Читать книгу Bruidzilla - Marion Erskine - Страница 7
4
ОглавлениеDie keer toe Tillie op haar eerste blind date gegaan het
Tillie kyk vererg op na die fluoorligte in die restaurant se badkamer en dan weer na haar tamatierooi hare. Miskien is dit die lig? Die henna wat sy aangesit het, laat haar meer na ’n vrou van die nag lyk as enigiets anders. Alejandro het gesê haar haarkleur doen niks vir haar nie en die henna was sý idee.
Blameer wie jy wil, dit is nou te laat. Oor tien minute ontmoet sy haar eerste Tinder date. Sy’t die app maande terug afgelaai en het al met ’n paar manne daaroor gesels, maar dis die eerste keer dat sy ingestem het tot ’n date. Hy sê sy naam is Jacques. Sy sal maar uitvind of dit wel die geval is.
Tillie wend lipstiffie aan, omtrent dieselfde kleur as haar hare. Sy vee dit dadelik met ’n papierhanddoek af. Dié Jacques sal haar maar sonder lipstiffie moet leer ken, want sy herken haarself nie eens meer nie. Sy trek haar enigste netjiese swart rokkie reg en probeer haar kleinerige boobs soveel volume moontlik gee. Die rokkie is een van Milanka se hand-me-downs. Sy gee nie eintlik om om Milanka se ou klere te dra nie. Dis tog al manier hoe sy ooit ’n ordentlike handelsmerk aan haar lyf sal hê.
Gelukkig is die restaurant se beligting meer vleiend, besef sy terwyl sy na haar tafel stap. Die rooi hare weerkaats in ’n spieël oorkant haar en sy sug verlig.
Net toe Tillie tot sit kom, staan ’n lang man voor haar.
“Tillie?” vra hy in ’n diep stem.
Sy ruk soos sy skrik. Dié man is twaalf maal mooier as die foto’s wat hy gedeel het. “E … dis reg. Is jy …?”
“Jacques Malherbe,” voltooi hy haar sin. “Mag ek maar sit?”
Tillie voel hoe sy dieselfde kleur as haar hare word. “O … ja … e … natuurlik!”
Die donkerkopman knoop sy vlootblou baadjie los en skuif oorkant haar in. Hy ruik so flippen lekker. As hy nóú wil babatjies maak, sal sy sonder om te skroom instem.
Vir eers kyk hy aandagtig na haar en glimlag dan. “Uiteindelik ontmoet ons.”
Tillie voel skoon hoe sy aan die bewe gaan. Hierdie man kom so reg uit ’n TV-sepie. Hy’s die held van Hollywood. Hy’s nie die tipe ou wat van haar sal hou nie. Sy weet klaar hy gaan ’n verskoning vind om gou hier uit te kom.
“Uiteindelik,” knik sy. “Dankie dat jy gekom het.”
“Ek dink ons moet dalk ’n glas wyn bestel,” stel Jacques voor. “Ek’s redelik op my senuwees. Ek het ’n slegte rekord met blinde afsprake en het nog nooit iemand van aangesig tot aangesig deur Tinder ontmoet nie.”
“Dieselfde hier!” sug Tillie dankbaar. “Dit is ’n goeie plan! Bestel enige iets. Ek is glad nie fussy as dit by wyn kom nie.”
Na die eerste glas merlot en ’n heerlike stuk lasagne vir hulle albei, het Jacques Malherbe darem nog nie die hasepad gekies nie. Tillie kan haar geluk nie glo nie. Hulle gesels oor allerhande onderwerpe en het meer gemeen as wat sy gedink het. Jacques het vertel dat sy pa ’n eiendomsagentskap begin het, en toe sy noem dat sy al ’n paar jaar in Melville as kelnerin werk, het hy daaroor uitgevra. Nie veroordelend nie. Alles het net in plek geval.
“Wat is een van die weirdste dinge wat nog by El Horno gebeur het?” vra hy terwyl hy vir haar ’n tweede glas merlot skink.
Tillie lag. “Daar is so baie, maar ek het eenkeer hierdie creepy oom gehad wat heeltyd my foonnommer gevra het.”
“O ja?”
“Die oom het aangehou en aangehou en gesê hy sal my goed tip as ek my nommer vir hom gee. Ek het volgehou dat dit nie gaan gebeur nie.”
“En toe?”
