Читать книгу Iemand vir 'n scoop? - Marida Fitzpatrick - Страница 8
Оглавление4
Dit voel ’n bietjie obseen om hier tussen Nelson Mandela se bene te staan en wag. En daar kom heeltyd Japannese toergroepe om saam met die beroemde standbeeld in Nelson Mandela-plein afgeneem te word. Sy is nou reeds in minstens sewentien Japannese se fotoalbums verewig.
Andi besluit om ’n bietjie op die plein te gaan rondstap terwyl sy vir die anonieme bron wag. Sy is seker dis nie ’n Japannees wat vir haar die briefie gelos het nie en sy sal tog sien as ’n nie-Japannees daar by die standbeeld gaan staan.
Oral op die plein is kinders en duiwe en uitlanders. Sy kan nie besluit of sy simpel of vol van haarself moet voel omdat sy hier rondstaan en wag vir ’n Deep Throat wat vir haar duistere dinge oor Jack Greeff gaan vertel nie. As dit net nie oor Jack Greeff gegaan het nie, sou dit haar soos ’n regte joernalis laat voel het. Sê nou dit was byvoorbeeld oor Mbeki of Zuma ... Maar sy moet seker iewers begin. Hoewel ’n mens nie op die vooraand van dertig tegnies aan die begin van jou loopbaan staan nie. Maar nog steeds. Mens is nooit te laat om te vorder nie. Die hoop beskaam nie. Dalk besef Beeld of Sarie nog sy is ’n ongeslypte diamant en raap haar op. Hopelik gebeur dit voordat Pers en Pressco heeltemal tot niet gaan. Of voordat sy tot niet gaan van ’n oordosis celeb-stories. Sy wil so graag iets skryf wat haar ma trots sal maak, wat Luan met ander oë na haar sal laat kyk.
Eers om sewentien minute oor twaalf, toe sy al begin wonder het of sy maar moet loop, sien sy ’n vrou effe senuagtig by die Mandela-beeld rondstaan. Moet sy wees, dink Andi. Sy’s nie Japannees nie en toon geen belangstelling in die beeld of die duiwe nie. Andi stap na die vrou toe. Wat moet sy vir haar sê? Sy was nog nooit in so ’n situasie nie. Sal sy langs haar gaan staan en “Alpha Charlie Echo 27” fluister en wag dat die vrou ’n aktetas neersit?
Maar dis die vrou wat eerste met haar praat. “Jy’s van Pers,” sê-vra sy.
Andi knik net. Sy weet nie wat die protokol is en wanneer sy mag praat nie.
Die vrou kyk senuweeagtig om haar rond asof sy wil seker maak niemand het haar agtervolg nie. “Kom ons gaan sit iewers,” sê sy.
“Chiradelli’s is lekker,” sê Andi en wys na die restaurant aan die regterkant van die Mandela-beeld.
“Goed, net vinnig,” sê die vrou.
Hulle gaan sit en bestel elkeen ’n cappuccino. Andi maak haar notaboekie oop en kry haar pen reg.
“Nee,” sê die vrou, “nee, jy kan niks hiervan skryf nie.”
Andi maak die boekie weer toe en sit die pen neer, maar sy haal een van haar besigheidskaartjies uit en gee dit vir die vrou. “Hou dit,” sê Andi, “as jy ooit weer met my wil kontak maak of besluit jy wil op die rekord praat.”
Die vrou bêre die kaartjie in haar handsak en leun dan vooroor. “Wat ek jou nou gaan vertel,” sê sy, “jy kan niks daarvan skryf nie. Ek praat anonymous. Jy sal self moet investigate.” Sy lyk maar ’n bietjie gehawend. Myle op, soos Wendy sal sê. Iets in die veertig, mooierige lyf, maar te stywe jeans en luiperdvel-top. Lang, pikswart, grasserige hare.
“Dis reg,” sê Andi, “vertel eers. Ons kan later uitsorteer wat en hoe ek dit kan skryf.” Sy steek haar hand uit. “Ek is Andi,” sê sy. Die vrou druk haar hand sag. “Noem my maar Mandy. Ek kan nie my regte naam vir jou gee nie.” Iets sê vir Andi dis nie die eerste keer dat Mandy hierdie skuilnaam gebruik nie ...
Sy haal ’n sigaret uit ’n Rothmans-boksie en steek dit aan. Sy trek diep in en die kooltjie gloei lank voordat sy die rook uitblaas. “Ek is Jack se girlfriend,” sê sy met rook wat by haar mond en neus uitborrel en voeg dan bitter by: “Obviously nie die enigste een nie.”
Andi sê niks nie en laat Mandy verder praat. “Ek is ’n manager by Bokjol.” Dis een van Greeff se gewilde Afrikaanse nagklubs in Germiston. “Ons is al jare lank aan en af saam – lank voordat hy en die pop ’n ding begin het.” Met “pop” verwys sy na Emma.
Ag tog, dink Andi, haar wonderlike Watergate-skandaal is ’n smetstorie oor Jack Greeff se grillerige liefdeslewe. En haar bron is ’n middeljarige vrou wat lyk of sy te veel brandewyn en Coke en luiperdmotief-klere deel van haar bestaan maak. Maar Andi hou haar pose. Sy kan nie vir die vrou wys sy’s teleurgesteld in haar storie nie.
“En ek’s nie die enigste een nie, hoor,” vertel die vrou verder. “Almal in die business weet Jack het ’n girlfriend by elkeen van sy klubs.”
