Читать книгу Go'el Yisra'el - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 6

Hoofstuk 3

Оглавление

Jerusalem

Vrydag 5 Februarie 2010

Die geluid van reën teen die ruit langs hulle bed maak Marc wakker. Hy luister na Rivkah se asemhaling. Sy lê doodstil, maar hy besef gou sy slaap nie. Op die verligte wekker langs die bed sien hy dis nog voor vyf.

“Rivkah …” sê hy na ’n paar oomblikke sag.

Sy roer effens.

“Is jy wakker?”

“Hmmm,” mompel sy.

Hy tel sy woorde versigtig. “Ons moet praat voor dit Shabbat word, Rivki …”

Sy reageer nie en hy hou sy stem so rustig as wat dit vir hom moontlik is toe hy verder praat. “Jy het byna soos ’n vreemdeling teruggekom van Haïti … Ek weet nie hoe om by jou uit te kom nie.”

Hy kan aan haar asemhaling hoor dat sy woorde haar rustiger laat word.

“Ek is jammer …”

“Jammer … waaroor?” Hy sukkel om sy stem egalig te hou.

“Dat jy voel asof ek ’n vreemdeling is.”

Hy draai om na haar toe en lig hom effens op sy elmboog. In die rooi skynsel van die radiowekker kan hy net-net die lyne van haar gesig uitmaak. Buite trommel die reën harder teen die venster. “Kan jy sê hoekom dit is dat jy so … anders is? Wat jy in Haïti oorgekom het …” vra hy versigtig om haar nie weer te laat opvlieg nie.

Sy draai haar gesig onrustig weg. “Ek het niks oorgekom nie, Marc.”

Hy voel sy binneste verstyf en probeer wanhopig sy asemhaling rustig hou, want hy weet een verkeerde woord kan die skraal kontak tussen hulle verongeluk.

“Praat met my, Rivki, asseblief. Vertel my wat dit is wat jou so ontstel het …”

Sy roer weer onrustig. “Daar het niks spesifieks gebéúr nie, Marc. Dis net …”

“Wat?” vra hy so sag as wat hy kan.

“Alles. Dit was so … onbeskryflik moeilik daar. So …”

“Ek verstaan dit, maar … jy kon nog altyd met my oor álles wat met jou gebeur het praat … Maak nie saak hoe erg dit was nie, ons kon dit nog altyd met mekaar deel … Jy hoef my net te vertel.”

Sy trek haar asem so vinnig in dat hy dadelik sê: “Auschwitz het my ook getraumatiseer. Ek sal verstaan. Daar is niks wat daar kon gebeur waaroor jy nie met my kan praat nie, hoe verskriklik dit ook al was …”

“Nee!”

Hy sak van sy elmboog af en nestel sy kop teen haar skouer soos hy altyd doen. “Chamud,” gebruik hy hulle lieflingsnaam vir mekaar, “dis goed, dit maak nie saak nie. Ek wil jou nie dwing om te praat nie. Laat my net toe om naby jou te kom en jou te help.”

“Daar is níks waarmee jy my kan help nie, Marc, ek is net moeg. Asseblief, ek is net moeg. Verstaan dit asseblief.”

Hy hoor die huil in haar stem kom en hy trek haar teen hom aan. “Dis goed,” sê hy, al is dit nie. Hy voel dat sy koud is.

“Kom,” sê hy, sy mond teen haar gesig, “kom, jy is koud. Kom, dat jy kan warm word, dit reën al weer buite. En ek kan voel dit gaan sneeu. Kom, jy is so koud.”

Sy laat toe dat hy sy arm onder haar deur steek en haar styf teen hom vashou. Mettertyd hoor hy aan haar asemhaling dat sy slaap.


