Читать книгу Go'el Yisra'el - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 7

Hoofstuk 4

Оглавление

Jerusalem

Dinsdag 9 Februarie 2010

Diep in die nag word Marc wakker van iets wat sag teen sy gesig raak. Hy sit dadelik regop en in die flou skynsel van die lampe op die Hurvah-plein sien hy dis Yhoshi wat by die rusbank staan waarop hy in die woonkamer slaap.

“Yhosh,” sê hy en trek die kind se koue lyfie in sy arms, “wat is dit?”

“Hoekom slaap jy hierso, Abba?”

“Ekke … ons … Imma was bietjie moeg toe het ek maar hier kom slaap. Kom, jy’s koud, gaan jy maar lekker by haar inkruip.”

“Nee, Abba, jy moet by Imma slaap.”

“Ek sal weer, babbelossie, as sy nie meer so moeg is nie.”

“Ek wil hier by jou lê, Abba.”

Marc skuif op. “Dis baie nou, maar kom maar, jy’s yskoud, man.”

“Abba …” sê hy toe hy styf teen Marc aangekruip lê.

“Hmmm?”

“Gil se abba het weggegaan. Daar het ’n ander man by hulle kom bly nou. Maar, Abba …”

“Wat, lief?” vra Marc koud van binne.

“Daardie een is mos nie Gil se abba nie.”

Marc trek sy seuntjie nog stywer teen hom aan. “Luister, Yhoshi, luister mooi vir my. Ek gaan nie weg nie en Imma ook nie. Verstaan jy? Ons bly hier by jou en Natan.”

“Altyd?”

“Altyd!”

Lank na die kind in sy arm aan die slaap geraak het, lê Marc nog wakker. Hy bid vir die genade wat hy en sy huis nou so nodig het.


In ’n vry lesuur by die universiteit gaan Marc in die personeellokaal koffie soek. Hy is dankbaar vir die normaliteit van roetine, studente en kollegas wat ’n mate van kalmte en hoop by hom laat terugkom het. Miskien maak hy, soos Rivkah al so dikwels laggend vir die Afrikaanse idioom vir hom gesê het, ’n olifant van ’n muggie.

Hy is verheug om Basel Said, ’n Arabiese kollega van hom, daar aan te tref. Die son skyn koesterend deur een van die oosvensters en hulle gaan gerieflik daar sit met hulle bekers sterk Israelse mud, op soek na warmte ná die koue lokale waarin hulle klas gegee het. Van dieselfde ouderdomsgroep, maak die feit dat die een kuns doseer en die ander Arabies, geen verskil nie. Hulle twee het nog altyd daarin kon slaag om oor die Midde-Oosterse politiek te gesels, soms ietwat verskil, maar altyd op ’n gemaklike manier.

“Ek het gisteraand vir Nisreen Abdel Nabi oor Arab Radio hoor praat,” sê Basel toe hulle eers gemaklik ingerig is en die son en die lekker koffie hulle warmer gemaak het.

“Nie gehoor nie,” sê Marc en dink aan sy omstandighede tuis die vorige aande. “Maar ek het verlede jaar Israel Today se onderhoud met haar gelees. Sy is die Palestynse vrou wat Israel openlik ondersteun?”

Basel knik. “Ons bewonder haar moed. Soos sy met Israel Today gedoen het, het sy gisteraand weer die Palestynse Administrasie en sy leierskap gekritiseer en Israel se kant ingesien.”

Marc kyk hom ’n oomblik stil aan voor hy sê. “Maar ek het mos al aan jou verstaan dat jy en heelwat ander Arabiese Israeli’s én Palestyne soortgelyke sienings het … Of was dit wensdenkery aan my kant?”

Basel glimlag oor Marc se huiwering. “Nee, jy’s reg. Ons dink graag ons is daardie ‘silent majority’ wat ons energie ingooi om saambestaan teweeg te probeer bring.”

