Читать книгу Skoonlief en die dirigent - Marijke Greeff - Страница 4

2

Оглавление

“Ek het ’n algehele pawpaw van myself gemaak. Dit het ek nou van my groot mond wat nooit toe is wanneer dit toe móét wees nie!”

“Waarvan praat jy, Skoonlief?” Nina se skoonsus kyk na haar asof sy so pas Grieks gepraat het.

Nina val op die bank agter haar neer en sit haar gestewelde voete ongeërg op die koffietafel voor haar. “Ek het vandag vir Quinn Chauncey ontmoet, en jy weet wat sê hulle van eerste indrukke –”

“Quinn Chauncey? Dié Quinn Chauncey?! Die wêreldberoemde violis en dirigent?!” Amelia kom sit langs Nina se voete op die koffietafel en leun met haar elmboë op haar knieë. “Vertel my alles, moet niks uitlaat nie! Is hy in lewende lywe net so aantreklik soos op sy DVD’s?”

Nina kyk verbaas na haar skoonsus. Het die hele wêreld skielik gek geraak? Eers Tshepiso, nou Amelia. “Wat weet jy van Quinn Chauncey af?”

Amelia rol haar oë. “Jy kom uit die O’Neill-familie en jy vra so iets?”

Nina frons. “Nou wat is dít veronderstel om te beteken?”

“Julle is almal so musikaal! Toe ek Damian ontmoet het, was ek verstom om te hoor dat al ses julle kinders minstens een musiekinstrument kan bespeel. Julle almal kan sing, en van jou talent praat ek nie eens nie. Ek weet dat die ouer broers jou sanglesse laat neem het en ek weet julle is almal lief vir klassieke musiek.”

Nina trek haar skouers op. “En?”

Amelia staan op en gooi haar hande in die lug. “Ek het ál Quinn Chauncey se DVD’s en CD’s. Het jy hom nog nooit hoor speel nie?”

Nina skud haar kop. “Voor vandag het ek nie eens van sy bestaan geweet nie. Jy weet ek het nie tyd vir DVD’s en sulke goed nie.”

Amelia skud haar kop. “En wat ’n skreiende skande is dit nie! Ek kan nie glo dat jy jou kultuurlewe so kan afskeep nie, skoonsus! Ek sal vir jou een van sy DVD’s bring om te kyk. Jy kan gerus vir jouself meer tyd gun om te ontspan. Ek het al hoeveel keer vir Erna gesê ek wens ons kan iets aan jou doen, sodat jy net ’n lewe buite die polisiediens kan kry.”

Dit grief Nina dat Amelia en Pat se vrou haar agteraf bespreek. Sy lig ’n wenkbrou en kyk sarkasties na Amelia. “Is dít so? En wanneer het jy en Erna my gebrek aan ’n sosiale lewe so lustig bespreek?” Nina sit haar hande agter haar kop. “Wag, ek weet, julle het seker by een van julle fancy koffiewinkels gaan kuier en toe lekker van my geskinder. Ek wed jou Amy, Alna en Esther was ook by.”

Amelia kyk geduldig na Nina. “Kom nou, Skoonlief, jy weet dat ons O’Neill-skoonsusters minstens een maal in twee weke saam gaan koffie drink, en dit is nie asof jy nie genooi is nie. Dit is net dat jy verkies om eerder te werk. En jy weet dat ons nie van jou skinder nie, maar dat ons bekommerd is oor jou omdat ons lief is vir jou.”

Nina snork onvroulik. “Ja, right. Aan watter blind date wil julle my nóú weer afsmeer?”

Amelia lag. “Nadat jy die vorige een ’n opstopper gegee het omdat hy nie sy hande tuis kon hou nie, het ons nog nie weer iemand oorweeg nie. Jy weet, ons het darem ook ’n reputasie om gestand te doen.”

