Читать книгу Iemand vir 'n scoop? - Marida Fitzpatrick - Страница 7

Оглавление

3

Die aand, nadat sy haar Jack Greeff-verlowingstorie geskryf en gestuur het, kuier sy by Vera en Hano in hul Toskaanse villa in Houghton. Dis Vrydag en sy hoef nie môre te werk nie. Andi en Vera kom al van graad een af saam. Vera was altyd die slimmer een op skool. Om die waarheid te sê, sy was dié slimste. Dux-leerling van Benoni Hoër, nege onderskeidings in matriek, aktuarieel gaan swot.

Andi weet nou nog nie mooi wat aktuarieel beteken nie, al het Vera haar dit al hoeveel keer verduidelik. Dit het haar lank genoeg gevat net om te leer hoe om dit reg uit te spreek. Nou weet sy dit het iets te doen met iemand wat vir versekeringsmaatskappye uitwerk wat jou kans is om dood te gaan of ’n horribale siekte te kry sodat hulle kan weet hoeveel jy per maand vir lewensversekering moet betaal, en hulle nog steeds meer as jy score.

Vera het een keer vir haar gesê ’n vrou se kans om in ’n terroriste-aanval te sterf, is statisties groter as haar kans om ná die ouderdom van dertig ’n man te kry. Andi wonder of sy dalk in die Midde-Ooste moet gaan bly om albei daardie kanse te verhoog.

Rentia en Vera het saam by daardie grênd ouditfirma gewerk. Dis hoe Andi en Rentia vriende geword het. Maar nou is Vera voltyds ma. Sy mis die syfers, sê sy. Op universiteit was haar hele koshuiskamer met wiskundige formules beplak. Toe sy die syfergetikte rekenmeester, Hano Terblanche, die eerste keer na haar kamer nooi, was die transaksie so te sê beklink.

Vera het nog altyd met haar kop besluit en Andi vermoed dit was ook die geval met Hano. Hy hou daarvan om Playstation te speel en liedjies uit die Gesange en Psalms-boekie te fluit.

Selfs al het Vera nou ’n man en kinders, het Andi altyd ’n ope uitnodiging om daar te gaan kuier. Ná die nagmerrie-onderhoud met Jack Greeff het sy moederlike troos nodig. En dis nou een ding wat Vera kan gee.

Dit is ’n missie en ’n half om by hulle huis uit te kom. Hulle woon in ’n estate binne-in ’n estate in ’n afgesperde woonbuurt, wat eintlik net ’n ander woord is vir ’n estate. Dis net wagte en waterfonteine en broodbome waar jy kyk. Baie posh.

Eers het dit Andi glad nie gepla dat Vera getroud is en kinders het en sy wat Andi is, nie eens ’n kêrel kan kry nie. Maar deesdae begin dit aan haar krap. Seker omdat Rentia nou ook gaan trou. En Wendy het konstant ’n trop mans agter haar aan. Wanneer die troulus haar beetpak, kan sy net haar vingers klap en vyf van hulle sal met ’n ring in die hand op een knie neersak. Andi kan nie help om te voel of sy op die rak agterbly nie. Een van die dae is sy dertig en steeds single. En sy’t nie eens ’n loopbaan om van te praat nie.

Met haar aankoms is daar chaos in Villa Terblanche.

Riekert, amper een, skreeu op Vera se heup. Hy lyk soos ’n foto vir een van daardie plakkate of TV-advertensies oor kindermishandeling: Net trane en slym en kromgetrekte handjies met twee ogies wat sê: Kan iemand asseblief tog net lief wees vir my?

Vera se oë sê: Kan iemand asseblief vir my binneaarse valium toedien?

Maar al wat sy sê, is: “Andi, kom net in. Kry vir jou iewers ’n sitplek. Soos jy kan sien, moet ek gou ’n paar goed uitsorteer.”

“Dis reg so, Veer. Gaan jy aan.”

Toe sy instap, hoor sy vir Jantjie hoog en aanhoudend blaf. Jantjie is hulle worshond wat ’n obsessie het met skaduwees. Wanneer hy so blaf, weet Andi al, is dit vir ’n skaduwee. Dit raak erger as hulle te min met hom gaan stap.

“Beeno!” skreeu Vera terwyl sy met die gillende Riekert by die trappe opklim. “Beeno, Jantjie, Beeno! Ounooi gee Beeno!” Die hondesielkundige het gesê die enigste manier om Jantjie se aandag van skaduwees af te lei, is met ’n lekkerny. “You’re very lucky that he’s food motivated, you know,” was die sielkundige se kommentaar. Toe Vera haar dit vertel, het Andi gewonder of sy dit vir Paul moet sê: “You’re very lucky that I’m food motivated, you know. Gee vir my ’n roomys en ek skryf vir jou ’n voorbladberig.”

Maar vanaand werk Beeno nie op Jantjie nie. Sy blaffies raak net meer en hoër. En nou het Knersus, hul ander worshondjie, vir Jantjie se wangedrag begin blaf. Knersus beskou dit as sy plig om Jantjie te dissiplineer, aangesien hul eienaars dit nie regkry nie. Die twee blaf nou in kanon.

