeld nie. Jy’s ’n geheimsinnige skoonheid. En mans flirt nooit uit barmhartigheid nie.”
Andi sug. “Ek hoop tog so. Sal maar sien.”
Rentia vlieg op. “Kom gou saam my. Ek wil vir jou my maermaak-panty wys.”
“Jou wat?”
“My Instaslim-panty. Ek het dit deur Verimark gekoop. Dit laat jou instantly nege en ’n half sentimeter verloor. Vir net R200!”
In haar kamer haal sy die lang, maer vleeskleurige spandex-gedrog uit haar kas. Andi val op die bed neer soos wat sy lag. Dis een van daardie lang rekgoed wat haar ma gedra en ’n step-in genoem het. “Waarvoor op dees aarde?” Andi vat die rek-affêre by Rentia. Dit is piepklein. “Wil jy vir my sê jy moet hierin klim? Dit lyk soos ’n babygrow waarvan die bokant en tone afgesny is.”
“Ja lag maar. Jy sal nou sien hoe dit my in ’n kwessie van sekondes in Jessica Alba omskep.”
“Jessica Alba, sê jy.” Andi sit dik van die lag op die kant van die bed en kyk hoe Rentia haar klere afstroop en met groot moeite in die rek begin klim. “Dalk moet ek ook een kry,” giggel Andi. “Dalk sal Luan dan met nuwe oë na my kyk.”
“Klink vir my hy kyk klaar met daai oë na jou.”
“Ja, vir nou. Maar een van die dae is ek oud en afgetakel.”
“Jy’s net vier jaar ouer as ek. Watse oud en afgetakel is dit nou met jou?”
“Ag, ek weet. Maar jy’s nog in jou twintigs! Jy’s nog vir vier jaar amptelik jonk. En oor ses maande groet ek my twintigs vir altyd. Dan’s ek amptelik ’n oujongnooi! Besef jy dit?”
“Dertig is die nuwe twintig, man.” Rentia spring nou op haar regterbeen terwyl sy die linkerpyp oor haar linkerdy probeer trek. “En al trou jy nooit, sal jy nooit ’n oujongnooi wees nie.” Die panty sny nou omtrent gelyk oor haar dye. Sy kom met ’n sug regop en skep eers asem met haar hande in haar sye voordat sy weer aan die rek begin trek.
“Ag ja, ek weet, ek’s net simpel,” sê Andi en val met haar arms agter haar kop op die bed neer. “Dis net dat ek eintlik heimlik, diep binne-in my op ’n manier ook altyd gedink het ek sal voor dertig getroud wees met een en ’n halwe kind. Nie single met twee en ’n halwe dye nie!” Rentia kom weer op. Die panty is nou in die pylvak. Die wenstreep is in sig. “Jy’s regtig gelukkig, Rentia,” sê Andi. “Jy en Derek is gemaak vir mekaar.”
“Man, daar is nie iets soos gemaak vir mekaar nie.”
“O ja, ek het vergeet, die voornemende bruid glo mos nie in ware liefde nie.”
“Omdat dit nie bestaan nie.”
Andi lag. “Jy’s die snaaksste. So sinies oor die liefde en so opgewonde om te trou.”
“Selle as jy,” sê Rentia en trek haar skouers op. “So verlief op materiaal, maar kan nie ’n steek naaldwerk doen nie.”
“Die twee staan onafhanklik van mekaar,” sê Andi. “Mens hoef nie rokke te kan maak om ’n mooi stuk kant te kan waardeer nie.”
“Nou ja, dieselfde met liefde en trou.”
“Ag, moenie so sê nie! Ek wil glo in ware liefde. In onvernietigbare, verterende liefde.”
“Jy praat van dierlike aantrekkingskrag. Van obsessie en lyflike lus. Daarin glo ek ook, maar dis nie liefde nie.”
“Wat is liefde dan?”
“Ek sê mos, dit bestaan nie.”
“Nou hoekom trou mens?”
“Want jy hou genoeg van iemand en kliek genoeg met iemand om ’n lewenspad met daai mens te stap. Om met hom ’n huis te deel, by hom kinders te hê, aan hom lojaal te wees.”