Rivkah werk net op Dinsdae en Donderdae, dus is sy op Maandae, Woensdae en Vrydae tuis by die kinders. Op Vrydae staak Marc se klasse ook om eenuur. Hy koop vir Rivkah ’n ekstra groot bos rose vir Shabbat, geel, waarvoor sy so lief is. As hy tuiskom, is hy eindeloos verlig om haar in ’n redelik normale toestand aan te tref. Sy was met die kinders stad toe om Shabbat-inkopies te doen en herinner hom daaraan dat hulle dié week die Shabbat by Re’uven en Shlomit se huis in Talpiot saam met hulle ouers verwelkom. Hy is dankbaar daaroor omdat hy voel dat dit moontlike spanning tussen hom en Rivkah sal voorkom. Na die Erev Shabbat-byeenkoms in sy shul kom Chaim en Hadassah hulle in die Ou Stad oplaai en dit lyk of die Shabbat die normale rustige gang sal gaan.

Van Re’uven en Shlomit se planne van 2008 om na ’n moshav in die Negev te verhuis het niks gekom nie. Ná Operation Cast Lead in Gasa is Re’uven ’n hoë posisie in die weermag aangebied as gevolg van sy uitstekende strategiese beplanning gedurende die oorlog. Hy het sy loopbaan by ’n argiteksfirma voorlopig laat vaar en hy en Shlomit het vir eers hulle moshav-droom op die lange baan geskuif.

By die Cohens aangekom, tref hulle nog ’n gas daar aan. ’n Jong rabbi. Re’uven en Gur Hillel, ’n IDF-rabbi, het mekaar in Re’uven se nuwe betrekking goed leer ken.

Na die Shabbat-ete skarrel die twee jong vroue om die vier kinders gebad en in hul nagklere te kry, terwyl Hadassah haar bes doen om aan elkeen van haar vier kleinkinders ewe veel aandag te gee. Die mans trek oor koffie saam en al gou neig die gesprek in die rigting van die Auschwitz-Birkenau-bevrydingsherdenking. Dis duidelik dat Marc nie oor sy eie ervaring wil praat nie. Die ander drie wat al almal daar was, verstaan en respekteer dit. Daar is egter heelwat belangstelling in Binyamin Netanyahu se toespraak.

“Ek sien Bibi het uit Yechzk’el se profesie aangehaal,” sê Gur. Hy kyk na Chaim. “Rabbi Cohen, ek is seker u kan vir ons die gedeelte wat hy gebruik het, sonder die Tanach in u hand net so aanhaal.”

Chaim glimlag effens en haal sy bril af. “As dit nie was dat ek dit gisteraand in die Jerusalem Post gesien het nie, sou ek ook nie geweet het waarvan jy praat nie, Rav Gur.” Toe haal hy die skrifgedeelte inderdaad foutloos aan:

“Toe sê Hy, Adonai, vir my: Mensekind, hierdie bene is die hele huis van Isra’el. Kyk, hulle sê: Ons bene is verdord en ons verwagting verlore; dit is klaar met ons!

Daarom profeteer en sê vir hulle: So spreek Adonai Tzav’ot: Kyk, Ek sal julle grafte oopmaak en julle uit julle grafte laat opkom, o my volk! En ek sal julle bring in die land van Israel.” ’n Paar oomblikke lank hang die woorde in die stilte tussen hulle voor Marc sê: “Dit was werklik ontroerend om dit te hoor.”

“Vertel ons,” dring Re’uven wat sy swaer se ingetoënheid ken.

“Ek kan nie alles onthou wat hy gesê het nie, mens is so aangeraak. Ek onthou wel dat hy gesê het hy staan vandag op die plek waar so baie van sy mense omgekom het. En dat hy nie alléén daar staan nie, maar dat die Staat van Israel en die hele Joodse volk saam met hom daar staan. Dat ons ons koppe buig om hul nagedagtenis te eer. Maar dat ons ook ons koppe oplig wanneer ons ons vlag hys. Die blou en wit vlag met die Magen David in die middel. Sodat almal kan sien en hoor en wéét dat ons nie hoop verloor het nie.”

