Читать книгу Mia - Mariska Robberts - Страница 9

Swart

Оглавление

_______________

Swart is die totale afwesigheid

van lig of kleur.

Woensdag 27 Maart 2013

Ons het vroeg opgestaan en reggemaak vir ons spesiale familieoggend op die wynplaas Delvera. Ons wou ons hand aan pottebakkery gaan waag. Net nadat ons daar aangekom het, het my kamera se LED-skerm teen iets gekap en gebreek. Ek was baie teleurgesteld, maar gelukkig het ek agtergekom ek kan steeds foto’s neem as ek deur die tradisionele loergaatjie kyk.

Ons het kleipotjies geverf, maskers van klei gemaak en selfs potte op die pottebakkerswiel probeer draai. Ek het hope foto’s geneem.

Almal was so opgewonde en vrolik. Mia het nie geloop nie; sy het gehop-hop na die motor toe ons teen tienuur moes ry.


Ons volgende bestemming was KFC. Daar was ’n groot joligheid in die bussie terwyl elke kind harder as die ander probeer uitskree het wat hulle KFC-gunstelinge is. Tussen die pops, tjippies en mash deur mis Franché die afdraai wat ons moes vat. Toe ons uiteindelik weer op die Bottelarypad kom, was die dag se planne weer op koers.

Ek was nog altyd die veiligheidsgordel-korporaal in ons huis. Ek vra tot 100 keer op ’n dag – altans, só voel dit vir my – dat die kinders hulle veiligheidsgordels moet vasmaak. Elke dag van die skoolkwartaal werk ek hard en sistematies om by alles en almal uit te kom. Die pas is vinnig, en daarom is ek soms regtig kwaai oor die veiligheidsgordels. Maar daardie dag was ek nie. Dit was vakansie. En ek leef vir vakansies wanneer ons as gesin vrolik en ontspanne saam kan wees.

Hoekom ek daardie oggend nie “maak vas” gesê het nie, weet ek nie. Dalk het ek net te lekker ontspan en vergeet van die roetine en ritme wat ons by die huis handhaaf. Min het ek geweet wat dit my gaan kos …

Toe Franché ’n motor verbysteek, sien hy die trekker wat baie stadig wydsbeen oor die middelstreep van die pad ry. Hy besluit om te versnel en ook by die trekker verby te gaan. Die aankomende verkeer was nog ver genoeg. Dit sou veilig wees.

Toe ons reg langs die trekker kom, besluit die bestuurder skielik om regs te draai. Ek het geskree: “Franché, pasop!” Hy het uitgeswaai om die trekker te probeer mis. Maar ons het nie.

Daar was een harde slag. Ons het die trekker getref.

In die volgende paar sekondes het dit gevoel of ons deur die lug sweef. Ek wil amper sê daar was ’n oomblik van stilte. Verder kan ek niks onthou nie.

Later het ek gehoor ons bussie het die padversperring getref en drie keer gerol, teen ’n bult af. Toe ons voertuig tot stilstand kom, het Franché soos blits uitgespring. Ek het ’n bietjie gesukkel om uit te kom.

Ons het albei die seuns hoor huil.

Pauline en Morné het ’n entjie van mekaar af op die gras gesit. Pauline het met reguit bene op die gras gesit en haar kopdoek het los oor haar kop gehang. Morné het ’n enorme knop op die kant van sy gesig gehad. Hy was vol bloed.

Stéfan was nog in die motor. Ek het hom deur die venster uitgetrek en langs Pauline op die gras gaan neersit. Toe sleep ek vir Morné ’n bietjie nader aan hulle. Stéfan se neus het erg gebloei. Ek het hulle probeer troos en kalmeer. Hulle wou weet waar Mia is.

Dit was toe dat ek om die bussie gehardloop het. Daar sien ek vir Franché wat by Mia sit. Sy het tjoepstil gelê. Ek was oortuig sy is net bewusteloos en is terug na die seuns toe. Maar ná ’n rukkie het ek teruggegaan na waar Franché by Mia gesit het.

“Ek dink Miemie is weg,” het hy gesê.

Ek het geweier om dit te glo.