“Nou ja, ek noem dit liefde.”
“Want jy’s ’n idealis en ’n romantikus. Ek’s ’n realis,” sê sy terwyl sy spring en wriemel om die laaste stuk rek oor haar heupe en maag te kry.
“Jy moet daai werk van jou los. Dit pers elke bietjie romanse uit jou uit.”
Rentia is ’n geoktrooieerde rekenmeester by ’n baie vooraanstaande ouditfirma. Sy is slim, ontledend en beredeneer alles logies. Rentia lag. “Nee An, ek was nog altyd so. Die werk is eerder die gevolg van my gebrek aan romanse, nie die oorsaak nie.”
“Weet Derek jy’s nie lief vir hom nie en jy gebruik hom net om ’n huis te hê en kinders te kry?” terg Andi.
“Man, volgens almal wat wel in liefde glo se definisie van liefde, ís ek lief vir Derek.”
“Ek weet,” sê Andi en glimlag, “anders sal ek mos nooit toelaat dat jy met hom trou nie. Al hoekom jy so blasé is oor ware liefde, is omdat jy dit het. Dis ons armsaliges wat dit nié het nie, wat dit so ophemel.”
En net daar skuif die panty finaal bo-oor Rentia se maag en siedaar: Jessica Alba word gebore.
Andi vlieg op, gryp Rentia se Dove roll-on wat op haar spieëlkas staan, en praat met ’n diep stem daarin asof dit ’n mikrofoon is. “Verstommend, Dames en Here. Van ’n gewone vrou tot Jessica Alba in net veertien minute en ses en dertig sekondes!”
Rentia lag. Dan beskou sy haarself van die kant af voor die spieël. “Is dit nie fantasties nie? Ek gaan dit beslis onder my trourok dra.”
“Arme Derek,” sê Andi. Sy hou weer die “mikrofoon” voor haar. “Ons bevind ons nou in die kamer van Rentia Blaauw; die vrou wat deur ’n vleeskleurige rek opgevreet en ingesluk is. Rentia,” sê sy en hou die Dove na haar toe uit. “Hoe voel dit om in die greep van Instaslim te leef?”
“ ’n Seën en ’n vloek terselfdertyd.”
Hulle lag en Andi plons weer op die bed neer om die uittrekslag te aanskou. Dié gaan aansienlik makliker, soos afdraand na opdraand.
“So wat van jou en Luan?” terg Rentia. “Is dít ware liefde?”
Andi lag. “Ja, dit is. Hy moet dit nog net besef.”
“En wat van die Pressco-beleid?” vra Rentia.
“Oor wat?”
“Oor kantoorromanses. Dit word mos glad nie toegelaat nie.”
“Wel, op die oomblik word ék skaars toegelaat. Luan Verster is nou die minste van my probleme. Paul het my vandag met afdanking gedreig.”
“Wat? Hoekom?”
“Omdat ek Jack Greeff se verlowing gemis het. Rentia, jy beter hoop ek kry hom môre in die hande, anders is ek gefire.”
“Human,” antwoord die stem aan die anderkant. Dis vreemd, dink Andi. Dis veronderstel om ’n vrou te wees.
“Kan ek met Charlotte praat, asseblief?” vra sy.
“Ek dink jy’t die verkeerde nommer.”
“Ek is op soek na Charlotte Bruwer.”
“My naam is Arend Human. Ek ken nie ’n Charlotte Bruwer nie.”
“Jammer, seker die verkeerde nommer.”
Nadat sy die foon teruggesit het op die mikkie, kyk Andi weer na die nommer op haar rekenaarskerm. Sy’s seker sy het dit reg neergeskryf. Dis seker al die twintigste oproep wat sy vandag maak om Jack Greeff se woonadres in die hande te probeer kry. Sy het elke kontak van haar in die sangbedryf gebel, wat haar weer verwys het na dié of daai een wat dalk dié of daai agent of skakelbeampte se nommer het. Die laaste nommer wat sy gekry het, die een wat sy pas gebel het, is veronderstel om Charlotte Bruwer s’n te wees: Jack Greeff se agent se PA. Ja, Jack Greeff is só belangrik dat ’n mens deesdae selfs nie sy agent direk kan bel nie.