Die geweldige emosie wat hy ervaar by die herinnering aan dié dag en die volgende in Auschwitz, laat Marc meteens voel hy verstaan iets van wat met Rivkah aan die gebeur is. Hy neem hom voor om haar al die ondersteuning te gee waaroor hy beskik.

Gur Hillel knik. “Ek dink dit is ’n absoluut merkwaardige stelling wat hy gemaak het as mens die wêreld waarin dit gesê is in ag neem. ’n Wêreld wat luid verklaar het dat die Bybelse beloftes aan Israel ’n skending van internasionale reg is. Dis nie elke dag dat ’n leier op die wêreldverhoog staan en verklaar dat Bybelse profesie vervul is nie.”

“En dit is presies wat Bibi gedoen het – bevestig dat Israel ’n profetiese rol in die midde van die ander volkere het,” sê Chaim. “Mag dit wees dat Israel se sekulêre leiers eindelik tot hul sinne sal kom en HaShem se beloftes aangryp en nie op die IDF reken om Israel te beskerm nie.”

“Maar, Gur, vertel bietjie vir hulle wat jy nou die dag vir ons in die vergadering vertel het van die nuwe gees in die IDF,” sê Re’uven.

“Ja, ek moet sê ek was baie verras. Ek is regiment-rabbi, maar tot en met Cast Lead was ek bloot reservis. En toe ek nou opgeroep word, was dit nogal vir my ’n groot aanpassing. As ’n man wat al lank ba-al-teshuvah aanhang, en gewoond is aan swart baadjie en hoed, het my swart ‘uniform’ toe skielik vaalgroen geraak en die beskaafde taal van die yeshiva skielik die nie alte netjiese weermag-slang. Ek het die week voor die grondoffensief begin het, met my Golani-regiment se manne deurgebring. In die bitter koue in ’n nat tent op ’n kampbed tussen twaalf ander snorkendes, ensovoort, ensovoort.”

“Nogal rof,” grinnik Chaim.

“Sê dit nog ’n maal! Hoe ook al, my werk was om die soldate te bemoedig en te versterk vir wat daar op hulle gewag het. Ons het Tehillim en die spesiale gebede vir soldate wat uitgaan om oorlog te maak, onder hulle uitgedeel. En wat ontdek ek daar in die Suide van Israel? Dat die Golanchiks, wat op die punt was om die oorlog in te gaan, aan die Rots van Israel wou vashou! Onder sy beskermende hand wou wees. Daar was nie ’n enkele soldaat daar wat nie ’n Tehillim gesoek het om in sy uniform se bosak te steek nie. Maar ons grootste verrassing het gekom toe ons tzitzit begin uitdeel het. Dis gewoonlik net die yeshiva-ouens wat dit vat, maar dié keer was daar nie ’n soldaat wat nie een wou hê nie!”

“Jy speel!”

Gur skud sy kop. “Glo my, wat ek keer op keer gehoor het was: ‘Rabbi, bring vir ons tzitzit, my hele tent wil hê,’ of ‘Hallo, achi’ – in die Golani kan jy niks sê sonder achi nie, almal is broers – ‘vat een van dié, hulle is beter as die keramiek onderhemp’. Dis die onderhemp wat soldate gewoonlik vir beskerming dra. Elke pak tzitziyot wat ons oopgemaak het, is binne sekondes opgeraap.”

“Ek het agtergekom daar is nog ander ouens met tzitzit,” sê Marc, “maar ek het nie besef dis só erg nie.”

“Glo my! Daar was een jong soldaatjie wat verskriklik teleurgesteld was toe hy by ons kom en daar geen tzitzityot oor was nie. Hy was totaal ontredderd tot een van die offisiere wat nie dadelik onder vuur sou kom nie, syne uitgetrek en vir hom gegee het met die woorde: ‘Vat so, achi, jy’t dit nou nodiger as ek.’ Die Ma’ariv op Erev Shabbat was net eenvoudig ongelooflik. Ons het besef die sinagoge was te klein vir die honderde soldate, toe het ons maar die sokkerveld in ’n tydelike shul omskep met siddurim en Bimah en alles wat nodig was.”