Tillie vertel dramaties verder: “Hy’t betaal, geweier om te tip, opgespring en kliphard geskree: ‘Jy’s in elk geval nie baie mooi nie!’ ”
“Die bliksem!” laat waai Jacques en klap dan sy mond toe. “Jammer, ek het nie bedoel om sulke taal te gebruik nie.”
Sy lag lekker. “Ek werk in ’n restaurant saam met ’n Spanjaard. Ek hoor baie erger woorde. Hy wás ’n bliksem, jy’s doodreg.”
“Ek sal ’n bottel tamatiesous op so iemand omkeer. Ek weet nie hoe hou julle dit met sulke mense nie.”
“Ons leer om kalm te bly,” antwoord sy en sien haar foon vibreer op die tafel.
Jacques kyk daarna. “Jy’s welkom om te antwoord.”
“Dis my vriendin.” Tillie druk die foon dood. “Ek sal haar later bel.”
“Dalk is dit ’n noodgeval? Ek gee glad nie om nie.”
Met Milanka is álles ’n noodgeval, dink Tillie. “Nee wat, kom ons gesels eerder oor watter snaakse dinge al met jou by die werk gebeur het.”
“Goed dan,” glimlag Jacques. “Eenkeer het ’n kliënt … e … Jou foon lui weer.”
Tillie druk dit weer dood. “Dis oukei. Gaan aan.”
WhatsApp-boodskappe begin deurkom. Een woord op ’n slag, Milanka se manier.
Tillie!!!!!
Dis
’n
Noodgeval!
Antwoord
Jou
Foon!!!!!
Nou!!!!
Tillie sug hard. “Kan ek haar maar gou bel?”
Jacques knik vriendelik. “Dit is toe seker ’n noodgeval. Ek gee regtig nie om nie.”
Sy weet voor haar heilige siel dat Milanka die aand gaan bederf, en teen haar beter wete bel sy terug.
“Hoekom antwoord jy nie jou foon nie!” gil Milanka histeries aan die ander kant.
“Ek is jammer,” sê sy so sag moontlik, terwyl sy sien hoe Jacques sy foon uit sy baadjiesak haal en apps begin oopmaak. “Ek is hier by die restaurant met … e … jy weet, ek het jou vertel.”
“Wat vertel? Saam met wie? Ek het jou nodig!”
“Ek is hier, Milanka,” probeer Tillie haar kalmeer, draai haar skuins en fluister verder: “Ek het jou vertel ek het ’n blind date vanaand.”
“Johann het my gelos!” skree Milanka en huil kliphard. “Na alles wat ek vir hom opgeoffer het! Hy het sy ring teruggevra!”
“Ek’s jammer om dit te hoor.” Sy weet hoe gek Milanka oor Johann Verwey is.
“Waar is jy?”
“Ons is by Café Picobella Trattoria in Melville. Moet ek na jou toe kom as ons klaar is?”
“Nee,” sê Milanka al snikkende. “Ek kom sommer na jou toe.”
“Ek dink nie dis ’n goeie idee om hierheen …”
Maar Milanka het klaar doodgedruk. Tillie kyk na die foon asof dit haar pas gebyt het.
“Is alles oukei?” vra Jacques besorgd. “Jy lyk asof jy ’n spook gesien het.”
Sy sit die foon neer en laat sak haar kop in haar hande.
“Tillie?” vra Jacques en spring dan op. “Wat gaan aan?”
Sy skud haar kop voordat sy praat. “My vriendin se verloofde het haar gelos en sy is broos.”
“Ek’s jammer om dit te hoor,” vryf hy sag oor haar skouer. Die eerste fisieke kontak tussen hulle. Tillie se sinapse skiet vuurwerke haar hele lyf vol.
“Sy’s op pad hierheen,” breek sy die nuus.
“Hierheen?” herhaal Jacques asof hy nie behoorlik verstaan nie.
Sy weet nie hoe om te begin verduidelik nie. “Sy’t iemand nodig om mee te praat en sy’t my nou nodig.”
Hy knik en gaan sit weer. “Nou ja. Dis nie hoe ek my ons eerste date voorgestel het nie, maar vriende beteken baie en daarom moet ons twee ons bes doen om Mihandré … e …”
“Milanka,” help sy hom reg.
“Dan gaan ons twee Milanka opbeur. Jy’s ’n goeie vriendin, Tillie. Sy’s gelukkig om jou in haar lewe te hê. Ek hou van onbaatsugtige mense.”