Andi bel Simoné weer, die sekretaresse by die agentskap Purple Peach by wie sy Charlotte se nommer gekry het. Dis een van daardie snaakse dinge in die kreatiewe korporatiewe wêreld: elke liewe klein onderneminkie, van grafiese ontwerp tot skakelwerk, se naam is een of ander kossoort in ’n absurde kleur. Andi het al met al die variasies te doen gekry: Blue Banana, Orange Berry, Pink Tomato ...
Simoné herhaal die nommer twee keer en verseker haar dit is beslis Charlotte Bruwer se nommer. Sy hét dit die eerste keer reggekry, sien Andi. Dalk het die lyne net gekruis. Sy bel die nommer weer.
“Human,” antwoord die manstem weer, dié keer effens geïrriteerd.
“Dis weer ek,” sê Andi.
“Dan het jy weer die verkeerde nommer gebel,” sê hy.
“Maar die persoon by wie ek dit gekry het, hou vol dis Charlotte Bruwer se nommer.”
“Wie is Charlotte Bruwer?”
“Jack Greeff se agent se PA.”
“Jack Greeff?”
“Ja,” antwoord Andi, “die bekende sanger.”
“Ek is sy regsverteenwoordiger, advokaat Arend Human.”
“O.” Andi besef dadelik wat gebeur het. Simoné het seker ’n paar nommers van Jack Greeff se onderdane en het sy prokureur en sy agent s’n omgeruil.
“Van waar skakel jy?” vra die advokaat. Hy klink agterdogtig.
“Van Pers.”
“Wat het jy gesê is jou naam?”
“Andi Niemand.”
“En hoekom is jy op soek na my kliënt, juffrou Niemand?”
“Ek wil graag ’n onderhoud met hom doen oor sy verlowing.” Toe sy dit sê, besef sy dadelik dit was ’n fout. Paul het uitdruklik vir haar gesê sy moenie bel om ’n onderhoud te reël nie, maar net soontoe ry. Nou gaan advokaat Human vir Jack Greeff van haar planne vertel en dan kan sy die onderhoud koebaai soen.
“Ja, jy sal maar met sy agent moet praat.”
“Het jy dalk haar nommer vir my?” vra sy.
“Nee, jammer.”
Sy besef dis haar laaste kans om haar bas te red. Hy weet nou klaar sy beplan ’n onderhoud; sy kan hom netsowel vra om een te reël. Wie weet hoe lank sy nog gaan sukkel om Jack Greeff se adres in die hande te kry. En sy het net vandag. As sy nie daai storie vanmiddag skryf nie, is sy gefire.
“Advokaat, sal jy asseblief met jou kliënt praat en hom vra of ek hom vandag kan sien? Net vinnig.”
“Dis moeilik. Hy’s ’n baie besige man.”
“Ek verstaan dit, maar ons kan nie langer wag nie. Die storie was klaar gister in Beeld.”
“Ek sal uitvind,” antwoord hy formeel, “maar ek belowe niks nie.”
Andi sug toe sy die foon neersit. As Paul uitvind sy het gebel en nie die adres in die hande gekry nie, fire hy haar on the spot. Haar enigste hoop is nou op advokaat Human. Sy hoop tog hy is ’n genadige man.
Andi draai in haar kantoorstoel om. Die kantoor is neerdrukkend verby. Alles is oud en muwwerig. Sy wens so sy het eerder by Beeld gewerk – in daardie glaspaleis in Aucklandpark wat hulle Mediapark noem. Elke oggend, wanneer sy daar verbyry op pad werk toe, beny sy so die mense wat met hul toegangskaarte by daardie groot glasgebou instap. Eendag, dink sy elke keer, eendag is dit sy.