’n Verhaal van Retha McPherson wat ek lank gelede gelees het, het in my kop begin maal. Sy het vertel van ’n man wat by ’n ongelukstoneel stilgehou en hard geroep het: “In the mighty Name of Jesus Christ, this boy will live! He will not die!” Ek het hardop begin bid, in tale gebid, terwyl ek heen en weer tussen Pauline en die seuns en Franché en Mia gehardloop het. Ek het dit aanhoudend gedoen. Heen en weer. Weer en weer.

Toe klim ek in die bussie om ons skoene, CD’s en ander persoonlike goed bymekaar te maak, want ek het skielik onthou dat mense se persoonlike goed dikwels by ongelukstonele gesteel word. ’n Klompie plaaswerkers het nadergekom. Een van hulle het vir my ’n wit goiingsak gegee waarin ek ons goedjies kon gooi.

Dit was asof tyd gaan stilstaan het.

In ’n stadium het ek weer by Franché en Mia gaan staan. ’n Enkele oomblik het ek na Mia gekyk. Haar gesiggie was so perfek en rustig. Maar sy was bleek. Té wit.

Die dag was swart.

Daar was nie ’n druppel bloed op Mia se lyfie of gesig nie. Haar rokkie het so effens opgeskuif en ek het gesien haar magie met die sig-sag-litteken was plat. Dit het nie meer soos ’n gestoffeerde kussing gelyk nie.

Intussen het daar ’n klomp mense by ons stilgehou. Ek het Mediclinic Bloemfontein se noodnommer gebel, bloot omdat dit op my foon gestoor was vir daardie nagte waarin die kinders skielik ’n hoë koors gekry en ons hulp gesoek het. Toe die vrou vra waar ek is, kon ek haar nie sê nie. Ek het teen die rantjie uitgehardloop en my foon vir ’n vreemde man gegee sodat hy vir die vrou kon verduidelik waar ons was. Ek het geweet daar is ’n Mediclinic in Stellenbosch. Ons is al daar verby, en ek het geglo hulle sou wel iemand by ons kon uitkry.

Toe ek weer by Franché en Mia kom, het ek mooi na haar gekyk. Ek het opgemerk dat haar nekkie ’n onnatuurlike buiging vorm. Aan die agterkant van haar kop het ek bloed opgemerk. Dit het ook gelyk asof daar ’n deel van die agterkant van haar kop weg was. Ek het na die gras rondom my gekyk en ’n jellierige grys stof daar sien lê. Dit het my herinner aan ’n skets uit ’n biologiehandboek van ouds.

Ek het dadelik besef dit moes deel van haar harsings wees. (Dit is later aan my bevestig. Mia se breinbesering was noodlottig.) Die gedagte dat sy dalk regtig weg was, het my toe vir die eerste keer getref.

Steeds het ek heen en weer tussen my kinders gehardloop, verby die wrak wat tussen hulle gelê het. Die seuns was knaend. Waar is Mia? Ek het vir hulle gesê sy is bewusteloos, maar stilletjies my kop geskud toe ek vir Pauline kyk. Sy het iets in Sotho geprewel. Sy het bly help om die seuns te troos en hulle rustig te hou. Pauline was daardie dag meer as ooit my regterhand. Sy was toe reeds amper 15 jaar aan my sy.

Ek en Franché het intussen begin roep vir hulp. Dalk was daar iemand met mediese kennis. ’n Man het Mia se pols kom neem. Dit is hy wat aan Franché bevestig het dat Mia oorlede is.

My man het kliphard begin huil. Rou uit sy diepste wese geskree.

Ek was heeltemal emosieloos. Die seuns het toe ook besef dat Mia dood is en oor hulle sussie begin huil. Ek het eers later besef hulle het toe nog geen idee gehad wat die dood beteken nie.

Die ambulans het kort daarna daar aangekom. Ek was by die seuns en Pauline terwyl die nooddienswerkers na hulle omgesien het.

In ’n stadium het ek teruggestap na Mia toe. Sy was toegegooi met ’n wit lappie. Ek het die lap opgelig, haar gesoen en vir haar tatta gesê. Die nooddienswerker het haar arm om my gesit toe ek opstaan om terug te gaan na my seuns toe.

Die wind het opgetel en die bestuurder van die ambulans het my handsak op die hoek van die wit lappie neergesit sodat dit nie van my prinses kon afwaai nie.

