Читать книгу Skoonlief en die dirigent - Marijke Greeff - Страница 5

3

Оглавление

Quinn trek sy baadjie aan en gaan staan voor die spieël om sy das reg te trek. Hy tree heeltemal buite sy aard op om vir die burgemeester se vrou hierdie guns te doen. Trouens, hy het nie ’n idee hoekom hy ingestem het nie. Die dringende gevoel dat hy vanaand eenvoudig daar móét wees, maak glad nie sin nie.

“Gaan jy uit?” Jack kom sy suite binne met ’n dokument in sy hande wat hy fronsend bestudeer.

“Die burgemeester het op my gevoel gespeel tot ek ja gesê het om by ’n troue iets te speel, met die uitdruklike versoek om sover moontlik incognito te bly. Vanaand wil hulle repeteer en kyk of alles reg is vir môre.”

Jack kyk geamuseerd op. “Van wanneer af kry iemand dit reg om op jou gevoel te speel, Quinn?”

Quinn rol sy oë. “Ek word oud, of ek is oorwerk.”

Jack lag. “Dit moet die oudwordding wees, want jy is nooit oorwerk nie. Jy sê dan altyd jou musiek gee jou al die energie wat nodig is om hierdie moordende pas vol te hou.”

“Dan word ek oud.” Quinn kyk op sy horlosie. “Waar is my lyfwag?” Hoewel hy intens van inspekteur Nina O’Neill se teenwoordigheid bewus was, het hy haar doelbewus die afgelope paar dae geïgnoreer. Haar duidelike verveling met die hele konsertopset en alles waarmee hulle besig is, is ooglopend en dit grief hom tot in sy siel, maar steeds het sy vir hom ’n bekoring wat hy nie kan verstaan of wil probeer verklaar nie.

Gelukkig was hy so besig met die finale voorbereidings en repetisies vir die volgende week se konserte dat hy hom nie veel aan haar gesteur het nie. Solank sy doen wat die burgemeester belowe het, is hy vir eers tevrede. ’n Paar bokkiebruin oë flits voor sy geestesoog verby en hy verwens homself dat hy haar, ten spyte van haar neerhalende opmerking die eerste dag toe hulle ontmoet het, steeds nie heeltemal uit sy gedagtes kan weer nie.

Van die eerste oomblik toe hy daardie middag in haar bruin bokkie-oë gekyk het, het iets in sy binneste geroer. Hy, wat die meeste van die tyd omring word deur beeldskone vroue in ontwerpersklere, word geraak deur ’n ongekunstelde meisie met dik blonde krulhare, geen grimering nie en die swakste kleresmaak wat hy nog ooit in sy lewe teëgekom het. Quinn dink met afsku aan die onvleiende grys baadjie waarvoor Nina klaarblyklik so ’n voorliefde het dat sy dit byna elke dag aanhet.

Dalk is dit omdat sy so neerhalend van hom gepraat het dat sy sy belangstelling geprikkel het. Hy is gewoond daaraan dat beeldskone, welgeklede vroue van regoor die wêreld voor hom swig en swymel, en as hy werklik eerlik met homself moet wees, is Nina se gebrek aan pretensie vir hom soos ’n vars briesie. Sy stel glad nie in hom of sy musiek belang nie. Hy kan haar sarkasme egter nie sonder die een of ander vorm van vergelding laat verbygaan nie. Hy moet nog net besluit wat die skone inspekteur O’Neill se straf gaan wees.

Jack se stem onderbreek sy gedagtegang: “Jammer, ek het haar die aand af gegee, sy het ’n afspraak en ek het nie gedink jy gaan juis vanaand vir die eerste keer die hotel verlaat nie.”

Quinn frons. ’n Afspraak? ’n Ontevrede gevoel wat geheel en al onsinnig is, kom sit dwars oor sy bors. Hy vergeet gerieflikheidshalwe dat hy van die begin af gekant was teen die idee van ’n lyfwag en polisiebeskerming. “Is sy nie veronderstel om tot my beskikking te wees wanneer ek haar nodig het nie? Jy is die een wat daarop aangedring het dat ons die polisie se hulp moet inroep, en noudat ek dit nodig het, is dit nie beskikbaar nie.”

Jack kyk verbaas na hom en Quinn weet dat hy onredelik is, maar hy kan die onsinnige gevoel in sy binneste nie verklaar nie.

“Jammer, maar aangesien niemand jou vanaand iewers gaan verwag nie, glo ek nie dat ons enige probleme met fanatiese bewonderaars gaan hê nie.”

Quinn trek ’n hand deur sy hare. “Jy het natuurlik gelyk. Jammer, ek is geïrriteerd en nou haal ek dit op jou uit.”