Intussen is sy vasgekeer in hierdie ou Pressco-gebou in die middestad. Dit lyk erger as die staatsdiens hierbinne. Grys mure, grys afskortings, uitgetrapte matte, uitgewaste mense. En daardie eendag lyk al hoe verder. Beeld en Mediapark lyk al hoe meer buite haar bereik. As mens twee en twintig is, kan jy nog vir jouself sê dis net ’n trappie na groter dinge. Dan kan jy die grysheid verduur terwyl jy grootoog oor groter dinge droom. Maar sy is op die vooraand van dertig en hier sit sy in ’n loopbaan-doodloopstraat. Waar sy oor onsinnighede soos celebs se verlowings moet skryf. In dié stadium van haar lewe moes sy al by Beeld of Sarie of Fairlady gewerk het – waar sy regte artikels kan skryf oor dinge wat saak maak of mooi, inspirerende dinge. Waar sy beskou sal word as ’n regte joernalis, nie ’n sukkelende dertigjarige groentjie wat nie eens celeb-storietjies vir ’n poniekoerant kan skryf nie.
Sy draai terug in haar stoel en tel die gehoorstuk weer op. Al hoe sy uit Pers gaan ontsnap, is deur vir haar ’n naam te maak. En haar eerste stap is hierdie Jack Greeff-storie. Sy gaan nie veel van ’n naam hê as Paul haar fire nie. Sy sleutel weer advokaat Human se nommer in.
Wonderlik. Hulle het verdwaal.
Sy moet Greeff en Emma 12:00 by Greeff se mansion in Sunninghill kry, maar nou gaan sy dit nooit betyds maak nie. Advokaat Human het toe sowaar vir haar ’n onderhoud gereël gekry. Andi het hom so geteister en gesmeek dat hy nie anders kon nie.
Nou is sy laat. En om alles te kroon ry sy met een van Pers se heel grillerigste, lelikste karre: ’n Tazz met 372 000 kilos op in ’n kleur wat eens op ’n tyd wit was, maar nou so ’n cappucino-skynsel het. Pressco-joernaliste ry nie met hul eie motors nie. Die maatskappy het ’n poel motors waarvan hulle een uitteken as hulle uitgaan op ’n storie. Die meeste van die motors is opgeryde wrakke. Hierdie een is een van die ergstes. Daar is ’n kraak regoor die voorruit, die regterspieëltjie is af en haar deur het nie meer ’n handvatsel nie, wat beteken sy moet aan die passasierskant in- en uitklim.
Vandag is daar ’n bygevoegde vreugde: die hele stuurwiel is blink van ’n vorige bestuurder se Kentucky-vingers. Hoe weet sy dit was Kentucky? ’n Servet met die kolonel se gesig en ’n hoenderbeen onder die handrem was ’n leidraad.
Andi probeer al heelpad so min moontlik asemhaal en met so min moontlik vingers aan die Kentucky-stuurwiel vat.
Die fotograaf sit in ’n grys, gekreukelde hoop langs haar. Die beneukste skakering van grys. Fotograwe haat dit as verslaggewers verdwaal. Om een of ander rede beskou hulle dit nooit as hulle taak om uit te vind hoe om by ’n storie uit te kom nie.
Die rede hoekom sy verdwaal het, is die bouery aan die Gautrein. Elke dag word ’n ander pad toegemaak en die hele Johannesburg is ’n doolhof van oranje padkegels en geel detour-borde. Sy het nou al elke denkbare detour-bord gevolg, maar geeneen van hulle lei na Sunninghill nie.
Haat fotograwe. Haat die Gautrein. Haat oranje kegels en detour-borde.
Hoekom kon sy nie eerder vir Sarie of Cosmo gewerk het en nou in ’n lugverkoelde Yaris met ’n skoon stuurwiel op pad gewees het na die bekendstelling van ’n nuwe parfuum nie?
“Wie stel in elk geval in ou Jack Greeff se liefdeslewe belang?” vra die fotograaf.
“Net 90% van ons lesers,” antwoord Andi verontwaardig. Sy haat dit as mense maak of haar beat by die koerant en haar stories nie saak maak nie. Net sy mag dit doen.
“Hy is so ’n has been. Wie de hel gee nog om?” sê die fotograaf.
“Mense soos jou ma en my ma wat almal sy CD’s het en elke dag die koerant koop.”
“Wat sien daai 7de Laan-chick in hom? Hy kon haar oupa gewees het,” sê die fotograaf.
