Читать книгу Bruidzilla - Marion Erskine - Страница 5

2

Оглавление

Draadjies en diëte

Dis Vrydagaand en Tillie bevind haar oorkant Milanka en Jacques in Montecasino se 3SIXTY° Liquid Lounge. Natuurlik is dit een van die fancyste plekke in Johannesburg en Milanka het haar mos nie kans gegee om enigiets anders te gaan aantrek nie. Nou sit sy hier met tekkies, haar jeans en ’n wit T-hemp met Torro! Torro! agterop. Aan die voorkant is ’n skets van ’n bul met ’n mes en vurk in sy pote en ’n groot stuk steak voor hom. Alejandro wou ’n wasbak kraam toe oom Fernando met dié hemde by El Horno aangekom het.

“Vir wat sal ’n bleddie bul sy eie familie eet?” het Alejandro gesanik en Fernando het gesê dat hy nie so daaraan gedink het nie. Oomblikke later het hy homself in sy eie sangria pity party probeer verdrink. Die hemde is gekoop met hierdie jaar se budget en hulle moet dit nou dra vir die volgende jaar.

Tillie skaam haar morsdood tussen die mense. Dis ’n wonder hulle het haar so toegelaat in dié ghrênd plek.

Jacques Malherbe dra ’n netjiese blou pak klere. Hy het ’n wit langmouhemp aan en is sonder das. Dié beeldskone donkerkopman met sy tweedag-stubble sal goed lyk in ’n bleddie streepsak. Sy pa het een van Suid-Afrika se top-eiendomsagentskappe begin en Jacques het daar begin werk nadat hy sy bemarkingsgraad gekry het. Vanaand het hy nog nie veel gepraat nie. Met Milanka in ’n gesprek kry min ander mense ’n kans. Jy antwoord basies wanneer daar met jou gepraat word, en verder knik jy soos een van daardie bobblenek-poppies. Jacques is dalk meer van ’n introvert as wat sy gedink het, vermoed Tillie nou, en dit lyk nie asof hy aanstoot neem oor Milanka se byna bonatuurlike energie nie. Die sielkundiges sê mos al jare dat mens altyd iets in jou partner soek wat jy nie het nie.

Milanka dra ’n eina swart cocktail-nommertjie en die Swarovski-oorbelle wat sy vir haar verjaardag by haar toekomstige man gekry het. Die oorbelle is behoorlik in kompetisie met die pienk rots op haar verloofring.

“Hoe gek is jy oor my ring, vriendin?” vra sy toe sy agterkom dat Tillie dit bekyk. “Dis ’n padparadscha sapphire, met rose-cut diamonds.”

“Dis regtig baie mooi,” roep Tillie bo-oor die musiek, wat effens hard is. “Jacques, daar is niks so wonderlik vir ’n vrou as dat sy weet haar geliefde ken haar smaak nie. Jy’t goed gekies.”

Hy maak sy keel skoon om te antwoord, maar Milanka kan haar opgewondenheid nie inhou nie. “O, dis ’n snaakse storie, eintlik. Ek het sommer my eie ring gekies.”

Jacques knik en vat ’n sluk van die vye-martini wat Milanka vir hulle al drie bestel het. “Dis waar. My engel het self gekies.”

Tillie kan nie sy pokerface lees nie en weet nie regtig wat anders om te sê as “Oukei” nie.

“Jy glo mos daaraan dat die heelal jou soms roep, nè?” vra Milanka en staar na die plafon asof sy Orion se belt soek.

Tillie knik. “Ek dink so.”

“Wel, ek het eendag tien minute oor tien by die huis gesit en net gevoel ek moet na die Suid-Afrikaanse ontwerper Anton Heunis se website gaan.”

“Anton Heunis?” Tillie het al iewers die naam gehoor.

“Ja,” roep Milanka. “Ek het jou aangesê om hom te volg op Instagram, onthou? Hy bly in Madrid en maak die mooiste juwele.”