“Sou jy dink daar’s enigsins so ’n kans?”

“Ons kan nie anders as om saam te leef nie, Marc! Ek wens meer Arabiere wou by nasionale diens betrek word en nie net die Droese nie.”

“Lê my bietjie die situasie met julle en diensplig uit, ek weet nooit presies hoe dit werk nie.”

“Omdat die meeste Arabiese Israeli’s nie in die weermag opgeneem wil word nie, is daar die alternatief van nasionale diens. Dit beteken gewoonlik maatskaplike werk, opleiding en ander maniere waarop die gemeenskap gehelp kan word. Nusseibah Khattib het al verskeie artikels in die plaaslike Arabiese pers gepubliseer waarin hy sy mede-Arabiese burgers aanmoedig om by die nasionale diens aan te sluit. Daarmee het hy hom ernstige kritiek van die Arabiese leierskap op die hals gehaal.”

Marc knik. “Ek het een of twee van sy artikels op die internet gelees waarin hy gesê het die Arabiese politici stel net belang om hoofberigte in koerante te haal en gee nie om hoe hulle die saambestaan tussen Israeli’s en Arabiere daarmee skade aandoen nie.”

“Presies ons standpunt! In die Israelse én in die buitelandse media is die enigste stemme wat jy hoor die geskreeu van die Arabiese Knesset-lede wat teen Israel uitvaar en ’n Palestynse Staat eis. Sonder ’n sterk familieband tussen Arabiere en Israeli’s sal daar nooit iets in hierdie land verander nie.”

“Dit sal maar lol om daardie band te smee … Israeli’s is oor die algemeen geneig om Arabiere as die vyand te sien. Terroriste.”

Basel knik. “Ek weet. Aan my kant vra mense weer: ‘Hoe help dit ons om ’n staat te ondersteun wat teen ons diskrimineer. Ons wil integreer, maar ons word voortdurend verhinder deur onnodige insidente wat ons daaraan herinner dat ons deel is van die Arabiese minderheid.”

“Oú Joodse streek daai. Ons sê dis om ons voortbestaan te verseker, maar dit het by baie van ons handuit geruk.”

“Een van my vriende, ’n polisieman, vertel my nou die aand hoe hy ’n motor gestop het en die bestuurder gevra het vir sy rybewys, net om verskree te word deur die man en sy medepassasiers dat hy nie Jode moet stop nie, maar Arabiese terroriste moet jag. Dis maar één voorbeeld van baie hoe ons, wat die Staat van Israel wíl dien, behandel word.”

“Ek moet my kop in skaamte laat sak, want ek weet dis waar van baie Jode hier in Israel.”

“Die meeste ouens in ons groep is dit eens dat daar diskriminasie hier is teen Arabiese burgers. Dit kan ’n Arabier tot drie maande vat om iemand te kry om sy telefoon te kom regmaak, terwyl dit vir ’n Jood ’n kwessie van dae is.”

“Maar ek moet jou sê as dit by diskriminasie kom, is julle nie die enigstes in die Israeli-gemeenskap wat daaronder ly nie. Daar word al sedert die stigting van die staat teen Sefardiese Jode, veral uit Marokko, gediskrimineer. Dit is wat gelei het tot die groeiende mag van die ultra-ortodokse Shas-party wie se doel dit is om die status van die Sefardim te verbeter. Ook die Ethiopiese Jode het probleme om in die hoofsaaklik wit gemeenskap opgeneem te word.”

Basel se mond plooi in ’n siniese laggie. “Ek glo jy uit Suid-Afrika wat later eers jou Joodsheid ontdek het, het ook al moeite daarmee gehad.”

“Wel, absoluut. Veral hier by die universiteit in die begin …”

“Was dit nie vir jou uitsonderlike talent nie, het jy dit dalk nie gemaak nie,” val Basel hom grinnikend in die rede.