Andi stap maar sitkamer toe. Die huis ruik na brand. Vera is ’n briljante aktuaris en goeie ma, maar nie die wêreld se beste kok nie. In die sitkamer tref Andi vir Hano op die mat aan, omtrent dertig sentimeter voor die enorme platskerm-TV. Hy speel Playstation. Dit lyk of daar enige oomblik kwyl by sy mond gaan uitdrup.

“Hallo, Hano,” sê sy, maar sy kry net ’n knik terug, sonder dat hy sy oë van die skerm wegskeur. Hy is seker in die kritieke fase van stage vyf punt iets van een of ander geveg.

Andi gaan sit op die leerbank. Bo hoor sy nog Riekert se gille, wat nou nie meer hartseer is nie, maar woedend.

Die geluide van die speletjie doof dit effens uit. Elke keer wanneer Hano met koorsagtige duimklieke ’n man op die skerm doodskiet, sak hy met die vreeslikste sterfgeluide inmekaar. Wanneer daar nog mans in weermagklere voor die geweerloop op die skerm verskyn, versnel die aantal duimklieke en lyk dit of Hano se regtervlerkie in ’n spasma ingaan. ’n Man van sewe en dertig.

Dan hoor Andi klieke van ’n ander aard. Sy kyk om en sien Nina, drie, poedelkaal by die trappe aftrippel in haar Barbie-hoëhakskoene. Bolle skuim kleef oral aan haar lyfie.

“Nina, kom terug!” gil Vera van bo af.

Nina het uit die bad ontsnap en is baie in haar skik daaroor. Arme Vera, dink Andi. Sy kyk vir Hano. Hy sien Nina nie eens nie. Hy maak nou klein geluidjies en sy kop ruk. Sy sal moet ingryp, besluit Andi, al is sy hoe bang vir kinders. Nina hardloop weg toe Andi op haar afpyl. In die kombuis gly haar skuimvoetjies op die teëls en sy val. Juig al wat leef. Nou is daar nog ’n geluid om by Riekert se gille, Jantjie se geblaf en die Playstation-doodskreune te voeg. Dit begin bedrieglik sag. Net so ’n hoë geteem, maar dan crescendo dit tot ’n allemintige martelaarskreet. Andi gryp haar aan die hand en sleep haar al skreeuend by die trappe op. Klein stoutgat.

“Dankie, An,” sê Vera waar sy op haar knieë voor die bad staan. Vera is so mooi, sien Andi weer. Klein met ’n fyn gesiggie en kort, donker pixie-hare wat veertjies maak oor haar voorkop en langs haar slape. Riekert speel nou op engelagtige wyse pienk en vrolik in die skuim op ’n manier wat ’n mens laat dink jy het nou-nou gehallusineer toe jy die duiwel self in sy oë kon sien.

Hy kyk sy suster verbysterd aan, asof sy waansinnig is om so te skree oor ’n heerlike skuimbad. “Jy gaan naughty chair toe,” waarsku Vera haar. Die naughty chair is hulle plaasvervanger vir lyfstraf. Die dreigement het geen uitwerking nie. Op die ou end kry sy Nina tevrede deur toe te laat dat sy met die Barbie-skoene en al in die bad klim.

“Hoe gaan dit by die werk?” vra Vera toe dit uiteindelik so stil en salig is dat hulle die skuimborreltjies kan hoor bars. Siestog, sy’s altyd so beleefd. Maak nie saak watter katastrofes in haar huis afspeel nie, sy sal altyd die ordentlike ding doen en in ander mense se lewe belangstel.

“Eintlik heel opwindend,” sê Andi. Sy’s nou ook op haar knieë voor die bad en maak klowe in die skuim met ’n Bratz-pop.

“Opwindend, sê jy?”

“Ek dink ek is op die rand van ’n onthulling oor Jack Greeff.”

Vera lag. “Jack Greeff!” sê sy. “Is jy seker daar is iets om te onthul buiten grys borshare?”

“Nee, hierdie is rêrig êrig,” sê Andi. Sy vertel Vera van die briefie onder die ruitveër en die vrou wat haar in die geheim wil sien om duistere dinge oor die ou man te vertel. “Dis alles baie Deep Throat en cloak and dagger,” giggel Andi.

“Jy beter net pasop. Jy weet nie wat hierdie vrou se motiewe is nie.”

“Nee, ek weet, ek weet. Ek sal dit mooi uitluister. En ons ontmoet darem in ’n openbare plek.”

“Moet net nie saam met haar iewers heen gaan nie, wat jy ook al doen.”

“Hm, ja, dalk is dit ’n lokval,” sê Andi.

Vera lag weer terwyl sy Riekert begin afdroog. “ ’n Lokval, sê jy? Deur wie nogal?”

“Ek weet nie.” Andi trek haar skouers op. “Dalk die Boeremag. Dalk wil hulle my hê vir hulle teelprogram. Hulle het my vrugbare heupe gesien en besluit hierdie een gaan eiehandig vir ons ’n wit meerderheid baar.”

Voordat Vera vir die grappie kan lag, gaan die badkamerdeur oop. Dis Hano. “Is jy oukei, Mamma?”

