Читать книгу Go'el Yisra'el - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 5

Hoofstuk 2

Оглавление

Jerusalem

3 Februarie 2010

Vyf dae na Marc en Henok weer terug is in Israel trou Binyamin, Marc se neef. Hy is Ofer en Shoshana se enigste oorblywende kind na sy ouer broer, David, in 2006 se Libanon-oorlog gesterf het toe sy helikopter afgeskiet is. Bibi se troue is dus vir die Doron-, Cohen- en Krige-families ’n groot en emosionele gebeurtenis.

Uiteraard is Henok, wat pas ’n verblyfpermit in Israel gekry het en wonderbaarlik ’n administratiewe betrekking aan die universiteit in Jerusalem kon bekom, ook ’n genooide. Dat sy vrou, Sarah, in Suid-Afrika agtergebly het en die verhouding tussen hulle redelik wankelend is, maak hom waarskynlik nie die gelukkigste gas by die geleentheid nie. Tog maak sy intense belangstelling in alles wat deel van sy nog betreklik nuwe Joodsheid is grootliks daarvoor op.

Ook vir Marc hou die dag gemengde vreugde in. In die dae vandat hy terug is uit Pole, het Rivkah se optrede vir hom net meer raaiselagtig en ontstellend geword. Ter wille van Yhoshi en Natan wat bepaald die spanning in hul verhouding aanvoel, tree hy so kalm as moontlik op. Maak hy voorlopig voor hulle of alles normaal is. In watter mate hy hulle bluf, is nie heeltemal duidelik nie. Hy merk dat Yhoshi weer onafskeidbaar is van sy verweerde beertjie uit sy babadae, dat Natan sy duim met mening suig en huilerig raak as hy een van sy ouers uit die oog verloor.

Oor ontbyt merk Marc die donker skadu’s onder Rivkah se oë. Hy lê sy hand oor hare langs haar bord op die tafel en voel haar vingers dadelik verstyf. Maar hy bly kalm.

“Ek het gedink om maar met Henok agter op die galery te sit, want ek kan my voorstel hoeveel vrae ek sal moet beantwoord. As jy met die kleintjies voor by Ruwth wil sit, sal hulle mooi kan sien.”

Haar oë ontwyk syne vinnig. “Dis reg,” is al wat sy sê.

Maar toe hy nie sy hand weghaal nie, kyk sy weer na hom en glimlag stram. “Dis goed, ons kan so maak.”

Sy oë hou hare vas. “Ek het jou lief,” sê hy sag.

Sy kyk so vinnig weg dat haar los donker hare oor haar gesig waaier.

“Rivki …”

Maar sy skud net haar kop effens en leun oor Natan om sy pitabroodjie vir hom deur te sny.

Marc merk dat sy self nie geëet het nie, maar hy sê niks verder nie.

Dis sy wat na ’n rukkie praat: “Avital het gevra ek moet saam met haar en Shoshana na die chuppah stap.”

“O ja, natuurlik, haar ma is mos verlede jaar oorlede.”

“Sy het ook nie susters nie.”

“En julle families ken mekaar mos baie jare, of hoe?”

Rivkah knik. “Haar pa en Abba het saam in die Sesdaagse en Yom Kippur geveg. Hulle ken mekaar van daardie tyd al.”

“Wonderlik dat sy en Bibi mekaar by ons in die huis ontmoet het.”

Sy byt op haar onderlip en na ’n rukkie vra sy: “Sal jy dan die seuns neem na waar Ruwth sit, dan sal ek daarnatoe kom.”

“Ek sal.”

Hulle kyk mekaar ’n oomblik woordeloos aan.


Na weke se reën en sneeu is die lug oor Jerusalem vanoggend helder en skyn die son, al stapel die wolke ver na die noorde toe met ’n spierwit voorbode van verdere sneeu. Dis bitter koud en almal is dankbaar dat die troue binnenshuis voltrek word.

Marc het Yhoshi en Natan na hul oorgrootmoeder gebring en staan nou saam met Henok agter in die saal wat stadig aan die vol loop is. Sy keel trek toe, want die herinnering aan sy eie troue in 2003 is so helder in sy gedagtes dat hy moeite het om rustig met Henok te praat. Voor in die pragtig versierde saal wat skitter van ’n massa vars blomme en kerse is die chuppah – vier pale wat ’n tallit van kosbare roomkleurige sy omhoog hou.

“Dis die chuppah, nè?” wil Henok dadelik weet.

“Dis reg, ja.”

“Wat is dit, die woorde daar in blou op geborduur?

“Ani l’dodi v dodi li uit Shir HaShirim.”

Henok frons. “Hoe?”