Marc lag verleë. “Ek weet nie van die talent nie, maar ek weet wel van die diskriminasie. Maar ek glo die verskil tussen diskriminasie teen Jode en teen Arabiere, is dat as gevolg van die Midde-Oosterse konflik en terrorisme, diskriminasie teen Arabiere meer gepolitiseer geraak het.”

“Nee, jy’s reg. Ek weet daar is daardie groepe wat jy genoem het wat kla dat daar hier in Israel teen hulle gediskrimineer word, maar ons is die ouens wat gesien word as Israel se vyande. En ons is nie vyande nie, ons is Israelse burgers.”

“Ons media fokus op die skares wat deur die vlammende anti-Israel retoriek van Sjeik Raed Salah van die Islamic Movement opgerui word. Daarom is Jode geneig om die Arabiese bevolking binne Israel as ’n Trojaanse perd te sien, veral in tye van konflik en oorlog. Hierdie wedersydse wantroue maak dialoog baie moeilik.”

“Ons klomp ondersteun nie vir Sjeik Salah nie. Die meerderheid Arabiese Israeli’s is téén sy anti-Israel siening. Glo my, Marc, die meerderheid van ons wil vreedsaam met die Jode saamleef omdat die Staat Israel ’n politieke realiteit is. Israel bestaan en diegene wat dié Staat wil vernietig mors hulle tyd en ons s’n. As ’n mens diskriminasie eenkant sit en lewe in Israel vergelyk met Arabiese lande, kry die Joodse staat oor die algemeen net hoë lof onder ons mense. Wat my betref, is daar geen ander land ter wêreld wat ek bo Israel verkies nie.”

“Dit geld vir my ook.”

“Nie eens Suid-Afrika nie?”

Marc skud sy kop. “My wortels lê hier, Basel, ek sal nooit weer op ’n ander plek kan bly nie.”

“Jy weet, ek probeer altyd jong Arabiese Israeli’s aanmoedig om weermag toe te gaan. Ek glo die feit dat ek dit gedoen het, het my lojaliteit teenoor die land geweldig verander. Ons woon langs mekaar en ons behoort saam te veg vir ons land.”

“Ek glo werklik dis vir Jode en Arabiere moontlik om hier saam te bestaan. Maar dit beteken nie noodwendig dat Israel ’n gevaarlike vredesooreenkoms hoef te teken met mense wat ons vernietiging soek nie,” sê Marc.

Basel staan op om sy koffiebeker weer aan te vul en neem sommer Marc s’n ook saam. “Vrede met die vyandige Arabiese nasies is byna onmoontlik,” sê hy terwyl hy uit die koffiemasjien skink. “Beide die Arabiere en die Israeli’s weet dit. So, wat keer ons om tot dan in vrede saam te leef? Ek glo nie ons het ’n keuse nie.”

Toe hy weer kom sit, sê Basel: “Ek het gehoor jou vrou was ook met die Magen David Adom-span saam Haïti toe. Sy het seker verskriklike verhale om te vertel.”

Dit vang Marc ietwat onkant en hy dink ’n oomblik na voor hy antwoord. “Wel, sy het nogal getraumatiseer teruggekom en nog nie juis veel daaroor gepraat nie …”

“Mens kan dit verstaan. Die toestande was blykbaar baie erg.”

“Ek moet sê ek is eintlik verbaas oor haar reaksie. Met haar werk by MADA, veral met die verskriklike selfmoordbomaanvalle op busse, het sy soveel skokkende dinge ervaar, maar ek het haar nooit só getraumatiseer gesien nie. Veral nie oor so ’n lang tyd nie.”

“Dis nie so ’n lang tyd nie en jy moet onthou dit was ’n wydverspreide massiewe verwoesting wat jy nie werklik kan vergelyk met busse wat opgeblaas is nie. Ek het gehoor mense wat daar gewerk het, sê dit is nie iets wat jy met woorde kan beskryf nie. Iemand met wie ek gepraat het, het dit selfs met die verwoesting van Hirosjima en Nagasaki met atoombomme vergelyk.”