Hy stryk met sy vingers deur sy hare en skud sy kop. “Iemand wat nie deel van die Kabbalat Shabbat was daardie aand nie, is soos iemand wat nog nooit in sy lewe deel was van die verwelkoming van die Shabbat nie! Byna die volledige Golani Brigade, offisiere en soldate, wat die Kaddish en Tehillim uitbulder. As dit nie was vir die uniform wat ek aangehad het nie, sou ek kon dink dit was ’n Yom Kippur-diens in een van die groot yeshivot.”

“Op die deel van die grens waar ek was, was daar ook veel meer belangstelling as gewoonlik. Maar ek het nie besef dat daar by Golani sóveel entoesiasme was nie. Dis die beste nuus wat ek in lang dae gehoor het,” sê Chaim.

“So is dit, Rabbi. Maar weet jy wat vir my persoonlik die wonderlikste was? Ons liefdevolle Vader was ook daar, en Hy’t elke minuut geniet van sy seuns wat rondom Hom geskaar was. Ons Vader vra nie: ‘Waar was jy tot nou toe?’ nie, of ‘Hoekom onthou jy my net as jy moet oorlog toe gaan?’ nie. Hy verwelkom al sy kinders en slaan sy arms van liefde om hulle.”

“Iemand van Golani het my gesê die IDF se hoofrabbyn was die hele Shabbat daar,” sê Marc.

“Dis reg. Rabbi Avi Ronsky het die manne se harte warm laat klop met stories van Israel se geskiedenis, hy’t ook gepraat oor barmhartigheid en oor broederliefde. Ons het buite gesit en koek en sonneblomsaad eet in die koue, maar ons harte was warm van binne.”

“Tot hoe ’n mate het jy gevind onderhou soldate die Shabbat?” wil Chaim weet.

“Wel, ek het vir hulle verduidelik dat dit belangrik is om die Shabbat te respekteer. Dat dit ’n dag is wat HaShem vir Homself afgesonder het. Dat dit ook ’n teken is van sy verbond met Israel. Baie van die sekulêres het dit nooit eens besef nie. Ons was ongelukkig verplig om op Shabbat te reis, want ons moes by die plekke uitkom waarvandaan hulle Gasa sou binnegaan. Dit het my geroer om te sien hoeveel van hulle probeer het om nie op Shabbat te rook nie. Ek weet nie hoeveel keer hulle my gevra het wanneer die Shabbat eindig nie.” Hy grinnik. “Ja, dit was nie vir die strawwe rokers maklik nie.”

“Hulle het dieselfde aand nog ingegaan, nè?” vra Re’uven.

Gur knik. “Ons het Ma’ariv gebid, en Havdalah oor druiwesap, ’n sigaretaansteker in plaas van kerse, en ’n lemoen in plaas van speserye, saam gebid. En toe was dit tyd om in te gaan. Die Regiment-bevelvoerder het hulle bymekaargeroep en weer die inval in Gasa verduidelik. Toe hy klaar was, het die Assistent-bevelvoerder die gebed wat voor ’n geveg gebid word, begin voorlees. Maar hy het die soldate beveel om hardop agter hom aan te sê, en die hele regiment van honderde soldate het uitgeroep: ‘Ana HaShem hoshia na! Ana HaShem hatzlicha na!’ Na die gebed het hy my gevra om die shofar te blaas, net soos duisende jare gelede toe ons die Heilige Land ingeneem het.”

“Dit moes ’n onvergeetlike ervaring gewees het,” sê Marc gedemp.

“Inderdaad, achi! Ek het al vantevore die shofar in die openbaar geblaas, maar dié keer sal ek in my lewe nooit vergeet nie.”

“En dit was presies op daardie oomblik dat die IAF oorgekom het en ons vliegtuie die vyandelike gebied begin bombardeer het.”

“Presies! Hoe weet jy dit het so gelyktydig gebeur, Marc?”

