Читать книгу Skoonlief en die dirigent - Marijke Greeff - Страница 6
4
ОглавлениеNina sit vervaard regop en vee haar hare uit haar oë. Wat het haar wakker gemaak? Sy gooi vererg die beddegoed van haar af toe sy weer die gehamer aan haar voordeur hoor.
“Wie op aarde soek na my op hierdie onmenslike tyd van die dag?” Sy moet eers haar oë knip voordat sy deur die sleutelgat kan loer. “ Amelia.” Sy sug. “Ek moes dit geweet het.” Sy sluit die deur oop en leun met haar wang teen die koel muur. “Hoekom kom soek jy my so vroeg? Normale mense slaap nog almal hierdie tyd.”
Amelia lag. “Noem jy tienuur in die oggend vroeg? Ek het vir jou ’n DVD gebring en vir Cassidy belowe dat ek jou rok vir jou sal bring. Die arme vrou kry nie al haar draaie –”
“Tienuur?” Skok laat Nina se asem in haar keel vassteek. “Tienuur!” Sy staan weg van die muur af asof dit haar gebrand het. “O vrek! Ek is in my kanon in laat! Ek kan net dink wat mister Chauncey hiervan te sê gaan hê. Hoe is dit moontlik dat ek so laat kon slaap?” Sy vlieg haar kamer binne en gryp die eerste paar jeans wat sy in die hande kry en pluk dit sommer bo-oor haar nagklere aan. “Dit kom daarvan as jy die hele nag lê en rondrol omdat ’n paar blou oë weier om jou met rus te laat.” Sy vleg haar hare terwyl sy badkamer toe hardloop om tande te borsel.
“Waarvan praat jy tog?” Amelia steek in die kamer se deur vas en kyk geamuseerd na Nina terwyl sy heen en weer skarrel om skoene aan te kry.
“Ek is vrek laat! Ek moes tienuur al by die hotel gewees het.” Nina gryp haar motor se sleutels. “Ek is weg. Sluit die deur agter jou, baai!”
“Nina, wag! Wat van jou rok?”
Nina hardloop terug na waar Amelia nog steeds in die kamerdeur staan en gryp die hangsak met die rok in by haar en haak dit onseremonieel aan die kas se deur.
“Ek sal dit later kom aantrek. Weet nie hoe lank mister Chauncey my vandag gaan besig hou nie – hopelik kry ek darem genoeg tyd om van my jeans ontslae te raak.”
“Maar ek wou jou help met jou grimering …”
“Daar’s nie tyd vir sulke goed nie, Amelia! In hemelsnaam, hou nou op praat sodat ek my ry kan kry!”
“Ek sit die DVD’s op jou bedkassie neer,” roep Amelia agter haar aan terwyl Nina die trappe drie-drie afhardloop.
“ As ek my nek vandag breek, is dit op die dirigent se gewete.” Met bewende vingers sluit sy haar motor oop. Sy druk die sleutel in die aansitter en draai dit terwyl sy ’n vurige skietgebedjie opstuur, en dan kreun sy hardop toe sy net ’n klikgeluid hoor.
“ Asseblief,” bid sy hardop, “moet my nie vandag in die steek laat nie.” Sy probeer weer, maar ná die derde probeerslag besef sy met ’n sinkende gevoel in haar binneste dat sy nie vanoggend haar skedonk aan die gang gaan kry nie.
Nina kry Amelia by haar woonsteldeur, net besig om toe te sluit. “My kar is in sy peetjie. Sal jy my asseblief by die Ardmere gaan aflaai?”
Amelia kyk na haar met geligte wenkbroue. “Ek het lankal vir jou gesê jy moet iets aan daardie kar laat doen.”
Nina is lus en trippel op en af van haas. “Ja, ja, asseblief, jy was reg en kan gerus maar sê: ‘Ek het jou gesê.’ Kan ons nou ry?”
Die verkeer is ’n riller en Nina wonder desperaat of sy nie vinniger daar sal kom as sy uitklim en hardloop nie. Dit is reeds ná elf toe Amelia eindelik voor die Ardmere stilhou.
“Nou ja, nou is ek kniediep in die moeilikheid, en mister Chauncey kan seker nie wag om my voor stok te kry nie. Dalk is hy so vies …” Nina glimlag skielik. “’n Mens weet nooit, dalk is dit vandag my gelukkige dag en sê hy dat hy my nooit weer wil sien nie omdat ek so onbetroubaar is!”
“Jou gelukkige dag was toe jy die opdrag gekry het om by Quinn Chauncey se span aan te sluit.” Amelia kyk kopskuddend na haar. “Ek wens net die skille wil van jou oë afval sodat jy dit kan besef. Doen jouself ’n guns en kyk na die DVD’s wat ek in jou woonstel gelos het!”