“O ja.” Dis hoekom die naam bekend geklink het.

“Anyway,” gaan Milanka voort, “om tien oor tien het ek op sy website gegaan, want ek het gevoel my ring wag daar.”

“Hy wag vir jou?” frons Tillie.

“Hy’t vir haar gewag,” glimlag Jacques en cheers met sy martini in die lug. “Dit was bestem.”

“En raai watter liedjie begin speel net toe oor die radio?” vra Milanka.

“Beyoncé se ‘Single Ladies’?” raai Tillie en lag amper vir haar eie grappie.

“Nee, Bruno Mars se ‘I Think I Wanna Marry You’!”

Tillie wil nog vra, maar Milanka doen reeds vir haar die wiskunde: “Toe die liedjie begin speel, het hierdie ring op Anton se website gelaai.”

Tillie loer na Jacques en sien hy’s net so dik van die lag soos sy, maar nie een van hulle durf wys dat hulle Milanka se denkwyse amusant vind nie.

“Iemand in Spanje het mý ring gemaak terwyl Bruno Mars ’n liedjie vir my geskryf het,” verklaar Milanka dramaties.

“Vertel Tillie van die afslag, my engel,” por Jacques haar aan.

“O ja!” roep Milanka uit. “Daar was tien persent afslag op my ring!”

“Tien?” vra Tillie en wonder of tien present veel van ’n verskil maak aan iets met ’n woonstel se prys.

“Ja,” knik Milanka en soen haar verloofring sagkens. “Een vir elke maand wat ek en Jacques al saam is.”

“Sjô, Milanks,” is al waarmee Tillie vorendag kan kom.

“Toe gebruik ek my kredietkaart,” vertel Milanka “En toe gee Jacques my die geld terug.”

Tillie voel haar kop deurmekaar raak. “So, jy het die verloofring gekoop voordat Jacques jou gevra het om te trou?”

Milanka rol haar oë. “Vriendin, dit was voor die hand liggend dat hy my die een of ander tyd sou vra. Ons het gereeld daaroor gepraat. Ek het hom net die stres gespaar om dag na dag te moes gaan soek na die ring. My arme verloofde is besig.”

“Jy’s reg, my engel.” Jacques plak ’n soen op haar wang en knipoog vir Tillie. “Ek het beplan om jou net daarna te vra.”

“O, e … ja, e … natuurlik.” Tillie kan sien dat die arme Jacques basies gyselaar gehou is in hierdie transaksie. “So, wanneer is die groot dag?”

“Ons wil trou op Lentedag. Een September,” glimlag Milanka breed.

“Hierdie jaar?” vra Tillie vinnig.

“Doodreg!”

Tillie tel vinnig in haar kop. “Dis oor minder as drie maande!”

“Dis reg, ja,” knik Milanka en trek Jacques se hand nader.

“Gaan julle alles gereël kan kry in so ’n kort tydjie?” Sy weet as Milanka haar sin kry, sal hulle ’n troue in Monaco hê, met elke dingetjie in plek.

Milanka gee die glimlag wat Tillie nie wou sien nie. “Ons? Nee, vriendin, ons gaan niks reël nie … Jý gaan vir ons alles reël!”

Dis asof iemand ys in haar bra af gooi. “Ek?”

“Dis hoekom ons jou genooi het vanaand. Daar is niemand wat my so goed ken soos jy nie. Jy hoef nie eens te betaal vir jou martini’s nie. Ons wou jou net vertel dat jy kan groot gaan om dit die beste dag van my lewe te maak.”

Interessant hoe Milanka “my” gebruik en nie “ons” nie, dink Tillie en skud haar kop. “Vriendin, jy weet ek is lief vir jou, maar ek het ’n voltydse werk. Ek sal nooit alles in drie maande gereël kan kry nie.”

Milanka hou aan glimlag en sit haar hand sag op Tillie se arm. “Ek’s nie ’n monster nie, vriendin. Natuurlik weet ek jy is soms besig.”