“Ja,” sê Andi, “dit is bietjie grillerig.”
“Seker maar die ching,” sê hy.
“Daarvan is daar baie,” sug sy en kry uiteindelik kans om verby ’n taxi te kom wat voor haar stilgehou het.
“Hoe het hy so ryk geword? Dit kon tog nie van sy simpel sangloopbaan alleen gewees het nie?” vra die fotograaf.
“Nee, dis die klubs,” antwoord Andi terwyl sy nou soos ’n taxi in Jan Smuts afjaag om by William Nicol uit te kom.
“Daardie Afrikaanse klubs?”
“Ja, die volk is mos mal daaroor. Bakgat in Benoni is nou die gewildste klub in Gauteng.”
“Was jy al by een? Speel hulle regtig net Afrikaanse musiek?”
“Dis die klubs se sukses. En dit is wat Jack Greeff ’n multi-miljoenêr gemaak het. Hy het dit begin. Hy besit seker nog iets soos twintig regoor die land.”
“Ek kan nie glo mense gaan actually soontoe nie.”
“Wel, hulle gaan. Hordes van hulle. Naweke moet jy sien hoe staan die rye by daai klubs se deure uit.”
Uiteindelik toring Jack Greeff se paleis voor hulle uit. Dis nou sewe minute oor drie, sewe minute laat.
Toe Andi deur die swaar ysterhekke vol sierlike krulle en draaie ry, onthou sy hoe Pers se Tazz lyk. Sy kry ’n pyn in haar bors soos wat sy haar skaam. Sy is voor die tyd aangesê presies waar sy op die Greeff-landgoed moet parkeer. Buiten ’n swart Mercedes-Benz SLK-sportmotor is daar geen ander motors in die parkeerarea nie. Andi wonder wie die ryk mens is wat ook by Greeff kom besoek aflê het.
Sy hoop daar is niemand in die Mercedes om getuie te wees van Aspoestertjie se aankoms in die pampoen nie. Maar die noodlot is teen haar. Daar sit inderdaad ’n mens agter die stuur. Waarom, waarom moet haar lewe altyd in die vorm van embarrassing sprokies afspeel?
Toe sy langs die swart Mercedes stilhou, rol die bestuurder die elektriese venster aan sy passasierskant af en sê: “Klim gerus in. Ek sal julle na die ingangsportaal neem.” Greeff se landgoed is blykbaar so reusagtig dat hy een van sy chauffeurs moes kry om hulle na die voordeur toe te karwei. Nou moet sy ten aanskoue van die man by die passasierskant uitsukkel. Om sake te vererger het sy vandag haar ballonromp aan wat sy die naweek gekoop het. Saam met visnet-sykouse wat haar tannie vir haar van Frankryk af gebring het. Sy laat blyk egter niks van haar paniek nie en glimlag net vir die man. Dan begin sy boude in die lug, ballonromp in haar gesig oor die rathefboom en handrem klouter asof dit die normaalste manier is om by ’n motor uit te klim.
Toe sy en die fotograaf uiteindelik agterin die Mercedes neerval, laat die reuk van weelde haar skoon van haar verleentheid vergeet. Dit is hoe die binnekant van ’n motor moet ruik. Sy wens sy het eerder vir Greeff as vir Pers gewerk. Sy is hiervoor gemaak: vir mooi dinge en weelde, nie vir KFC-stuurwiele en beneukte fotograwe nie.
Binne in die mansion is dit nog luukser. Daar is meer glas en hout en leer as wat Pasella en Top Billing gesamentlik in ’n jaar kan verfilm. Dis darem nie alles net Greeff se huis nie. Vandat sy kinders uit die huis is, het hy ’n groot deel van die huis in ’n boetiek-hotel laat omskep – dié dat daar nou chauffeurs en dinge is wat ’n mens uit die parkeerarea kom haal.
’n Man wat lyk soos een van sy lyfwagte, met ’n akneevel van te veel steroïedes, lei hulle na die vertrek waar die onderhoud gaan plaasvind.
