Читать книгу Mia - Mariska Robberts - Страница 8
Blou I
Оглавление_______________
Blou is die kleur van die hemel.
Die begin
Sy was ’n week by die huis, toe moes sy terug hospitaal toe. Sy het ligte longontsteking opgedoen, waarskynlik as gevolg van ’n oormaat soene van haar twee ouer boeties. Maar tog was 2009 ’n goeie jaar. Mia Ananja Robberts was die eerste Robberts wat nie direk ná haar geboorte na die neonatale eenheid gehaas is nie. Sy kon soos ander gesonde babas ’n hospitaalkamer met haar ma deel en saam met haar ma huis toe gaan.
Mia moes wel in die eerste paar weke van haar lewe chirurgie kry vir ’n dermobstruksie. Sy het destyds die rekord behaal vir die jongste blindedermlose baba by ’n bekende Bloemfonteinse hospitaal.
Skaars ’n maand oud en reeds ’n rekordbreker.
Binne-in my het iets daardie dag egter ook gebreek. Die gewag voor die teaterdeur het soos ’n ewigheid gevoel. In die eerste 24 uur mag ek haar glad nie opgetel het nie. Sy het verskriklik gehuil. Die dokters wou nie vir haar te veel pynmedikasie gee nie. Deels omdat sy nog so klein was. Intussen wou my borste bars van al die melk en die geskree van my suigeling.
Ná die operasie het dit gelyk of haar magie met ’n naaldwerkmasjien toegestik is. Daar was ’n duidelike sig-sag-patroon van bykans 5 cm oor haar buik. Weke daarna het ek nog gevoel die snit op haar magie wil nie volkome heg nie. Daar was ’n gaatjie waarin my vinger kon pas.
Ek is weer na die pediater toe, en hy het bevestig sy het ’n breuk ontwikkel. Ons moes weer opereer. Maar ek het vir hom gesê ek gaan hierdie gaatjie toebid. Hy het gelag en gesê ek moet maar eers met vakansie gaan en dan terugkom na hom toe.
Ek was vasbeslote om Mia nie weer onder die mes te laat beland nie. In die dae wat op die diagnose van die breuk gevolg het, het ek aanhoudend vir ’n wonderwerk gebid. Ek was oortuig die gaatjie word kleiner. Ná die vakansie van bid en swem in die see, is ons weer dokter toe. Die chirurg het bevestig dat daar wel ’n gaatjie was. Sy wou egter eers wag voordat sy weer opereer. Die gaatjie het binne ’n paar weke heeltemal verdwyn.
So het die vreugde van ’n gesonde babadogtertjie uiteindelik ’n werklikheid geword. Dit was werklik anders as my twee seuns. Nie lekkerder nie, net anders. Dit was soos popspeel. Ek kon vir haar mooi klere aantrek; ek kon my poppie bad en room aan haar smeer; ek kon haar doeke ruil en haar voer. Ek was ’n dogtertjie-mamma en ons almal was dolgelukkig.
Die jare het aangestap. Namate Mia groter geword het, het ons aanvaar dat sy nie ’n stil en stemmige dogtertjie sou wees nie. Mia was uitbundig. Sy het oopbek gelag. Sy kon briesend kwaad word. Sy het alles in oormaat gedoen. En ons was oormatig lief vir haar.
Dis net ’n piepie
In die laaste paar weke van die eerste kwartaal van 2013 was Mia moeilik en huilerig. Sy was ook meer klouerig as gewoonlik. Sy wou altyd by my wees.
Ek het geweet sy is moeg en dat die lang, besige kwartaal sy tol geëis het. Mia het net ’n bietjie ekstra liefde nodig gehad, maar dit was moeilik met die boeties se aktiwiteite en my werkverpligtinge. Ek het haar soms in die motor gelaai om ’n entjie met haar te gaan ry, en dan het sy die hele tyd geslaap. Wanneer ons dan moes uitklim, was sy huilerig. Dit het net nie gewerk nie. Ons alleentyd sou eenvoudig moes wag tot die naderende vakansie in die Kaap.