Marc grinnik. “Hooglied. ‘Ek behoort aan die man wat ek liefhet en hy behoort aan my.’”

“Sorry, natuurlik!”

“Wat is die doel van die chuppah eintlik?”

“Ag, daar is verskillende betekenisse wat daaraan geheg word. In Hebreeus beteken chuppah eenvoudig ‘kamer’ of ‘bedekking’. Dit stel allereers die dak voor van die nuwe huis waar die bruid en bruidegom gaan woon en ’n huisgesin vorm. Maar dis ook simbool van ’n koninklike baldakyn, jy weet, oor die troon, so iets. Want volgens Joodse tradisie is die bruidegom en die bruid op hul troudag ’n koning en koningin. Dit verteenwoordig ook die seksuele daad wat die huwelik sal konsumeer.”

“Sjoe, dis wonderlike betekenisse, nè. Rivkah het my vanmôre gesê ek moet elfuur by die Kotel gaan kyk, die bruid sal daar wees. Ag, dit was pragtig. So baie mense het na haar toe gekom.”

“Ja, dis ook ’n baie ou tradisie wat sê die bruid kan op haar troudag mense seën. So, allerhande mense sak op haar toe, siek mense, oumense, vrouens wat graag ’n kind wil hê … Bietjie bygeloof wat ons tradisie noem.”

Henok grinnik. “Miskien, maar tog wonderlik. Ek verstaan die bruid en bruidegom vas op hulle troudag.”

“Dis reg.”

“Hoekom, dis tog vreemd.”

“Nie vir Jode nie, Henok. Veral Tora-getroue pare sien mekaar die hele week voor die troue nie om die afwagting nog groter te maak. Die feit dat hulle op die dag vas, maak hulle daarop attent dat hul troudag in werklikheid hulle eie private Yom Kippur is – ’n dag waarop hulle van al hul vorige sondes gereinig word. Hulle kan dus saam ’n skoon begin maak. Die bruid en bruidegom siteer ook die mincha, die middaggebed, van Yom Kippur, waar hulle al hul oortredings bely. Die bruidegom dra ook ’n kittel – ’n wit kleed wat getroude mans met Yom Kippur aantrek. Jy sal netnou sien hoe dit aan Bibi lyk.”

“Weer fantastiese simboliek. Die bruidegom sien dus wel sy bruid vandag voor sy hier na die chuppah toe kom?”

Marc knik. “Ja. Voor die chuppah-gedeelte van die huwelik begin – dit word Kiddushin genoem van die Hebreeuse woord kadosh, wat heilig of afgesonder beteken. ‘Set apart’, jy weet? Wel, voor dít begin, word die ketubah, die huweliksooreenkoms, onderteken. Om die waarheid te sê, hierdie twee is nou daarmee besig. By Avital se pa se huis hier in die Ou Stad. Dis waar Ofer en Shoshana nou is. Rivkah ook, omdat Avital se ma verlede jaar oorlede is. Dis interessant, weet jy, die ketubah is in Aramees geskrywe. Dit sit die man se verantwoordelikhede teenoor sy vrou uiteen – voedsel, kleding, huisvesting en plesier. Dis ’n ware kunswerk om te sien en dit word gewoonlik geraam en in die nuwe huis gehang.”

“So, dit beteken Bibi sien sy bruid al daar?”

Marc sluk swaar, hy sien sý bruid van daardie dag so duidelik, só helder voor sy geestesoog, die weerloosheid om haar mond. Wat vanmôre weer daar was. Dis of hy koud word van binne.

“Marc …?” Henok lyk bekommerd.

“Nee, dis niks, ek het sommer iets onthou.”

“Jou eie troue was ook so?”

“Ja, dit was.”

“So die bruidegom gaan na die bruid se ouerhuis toe?”

Marc knik. “Die bruidegom gaan saam met sy pa na die bruid se huis vir die seremonie wat HaBedekkin genoem word. Daar teken hy die ketubah. Daarna sluier hy haar gesig.”

“Ja?” vra Henok verbaas. “Het jy dit ook gedoen?”

“Ek het. Dis ’n eeu-oue tradisie om te verseker dat hy die regte vrou trou – anders as Ya’akov wat gekul is om met Leah te trou terwyl hy gedink het dis Rachel.”

Henok lag. “Sowaar?”

“Maar dit is ook bedoel om die bruidegom daaraan te herinner dat sy aanstaande vrou ook innerlike skoonheid het. Sy is nie net van buite mooi soos op haar troudag nie. Dis ook die geleentheid vir die pa’s van die bruid en die bruidegom om die bruid te seën.”