Nina snork onvroulik toe sy die deur oopmaak. “Dankie dat jy my gebring het.”
“En ek sal jou weer kom haal, laat weet my net hoe laat.” Amelia lig haar vinger waarskuwend toe Nina haar mond oopmaak. “Ek wil niks hoor nie. As ek jou weer kom haal, gee dit my die geleentheid om darem toe te sien dat jy iets anders as boerseep en brakwater op jou gesig kry voor die troue.”
Nina kyk geaffronteerd na haar skoonsus, maar Amelia ignoreer die kyk. “Toe, weg is jy voor jy nóg later is!”
Dieselfde ontvangsdame wat hulle die eerste dag by die hotel ontvang het, staan weer agter die toonbank. “Meneer Chauncey wag al van tienuur af vir jou in die saal waar hy gewoonlik repeteer.”
Nina kyk verbaas na die vrou, wat haar koel vanuit die hoogte betrag. “Dankie, jy kan maar ontspan – soos jy self kan sien, is ek eindelik ongedeerd hier.” Sy glimlag liefies voordat sy haar rug op die vrou draai en vinnig na die repeteersaal koers kry.
Nina huiwer voor die toe deur toe sy die weemoedige klanke van ’n viool binne hoor. Sy onthou hoe Quinn die vorige aand in die kerk gelyk het toe hy sy viool gespeel het en sy sluk droog. Sy draai die deur sag oop en steek in haar spore vas. Quinn se oë is toe en ’n frons huiwer tussen sy donker wenkbroue. Hy het ’n swart hemp by swart jeans aan en toe hy sy oë oopmaak en haar dadelik met sy blou blik vaspen, stok Nina se asem in haar keel.
Dit is hierdie paar blou oë se skuld dat sy laas nag tot vervelens toe slapeloos rondgerol het, dit is hierdie helderblou blik wat haar genadeloos in haar drome rondgejaag het nadat sy eindelik in ’n onrustige slaap verval het, en dit is hierdie kunstenaarshande wat die viool nou soos ’n minnaar met die strykstok liefkoos wat in haar geheue ingebrand is ná die vorige aand se repetisie by die kerk.
Wat sal daardie hande aan ’n vrou se liggaam doen? Sal hulle ook soos sy viool die suiwerste klanke denkbaar voortbring? Hoe sal daardie blou oë lyk as hulle met passie en hartstog na jou kyk?
O’Neill, wat is met jou aan die gang? skel Nina woordeloos op haarself.
“Jy is laat.” Quinn sit die viool ongeërg onder sy een arm en hou die strykstok tussen sy vingers toe hy sy hande voor hom vou.
Nina staar magteloos in sy blou oë op en besluit dan om die idee te toets wat sy netnou in die parkeerterrein gekry het.
“So? Steek my in die pad.” Sy kyk na Quinn met geligte wenkbroue. As hy self besluit dat hy nie meer van haar as sekuriteit gebruik wil maak nie, kan die burgemeester, die kommissaris en selfs Pat niks daarteen sê nie.
Quinn lag sag en die diep, rustige geluid daarvan stuur ’n rilling teen Nina se rug af. “So maklik gaan jy nie van my ontslae raak nie, Nina O’Neill.”
Nina draai haar hande palms na bo. “Jy het nou self gesien ek is onbetroubaar. Ek is gewoonlik laat. En soos jy tereg gesê het, weet ek niks van sing af nie,” gooi sy sy woorde van die vorige aand terug in sy gesig. “En ek weet nog minder van musiek en konsert hou. Jy sal baie beter doen deur vir jou ’n professionele lyfwag te huur.” Sy rek haar oë. “Iemand wat vir die volle duur van jou besoek aan Suid-Afrika in die skaduwees op die agtergrond sal huiwer en geen rimpels in die dam sal veroorsaak nie.”
Quinn draai glimlaggend om en sit sy viool op die vleuelklavier agter hom neer. “Die burgemeester het my verseker dat jy vir die volle duur van my besoek aan Suid-Afrika tot my beskikking is.” Hy kyk oor sy skouer na haar. “En ek is nie bang vir rimpels nie.” Hy gee haar ’n skitterwit glimlag. “Ek hou van opwinding.”
Nina se skouers sak moedeloos. In die afgelope week het sy agtergekom dat Quinn Chauncey ’n absolute perfeksionis is, dat hy baie gesteld is op stiptelikheid en dat hy laksheid nie kan verdra nie. Haar hoop dat hy vanoggend so kwaad gaan wees omdat sy so laat is dat hy haar summier gaan ontslaan, verdamp vinniger as wat dit ontvlam het.
Nina gee ’n tree vorentoe en maak die deur agter haar toe. “Luister, meneer Chauncey –”
“Quinn.”
“Ekskuus?” Sy frons.
“Ek het reeds voorheen vir jou gesê my naam is Quinn, gebruik dit asseblief.”
