Читать книгу Skoonlief en die dirigent - Marijke Greeff - Страница 3
1
Оглавление“Dit sal die verdomde dag wees!” Nina bewe van verontwaardiging en gooi die vlegsel waarmee sy ingedagte staan en speel het, vererg terug oor haar skouer. “Dis heeltemal buite die kwessie – ek gaan nie lyfwag speel vir die een of ander pretty boy wat ’n lewe maak deur konsert te hou nie!” ’n Verblindende woede stoot in haar bors op en kom sit in ’n hittevlaag net onder haar wangbene. “Ek het baie belangriker goed om te doen as om ’n wildvreemde mansmens se hand te sit en vashou terwyl hy die rykes en beroemdes van die stad vermaak. Hoekom moet hy in elk geval opgepas word? Ek is seker dis net die kunssinnige bleeksiele wat na sy konserte gaan kyk.” Sy snork verontwaardig. “Geen gevaar daar nie!”
“Ek dink nie jy verstaan mooi nie.” Patrick se donker oë gloei in sy bleek gesig en Nina weet uit jare lange ervaring dat wanneer haar broer se gesig so lyk, dit ’n seker teken van groot moeilikheid is. Sy onderdruk egter die ritseling van vrees in haar binneste en gooi haar skouers agteroor. Sy gaan nie nou ingee nie. Sy het te hard gewerk om te kom waar sy is om haar nou goedsmoeds in so ’n belaglike situasie te laat inboelie. Buitendien, haar intuïsie sê vir haar sy is uiteindelik op die spoor van die meesterbrein agter die groot dwelmnetwerk.
“Ek is ’n speurder in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, nie ’n lyfwag nie. My posisie in die misdaadondersoekdiens is iets waarvoor ek baie moes opoffer, dit het nie in my skoot geval nie. Ek is besig om ’n belangrike saak te ondersoek, ek het nie tyd om die een of ander dirigent se hand vas te hou nie.”
“Die belangrike saak waaraan jy kwansuis werk, is afgehandel, die dossier is gesluit, en die dirigent van wie jy so neerhalend praat, is ’n internasionale superster.”
Nina rol haar oë. “Gmf! Soveel te meer rede om vir die man professionele beskerming te kry en nie ’n oorwerkte speurder nog meer te oorlaai nie.”
“Nina, jy is besig om my geduld tot die uiterste te beproef!” Patrick se stem klap soos ’n sweep. “Jy is oorwerk omdat jy jou neus indruk waar dit nie hoort nie en dit veroorsaak dat jy perspektief verloor!”
Nina se kop ruk op. “Perspektief verloor?” Sy gee twee treë en dan staan sy reg voor Patrick se lessenaar. Sy druk haar handpalms op die blad voor haar en leun vorentoe. “Wie is die een wat eintlik perspektief verloor? Het jý vergeet dat jy jou jongste broer net ’n paar maande gelede in ’n lykshuis moes gaan uitken?” Die bewing in haar bene slaan in haar stem deur. Sy buk nader en druk haar gesig byna teen haar broer s’n. Sy sluk vererg aan die knop in haar keel. Sy sal nié huil nie! Sy sal sterk wees ter wille van Damian.
“Dis nou genoeg!” Pat slaan so hard met sy vuis op die lessenaar dat die papiere voor hom wip. Hy staan so vinnig op dat sy stoel agter hom omslaan. “Selfs die feit dat jou pa in die polisiediens was, en al jou broers steeds hier diens doen, gaan jou nie nou help nie, Nina. Ek is jou bevelvoerder en ek beveel jou om hierdie opdrag nougeset uit te voer. Doen dit nie, en jy sal die gevolge dra.”
Nina verstyf. “Watter gevolge?”
“Jy sal die res van jou loopbaan in die polisiediens agter ’n lessenaar in ’n kantoor slyt. Dis te sê as jy nie oneervol uit die diens ontslaan word nie.”
“Maar –”
“Ek het klaar gepraat, inspekteur O’Neill. Dis ’n direkte opdrag van die kommissaris dié. My hande is afgekap.” Pat tel sy stoel op en gaan sit weer. Hy lyk skielik vir Nina dodelik moeg en haar hart krimp pynlik ineen.