“Wonderlik!” is al wat Henok nogmaals kan sug. “Wat sou ek wou gee om daarmee te kon grootword en dit nie nou eers, so laat in my lewe, te ontdek nie.”

Byna onmiddellik daarna verskyn Bibi, geklee in ’n lang jurk van wit sy oor sy donker pak en ’n geborduurde wit sy-kippah, saam met Ofer en sy aanstaande skoonpa onder die chuppah. Die lang, skraal bruidegom met sy swart krulhare sien daar bleek uit en Marc ervaar meteens ’n begeerte om sy arm om hom te slaan en hom ’n oomblik styf vas te hou. Hoe graag sou David nie dié oomblik wou deel nie.

Toe hoor hulle die fyn, hoë note van ’n viool buite.

“Daar kom Avital,” sê Marc gedemp en voel sy hartklop versnel.

Deur die groot glasrame wat die een kant van die saal beslaan, sien hulle haar. In wasige wit tussen Shoshana en Rivkah met die uitgelate vioolspeler wat vooruit dans, kom hulle uit die koue sonlig deur die wye voorportaal binne.

Al wat Marc regtig sien, is sy vrou. En sy is hartverskeurend mooi. Die dieprooi van haar lang romp en jas kontrasteer fel met haar donker hare wat met ’n goue band na agter gebind is, maar in kurktrekkerkrulletjies om haar gesig losspring. Marc sien hoe bleek sy is.

“Imma!” hoor hy sy kleinste seuntjie voor hardop gil toe hy sy ma herken en sy hart bewe benoud.

Met ’n diep stem sing die chazan ’n gedeelte uit Shir HaShirim oor die drie vroue wat stadig met die paadjie langs aankom. Deur die sluier heen blink Avital se donker oë met dieselfde glans as die pêrels wat sy dra.

Henok, wat opmerk dat Chaim sonder ophef ook onder die chuppah verskyn het, vra: “O, gaan Chaim hulle trou?”

Marc maak sy gedagtes wat net om sy vrou gekonsentreer is, bymekaar. “Nie regtig nie. Halachah vereis nie die teenwoordigheid van ’n rabbi by die huwelikseremonie nie. Dis eintlik verkeerd om te sê die rabbi ‘trou’ hulle. In Judaïsme is twee getuies al wat nodig is. Maar moderne siviele wet vereis wel dat ’n rabbi of ander staatsamptenaar die bevestiging doen.”

Avital het die chuppah bereik en tot Henok se verbasing lei Shoshana haar nou sewe maal in ’n sirkel om Bibi.

“En dít?”

Vanwaar hulle staan, heel agter op die galery, kan hulle die verrigtinge sien, maar niemand steur as hulle gedemp praat nie.

“Dit simboliseer die idee van die vrou wat beskermend is, ’n lig wat die huisgesin omring en teen alle kwaad beskerm. Mens kan ook sê sy beeld die sewe dae van die Skepping uit aangesien sy binnekort sal deelneem aan die skep van nuwe lewens.”

Bibi se ouers en Avital se pa is nou saam met Chaim en die bruidspaar onder die chuppah en Rivkah gaan sit by Ruwth en die seuntjies.

Chaim hou ’n bokaal wyn omhoog en bid die seëngebed: “Baruch Atah Adonai, Eloheinu, Melech ha’olom, borey p’ree hagafen. Amen.”

“Geseënd is U, Here onse God, Koning van die heelal, U wat die vrug van die wynstok geskape het,” vertaal Marc werktuiglik terwyl hy kyk hoe Natan styf teen sy ma aankruip en sy hom op sy voorkoppie soen.

Chaim loof die Ewige dat Hy aan sy volk Israel verordeninge van reinheid en moraliteit gegee het om die onskendbaarheid van die gesinslewe te bewaar. Dan gee hy die bokaal vir die bruidegom en bruid aan om ook uit te drink. Daarna neem die bruidegom ’n goue ring en skuif dit aan die bruid se wysvinger, wat Henok vraend na Marc laat kyk.

“Sy sal dit later aan haar ringvinger dra.”

Terwyl twee getuies na vore tree, siteer Bibi die ontroerende woorde: “Kyk, met hierdie ring word jy aan my geheilig volgens die wet van Moshe en Israel.”

Chaim lees die ketubah in Aramees, daarná in Engels en oorhandig dit dan aan die bruid.

“HaShem het met Israel by Sinai getrou toe Hy vir hulle die Tora gegee het en hulle bevestig het dat hulle dit sal hou. Dit was die ketubah,” sê Marc stil.

Ná die ketubah gelees is, begin ’n ander rabbi, ’n vriend van die bruid se familie, die sewe seënbede voorlees.