Hano en Vera noem mekaar al vir jare nie meer op hul voorname nie. Afhangend van die onderwerp onder bespreking, spreek hulle mekaar óf as “Mamma” en “Pappa” aan óf as “Ounooi” en “Oubaas”. As dit oor die kinders gaan, is dit Mamma en Pappa; as dit oor die honde gaan, is dit Ounooi en Oubaas: “Pappa, sit asseblief die pram in die Prado.” “Ounooi, kyk hoe mooi lê Jantjie in sy mandjie.” Andi wonder hoe ’n mens seks kan hê met iemand wat jy “Pappa” en “Oubaas” noem.

“Ja dankie, Pappa, Andi help my,” glimlag Vera vir Hano. Hy probeer nie eers sy verligting wegsteek nie en fluit “Prys die Heer met blye galme” toe hy die deur toetrek en in die gang afstap.

Vera het die wêreld se geduld. Met die kinders én met Hano. Hy help feitlik met niks nie en sy is altyd vriendelik met hom. “Hy het baie stres by die werk,” het sy al voorheen vir Andi gesê. “Hy kan nie nog by die huis met hierdie goed sukkel nie. Ek’s mos nou ’n huisvrou.”

Maar op ’n manier beny sy Vera. Sy is so uitgesorteer. Sy het die hele setup: ryk man, kinders, mooi huis met simmetriese, gesnoeide boompies voor die garage, beleggings in eiendom, waterfeature. Al die goed wat Andi se ma vir haar wil hê. En sy voel of sy dit nooit gaan kry nie. Een van die dae is sy dertig en sy’t nie eens ’n boyfriend nie.

“Jy’s so lucky, Veer,” sê sy. Hulle droog nou vir Nina ook af. “Op jou dertigste verjaardag kan jy weet jy hét ten minste iets.”

“Wat praat jy?” sê Vera. “Weet jy hoe wens ek soms ek was nog lekker single soos jy? Net verantwoordelik vir jouself. Kan enige ou date.”

“Ag,” sug Andi, “dating is overrated.”

Vera glimlag net. Andi sê: “Jy’s nou veronderstel om te sê ‘moederskap en Toskaanse villas ook’.”

Vera lag. “Oukei, moederskap en Toskaanse villas ook,” sê sy terwyl sy Nina in haar pienk Bratz-handdoek toedraai en vasdruk. Die twee lyk soos ’n voorblad vir Baba en Kleuter. Donker hare, pienk wange, blink oë.

“Ja, ek glo jou,” sê Andi sarkasties en gooi ’n bad-eendjie in haar rigting.

“Alles is nie altyd soos dit lyk nie, An,” sê Vera somber. Haar oë slaan vir ’n oomblik neer en sy byt op haar onderlip.

Andi is bekommerd. “Wat bedoel jy? Veer? Wat gaan aan?”

Maar toe Vera opkyk, is haar blosende Baba en Kleuter-gesig terug. “Ag, sommer niks nie.” Sy swiep Riekert in die lug op dat hy kraai van plesier. “Kom ons gaan sit die twee monsters in die bed.”

Goed. Hoe moeilik kan dit wees? Avokadovorm. Vandag is die dag dat sy vir haar ma gaan wys sy kán iets so eenvoudigs soos ’n avokadovorm maak. Sodat Elsabé Niemand nie weer, soos gewoonlik, onderlangs kan mompel: “Mens vra iets eenvoudig soos ’n avokadovorm ...” Dis wat haar ma doen: wanneer sy onvergenoegd of te nagekom voel, verwys sy altyd na haarself in die derde persoon.

Daar is ’n vreemde vloek oor Andi. Sy kán kosmaak. Regtig. Kook, bak, koeke versier, crème brulée met daardie blaasvlammetjie maak. Almal weet dit. Tussen hulle vriendinne is sy bekend as die meestersjef. Maar feitlik elke liewe keer wanneer sy iets vir haar ma moet maak, flop dit. Pavlova kan sy maak, soufflé, rolkoek, sjokoladeblaartjies, rooiwynpere en bloukaasroom, maar laat haar ma haar vra vir ’n eenvoudige noedelslaai en dit kom rampspoedig uit. Maar vandag gaan sy daai vloek breek. Vandag gaan sy haar ma beïndruk met die beste avokadovorm ooit.

Hoekom ’n mens ’n vrug of ’n groente wat heeltemal lekker en sappig of krakerig op sy eie is, wil verpulp en met jellie wil meng sodat dit skuimagtig word en dril en almal aan tafel daarvoor gril, verstaan sy nie. Maar ter wille van ’n goeie verhouding met haar moeder, gaan sy vanoggend ’n vormslaai maak, al is dit waarskynlik teen een of ander internasionale handves van menseregte.

Toe sy met al die bestanddele van Pick n Pay af terugkom, is dit 9:23. Dis bietjie laat en sy sal moet wikkel, maar alles is nog onder beheer.