“Kom die bevel van die kommissaris af?” Iets in Nina se binneste gee skiet, ’n gevoel van verligting wat die trane wat sy netnou kon keer, nou onwillekeurig in haar oë laat skiet. Sy moes geweet het dat dit nie Pat is wat hierdie besluit oor haar loopbaan geneem het nie.
“Ek het vanoggend ’n lang gesprek met die kommissaris gehad.” Pat vee oor sy gesig. “Hy het ’n moeilike vergadering met die burgemeester en die regerende party agter die rug. Hulle dring aan daarop dat jy summier geskors word.”
Nina se oë rek en haar hart klop benoud in haar keel. “Ek het ’n glas bier in die man se gesig gegooi, ek het nie aan sy persoon geraak nie. Hy het geen beserings opgedoen nie!”
Pat sug. “Ja, Skoonlief, maar was dit nodig om vir die man te sê hy is slangbollie op die bodem van die see? Dit was baie erger as ’n opstopper. Dit het sy ego genoeg gekrenk om hom te noop om die saak baie hoër op te neem.”
Nina se hart verteder toe sy die troetelnaampie hoor waarop haar broers haar sedert haar kinderjare al noem. Pat is dus nie só kwaad vir haar nie. Sy frons terwyl sy probeer onthou wat sy nog alles vir Samuel Meroni gesê het toe sy ’n week gelede haar bier in sy gesig gegooi het. Sy kyk na Pat. “Hy het eers by my probeer aanlê en toe dit nie werk nie, het hy my doelbewus probeer uitlok.”
“Wat hy baie goed reggekry het.” Pat se stem is droog. “Hoekom het jy nie net omgedraai en weggeloop nie?”
Nina se hande bal in vuiste en sy kyk pleitend na haar oudste broer. “Hoe kon ek? Ek bly dink aan Damian se gesig daardie laaste oggend toe hy gesê het dat ek in die bed moet klim en dat hy die leidraad sal ondersoek.” Sy sluk. “Hy het vir my ingestaan en met sy lewe daarvoor betaal. Ek het sy gebroke weduwee se gesig voor my gesien, en toe Meroni my koggel met die polisie se voortvarendheid wat weer op niks uitgeloop het nie, het ek heeltemal beheer verloor.”
“En dit is presies hoekom jy jou vir ’n tydjie met iets anders moet besig hou.”
“Maar ek sê jou Meroni is betrokke by hierdie dwelmnetwerk op wie se spoor ons al hoe lank sit, en ek sal my kop op ’n blok sit dat hy die een is wat die lokval beplan het waarin Damian dood is.”
“Soos ek reeds herhaalde kere vir jou aan die verstand probeer bring het: die saak waarvan jy praat, is afgehandel. Die skuldiges is in hegtenis geneem, die dossier gesluit. Jy het geen bewyse teen Meroni nie, Skoonlief. Iemand met jou ervaring in die polisiediens behoort van beter te weet as om die man sommer so in die openbaar aan te vat, en dit terwyl hy in die geselskap is van prominente mense van die stad - geselskap waarvan sy verloofde en haar ouers ook deel uitgemaak het.”
Nina gaan sit met ’n plofgeluid op die stoel agter haar. Sy weet dat die slak van ’n Meroni verloof is aan die biljoenêrsakeman Douglas Thomas se dogter. “En soos gewoonlik praat geld harder as enigiets anders. Dit was natuurlik Douglas Thomas wat sy invloed by die burgemeester en wie weet wie almal nog gebruik het om my uitgeskop te kry,” sê sy hees.
“Hy is die hoofborg van die regerende party.” Pat kyk op sy horlosie. “Ek is laat vir ’n vergadering. Jou afspraak met Quinn Chauncey en die burgemeester is vanmiddag twee-uur in die Ardmere-hotel se konferensie-kamer.”
Nina se wenkbroue lig. “Die Ardmere nogal! Hoe dan anders? Ek is seker net vyfsterweelde sal vir Quinn Chauncey goed genoeg wees.” Sy laat sak haar kop in haar hande. “Hoekom moet ek so gestraf word? Die man se ego is waarskynlik groter as sy bankrekening, en nou sit ek met hom opgeskeep. Hoe gaan ek ooit weer my gesig in die teekamer wys? Die res van hierdie afdeling gaan hulle slap lag as hulle weet wat ek vir die volgende twee weke moet doen.”