“En hoekom wil jy hê ek moet daaroor skryf?” vra Andi versigtig. Sy moet nou agterkom wat Mandy se motiewe is.
“Ek is moeg daarvoor om ...” Terwyl sy woorde soek, daag hul cappuccino’s op. Die vrou gooi twee teelepels witsuiker in. Andi wik en weeg tussen die bruinsuiker en die Canderel, maar vat dan maar die Canderel. Sy moet kilojoules spaar waar sy kan. Die hopie poeier gaan lê fyn en wit op die skuim.
“Jy is moeg daarvoor om?” herinner Andi haar aan wat sy nou-nou wou sê.
“Om ... dat die wêreld dink hy’s hierdie goody two shoes when meantime, back at the ranch ...”
“Maar Mandy,” vra Andi, “as jy nie jou naam of jou storie op die rekord wil gee nie, gaan die wêreld dit nooit weet nie”. Dis nou natuurlik as die wêreld hoegenaamd wil weet, dink Andi, maar sy sê dit nie.
Die reuk van koffie en rook laat haar dink aan Stefan, die fotograaf wat sy ’n paar jaar terug gedate het. Hulle het aande om gesit en gesels en hul drome saam met die stoom van koffie en rookkringetjies van sy sigarette die nag ingestuur. Teen die einde kon sy nie meer sy rokery vat nie; ook nie sy gebrek aan ambisie nie.
“Ek sê mos,” sê Mandy geïrriteerd en bring Andi terug na die hier en nou, “jy moet net bietjie research doen, met van die ander mense by die klubs gaan praat”.
“En wat gee jou die idee húlle gaan wil praat?”
“Jack het baie vyande.”
“Baie mense het baie vyande.”
Mandy gryp haar handsak en vlieg op. “Ek moes nie gekom het nie. Jammer ek het jou tyd ...”
Andi spring ook op. “Nee, wag, wag, Mandy,” sê sy. Die joer-nalis in haar neem nou oor. Netnou hét die vrou ’n storie. En die vet weet, Andi kort een.
Mandy gaan sit teësinnig.
“Ek’s jammer,” sê Andi, “kom ons begin oor. Vertel my weer van die verhouding tussen jou en Jack.”
Mandy steek nog ’n sigaret aan en sit terug in haar stoel. Sy’s nou bietjie beneuk, sien Andi, maar sy praat darem. “Ek werk my lewe lank al in nagklubs. Eers as waitress, later stripper, barlady ...” Sy swaai haar sigaret rond om die drie van mekaar te onderskei. “Ek ken al vir Jack vandat hy die business gejoin het – al meer as tien jaar. Toe Bokjol oopgemaak het, het hy my ’n break gegee en my manager gemaak. Ek meen, ek ken die industry.”
“En wanneer het julle verhouding begin?” vra Andi.
Mandy skud eers die as in die asbakkie af en gooi haar hare terug voordat sy antwoord. “Who knows?” Sy glimlag bitter. “In hierdie business blur die lyne baie maklik, if you know what I mean.”
“Maar julle het ’n regte verhouding gehad?” sê-vra Andi, en probeer hard om nie wantrouig of skepties te klink nie.
“I had no sexual relations with that man,” sê sy in ’n Amerikaanse aksent om president Clinton in sy Monica Lewinsky-skandaal na te maak. Sy lag. “Ja, ons het ’n regte verhouding gehad, wat de hel dit ook al beteken. Hy’t my die maan en die sterre belowe. Gesê hy gaan my uit die besigheid kry, my help om ’n dansskool te begin. Ek het amper my Teachers in Modern, hoor. Ja, en fool wat ek is, het ek hom geglo.”
Sy val met haar elmboë vooroor op die tafel. “Kyk, ek het nooit gedink hy’s my prins charming nie. Maar hy het geld gehad, hy’t kanse in die lewe gehad, kanse wat hy vir my ook kon gee. En vir ’n meisie soos ek kom kanse nie baie verby nie.”
“Maar jy sê hy het ander meisies ook gehad?”
“Ja, ek dit iewers along the line agtergekom. Mens weet mos, maar jy wil nie sien nie. Denial is a river in Egypt.” Sy lag. “Maar toe ek hoor van die engagement, ’n dag nadat hy die vorige aand nog by my was. Toe’s dit net too much. Toe besluit ek om die beans te spill.”
“Hy’t jou nie vertel nie?” vra Andi.
“Not a word. Ek moes dit deur die grapevine hoor.”
“En julle het nog steeds ’n verhouding?”
“Nee, is jy mal? Ek het hom in sy moer in gestuur!” Mandy vat ’n slukkie cappuccino. Die skuim gaan sit in ’n fyn lyntjie bo haar donker lip-omlyner. “Dis nog fine wat hy met my gedoen het en met van die ander girls. Ons ken van. Ons kan die punch vat. Maar hierdie ...”
“Emma,” help Andi haar.
“Hierdie Emma,” sê Mandy, “sy’s ’n jong chickie. Onskuldig. Ons kan nie dat die dirty old man sy kloue in haar kry nie.”
Andi besef Mandy se motiewe is waarskynlik eerder wraak as die beskerming van Emma, maar sy sê dit nie.
“Mandy, dit help Emma niks as jy nie op die rekord praat nie. Ek kan nie ’n berig skryf wat Jack Greeff belaster en sê die bron is naamloos en die besonderhede vaag nie.”