Amelia gaan sit weer voor Nina. “Toe, vertel my nou eers! Hoe lyk Quinn Chauncey en waar het jy hom ontmoet?”

Nina vang haar onderlip vir ’n wyle tussen haar tande vas toe sy daardie blou oë onthou. “Wel, hy is ’n dish, dis vir seker.” Sy frons. “Hy het die blouste oë wat ek nog ooit gesien het, swart hare, ’n sterk, vierkantige ken met ’n kuiltjie, sensuele, soenbare lippe en die mooiste hande. Slank, met lang vingers, tipies dié van ’n kunstenaar. Maar hy het ’n stewige handdruk en ek moet erken, ek is heimlik beïndruk daarmee. Ek het gedink sy hand gaan soos ’n slap paling voel –”

“Nina!”

“Oukei, oukei. Hy is lank, minstens ses voet, en hy lyk glad nie soos ’n bleeksielige kunstenaar nie. Sy vel is blas en hy het ’n breë bors en gespierde arms,” Nina sit vorentoe en kyk na Amelia wat gefassineerd na haar luister. “En om alles te kroon kan die man Afrikaans praat!”

Amelia kyk verbaas na haar. “Hy kan wát – Afrikááns praat?!”

Nina knik en kreun soos iemand wat pyn verduur. “Soos ek en jy. Weliswaar met ’n sterk aksent, en jy kan Ierland in sy stem hoor, maar nogtans. Sy ma was blykbaar Afrikaans.” Nina spring op en begin rusteloos heen en weer loop. “O vrek, hoe gaan ek dit oorleef?”

Amelia gaan sit die ketel in die oopplan-kombuis aan met die vrymoedigheid wat uit ’n lang familieverbintenis spruit. “Ek maak vir ons iets om te drink, dan vertel jy alles vir my mooi in volgorde sodat ek dit ook kan verstaan, want jy maak geen sin nie.”

’n Halfuur later kyk Amelia laggend na Nina. “En wat doen jy toe toe jy uitvind hy kan Afrikaans verstaan?”

“Toe staan ek daar soos ’n groot gek en ek weet nie wat om te sê om my sarkastiese uitlating ongedaan te maak nie.”

“Dit sal jou leer om mense sommer so op hulle baadjie te takseer.”

Nina rol haar oë. “Die man hou konsert vir ’n lewe, hoe moeilik kan dít nou wees?”

“Moenie soos ander mense wees wat beroepe afkraak net omdat hulle niks daarvan weet nie. Dink net watter organisasie so iets moet behels! Hy moet definitief iets hê om op so ’n jong leeftyd soveel te kon vermag. Ek verstaan hy is maar in sy laat dertigerjare. Om met ’n hele orkes en met al daai instrumente kruis en dwars oor die aardbol heen te vlieg, klink nie vir my na grappies nie.”

Nina glimlag sinies. “Ja, hy rits die hele wêreld vol en wie weet hoeveel beeldskone vroue werp hulle voor sy voete neer terwyl sy vrou en kinders seker droëbek by die huis moet sit en hom net nou en dan op die televisie kan sien.”

“Hy is nie getroud nie.”

Nina frons vir Amelia. “Hoe weet jy?”

Amelia lag. “Skoonlief, die internet kan ’n wonderlike bron van inligting wees.”

“Gmf! Nou hoekom sal ek inligting oor hom soek?” Nina neem die laaste sluk koffie. “Wel, ek is nou jou held se skoothondjie totdat hy besluit wanneer ek weer kan terugkeer na die ernstige wêreld van misdaad.”

“You lucky fish!”

Nina sit haar koffiebeker hard op die tafel neer en kyk verstom na Amelia. “Jy dink sowaar ek is gelukkig? Ná als wat ek jou pas vertel het?”

Amelia vou haar arms voor haar bors. “Hoe dan anders? Dit is die beste ding wat nou met jou kon gebeur het.” Sy huiwer en kyk dan reguit na Nina. “Ek wens jy wil heeltemal uit die polisiediens padgee.”