“Soms?” vra Tillie asof sy verkeerd kon gehoor het.

“En dit is waarom jy mag hulp kry. Jacques sal betaal!” Milanka fladder haar wimpers. “Huur ’n troukoördineerder, maar maak seker jy’s deel van alles wat gedoen word.”

Jacques se eerste martini is al op, maar hy cheers weer in die lug. Sy blou oë vonkel ondeund.

“Ek … ek …” soek Tillie na woorde. “Ek het nie eens ’n vae benul hoe om so iemand in die hande te kry nie. Waar begin ek?”

“Jy het dit in jou. Jy’s my beste vriendin. Ek sal nie wil hê enigiemand anders as jy moet hierdie dag vir my spesiaal maak nie.”

Tillie wonder skielik waar die term “Aarde, sluk my in” vandaan kom, want as die aarde lus is, kan dit maar so maak. Sy gaan vrywillig.

Jacques gee Milanka ’n soen en vra verskoning om badkamer toe te gaan. Hy noem dat hy vir hulle nog drankies gaan bestel op pad soontoe.

Bring sommer vir my ’n bottel, dink Tillie.

“Natuurlik gaan ek help.” Milanka skuif nader. “Ek gaan nie heeltyd by jou wees nie, maar ek sal deur WhatsApp kommunikeer. Ek gaan vir jou die name en foonnommers van die bruidsmeisies stuur.”

“Hoeveel is daar?”

“Vier. Jy onthou mos my tweelingniggies, Hanke en Tanja?”

Tillie knik en gooi desperaat die laaste van die martini in haar keel af.

“Wel, net Hanke mag ’n bruidsmeisie wees. Tanja sal saam met haar ouers sit.”

“Hoekom?” vra Tillie. Dis mos soek vir moeilikheid.

“Nee, jong,” sê Milanka. “Tanja het mos verlede jaar hierdie reusagtige draadjies op haar tande laat sit en die goed moet aanbly tot die einde van tyd.”

“So sy mag nie bruidsmeisie wees nie omdat sy draadjies het?” vra Tillie grootoog.

Milanka gee haar ’n verbaasde kyk. “Weet jy hoe lelik lyk draadjies op troufoto’s, vriendin? Dis mý dag en ek kan nie toelaat dat sy my foto’s opneuk omdat sy haar tande gaan befomfaai het nie! Jy sal net die nuus op ’n mooi manier moet breek.”

“Moet ék vir Tanja sê sy mag nie bruidsmeisie wees nie?” vra Tillie geskok.

“Wel, ek wil nie haar hart breek nie. Jy’s in elk geval beter met sulke goed.”

Tillie voel oorweldig. ’n Paar uur gelede sou sy ’n dag probeer afvat vir haar vriendin se troue. Nou moet sy die hele bleddie ding reël!

“Ek sal sien wat ek kan doen,” sê sy en hoop haar mismoedigheid is nie duidelik hoorbaar nie.

“Ek stuur ook ’n dieet deur op WhatsApp,” vervolg Milanka. “Dit is goedgekeur deur ’n voorste dieetkundige in Oostenryk. Die meisies moet dit almal so gou moontlik begin volg.”

“So jy wil hê ons moet almal gewig verloor voor die troue?” vra Tillie huiwerig.

Sy kry nog ’n verbaasde kyk omdat sy die ooglopende antwoord so miskyk. “Nee, vriendin, ek wil eintlik hê almal moet effens optel!”

“Optel?” Sy stamp amper haar leë glas om.

“Nie te veel nie,” sê Milanka beslis. “Net genoeg.”

Tillie se mond hang oop en sy weet nie wat om volgende te sê nie.

“Kan jy jou indink hoe dit moet voel as die bruidsmeisies almal maerder as die bruid is?” wil Milanka weet. “Maggies, vriendin, hoekom reageer jy asof ek nie gelukkig wil wees nie?”