Terwyl sy die avokado’s skil, dink sy aan Vera. Andi het ’n vreemde gevoel alles is nie pluis daar nie. Sy kan nie vir seker sê nie, en sy kan nie haar vinger daarop lê nie, want Vera sal nooit kla of vertel nie, maar iets is daar nie reg nie. Andi wéét dit. Dit help nie sy vra haar nie. Net soos wat wiskundige formules deel van Vera se aard is, is dit in haar om die blink kant bo te hou. Vera se dowwe kant, haar seer kant, sien jy net as iets haar heeltemal omgooi en sy op haar blink kant val, sodat niks anders as die dowwe kant kan wys nie. En Andi het ’n gevoel dit is presies wat aan die gebeur is ...

Toe sy al die bestanddele klaar gemeng het, gooi sy dit in die vorm. Dis nou wel ’n visvorm wat eintlik bedoel is vir ’n gestolde tunagereg, maar sy het nie ’n ander vorm nie. Sy gaan met ’n groen avokadovis by haar ma-hulle, haar dokterbroer en sy nuwe meisie aankom, besef sy. Maar oukei, ten minste is die vorm klaar.

Toe sy by haar ouerhuis in Northmead, Benoni inry, staan haar ma vir haar buite op die sypaadjie en wag. Soos altyd moes sy haar ma laat weet sy’s amper hier, sodat sy vir haar die hek kon oopmaak.

“Andriette, jy’s laat,” sê haar ma toe sy uitklim, maar soen en druk haar darem.

“Jammer, Ma, die avokadovorm het bietjie lank gevat om te set.”

Haar ma het ligpers Queenspark-jeans met ’n stywe wit toppie en ’n wit en pers geruite katoenbloesie bo-oor aan. Elsabé Niemand het ’n merkwaardig mooi figuur vir ’n drie en vyftigjarige vrou en haar hare is in ’n elegante, kort blonde kapsel. Mooiste in Benoni, sê haar pa altyd.

Nadat Elsabé haar dogter gegroet het, vat sy met die punte van haar vingers aan Andi se hare asof sy daarvoor gril. Met die avokadovorm het sy nie tyd gehad om haar hare mooi te blaas nie en dit het sommer so in die ry met die oop venster droog geword.

“Ek weet my hare lyk sleg, Ma,” sê sy.

“Nee, dit lyk nie ... slég nie,” sê Elsabé, “net ... die punte is bietjie droog. Jy moet weer na Robert toe kom sodat ons weer ligstrepies kan insit; jou weer mooimaak.”

Elsabé praat altyd in die meervoud wanneer sy van haar en Andi se haarkapper, Robert, praat, asof hulle ’n span is wat verantwoordelik is vir Andi se voorkoms.

“Waar is die avokadovorm?” vra haar ma.

“In die kattebak in ’n koelhouer. Dit het nog nie heeltemal gestol toe ek moes ry nie.”

Sy sluit die kattebak van haar Golfie oop en lig die deur op.

Niks kon haar voorberei op dít wat daarbinne wag nie: ’n Gruwelike, toksiese groen massa. Die koelhouer het omgeval, die visvorm ook en al die avokadomoes het uitgeloop. Andi hou op asemhaal. Sy maak haar oë toe. Dit kan nie wees nie, dis onmoontlik, sy hallusineer. Wanneer sy haar oë weer oopmaak, sal sy ’n vis in die kattebak sien. ’n Volmaakte, drillerige vis. Nie ’n groen slikdam wat ghloek-ghloek in die kattebak klots nie.

Maar toe sy haar oë weer oopmaak, lê die groen see steeds daar, die bewys van haar algehele onbevoegdheid as dogter en vrou. Sy sien hoe haar ma nog steeds met skok en afgryse na die inhoud van die kattebak staar. Daar’s niks wat Andi kan sê om dit beter te maak nie. Daar heers ’n paar oomblikke van geskokte stilte.

“Niemand hoef hiervan te weet nie,” sê haar ma later toe hulle kombuis toe stap om skoonmaakgoed te gaan haal. Andi kan nie glo dit het weer gebeur nie. Dalk moet sy maar net ophou probeer en van nou af voorbereide Woolies-slaaie of -poedings koop as haar ma vir iets vra.

“En hoe gaan dit op die liefdesfront?” vra haar ma haar gunstelingvraag nadat Andi sowat honderd en dertien velle kombuispapier en ’n driekwart bottel Vanish Carpet Stain Remover gebruik het om van al die groen gemors ontslae te raak. Hulle is weer op pad na die kombuis toe om die laaste goed voor ete reg te kry.

“Ma,” kreun sy. Hemel, kan haar ma nie verstaan dat hierdie vraag elke keer vir hulle al twee embarrassing is en amper altyd dieselfde antwoord het nie?

“Ek vra maar net. Daar het hierdie nuwe dokter by die praktyk begin,” sê sy met groot oë. Elsabé werk haar lewe lank al in ’n dokterspraktyk in Benoni (vandaar die obsessiewe begeerte dat ’n kind van haar ’n dokter moet word) en probeer sedert Andi se laat tienerjare vir haar ’n dokter vir ’n kêrel reël. As Andi dan nie self ’n dokter kan word nie, kan sy darem met een trou, is waarskynlik Elsabé se redenasie. Tot haar ma se verskriklike teleurstelling het nog nie een van bogenoemde plaasgevind nie. Andi weier volstrek om aan die mediese blind dates deel te neem wat haar ma elke nou en dan vir haar wil reël. Maar haar ma is onverbiddelik. Solank as wat Andi in haar vrugbare jare is, sal sy aanhou probeer om haar dogter se titel van Juffrou Niemand in Mevrou Dokter te omskep.