“Miskien is ek te haastig met haar.”

Toe Marc terugloop na sy volgende klas toe, voel hy geweldig skuldig oor sy optrede die afgelope paar dae. Hy neem hom daar en dan voor om te reg te maak waar hy kan. Hy besluit om wanneer hy van die universiteit af huis toe gaan, by die busstop na MADA, waar sy altyd laatmiddag die bus haal, af te klim, haar daar in te wag en dan vir ete in die stad te neem. Hy wil verskoning vra vir sy optrede Sondagaand wat daartoe gelei het dat hy die afgelope twee aande op die rusbank in die woonkamer geslaap het en hulle sedertdien feitlik geen enkele woord met mekaar gepraat het nie. So entoesiasties raak hy oor sy plan dat hy sy skoonma wat op Dinsdae en Donderdae die kinders oppas, bel en vra of sy hulle saam met haar sal huis toe neem vir die aand. Hadassah is meer as gewillig, want ook sy het die verandering in Rivkah nie misgekyk nie.

Die res van die dag verloop vlot vir Marc en hy bevind hom al minstens ’n driekwartier voor Rivkah van diens sal kom, by die busstop voor die Sha’ari Yerushalayim-hotel, net om die draai van die Magen David Adom-sentrum. Hy koop ’n Jerusalem Post en gaan daarmee na die hotel se kafeteria om dit te lees en tee te drink. Die plek is redelik vol en hy gaan naby die venster sit, half verskuil agter die enorme potplante, en word gou bedien.

Toe hy na ’n rukkie opkyk om die kelner nader te wink vir nog ’n koppie tee, merk hy verbaas dat die twee mense wat pas ingekom het Rivkah en een van die dokters, Aviel Mordechai, wat ook deeltyds by MADA werk, is. Hy staan half op om hulle te groet, maar iets weerhou hom en hy gaan weer sit. Die twee gaan neem plaas by ’n tafeltjie nie ver van hom nie. Hulle is duidelik sigbaar vir hom, maar hy besef dat hulle hom as gevolg van die potplant nie sal sien sit nie. Sy hart begin met swaar stadige slae in hom hamer toe hy hulle dophou. Aviel het Rivkah se stoel vir haar uitgetrek en toe sy gaan sit, raak sy hand vir ’n oomblik teen haar wang sodat sy na hom opkyk. Hulle is nie na genoeg aan hom dat hy kan hoor wat hulle praat nie, maar dis vir Marc duidelik dat dit nie gaan om twee kollegas wat net saam koffie drink aan die einde van ’n lang dag nie. Daarvoor spreek hulle houding te veel van familiariteit.

Aviel plaas ’n bestelling sonder om Rivkah te raadpleeg, asof hy weet waarvan sy hou. Toe buig hy oor na haar en vou haar hand op die tafel met syne toe. Marc kan nie hoor wat hy sê nie, maar hy sien hoe Rivkah haar ander hand na haar mond bring en haar vingers teen haar lippe druk. Sy skud haar kop baie stadig. Dit laat Aviel lag en hy leun terug in sy stoel, maar sy hand is steeds oor hare op die tafel. Rivkah praat nou en Marc sien in die lig wat deur die lae raam oor haar val dat haar wange begin gloei.

Hy raak bewus van ’n vreemde kalmte. Dis asof hy heeltemal buite die gebeure staan en net van die kant af toekyk. Dis asof hy bekend is met die toneel. Eers na ’n paar oomblikke besef hy dat dit al tevore met hom gebeur het – eenmaal buite die ateljee in Stellenbosch, toe hy Nicola so met Simon sien praat het.