“Amelia …”

Amelia spring op. “Ek bedoel dit, Skoonlief!” Sy klem haar hande styf voor haar vas. “Ek sien nie kans om nog ’n geliefde af te staan nie.” Sy kyk pleitend na Nina. “Behalwe dat jy my skoonsussie is, is jy ook my beste vriendin, en ek wil nooit weer deur so iets gaan soos met Damian se dood nie.”

Nina kyk skuldig na Amelia. Was dit nie vir haar wat Nina is nie, het haar broer vandag nog geleef en was dit nie nou vir Amelia nodig om die toekoms alleen aan te durf nie. Sy kyk in Amelia se pleitende oë en iets in haar binneste gee skiet, iets waaroor sy al maande lank ’n sluier getrek het.

“Ek het dit al oorweeg …” sê sy stadig. Amelia snak hoorbaar na haar asem en Nina is dadelik spyt dat sy die woorde geuiter het. “Ná Damian se dood is dit in elk geval net nie meer dieselfde nie … Ek verwag nog steeds party dae om hom in die teekamer aan te tref, vang myself dat ek soms vir hom ’n vleispastei bêre …” Sy sluk aan die knop in haar keel.

“Dit is te verstane. Hy was jou tweelingbroer.” Amelia se stem is skor.

“Ek weet nie wat ek sal doen as ek uit die polisiediens bedank nie. Dit is al wat ek ken, al waarvoor ek opgelei is, al waaraan ek my lewe lank blootgestel is. Dit en musiek.” Sy lag gedwonge. “Wat ’n kombinasie! Dit kry jy nou as ’n musiekonderwyseres met ’n polisieman trou en vyf seuns in die wêreld bring. Dalk het ek en Quinn Chauncey tog iets gemeen.” Sy gaan staan voor die venster. “Voordat ek dit egter enigsins verder kan oorweeg om uit die polisiediens te bedank, wil ek eers die meesterbrein agter daardie netwerk kry. Ek sal nie rus voordat ek hom opgespoor het nie.” Sy praat afgemete tussen haar tande deur.

Amelia gooi haar hande in die lug. “Wat gaan dit help, Nina? Dit kan Damian nie terugbring nie. Die persone wat die bom geplant het, is agter tralies, dit is vir my genoeg.”

“Nie vir my nie!” Nina vryf oor haar arms, want sy kry skielik koud.

“Omdat jy skuldig voel oor sy dood. Hoeveel keer moet ek nog vir jou sê dit was nie jou skuld nie.” Amelia kom staan agter haar en sit haar hande op Nina se skouers. “Dink jy nie dit is tyd dat jy vrede maak met wat gebeur het nie, Nina? Dit is al byna ’n jaar. Jy het nog nooit in daardie tyd verlof gehad of vir jouself kans gegun om te rou nie.”

“Daar was nie tyd nie.”

“Nou dan is ek bly die kommissaris het jou hierdie ander opdrag gegee. Jy is gedaan, jy het donker kringe onder jou oë, jy eet nie genoeg nie … Kyk hoe lyk jy, jy is net vel en been.”

Nina sug. Dit is nie die eerste keer sedert haar tweelingbroer se dood wat sy hierdie gesprek met die een of ander familielid het nie.

Amelia gaan sit weer op die bank. “Ek het jou eintlik ’n groot guns kom vra.”

Nina kyk vraend na haar en haar hart krimp ineen toe sy die trane in Amelia se groot blou oë sien. “Enigiets.”

Amelia glimlag effens. “Jy moet dalk eers luister na wat ek vra voordat jy so geredelik daartoe instem. ’n Skoolvriendin van my trou Saterdag en wil graag hê jy moet op haar troue sing.”

Nina kyk verbaas na Amelia. “Hoe weet sy ek kan sing?”

“Sy het jou op ons troue hoor sing en wil hê jy moet dieselfde lied vir hulle ook sing.”