“Ma, eintlik is daar iemand ... iets ...” sê Andi terwyl sy met ’n vurk patroontjies op ’n komkommer skraap vir die groenslaai. Sy’s dadelik spyt sy’t dit gesê. Sy weet hierdie onthulling was ’n yslike fout, maar sy was desperaat. Sy moes iets kry om haar ma weg te stuur van die nuwe jong dokter by die praktyk.

“Iemand?” glimlag haar ma. Andi kan sien sy probeer haar blydskap onderdruk. “En wie is die iemand?” vra sy terwyl sy messe en vurke aftel.

“Ag, dis eintlik niks. Net iemand by die werk,” sê Andi.

Elsabé se gesig val. Dit lyk of iemand haar blydskap met ’n vurk geskraap het. “Is hy ook ’n joernalis by Pers?” vra sy.

Andi verstaan dadelik die probleem. Haar ma haat dit dat sy by Pers werk. Dis oukei dat sy ’n joernalis is (met dié dat sy nou nie ’n dokter kon word nie), maar Pers “is darem baie poniepers, geelpers, skandpers,” het haar ma gesê toe sy ses maande gelede daar begin werk het. As haar dogter ’n joernalis móét wees en nie ’n dokter kán wees nie, moet sy eerder by Beeld werk, ’n gerespekteerde koerant in die gerespekteerde Naspers-stal.

“Nee, hy werk vir Die Landstem,” sê Andi. In haar ma se oë is dit nie veel beter as Pers nie. Al wat sy van Die Landstem weet, is dat dit ook ’n sukkelende koerant onder die sukkelende Pressco-vaandel is. Al joernalistieke beroep wat vir haar aanvaarbaar sal wees, is een binne Naspers.

“O,” is al wat Elsabé sê.

Andi vererg haar sommer. “Hy’s ’n baie goeie joernalis, Ma. ’n Ondersoekende een wat al pryse gewen het en als.”

“Gaan julle uit?”

“Nee, ons slaap net saam.” Sy kon nie die versoeking weerstaan nie. Eers na ’n rukkie kyk sy van die komkommer af in haar ma se geskokte gesig op. Gevries staan Elsabé daar, messe en vurke nog net so in haar hande. “Ek maak net ’n grappie, Ma!”

Elsabé begin verder aan borde en lepels tel. “Mens maak nie sulke grappies met jou ma nie.”

Andi lag. “Dis net omdat Ma so ’n goeie sin vir humor het dat ek sulke grappies met Ma maak.”

Haar ma het haar skoon stil geskrik. Andi voel sleg. “Nee, ag wat, daar’s eintlik niks tussen ons nie,” sê sy. “Dis maar net ... dalk ...”

“Dan kan jy mos een aand met dr. Schoeman uitgaan,” sê sy, weer vrolik. “Met dié dat jy nog die kat uit die boom kyk.”

Andi sug. “Ma gee ook nie op nie,” sê sy en dra ’n stapel borde na die lapa uit, net om te ontsnap.

Onder hul grasdaklapa agter in hul erf sit haar pa en haar broer, dr. Jacques Niemand met dié se meisie, ’n jong, blonde klein dingetjie met platgestrykte hare.

“Ousus!” roep haar broer uit. Net wat sy nodig het om te hoor. Maar sy’s regtig bly om hom te sien. Dierbare Jacqie, haar kleinboetie, wat nou die aantreklike dokter is. Sy gee hom ’n groot druk. “Dis Chamonix,” sê hy toe sy van hom wegtrek en wys na die klein meisietjie. Chamonix (uitgespreek Sha-moe-nie) steek haar hand uit en giggel. “Ek’s so bly ek kan Jacques se groot suster ontmoet!”

Sy stap om na waar haar pa besig is om vleis te braai en gee hom ’n soen en ’n druk. “Hallo, Pa!”

“Hallo, my kind.” Haar pa is groot en stil en dierbaar.

“Hoe gaan dit met Pa? Het Ma nog steeds vir Pa op ’n dieet?” vra sy en slaan haar arms om haar pa se groot maag.

“Ja,” sug hy en fluister, “maar ek eet my biltong skelm.”

Haar ma kom in met die plekmatjies en die servette. “Willem,” sê sy, “hoe ver is die vleis van gaar af? Kan ek maar die knoffelbrood bring?”

Almal noem haar pa Willie; hy was nog altyd Willie, net soos sy nog altyd Andi was, maar ’n paar jaar gelede het haar ma van grêndgeid besluit om hulle almal op hulle propperse doopname te begin noem: Willem, Andriette, en Jacques. Die Jacques spreek haar ma nou uit op die sagte, Franse manier, nie die Boere dJaques, soos die res van hulle haar broer noem nie.

“So, Sus,” sê hy toe hulle almal sit, “wat is die nuutste celeb-skandes?”