Mens sou sweer dat Milanka haar verlowing reg oorkant die straat verbreek het, want binne minute storm sy die restaurant binne en val Tillie dramaties om die hals. Sy huil so hard dat die restaurantbestuurder nader hardloop om te hoor wat aan die gang is.
“Ek’s jammer,” troos Tillie haar.
Milanka praat so onsamehangend tussen die tranedal deur, dat nie een van hulle regtig kan hoor wat sy sê nie. Toe sy uitgehuil is, gaan sit sy op die stoel tussen Jacques en Tillie. Haar blonde hare hang verlep en haar maskara het lang strepe oor haar wange gemaak, tot op haar wit Michael Kors-rokkie. Sy sit eers ’n ruk net so en kyk dan na Jacques.
“Hallo,” groet hy. “Ek neem aan jy is Milanka.”
Sy lyk dadelik beter toe sy die mooi donkerkopman behoorlik inneem en gooi ’n blonde lok agter haar oor in. “Aangenaam. En wie is jy?”
“Dit is Jacques Malherbe,” stel Tillie hom voor en voeg vinnig by: “My date.”
“Mans is vuilgoed,” lug Milanka haar mening. “Is jy vuilgoed, Jacques Malherbe?”
Hy skud sy kop. “Ek glo nie so nie. Kan ek vir jou iets kry om te drink?”
Milanka pluk Tillie se servet nader en vee haar gesig af. “Asseblief, ’n Long Island iced tea. Min ys.”
Jacques wink ’n kelnerin nader en bestel die drankie.
“Het jy gedrink vanaand?” vra Tillie die voor die hand liggende vraag.
“My verloofde het my gelos omdat ek hom aangevat het oor sy pornografieverslawing!” gil Milanka dat almal in Café Picobella Trattoria omkyk. “Natuurlik het ek gedrink, Tillie!”
“Hei, ons is aan jou kant. Ons is hier vir jou,” probeer sy haar vriendin gerusstel.
“Mans is almal verslaaf aan pornografie, Jacques Malherbe! Dis net hoe julle is!” Milanka het duidelik meer gedrink as wat Tillie gedink het.
Jacques lyk omtrent ongemaklik terwyl die kelnerin skrikkerig die drankie voor Milanka neersit. “Ek, e … ek dink darem nie ek is aan pornografie verslaaf nie.”
“Dan is jy een uit ’n miljoen!” Sy pluk die strooitjie uit en sluk amper ’n derde van die glas weg. “Ek het hom gevang. Op heterdaad! Op sy foon.”
“Wat het gebeur?” vra Tillie bekommerd. Johann het nog nooit as die pervert-tipe voorgekom nie.
“Hy’t ’n app, Tillie. ’n App vól halfkaal vroue. Twaalf van hulle. Een hoer vir elke maand van die jaar. Poetjellie tyres of iets.”
“Pirelli?” vra Jacques.
Milanka kyk hom op en af. “Ja. Dis reg. Ken jy dit?”
“E … baie mans het Pirelli-kalenders,” sê hy versigtig. “Ek dink nie regtig dis soseer pornogra-”
“Dit is!” onderbreek Milanka hom. “Hulle lê sommer so oor ’n kar se bonnet! G-strings en uitloklike posisies die hele foto vol! Geen respek vir ’n dame se lyf nie.”
Tillie kan sien Jacques Malherbe is dik van die lag en sy probeer keer dat Milanka iets agterkom. “Nou wat nou, vriendin?”
Milanka vat nog ’n sluk. “Ek het vir Johann gesê om terapie te kry vir sy verslawing, maar hy weier. Hy sê hy’s nie verslaaf nie! Tipies. Wys jou net hoe verslaaf is iemand wat nie dink hy’t ’n probleem nie.”
“Maar is jy oortuig hy’s verslaaf?” Nou half verward, onthou Tillie dat haar oupa desjare glo gereeld die Scope gekoop het, waarin meisies soms nie baie klere aangehad het nie. Hy het vroue tog altyd met die grootste respek behandel.
“Keur jy sy verslawing goed, Tillie?” vra Milanka kwaai. “Ek het gedog jy sou aan my kant wees!”
“Ek is. Ek het net gevra of hy regtig verslaaf is. Kan julle dit nie uitpraat nie?”
“Nee! Ek wil hom nie meer hê nie! My liggaam is ’n tempel. Ek deel dit met niemand nie.”