Jack kyk ondersoekend na hom. “Hoekom is jy geïrriteerd, Quinn?”

“Hoekom het ons ingestem om Suid-Afrika deel van ons konserttoer te maak?” Quinn druk sy hande in sy broek se sakke en kyk vraend na sy jonger broer.

“Kan jy ons grootouers nog steeds nie vergewe dat hulle ons ma onteien het nie?”

Quinn gaan staan voor die venster en kyk uit oor die verligte stad. “Ek sal daardie laaste besoek van haar aan hierdie einste stad nooit vergeet nie.” Hy bêre daardie hartverskeurende herinneringe diep in sy binneste weg en kyk weer op sy horlosie. “Ek moet gaan.”

“Sal ek sorg dat inspekteur O’Neill môre hier is?”

Quinn skud sy kop. Hy kan dit nie bekostig dat sy aandag deur ’n paar bruin oë en ’n onvleiende vlegsel afgetrek word nie, hy moet fokus op sy konserte van die volgende week. “Dis nie nodig nie. Behalwe vir die troue vroegaand, beplan ek nie om môre weer uit te gaan nie.”

By die kerk is dit ’n miernes van bedrywigheid en iemand in die voorportaal beduie vir Quinn hoe om op die galery te kom – sonder om veel aandag aan hom te skenk, waaroor hy baie dankbaar is. Die galery word net deur die lampie bokant die orrel verlig, en hy staan ’n oomblik in die skemerdonker na die preekstoel en afkyk.

’n Paartjie staan daar onder. Die vrou beduie waar sy die ruiker van bloedrooi rose wil hê, en uit die beskrywing wat die burgemeester se vrou vir hom gegee het, neem hy aan dat dit die bruid moet wees. Sy kyk op na hom en hy knik vir haar en lig die tas waarin sy viool is effens.

Sy slaan haar hande oorstelp oor haar mond. “Meneer Chauncey, baie dankie!” Sy gryp die man wat langs haar staan se arm opgewonde vas. “Dis Quinn Chauncey,” fluister sy hard genoeg vir Quinn om te hoor voor sy weer na hom opkyk. “Ek sal probeer om nie jou tyd te mors nie, ons wag net vir die vrou wat vir ons gaan sing, dan kan ons daardie item heel eerste afhandel.”

Quinn knik en gaan sit eenkant in die skaduwees. Hy vryf oor sy nek. Hy moet gek gewees het die dag toe hy ingestem het om drie konserte in Suid-Afrika te kom hou. Hy is blind vir die land se skoonheid. Die blinkblou see, die majestueuse berge en lowergroen plantegroei maak geen indruk op hom nie. Al wat hy onthou as hy enigiets van hierdie land sien of hoor, is sy ma se gebrokenheid ná hulle laaste besoek hier, sy pa se geboë skouers.

Hy haal sy viool uit die tas en speel ingedagte met die strykstok. Dan verstar hy toe die deur van die galery oopgeruk word en inspekteur O’Neill windverwaaid en in haar kenmerkende uitgewaste jeans en afskuwelike grys baadjie die galery stormloop. Sou Jack haar tog gekontak het en laat weet het waar hy wat Quinn is, hom bevind?

Nina huiwer voor die orrel en loer oor die rand van die reling. Sy sien hom glad nie raak nie.

“Cassidy, ek is so jammer ek is laat. Ek het gesukkel om my skedonk aan die gang te kry,” roep sy na onder.

“Nina! Ek is so bly jy is hier. Het jy reggekom met die musiek wat ek vir jou gegee het? Ek was so bekommerd omdat ek jou so min tyd gegee het om te oefen.”

“Dis nie ’n probleem nie. Ek het die lied mos al gesing, en die agtergrondmusiek was voor die hand liggend.”

“Wonderlik, ek is so verlig! Ek het besluit om die agtergrondmusiek op die CD as begeleiding te gebruik eerder as die orrel. Ek het gedink dit sal vir jou makliker wees, aangesien jy alreeds daarmee geoefen het. Jy het onthou dat ek gesê het dat jy nie die tweede vers moet sing nie, nè? Ek het iemand gekry wat die viool gaan speel. Kan ons begin?”

Quinn luister verstom na die twee vrouens se gesprek. Nina O’Neill is die vrou wat die Ave Maria vir die bruidspaar gaan sing? Hy kyk skepties na haar. Was sy die laaste opsie omdat die bruid niemand anders kon kry nie?

“Wil jy nou meer,” praat hy sag met homself. Toe die strelende klanke van die inleiding die kerkgebou vul, mompel hy: “Nou ja, laat ons hoor of inspekteur O’Neill kan sing.”

