Читать книгу Klaprose teen die wind - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 4

Twee

Оглавление

Sonder veel verwagting stuur hy af op Jurgen de Villiers se adres in Le Clerqstraat, binne loopafstand van die Dam waarvandaan die kafeebaas hom beduie het. Hy vind dit makliker as wat hy verwag het. ’n Deur langs ’n smal geskenkwinkeltjie op straatvlak. Op die haas onleesbaar verbleikte naamkaartjie maak hy tog dié naam uit. Hy huiwer ’n oomblik voor hy die klokkie daarnaas druk. Toe die deur­knop ’n paar oomblikke later klik, skrik hy so hewig dat hy duise­lig voel. Hy bly die deur besluiteloos aankyk. Onseker wat van hom ver­wag word. Eers toe ’n stem bo uit ’n raam roep: “Kom op!” be­sef hy dat die slot oopgespring het en dat daar van hom verwag word om self in te gaan.

Hy stoot die deur behoedsaam oop en bevind homself in ’n ske­mer portaaltjie waaruit ’n smal trap die donker inskiet. Toe hy begin klim, kraak dit beswaard onder hom, en ’n muwwe, klam reuk slaan om hom op. Eers toe hy byna bo is, gewaar hy Jurgen se gestalte wat in die halflig oor die trapleuning buig.

“O, Marc van Suid-Afrika,” sê hy, “ek kon nie lekker deur die venster sien wie dit is nie. Kom op!”

Toe Marc hom bereik, maak hy die deur langs hom oop waaruit lig en warmte en musiek meteens die swaarmoedigheid van die trap besweer. Marc gaan verlig die rommelrig gesellige vertrek met hom binne. Hy sien boeke en tydskrifte en lae banke en tafeltjies en ge­moedelike kleure. Selfs die skemer ligte hang laag. ’n Gesette gem­mer­kat rek homself steierend tussen die kussings op een van die banke uit en ’n groot hond kom teen hom aansnuif.

“Sit,” sê Jurgen en skuif koerante en tydskrifte opsy om vir hom plek te maak. Hy draai die laserskyfspeler se klank laer sodat hulle mekaar beter kan hoor. “Ek het al hoop opgegee om jou weer te sien.”

“Die weer was so vrot …” Marc beduie verleë met sy hande.

Jurgen knik, tel ’n jong Siamese katjie van ’n stoel af op en gaan daarmee op sy skoot teenoor Marc sit. “Hier leer mens naderhand om die weer maar buite rekening te laat, anders kry jy nooit iets gedaan nie.”

“Ek veronderstel so.”

Jurgen troetel die kat se oortjies tussen sy vingers tot die blou oë in die spits donker gesiggie skeel kyk van genot. “Nog steeds by Ouma?”

Marc glimlag, meer ontspanne nou. “Nog steeds by Ouma,” knik hy. “Vanmôre by die Walletjes langs geloop.”

“Net langs geloop?”

“Net langs geloop.” Marc se gesig is warm, maar hy kyk nie weg voor die vriendelik spottende oë nie. “Liewers film gaan kyk.”

“Ja, ja, en dié is ook vaderweet so goor. Ek begryp nooit waarom niemand ’n pornofilm met ’n bietjie smaak of oorspronklikheid kan maak nie. As jy een gesien het, het jy almal gesien.” Hy skud sy kop meewarig.

“Ek het nog net die een gesien.”

Jurgen grinnik oor sy eerlikheid. “Dan sal jy nog gaan kyk voor jy my glo. Wil jy koffie hê?”

“Dit sal lekker wees.”

“Wat het jy eintlik studeer?” vra Jurgen toe hulle met bekers koffie en ’n stapeltjie kaasblokkies wat hy opgesny het, sit.

“Beeldende kunste. Verlede jaar graad gekry. Ek sit nou hier oor ek my oproeppapiere gekry het vir Junie.”

“Ek dag in die Nuwe Suid-Afrika is dit nie meer so ’n issue nie.”

Marc kyk vinnig op, te vinnig. Sodat Jurgen sê: “Laat maar.”