“Die sheva brachot,” verduidelik Marc gedemp, “sewe seëninge.”

Dan word dieselfde seënbede ook oor ’n vol bokaal wyn gelees. Omdat alles in Hebreeus geskied, vertaal Marc hier en daar meganies terwyl sy gedagtes nie werklik daarby is nie. “HaShem word geloof vir sy skepping, maar ook omdat Hy die mens as man en vrou geskape het, ’n ‘tweedelige kreatuur’. Daar word gehoop dat die nuwe paar altyd gelukkig en bly sal saamleef asof hulle die oorspronklike paar, Adam en Eva, in die Tuin van Eden is. En dan natuurlik ook die gebed dat Jerusalem ten volle herbou en die Tempel gerestoureer sal word in die midde van HaShem se volk.”

Daarna drink die rabbi eers en dan die bruidegom en bruid weer saam uit die bokaal.

Nou word die vers “If I forget thee, O Jerusalem …” gesiteer.

En dan kom die oomblik waarop die glas in ’n wit servet toegedraai vir Bibi aangegee word. Hy trap dit met sy regtervoet stukkend sodat almal juigend opstaan.

“Dis om die verwoesting van die tempel te gedenk, nè?” vra Henok skaars hoorbaar bo die rumoer.

Marc knik en byt hard op sy onderlip teen die hewige emosie wat in hom loskom en sy stem bewe effens toe hy antwoord. “Om ons daaraan te herinner sodat ons in ons gelukkigste oomblikke nooit die vernietiging van ons tempel sal vergeet nie. Maar daar word ook ander redes aangevoer.”

“Soos?”

“Dat dit almal wat teenwoordig is aan die gebrokenheid van die wêreld sal herinner en dat hulle moet help om dit te herstel. Tikkun Olam, onthou jy, waarvan Chaim altyd praat?”

“Om die gebroke wêreld te restoureer.”

“Dis reg. Die idee is veronderstel om elke ding wat ’n Jood doen, te motiveer. Nog ’n idee is dat dit ’n wens is dat die liefde tussen die bruid en die bruidegom sal hou tot die versplinterde glasstukke weer bymekaargebring kan word.”

“Interessant.”

“Laat mens maar hoop mense onthou waarvan dié dinge simbolies is.”

Henok knik. “Ja! Dis vir my ’n fantastiese ervaring, Marc. Laat my besef hoe heilig die huwelik is en hoe hard ek aan my eie sal moet werk. Dis nie asof ek ’n keuse het nie.”

Daarop reageer Marc nie, maar Henok is te opgewonde om dit te merk. “Hulle is nou wettig getroud?”

“Absoluut.” Marc doen sy bes om opgewek te klink.

In die saal onder hulle heers groot opgewondenheid. Oral het mense begin met tipiese Israelse kringdanse, terwyl ’n groepie al dansende die pasgetroude paar by ’n sydeur uit begelei.

“En nou?” vra Henok verbaas.

“Dit word cheder yichud genoem, mens sou dit min of meer kan vertaal met: kamer van privaatheid. Hulle is nou getroud en nou mag hulle alleen agter ’n toe deur bymekaar wees, die soort intimiteit wat net vir getroudes beskore is …”

“Wêreldvreemd vir ons geslag,” val Henok hom sinies in die rede.

“Vir seker. Maar dit ís ’n vereiste van die siviele wet, daarom moet die twee getuies van die huwelik toesien dat dit gebeur. Jy sal sien as hulle netnou terugkom in die saal gaan hulle die vas breek en begin eet saam met die gaste.”

Met Bibi en Avital se terugkeer neem die vreugde ’n nuwe dimensie aan. Die gaste vorm groot kringe om die bruidspaar en daar word uitgelate gedans. Van die gaste lig hulle selfs op hul skouers en dans met hulle rond. Die kos smaak uitstekend en wyn vloei oorvloedig.

“Jode weet om fees te vier, al dreig die wêreld rondom om hulle te vernietig,” merk Henok sober op toe hy en Marc ondertoe gaan. Re’uven kom dadelik in hulle rigting. Soos gewoonlik loop hy ietwat moeisaam met ’n ligte kierie ná die ernstige verwonding wat hy aan sy voet opgedoen het in die Defensive Shield-oorlog van Pesach 2002. Toe hy en Henok aan die gesels raak, gaan Marc na Rivkah en die seuns soek. Maar eers gaan hy Bibi en Avital gelukwens. Hy neem hulle elkeen afsonderlik in sy arms en hou hulle lank vas. Ná David se dood het Bibi nog meer soos ’n eie broer vir hom geword. Die bruidegom het nou kleur in sy wange en sy oë is donker van geluk agter sy brilglase. Avital gloei daarvan. Omdat die ouerpare vriende is, ken die twee mekaar baie jare al, maar toe hulle in 2008/2009 saam in Operation Cast Lead geveg het, het die vriendskap tussen hulle respek en groot liefde geword.