“Dis hoekom ek vir jou sê: gaan check dit uit. Gaan kyk wat in daai clubs aangaan. Julle’t nie ’n clue nie.”
“Wat? Wat gaan nog daar aan? Is daar meer as net sy verhoudings?”
Mandy kyk af. Sy druk die sigaret dood, vlieg op en gryp haar handsak. “Ek sê nou niks meer nie. Gaan kyk. Dis al.” Sy swaai om en haar hakke klik-klak oor die plaveisel soos wat sy haastig wegstap.
“Wag!” roep Andi en hardloop agterna. “Jou nommer!” roep sy terwyl sy haar notaboek oopmaak om te skryf. Mandy gryp haar notaboek vas en kyk haar indringend aan. “Dis die laaste keer dat jy met my praat. Investigate, en jy sal verstaan hoekom.” Sy trippel weer weg. Andi kyk haar agterna. Dan stop sy en draai stadig om. “En Andi,” sê sy met ’n vreemde mengsel van vrees en iets anders, wat Andi nie kan plaas nie, op haar gesig, “watch your back.” Dan verdwyn sy in die massas.
Die middag na werk maak sy ’n draai by Saktyd. Dit is in Pressco se gebou en is ’n kroeg waar joernaliste na werk bietjie kan hare losmaak. Dis die een enkele voordeel wat hulle het wat Beeld se joernaliste nie het nie.
In Mediapark is kantienkoffie die sterkste drink wat mens kan kry.
Toe sy by Saktyd instap, sien sy dadelik vir Luan by ’n groep joernaliste sit. Hulle maak oogkontak, maar hy groet haar nie. Hy hou aan gesels met die ander joernaliste asof hy haar nie gesien het nie.
Nadat sy vir haar ’n Savanna Dry bestel het, roep een van die ander joernaliste in Luan se groepie Andi om by hulle te sit.
“Haai,” groet Luan haar toe sy by hulle aansluit. Hy’s kil. Niks van die vroeëre flirtasie nie.
“Haai,” sê sy koud terug. Die aaklige man. Wanneer hulle alleen is, is hy vriendelik en verleidelik, maar voor ander, heeltemal saaklik. Veral voor hierdie groepie: dit is net mense van Die Landstem en ander ernstige Engelse joernaliste. Almal übercool en trendy met retro-baadjies en vierkantige brille, gereed om die wêreld te verander. Sy’s die enigste een met make-up.
Luan en een van die mans is diep in gesprek oor die ANC-jeugliga en Julius Malema se invloed op die president, die kabinet en die regering.
“Wat ons nie uit die oog moet verloor nie ...” hoor sy Luan sê. Sy wens sy kan hom uit die oog verloor. Ja, dis presies wat sy gaan doen, dink sy en vat ’n groot sluk Savanna. Vir mans wat so aan en af, warm en koud is, het sy nie tyd nie.
“Met watter stories is jy besig, Andi?” vra een van die joernaliste haar.
“Jack Greeff,” antwoord sy.
Die een ou, so ’n groot ou buffel, bars uit van die lag. “Is jy for real?”
“Andi is Pers se vermaakverslaggewer,” sê Luan.
Die buffel lag hom slap. “So jy kan vir ons Brangelina en TomKat se kinders in alfabetiese volgorde opnoem?” vra hy.
Almal lag, insluitend Luan. Andi glimlag net selfbewus. Dan kom Kara ingestap. Luan se lag sit om in ’n verheugde glimlag toe hy haar sien. “Kara,” sê hy, “kom sit.”
Sy gaan sit reg langs hom en flits vir hom haar perfekte ortodontis-glimlag.
“Jou rubriek oor Kenia was skitterend,” sê hy.
Andi voel of die hele Kenia op haar geval het. Sy drink haar Savanna so gou moontlik op. Toe sy opstaan, wil die een joernalis weet: “Haai Andi, waai jy nou al?”
“Ja,” sê sy, “dis sewe-uur E! True Hollywood Story oor Charlize. As Pers se vermaakverslaggewer kan ek dit nie mis nie.” Hulle lag vir haar grappie, maar Luan kyk nie eens op nie. Hy’s diep in gesprek met Kara.
“Baai,” roep Andi in die uitstap, maar hy hoor haar nie. Al wat hy hoor, is Kenia en Kara en haar blink, glimmende hare. En al wat Andi hoor, is haar selfbeeld en hart wat soos ’n geprikte ballon bars.
Die aand lê sy voor die TV in haar klein eenslaapkamer-woonstel in Melville.
Dis nou nie juis wat mens die ideale woning vir ’n loopbaanvrou op die vooraand van dertig sou noem nie, maar dis darem iets en dis darem haar eie.
Daar’s nie regtig ’n E! True Hollywood Story op TV vanaand nie. Sy kyk haar Life is Beautiful-DVD; die Italiaanse een met die Engelse onderskrifte. As sy voel soos sy vanaand voel, is dit al wat help. En vanaand kan selfs Roberto Benigni haar nie opcheer nie. Sy kan nie ophou dink aan Luan nie. Hoe kon hy so gemeen wees? Hoekom het hy hoegenaamd met haar begin flirt as hy van plan was om haar later net te ignoreer? En hy het nie eens vir haar opgekom toe daardie aaklige man met haar gespot het nie.