“O, die bekende dr. Jacques Niemand gaan glo sy eie boyband begin,” sê sy.

Hy en Chamonix lag. “Andi is ’n joernalis by Pers,” sê hy vir haar. Darem een lid van die familie wat beïndruk is met haar werk. “Sy skryf oor al die celebs.”

“Cool!” sê Chamonix. “Wie’t jy al ontmoet?”

Andi gaan deur die gewone lysie. Chamonix is in die wolke, veral oor die 7de Laan-sterre.

Haar ma kom terug met die knoffelbrood en soveel Carrol Boyes-eetgerei as wat sy kan dra. Andi spring op. “Wag, ek help Ma.”

Terwyl sy die Carrol Boyes-slaailepels en -sout-en-peper-potte en -opskeplepels op die tafel uitpak, kry sy lag vir haar ma. Siestog, sy wil tog net nie kommin wees nie. Elsabé het daardie kollektiewe Afrikaner-vrees saam met familiale Afrikaner-cholesterol in oormaat geërf. Sy wil grênd wees. Pretoria-Oos-grênd. Michel Herbelin, Carrol Boyes, Jenna Clifford-grênd. En eintlik ís sy. Sy’t dit reggekry, die hele grênd-ding. Michel Herbelin-horlosie, French manicure-naels, Queenspark-jeans, als. Maar nou pas haar gesin en haar omgewing nie heeltemal mooi by die prentjie in nie. Sy woon in Benoni, nie in Moreleta Park nie; sy’s getroud met ’n myn-voorman, nie ’n -magnaat nie en haar dogter is nie ’n dokter of met een getroud nie. Om sake te vererger nader sy wat Andi is die oujongnooi-landskap gevaarlik vinnig. Dr. Jacques is die enigste een wat aan Elsabé se standaarde voldoen. Die een Niemand wat ’n Iemand geword het.

Nadat almal klaar geskep en geskuif en geskarrel het, gaan sit hulle aan tafel. “Ogies,” sê haar ma en almal vat hande. Chamonix se hand voel klein en sag in Andi se regterhand en haar pa s’n groot en grof in die linker.

“Seën ons Heer die voedsel aan ons liggame en maak ons opreg dankbaar daarvoor,” bid hy. “Amen.”

Vir ’n oomblik voel Andi skoon aangedaan. Haar gesinnetjie, wat haar so mal kan maak, is eintlik so ...

“Willeeeeeeem!” gil haar ma die gedagte weg nog voor die “n” van die “Amen” hul ore mooi bereik het. “Die knoffelbroooooood!”

Haar pa en Jacques spring gelyk op en haar ma en haar Queenspark-jean is lankal op. Ná skokmasjiene, hartmassering en mond-tot-mond-asemhaling kondig dr. Niemand die tyding om 13:48 aan: Die knoffelbrood is dood.

Elsabé is so ontsteld dat sy die hele ete deur feitlik niks praat nie en stil na die kaal, manlike en vroulike figure op die Carrol Boyes-servethouer staar. Dis ’n mengsel van skulderkenning- en beskuldigingstilte. Aan die een kant kry sy haarself jammer omdat sy verantwoordelik voel vir die dood van die knoffelbrood. Aan die ander kant blameer sy Willem.

Toe die stilte ongemaklik raak, sê Andi: “Ek is nou besig met ’n groot storie oor Jack Greeff.”

“O, ek onthou vir hom,” sê haar pa. Elsabé se stilte, wat totaal strydig met haar aard is, het blykbaar die uitwerking dat dit Willie meer spraaksamig maak. “Wat was nou weer daai groot treffer van hom?”

“Min my meer,” antwoord Andi.

“Ja, Min my meer!” Haar pa kry so ’n veraf glimlag. “Oe, het ons darem vir jou gedans op daai song, ek en jou ma.”

“Dit was nie ék nie, Willem.” Haar ma praat, maar sy staar nog steeds na die servethouer sonder om haar oë te knip.

“In elk geval,” gryp Andi in om ’n bakleiery af te weer. Die arme Chamonix kan nie met haar eerste besoek so iets aanskou nie. “Jack Greeff besit mos nou al hierdie Afrikaanse klubs ...”

“Ek love sy klubs,” piep Chamonix. “Dis soos in totally awesome.”

“By watter was jy al?” vra Andi.

“Ons gaan gewoonlik na Vonkprop toe,” sê sy, “in Pretoria.”

Andi lag. “En Jacques gaan saam met jou?”

“Jip,” sê sy en kyk na hom met sterre in die oë.

“Boeta, hoor ek reg? Gaan die Foto na Dans, Fokofpolisiekar, alternative rock-fan Vonkprop toe?”

“Wat kan ek sê?” sê hy met ’n glimlag en klap Chamonix speels op die been. “I’m a converted man.”

“Het julle hom al ooit daar gesien?”

“Wie, Jack Greeff?” vra Jacques.

“Hm-hm,” sê Chamonix en skud haar kop. Sy giggel. “Ek dink hy sal bietjie uit voel.”

“So jy sê jy gaan baie soontoe, Chamonix?”