“’n Goeie vriend van my is ’n Golanchick.”

“Ja, dit was fantasties. Die soldate het twee rye gevorm en ek het tussen hulle deur geloop om elkeen se hand te skud. En ek het by myself gedink: Wat ’n wonderlike nasie is ons tog nie! Dis soos die Joodse leër lyk as hy gaan oorlog maak – nie met groot ‘ons-sal-wen’ baniere oor ons koppe nie, maar eerder: ‘Met HaShem se hulp sal ons wen.’”

“Maar laat ek net sê, daar is wél onder die Arabiere ook ouens wat met realistiese oë na die situasie hier kyk,” sê Re’uven.

Die vroue wat die kleinste twee aan die slaap gemaak en die twee vyfjariges met boustelle aan die speel gesit het, sluit by hulle aan. Marc kyk vlugtig in Rivkah se rigting en merk opnuut dat sy bleek en gespanne daar uitsien. Sy glimlag flou in sy rigting.

“Hoe so?” vra Shlomit.

“Wel, ek het onlangs op die internet ’n interessante artikel gelees wat Youssef Ibrahim in 2006 geskrywe het. Hy was onder andere 25 jaar lank Midde-Oosterse korrespondent vir die New York Times en nou is hy vryskut. Die titel is: To my Arab brothers: The War with Israel is Over – and they won. Now let’s finally move forward.”

“Nogal ’n waaghalsige titel.”

Re’uven knik. “Hy skryf in die naam van Arabiere met ’n nuwe siening van die situasie aan die Palestyne. Hy sê hulle het drie generasies gemors om vir Palestina te veg. Hy reken die land waarmee hulle nóú moet tevrede wees, is veel kleiner as wat hulle sou hê as hulle in 1948 die Partisieplan aanvaar het. Of wat hulle sou kon gehad het ná 1967. Hy deel heelwat praktiese insigte uit. Hy sê byvoorbeeld: ‘Oor die televisie en in die moskees bly julle donder oor huise wat nie meer bestaan nie, of wat bewoon word deur Israeli’s wat nie die minste voorneme het om uit Jaffa, Haifa, Tel-Aviv of Wes-Jerusalem pad te gee nie. Julle skiet met ou gewere op moderne Israeli-tenks en Amerikaanse vegterstralers, terwyl julle net omtrent nul skade aan Israel doen. Al wat gebeur is dat julle die woede van hulle magtige leër oor julle bring. Julle skiet belaglik minderwaardige Kassam-vuurpyle op hulle af wat min skade aanrig en mislei julleself om te dink julle veg vir die bevryding van Palestina. Jul regering, jul maatskaplike instellings, jul skole en jul ekonomie lê aan skerwe.’”

“Wow,” sê Gur, “moes hom moed gekos het om dit te sê.”

“Ja, wel, hy wys hulle daar op dat hulle jeug ongeletterd grootword, gerig op haat. Dat die jeug geleer word om die dood te verheerlik, terwyl hulle, die leiers, op die goedgunstigheid van buitelanders, Amerika en die VN ingesluit, ’n bestaan maak. Dag vir dag moet hulle amptenare bedel vir hul daaglikse brood, totaal afhanklik van vragwaens met hulpvoorrade wat Gasa en die Wesbank met kos en medisyne binnekom. Dit terwyl hulle kriminele Moslem-fundamentalistiese Hamas-regering voortgaan om die vlamme aan te blaas van ’n oorlog wat hulle nie kan veg of die hoop het om te wen nie …”

“Hy het seker niks gesê van die tonne kos en medisyne wat ons regering daagliks oor die Gasa-grens stuur, of die hope mediese hulp en dosyne operasies wat hulle in ons hospitale kry nie,” sê Gur weer.

“Bietjie veel gevra, achi.”

“Of dalk melding gemaak van die selfmoordaanvalle binne Israel se grense nie. Van Hizbollah en Hasan Nazralleh wat deur Iran met wapens oorstroom word nie?”