Yhoshi wat sy pa gewaar het, kom hom jillend tegemoetgehardloop, gryp sy hand en trek hom tot by Rivkah wat tussen ’n groepie van hulle vriende sit. Soos vroeër die dag ontmoet hul oë vlugtig voor sy vinnig wegkyk. Daar word vir hom plek gemaak langs haar en sy glimlag senuagtig in sy rigting sonder om hom werklik aan te kyk. Natan kom op sy skoot klim en leun soos sy gewoonte is met sy donker krulkoppie teen sy pa se bors. Yhoshi hardloop gillend met ’n paar van sy vriendjies tussen die dansende mense deur. Marc trek versigtig sy kleinste se duimpie uit sy mond en vryf sy vingertjies tussen sy eie.

“Hy is baie moeg,” sê Rivkah langs hom.

Hy kyk na haar. “Wil jy huis toe gaan?” vra hy sag.

Sy knik en voor sy haar kop wegdraai, sien hy ontsteld hoe haar oë stadig met trane vul.

Hy staan onmiddellik op. “Ouens,” sê hy vir die groepie vriende by hulle, “hierdie seuntjie is moeg verby, ek dink ons neem hom maar bed toe.”

’n Koor van misnoeë gaan dadelik op, maar hy hou voet by stuk. “Ons werk ook albei môre.”

“Maar die fees het net begin …!” roep een.

Rivkah het ook opgestaan. “Nee, dis die beste dat ons liewer gaan. Ek is seker julle sal die fees aan die gang kan hou sonder ons.”

Dit ontgaan Marc nie dat ’n paar hulle ietwat wantrouig aankyk nie. Hy begryp dit. Rivkah is gewoonlik die gees van so ’n geleentheid en vanaand het sy nog skaars haar mond oopgemaak. Maar hy gee nie om nie, al wat hy wil doen, is om op ’n plek van stilte te kom met sy vrou. Hy móét weet wat aan die gang is.

Dis ’n ander saak om Yhoshi daar toe oor te haal om saam te kom. Hy is hoogs verontwaardig dat hy midde in hierdie heerlikheid saam met al sy maatjies moet huis toe gaan om te gaan slaap. Asof hy ’n baba is! Hy sit so ’n keel op dat sy oom wat daar naby met Henok staan en praat vinnig tot sy redding kom. Re’uven wat sy suster soos die binnekant van sy hand ken, het lankal skrif aan die muur gesien. Wat die skrif betéken, weet hy nog nie, maar hy weet hy moet ingryp.

“Los hom by my en Shlomit,” sê hy, “ons gaan nog bly, dan vat ons hom sommer saam huis toe. Laat hom maar vanaand by sy nefie slaap.

Anders as gewoonlik laat Rivkah haar dit sonder teëstribbeling welgeval. Marc het al ’n taxi bestel en kort voor lank is hulle tuis. Natan is al driekwart aan die slaap sodat Marc hom vinnig in sy pajamas wikkel, handjies en mond afvee en bed toe neem.

“Abba,” sê hy toe Marc die duvet om hom invou, “moenie weggaan nie.”

“Ek sal nie, liefling, ek bly hier by jou.”

Nog ’n paar oomblikke hou die donker ogies hom angstig dop, maar toe verslap die handjie wat styf aan Marc se trui vasgehou het en val sy oë toe. Marc bly by hom sit tot hy seker is hy slaap vas.

Toe hy uit die kinderkamer kom, hoor hy die geluid van die stort uit hulle badkamer. ’n Oomblik lank voel hy lus om by die voordeur uit te sluip, die ysige weer te trotseer en die bekende paadjie na die Kotel toe te vat. Om sy vrese voor Abba uit te stort. Maar hy onthou sy belofte aan Natan en hy weet ook dat hy só niks sal oplos nie.

Hy haal diep asem en gaan na hulle slaapkamer. Die badkamerdeur is toe en hy gaan op die kant van die bed sit. Toe die geruis van die stort eindelik stil word, kom Rivkah kort daarna saam met ’n wolk stoom in die koue slaapkamer uit. Sy skrik merkbaar toe sy Marc sien sit.

“Ek dag jy is Kotel toe vir Ma’ariv,” fluister sy byna.

“Nee,” sê hy.