Nina knik onwillig. Hoewel sy nie baie lus is daarvoor om op wildvreemde mense se troue te gaan sing nie, kan sy Amelia hierdie eenvoudige versoek nie weier nie.

“Wonderlik!” Amelia tel haar handsak op. “Ek sal haar sê dat jy ingestem het en dan laat weet ek jou van die wat en waar.” Sy soen Nina op haar wang. “Dankie, ek weet dit sal oneindig baie vir Cassidy beteken.”

Nina kyk op haar horlosie en verwens haarself vir die hoeveelste keer die afgelope twee dae dat sy ingestem het om by die troue te sing. Sy haat dit om in koffiewinkels rond te hang en dit is waar Amelia se vriendin Cassidy gevra het om haar te ontmoet om die reëlings te finaliseer.

Nina staar onsiende na die mense om haar. Sy weet nie eens of sy nog die woorde kan onthou van die lied wat sy vir Amelia en Damian gesing het nie. Sy hoop maar so. Dan grinnik sy. Dalk kan sy sommer vir mister Chauncey vra om haar te help. Dit ís mos so in sy kraal.

Nina wuif die kelner weg en kyk op haar horlosie. Cassidy is laat. Sy het genadiglik ’n uur vry voordat sy weer by die hotel moet wees, maar ’n uur is bitter kort om alles te finaliseer.

Jack Chauncey het haar verseker dat Quinn vir die res van die oggend besig gaan wees om saam met sy orkes te repeteer en dat dit in orde is as Tshepiso vir ’n rukkie vir haar instaan. Sy het Quinn die afgelope twee dae net in lang, vervelige vergaderings gesien wat tot vervelens toe gegaan het oor die logistieke reëlings en probleme van die konserte wat oor drie dae geskeduleer is, die eerste daarvan volgende Donderdag. Die res van die tyd repeteer hy saam met sy orkes. Sover haar kennis strek, het hy nog nie een keer sy voete by die hotel se voordeur uit gesit nie. Sy behoort te weet, omdat Jack Chauncey haar gevra het om Quinn te vergesel indien hy wel sou besluit om uit te gaan.

Uit die vergaderings het sy afgelei dat Quinn Chauncey ’n pynlike perfeksionis is, en sy moet heimlik aan haarself erken dat sy teen haar sin bewondering het vir alles wat hy met soveel gemak reël. Hy laat niks aan die toeval oor nie. Alles word tot in die fynste besonderhede bespreek. Hy is veral baie puntenerig sover dit die beligting aangaan. Hy dring aan daarop dat elke item op die program absoluut die regte atmosfeer moet hê. En terwyl hy oor die regte skakering van lig by sy konsertitems kibbel, is sy by die hotel vasgekeer – terwyl sy haar tyd soveel beter kon benut het, raak Nina opnuut weer vies vir die onsinnige opdrag.

Nina kyk op toe ’n aantreklike donkerkopvrou die stoel oorkant haar uittrek. “Nina O’Neill?” Van haar kroontjie tot haar toontjie kan jy haar deur ’n ring trek, en Nina kan nie anders as om die yslike diamant aan haar ringvinger te bewonder nie. Dit is duidelik dat nie Cassidy óf haar verloofde ’n tekort aan fondse het nie.

“Dis reg.” Nina hou haar hand uit. “Jy is seker Cassidy.”

“Dit is reg. Jammer dat jy vir my moes wag, maar ek moes die rok gaan aanpas en daar is ’n hele paar goed waarmee ek nie tevrede is nie.” Sy haal ’n CD uit haar volstruisleerhandsak. “Hier is die agtergrondmusiek. Ek is jammer dat alles so op kort kennisgewing geskied, maar net toe ek met die reëlings vir die troue begin het, is jou broer oorlede, en ek wou jou en Amelia nie met so iets onbenulligs pla nie. Dit is egter dieselfde lied wat jy vir hulle gesing het.”