Aan die ander kant van ons bussie het Morné gehuil toe die nooddienswerker aan sy arm vat. “Ek wil nie doodgaan nie! Ek wil nie doodgaan nie!” het hy geskree. En rondom Stéfan se neus was die bloed al hard en donker.

Toe laai hulle ons gesin, sonder Mia, in die ambulans.

Die seuns kon nie verstaan hoekom ons haar daar los nie. Dit was een van die verpletterendste gevoelens ooit in my hart. Om my kind daar langs die pad in ’n veld te los, op ’n plek wat ek skaars ken. En weg te ry.

Eers daar in die ambulans het my heup en skouer begin klop van die pyn. Iewers het ’n man vir my vrae gevra om ’n vorm in te vul. Ek onthou ook ’n sirene wat dan en wan aangegaan het. ’n Baie gawe vrou in groen het vir die seuns verduidelik waarheen ons op pad is en hoekom hulle die sirene aansit.

Ek het vir Thea gebel, saam met wie ons in Stellenbosch sou gaan eet het. En ek het my suster en my tannie in Pretoria gebel en hulle gevra om vir my ma en my pa te vertel wat gebeur het.

Toe ons by die hospitaal aankom, was Thea reeds daar. Ek was so bly om ’n bekende gesig te sien. Heinrich en Hannelie, vriende van Durbanville, was ook daar. Ek het later gehoor Heinrich was reeds by die ongelukstoneel. Terwyl sekere gebeure daar langs die Bottelarypad helder in my brein gestoor is, is daar ander, soos dat Heinrich daar was, wat totaal en al uitgewis is.

In die hospitaalkamer was dit ek, Franché, Stéfan en Morné. Ons het gevra dat Pauline by ons moes bly en nie na ’n staatshospitaal geneem word nie. Die trekkerbestuurder was in die kamer langsaan ons.

Stéfan het op die hospitaalbed gelê, na my gekyk en met sy bry-r gesê: “Mamma, jy was reg. Jy sê altyd ons moet vasmaak, en kyk nou net wat het gebeur.” Die woorde het soos ’n baie, baie skerp mes deur my gesny.

Die dokters en verpleegsters het met wit lappies die bloed van die seuns begin afwas. Ons hele gesin was verslae. Ek het eers begin huil toe ek die vriende saam met wie ons ’n paar aande vroeër in die Karoo oornag het, gebel het om vir hulle te vertel wat gebeur het. Dit was toe dat die verpleegsuster ’n pilletjie onder my tong ingedruk het. Ek onthou ook ’n gangetjie na ’n x-straalkamer, maar niks meer nie.

Heinrich en Hannelie het ons heelwat later met ’n gehuurde bussie huis toe geneem. “Huis” was die mooi plaashuisie. Ek het op my bed gaan lê. Wanneer ek nou terugdink, kom daar niks in my gedagtes op nie. Ek kan werklik bitter min van die res van daardie dag onthou.

Later het ek gehoor Hannelie was die hele aand daar en het almal versorg. My skoonsuster en swaer was ook daar, het iemand later vir my vertel. Hulle wou ons na hulle huis in Somerset-Wes neem, maar ek wou glad nie saam met hulle gaan nie.

Neville Goodchild, ons pastoor en goeie vriend van Bloemfontein, het binne ure afgevlieg Kaap toe. Op ’n manier het hy by die plaashuisie uitgekom en met sy sagte stem met ons gesels en saam met ons gebid.

Die aand in daardie huisie, nou leeg en koud, het hy op ’n ongemaklike bankie geslaap. Eers die volgende oggend het hy my vraag van die vorige aand uit sy Bybel beantwoord: “Neville, gaan ek haar weer sien?”