Marc trek sy pakkie sigarette uit sy jassak. “Gee jy om as ek rook?” Toe Jurgen knik, steek hy een op en sê: “Ek gee nie om om daaroor te praat nie.”

“Ja …?” Jurgen grinnik.“Ek sou ook daaroor wou praat. Oor Suid-Afrika bedoel ek, wat daar aangaan. Jy is eintlik die eerste een met wie ek praat wat daarvandaan aangekom het sedert Mandela los is.”

“Ek weet nie veel nie,” keer Marc gou.

“Dit lyk my nie iemand weet veel nie. Almal spekuleer maar. Ek sien in elke tydskrif ’n ander scenario.”

“Hoe lank is jy al hier?”

“Vyf, ses jaar.”

“Dit het alles so meteens gebeur dat dit moeilik is om te glo wat aangaan.”

Jurgen knik. “Ja, so verstaan ek. Is dit dan nog steeds nodig om oor diensplig beswaard te wees, jy gaan tog nie meer teen vryheidsvegters op die grens veg nie …?”

“Ja,” sê Marc en stoot sy vingers deur sy hare wat nog klammerig oor sy voorkop hang, “maar met al die geweld wat daar aangaan, is die kanse goed dat jy die townships ingestuur word en daarvoor sien ek waaragtig nie kans nie.”

“Begryplik.”

“Maar … dit lyk my op ’n manier ook ’n bleddie cop-out om hier te sit, iémand moet dit tog doen en ander kry nie my soort kans om landuit te kom nie.”

Jurgen glimlag en draai die slapende katjie in sy skoot om. “Maar dis seker ook nie al rede hoekom jy hier sit nie.”

Marc kyk vinnig op om te sien wat hy bedoel, maar Jurgen se gesig sê nie veel nie. Dus vra hy: “Wat bedoel jy?”

“Ek weet nie … miskien kry ek die boodskap dat jy ook maar op soek is. Soos dit maar met die meeste van ons Afrikaners is wat ons begin los dink uit die muwwe situasie daar.”

Marc voel vrymoedig om te kan vra: “Wat het jy kom soek?”

Jurgen grinnik: “Baie dinge …”

“Het jy antwoorde gekry?”

“Nie op baie dinge nie, nee.”

“Gaan jy weer terug?”

“Ek dink ons gaan sonder uitsondering almal weer terug. Maar dis verskriklik goed om uit te kom. Jy kan bitter min van die land weet as jy nie eers buitekant gaan staan en hom bekyk het nie. Van jouself en jou mense ook. Die Here weet, ons is so verkramp!” sê hy on­verwags driftig. “En vir wat sal jy ’n jaar van jou lewe vermors om in die army te sit. Daar’s oorgenoeg ouens wat hulle geroepe voel om dit te doen, los dit maar vir hulle.”

“Was jy in die army?”

Jurgen skink hulle bekers weer vol. “Waarom dink jy sit ek ses winters al in hierdie plek?”

“Wat het jy gedoen voor jy gekom het?”

“Studeer. Watter ordentlike Afrikaner het nie studeer nie?” Maar hy klink nie meer bitter nie.

“Vir wat?”

“Vyf jaar teologie, drie jaar medies en een jaar wet.”

Marc is eers oorbluf en toe lag hy. “Hel! En wat doen jy nou hier?”

“Ek het byna ’n jaar lank in die Rotterdam-dokke gewerk toe ek net hier gekom het. Stuwadoor. Toe in ’n restaurant hier en daar. Kel­ner wees is feitlik hopeloos hier, die Nederlanders tip nie.” Marc lag. “Werk is nie wat jy kan sê volop hier nie. Van 1987 af werk ek deel­tyds in die Aidskliniek hier in Amsterdam. Drie aande oor die na­week speel ek kitaar en sing in ’n koffiekroeg by die Dam.”

Marc skud sy kop. “Wragtag?”

Jurgen steek sy lang bene voor hom uit en lig die katjie op en knuffel haar teen sy gesig. “Dis lekker om weer ’n Afrikaner onder my dak te hê. Om weer die moedertaal te hoor,” sê hy sag.