As hy net nie met haar begin flirt het nie, sou dit haar nie soveel gepla het nie. Dan sou sy nie verwag het dat hy haar moet raaksien nie. Om die waarheid te sê kan sy nou nog nie glo dat hy haar raaksien nie. Sy sou heel tevrede deur die lewe kon gaan met die wete dat hy haar nooit gaan raaksien nie. Van ’n afstand af sou sy hom eenvoudig kon bewonder. Maar toe moet hy met haar begin flirt en die behoefte by haar skep om verder mee geflirt en raakgesien te word.
Dis amper soos parfuumadvertensies. ’n Mens kan heeltemal gelukkig en goed genoeg deur die lewe kom sonder Calvin Klein Euphoria of DKNY Delicious en jy sal heel lekker ruik en goed voel en ’n man en kinders kry en gelukkig aftree. Maar dan wys die parfuumbase vir jou advertensieborde en glansblaaie van jong vroue met wit vierkantige tande en ooprug-rokke wat sensueel in ’n appel byt of saam met ’n mooi man op ’n motorfiets ry en sonder dat jy eens weet hoe die parfuum ruik, gaan die boodskappe in jou brein af: ek wil dit hê, ek moet dit hê, ek gaan dit kry.
En voor jy DKNY kan sê, staan jy in die winkel by ’n vrou met te veel grimering en ’n wit laboratoriumjas wat aan jou bevestig dat R787.00 werklik nie ’n duur prys is om te betaal vir soenbare sensualiteit en onweerstaanbare vroulikheid nie.
Dit is presies wat mans soos Luan doen. Jy sou nooit eens verwag het dat hulle na jou kyk nie. Vir jou sou hulle net nog ’n buitensporig duur, onbereikbare parfuumbotteltjie op die rak wees. Maar dan wys hulle die glansadvertensies vir jou: hulle flirt met jou, kyk vir jou, oortuig jou dat net hulle jou kan laat voel soos ’n ware vrou. ’n Ware vrou met ’n ooprugrok en wit tande en ’n appel. En as jy weer sien, glo jy jou hele vrouwees hang van hulle belangstelling in jou af. Dis dan dat jy jou siel sal verkoop vir nog ’n e-pos, ’n sms, ’n kyk, ’n knipogie.
Andi sug. Nou wil hy Kara hê. Kara met haar blink hare en blink idees oor Kameroen en Kenia en ander Afrika-lande wat Andi nie eens kan uitspreek nie. Ag tog, sy wens sy was ook so mooi en so ’n ernstige joernalis wat oor regte dinge skryf.
Nee, besluit sy. Dis sommer nonsens hierdie. Sy ís mooi en slim en sy sal nie dat Calvin Klein of Luan Verster haar enigiets anders vertel nie. En Luan se gat. Hy was vanaand ’n wrede monster met haar. Hy kon vir haar opgekom het. Hy kon ten minste vir haar gekýk het, met haar gepraat het. Hy verdien nie haar aandag nie, hy verdien beslis nie dat sy hier lê en obsess oor hom nie.
Ja, dink sy, dis eintlik net ’n goeie ding sy’t so gou sy ware kleure gesien. Nou kan sy van hom vergeet. Hy kan maar sy glimlaggies en e-possies vir Kara hou. Sy het buitendien nie nou tyd of plek vir muisneste nie. Hierdie storie oor Jack Greeff gaan al haar aandag vereis. Aanvanklik was sy skepties, maar hoe meer sy daaroor dink, hoe meer wonder sy of Mandy, of wie sy ook al is, nie tog iets beet het nie.
Iets sê vir haar daar is baie meer aan Jack Greeff se donker kant as ’n paar ongeoorloofde verhoudings ... En sy gaan uitvind wat dit is. En dan gaan Luan en daardie aaklige ander joernalis hul woorde sluk en in hul koffie stik. Sy sal vir hulle wys sy wat Andi is, kan ’n storie uitgrawe en ’n skande oopvlek en ’n onreg ontbloot net so goed soos enige ondersoekende joernalis van Die Landstem. En dan wys sy sommer vir Paul Meintjies ook sy’s die beste ding wat nog ooit met Pers gebeur het.
Dalk moet sy en Wendy na een van Greeff se klubs toe gaan en kyk wat daar aangaan. Wendy kan enige man aan die praat kry. Sy is Andi se wilde vriendin en een van daardie vroue wat al Andi se vrese oor alles verkeerd bewys: Wendy is reeds dertig, mollig genoeg om by Donna-Claire klere te koop en is altyd in een of ander opwindende romanse gewikkel. En die interessante ding is dat sy, Donna-Claire of te not, altyd mans se koppe laat draai.
Andi en Wendy was saam op universiteit. Toe al was Andi altyd op een of ander dieet en Wendy altyd op een of ander date. Andi leef vir haar doelgewig, Wendy vir die oomblik. En vir wie het die ouens altyd gekyk as hulle na ’n nagklub gaan? Dis selfvertroue, sê Wendy.
Sy sal ook daardie ontwykende selfvertroue-ding kry as sy net haar doelgewig kan bereik, dink Andi. En in elf jaar se kompulsiewe diëtery was sy al vir presies drie en ’n half ure op haar doelgewig. Dit was met hul koshuis se jaareindfunksie op universiteit en Andi het vir twee maande lank basies net vis en groente geëet. Die dag van die formele funksie, waarvoor sy ’n supersexy ooprugrok gedra het, het sy 300 g minder as haar doelgewig geweeg. Ná die malvapoeding was dit natuurlik nie meer die geval nie.