Rivkah trek haar hand onder Aviel s’n uit en skud weer haar kop. Dié keer nadrukliker. Maar Aviel bly haar laggend aankyk. Toe die kelnerin met die twee glase tee opdaag, skep hy ’n skyfie suurlemoen in haar glas voor hy dit na Rivkah toe aanskuif. Sy vou albei haar hande om die glas warm tee asof sy koud kry en kyk op die tafel voor haar. Slierte van haar hare het losgegaan en val oor haar gesig as sy haar kop laat sak. Aviel vang een string van die donker krulle en draai dit speels om sy vinger …

Marc voel ’n dodelike naarheid in hom opkom en tog bly die vreemde kalmte in hom hang asof hy steeds nie betrokke is by die toneel wat voor hom afspeel nie.

Rivkah trek die haarstring uit Aviel se hand los en stryk dit agtertoe. Sy kyk na hom en sy praat met hom sonder om haar hande te gebruik soos sy altyd doen. Hy lag nie meer nie. Hy hou haar in stilte dop.

Net eenmaal praat hy. ’n Kort vinnige sin asof hy iets vra. En sy kyk vinnig weg deur die venster en skud haar kop.

Hy praat weer vinnig en kort met meer nadruk. Sy bly wegkyk, maar uiteindelik skud sy weer haar kop.

Marc kan nie meer daarna kyk nie. Die kelnerin het intussen die rekening in ’n houertjie op die tafel neergesit sonder dat hy dit agtergekom het. Hy sit shekels in die houertjie en loop agterlangs na buite.

Daar staan hy ’n paar oomblikke lank verdwaas sonder om te weet wat om verder te doen. Maar geleidelik verstil die suising in sy ore en kan hy weer makliker asemhaal. Hy voel die koue wind deur hom sny en besef dat hy sy jas in die restaurant vergeet het. Toe hy omdraai, kom die kelnerin net daarmee oor haar arm na buite. Hy neem dit dankbaar by haar, trek dit aan en slaan die kraag hoog om sy nek op. Die warmte is vertroostend en bring hom tot sy sinne. Hy kyk terug in die restaurant en sien dat Rivkah opgestaan het en na die deur toe aankom. Toe loop hy vinnig die aangrensende sentrum binne en bly onseker daar staan. Eers daar herken hy die stem wat hy deur die jare so goed leer ken het.

“Dis jou vrou,” hoor hy binne-in hom. Net dit.

Maar hy weet wat hy moet doen. Hy sluit elke ander emosie wat deur hom skreeu af en loop na die halte waar hy weet die bus enige oomblik moet aankom. Rivkah staan daar. Alleen. Sy het die kap van haar swart jas oor haar kop getrek teen die ysige wind en dis net aan haar klein figuurtjie wat hy haar herken. Hy gaan langs haar staan sonder dat sy van hom bewus raak. Dis eers as hy aan haar arm raak dat sy na hom kyk. Hy sien hoe geweldig sy skrik, sy raak doodsbleek. Haar wange is blink van trane. Haar mond het oopgegaan.

“Marc!”

Van buite homself kom die vermoë om kalm te sê. “Shalom.”

Die wind waai haar los hare onder die kap uit oor haar gesig en sy vee dit weg. Hy sien haar klein vingertjies daarom klem. “Hoe kom jy hier?” vra sy toe sy haar asem terug het.

“Met die bus,” sê hy.

“Maar …”

Die bus kom met ’n gesuis van hidroliese remme langs hulle tot stilstand en almal beur vorentoe. Hy hou haar aan die arm vas en lig haar saam met hom die trappies op en stoot sy strokie kaartjies onder die glasgleuf deur na die bestuurder, wat twee afskeur en die res aan hom teruggee. Die bus is vol en hulle moet staan. As hulle met ’n vaart wegtrek moet sy noodgedwonge aan hom vashou om nie te val nie. Selfs te midde van die gedrang om hulle, voel hy hoe angstig haar asemhaling teen hom aan is.

Waar King George die bopunt van die Ben Yehudah-loopstraat bereik, beduie hy vir haar dat hulle gaan afklim. Hy het haar weer stewig aan die arm en hy voel dat sy haar nie teensit nie. Hy help haar teen die bustrappies af en toe hulle die sypaadjie bereik, praat sy vir die eerste keer.