Pat kyk streng na haar. “Ek hoef jou seker nie daaraan te herinner dat as jy jou vir een keer in jou lewe by die reëls gehou het, jy nie nou in hierdie situasie sou gewees het nie. O, en nog een ding: die burgemeester het versoek dat hierdie situasie nie aan die groot klok gehang word nie. Die Chauncey-span wil nie die konsertgangers afskrik deur te opsigtelike polisiëring nie.”
Pat trek sy baadjie aan. “Moenie laat wees nie. Ek het my eie loopbaan op die spel geplaas om te sorg dat jy nog ’n werk het. Ek gaan dit nie weer doen nie. Voordat jy weer die kluts kwytraak, hou in gedagte dat ek ’n vrou het om voor te sorg, en kinders wat nog universiteit toe moet gaan.” Sy stem klink afgemat en hy lyk skielik vir haar jare ouer as sy vyftig jaar.
“Nina …” Pat wag totdat sy vir hom kyk voordat hy verder praat. “Ek het ’n hele paar mense in die veld wat Meroni deurentyd dophou. As ek enigsins bewyse kry dat hy betrokke was by die bomontploffing waarin Damian dood is, gaan die aarde vir hom te klein wees – hy sal nie die lang arm van die gereg ontsnap nie.”
Nina kyk skuldig af grond toe. “Ek is jammer. Ek moes geweet het …”
Pat huiwer by die deur. “Ja, Skoonlief, jy moes geweet het. Ek weet hy was jou tweeling, maar dit beteken nie dat jy hom liewer kon hê as wat ek, of enige van ons ander broers, hom gehad het nie.” Pat glimlag. “Geniet jou vergadering met Quinn Chauncey. Ek hoor hy is nogal iets vir die oog.”
Nina kyk verontwaardig na haar broer en fladder dan haar wimpers dramaties. “O, en dit gaan die opdrag vir my soveel lekkerder maak.” Sy skop vererg teen die stoel se poot toe sy opstaan. “Ek sê nog steeds hy het geen beskerming nodig as hy net konsert gaan hou nie.”
“Hy is ’n wêreldberoemde violis en dirigent, dit is sy eerste optrede in Suid-Afrika en ek hoor sy heel grootste bewonderaar is die burgemeester se vrou.”
Nina rol haar oë. Almal in die stad weet dat die burgemeester totaal begogel is deur sy beeldskone nuwe jong vrou wat twintig jaar jonger as hy is en vir wie hy uit ’n huwelik van vyf-en-dertig jaar gestap het. “En as Mamma gepraat het, moet Pappa natuurlik spring.”
Patrick kyk na haar met geligte wenkbroue. “En dit is presies wat jy ook gaan doen. Die kommissaris het vir jou gedoen wat hy kon. Moet hom, of vir my, nié weer in ’n verleentheid stel nie.”
“Nou hoekom is jy ook in die dog box omdat ek aangejaag het?” Nina kyk met geligte wenkbroue na Tshepiso. Sy en Tshepiso werk al in ’n span saam sedert hulle albei vier jaar gelede by die misdaadondersoekdiens begin het.
Tshepiso se wit tande steek skerp af teen haar donker vel toe sy vir Nina glimlag. “Want as jy nie die bier in Samuel Meroni se gesig gegooi het nie, het ék dit sweerlik gedoen. En terwyl jy persoonlik vir Quinn Chauncey se veiligheid verantwoordelik is, sal ek en die ander lede van ’n uitgesoekte groep vir die veiligheid van die res van sy span sorg. Ek sien baie uit na hierdie opdrag. Hoe anders gaan ons ooit so naby aan ’n superster kom? Dink jy ek sal hom vir sy handtekening kan vra?”
Nina se wenkbroue wip op. “Het jy al ooit voorheen van Quinn Chauncey gehoor?”
Tshepiso kyk verontwaardig na haar. “Natuurlik! Ek is nie agterlik nie. Ek weet ook iets van kultuur af. My klein sustertjie wil so graag viool speel. Ek het al vir haar ’n DVD van hom gekoop.”