Marc kyk verleë in sy skoot, maar hy sê tog: “Ek is bly dat ek jou teengekom het, want ek het nie geweet wat om van dié plek te maak nie.”

“Ja,” sê Jurgen, “soveel bekoring in dié stad en so onnoembaar vies.”

“Dit begin ek agterkom.”

“Daar’s nog báie om agter te kom, my maat. Baie. Ek sal jou die Aidskliniek gaan wys.”

Marc se hande kramp stadig tot vuiste in sy skoot. “Regtig?”

“Regtig. Maar later, later. Nou is daar eers twaalfduisend ander dinge wat jy kan sien.”

“Ek wil nie misbruik maak van jou nie.”

Jurgen grim en skud sy kop. “Dis ’n mooi manier van sê, maar leer jouself dit hier af. Mens bedoel dit tog skaars. Ek het veel van die bleddie Hollanders geleer. Vat net soveel as wat jy moontlik verniet kan kry. Hulle het nie vreeslik respek vir ons goeie maniere nie. Hulle reken ons is skynheilig en ons is seker. Newwermaaind. Het jy vaste planne vorentoe?”

“Geen enkele een nie.”

“As jy lus het en dit sal Ouma nie te veel ontwrig nie, kan jy ruk­kies hier by my oorstaan. So lank as jy wil eintlik. Ek het gewoonlik tyd op hande en ek ken die meeste joints. En ek het ekstra lêplek.”

“Maar jy ken my dan van geen Adamskant af nie.”

“Jy ook nie vir my nie,” sê Jurgen geduldig, “behalwe dat ek ’n Afrikaner met ’n gerekende agternaam is.”

Marc lag. “Ek sal vreeslik graag wil.”

“Doen dit dan.”

Hy gaan eers die aand terug om dit met sy ouma te bespreek. Maar sy het geen enkele beswaar nie. “Natuurlik, Marc! Dit vind ek alle­maal goed. Dis eentje nader aan jou eie leeftyd en van jou eie mense. Wat wil jy meer? Laat maar die meeste van jou spullen hier en as julle die kant op kom, dan kom julle gewoon rustig hier inval, jongen.”

Hy soen haar en dink hoe dit is asof hy haar maar altyd geken het.

So neem hy voorlopig sy intrek by Jurgen. In ’n miniatuur-dak­kamertjie op die verdieping net bo die woonkamer. Beter bekend as Jurgen se studio. Waar die reën en enkele male die sneeu teen die skuins ruite val en van waar hy ook later die eerste mossies van die lente hul uitbundigheid hoor uitsing.

In die begin gaan Jurgen meestal met hom mee, maar al gou raak hy met die stad bekend en kan Jurgen hom maar net die plekke aan­stip en hy vind hulle self. Maar hy is nie meer so swaarmoedig alleen nie, want as hy tuis kom, is daar iemand om na sy dag se ervaringe te luister. Jurgen ken die stad grondig. Hy neem Marc na plekke toe waaroor die gewone toeris nooit sou gedroom het nie. Hy leer hom sy guldens veel versigtiger bestee; hy leer hom Nederlands dink. Soms skok dit Marc, maar hy ontwikkel al spoedig ’n byna blinde ver­troue in Jurgen se oordeelsvermoë.

In daardie eerste twee weke praat Jurgen nooit een maal oor sy werk by die Vigskliniek of werklik oor homself nie. Soms, as hy van die werk af by die huis kom en Marc reeds daar is, merk Marc dat hy gespanne is en baie stil, soms byna nie praat nie. Altyd verskriklik moeg. Dit vervul Marc dan met deernis en ook met ’n vreemde on­gerustheid.

Vrydae gaan hy terug na Bodegraven om die naweek met Ouma deur te bring. Algaande kom hy onder die bekoring van Amsterdam. Die wonderlike vermenging van skoonheid en kruheid. In dié tyd gaan hy nie na die Walletjes nie.