Andi was onder die indruk sy kry ’n eksklusiewe onderhoud met net Greeff en Emma, maar toe sy by die sitkamer instap, sit daar ’n hele gehoor haar en aanstaar.
Sy wens sy kan warm lug onder haar ballonromp inpomp en op die wolke wegvaar. Wat soek al hierdie mense hier en hoekom staar hulle na haar?
Haar oë hardloop paniekerig deur die spul en dan herken sy die twee gesigte waarvoor sy gekom het: Greeff se groot, pienkerige gesig. Ai, hy’s regtig nie ’n mooi man nie. En langs hom die skone Emma.
Hy steun regop, trek aan sy das en steek sy pofferige hand uit. “Andi. Welkom.” Sy skud sy hand en wonder of haar hand soos ’n hoenderboudjie uit ’n Streetwise Two voel. “Ek hoop nie jy gee om nie. Ek het my span gevra om in te sit op die onderhoud,” sê hy. “ ’n Mens wil nie hê daar moet ...” hy maak eers keelskoon, “misverstande insluip nie.” Greeff is tog so immerkorrek.
“Natuurlik,” antwoord sy en gaan sit op een van die leerstoele. Sy voel die koue van die leer deur die gaatjies in haar visnetkouse. Hierdie spul maak haar erg op haar senuwees. Daar is sewe mans in pakke en dasse en twee baie maer vroue in snyerspakkies. Hulle kyk haar in haar ballonromp aan asof sy ’n valskermspringer is wat so pas in ’n eksklusiewe buitelugklub-ontmoeting neergetuimel het.
Greeff laat die klomp hulself op ’n ry voorstel.
“Advokaat Human, meneer Greeff se regsverteenwoordiger,” sê die eerste man en vryf oor sy silwergrys das. Andi besef dis met hom wat sy oor die foon gepraat het. ’n Man wat hom met sy titel aan jou voorstel, sê Wendy altyd, kan jy maar weet, is ’n loser. Al is die titel dokter of professor, of in dié geval, advokaat. Advokaat Human is die jongste van die lot. Hy het donkerblonde hare en ’n lenige lyf. As hy nie so priss was nie, sou hy aantreklik kon wees.
Twee van die ander mans is lyfwagte, een van die vroue is Greeff se skakelbeampte, die ander een sy prokureur en die res het sy nou vergeet. Seker sy uroloog en sy ouderling.
Ná die voorstellery haak Greeff liefies by Emma in. Andi verstaan regtig nie wat sy in die man sien nie.
“So wat wil jy weet, Andi?” vra Greeff en glimlag soos ’n pedofiel wat ’n suigstokkie vir ’n slagoffer aanbied.
Andi besef sy moet nou ophou gril en haar soos ’n professionele, objektiewe verslaggewer begin gedra. Greeff kan nie help hy lyk soos hy lyk nie. Sy’s eintlik nou net pleinweg nasty. En haar byline was eeue laas in die koerant en as sy hierdie storie opmors, verskyn haar byline dalk nooit weer in drukvorm nie, wat nog te sê die koerant.
“Hoe het julle ontmoet?” vra sy en begin vervaard notas neem terwyl Emma vertel.
Ná die ontmoetstorie, wat prentjies in haar kop geplant het wat sy net met hipnose sal kan uitkry, besluit sy om die ouderdomsverskil aan te raak.
“Emma,” begin sy half ongemaklik, “hoe voel jy oor die groot ouderdomsverskil?”
’n Glimlag breek oor Emma se gesig en sy maak haar mond oop om te antwoord, maar advokaat Human onderbreek haar. “Ek glo nie dis relevant nie, juffrou Niemand.”
Juffrou. Wie gebruik nog die aanspreekvorm “Juffrou” behalwe Afrikaanse laerskoolkinders? As sy ’n goue sterretjie gehad het, het sy dit op sy voorkop gaan plak en vir hom ’n omsendbrief gegee wat hy huis toe moet vat. Maar Andi weet nou al advokate en prokureurs praat so. Sy het met genoeg van hulle te doen gekry in haar dae as hofverslaggewer by die Benoni Advertiser.