“Wat nou?”

“Ons gaan by Café Rimon eet.”

“Maar die …”

“Ek het met Hadassah gereël, hulle bly by haar tot môreoggend.” Marc voel steeds of hy homself oor ’n afstand sien en hoor.

Rivkah bly stilstaan. “Marc, wat gaan aan?”

“Kom,” is al wat hy sê toe hy haar weer aan die arm neem en vinnig straat af beweeg tussen die hewige verkeer en honderde voetgangers deur wat hulle huis toe haas voor die aankomende storm uit. Dit het heeltemal donker geword en begin reën. Fyn sneeuflarde waai teen hulle gesigte aan. As hulle uiteindelik in die warm restaurant ’n sitplek kry, kyk hulle mekaar vir die eerste keer reguit aan. Marc word gewaar dat die hewige rumoer en haas waarmee hulle tot daar gekom het, dit heeltemal stil laat word het in hom. Asof daar net een ding oorgebly het – HaShem wat gesê het: “Dis jou vrou.” Asof dit hom al die outoriteit gegee het wat hy nodig het om die situasie te hanteer. Alle ander emosies agter ’n glaspaneel weggesluit het. Hy weet van hulle, maar daar is glas tussen hulle en hom. Voor hom is sy vrou.

Dis of Rivkah ook op ’n vreemde manier bewus geraak het van ’n bonatuurlike ingryping. Sy skud die kap van haar jas terug en stoot haar vingers deur die hare wat woes krul. Sy haal byna snikkend diep asem.

’n Kelner het by hulle kom staan. “Bring vir ons twee glase droë wit wyn en brood asseblief.”

Toe die kelner weg is, sê sy: “Kan jy vir my sê wat aan die gang is?”

Sy oë hou hare vas tot sy sluk en wegkyk en weer vra: “Wat ís dit?”

“Rivkah, weet jy hoeveel keer ek jóú dit gevra het.”

Sy kyk vinnig na hom. “Was dit vir jou nodig om my op so ’n manier hier te bring?”

“Ja,” sê hy.

Die kelner plaas twee bokale wit wyn op die tafel en geurige vars brood. “U sal aandui as u iets verder nodig het,” sê hy hofliker as die gewone Israelse kelner – soos een wat die gelaaide atmosfeer om die klein tafeltjie gewaar geword het.

“Ek sal,” sê Marc en breek van die vars brood af en eet dit.

“Hoekom is ons hier, Marc?”

Hy kyk na die sneeu wat teen die groot vensters begin plak en die donker figure wat buite geboë teen die reën en die sneeu verbybeur.

“Wat is dit met jou en Aviel?”

Haar oë gaan wyd oop. “Wat bedoel jy?”

“Rivkah, ek het julle in Sha’ari Yerushalayim se kafeteria gesien.”

’n Gloed kruip uit haar nek in haar gesig op. “Ons het tee gedrink.”

Sy oë hou hare vas.

“Ja?”

“Ons is kollegas, Marc, en ons het …”

“Rivkah …”

Sy kyk af en haar hand wat om die glas se dun steel klem, bewe merkbaar.

“Hoe lank gaan dit al aan?”

Sy kyk nie op nie, maar hy sien dat sy haar kop effens skud.

“Was Aviel in Haïti?”

Sy roer nie.

“Rivkah?”

Sy knik.

“Wat het daar gebeur?”

“Daar het …”

“Moet asseblief nie vir my sê daar het niks gebeur nie. Laat ons soos twee grootmense praat. Ek het julle twee netnou dopgehou daar in die kafeteria en dit was duidelik daar het nié niks gebeur nie.”

Sy kyk vir die eerste keer op. “Dis ’n afleiding wat jy maak.”