Nina kyk weg. Is sy die enigste vreemdeling in Jerusalem? “Nou wanneer is al hierdie reëlings getref dat ek niks daarvan weet nie?”
Tshepiso trek haar baadjie reg. “Terwyl jy by superintendent O’Neill in sy kantoor was, het die kommissaris ons self ingelig omtrent ons pligte vir die volgende twee of drie weke. Hierdie besoek van Quinn Chauncey het omtrent die hele stad op horings. Ek hoor dit het groot oorreding gekos om hom in Suid-Afrika te kry, en juis daarom wil die burgemeester verseker dat niks verkeerd gaan nie. Hulle wil graag hê hy moet terugkom vir nog besoeke in die toekoms.”
Nina sug effens toe sy by die luukse hotel uit die polisiemotor klim. “Nou ja, terwyl die meeste van die stad se mense snags van angs en vrees in hulle beddens bewe en onskuldige burgers dit skaars ná donker op straat kan waag soos misdaad in hierdie stad hoogty vier, laat ons ons beskeie deeltjie vir die samelewing bydra deur te hoor wat ons te doen staan om mister Chauncey se besoek aan Suid-Afrika vir hom so gemaklik moontlik te maak terwyl hy konsert hou.” Nina rol haar oë en trek skewebek. En met Tshepiso se vrolike lag in haar ore, kyk sy vas in die blouste paar oë wat sy nog ooit gesien het.
Skok ruk deur haar liggaam en sy verstar, magteloos onder die blou blik vasgevang. Maar dan draai die man sonder ’n woord om en verdwyn deur die groot glasdeur voor hulle wat geruisloos agter hom toeskuif.
“Kom, Skoonlief, ons gaan laat wees as jy helder oordag hier staan en droom.”
Tshepiso se stem dring van ver af tot Nina deur en sy skud haar kop effens om van die gevoel van onwerklikheid ontslae te raak. Wie was die man, en hoekom voel haar bene skielik bewerig ná haar onverwagse ontmoeting met daardie blou blik?
In die hotel se imposante voorportaal kyk Nina op na die reuse-dakvenster. “Wow!” Sy kyk om na Tshepiso. “Was jy al ooit in so ’n ghrênd plek?”
Dit lyk asof die hotel rondom die portaal gebou is. ’n Fontein wat oor ’n reuse-klipbal kabbel en groen plante en palms in groot potte skep ’n koel, rustige atmosfeer. Aan die een kant van die ingangsportaal skuif twee hysbakke van glas geruisloos op en af.
’n Blondine in ’n vlootblou broekpak glimlag vriendelik vir Nina toe sy voor die toonbank tot stilstand kom. “Ons is hier om –”
“Vir die vergadering saam met Quinn Chauncey. Ek weet, inspekteur O’Neill, julle kan maar deurstap. Die laaste deur aan die linkerkant van die gang.”
Nina maak haar oë groot vir Tshepiso, wat net haar skouers optrek. “Wel, wat ’n ontvangs! Selfs die ontvangsdame noem my op my naam. Dalk moet ek meer kere drank in vooraanstaande mense se gesigte gooi, dan is ek en die hele stad kort voor lank op voornaamterme.” Sy pluk die grys baadjie wat sy aanhet se pante bymekaar. “My reputasie het my blykbaar reeds vooruit geloop.”
Nina klop aan die deur waarnatoe die ontvangsdame hulle beduie het en word hartlik binnegenooi deur ’n joviale vreemdeling. “Miss O’Neill, welcome, we’ve been expecting you.” Hy hou sy hand na haar uit. “I’m Jack Chauncey. Can I offer you some refreshments?”
Daar is ’n stuk of ses mense in die vertrek en Nina verstyf toe haar blik op die burgemeester en sy sekretaris val. Die burgemeester staar streng oor sy bril na Nina. Nog ’n vreemdeling staan met sy rug na hulle voor die venster, wat op ’n binnehof met welige plantegroei en strategies geplaaste klipbankies uitkyk.
“Nee, dankie, ons is reg,” antwoord Nina namens haar en Tshepiso in Engels, en sy kan voel hoe Tshepiso se oë verwytend op haar rug brand. Nina sug onwillekeurig. Tshepiso het natuurlik lankal reeds die tafel in die hoek gesien wat kreun onder allerhande lekkernye. Sy frons en skud haar kop ongemerk vir Tshepiso toe sy omdraai. Sy wil hierdie vergadering so gou as moontlik agter die rug kry, sy wil dit nie nog verder uitrek deur vir koek en tee te bly nie!