Cassidy wink die kelner met ’n kopknik nader. “Wat kan ek vir ons bestel?”

“Niks vir my nie, dankie, ek moet terugkom by die werk.”

“Natuurlik. Soos ek reeds gesê het, is die lied wat jy moet sing se musiek op die CD. Ek weet nog nie of ek dit gaan gebruik nie, of dalk net orrelbegeleiding. Die tweede vers moet nie gesing word nie.” Sy kyk verskonend na Nina. “ As jy nie omgee nie, wil ek daar net die viool se begeleiding hê.” Sy sit ’n kaartjie met haar naam en telefoonnommer in swierige goue letters gedruk, voor Nina neer. “ As jy enige vrae het, skakel my asseblief.” Sy bestel rooibostee toe die kelner langs hulle tafel tot stilstand kom. “Sal dit vir jou moontlik wees om Vrydagaand kerk toe te kom vir ’n repetisie? Ek sal darem net voor Saterdag wil hoor hoe klink die lied.”

“Ek sal eers moet hoor of ek nie daardie tyd werk nie. Ek sal jou laat weet.” Nina kyk op haar horlosie.

“Nogmaals jammer dat dit so op die nippertjie is, en duisend dankies dat jy bereid is om ten spyte daarvan vir my te sing. Ek het jou op Amelia en Damian se troue gehoor en het nog nooit weer iemand met so ’n suiwer stem hoor sing nie. Jy het ’n wonderlike talent gekry.”

“Dankie.” Nina tel die CD op.

“Wag!” Cassidy tel haar handsak van die grond af op. “Hier is ’n troukaartjie met die tyd en aanwysings vir Saterdag op. Jy is welkom om ’n metgesel saam te bring.” Sy frons toe Nina opstaan. “Wat gaan jy aantrek, as ek so voorbarig mag wees om te vra?”

Nina kyk vir ’n oomblik sprakeloos na haar en trek dan haar skouers op. Kleredrag, ingewikkelde haarstyle en grimering was nog nooit hoog op haar lys van prioriteite nie. Wanneer haar maats met sulke goed geëksperimenteer het, en in die winkels rondgehang het, het sy saam met haar broers en die ander seuns in die buurt krieket of touch rugby gespeel. Haar dik, krullerige blonde hare dra sy altyd in ’n vlegsel omdat dit die minste moeite is. As haar broers haar nie met die dood gedreig het indien sy ooit sou waag om dit af te sny nie, was haar hare seker al lankal kort. Sy het dus nog nie eens gedink aan wat sy na Cassidy se troue sal aantrek nie.

“Ek weet nie. Ek sal sommer iets by Amelia leen. My klerekas is nie juis ingerig vir sosiale funksies en fancy troues nie.”

“Ek sal vir jou ’n rok stuur.”

Quinn Chauncey se stelling dat hy haar ’n ding of twee omtrent kleredrag kan leer, is nog helder in Nina se geheue en haar rug verstyf geaffronteerd. Cassidy het seker ook met die eerste oogopslag gesien dat sy nie juis ’n stylikoon is nie. “Dankie, maar dit is glad nie nodig nie.”

Cassidy glimlag verskonend. “ Asseblief, ek wil baie graag hê dat jou rok by die tema van die troue moet inpas. Beskou dit as ’n dankie vir al die moeite wat ek jou op so ’n kort kennisgewing aandoen.” Sy kyk opsommend na Nina. “ As ek so moet skat, is ons omtrent dieselfde grootte, jy is net ’n bietjie langer as ek.”

Nina kyk met geligte wenkbroue af na haar borste. “En nie so wel bedeeld soos jy nie,” sê sy droog.

Cassidy lag. “Ek sal dit in gedagte hou wanneer ek jou mates netnou vir die ontwerper gee.”

Skoonlief en die dirigent

Подняться наверх