“E … nee. Dis glad nie dit nie. Ek dink net dis bietjie rof om vir mense te vra om asseblief groter te word sodat jy kleiner kan lyk.”

Milanka lyk seergemaak. “Sjoe, nou laat jy my regtig soos ’n aaklige mens klink.”

“Jammer, vriendin,” sê Tillie en sug. Sy kyk af na die tafel. Sy het net nog nooit in haar lewe so ’n versoek gehoor nie. “Weet Jacques van hierdie plan?”

“Ek wil hom nie pla met so iets nie. Hy vertrou my dat al hierdie dinge in plek sal val.”

“Hoeveel gewig moet hulle optel?” Tillie kan nie glo sy vra dit nie.

“Al die rokkies word slegs in ’n nommer veertien gemaak,” verduidelik Milanka. “Jy moet net versoek dat hulle almal seker maak hulle pas in een teen my troudag. Almal is ook korter as ek. Dis ’n vereiste van die voorste fotograwe.”

Die kelnerin kom sit drie vars vye-martini’s op die tafel neer en verwyder die leë glase. Tillie sluk omtrent die helfte van haar nuwe drankie dadelik weg. “Ek sal sien wat ek kan doen.”

“Wat het ek gemis?” vra Jacques toe hy weer by hulle aansluit.

“Alles,” antwoord sy en wonder hoeveel hy weet van die Oostenrykse dieet en die draadjiepetalje.

“Ons tema is ‘fantasmagories’!” sê Milanka. “Hou jy daarvan?”

“E … ja,” sê Tillie maar wat sy wil hoor. “Wat … presies behels dit?”

Milanka soek weer dromerig na Orion se belt teen die plafon. “Dis soos ’n yin and yang fusion met Aspoestertjie en Alice se Wonderland.”

Nou is Tillie eers verward. “Ek wil net die beste vir julle twee hê – en daarom dink ek regtig jy moet iemand vra wat hierdie sprokiestroue kan maak gebeur.”

Milanka lê ’n sagte hand op haar voorarm. “Ons het haar reeds gekry. Sy sit hier langs my. My beste vriendin op aarde.”

Tillie se bra is die eerste ding wat oor die vloer trek toe sy by haar slaapkamer instap. Dis ná twaalf en sy moet sesuur al weer op wees. Sy pluk haar skoene en jeans af en val op die bed neer. Sy’s oormoeg en gaan soos ’n zombie by die werk wees. Sy trek haar selfoon nader en aktiveer Google.

How to plan a wedding

Daar is dadelik ’n paar duisend uitslae.

Sy vloek sag en tik ’n nuwe sin.

How to plan a wedding in under 3 months!!!!!

Baie minder uitslae word nou vertoon. Verdomp. Sy sit die foon langs haar neer. Hoe op aarde gaan sy dit regkry om ’n troue in so min tyd gereël te kry? Mens kan beswaarlik ’n gewone mens s’n so vinnig gereël kry. Milanka is ver van gewoon af en Tillie wéét dit gaan ’n disaster wees. Milanka het hoë standaarde en gaan haar lewenslank blameer as sy ’n gemors hiervan maak.

Tillie dink terug aan die dag toe sy Milanka ontmoet het, aan die einde van graad een in juffrou Duvenhage se klas. Dit was vir die hele klas snaaks toe die dogtertjie eers aan die einde van die jaar by hulle kom aansluit. Klein Milanka het altyd soos ’n prinsessie gelyk en netjies en penorent in haar stoel gesit. Sy het haar hand opgesteek wanneer daar vrae gevra is en al was sy nie reg nie, was haar hand altyd weer op vir die volgende vraag. Pouses het sy eenkant gesit en van die meisies in die klas het gesê Milanka dink sy is beter as hulle. Tillie het nie regtig maats gehad nie, maar was definitief ook nie van plan om met Milanka maats te raak nie.