Op ’n aand vroeg in April kom hy terug om Jurgen koulik voor die verwarmer aan te tref. Die diere al drie om hom versamel. Hy bleker en matter nog as ander aande. Sodat Marc dankbaar is dis nie naweek en hy moet ook nog in die restaurant gaan sing en kitaar speel nie. Marc merk ’n trilling in sy hande, maar toe Jurgen self niks sê nie, gaan hy na bo om van sy warm klere ontslae te raak.

Terug in die woonkamer tref hy Jurgen nog op dieselfde plek aan. Hy wil vra of iets verkeerd is, maar soveel vertroue is daar nog nie tussen hulle nie. Dus gaan haal hy vir hom ’n bier in die kombuis en kom by Jurgen sit. Rubicon, die Labrador, kom na hom toe en lê sy swaar kop op Marc se knieë, sy sagte bruin oë pleitend op hom gerig. “Ons gaan netnou stap,” sê hy vir die hond, “netnou.” Die hond sug en gaan lê swaar op die mat by hom.

Al die tyd het Jurgen nie gepraat nie, nou vra hy: “Wil jy nog steeds saam met my na die Aidskliniek gaan?” Marc sluk sy bier so vin­nig dat sy neus daarvan brand. “Asseblief.”

“Dis ’n ontstellende plek, Marc.”

“Maak nie saak nie.”

Jurgen sit hom ’n ruk lank stil en aankyk. “Hoeveel weet jy van die dood?”

Hy kyk in sy bierglas. “My pa is ’n paar jaar gelede dood.”

“Hoe?” Daar is ’n vreemde onsensitiwiteit in Jurgen.

“Hy het selfmoord gepleeg. Homself geskiet.”

“Ek is jammer, Marc.”

“Waarom?” vra Marc sag.

“Dat ek so uitgevra het.”

“Dit maak nie saak nie.” Dis of Marc hom staal om nog iets by te voeg en normaalweg sou Jurgen dit kon aanvoel, maar nou kyk hy oënskynlik onsiende teen die donker rame vas. “As jy wil, kan jy môre saam­gaan. Ek werk net ’n kort skof van een tot vyf.”

Marc knik. “Jy het lank gewerk vandag. Jy lyk … Is jy moeg?”

“Ja,” sê Jurgen, maar niks meer nie. Hy lees nie, hy luister nie na musiek nie; sit net koulik met die Siamesie op sy skoot vasgehou. “Wil jy vir ons die verwarming aansteek?” vra hy naderhand vir Marc wat in ’n koerant begin blaai het.

Marc kyk hom verbaas aan. Dit was die eerste dag dat daar ’n bietjie son sigbaar was. Hy het eintlik warm gekry met ’n windjekker oor ’n trui. Op meer as een plek in die parke het hy tulpe sien oopgaan. Dis nou ook nog nie juis koud nie. Maar hy staan op en steek die verwarming aan. Toe gaan hy uit om Rubicon vir sy wandeling te neem. Jurgen bly sit of hy hom nie sien gaan nie. Sodat Marc later seergemaak en afgeslote oor die brug in die grag staan en kyk. Hy wonder of dit tyd geword het dat hy moet teruggaan Bodegraven toe.

Maar die volgende môre is Jurgen oënskynlik weer homself. Hulle gaan uit na die mark om groente en vrugte te koop omdat ’n Duitse vriend van Jurgen die aand op besoek kom.

“Dalk sal Claus jou aanstoot gee, Marc. Ek weet nie of jy al met so ’n geval te doen gekry het nie,” sê Jurgen terwyl hulle die groente in die kombuis staan en skoonmaak.

“Watter soort geval is hy dan?”

“Hy’s uitgesproke gay. Bietjie kru, maar interessant. Ek wonder net of die kliniek én Claus nie net te veel vir een dag sal wees nie. Ek het eintlik half vergeet dat ek hom gevra het om vanaand hier te kom eet …”

Marc se hande word stil oor die bak met wortels waaraan hy sny, maar hy sê: “Ek dink ek sal dit maak.”

“Ek hoop so.”

