Читать книгу Bruidzilla - Marion Erskine - Страница 6

3

Оглавление

“Sy blackmail die noodlot”

Net na vier is die meeste mense kos gegee en El Horno vir eers stil, voor die aand se spitsuur begin. Phatiswa het gaan rook en Tillie help Alejandro om die skottelgoed in die wasser te pak.

“Wat gaan aan?” vra hy.

Tillie poog om ’n glimlag te gee. “Wat bedoel jy?”

Die kok sit sy hand op haar skouer. “Jy is al heeldag anders. Iets pla.”

Tillie sug. “Jy onthou mos vir Milanka, my vriendin?”

Hy trek sy oë op skrefies. “Die narcissist wat so van haarself in die third person praat?”

“Sies, Alejandro,” raas sy tevergeefs.

Hy druk die skottelgoedwasser se deur toe en druk die knoppie. “Ek was vir twee uur saam met julle op daai boot en sy’t nét oor haarself gepraat. Ek wou later die life jacket gryp en myself in die water gooi.”

“Sy is maar so. Sy’s nie regtig ’n narsis nie. Sy het net ’n erge graad van OCD.”

Die kok rol sy oë en sê in ’n meisiestem: “Ek sê toe vir myself, Milanka, jy’s ’n ster. Jy was die beste trompoppieleidster wat ooit deur Suid-Afrika gestap het. Milanka, as jý dit nie kan doen nie, sal niemand dit kan doen nie.”

“Hou op!” Tillie moet egter lag vir hoe goed Alejandro haar vriendin namaak.

“Nee, my skat,” skud hy sy kop. “Dáái een is beyond repair.”

Tillie glimlag. “Goed dan. Ek gaan jou nie oortuig kry nie, so gee my eerder raad.”

“Geld is min, maar raad het ek,” sê Alejandro en vee sy hande aan ’n vadoek af.

“Milanka gaan trou en ek moet dit reël,” verduidelik Tillie en gaan staan met haar arms gevou teen een van die wasbakke.

“Wie is die arme sot?” kom dit vinnig.

Tillie huiwer voor sy antwoord, want sy weet al wat die Spanjaard gaan sê. “Dis Jacques Malherbe.”

Alejandro sug asof hy so pas varsgebakte brood geruik het. “Ah, Mister Dreamy. She finally caught him. Hy’s obviously gorgeous, maar nie baie slim om met haar te trou nie.”

“Hulle maak ’n oulike paartjie.”

Dié keer sit hy albei sy hande op haar skouers en skud sy kop stadig heen en weer. “Jy’s ’n beter mens as ek.”

“Hoekom sê jy so?”

“As ek nie verkeerd is nie, was Jacques Malherbe jóú blind date?”

Die woorde maak seer, want dis waar.

“Miskien het die noodlot my net gebruik om hulle by mekaar te kry,” antwoord Tillie en trek haar skouers op.

“Noodlot se gat,” lug Alejandro sy mening. “Daai girl blackmail die noodlot om te kry wat sy wil hê.”

Tillie se kop sak. “Ek moes jou nie vertel het nie. Ek het geweet jy is nie ’n fan nie.”

“Dis nie oor of ek haar fan is of nie. Ek kan net nie verstaan waarom jy dit bly vat dat sy jou so manipuleer nie.”

Vir die derde keer verdedig Tillie haar vriendin. “Sy manipuleer nie regtig nie. Sy’s net ’n ingewikkelde mens. Sy het baie goed in haar. Dalk verstaan ek haar hart net beter.”

“As jy so sê.” Hy kruis sy arms bo-op sy maag.

Tillie dink terug aan die dag toe sy veertien was. Die dag toe sy besef het dat Milanka meer as ’n vriendin is. Die dag toe hulle regtig sielsgenote geword het. Sy wil nie vir hom daarvan vertel nie, dis persoonlik. Dis tussen haar en Milanka.

Alejandro neem haar hande in syne. “Jy’t gevra vir raad?”

Tillie knik.

Weer kyk hy haar in die oë. “Hardloop. Moet dit nie doen nie.”

“Sy verwag dit van my. Ek’s haar beste vriendin,” sê Tillie sag.

“Ek ken haar nie so ver soos wat ek haar kan gooi nie, maar niks wat jy vir haar gaan doen, sal ooit reg wees volgens haar standaarde nie. Veral as dit by ’n fairy-tale wedding kom. Jy weet dit net so goed soos ek.”