Haar hare is los en krul uitbundig om haar gesig en teen haar rug af. Die handdoekstof kamerjas is styf om haar middel geknoop sodat sy kinderlik klein daar uitsien en sy is kaalvoet. Marc raak bedwelm van haar warm nabyheid en hy voel die haartjies op sy voorarm roer. Maar hy veg teen die begeerte wat in hom opkom en hy bly haar aankyk, sy mond so droog dat hy moeilik praat.

Sy woorde kom harder uit as wat hy bedoel het: “Wat is met jou aan die gang?”

Haar mond vertrek strak. “Niks.”

Hy besef hoe verkeerd sy aanslag was en laat sy ingehoue asem stadig uit voor hy weer sagter praat. “Rivkah, asseblief! Sê vir my wat dit is.”

“Daar ís niks om te sê nie.”

“Dis nie die waarheid nie.”

“Dit is niks, Marc. Ek is net moeg, ek wil gaan slaap, ek werk môre.”

“Wat het in Haïti gebeur?”

Meteens vlam haar wange. “Niks het in Haïti gebeur nie! Jy weet goed wat die situasie daar was. Kan jy dit nie verstaan nie?”

Sy druk haar gebalde vingers teen haar mond en haar oë skiet vol trane.

Marc staan vinnig op en neem haar in sy arms. ’n Wilde rilling tril deur haar en hy druk haar teen hom vas. Sy bedaar geleidelik en eindelik verslap sy, sug en laat haar kop teen sy bors sak. Hy vleg sy vingers deur haar welige hare en sus haar, fluister haar naam baie maal.

Sy is warm en bekend teen hom, hy ruik die soetheid van haar skoon hare, voel die fermheid van haar klein borste teen die sagte handdoekstof van die kamerjas en vuur roer in hom. Hy soek haar mond, maar sy het haar gesig in sy woljek gewurm.

“Kom,” sê hy sag teen haar nek en tel haar op.

Maar toe voel hy hoe sy verstyf en sy druk met haar oop hande teen sy bors. “Nee, Marc.”

Sy greep verslap en hy laat haar verward gaan.

“Ek is moeg,” sê sy beswaarlik hoorbaar en kyk nie na hom nie.

’n Paar oomblikke staan hy so stil voor haar afgewende gesig. Toe draai hy om en gaan uit en trek die kamerdeur sag agter hom toe.


Die volgende dag maak hy vroeg klaar by die universiteit en toe hy by die huis kom, kom Hadassah net met die kinders terug van die speelskool waarheen sy hulle soggens vir ’n paar uur neem. Toe hulle hom sien, kom hulle aangehardloop en hy hou sy arms oop en vang hulle.

“Ek bly by hulle tot Rivkah huis toe kom,” sê hy toe hulle weer bedaar het.

Sy kyk onrustig na sy wit gesig. “Dis nog twee uur voor sy kom.”

Hy dwing ’n glimlag oor sy lippe. “Ek sien te min van hulle.”

Sy talm onseker. “Is jy oukei, Marc?”

Hy raak gerusstellend aan haar skouer. “Dis goed, Imma. Ek sal regkom.”

“Eers is Rivkah na Haïti toe en toe is jy weer Auschwitz toe. Dit vreet aan mens se siel, sulke dinge. Julle moet oppas, Marc.”

“Ons sal, Imma.”

“Wat gaan ons doen, Abba?” wil Yhoshi dadelik weet toe sy ouma weg is.

Hy kyk af op die twee gretige gesiggies en ’n gedagte skiet hom te binne. “Ek weet wat ons gaan doen.”

“Wat?” vra hulle gelyktydig, donker oë vol afwagting. Op vier en ’n half is Yhoshi byna die ewebeeld van sy ma, swart krulhare wat woes om sy kop krul en skerp, donkerblou oë. Vinnig in alles wat hy doen, maklik in sy omgang met woorde en met mense, seker van homself, klein soos hy nog is, buitengewoon intelligent. Natan op byna drie is so baie soos hyself dat dit Marc soms byna laat skrik. ’n Stil kind met groot, donker oë wat die wêreld verwonderd bestudeer, min praat, aanhanklik is, maklik onthuts raak. En hy het ongetwyfeld kunsaanleg – dis te sien in hoe hy reeds teken en die kleure wat hy gebruik. Hy lyk ook soms sterk op Marc se pa, Bert.

“Wel, ons gaan tekeninge kyk …”

“Prentjies?” vra Yhoshi teleurgesteld.

“Abba se tekenboeke,” sê Natan.

Marc kyk verbaas na sy jongste. “Ja,” sê hy, “dis reg.”

“Ek wil nie tekeninge kyk nie, ek wil Lego bou.”