Nina lig ’n wenkbrou toe sy na die geïrriteerdheid op sy gesig kyk en sy trek haar skouers op. “Nou goed, Quinn. Ek is ’n moeilikheidmaker. Vir my was reëls nog altyd goed wat gebreek moet word. Ek weet niks van protokol en supersterre, fanatiese bewonderaars en konserte af nie. Ek sal jou waarskynlik eerder in ’n verleentheid stel as wat ek jou enigsins sal help. Jy kan met my bevelvoerder praat as jy nog hoegenaamd daaroor twyfel. Ek is vir jou van nul en gener waarde. Jy is baie beter af sonder my.”
Nina trek haar vlegsel oor haar skouer vorentoe en draai die punt daarvan ingedagte om haar vinger. “ As jy nou vir die burgemeester gaan sê dat jy my glad nie meer nodig het nie, dat ek net onnodig onder jou voete is en dat jy my nie sinvol kan gebruik tydens jou konserte nie, is ek uit jou hare en kan jy rustig op jou finale voorbereidings konsentreer.”
Quinn kyk ernstig na haar. “Hoekom wil jy so graag uit hierdie ooreenkoms kom wat die burgemeester op jou afgedwing het? Is dit werklik vir jou so belangrik om skurke en kriminele vas te trek?”
“Een krimineel. Ek is besig om ’n belangrike saak te ondersoek en nou is dit alles op die agtergrond geskuif omdat –”
’n Swart wenkbrou lig sardonies. “Omdat jy iemand wat konsert hou vir ’n lewe moet oppas?”
“Presies, ’n moordenaar is op vrye voet en –”
“Wie is vermoor wat so belangrik vir jou was?”
“My tweelingbroer. En sal jy ophou om my elke keer in die rede te –”
“Ek sien.” Hy vou sy arms voor sy bors en kyk ernstig na haar. “Ek is jammer oor jou broer se dood. Waar het jy dan die pad byster geraak dat jy so gedemoveer is om my te moet oppas?”
Vir ’n breukdeel van ’n sekonde is Nina sprakeloos oor sy simpatie. Dit klink werklik asof hy dit opreg bedoel. “Jy is vlug van begrip” – sy glimlag liefies vir hom – “vir een wat konsert hou vir ’n lewe.”
Quinn skud sy kop. “Om my te beledig gaan jou niks in die sak bring nie. Praat jy van alle beroepe en mense waarvan jy niks weet nie so neerhalend?”
Nina kyk af na die weelderige dik mat onder haar voete om haar verleentheid weg te steek. “Ek is jammer, dit was ’n simpel grappie.”
Hy lig ’n wenkbrou. “En dit het óók nie daarin geslaag om my aandag af te lei nie. Wat het jy gedoen?”
Sy sug effens. “Jy is erger as ’n bloedhond. Ek het ’n glas bier in ’n vooraanstaande, gesiene skurk se gesig gegooi.”
Hy sit sy hande op sy heupe en sy lippe plooi agterdogwekkend. “Werklik? En het hy dit verdien?”
Nina se oë vernou. “Hy verdien dit om agter tralies te sit, maar die bier in sy gesig was die naaste wat ek aan hom kon kom sonder om hom fisiek aan te rand en elke been in sy nuttelose liggaam te breek.”
Quinn kyk ’n oomblik in stilte na haar en skud dan sy kop. “Jy het iemand nodig om jou teen jouself te beskerm, Nina O’Neill.”
Nina gooi haar hande in die lug. “Jy klink nou net soos my broers. Jy het my tog nie werklik nodig nie, sal jy my laat gaan?”
“Nee.”
“Nee?”
“Dis buite die kwessie.” Hy vou weer sy arms voor sy breë bors.
“Watter sinnelose, totaal onverklaarbare rede kan jy hê om van my in my professionele hoedanigheid gebruik te maak?” Nina gooi vererg haar vlegsel terug oor haar skouer.
Quinn trek sy skouers op. “’n Fanatiese bewonderaar in Amerika het voor die einde van ’n konsert op die verhoog gespring, my baadjie geskeur en my Stradivarius onherstelbaar beskadig.” Hy sug. “Dit het Jack eintlik meer ontstel as vir my. Hy voel om die een of ander raaiselagtige rede dat dit sy skuld is, dat hy iets kon gedoen het om dit te keer, dat hy beter sekuriteit moes gereël het.”
Nina strek haar hande langs haar uit. “I rest my case! Jy het duidelik die dienste van ’n baie professionele lyfwag nodig.”
Quinn skud sy kop beslis. “Nee, ek het jóú nodig.”
Dit voel vir Nina asof sy gerus haar hare uit haar kop kan trek van frustrasie. “Hoekom? Hoekom juis vir my?”
“Omdat ek jou hoor sing het.”