Hulle was besig met oefen vir ’n Kersopvoering en dit het nie gelyk asof juffrou Duvenhage weet wat sy wou hê of doen nie. Milanka het dadelik hulp aangebied en het tjop-tjop elke kind op sy of haar plek gehad. Van choreografie tot wat elkeen moes dra op die groot aand. Sy’t die kinders gedruk om pouses te oefen en het elke dag inspeksie gehou of hulle naels mooi kort was en of hulle stemme goed gewerk het. Juffrou Duvenhage het vinnig besef watter hoë standaarde die sewejarige Fouché-kind het, en op die aand van die Kersopvoering het die graadeens die hele res van die skool ore aangesit.

Hoewel hulle trots was op die staande ovasie, was hulle net mooi siek en sat vir Milanka wat almal die voorafgaande paar weke so rondgejaag het. Tillie het daardie sentiment gedeel en wye draaie om haar geloop.

Die Maandag na die skoolkonsert het Milanka die klas gevra om haar te help om al die stutte in die stoor onder die skoolsaal se verhoog te bêre. Die kinders het een vir een die hasepad gekies. Tillie wou nog wegglip, toe juffrou Duvenhage haar voorkeer en sê om gou vir Milanka te help. Twee hande maak mos ligte werk. Teen haar sin is Tillie agter die klein korporaal skoolsaal toe. Milanka het vinnig bevele uitgedeel en hulle is met die eerste paar stutte by die kamertjie in.

Oor hoe dit gebeur het, kan nie een van hulle tot vandag toe seker wees nie, maar net toe hulle in die stoor was, het die deur agter hulle toegeklap en vanself gesluit. Milanka het ’n sterk vermoede gehad dit was een van die seuns wat hulle ’n poets wou bak, en Tillie was geneig om saam te stem. Hulle het om hulp geroep, maar niemand het kom help nie. Tillie het een ding geweet: om ure lank saam met Milanka Fouché in ’n stoorkamer te sit, was die grootste straf wat sy in haar lewe sou moes deurmaak.

Vir die eerste uur het Milanka net oor haarself gepraat en hoe haar pa die skool gaan dagvaar en hoe daar vir hulle jammer gesê gaan word in die openbaar. Tillie het net stil gesit en luister. Sy het geweet sy kom nie uit ’n rykmanshuis soos Milanka nie, en dit was duidelik dat hulle twee absoluut niks gemeen het nie.

Maar dit was ná daardie uur dat ’n ander Milanka begin deurskyn het. Sy het vir Tillie gevra wat haar stokperdjies is. Wat haar grootste vrees is. Watter superpower sy wil hê as sy een kon kies. Die mure van die fasade het begin verbrokkel. Hulle was albei bang vir slange. Albei wou so sterk soos Wonder Woman wees. Albei het nie van piesangs gehou nie. Milanka het met haar rug teen die bedompige stoor se muur gesit en net oopgemaak.

“My ouers het my laat toets,” het sy vir Tillie vertel.

“Vir wat?” wou Tillie nuuskierig weet.

“Ek is nie begaafd nie. My boetie is. Ek nie.”

“Wat beteken dit?” het die sewejarige Tillie doodonskuldig gevra.

Milanka het geglimlag. “Dit beteken jy is nie baie slim nie. Begaafde kinders het ’n baie hoë IK.”

Tillie het gelag. “Jammer, ek verstaan nie van hierdie tipe goed nie. Wat is ’n U-Ka?”

“Dit maak nie saak nie,” het klein Milanka gesê. “Dis hoekom ek hiernatoe gekom het vir skool. ’n Staatskool.”

“Omdat jy nie slim genoeg is nie?”

Milanka het geknik. “My ma het my uit die privaatskool gehaal en gesê hulle gaan nie al daardie geld spandeer as ek net gewoon is nie.”