Hy vat haar hand wat op die tafel lê so styf vas dat hy voel sy kry seer. “Wát hét in Haïti tussen jou en Aviel gebeur, Rivkah?”

Haar oë skiet vol trane en sy kyk vinnig weg. Hy los haar hand en praat sagter. “Sê vir my wat gebeur het, Rivkah. Ek het die reg om te weet.”

Hy sien sy sukkel om nie te huil nie en hy gee haar kans om te bedaar, sluk aan die droë wit wyn wat sy maag brand sodat hy weer van die brood afbreek en in sy mond steek.

“Marc, jy verstaan nie. Aviel was net ’n vriend vir my daar.”

Later kon hy nie verstaan waarom dit was dat die woord “vriend” hom sy selfbeheersing laat verloor het nie. Woede soos ’n sweepslag deur hom laat klap het.

“’n Vríénd!” sê hy so hard dat mense by die tafel langs hulle opkyk. Dit bring hom tot bedaring en hy haal diep asem en sê sagter: “Rivkah, ek is nie gister gebore nie. Dit was nie met ’n vriénd wat jy in die kafeteria gepraat nie. Kan ek jou nog eenmaal vra wat tussen julle in Haïti gebeur het. Of miskien lank voor dit al.”

Sy uitbarsting het haar laat skrik. “Nee, ek sweer daar was niks tussen ons voor ons Haïti toe is nie. Dis nie hoekom ek gegaan het nie.”

Sy begin weer huil en hy wink die kelner nader om te betaal. Toe skakel hy ’n taxi op sy selfoon.

In die kort entjie van waar die taxi hulle aflaai tot by hulle woonstel reën hulle so nat dat hulle tuis albei eers moet stort en droog aantrek.

Toe sit hulle ongemaklik teenoor mekaar in die woonkamer en om hulle eggo die huis leeg sonder die kinders. In haar ligblou handdoekstof kamerjas, nat hare weggekam van haar gesig af lyk sy ongelooflik jonk. Sy ril en hou die beker warm sjokolade wat hy vir haar gemaak het met albei hande vas. En die beeld van haar in die kafeteria waar hy haar dieselfde sien doen het, kom helder by hom op. Hy worstel met woede en met ontroering oor haar weerloosheid wat gelyktydig in hom opkom.

“Wil jy my vertel wat tussen julle is, Rivkah? Ons kan nie praat as die kinders hier is nie. En ons kan ook nie níé praat nie.”

“Marc … daar is niks meer tussen ons nie.”

“Dis nie die storie nie, is dit?”

Sy kyk af op die beker sjokolade in haar hande en toe begin sy praat sonder om eenmaal na hom te kyk. “Ons werk baie jare deeltyds saam by MADA en daar was nooit sprake van ’n verhouding tussen ons nie. Niks, absoluut niks, dit sweer ek. Ek … hy … hy het nie ’n baie goeie reputasie nie.”

Sy bly ’n paar oomblikke stil voor sy verder praat. “In Haïti was die toestande … verskriklik. Dis moeilik om dit vir iemand te vertel. Dit het gemaak dat ons wat daar gewerk het baie na aan mekaar gekom het … net … net om nie van jou verstand af te raak nie. Op die vyfde dag het hulle ontdek dat daar ’n ma en ’n babaseuntjie in een van die huise toegeval was. Die Israeli-span het ure en ure lank gesukkel om hulle te probeer uitkry sonder dat hulle verder toeval. Ons het al die tyd met haar gepraat … die bietjie Engels wat sy kon verstaan. En net voor hulle deurgebreek het, het sy stil geraak, ons nie meer geantwoord nie, maar ons kon nog die baba hoor huil. Die span het soos besetenes gegrawe, maar toe ons oopmaak, was sy dood … En toe hulle haar uithaal het die grond op die een of ander manier geskuif en die baba toegeval. Ons kon hom nie red nie …”