“My een vriend is ’n waiter daar en my ander een staan soms in as barman, so ek kry cool deals met die cover charge.”

“Cool deals, sê jy?”

“Ja, partykeer laat hulle my sommer verniet in!”

“Chamonix,” sê Andi, “ek dink dis tyd dat ek en jy op ’n girls night uitgaan.”

“Dit sal soos so totally cool wees!” roep sy uit.

Pasop, Jack Greeff, ek hét jou – min of meer, dink Andi toe sy glimlag en sê: “Totally.”

Geen geel koevertjie onder in die regterhoek van haar rekenaarskerm nie. Net leeg en blou, soos haar hart, dink Andi.

Dis Maandag en sy het vanoggend al tien keer haar woordeboek uit haar laai gehaal en weer teruggesit net om vir Luan te kyk. Iemand wat haar dophou, sal dink sy kan niks spel nie. Sy hare is so mooi, sien sy toe sy weer haar woordeboek uithaal. So dik en swart met sulke mooi grys haartjies teen die slape. En sy groen oë en as hy sy hand so op die muis sit, dan ...

“Andi,” sê Paul Meintjies kliphard langs haar. Sy wip soos sy skrik. “Vir wat staar jy so in die niet?”

“Nee, uh ... ek dink net aan ’n intro vir my Idols-berig, Paul,” sê sy.

“Ek dog daai berig is al lankal klaar.”

“Amper. Finishing touches,” glimlag sy. Andi wil nog nie vir Paul vertel van die anonieme briefie oor Jack Greeff nie. Sy’s bang hy raak te opgewonde en dan lewer dit niks op nie en dan lyk sy weer net soos ’n loser. Al wat hy weet, is dat sy vanmiddag na ’n funksie in Sandton gaan om te network.

“Kyk net op Sapa ook,” brom hy. “Jy beter jou feite regkry,” en dan stap hy weg.

Andi sit die woordeboek terug en kan nie help om weer vir Luan te kyk nie. Daar sit hy voor sy rekenaar, heeltemal in staat om vir haar ietsie te stuur, om haar uit haar lyding te verlos, maar nee, niks nie. Wag hy dat sy vir hóm iets stuur? Nee, nee, nee. Wendy sê mens moet eenvoudig aanvaar mans wil die jagter wees.

Ja, Luan Verster moet weet dis moeilik om haar te kry. Sy is gesog. Haar lewe is vol. As hy in haar belangstel, sal hy moet werk vir haar aandag. Sy is ’n gesofistikeerde, selfversekerde vrou, wat baie dinge buiten mans het wat haar aandag vereis. Sy ervaar daagliks innerlike groei en ...

Dalk moet sy aan ’n verskoning dink om na hom toe te gaan. Hm, ja. Sy kan dalk sy raad oor iets gaan vra. Maar oor wat? Die briefie, skiet die gedagte haar te binne. Sy kan sy raad vra oor die anonieme briefie onder haar ruitveër! Luan Verster is mos dié ondersoekende joernalis. Hy weet mos alles van cloak en dagger en on the record en off the record en joernalistieke etiek en al daai goed. Ja, ja, ja, briljant.

Sy sit gou eers lipglans aan, met haar rug na sy kantoor sodat hy dit nie kan sien nie. Dan soen sy die helfte op ’n tissue af. Hy moenie dink sy het spesiaal lipglans vir hom aangesit nie.

Goed. Gereed, generaal.

Selfvertroue, selfvertroue, selfvertroue, sê sy oor en oor vir haarself terwyl sy doelgerig na sy kantoor stap. Sy het nou die dag in FHM gelees selfvertroue is die een enkele ding wat vroue die heel aantreklikste vir mans maak.

Toe sy voor hom in sy kantoor staan, wens sy sy kan weghardloop. Sy sien sy lippe beweeg, maar haar hart klop so in haar ore dat sy nie kan hoor wat hy sê nie. Sy hoop hy het haar gegroet, want sy antwoord net met ’n “haai”.

Hy glimlag sondig vir haar. Maar sy ignoreer dit en sê saaklik: “Jammer om te pla ...”

“Jy kan maar enige tyd pla, Andi,” sê hy. Hy swaai heen en weer in sy stoel met sy hande voor hom gevou. Die glimlag sit nog net so.

“Skeur my klere, maak my joune,” wil sy sê en met haar arm alles van sy lessenaar afstroop. Maar deur die genade kom net die volgende woorde uit haar mond: “Ek het ’n anonieme wenk gekry vir ’n storie.”

“Oor?” vra hy.

“Jack Greeff. Jy weet, die sanger?”

Hy bars uit van die lag. “ ’n Anonieme wenk? Oor wat? Is daar duiwelse boodskappe op sy plate wanneer ’n mens dit agteruit speel?”

“Nee,” sê sy sonder om te lag. Sy’s nou sommer ontsteld. Hier kom sy om sy raad te vra en hy lag vir haar. “Ek weet nog nie waaroor dit gaan nie. Die persoon wil my ...” Sy kan sien hy onderdruk nog ’n laguitbarsting en sy vererg haar. “Toemaar,” sê sy, “jy’s reg, dis seker net nonsens.”