Wendy sê sy moet nooit weer so maer wees nie. Andi het nog steeds daai ooprugrok in haar kas met die hoop dat sy wel eendag weer daarin sal pas.
Ja, sy gaan vir Wendy bel. Tussen haar selfvertroue en Andi se joernalistieke vernuf sal hulle in een aand al Jack Greeff se geraamtes en ooprugrokke uit sy kas laat dawer. Sy sms Wendy: “Wen, jy lus vir ’n party?”
Dadelik ’n antwoord: “Sê net hoe en waar, ek’s daar.”
Onnoembare Mens is monster. Gaan nooit weer met hom praat nie, e-pos sy vir Rentia.
Andi loer in Luan se rigting. Og, hy lyk so mooi vandag. ’n Groen strepieshemp wat sy groen oë beklemtoon en die grys haartjies op sy slape ...
Dis een van daardie onregverdighede tussen mans en vroue. Hoe is dit moontlik dat ’n sigbare teken van ouderdom en aftakeling soos grys hare ’n man méér aantreklik kan maak?
Wendy sê dis in ons oerbiologie ingeprogrammeer. Aangesien mans vrugbaar is tot min of meer die ouderdom van honderd en drie, soos Chris Barnard bewys het, is ouderdom eerder ’n teken van beter sekuriteit en meer standvastigheid by mans, daardie dinge wat die oer-Eva in elke vrou aantrek. By vroue, aan die ander kant, is elke teken van ouderdom ’n bewys van afname in vrugbaarheid. Iets soos grys hare by ’n vrou is dus die ekwivalent van ’n waarskuwing wat lui: my vrugbare selle is feitlik op. Daar’s nog ’n paar oor, maar die kans op genetiese afwykings is groot.
En op die ou end, sad but true, is dit, ten spyte van wat almal sê oor intelligensie en ’n goeie sin vir humor, al wat mans en vroue in mekaar soek: vrugbaarheid.
Andi kyk weer vir Luan. Te oordeel aan haar behoefte om sy groen hemp van sy lyf af te ruk, moet hy vir die oer-Eva in haar besonder vrugbaar en standvastig lyk. Hmm, sy wonder hoe sal dit voel om ...
Nee, nee, nee, gil sy innerlik vir haarself en draai terug na haar rekenaar. Sy gaan nie vir hom kyk nie, sy gaan nie aan hom dink nie. Dis totale loser-gedrag. Fokus, fokus, fokus. Op werk.
Sy moet besluit of sy met Paul oor haar Jack Greeff-storie gaan praat. Aan die een kant wil sy vir hom wys hoe sy inisiatief kan neem en ’n groot storie kan raaksien (waar daar hopelik een is). Aan die ander kant is sy bang hy lag haar af en dink sy mors kosbare maatskappytyd op nonsens. Sy dink sy moet maar die kans waag. In vanoggend se redaksievergadering sal sy sien in watter bui is hy.
Geel koevertjie van Rentia: Hoekom? Wat het hy gedoen? Ons moet kuier dat jy my kan vertel.
Nog ’n geel koevertjie. Weer Rentia:
2 Fizzers
’n Driekwart doughnut
2 toasted cheese (= 4 snye brood!!!!)
3 rooiworsies
4 Melrose-kasies
25 Endearmints
’n Halwe pak cream cheese & chives chips van Woolies
1 pienk cupcake
Dit is wat ek gisteraand geëet het. Ek gaan ’n obese bruid wees.
Andi lag. Sy het nie gedink dit is moontlik nie, maar Rentia het nog ’n groter obsessie met haar doelgewig as sy.
Wetenskaplik onmoontlik vir liggaam om soveel kilojoules op een aand te absorbeer. Dus tel net die Fizzers, die rooiworsies en 11 van die Endearmints, skryf sy terug.
Nog ’n geel koevertjie. Sy dink dis weer Rentia, maar toe sy haar inboks oopmaak, jubel haar hart. Luan Verster
Ek wag nog vir my vergoeding ...
Andi is lus en vlieg op en gil kliphard vir die hele kantoor: Ek ís ’n onweerstaanbare godin! Ek ís! Kom kyk, hier’s die bewys! Haar hart klop so dat sy dadelik doof word. Sy hoor nie meer telefone of joernaliste wat op polisiewoordvoerders skree of die rookkamer se deur wat oop en toe gaan nie.
Sy druk “reply” om ’n boodskappie terug te tik, maar dan maak sy die boodskap toe. Nee, sy moet hom eers laat wag. Eintlik, ná sy laakbare gedrag gisteraand, behoort sy glád nie te antwoord nie. Maar sy weet nou al sy gaan.
Vir sekere mans kan mens net nie nee sê nie. Daar het nog baie min sulke mans oor Andi se pad gekom. Daar was al ’n hele paar vir wie sy die koue skouer gegee het, soos die fotoredakteur by die Benoni Advertiser. Almal het geweet hy was agter haar aan. Die feit dat hy vyf en veertig was en nog by sy ouers gebly het en sy kantoor altyd na rook en ou kos geruik het, is nie hier ter sprake nie. Die punt is dat sy vir hom nee gesê het. En dan was daar goeie ou Rian wat vir haar ’n bos heliumballonne vir Valentynsdag gebring het. Teen die tyd dat sy uitgevind het hy’t dit die vorige aand by die Oregon Spur gesteel, het sy gelukkig klaar vir hom nee gesê. Daar was ook die griffier van die hof, wat eintlik baie sweet en heel normaal was en als, behalwe nou vir die ...