“Nee, Yhosh. Ons gaan tekeninge kyk, want julle storie is ook daarin.”

“Storie?” vra hy.

“Jy sal sien.”

Natan het die wolhaarhondjie opgetel en hy soen hom ’n paar maal op sy neus. “Is Shmu’el se storie ook daarin, Abba?” vra hy.

“Ons almal s’n.”

Uit die gangkas haal Marc die stapels sketsboeke en pak hulle versigtig in volgorde op die koffietafel uit. Toe gaan hy met die seuntjies op die mat sit en haal die eerste een uit waarin hy toe hy vir die eerste keer in 2002 Israel toe gekom het, oorvloedig geskets het.

Hy maak dit versigtig oop, bewus daarvan dat dit die jaar van die selfmoordbomaanvalle was en dat hy die kinders nie alles kan laat sien nie. Hy blaai behoedsaam.

“Dis Imma!” sê Natan dadelik. “Haar mond is rooi.”

Marc haal diep asem. “Dit was die eerste dag wat ek Imma leer ken het. Sy het ’n granaat geëet.”

“Daar is Imma in die IDF,” sê Yhoshi.

“Sy het nie ’n geweer nie.”

“Sy het ambulanse bestuur, Natani,” help Yhoshi sy boetie reg. “Maar sy het ’n geweer gehad, nè, Abba. Net so een soos jy, nè?”

“Dis reg.”

“Wag, Abba!” keer Yhoshi toe hy vinnig by ’n reeks dramatiese foto’s in die volgende boek wil verby blaai.

“Dis nie mooi tekeninge nie, Yhosh.”

“Ek wíl sien, Abba!” Die kind gryp die blad vas en Marc is verplig om dit oop te slaan om te voorkom dat dit skeur.

Yhoshi blaai die bladsye stadig om. Daar is bladsy op bladsy gesigte en liggaamsdele in harde swart houtskoollyne geteken. Daar is die starende oë van ’n jong vrou, haar fyn hand in die sand, ’n man se skouers krampagtig oor haar gebuig.

Die kinders kyk doodstil na die kru tekeninge. Natan druk met ’n bewerige vingertjie op die vrou se gesig. “Sy is dood, Abba,” sê hy skaars hoorbaar. En toe: “Daar’s Imma! Daar is Imma, Abba. En daar en daar.” Sy stemmetjie word al hoër, “En daar is dod Iri en dodah Anat! Hoekom is hulle daar, Abba?”

“Wat is dit alles, Abba? Waar is dit?” vra Yhoshi.

Marc neem die sketsboek by hulle en maak dit toe. “Dit was lank gelede. Toe ek vir die eerste keer Israel toe gekom het en Imma leer ken het. Ons was met Iri en Anat by Kiryat S’hmona toe terroriste ons aangeval het.” Hulle kyk hom met groot oë aan.

“Sy is dood, Abba,” sê Natan asemloos.

“Ja, liefling, Shuna en Jo’el was ook saam met ons en die terroriste het haar doodgeskiet.”

“Hulle het nie vir Imma doodgeskiet nie,” sê Natan sag.

“Natuurlik nie, meshuga!”

Marc vat sy oudste ferm aan die skouer. “Jy noem niemand onnosel nie, Yhoshi, veral nie jou broer nie.”

“Slicha, Abba,” sê hy vinnig, “kan ons nog kyk?”

Marc moet grinnik. “Ek dag jy wou nie tekeninge kyk nie.”

“Nee, Abba, ek wil.”

Hulle maak ’n nuwe boek oop waarin baie tekeninge is van ’n ou man met ’n lang baard wat ’n klein seuntjie teen sy bors vashou.

“Hoekom het jy so baie daarvan geteken, Abba?”

Marc sug. “Yhosh, my eie abba het vroeg weggegaan … doodgegaan. Ek het baie verlang om ’n abba te hê. Toe het ek dié man gesien en hy was soos ’n abba vir my.”

Die kind kyk hom ernstig aan. “Jy sal nie weggaan nie?”

“Nee, lief, nee.”

“Imma het gehuil,” sê Natan langs hom.

Sy keel trek toe en hy slaan sy arm styf om sy kleinste. “Imma het baie swaar gekry daar in die ver land waar die aardbewing was, Natani. Sy sal weer beter word.”

Hy blaai verder. Daar is ’n pragtige pastel-gekleurde tekening van ’n ou rabbi met ’n lang, wit baard wat by die stene van die Kotel staan. Die lig val oor sy hoë kaal voorkop en die blou en goud borduursel van die tallit wat sy kop en skouers omvou. Bokant hom in die rotsgleuf nestel ’n groot duif.