“Wel, nee. Hy het wel verwys na Sirië wat steeds hulle fantasieë voed dat hy hulle eendag sal help om Palestina te bevry. Hy sê: ‘The Syrians, my friends, will gladly fight down to the last Palestinian Arab.’”

“Baie waar,” merk iemand op.

“Hy sluit ook af met ’n waarskuwing. Voor hulle verstrik raak in wat hy die ‘Hamas crowd’ noem, moet hulle hul gedagtes laat gaan na ’n ander leier van hulle, Yasser Arafat, wat hulle openlik verneuk en ’n verrotte erfenis nagelaat het – ’n erfenis van meer lyding, groter korrupsie en die miljoene wat deur sy familielede en gunsgenote gesteel is, terwyl húlle kinders in Gaza se rioolslote gespeel het. ‘The war is over,’ skryf hy aan die einde. ‘Why not let a new future begin.’”

“Alles baie goed gesê, maar die feit wat hy heeltemal buite rekening gelaat het, is die allesoorheersende geloof onder Moslem-fundamentaliste, soos Ahmadineyad, Nasrallah, Turkye se Erdogan en onder die kombers ons sogenaamde gematigde Mahmoud Abbas, dat Islam die Westerse wêreld moet oorneem om ’n kalifaat te skep ter voorbereiding vir húlle Messias wat wag om te kom. Daarom is daar nie sprake by hulle dat die Joodse Staat bestaansreg kan hê nie.”

“Jy het gelyk, Rabbi Chaim. Nie net die Islamitiese wêreld nie, maar ook Europa is besig om in hulle tienduisende teen Israel saam te trek. Dis tyd om wakker te word. Ons lewe in die dae van HaSatan se hernieude en moorddadige aanslag op die Jode. Dit is inderdaad die dae van Yirmiyahu se ‘jagters’, glo ek.”

Chaim knik. “Ons leef ook in die dae van die restourasie van HaShem, baruch Hu, se am segula wat terug is in die land wat Hy hulle beloof het. HaSatan het hierdie restourasie op baie maniere teengewerk – deur Kommunisme, Fascisme, en nou deur die Islamitiese haat en moord op Jode. Die vlae van die vroeëre bewegings was rooi en swart. Vandag word die anti-Semitiese aanslag gelei deur hulle wat groen vlae dra – die baniere van Islamic Yihad …”

Die twee rabbi’s se sober woorde bring ’n paar oomblikke van stilte oor die groepie. Net die twee seuntjies se skril stemmetjies uit ’n ander hoek van die woonkamer is duidelik hoorbaar.

“’n Passie waarin hulle ook nog deur die Goldstone-verslag aangevuur word,” sê Hadassah.

Marc let onrustig op dat Rivkah wat gewoonlik vurig aan sulke gesprekke deelneem, heel aand niks te sê het nie. Hy merk ook dat Re’uven meer as een keer in sy suster se rigting kyk.

“Ja, die Goldstone-verslag. Ek vind dit nogal moeilik om daaroor ’n opinie te vorm,” sug Gur. “Ek glo nie dat daar nog ooit ’n oorlog gevoer is waarin een van die partye nie groot foute gemaak het nie. En ek glo die IDF het ook in Cast Lead foute begaan, maar nie die groot beuel waarop Goldstone geblaas het, verdien nie.”

Re’uven stryk ingedagte oor sy bolip. “Wel, ek glo Goldstone, ook omdat hy self ’n Jood is, het ons gehelp om goed na ons self te kyk, waar ons reg was en waar ons verkeerd was. Ek dink dis belangrik dat ’n bevelvoerder aan die einde van ’n operasie kan huis toe gaan en sy familie in die oë kyk, en dat soldate twintig jaar van nou af hulle kinders in die oë kan kyk. Dat Alan Dershowitz hom ’n moser noem, is ek nie so gelukkig mee nie. Daar het vir seker ook verkéérde dinge gebeur. Ek weet byvoorbeeld dat in ons kommissie wat Goldstone se beskuldigings opgevolg het, 36 uit die 150 ondersoeke gelei het tot kriminele vervolging. Negentien daarvan het skote wat in die rigting van burgerlikes afgevuur is ingesluit en sewentien daarvan die gebruik van burgerlikes as ’n menslike skild, die mishandeling van aangehoudenes en diefstal.”