“Andi!” ’n Verslaggewer pluk haar aan die skouer. “Hemel, is jy doof?”
“Wat?” roep sy verskrik uit. O, hel, sy’t regtig tydelik doof geword.
“Dis nuusvergadering. Paul wil weet waar jy is.”
“O, flip.” Sy gryp haar dagboek en ’n notaboek en pen en laat spaander. Op pad soontoe kyk sy op haar horlosie. Dis al twintig voor tien. Nuusvergadering begin half.
Paul gluur haar aan toe sy insluip, maar sê niks nie; draai net die punte van sy snor.
“ ’Skies,” mompel sy toe sy gaan sit.
“Petro,” brom Paul, “sal jy vir ons kyk na daai ongeluk op die N1? Daar was ’n fotograaf op die toneel. Kry jy net die amptelike kommentaar.”
Andi raak paniekerig. Paul is besig om by die ry af te gaan om te hoor watter stories almal vir die dag op hul lys het en sy het niks nie! Sy wou nog voor die nuusvergadering ’n paar storie-voorstelle naderskraap, maar die tyd het toe so vinnig verbygegaan en met Rentia en Luan ... Flip. Sy beter nou vinnig iets uitdink. Paul trek nou al by Leandré hier langs haar. “Ek gaan weer hof toe. Daardie hangmoordsaak kom weer voor,” sê Leandré.
“Ja,” sê Paul, “jy moet daai een maar hard slaan. En vat ’n fotograaf saam. Ons moet regtig probeer om ’n foto van die man te kry.”
Dis nou haar beurt, besef Andi in ’n warm gloed van paniek. Sy gee voor dat sy verdiep is in haar dagboek om ’n paar sekondes te koop.
“Wat het jy vir ons, Andi?” vra Paul en hy klink baie onvriendeliker as die woorde van die sin.
Dit gebeur soms dat ’n mens antwoord met “niks” en dan kry jy een of ander vervelige Departement van Maatskaplike Ontwikkeling-funksie of bekendstelling om by te woon, maar Andi weet sy skaats al ’n ruk lank op dun ys. Sy weet en Paul weet sy durf nie vandag met “niks” antwoord nie.
Daar is nie ’n ander uitweg nie. Sy sal moet vertel van die Jack Greeff-storie.
“Um ... ek het hierdie storie waaraan ek werk,” begin sy.
“Ja?” dreun Paul ongeduldig.
“Dis oor Jack Greeff.”
“Maar ons het mos klaar ingehad dat hy gaan trou. Wat is dit nou?”
“Ek het ’n wenk gekry. Um... van ...”
“Hemel Andi, sê dit net! Ons kan nie heeldag hier sit nie!”
“Dis ingewikkeld. Ek doen ’n hele ondersoek eintlik.”
“ ’n Hele ondersoek?” vra Paul. “Oor Jack Greeff?”
“Ja.” Sy sê eerder niks meer nie. Dis nou ’n geval van less is more.
“Goed,” sug Paul met wat net beskryf kan word as bewonderenswaardige selfbeheersing.
Toe die nuusvergadering verby is en sy haar notaboek en dagboek bymekaarskraap om op te staan, sê Paul: “Andi, kom sien my gou, asseblief.”
Sy gaan staan voor sy lessenaar terwyl hy lewensmoeg in sy stoel neerval.
“Hemel, Andi.” Hy sug. “Kan jy nie eerder vir ons ’n 7de Laan-storie uitkrap nie? Is Steve nie besig met ’n outobiografie nie? Dagvaar ’n minnares hom nie weer vir iets nie?”
“Ek weet hierdie klink so ... ek wéét,” smeeksê sy. “Maar ek het ’n gevoel oor hierdie storie, Paul, ek dink dit kan iets ...”
Hy onderbreek haar met ’n mengsel van moedeloosheid en woede. “Jy’s ons vermaakverslaggewer, Andi, nie ’n lid van Die Landstem se ondersoekspan nie.”
“Ja, Paul,” is al wat sy kan sê.
“En al was jy ’n lid van die ondersoekspan, sal ons nie ondersoektyd mors op iemand soos Jack Greeff nie.”
“Goed, Paul.”
“Doen nou jou werk en kry vir my skinder en skandes oor sepie-akteurs.”
“Maar ...”
Paul sis. “Asseblief, Andi. Die koerant is op sy laaste bene. En een van daai bene is celebs. Ek kan nie dat jy ...”
Hy sê nie die dreigement hardop nie, maar Andi verstaan hard en duidelik: as sy nie vinnig genoeg celeb-verhale kan produseer nie, sal hulle haar vervang met iemand wat kan.
“Ek voel oud!” skree Andi vir Wendy bo die oorverdowende gedawer van “Rooi rok bokkie”.
“Jy’s gek!” skree Wendy terug terwyl sy Andi vasberade aan haar arm deur die klub sleep. “Hoeveel keer moet ek vir jou sê dertig is die nuwe twintig?”
“Wel, dit lyk my ons is die enigste nuwe twintigs hier. Die ander is almal die oorspronklike twintig.”