Die Amsterdamse Akademiese Siekehuis is selfs in vergelyking met die groot hospitale waarmee Marc in Suid-Afrika kennis gemaak het, ’n kolos. Toe hulle in die parkeergarage uitklim, voel Marc hom­self heeltemal onvoorbereid. Daar was soveel wat hy vooraf vir Jurgen wou vra. Maar daar was altyd ’n vreemde soort geslotenheid by hom oor sy werk, anders as die openhartige vriendelikheid wat Marc in die vorige twee weke leer ken het. Miskien het dit ook met sy eie on­ge­maklikheid oor die saak te doen gehad. Dat hy angstig is om hier­heen te kom en tog ook nie wil wegbly nie.

Jurgen wys teen die gebou op na ’n blok. “Dis F-5 Noordwes. Die rooi sone.”

“Hoeveel pasiënte is daar?”

“Tien tot vyftien beddens.”

“Almal Aids?”

Jurgen knik. “Prognose zero.”

Hulle stap deur die druk hospitaalgange na die afdeling.

“Dis dalk nie ’n goeie plan dat jy die hele vier uur hier bly nie. Kyk ’n bietjie rond en as jy geïnteresseerd is, kan jy nog ’n keer terugkom, miskien met van die pasiënte gesels. Die meeste van hulle gee glad nie om om te praat nie.”

Marc knik. “Ek sal sommer ’n trem terug stad toe haal.”

Wat hom die eerste opval, is die byna algehele stilte wat daar heers in vergelyking met die bedrywige res van die hospitaal. Die deure na die kamers is meestal toe. Terwyl sy oë behoedsaam oor die naamkaartjies op die deure gaan, merk hy dat dit sonder uitsondering mans is. Hy sien ’n ouerige vrou met ’n bossie blomme styf in die hand geklem een van die deure versigtig oopstoot en ingaan.

“As jy ’n rukkie hier wil wag, gaan ek net kyk watter werk daar is.”

Marc knik en sy mond is verskriklik droog. Uit een van die kamers hoër op in die gang kom ’n jong man met rooigehuilde oë nikssien­de by hom verby. Hy gaan op ’n stoel sit. Marc sien hoe sy lyf ruk. ’n Suster kom met ’n koppie tee na hom toe. Sy lê haar hand op sy hare, kniel en praat naby sy gesig. Marc druk met sy hand agter hom teen die koue muur, want sy bene tril verskriklik.

Skuins oorkant hom staan ’n deur oop. Die vertrek is vol van die silweragtige middaglig wat deur die reusevensters na binne stroom. Die mosgroen kleure in die vertrek is in kontras met bosse diep­geel rose en tulpe wat voor die venster en op die bedkassie in glas­potte staan. Twee mans. Die een in pajamas het sy maer bene hoog teen sy borskas opgetrek, sy kop teen sy knieë gestut. Sy oë is toe; sy hande, vingers weerloos na binne gekrul, lê slap op die bed. Sy vriend sit half oor hom gebuk, arm om sy skouers, kop teen syne deur die venster na buite en wegkyk.

Ek wil hier uitkom, dink Marc. Maar sy oë bly vasgenael op die toneel voor hom. Ek wil nie met hierdie mense praat nie. Ek wil nie weet dat hulle daar is nie. Waarom het Jurgen my hierheen laat kom? Hy voel paniekerig.

Die man met die opgetrekte bene op die bed het ’n paar sagte geel wolsokkies aan. Marc merk dat sy vriend die hele tyd sy voete sag masseer. Hulle praat nie. Op die bedkassie langs die tulpe sit ’n sagte bruin beertjie uitdrukkingloos na hulle en kyk.

Marc kyk gejaag in die gang af waar hy Jurgen se stem herken het. Hy wil meteens woedend op hom afloop en vra waarom hy hom daar­heen gebring het.

Maar toe Jurgen by hom kom, is Marc so mis­lik dat dit voel of die vloer onder hom golf. Jurgen wat sy asbleek ge­sig sien, neem hom onmiddellik styf aan die arm en laat hom op ’n stoel sit. Eers toe hy die vertroostende smaak van tee oor sy lippe kry, begin die mis om hom opklaar. Kom die gesigte van Jurgen en die verpleegster by hom weer in fokus.