Nina gaan staan voor die reling van die galery en toe sy begin sing, is Quinn so verstom dat hy vir ’n minuut of wat nie kan beweeg nie. Die suiwerste, soetste klanke kom by daardie twee soenbare lippe uit. Sy sing met die gemak van jare lange ondervinding en ’n ongelooflike, godgegewe talent. Geen geforseerde klanke of verkeerde asemhaling nie.

Toe sy byna klaar is met die eerste vers, staan hy op, druk sy viool onder sy ken in en stap nader aan haar.

Nina se kop ruk om toe sy die eerste klanke van die viool agter haar hoor, en sy moet aan die reling voor haar vasgryp om haar verraderlike lam bene te help regop bly toe sy in Quinn Chauncey se blou oë vaskyk. Hy hou haar oë terwyl hy speel en Nina staan magteloos in sy blou blik vasgevang. Sy bewe van kop tot tone en bid vuriglik dat dit nie in haar stem moet deurskemer wanneer sy die laaste stukkie ná die viool se tussenspel moet sing nie.

Quinn speel die laaste noot en Nina is dankbaar dat haar stem nie bewe toe sy weer begin sing nie, want hy laat haar steeds nie toe om weg te kyk nie.

Toe die laaste note wegsterf, bars ’n dawerende applous onder in die kerk los.

Cassidy huil openlik en selfs haar aanstaande bruidegom vee met sy sakdoek oor sy oë.

“Wat dink jy, meneer Chauncey?” Cassidy se stem is skor.

Quinn kyk vlugtig na Nina voordat hy afkyk na Cassidy. “Ek dink daar is ’n paar klein haakplekkies waaraan ons kan werk, maar moet jou oor niks bekommer nie – ek sal dit sommer met jou solis uitsorteer en reël dat ons môre nog ’n keer of wat repeteer.”

Nina snak hoorbaar na haar asem. “Klein haakplekkies?” Sy sis die woorde tussen haar tande deur en praat sag genoeg sodat Cassidy haar nie kan hoor nie. “Daar was absoluut niks fout met die stuk nie. Ek en jy weet dit albei.”

Quinn lig ’n wenkbrou en sy hand vou soos ’n staalklem om Nina se elmboog nadat hy sy viool gebêre het.

“Moenie met my stry nie, Nina O’Neill, ek is die een wat konsert hou, onthou. Ek behoort te weet.” Hy dwing haar na die deur toe iemand onder in die kerk sy naam noem. “Dit is tyd dat ek hier uitkom.” Hy glimlag koel vir haar. “Gelukkig het ek darem my lyfwag by my om die bewonderaars van my lyf af te hou.”

Nina snork onvroulik toe hy haar met verbasende spoed by die trappe af stuur. “Van jou lyf af hou, nogal. Jy’t ’n hoop! En vir jou inligting, ek is allesbehalwe ’n lyfwag! Ek is ’n inspekteur in die polisiediens. Daar is ’n baie groot verskil.”

As antwoord lig hy net ’n donker wenkbrou veelseggend. Onder in die straat kyk hy koel na haar. “Waar staan jou motor?”

Nina gaan staan by haar kar, wat sy onwettig op die sypaadjie geparkeer het. Sy diep die sleutel uit haar jeans se sak en kyk dan na Quinn wat met geligte wenkbroue na haar staan en kyk.

“Wat is dit?” Sy trek haar skouers op. “O … Ek was laat.”

Quinn haal die sleutel uit haar willose vingers, sluit die deur oop en hou dit vir haar oop. “Dan moes jy vroeër van die huis af gery het, inspekteur O’Neill van die polisiediens.”

Nina kners op haar tande. Hy is onuitstaanbaar! Wat weet hy van die stad se verkeer en haar onbetroubare motor?

“ Aangesien dit nou jou plig is om mister Chauncey se besoek aan Suid-Afrika vir hom so gemaklik moontlik te maak, sal jy sorg dat jy môreoggend tienuur by die hotel is, sodat ons kan repeteer. Ek gaan nie my reputasie op die spel plaas vir ’n leek wat niks van sing af weet nie.”

Nina verstik amper. Sy trek haar asem skerp in om hom iets gemeens toe te snou, maar hy het reeds die deur toegemaak en omgedraai en sy kan niks anders doen as om met ’n bewende been die koppelaar in te trap en die voertuig aan te sluit nie.

“’n Leek wat niks van sing af weet nie!” skel sy in die donker ruimte van die motor se kajuit. “Jy sal jou wat verbeel, mister Chauncey. En ek was reg oor jou ego – dit is groter as Tafelberg! Jy wil nie jou reputasie op die spel plaas nie, verbeel jou!”

Skoonlief en die dirigent

Подняться наверх