Hulle is in Bakgat, een van Jack Greeff se gewilde klubs in Benoni. Andi was jare laas in ’n nagklub. Die gemiddelde ouderdom hier lyk omtrent sewentien.
Wendy het voor die tyd na haar woonstel gekom sodat hulle saam kon aantrek en mekaar kon help om so jonk en sexy moontlik te lyk. Die resultaat is Andi in skinny jeans (nie ’n nommer tien nie), ’n lang pienk top en ’n breë swart belt styf om haar middellyf (die eighties is terug). Wendy het ook vir haar ’n indrukwekkende middellyf geprakseer met ’n swart korset en romp. Die belt en die korset is die gevolg van ’n nuwe obsessie van Wendy: die waist hip ratio. Sy’t dit iewers raakgelees. Daarvolgens moet ’n mens altyd, en in alle omstandighede, ongeag mode of figuur, die verhouding tussen jou middellyf en heupe beklemtoon. Andi is oortuig haar lyf het in haar laat twintigs meer peervormig geword. Volgens Wendy is dit ’n goeie ding.
Terwyl hulle aangetrek het, het Wendy haar vertel dat mans biologies meer aangetrokke is tot vroue wie se middellyf kleiner is in verhouding met hul heupe. Mens noem dit die waist hip ratio. “Dis sielkundig,” het Wendy verduidelik. “Dit gaan terug na hul grotmandae. Vroue met middellywe wat klein is in verhouding tot hul heupe, was nog altyd van nature meer vrugbaar.”
En hier stap sy nou met haar waist hip ratio só gedefinieer dat sy nie verbaas sal wees as elke liewe grotman uit sy grot kruip en bo-op haar kom spring nie. Eintlik, moet sy erken, het sy gedink sy lyk nogal hot. Totdat sy hier gekom het en gesien het hoe lyk hot. Hierdie sewentienjariges se middellywe is nie net beklemtoon nie, maar ontbloot. En plat. En dún.
Hulle gaan sit by ’n tafeltjie. Dis nou eers agtuur, so daar’s nog nie so baie mense nie. Hierdie klubs kry eers teen tienuur lewe. Andi hoop dit gee hulle kans om met ’n paar mense te praat. Sy gee nie om wat Paul Meintjies sê nie. Hierdie is ’n groot storie, sy voel dit aan, en sy gáán hom loskry. As hy nie wil hê sy moet dit in werktyd doen nie, doen sy dit in haar vrye tyd.
Wendy gaan bestel vir hulle iets by die kroeg. Andi hou vir hulle plek by die tafeltjie. “Want jy’s my rooi rok bokkie ... ah-ah-ah” sing die Campbells voort. Op die “ah-ah-ah” maak almal op die dansvloer dieselfde suggestiewe pelvisbewegings. ’n Paringsdans, dink Andi. Soos die volstruise. Sy wonder wat die volstruise sou dink as hulle hierdie klomp kon aanskou. As hier nou ’n National Geographic-kameraspan was wat ’n dokumentêr gemaak het oor die voortplantingsrituele van Die Mens, sou die kamera op die meisies se polsende heupe gefokus het en die diep vertellerstem sou in ’n Amerikaanse aksent in ’n strelende stemtoon gesê het: “The female exposes and accentuates her hip waist ratio to show off her fertility in order to attract the male.”
Wendy kom terug met hulle drankies. Twee pienk Cosmopolitans, hul gunsteling. Andi vat ’n groot sluk. Sy gaan haar bloedalkoholvlakke moet opstoot om deur hierdie nag te kom.
“Hoekom is ons sulke oerdiere, Wen?” vra Andi.
“Wat? Waarvan praat jy? Kyk hoe ver is ons ontwikkel. Kyk net na daardie fine specimen van ’n geëvoleerde mens ...” en sy wys na ’n middeljarige man wat met ’n oopgeknoopte hemp onder ’n neonlig ronddans terwyl ’n goue ketting tussen sy borshare rondbons.
Andi lag. “Asof ons enigsins beter is. Kyk hierdie hideous belt om my middellyf. Om my vrugbaarheid te beklemtoon.”
Wendy lag. “Jy sal net dink dis hideous totdat Luan jou daarin sien en nie sy oë of hande van jou vrugbare lyf kan afhou nie.”
Andi het vroeër, terwyl sy en Wendy by haar woonstel aangetrek het, vir Wendy van Luan vertel.
Wendy het gesê sy moet met elke moontlike geleentheid met Luan flirt, want “om te flirt is vroulik,” het sy gesê. “Om te flirt help jou om in jou vroulike energie in te tap.”
Maar wat daarvan dat hy nou die aand so lelik was en haar geïgnoreer het? wou sy by Wendy weet. Wendy het gesê dis heeltemal verstaanbaar, aangesien Pressco kantoorromanses verbied. “Hy wou julle bloot al twee uit die moeilikheid hou,” was Wendy se verduideliking. “Jy behoort hom te bedank, nie te ignoreer nie!”
En toe hét sy hom vandag geïgnoreer. Nie omdat sy die nodige selfbeheersing toegepas het nie, maar omdat sy so besig geraak het met 7de Laan-skandes uitkrap en stres oor vanaand dat sy nooit eens op sy e-pos gereageer het nie.
Maar daaroor hoef sy ook nie te stres nie, het Wendy gesê. Want die beste ding wat ’n mens met ’n man kán doen as jy van hom hou, is om hom te ignoreer. Dis gek, maar dit werk, sê Wendy. So vandag het sy dit per ongeluk reggekry.