“Ag, moenie so afgehaal lyk nie.” Hy steek sy hand uit en vat aan haar arm. Hy gee dit ’n effense drukkie en hou sy hand vir langer daar as wat nodig is. “Het jy al aan ’n manier gedink om my te vergoed?” vra hy.

Sy hou haar dom, want haar kop raas so van opwinding en angs dat sy nie aan ’n ander plan kan dink nie. “Vergoed?”

“Vir die pyn en lyding van die brandwonde.”

“Ek het nie geweet jy’s ernstig beseer nie.” Ag tog, kon sy nie aan ’n beter antwoord dink nie?

Hy glimlag. “Gaan jy my beter dokter?”

Sy glimlag onbeholpe en vlug uit sy kantoor. Sy kan nie glo wat besig is om te gebeur nie. Luan Verster flirt wragtig met haar. En vat aan haar!

Luan het aan my gevat, tik sy in ’n e-pos vir Rentia toe sy terug is by haar lessenaar. Nee wag, e-pos is nooit vertroulik nie, word hulle gereeld gewaarsku. Netnou besluit iemand hoog op by Pressco om om een of ander rede haar e-posse te trek. Dan word sy summier gefire. Sy sal hom iets anders moet noem, ’n skuilnaam moet uitdink. Die Onnoembare Mens. Amper soos “hy wat nie genoem mag word nie” in Harry Potter.

Onnoembare mens het aan my gevat, skryf sy vir Rentia.

Hiehiehie, skryf Rentia terug, beïndruk met aantreklikheid, maar geskok in werketiek.

Moet dringend vergader vir plan van aksie, skryf Andi.

Toe nog ’n geel koevertjie verskyn, dink sy dis Rentia se antwoord, maar nee, dis Luan. Hoera! Sy is duidelik ’n onweerstaanbare godin.

Die taalkomitee sit môremiddag om 17:00. Alle redaksielede is welkom om dit by te woon.

Ag nee, ’n vervelige boodskap vir die algemene verspreidingslys. Sy is teleurgesteld verby. Luan Verster is die voorsitter van Pressco se taalkomitee. Net nog ’n bewys van sy leierskap, ambisie en intelligensie. Vir die volgende twintig minute wag sy vir ’n e-possie van hom, maar niks nie. Dan verskyn daar ’n koevertjie.

Dankie, dankie tog. Sy maak gretig haar inboks oop. Vakature: Verspreidingsklerk, lees die onderwerpveld. Dis van Ilse van Staden, die kantoorbestuurder se PA. Andi sug. Duidelik gaan sy nie nog ’n e-pos van Luan kry nie.

Was duidelik te easy to get, dink Andi. Moet werk aan hard to get. Gaan Onnoembare Mens vir res van dag en, indien moontlik, week ignoreer. Gaan minder kosbare maatskappytyd op ligsinnige persoonlike e-posse mors. Gaan werk aan Jack Greeff-storie.

Jack Greeff, tik sy by Google in. Sy wil voorbereid opdaag by haar geheime ontmoeting vanmiddag met haar anonieme bron. Die persoon moenie dink hy of sy kan haar ’n rat voor die oë draai nie.

Derduisende resultate kom op nadat sy die soek-knoppie gedruk het. Die eerste een is sy amptelike webtuiste. “Min my meer” begin kliphard speel toe sy dit oopmaak. Van die ander verslaggewers se koppe draai na haar toe en sy’s seker sy hoor ’n paar van hulle proes. Vervaard soek sy die mute-knoppie om die geblêr stil te kry. Dan lees sy Jack Greeff se biografie. Hy’t in die Vrystaat grootgeword, kon van kleins af sing, het altyd vir almal konsert gehou, ná skool roem en rykdom in die stad gaan soek, bedags as kelner gewerk, in die aande met sy kitaar in restaurante en kroeë opgetree. In sy middel-twintigs het ’n talentsoeker van ’n platemaatskappy hom een aand tydens ’n optrede in ’n klub raakgesien en die res is geskiedenis. Elke album wat hy gemaak het, het platinumstatus bereik.

Andi sien op van die ander skakels hy is baie betrokke by liefdadigheidswerk. Hy het selfs ’n kinderfonds gestig en al die opbrengste van sy kinder-CD’s is ten bate daarvan. Hy is ook betrokke by Cotlands en die Reach for a Dream Foundation.

Sy voel nou skoon sleg. Hier dink sy die man is net ’n grilgans, maar eintlik het hy groot sukses met harde werk behaal en help hy baie mense. Sy moenie so gou oordeel nie, besluit sy. Maar sy moet ook nie val vir sy spindoctor-truuks nie, dink sy. Net omdat hy baie geld vir liefdadigheid gee, beteken nie hy het nie geraamtes in die kas nie ...

Nadat sy die twaalfde skakel oopgemaak en gelees het van sy betrokkenheid by ’n dwelmrehabilitasiesentrum, sien sy dis al 11:00. Haar anonieme bron kry haar 12:00 in Sandton City. Sy beter wikkel. Sy kan nie wag om te hoor wat alles uitval as Jack Greeff se kas oopkraak nie ...

Iemand vir 'n scoop?

Подняться наверх