“Ses en dertig is ’n fraksie van die duisende soldate van alle soorte en alle oortuigings wat in Gasa geveg het, Re’uven,” sê sy vrou.

“Ek weet, en ek weet ook hoe hoog ons morele standaarde in die IDF is, maar wat ek sê is, as dit nie vir Goldstone was nie, het ons waarskynlik nie daarna gekyk nie.”

“Het die wit fosfor-storie al tot rus gekom?” wil Hadassah weet.

“Die aanklaers het dié beskuldiging teen Israel teruggetrek. Dit is wel gebruik, maar net om vyandelike doelwitte te identifiseer waar daar geen burgerlikes was nie. Ek was nie daaroor bekommerd nie, want ek het geweet die bevelvoerders sou dit nie gedoen het sonder om eers die militêre advokate daaromtrent te raadpleeg nie.”

“Persoonlik voel ek daar is heelwat tekortkominge in die verslag,” sê Gur. “Die feit dat Goldstone ’n Jood is en in die verlede as pro-Israel beskou is, behoort nie noodwendig gesien te word as ’n aanduiding van die betroubaarheid van sy verslag nie. Selfs Einstein het die kwantum-teorie ontken en later in sy eie woorde toegegee hy het dikwels ’n offer op die altaar van onnoselheid maak. Die verslag erken dat lede van die al-Qassam-brigade nie hulle uniforms aangetrek het nie en die strate in burgerdrag patrolleer het, en dat die Palestynse gewapende magte dus sonder uniform tussen die burgerlike bevolking beweeg het. Dit kwalifiseer hy met ongelooflike minagting van: ‘Daar is geen bewys dat hulle dit gedoen het met die intensie om hulself te beskerm nie.’”

“Die verslag sê ook dat, ten spyte van die feit dat die ondersoekspan aanduidings gevind het dat die Palestyne missiele uit woonbuurtes afgevuur het, dit nie vir die span moontlik was om regstreekse bewyse te vind dat dit opsetlik gedoen is om die lanseerders vir die Israelimagte weg te steek nie,” sê Chaim.

Gur lag sinies. “Die verslag erken die feit dat Fathi Hammad, ’n lid van Hamas se Wetgewende Raad, in die openbaar verklaar het dat die Palestynse bevolking menslike skilde gevorm het om militêre doelwitte teen aanvalle te beskerm. Verstommend genoeg vra die ondersoekspan Fathi nie om voor die kommissie te getuig nie, om die waarheid te sê, hulle verdedig hom. Hulle sê dat ten spyte daarvan dat die span die verklaring afstootlik vind, hulle dit nie beskou as onomstootlike bewys dat Hamas Palestyne gedwing het om militêre doelwitte so teen aanvalle te beskerm nie.”

“Ja,” sug Re’uven, “dit is so. Ten spyte van wat ek netnou oor die voordele van die verslag gesê het, vind ek dit totaal onaanneemlik dat Kolonel Richard Kemp as ’n senior raadgewer van die Britse magte in Afganistan nie toegelaat is om te getuig nie. Heel waarskynlik omdat hulle geweet het hoe positief sy getuienis oor die IDF se optrede sou wees.”

“Ook die getuienis van die vyftien Australiese advokate word nooit in die verslag aangespreek nie,” sê Shlomit.

“Chaverim, julle praat van Israel, van Jode – vir ons loop die lyne van regverdigheid anders as vir ander lande, het julle dan vergeet?” vra Gur.