As antwoord het hy Jesaja 49:15-23 uit die 1933/1953-vertaling vir my gelees:

Kan ’n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie! Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My. Jou seuns kom gou, maar jou verwoesters en jou vernielers sal van jou af wegtrek. Slaan jou oë rondom op en kyk: hulle almal kom bymekaar, hulle kom na jou toe! So waar as Ek leef, spreek die Here, sekerlik sal jy hulle almal aansit soos ’n versiersel, hulle ombind soos ’n bruid. Want jou puinhope en jou verwoeste plekke en jou verwoeste land – sekerlik, nou sal jy te nou wees vir die inwoners, en die wat jou verslind het, is ver weg! Nog sal die kinders waarvan jy beroof is, voor jou ore sê: Die plek is te nou vir my; maak vir my plek, dat ek kan woon! Dan sal jy in jou hart sê: Wie het vir my hierdie kinders gebaar, aangesien ek kinderloos en onvrugbaar was, verban en verstote? En wie het hulle grootgemaak? Kyk, ek het toe alleen oorgebly; hierdie kinders – waar was húlle? So sê die Here: Kyk, Ek sal my hand ophef na die nasies en my banier opsteek na die volke; dan sal hulle jou seuns aan die boesem bring, en jou dogters sal op die skouer gedra word; en konings sal jou oppassers wees, hulle vorstinne jou pleegmoeders; hulle sal voor jou neerbuig met die aangesig na die aarde toe en die stof van jou voete lek; en jy sal weet dat Ek die Here is, dat hulle nie beskaamd staan wat My verwag nie.

Hoop. Miskien.

Donderdag 28 Maart 2013

Terwyl ek en Franché by die polisiestasie gewag het om Mia se liggaam uit te ken, kry ek ’n boodskap op my foon. Iemand het vir my ’n skakel gestuur na die koerantartikel in die Volksblad oor ons ongeluk. Ek lees alles, selfs die kommentaar op die artikel. Ek lees hoe mense my uitmekaartrek omdat my kinders nie vasgegordel was nie. My oog vang darem ook die kommentaar op die kommentaar wat gelewer is. ’n Ma van die skool waar my seuns toe skoolgegaan het, skryf: “Never pass on a good opportunity to shut up.”

Intussen wag ek om die liggaam van my kind uit te ken. En ek weet: Ek het myself reeds in ’n tronk gesit. Ek, die ma wat soms skielik rem getrap het as die kinders hulle nie vasgegordel het nie. Net om hulle die erns daarvan te laat besef. Ek, die ma wat regtig die gewoonte van vasgordel in my kinders probeer vestig het. Ek, die ma wat nou voor ’n glasvenster van ’n smal kamertjie moes staan.

Ek het gesoek na die res van haar, maar ek kon net haar gesiggie sien, omring met wit lappe. Spierwit. Skoon. Behalwe vir ’n baie klein merkie op haar ooglid, wat vir my soos ’n droë traantjie gelyk het.

Tóé eers het ek verstaan waarom hulle sê baie bleek is doodsbleek.

Tussen my en haar was ’n glasvenster. Dit was moeilik om nie daaraan te dink dat ek nooit weer aan haar sagte, plomp lyfie sou kon vat nie. Die een donker gedagte het op die ander gevolg.

Nooit weer sou ek haar lag hoor nie.

Nooit weer sou sy aangetrippel kom in plaas van loop nie.

Nooit weer sou ek die koeke uit haar hare kon kam nie.

Nooit weer sou ek haar naels kon verf nie.

Nooit weer nie.

By die begrafnisondernemer in die Strand moes ons vir ’n administratiewe persoon sê hoe lank Mia was. Hoeveel sentimeter? Ek weet nie. Dit het nog nooit saak gemaak nie. Maar nou maak dit saak. Mia moet in haar kissie pas.

Langs die besige pad waar my hele lewe uitmekaargeruk is, het ons as gesin vir oulaas gaan staan om ’n wit kruisie met ’n pienk lint te plant. Party van ons het nog rowe gehad en ander blou kolle, maar ons almal se harte was flenters.


Nie te ver van daar af nie staan ’n naambordjie teen die pad: Swartrivier, Stellenrust.

Ek het op die gras langs die pad gaan sit. Die paaltjies wat eens ’n padversperring was, was stukkend. Net soos ek.

Franché het teen die bult af geloop, na waar sy gelê het. Iemand het hopies sand daar gegooi en daar, tussen die hopies, het hy pienk en pers kraletjies opgetel, wat eens haar halssnoer was. Edelstene van plastiek, het hy later gesê.

Ons klim terug in die bussie. Ek probeer aan my seuns verduidelik dat die lappoplyfie van hulle sussie nie meer van belang is nie. Dit is haar gees, wat nou by Jesus is, wat saak maak. Maar hoe verduidelik ’n mens sulke dinge vir twee seuntjies?