“Ek … ek is bevrees jy’s reg.”

Alejandro lig haar ken op. “Kyk vir my.”

Tillie kyk verslae na hierdie man vir wie sy die laaste paar jaar baie lief geraak het.

“Ek gaan jou nie kan help nie,” gaan hy voort. “Soos dit is, is my hypertension moer toe en Milanka gaan my net in ’n vroeë graf in dryf.”

“Ek verstaan.”

“Maar ek ken wel iemand wat jou kan help.”

“Wie?” vra Tillie met nuwe hoop in haar hart.

Alejandro glimlag. “Hy’s een van die bestes in die business. Maar Mister Dreamy gaan betaal.”

“Mister Dreamy … ek meen Jacques sál betaal. Jy glo die ou sal my kan help?”

“As hy nie kan nie, sal niemand kan nie!”

Tillie gee hom die stewigste druk wat sy kan en mompel “Jy’s die beste ooit” teen sy borskas.

Jacques sit reeds in die coffee shop en wag toe Tillie twintig oor sewe daar instorm. Hy het haar vanmiddag gekontak en gesê hy wil net vir haar geld gee om solank met die nodige reëlings te begin.

“Ek’s jammer ek’s laat! Jy weet hoe dit gaan.”

“Dis doodreg, Tillie,” verseker hy haar en trek ’n stoel uit, soos ’n regte gentleman. “Kom sit. Wat wil jy drink?”

“Net water.” Sy sak vir die eerste keer vandag op ’n stoel neer. Dit voel asof haar boude die kussinkie soen van dankbaarheid.

“Is jy seker jy soek nie koffie nie?” Hy lyk flippen handsome in sy ligte langbroek en die gholfhempie wat sy blou oë beklemtoon.

“Net water, dankie. As ek koffie drink, slaap ek nie vanaand nie.”

Jacques bestel ’n glas water en draai na haar. “Voor ons besigheid gesels, vertel my hoe dit met jou gaan.”

Tillie voel skoon verbouereerd as die man praat. Sy stem is so diep en manlik en hy kan môre ’n pos as radio-omroeper kry as hy dit wil hê. Die laaste keer toe hulle alleen in ’n vertrek was, was met die einste blind date waarna Alejandro ’n paar uur gelede verwys het.

“Dit gaan nie sleg nie,” jok sy.

“Jy lyk vir my moeg,” antwoord Jacques. “Daardie lang ure doen jou nie goed nie. Hoeveel dae ’n week werk jy?”

“Ses.” Tillie voel asof sy haar kop in die grond wil druk. Watter vrou wil graag hoor hoe moeg sy lyk? En dit komende van ’n adonis soos Jacques Malherbe. Magtig.

“Hoekom probeer jy nie ’n ander werk nie?” stel hy voor. “Iets wat meer betaal en met korter ure?”

Tillie sug. “Ek het nooit na skool kans gekry vir ’n geleerdheid nie.”

“Ek hoor jou, maar daar is baie millennials wat goed doen vir hulleself sonder ’n geleerdheid.”

“Jy’s reg, maar wanneer ’n mens net werk van die oggend tot die aand, dink jy nie regtig aan jou vele opsies daar buite nie.”

Die kelnerin bring die water en Tillie bedank haar.

“Moet ek met my vennoot gesels en kyk of ons nie vir jou iets by Estatopia kan kry nie?” bied Jacques aan.

Tillie skud haar kop. “Ek sal nooit so iets van jou kan verwag nie, Jacques.”

“Hei, ek doen dit nie as ’n guns nie. Ek bied aan omdat ek weet dat jy hard sal werk.”

“Dankie,” glimlag Tillie en hou aan kyk na haar glas. “Maar ek’s oukei vir nou.” Sy het ’n spesmaas Milanka sal dit nie goedkeur as sy saam met Jacques in dieselfde gebou moet werk nie.

Vir ’n ruk sê nie een iets nie. Dan sê Jacques: “So, Milanka en ek gaan trou. Wie’t ooit geraai dit sou so gou gebeur?”

“E, ja. Ek is regtig bly vir julle. En die hele idee van Bobby van Jaarsveld en die olifant – jy’s enig in jou soort.”