Sondagaand 7 Februarie 2010

Ek was dankbaar toe ek vanoggend weer kon teruggaan werk toe. Abba, dit verg oneindig energie van my om die situasie in my huishouding normaal te probeer hou, om Yhoshi en Natani nie aan die spanning tussen my en Rivkah bloot te stel nie. Toe ons vroeg op Shabbat-môre gepraat het en ek gedink het daar het ’n mate van begrip tussen ons teruggekom, het ek my sleg vergis. Shabbat was ’n dag van intense spanning. Rivkah was so ver verwyder van my soos nog nooit op enige tydstip in ons lewe saam nie, nie eens as ons, veral in die beginjare, hewige argumente gehad het nie. Gistermiddag het ek voorgestel dat ons met die kinders gaan stap. Die reën het vir die eerste keer in dae opgeklaar en die son het geskyn. Die hele Jerusalem was buite ten spyte van die feit dat dit steeds net 5 grade bo vriespunt is en daar sekerlik nog sneeu in die lug is. Maar sy wou nie. Om die waarheid te sê, sy het gevra of ek nie alleen met die seuns wil stap nie, sy was te moeg.

Ek het begin wonder of sy nie in Haïti die een of ander virus opgedoen het nie. Maar toe ek in die rigting begin praat, het sy kwaad geword en my verseker dat sy absoluut niks makeer nie, maar tog seker ook die reg het om af en toe moeg te voel.

Wel, ek het met die seuns in die Mamila Mall gaan roomys eet – koud soos dit was, was dit wat hulle wou doen. Toe het ek stadig met hulle deur die Arabiese shuks waar ons hulle eintlik nooit heen neem nie, geloop. Hulle het hulle verstom aan alles wat daar te sien is. Ek kon sien dit was goed dat hulle uitgekom het.

Op pad terug het Re’uven my op my selfoon gebel. Blykbaar het hy huis toe gebel en Rivkah het gesê ek het met die kinders gaan loop. “Wat’s dit met jou vrou?” het hy my op sy reguit manier gevra.

Ek was dankbaar oor die geraas in die shuks dat die seuns nie die gesprek kon hoor nie, Yhosh het sulke skerp ore. Dit sou nie help om te maak of ek nie weet waarvan Re’uven praat nie, hy skiet uit die heup. Ek het gesê ek wens ek het geweet, maar dat ek dink dit het te make met wat sy in Haïti gesien het. Hy’t dit ook afgeskiet, gesê Rivkah is ’n MADA-paramedikus en sy het al meer as genoeg soortgelyke dinge in Israel beleef om nou daardeur ontspoor te word. En ook dat almal van hulle wat daar gewerk het dadelik berading ontvang het en nog altyd kry. Hy het gesê ek moet hom asseblief op hoogte hou, want hy vind dit baie vreemd.

Ek ook. En vanaand het ek weer my selfbeheer reddeloos verloor. Toe ek, voor hulle gaan slaap, vir Yhosh en Natani soos gewoonlik aan die begin van die week die parashah begin verduidelik, het sy opgestaan van die tafel af en kamer toe gegaan. Dit was net die laaste strooi. Toe ek seker was die kinders slaap albei, het ek kamer toe gegaan. Sy was al in die bed, en het met haar rug na my toe gelê, gemaak of sy slaap. Maar ek kon sien sy slaap alles behalwe. Ek was van plan om rustig met haar te probeer praat, maar toe ek my kom kry skree ek op haar: “Wat de hel gaan met jou aan, gee jy nie eers vir die kinders meer om nie?” Toe begin huil sy en vir die eerste keer het dit my net kwater gemaak. Ek het die deur agter my toegeklap. So hard dat Natani daarvan wakker geword en aan die huil gegaan het. Nou het ek hom eindelik aan die slaap gekry en ek het nie die moed om weer terug te gaan kamer toe nie. Ek weet net nie meer hoe om hierdie situasie te hanteer nie.

Abba, ek smeek U b’Shem Yeshua om asseblief vir my te wys wat hieragter sit en wat ek hieromtrent moet doen. Adoni, help my, asseblief!

Go'el Yisra'el

Подняться наверх