Die burgemeester se groet is heelwat koeler as Jack Chauncey s’n. “Inspekteur O’Neill. Ek het meneer Chauncey verseker dat jy en jou span van die beste is wat ons kan bied.” Sy stem waarsku haar dat sy hom nie verkeerd moet bewys nie.
Nina knik styf. “Ek sal dit waardeer as ons kan begin met die vergadering. Ons het ’n besige skedule.”
“En ek verstaan daardie skedule is van vandag af aan my toegeken?” Die man voor die venster draai om terwyl hy praat, en Nina trek haar asem skerp in. Dieselfde blou oë wat haar netnou voor die deur so ontsenu het, vang hare vas en hou dit moeiteloos gevange. ’n Glimlag huiwer om sensuele lippe, en vir die eerste keer sien Nina die kuiltjie in sy sterk, hoekige ken. Sy hare blink blouswart in die lig wat daarop val. Hy stap stadig nader en Nina moet na hom opkyk toe hy reg voor haar tot stilstand kom. Hy hou sy hand na haar uit. “Quinn Chauncey.”
Nina lê haar hand in syne en ruk dit byna weer weg toe die aanraking met sy warm vel ’n rilling teen haar rug af stuur. Sy hand vou egter in ’n stewige handdruk om hare en sy kan net magteloos in sy blou oë opstaar.
“Is ek verkeerd?”
Nina knip haar oë. Waarvan het hulle nou weer gepraat? “Ekskuus?”
“Het ek verkeerd verstaan toe die burgemeester my verseker het dat jy tot my beskikking is vir so lank ek jou mag nodig hê?”
Nina skeur met moeite haar oë van sy bloues weg en kyk vlugtig na die burgemeester voordat sy ongemerk op haar tande kners. Pat se waarskuwing van vroeër brand in haar geheue. Sy kom nou eers agter dat Quinn nog steeds haar hand vashou en trek vinnig haar hand uit syne.
“Nee, jy is nie verkeerd nie, meneer Chauncey.”
“Quinn.”
Sy kyk weer vraend na hom. “Ekskuus?”
“My naam is Quinn.”
“Nou maar goed, Quinn, wat presies verwag jy van my?”
“Daardie vraag sal my broer baie beter as ek kan antwoord. Jack is die produksiebestuurder van ons span en dit was sy briljante idee om die polisie se hulp as beskerming in te roep.” Hy kyk met geligte wenkbroue na sy broer.
Jack trek sy skouers op. “Wel, dit is vir jou om te sê, Quinn. Ek dink die belangrikste is dat inspekteur O’Neill nie moet lyk asof sy van die polisie is nie. Wat dink jy, sal die inspekteur voldoen aan jou behoeftes?”
Quinn haak sy duime in sy jeans se lussies en loop stadig om Nina terwyl hy haar op en af beskou. ’n Hittevlaag stoot in haar wange op – sy voel kompleet soos ’n bees wat geskou word. Haar oë vernou toe Quinn weer voor haar tot stilstand kom en sy bal haar vuiste toe sy ’n spottende glimlag om sy lippe sien huiwer.
“Ons sal haar ’n paar goed omtrent kleredrag moet leer, maar verder voorsien ek nie enige probleme nie.”
Nina se kop ruk op en sy sit haar hande strydlustig in haar sye. “Nou luister jy net ’n oomblik –”
Quinn lig ’n swart wenkbrou. “Jy is mos veronderstel om my besoek aan Suid-Afrika so gemaklik moontlik te maak terwyl ek konsert hou, dan nie?”
Nina se hart ruk en sy kyk vinnig na Tshepiso wat met groot oë na haar staar. “Jy verstaan Afrikaans?” Die woorde kom hees tussen droë lippe deur en sy bid vuriglik dat die aarde moet oopgaan en haar heelhuids moet insluk. Hy het haar sarkastiese aanmerking buite voor die ingang van die hotel verstaan!
Quinn glimlag spottend. “Natuurlik,” sê hy in Afrikaans. “My ma was Afrikaans.”