Hy lyk meteens taamlik emosioneel. “Ek wil haar net gelukkig sien. Milanka het soveel mooi in haar.”

“Sy het. En sy’s gelukkig om ’n man soos jy te kan hê om saam mee oud te word.”

Jacques kyk weg en begin vroetel met sy beursie. Hy haal ’n kredietkaart uit en skuif dit oor die tafel. “Hierso.”

“Wat is dit?” vra sy verbaas.

“Dis ’n kredietkaart en jy kan dit gebruik vir enige koste verbonde aan die troue. Ek whatsapp vir jou die PIN. Daar is ’n halfmiljoen rand op.”

Tillie spoeg water oor die tafel.

Jacques spring op, pluk ’n paar servette uit die mandjie en help droogmaak.

“Jammer,” sê sy, aan die hoes.

“Dis oukei.”

Toe sy uiteindelik tot bedaring kom, kyk sy na die kredietkaart wat meer geld verteenwoordig as wat sy in vier jaar verdien.

“Vyfhonderdduisend rand?”

“Ek vertrou dit sal kan werk vir eers.”

Vir eers? Is hy van plan om nog ’n halfmiljoen op te laai as hierdie geld gedaan is?

“Ek … e … ek gaan ’n funksiebeplanner kry om my te help,” sê Tillie. “Ek hoop jy’s oukei daarmee. Ek’s doodeenvoudig te besig by die werk om by alles uit te kom.”

Die donkerkop se glimlag maak haar lam. Ruk jouself reg, Tillie.

“Dis ’n bak idee,” sê Jacques. “Laat weet net as jy nog geld nodig kry.”

Sy staar na die hunk voor haar. Jacques Malherbe het nog nooit geweet hoe dit is om swaar te kry nie. Hy is in ’n ryk familie gebore en mense soos hy verstaan nie dat kaarte met ’n halfmiljoen rand op mense soos sy laat verstik nie. Hoewel hy ’n mooi kar ry, lekker eet en netjies aantrek, het Jacques nog nooit in die tyd wat sy hom ken daarmee te koop geloop nie. Hy’s plat op die aarde. Dis juis waarvan sy gehou het toe sy hom ontmoet het. Sy ouers is ’n paar jaar tevore oorlede in ’n motorongeluk en Jacques het toe die besigheid oorgeneem.

“Milanka is nie maklik om te please nie,” sê Tillie doodeerlik. “Wat as ek alles opfoeter?”

Hy glimlag weer. “Ek weet. Ek het nog nooit iemand soos Milanka ontmoet nie, en ek twyfel dat daar baie mense soos sy bestaan, maar ons moet alles in ons vermoë doen om dit die beste dag van haar lewe te maak. Jy weet wat dit vir haar beteken.”

“Dit is juis waarom ek so bang is.” Haar maag trek skoon op ’n knop. “Wat as ek nie kan nie?”

“Dan maak ons dit die beste dag wat ons moontlik kan. En ek’s ’n foonoproep ver as jy hulp nodig het. Jy’s nie alleen in die ding nie. Ek weet Milanka het soms snaakse idees. As dit te veel vir jou raak, laat weet my. Soms luister sy na rede. Ek kan kwaai wees.”

“Baie dankie daarvoor.” Tillie kan haar nie voorstel dat Jacques ooit kwaai kan wees nie. Tog het Milanka ’n man nodig wat haar soms op haar plek kan sit; dalk kan hy wel.

Jacques vat ’n laaste sluk koffie en vee sy melksnorretjie met ’n servet af. “Kan ek aanbeveel dat jy die kredietkaart nie so op die tafel laat lê nie?”

“O!” roep Tillie verbouereerd uit en druk dit sommer by haar bra in.

Jacques lag, staan op en kantel sy kop half na haar kant toe. “Ek wou jou nog altyd vra. Is jy ook Tillie op jou ID-dokument?”

Sy bloos effens. “My volle naam is Mathilda Maria Lombaard.”

“Dis ’n mooi naam. Ons gesels later. Lekker dag, Mathilda.”

Sy voel hoe haar gesig opvlam. Voordat sy daarby uitkom om te groet, stap Jacques Malherbe by die koffierestaurant uit – elke vrou (en een man) in die vertrek se oë op sy besonder aangename agterstewe gevestig.

Bruidzilla

Подняться наверх