Terug by die plaashuis begin ons oppak. Mia se kopbande – haar blonde haartjies het nog aan party gekleef – die prentjies wat sy die vorige dag geteken het, haar geel prinses-pajamas wat sy vroeër daardie oggend uitgetrek het. Ek het alles van haar in my sak geprop.

Soos vlugtelinge is ons by die idilliese plaashuisie weg. ’n Droomvakansie was aan skerwe.

Ons het by my swaer en skoonsus gaan afpak, elk met ’n pakkie pille vir die pyn. Vir my het dit gevoel of alles rondom my wasig is. Ek het later gehoor mense verwys na dié gevoel as ’n soort hemelse narkose. Na bewering demp dit jou gedagtes sodat jy emosieloos van die een huilbui na die volgende kan beweeg. Min het ek geweet dat daardie eerste golwe van trane maar nog net laagwater was.

Ek en Franché het later daardie middag gaan stap om uit die huis te ontsnap. Iewers langs die pad was daar ’n droë houtstomp waarop ons gaan sit het. Op daardie lewelose stuk hout het ons vir mekaar gesê ons vergewe mekaar. “Geen verwyte” was die naam van die verbond wat ons daar gesmee het.

As ek nou terugkyk, weet ek dit was een van die heel beste dinge wat ons kon gedoen het. Want in die maande ná Mia se dood moes ons mekaar soveel keer aan daardie verbond op die houtstomp herinner.

’n Brief aan myself

Op Donderdag 28 Maart 2013 het ek, soos die meeste ander dae van my grootmenslewe, in my dagboek geskryf. Dié gewoonte het my in vele opsigte van raserny gered. Wanneer dit vir my gevoel het of alles binne-in my dreig om vel en been oop te skeur, het ek gaan skryf.

Soos hierdie eerste brief aan myself ná Mia se dood:

Op 27 Maart 2013 om 10:50 op die Bottelarypad by Swartrivier-wynplaas, Stellenrust, Stellenbosch, het my hele lewe verander.

Ons Miemie Muis is gesteel by “Skelmbos”. Maar Jesus vat haar terug en sê: Satan, sy is Myne.

Ons ander, ek, Franché, Stéfan, Morné en Pauline, kom met net skrape daarvan af.

Hoe begin jy dit verstaan?

Skuldgevoelens kruip soos kokkerotte uit gate.

Maar in die ondraaglike, onwerklike seer, weet ek my God is hier in beheer.

My Muis, my Nonna, my Prinses, my Muishond lê vanaand in God se “ammie”.

Dit is vir my ontsettend swaar om te weet ek gaan haar vir baie lank nie weer sien nie. Ek is verskeur tussen twee wêrelde, want ek wil hier op aarde bly vir my man en seuns, maar my hart trek hemel toe met ’n punt, want ek wil so graag by Mia wees. Ek gaan soveel misloop totdat ek haar weer sien.

Gaan sy nie nou uit die kamer kom met haar deurmekaar geslaapte hare nie? My liefste, liefste engeltjie. Mamma mis jou onuitspreeklik baie. Daar is dinge wat Mamma hier nog moet doen, en dis hoekom Jesus my nie saamgevat het nie. Hy het nog ’n paar draaitjies vir my in gedagte. Maar wag in ons huisie, my prinses. Mamma gaan ’n bietjie later kom.

Vrydag 29 Maart 2013

Op Goeie Vrydag is ons weer na die begrafnisondernemer in die Strand. Ek was baie dankbaar dat hulle bereid was om hulle kantore spesiaal vir ons oop te sluit. Dáár het ek my Mia Muis in ’n houtkissie met ’n metaalplaatjie (en ’n verkeerde sterfdatum) in my handsak gesit. Later die middag het ons dit saam met ons Bloemfontein toe geneem.

Dit was gerusstellend om te weet sy is saam met ons op pad huis toe.

Hoe vreemd wat skielik vir ’n mens noodsaaklik raak, het ek in een stadium gedink. ’n Kissie vol as in my handsak was vir my ’n eienaardige noodsaaklikheid.

Mia

Подняться наверх