“Ek sou verkies om te dink Luan hou van my vir my fassinerende intellek en warm persoonlikheid,” sê Andi waar hulle by die tafeltjie in Bakgat sit.
Wendy lag. “An, dit help nie jy probeer van jou lyflikheid ontsnap nie.”
Wendy gebruik woorde soos “lyflikheid”. Sy stry haar hele volwasse lewe teen Calvinisme en het hier teen nege en twintig die stryd begin oorwin. Andi bewonder haar daarvoor, maar raak deesdae ook bekommerd oor Wendy se “lyflikheid”. Sy’t omtrent elke week ’n ander boyfriend. En ja, sy vat hulle bed toe. “En dan neem hulle my na allerhande wonderlike plekke toe,” is Wendy se standaard-antwoord met ’n vonkel in die oog.
“So hoe gaan dit met jou lyflikheid?” vra Andi.
“Uitstekend,” antwoord Wendy met twee duiwels wat dans in haar oë. Wendy het wilde, rooi krulhare en die mooiste groot, groen oë.
“Ek’s te bang om te vra, maar sê maar,” sê Andi en vat nog ’n sluk Cosmopolitan.
Wendy lyk sowaar vir ’n oomblik iets soos skaam en vryf ’n paar keer met haar vinger oor die rand van haar cocktailglas. “Hy’s sewe en veertig, ’n chemiese ingenieur, lank, sterk, straight, baie straight ...”
Andi kan aanvoel daar’s ’n maar. Aangesien Wendy dit duidelik nie self gaan sê nie, sê sy dit. “Maar?”
Wendy haal haar vinger van die glas af, gooi die helfte van die inhoud in haar keel af met haar kop ver agteroor en sit die glas hard neer voordat sy Andi waterpas in die oë kyk en sê: “Hy’s getroud.”
Wat Andi banger maak, is nie wat Wendy so pas gesê het nie, maar hoe sy gelyk het toe sy dit gesê het. Weerloos. Wendy lyk nie sommer weerloos nie.
“Hoe lank?” vra Andi.
“Al ’n paar maande. Ek wou julle eers nie vertel nie – nie gedink dit gaan hou nie, maar nou ...”
“Ai, Wen,” sê Andi.
“Moenie vir my ‘ai Wen’ nie. Daar’s niks om oor te ‘ai’ nie.” Sy sluk nog van die Cosmopolitan weg voor sy voortgaan: “Ek het ’n wonderlike tyd saam met hom. Ek leer, ek ervaar. Dis meer as wat mens die afgelope paar jaar van jou kan sê.”
Sy is reg. Op ’n manier beny Andi Wendy se sedelose bestaan. En Andi weet, al wat háár daarvan weerhou, is vrees, nie ’n onwrikbare morele kompas nie.
“Dis net,” begin Andi versigtig, “getroude mans ...”
Wendy maak die sin klaar: “... gebruik mens net?” Sy lag. “Andi, dit kan net gebeur wanneer vroue hulle láát gebruik. Ek gaan nie in slagoffer-mode in nie. Vir al wat jy weet, gebruik ek hom.”
Andi lag. “Is dit so?”
“Hy sê self so,” sê Wendy. “Hy sê ek gebruik hom net vir seks.” Sy giggel. “Hy’s nogal needy.”
“Hoe kry jy dit reg?”
“Wat?”
“Om so blasé te wees oor mans. Dis hoekom hulle nie genoeg van jou kan kry nie!”
“Selfvertroue, An, selfvertroue. Jy moet hulle altyd herinner húlle is die gelukkige party en jy die gesogte een.” Wendy kry ’n wilde kyk in die oë. “Watch and learn,” sê sy. Andi is onmiddellik bang.
’n Ent verder sit ’n trop wilde mans by ’n tafeltjie. Andi sweer hulle is niks ouer as vyf en twintig nie. Sy gryp Wendy aan die arm en druk haar kop voor haar in om te keer dat sy hoegenaamd oogkontak met een van daardie mans maak. “Wendy, nee. Nee! Asseblief!”
Wendy ruk haar arm los. “An, dis nou te laat om my te probeer keer. Jy’t hiervoor gevra. Jy was die een wat gesê het ek moet jou vanaand kom help.”
“Ja, maar met regte kontakte. Nie ’n spul testosteroongedrewe melkbaarde nie!”
“Die beste soort, sê ek.”
Andi probeer nog keer, maar dis klaar te laat. Wen het oogkontak gemaak. En nou is daar geen keer nie. Andi sien hoe die een ou vir hulle knipoog. Sy hoor die National Geographic-stem sê: “And the female’s waist hip ratio has caught a male’s attention.”
Wendy neem ’n verleidelike sluk van die Cosmopolitan sonder om haar oë van die jongeling weg te skeur. Uit die hoek van haar oog kan Andi sien die een glimlag breed vir haar. “The male exposes his teeth to attract the attention of a female.”
Andi wil weghardloop. Sy wil nie paar nie. Nie nou nie. Nie ooit nie. Nie met Luan nie. Nie met hierdie iemand nie. Met niemand nie.
Twee van die outjies het nou opgestaan en pyl op hulle af. Ag nee asseblief, liewe jirretjie tog, nee. Sy gryp haar handsak. “Ek gaan badkamer toe,” skree sy vir Wendy in die weghardloop.