Die dag voor ons vakansie sou aanbreek, moes ek ’n rits take afhandel, soos dit mos maar voor ’n vakansie gaan. Ek was geïrriteerd met al die werk wat net nie wou klaarkom nie. En saam met die irritasie was daar die ongeduld. Ook met Mia. Sy wou nie eens alleen gaan piepie nie. My irritasie met haar tydelike onbeholpenheid daardie dag sou my jare daarna nog teister.
Vakansie!
Op Vrydag 22 Maart 2013 is ons uit Bloemfontein weg met ’n sleepwa vol bagasie. Die eindbestemming was Stellenbosch. Oudergewoonte het die kinders gereeld gevra hoe ver dit nog is. Mia was deel van die koor wat wou weet hoe ver Skelmbos (haar naam vir die dorp waar sy later van ons gesteel is) nog is.
Ons het op ’n plaas naby Drie Susters oornag. Langs die plaaspad was daar twee kruisies. Eers later die aand sou ek uitvind van die fratsongeluk wat op daardie plaas gebeur het: ’n Pappa het per ongeluk oor albei sy kinders gery. Ek het ’n diep empatie in my hart ervaar. Dit was onmoontlik om onaangeraak deur dié familie se seer die pad verder Kaap toe aan te pak.
Ek het die volgende oggend wakker geword met volkome stilte rondom my, met net die gesuis van die wind deur die bome se blare. Dit was ’n groot teenstelling met die afgelope weke se geskarrel by die huis. Ná ontbyt het ons na die bloekombos langs die plaashuis gestap en ons eerste familiefoto’s van die vakansie geneem. Soos altyd besig om elke oomblik nuwe herinneringe bymekaar te maak. Dis mos waarvoor vakansies daar is!
Ons het die middag laat by ons vakansie-plaashuisie buite Stellenbosch aangekom. ’n Pragtige plekkie van waar ons die mooiste uitsig oor die wingerde gehad het. Dit was presies wat ons wou gehad het.
In die paar dae wat gevolg het, het ons die Skiereiland platgery, maar saans was ons terug by ons huisie op die plaas. Van ons stoepie af was die sonsondergang selfs mooier as van Kampsbaai se strand af. Of só het ons gedink. Veral een aand met sonsondergang het God ons herinner dat Hy nie ver van ons af is nie.
Die oggend van Dinsdag 26 Maart is pa en seuns gholfbaan toe. Ek en Mia het by die huis gebly. Met niks op ons agenda nie was daar hope tyd om, op haar versoek, ook vir Mia grimering aan te sit. Vandag is die dag dat ek vir haar die volle pakket gaan gee, het ek gedink. Van onderlaag tot oogskadu en selfs maskara. Vandag kon sy van “daai” kry wat op enige ander dag verbode was. Van “daai” waaraan sy haar in die verlede self gehelp en ek dit maar oorgesien het.
Ek het ook haar hare uitgeblaas totdat daar nie een dogtertjielokkie oor was nie. Sy het asemrowend mooi gelyk.
Toe sy haarself in die spieël sien, was sy ook sprakeloos. Sy het dadelik kombuis toe gehardloop om vir Pauline te gaan wys hoe sy lyk.
Ek het nooit daardie oomblik op kamera vasgelê nie.
Sy kon nie wag vir haar pappa om huis toe te kom nie. Sy het vir hom weggekruip toe sy die motor hoor naderkom en stilhou. Toe het sy, so saggies soos ’n driejarige met hoëhakskoene kan sluip, tot baie naby aan hom gegaan. Sy het haar oomblik afgewag en hom skrikgemaak met ’n oorverdowende wha! Die gewone “wie se prinses is jy?”-speletjie het gevolg. Haar pa het haar gekielie totdat sy erken het sy is haar pappa en net haar pappa se prinses.
Mia was meestal 90% lag (uitbundig) en 10% woede (oorweldigend). Dié vakansie was die woede net nie daar nie.
Daardie aand was die sonsondergang oorvloedig pienk. Die maan was amper vol en die aand was lig.
Die vakansie was presies waarna ek uitgesien het.