Sy bring die beker sjokolade na haar mond toe, maar sy drink nie. Sy knyp haar oë styf toe en sy sê stadig: “Ek kon dit eenvoudig nie verwerk nie. Ek kon net nie aanvaar dat na al die ure wat ons hulle aan die lewe gehou het, hulle albei dood was nie. Ek kon dit net nie hanteer nie. Aviel het my na sy tent toe geneem en vir my …” Sy begin huil en die sjokolade stort op haar blou kamerjas. Marc sit versteen na haar en kyk. “Hy’t vir my Milo gemaak en hy … en ons …” Toe huil sy so dat sy nie verder kan praat nie. Sy sit die beker op die vloer neer en draai haar op die rusbank om en huil snikkend met haar gesig in haar hande.

Marc staan op van waar hy gesit het en kom hurk langs die bank, hy sit sy arm oor haar, druk sy mond teen haar hare. Sy aanraking laat haar nog hewiger huil. Maar later bedaar sy en word stil tot nog net násnikke deur haar ruk.

“Stil maar,” sê Marc vir haar, maar hy bewe self so erg dat hy moeilik praat.

Tog is dit asof die geweldige huilbui haar rustiger laat word het. Sy kom regop op die bank en vou haar voete onder haar in en vee haar natgehuilde hare uit haar gesig. Marc bly op die grond sit met sy rug teen die bank en hulle kyk nie na mekaar nie.

“Was dit die enigste keer?” vra hy later gedemp.

Sy bly baie lank stil.

“Rivkah?”

Sy skud haar kop. “Hy het nog twee keer in die nag na my toe gekom.”

Die pyn in Marc se bors is so skerp dat hy bang is om asem te haal. “Hoekom?” vra hy uiteindelik.

Sy laat haar kop sak en haar hare val oor haar gesig.

“Hoekom?” vra hy weer

“Ek het nie meer krag gehad om teen hom te stry nie.”

“Hy’t jou verkrag?” fluister hy.

“Nee,” sê sy, “nee! Ek was net so verward.” Sy lig haar kop op. “Marc!” roep sy byna, “dit was so verskriklik, verskriklik daar. Ek wou net dat iemand by my is en hy …” Trane loop onophoudelik oor haar wange. “Toe hy eers … toe het ek hom nodig gehad. Ek het iemand nodig gehad. In die nag. HaShem hoor my, ek wou nie dat hy … ek wou net iemand by my hê na dit gebeur het. Dit was verkeerd, dit was verkeerd, ek weet dit.” Sy huil wanhopig.

“En vandag daar in die kafeteria? Waaroor het dit gegaan?”

Sy klem haar vingers oor haar mond soos sy toe ook gedoen het en sy bedaar genoeg om te kan praat. “Hy wou nie aanvaar dat dit verby is nie. Dat dit niks was nie. Niks kan wees nie. Hy wil nie glo dat ek dit bedoel nie.”

“Hoe sal ék weet dat jy dit bedoel?” vra hy.

“Asseblief, Marc, asseblief.”

Vreemd dat dit die drie klein woordjies is wat die glas tussen hulle breek. Hy kom regop en trek haar van die bank af teen hom op. Hy hou haar lank so vas. Hulle praat nie.

Eindelik sê hy: “Jy moet gaan slaap, môre kom die kinders terug.”

“En jy?” vra sy gesmoord.

“Ek wil gaan stap.”

“Dit reën buite.”

“Ek weet. Ek gee nie om nie.”

“Kom jy terug?”

“Jy’s my vrou,” sê hy.

Toe laat hy haar gaan, draai om, tel sy nog nat jas van die stoel op en gaan uit. Buite ruk die wind verwoed aan hom. En hy vergeet om sy jas aan te trek. Hy loop daarmee oor sy arm deur die stormende reën en weet dit nie. Hy sien Aviel lag. Hy sien hom oor sy vrou buig en haar neem. Asof sy syne is.

Hy loop sonder dat hy weet waarheen hy gaan.

Go'el Yisra'el

Подняться наверх