Tillie het vir die eerste keer sedert Milanka by hulle klas ingestap het, gesien dat sy emosie wys. ’n Traan het uit die dogtertjie se oog geglip, maar sy het dit so gou weggevee dat jy dit sou gemis het as jy haar nie mooi dopgehou het nie.

“Jy is nie gewoon nie,” het Tillie gesê. “Jy’s baie bossy, maar dit is oukei. Ek is ook nie gewoon nie.”

“Kan ons maats wees, Tillie?” het Milanka gevra. “Ek is baie alleen.”

Sy het geglimlag. “Ek sal graag met jou maats wil wees.” Daar was egter ’n voorwaarde: “Maar net as jy jouself is by my.”

Milanka het oorgeleun en haar ’n drukkie gegee. “Ek belowe.”

Net voor huistoegaantyd het ’n histeriese juffrou Duvenhage en die skool se opsigter, oom Koos, die stoor se deur oopgemaak. Juffrou Duvenhage was in trane en het die dogtertjies om verskoning gevra. Sy’t nie besef dat hulle nog daar is voor die hoof haar kantoor toe geroep het en gevra het of sy dalk weet wat sedert die oggend van die twee kinders geword het nie.

Milanka het opgestaan, geglimlag en Tillie aan die hand opgetrek. “Toemaar, juffrou. Ek en my nuwe beste vriendin het lekker gekuier. Ons was nie bang nie.”

Tillie onthou nog so, toe daar ’n klop aan haar kamerdeur is. Sy klim gou onder die duvet in sodat Braam haar nie in haar panty hoef te sien nie. “Kom in.”

Die deur gaan stadig oop en die stewige krulkopman met die rooi vetwangetjies kom ingestap. “Haai, Tillie,” groet hy stadig.

“Haai, Braam.”

“Jy is laat,” sê hy in ’n monotoon. Sy oë lyk klein agter die dikraambril.

“Jammer, jong. Ek was uit saam met my vriendin-hulle.”

Braam knik stadig. “O.” Hy staan net daar.

“Hoe was jou dag?” vra Tillie om die stilte te verbreek.

“Oukei,” antwoord Braam.

“Was jou baas gelukkig met die program wat jy geskryf het?”

“Ja.”

Tillie weet al sy gaan nie meer as vyf woorde op ’n slag uit Braam kry nie. Hulle is al oor die twee jaar huismaats en Braam “is” eenvoudig net. Sy kan nie dink dat sy al ooit blyke van emosie by hom gesien het nie. Maar hy kla nooit nie. Hy betaal sy deel en dus werk die saamblyery goed. Hy werk vir die een of ander IT-maatskappy en hy hou van Netflix en rekenaarspeletjies. Dis omtrent al wat Tillie van hom weet.

“Oukei. Ek gaan slaap,” sê hy robotagtig.

“Lekker slaap! En dankie vir die inloer,” groet sy.

“Oukei.” Braam draai traag om en trek die deur toe agter hom.

Tillie glimlag toe sy onthou hoe sy eendag verspot was en agter ’n bank in die sitkamer weggekruip het om Braam skrik te maak. Hy’t met popcorn ingestap om TV te kyk. Met ’n helse “Whaaaaah!” het sy agter die bank uitgespring en haar arms geswaai. Braam het stadig sy kop na haar gedraai. “Haai, Tillie. Wat doen jy daar?” Sy’t verduidelik sy het besluit om hom skrik te maak, waarop hy net “O” geantwoord en gaan sit het. Tillie het maar besluit dat sy nie gou weer so iets sou probeer nie.

Braam gee haar nie probleme nie. Milanka, aan die ander kant … Sy dink weer terug aan die rare versoek dat die strooimeisies groter moet wees sodat sy maerder kan lyk. Wie op aarde vra so iets? Maar Milanka Fouché het …

Tillie skrik in dieselfde posisie wakker toe die wekker sesuur afgaan. Sy besef sy het nie eens die lig afgeskakel nie.

Bruidzilla

Подняться наверх