“Is jy okay?” vra Jurgen gedemp en beduie vir die verpleegster dat hy haar nie meer nodig het nie.

Marc knik verleë. “Ek weet nie wat my oorgekom het nie.”

“Dis niks. Baie mense kom so oor van ’n hospitaal se reuk. Jy word later gewoond daaraan.”

Dis die eerste keer dat dit my oorkom, dink Marc, maar hy sê dit nie. “Ek is jammer.”

“Nonsens. Neem die bus stad toe, dan laai ek jou halfses by die terminus op. Goed so?” Jurgen druk sy skouers en bly hom besorg aankyk.

’n Groot verlange om sy kop teen Jurgen te laat sak en lank so te bly sit, oorweldig hom byna. Soveel so dat hy byna sy lip aan die binnekant stukkend byt. Maar die skerp pyn bring hom genadiglik genoeg tot bedaring om waardig afskeid te neem en weg te gaan.

Marc stap deur die binnekant van die hospitaal uit. Eers so ont­daan dat hy volslae verdwaal en die pad moet vra. Op die grond­vlak tref hy ’n egte klein dorpsplein aan: winkeltjies, poskantoor, haar­salon, ’n oop kafee, blommestalletjies en ’n menigte mense. Sommige pa­siënte word op hul beddens na besoekers hier uitgestoot met word-gou-gesond-kaartjies in stringe om die bed gespan. Dikwels met bot­tels aarvoeding daarby. Ander sit weer in kamerjasse rond en gesels. Gesellig! Hy dwaal daar tussen die mense. Totdat hy lang­samer­hand weer rustiger word.

Na links sien hy ’n aanwysingsbordjie: Stiltecentrum. Hy stoot die deur behoedsaam oop. Toe hy sien dat die vertrek leeg is, gaan hy na binne. Die rustige atmosfeer trek hom aan. ’n Klein kapel is dit, met blou matte en sagter blou gemakstoele oral rond. Op die klein kateder lê ’n Nuwe Testament oopgeslaan. Hy raak ingedagte aan die vertroude artikel en bly staan ’n rukkie daarby.

Daarna stap hy deur die helder, koue middag, so diep in gedagte versonke dat hy byna voor die trem wat hy moet haal, beland. Later dwaal hy half rigtingloos deur die stad. Die weemoed van sy eerste dae in Amsterdam is terug by hom. Uiteindelik loop hy weer langs die Walletjes. Kom voor die raam met die Jamaikaanse vrou te staan. Hy sien dat sy hom vaag herken. Sy kyk hom afwagtend aan, maar hy glimlag verleë en draai weg.

Dit het donker geword en nog kouer. Hy hurk weg in sy windjekker. Dwelmhoertjies kom hulle teen hom aanvryf. Halfbeswymdes hang in die pienk flikkering van neonligte teen die deurkosyne. Hy kyk weer na die fietse van elke beskrywing en leeftyd wat oral aan brûe en bome vasgeslot staan. Te oordeel na die roesgraad van sommige, staan hulle al jare daar. Hier en daar is ou mans stoïsyns aan ’t visvang in die gragte. ’n Platboomskuit, bo-oor toegeglas, vaar langsaam on­der die brug deur, vol lig en musiek en opgewonde toeriste.

Toe hy straataf gaan, kom hy ’n bejaarde man en vrou teë wat oogknipperend uit ’n pornofilmlokaal steier. Hulle is so styf inge­haak dat dit lyk asof hulle moeite het om mekaar regop te hou.

Dankbaar herken hy Jurgen se ouerige motortjie toe dit eindelik deur die onstuimige verkeer aankom en stilhou sodat hy kan inklim. Binne is dit warm. Hy ril ingenome, kyk na Jurgen se mooi hande op die stuurwiel en stoot sy lang bene verlig voor hom uit.

Klaprose teen die wind

Подняться наверх