Ongemaklik kyk sy na haar vriendin. Kyk, sy wat Tillie Lombaard is, is nie ’n engeltjie nie, maar sy’t nie genoeg vingers op haar hande om te tel met wie Milanka al haar tempel gedeel het nie.
“Boonop het hy my in die openbaar in die verleentheid gestel deur sy ring terug te vra!” gaan Milanka voort.
Tillie wonder tog effens vererg: Wie is tans besig om wie in die verleentheid te stel?
“Sal jy my huis toe neem, Jacques?” vra Milanka nadat sy nog ’n sluk van haar drankie gevat het.
Jacques lyk verward. “E … e …”
“Kan ons nie vir jou ’n Uber kry nie?” bied Tillie aan.
Milanka kyk haar aan asof sy haar met kookwater gegooi het. “Uber? Is dat wat my vriendskap vir jou beteken? Ek kan my ore nie glo nie. Ek smeek jou om hulp en jy wil my in ’n vreemde man se kar inprop nadat ek gedrink het!”
“Ek sal haar vat,” bied Jacques aan. “Ek het net een en ’n halwe glas gedrink. Ek’s nog tip-top.”
Tillie voel asof sy wil huil. Jacques ís dan ’n vreemde man en Milanka prop haarself in sý kar in! Milanka het binne enkele minute haar geluk kom steel. Wat as ’n goeie aand begin het, het pas in ’n moerse flop ontaard.
Jacques maak oogkontak. “As dit oukei is met jou, Tillie.”
“Dis oukei,” antwoord sy en laat sak haar kop, wat skielik bitter swaar voel.
“Moet ek jou ook gaan aflaai? Ek doen dit met liefde.”
“Moenie jou bekommer nie, ek sal self by die huis kom. Dankie.”
Milanka staan op en gooi haar arms om Jacques se skouers. “Dankie. Dit gee my hoop dat daar darem nog ’n ordentlike man op hierdie aarde is.”
“Dis nie moeite nie,” sê Jacques, wat nie sy oë van Tillie afhaal nie.
“Ek gaan gou badkamer toe, ek’s nou terug,” kondig Milanka aan, trek haar hoë stilettos uit en wieg tussen die tafels deur.
Jacques kyk na Tillie. “Is jy seker dis oukei as ek haar vat?”
Sy kyk na die tafeldoek. “Dis reg so.”
Die mooi man reik oor die tafel en neem vir die eerste keer vanaand haar hand in syne. “Ek het ’n heerlike aand gehad, Tillie. Ek sal jou graag weer wil sien.”
Haar oë skiet vol trane. “Is jy ernstig?” Daar is dus tog hoop.
“Ek is doodernstig. Jy is ’n ongelooflike mens en ek sal jou graag beter wil leer ken.”
“Dieselfde van my kant af, Jacques,” antwoord sy eerlik.
“Kom ons maak ’n deal. Jy kies die volgende restaurant en ons albei skakel ons fone af.”
“Dis ’n deal.”
Vir ’n oomblik sit hulle net so vir mekaar en kyk. Tillie voel wraggies dat sy oplaas ’n deurbraak gemaak het – met die eerste man in jare. En hy’s boonop nice genoeg om haar vriendin huis toe te vat.
Dalk is dit tog nie so onmoontlik dat sy ook geluk en liefde sal vind nie?
Milanka kom teruggetrippel, tel haar stilettos op en val Jacques weer om die nek. “Oeps. Ek dink ek’s tipsy. Kan ek maar aan jou hang, Jacques?”
“Jy mag maar. Kom ek gaan laai jou af.” Hy haal ’n paar kraakvars honderdrandnote uit sy beursie en sit dit op die tafel neer. “Sal jy omgee om te betaal, Tillie?”
“Glad nie,” antwoord sy. “Dankie vir ’n lekker aand. Wees veilig, Milanks. Laat weet my of jy veilig by die huis is.”
“Ek maak so,” glimlag Milanka en gooi die laaste sluk cocktail in haar keel af. “Ek het ’n knight in shining armour wat mooi na my sal kyk.”
Twee dae later bel Jacques vir Tillie by die werk. Hy weet nie hoe dit gebeur het nie, maar nadat hy Milanka huis toe gevat het, het hulle diep aan die gesels geraak en binne agt-en-veertig uur was hy malverlief op haar. Hy’s jammer oor alles. Daar sal nie ’n volgende date wees nie. Milanka is die een. Hy is Tillie vir altyd dankbaar dat sy haar aan hom voorgestel het.