“Ek’s jammer as die vraag jou ontstel,” sê sy vir die man, “maar dit is relevant vir ons lesers en my berig.”
“As mnr. Greeff se regsadviseur, kan ek nie anders as om ...”
“Dis oukei, Arend,” val Jack hom in die rede met sy hand in die lug. Hy beantwoord die vraag: “Ek besef ek is heelwat ouer as Emma, maar ons het reeds die ouderdomsverskil bespreek en uitgepraat en ons gaan nie dat dit in die pad van ons geluk staan nie.” Emma vou al twee haar hande om Greeff s’n.
Meneer die advokaat kyk af en vroetel met sy das se punt. Andi sien daar’s baie van daai donkerblonde hare. Hmm, soos Wendy altyd sê, nothing like a full head of hair ...
Maar sy verban die gedagte en keer terug na haar professionele self. “En gaan julle binne of buite gemeenskap van goedere trou?” vra sy.
“Nee werklik, juffrou Niemand,” teken die advokaat beswaar aan asof hy in ’n hof is. “Hierdie vraag is totaal onnodig. Julle is net agter sensasie aan.”
Sensasie. Die woord wat advokate en prokureurs gebruik as laaste linie van verdediging wanneer hulle nie meer ander raad met joernaliste het nie.
Eers het advokate dit reggekry om haar te intimideer en haar soos die enigste standaardgraad Wiskunde-kind in die hoërgraad-klas te laat voel, maar nou skrik sy nie meer so erg vir hulle nie. En sy hét Wiskunde op hoërgraad gehad.
“Advokaat Human,” antwoord sy, “ek besef jy beskerm die belange van jou kliënt, maar dis my werk om sulke vrae te vra.” Haar hart dawer in haar ore. Haar dae as misdaad- en hofverslaggewer het haar taaier gemaak as wat sy was, maar sy het nog nooit gehou van konfrontasies nie, veral nie met kwaai advokate nie.
Die advokaat staar haar oorbluf aan en draai na Jack: “Ek sal jou aanraai om nie die vraag te beantwoord nie.”
Maar Emma blaker dit uit: “Nee, ek wil hê almal moet weet hoekom ek met Jack trou. Skryf dit daar: ons teken ’n voorhuwelikse kontrak. Ek is nie ’n fortuinsoeker nie. Ek trou met hom vir die man wat hy is, nie vir sy rykdom nie.”
Die volgende paar vrae hou Andi maar kalm: Wanneer beplan hulle om te trou? Wil hulle dadelik met ’n gesin begin, aangesien Greeff se vrugbare dae duidelik getel is? Die laaste deel van hierdie vraag sê sy nie hardop nie.
Advokaat Human gluur haar heeltyd aan. Die dreigement is duidelik op sy gesig: vra nog net één verkeerde vraag ...
Die res van die onderhoud is maar styf. Greeff se span volg die advokaat se voorbeeld na en iemand het iets te sê oor elke tweede vraag. Dit plaas ’n demper op als en later antwoord Greeff net die nodigste.
Toe Andi en die fotograaf met die chauffeur terugry, is sy sommer keelvol. “Dat ek myself so moet verneder om inligting uit B-lys-celebs te kry, wat niemand in elk geval wil weet nie. En daai advokaat!” Die fotograaf reageer nie. Hy staar net beneuk voor hom uit.
Die chauffeur laai hulle by die Pers-motor af en ry weg. Andi stap voor om om weer deur die onwaardige ritueel te gaan van by die passasierskant inklim. Toe sy voor die motor kom, sien sy ’n papiertjie onder die ruitveër. Seker ’n pamflet, sug sy en ruk dit uit. Maar dis nie ’n advertensie nie. Dis ’n briefie op gewone lyntjiespapier. In ’n vrouehandskrif: Jack Greeff is nie wie julle dink hy is nie. As jy meer wil weet, ontmoet my Maandag 12:00 by die standbeeld in Nelson Mandela Square.
Andi druk die papiertjie in haar sak. Sy wil nie hê die fotograaf moet dit sien nie. Dit kan dalk niks wees nie, maar sy het ’n gevoel dis iets ... iets wat vir haar die storie van haar lewe gaan gee.