“Dis nie saba Chaim nie.”

“Nee, Natani, dit is nie. Toe Abba die eerste keer hier gekom het, het ek nie al die dinge van Israel geken nie en dit was vir my regtig wonderlik. Daarom het ek die rabbi’s so baie geteken.”

“Jy teken hulle nog baie.”

“Omdat dit nog altyd so mooi vir my is, Yhosh.”

Hulle kyk na die vele sketse wat hy van Rivkah as bruid gemaak het. Vreemd genoeg, eerder as dat dit Marc ontstel, bring dit ’n mate van verligting. ’n Soort vertroosting dat alles wat so lank mooi en normaal was, nie net kan wegval nie.

“Jy en Imma het ook Kiddushin gehad.”

“Natuurlik, meshu … Natani,” sê Yhoshi ongeduldig met ’n versigtige blik in sy pa se rigting.

Toe hulle een van 2005 se boeke oopslaan, sê Natan: “Imma is anders hierso, Abba?” Hy beduie met sy handjies oor sy maag.

“Sy’s swanger!” kreet Yhoshi.

“Hoe is swanger?”

“Sy gaan ’n bába kry!”

“Jy hoef nie te skree nie, Yhosh, ons is nie een doof nie. Imma was swanger daar met Yhoshi, Natani. Dit was baie kort voor hy gebore is.”

Yhoshi se wange het rooi geword, maar hy sê niks.

“Het jy van my wat nog gebore moet word ook geteken, Abba?”

“Natuurlik, lieweling, ons kom daarby.”

“Daar’s Shmu’el!” roep die kleintjie op ’n keer bly en druk die hondjie wat hy nog al die tyd vashou stywer vas.

Op ’n stadium staan Marc op om vir hulle warm sjokolade te maak, maar hulle is so geïnteresseerd in die sketsboeke dat hulle niks anders wil doen nie.

“Hoekom het jy so baie helikopters wat brand geteken, Abba?”

“Dis omdat dod David daarin doodgebrand het, Natani. Hy en Abba was saam in die oorlog en jy was nog nie eens gebore nie.”

Marc maak die boek vinnig toe en neem die volgende een.

“Kyk, dis jý, daardie, Natani. Net na jy gebore is. In Imma se arm.”

Die kleintjie kyk lank na die tekening. “Imma is mooi,” sê hy eindelik.

Marc neem die handjie in syne. “Sy is baie mooi, Natani. Daarom is jy en Yhosh ook mooi.”

Die kind kyk op na hom, oë groot van erns. “Jy is ook mooi.”

“Waar is dit?” vra Yhoshi by ’n pasteltekening van ’n shtetl by Kovno.

“Dit is ’n klein dorpie waar my savta grootgeword het in daardie ver land waar ek en Imma verlede jaar was, onthou jy nog?”

“Daardie land waar die haakkruis-mense al die Jode doodgemaak het.”

“Ja … Litaue.”

“Litaue,” proe die kind die woord.

“Gaan daardie mense ons ook kom doodmaak, Abba?

“Nee, Natani, ons is veilig hierso, dis ons land hierdie.”

“Hoekom wou daardie terro … terra …”

“Terroriste.”

“Hoekom maak hulle dan so baie mense hierso dood?”

“Dis mense … wat nie glo dat HaShem die land vir Avraham avinu gegee het nie.”

“Hulle sê Allah het die land vir hulle gegee,” sê Yhoshi.

“Kom ons kyk gou-gou hier,” lei Marc hulle aandag af. “Kyk, hoe speel julle twee hier by Tel Aviv se see.”

“Natani kon nog nie speel nie, Abba,” sê Yhoshi verontwaardig, “Hy’s hier mos ’n baba.”

“’n Baba kan ook speel,” sê die kleintjie sag.

Yhoshi trek ’n gesig wat boekdele spreek.

“Savta Mara kan nie loop nie,” Natan kyk na ’n skets wat Marc van sy ma gemaak het toe hulle op besoek in Jerusalem was voor sy geskiet is.

“Sy is ’n parapleeg,” sê Yhoshi belangrik.

“Daar’s Moshe en Dov.”

“Kyk, saba Chaim maak Shabbat …”

So verdiep is hulle in die tekeninge dat hulle al drie verbaas opkyk toe Rivkah die voordeur oopmaak.

“Imma!” sê Natan dadelik.

Sy het haar MADA-uniform aan en sy glimlag vermoeid met die kinders. Net ’n oomblik lank ontmoet haar oë Marc s’n. Maar toe hurk sy by Natan wat na haar toe gehardloop het.

Go'el Yisra'el

Подняться наверх